Skip to main content

Skryswersprofiel | Murray La vita

Murray La Vita het nog altyd ’n geweldige belangstelling in mense gehad. “Ek dink dit is net in my aard. Ek het mense van kleins af baie interessant gevind,” sê dié skrywer en veelbekroonde joernalis, wie se rubriekebundel, Boodskapper van die gode, onlangs by LAPA verskyn het.

’n Boek wat as kind ’n groot indruk op Murray gemaak het, was die ensiklopediereeks Kinders van die Wêreld. “Dit het my geweldig geprikkel. Verskillende lande se stories is deur die oë van kinders vertel en dit het my gefassineer: Daardie blik op mense van ander dele van die wêreld.”Vandag nog interesseer menslike gedrag hom.

Dis wat sy werk vir hom so “ongelooflik bevredigend” maak, sê Murray, ’n profielskrywer vir Die Burger en Netwerk24. “Dit is daardie intense interaksie tussen twee mense. Wanneer jy byvoorbeeld agterkom iemand vertrou jou en maak oop teenoor jou, en dat die onderhoud wat jy met hulle voer vir hulle iets beteken. Soms is dit die eerste keer dat hulle iets verwoord, dat hulle insig in hulself kry, omdat jy daai ruimte vir hulle geskep het. Dit is wat hierdie werk vir my van onskatbare waarde maak – dat jy mense se lewens op daardie manier kan aanraak.”

Toe hy destyds aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer het, was sy plan om ’n sielkundige te word. “Ek het toe uiteindelik ’n BA gedoen met filosofie en sosiologie, en toe later ’n honneurs in joernalistiek. Maar uiteindelik bevredig my werk daardie behoefte om, soos ’n sielkundige, daardie diep wisselwerking met mense te hê wat op ’n manier vir hulle iets beteken.”

Murray is in Johannesburg gebore voordat hy koshuis toe is in Monument Hoërskool in Krugersdorp. “Daar het ek ’n Latyn-onderwyser gehad, Meneer Mentz, wat al redelik bejaard was. Dit was ’n voorreg om by so ’n hoogs beskaafde mens met soveel wysheid te leer.”

Beskawing of beskaafdheid is iets wat Murray nog altyd bekoor. “My aangetrokkenheid tot beskaafde gedrag,” verduidelik hy, “hou onder meer verband met my vrees vir chaos. Dit is weer ’n interessante ding, want dit kan gesien word as ’n vrees vir die kragte in die onbewuste. Jy wil orde handhaaf waar jy kan – in die eksterne wêreld.

“Beskaafd beteken vir my dít wat onderbeklemtoon is, wat sag is, wat afgerond is, die teenoorgestelde van kruheid en skrilheid. Beskaafd is ook vir my die vermoë om jou eie behoeftes en drange te temper en dat ’n mens op so ’n manier lewe dat jy nie altyd jou eie behoeftes voorop stel nie, maar ook omgee vir die welstand van ander mense. En dan beteken beskaafdheid ook vir my skoonheid en ’n ryk innerlike lewe – om jouself byvoorbeeld bloot te stel aan kuns.”

Die letterkundige figure wat die grootste invloed op sy skryfwerk het, is Susan Sontag en Ingrid Winterbach. “Ek vind hulle so enorm aantreklik, omdat hulle so intellektueel kragtig is, maar ook avontuurlustig in terme van hoe hulle grense deurbreek het. Die belangrike bestanddeel vir my in hierdie mense se werk en uitstraling, is ironie.”

Hy het al kortverhale geskryf en wil dalk later weer fiksie skryf. “My tyd word baie in beslag geneem deur die joernalistieke werk wat ek doen, maar ek sal beslis nog kortverhale wil skryf en dalk ’n roman.”

Lees ’n uittreksel van Boodskapper van die gode. Klik hier

Boodskapper van die gode, wat in Maart 2019 by LAPA verskyn het, is uitstekend ontvang. Die skrywer en digter Antjie Krog het Murray as ’n “meesterstilis” en as ’n “rare spesie in Afrikaans” beskryf. “Met sintuiglike taal en ’n lieflik hoflike toon skep hy onvergeetlike taferele,” het Krog oor Boodskapper van die gode geskryf.

Jean Meiring skryf in ’n resensie: “Dis ’n tesis se taak om al die fyn drade van La Vita se sonderlinge, stilweg liriese en grootliks elliptiese kortkuns terug te trek na dié voorgangers, na Tannie se reissketse en dr. Con de Villiers se kamees. Na so baie ander. Maar dís nie nodig nie om as leser diep geraak te word deur dié begaafde literêre flaneur wat telkens skyn uit die glimpsies lewe wat hy hier versamel wat keer op keer se herlees verg. Só, in alle eenvoud, word La Vita tóg Hermes – ’n herout wat durende en kosbare woorde bring.

Hennie Aucamp, een van die Sestigers, het oor Murray se profiele gesê dis “vrye onderhoude wat oorleun biografie toe”.

’n Bundel van Murray se profielonderhoude, Gesprekke met merkwaardige mense (Tafelberg), het in 2011 verskyn.

Hy en sy lewensmaat, Jane Solomon, ’n tekstielontwerper, woon in Woodstock. Hoewel Murray baie lief is vir diere, het hulle nie troeteldiere nie, “want my vrees vir die verlies is te groot”.

Hy het wel al ’n porseleinkat gehad. “Ongelukkig het ek dit een keer van my balkon laat val.”