Murray_La_Vita_Boek_Book_Boodskapper_van_die_gode_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Boodskapper van die Gode – Murray La Vita

La Vita is ’n skrywer en joernalis vir Netwerk24 en Die Burger. Hy is veral bekend vir sy profiele en rubrieke waarvoor hy al veelmalig vereer is.

Ons kon die see sien

KOOP HIER | BUY HERE
Remarkable stories as told by Murray La Vita I wanted so bad for one of those phones to ring and for the man to pick it up, without looking amazed. Then he must smile and the voice that has been known to millions of people for decades, must say: “Hello, Elvis here”. Boodskapper van die gode is a selection from the award-winning journalist Murray La Vita's columns, sketches and essays. His unique writing style provides an unusual perspective in the 104 columns, essays and sketches in this book. La Vita’s experiences from his childhood and youth are varied with experiences while traveling to cities like New York, Paris, Rome and Amsterdam. He writes about why he could not visit the Anne Frank house, forbidden acts on islands, how he and his nephew, as five year olds, discovered war, his first love on Hangklip and how his friend turned into a witch. The reader will encounter melancholy, vulnerability and human fragility in these stories. The writer also includes wonderful humour and absurdities in his writing.

Ek het Kaapstad op ’n Saterdag in die winter van 1983 ontdek. Dit het sag gereën toe die trein uit Stellenbosch by die Kaapse stasie intrek.
    Op die perron het ’n vrou met blonde hare en ligbruin oë vir my gewag. Ek sou aan die einde van die dag op haar verlief wees.
    Van daardie dag kan ek net dele onthou. ’n Mens vergeet soms ook mooi dinge.
    Ons het in St. George-laan opgestap. Daar was ’n Stuttafords waar ons ingegaan het om kos te koop vir ’n piekniek: donker, klam, digte pumpernickel-brood; ansjovisfilette; olywe. Daardie drie kan ek onthou.
    Op pad na die Kompanjiestuin het my gids voor ’n winkeltjie gaan staan. Sy het ondeund geglimlag en ingestap.
    Dit was ’n plek waar ’n mens allerhande goed kon koop om mee poetse te bak: niespoeier, fopbloed, monstermaskers, sigarette wat in jou gesig “ontplof” wanneer jy dit aansteek. Ook dowwe pienk rubber-“kussings” wat jy opblaas en op ’n stoel versteek. Wanneer ’n niksvermoedende iemand daarop gaan sit, maak dit ’n skril, ongeskikte geluid wat kinders (en sommige grootmense) laat gil van die lag.
    In die Kompanjiestuin het ek vir die eerste keer ’n eekhoring gesien. Dit het gevoel asof ek in ’n ander land is. Asof ek ’n koel, grys droom betree.
    Die eikebome se stamme en takke was donker.
    Ons, ek en die vrou in wie se wange kuiltjies gevorm het wanneer sy lag, het op ’n houtbank gaan sit. Naby die mooi groot wit gebou in die Egiptiese styl.
    In die loop van ons gesprek sou ek verneem dit is ’n kunsmuseum. Ek sou later dikwels daar kom.
    Ons het daardie dag die see net ’n oomblik lank in die son sien blink: ’n reuse-vis. Dit was toe die miswolke in die namiddag vinnig oopgeskuif het soos swaar teatergordyne. Van waar ons teen ’n hoogte uitgestap het, kon ons dus die blink lyf van die see sien.
    By haar ouerhuis, ’n Victoriaanse dubbelverdiepinghuis in Tamboerskloof, het ons die swaar gietysterhekkie oopgemaak en teen die trappe opgestap na die voordeur.
    Ons moet effens nat gewees het. Ek kan my voorstel dat ons selfs koud gekry het toe ons die huis binnestap.
    In die sitkamer het ’n vuur in die kaggel gebrand. Ek is amper seker daardie kaggel was omraam deur mooi groen teëltjies.
    My vriendin se vriendelike ouers was besig om reg te maak vir ’n aand uit.
    Haar ma was op haar dag ’n operasangeres. Dit is dus moontlik dat hulle na “Die Nico” op pad was.
    (Nico klink skielik na ’n vrolike naam. Dit voel uit die bloute so Spaans. Asof dit die naam van een van Pedro Almodóvar se karakters kan wees. ’n Pixie van ’n vrou geklee in ’n oranje minirok.)
    Ek en my vriendin het voor die kaggel gesit en rooiwyn drink. Ons het na Piaf geluister.
    Ek was skaam, maar het mettertyd gelag.

Delicious monsters is soos mense

KOOP HIER | BUY HERE
Remarkable stories as told by Murray La Vita I wanted so bad for one of those phones to ring and for the man to pick it up, without looking amazed. Then he must smile and the voice that has been known to millions of people for decades, must say: “Hello, Elvis here”. Boodskapper van die gode is a selection from the award-winning journalist Murray La Vita's columns, sketches and essays. His unique writing style provides an unusual perspective in the 104 columns, essays and sketches in this book. La Vita’s experiences from his childhood and youth are varied with experiences while traveling to cities like New York, Paris, Rome and Amsterdam. He writes about why he could not visit the Anne Frank house, forbidden acts on islands, how he and his nephew, as five year olds, discovered war, his first love on Hangklip and how his friend turned into a witch. The reader will encounter melancholy, vulnerability and human fragility in these stories. The writer also includes wonderful humour and absurdities in his writing.

’n Skrywer het my vertel hoe sy eens tydens ’n bankroof in ’n Volkskasbank in Doornfontein, Johannesburg, agter ’n delicious monster weggekruip het. Ek is nie seker of dit die waarheid is nie, maar dit maak nie saak nie, dit is ’n mooi storie: Delicious monster red (beroemde) skrywer se lewe.
    Ek dink dikwels hieraan wanneer ek na die delicious monster by ons voordeur kyk. Hoewel ek nie ’n ywerige tuinier is nie, is ek lief vir plante en ontferm ek my oor hulle – veral plante wat deur mense versaak word; bloot agtergelaat word wanneer hulle trek, byvoorbeeld. Miskien spruit dié liefde daaruit dat ek nie kinders of troeteldiere het nie; plante is vir my soos kinders.
    Hier in ons kantoor in Kaapstad kom ’n vrou elke paar weke om die plante te versorg. Haar naam is Cynthia Msindazwa en sy is 58 jaar oud. Sy dra ’n swart sak saam met haar. Ek het haar al dopgehou. Sy gee die plante water, pluk dooie blare af en vervang soms die grond.
    Cynthia sê volgende Junie sal dit 20 jaar wees dat sy in diens is van die onderneming wat plante aan maatskappye verskaf en ook die versorging daarvan behartig.
    Sy hou van plante, sê Cynthia.
    “Hulle haal ook asem en as jy mooi na hulle omsien, dan groei hulle.”
    Ek vra haar wat haar gunstelingplant is. Sy draai na ’n plant wat ’n ent van haar af teen ’n pilaar staan en sê: “Daardie een.” Dit is ’n rankplant met blink, ovaalvormige blare. Die naam daarvan is aan my onbekend. “Scindapsus. Dit hou van lig; dit groei na die lig toe,” sê sy en beduie met albei haar hande opwaarts.


’n Ruk gelede het ek vir Cynthia gevra of sy die grond sal vervang van ’n bedremmelde plant wat aan ’n kollega behoort het wat ’n paar jaar gelede afgetree het. Hy het die plant (waarvan die naam ook aan my onbekend is; as ek vir Cynthia weer sien, gaan ek haar vra, ek is seker sy sal dit ken) agtergelaat toe hy ná dekades die diens van die maatskappy verlaat het.
    Soos ons oor die jare van verdieping na verdieping getrek het (ons werk vir ’n dinamiese maatskappy en dus is daar gereeld verandering wat dikwels gepaardgaan met so ’n proses: ons het al op die vierde, vyfde, sesde en veertiende verdieping gewerk as ek vinnig moet dink, en nou is ons op die sestiende verdieping) was die plant altyd langs sy lessenaar.
    Die nou moeë plant se pot het te klein geword en dit het dalk ook daartoe bygedra dat die gepunte blare begin vergeel het. Later verander die geel na swart en word dit soos gangreen aan die vingers of tone van ’n mens.
    Cynthia het een oggend met haar sak vol ryk, swart grond gekom en die plant gelig uit die roomkleurige silindriese houer waarin dit gestaan het. Die houer, ’n vuilgoeddrommetjie, vertel die verhaal van ’n vorige tydperk. Aan die binnewand is onooglike swart merke waar sigarette doodgedruk is in ’n tyd toe joernaliste nog op kantoor gerook het. Omdat ek ’n effens obsessiewe mens is, pla daardie merke my lankal. Dit het ’n soortgelyke uitwerking op my as die skril elektroniese geluide wat van mense se selfone af kom elke keer as hulle ’n e-pos of wat ook al ontvang.
    Cynthia het toe die plant uit sy bruin plastiekpot gehaal en dit in die groter, roomkleurige silinder (wat ek as ’n artefak beleef) uitgeplant. Dit het my bekoor om te sien hoe sy saggies aan die wortels raak wat nou nie meer verknot in die te klein pot vol ou grond sou worstel nie. En ek was verheug dat die sigaretbrandmerke nou deur die nuwe grond bedek is.
    Daar is nog iets wat ek met u wil deel. Toe ek die eerste keer met Cynthia gepraat het, het ek (heel voorspelbaar en miskien neerbuigend) vir haar gevra of sy ’n tuin het. Ek wou weet wat die aard van haar omgang met plante buite haar werksopset is.
    Cynthia het aan my gesê sy woon in Philippi en dat daar nie ’n tuin is nie. Op my vraag of daar potplante in die huis is, was haar antwoord dat daar nie plek vir plante in die tweevertrekhuis is nie aangesien sy, haar seun, haar suster en haar suster se vyf kleinkinders in die huis woon.
    Naskrif: Die plant wat Cynthia uitgeplant het, floreer in sy groter pot. Ek het intussen by haar uitgevind dit heet Dracaena deremensis of die “Lemon Lime”-plant. Dié plante kan help om die lug te suiwer, sê sy.

Ons almal hoor die klokke

Op ’n bewolkte Maandagnamiddag sien ek hom waar hy by ’n stalletjie op die Waterloopleinmark na ou CD’s kyk.
    Hy dra ’n goedkoop, verslete swart pak. Langs hom staan ’n swart tas op wieletjies. Sy een hand rus op die handvatsel van dié moeë objek.
    Wat my aandag aanvanklik getrek het, is die beweging van sy hare in die wind. Ek het uit die hoek van my oog gesien hoe die wind sy bles oopwaai.
    En toe het ek sy reuse-bakkebaarde opgemerk en kon ek die gesig van Elvis in sy laaste dae herken. Is die man ’n werklose Elvis-nabootser wat pas in Amsterdam aangekom het? Van waar af? Montenegro? Istanbul? Belgrado? Damaskus?
    Op een van die drie foto’s wat ek skelm van hom geneem het, is ’n hopie telefone uit die 1970’s op die voorgrond sigbaar: Gebruikte telefone te koop.
    Ek wou so graag hê een van daardie fone moet lui en die man moet (sonder om verbaas te lyk) omdraai en dit optel. Dan moet hy glimlag en in ’n stem wat al dekades lank aan miljoene bekend is, sê: “Hello, Elvis here.”


Die vorige dag het ek by die groot vlooimark IJ-Hallen buite die stad ’n muurskildery van Anne Frank gesien. Dit is ’n kleurryke afbeelding van een van die bekende swart-wit-foto’s van haar. Bo haar kop (en glimlaggende gesig) staan: “Let me be myself.”
    Wat beteken dit? Het dit iets te doen met die projeksies wat nou nog oor haar gemaak word, dekades nadat sy deur die Nazi’s na Bergen-Belsen gestuur is en daar gesterf het? Wil sy aan die verwagtinge ontsnap van die lang toue mense wat daagliks die Achterhuis kom besoek waar sy en haar geliefdes geskuil het voordat hulle ontdek is? Hoe wil sy haarself wees? Wie was sy? Hoekom is haar dood vir ons so verskriklik? Is dit omdat sy en die besonderhede van haar lewe en haar drome deur haar dagboek so intiem aan ons bekend geword het?
    Die Achterhuis is neffens die Westerkerk, waar Rembrandt begrawe is. Ek woon in die Keizersgracht in ’n huis baie soortgelyk aan die Anne Frank-huis. Dit is ook naby die kerk. My eerste sterk indrukke van Amsterdam is die geluid van reën en die Westerkerk se klokke wat ek uit my dakkamer hoor.
    Dit is natuurlik dieselfde klokke waarna Anne geluister het en waarna sy in haar dagboek verwys. Sy kon die kloktoring uit haar soldervenster sien. En, dink ek in die nag wanneer ek van die gelui wakker word, sy het geskryf die geluid is vir haar vertroostend.
    Ek het al ’n paar keer by “haar” huis verbygeloop, maar nog nie ingegaan nie. Is ek te lui om in ’n lang tou te staan? Of is ek bang vir wat ek daarbinne gaan aantref?
    Een middag het ek ’n rukkie op ’n bank langs die Prinsengracht gesit en opgekyk na die huis.
    In ’n venster van ’n aangrensende huis was ’n mooi ou hobbelperdjie sigbaar.


Benewens die geluid van klokke en reën is dit die stilte in my buurt wat my aanvanklik opgeval het.
    Teen die agtergrond van so ’n stilte word klein geluide intens en kragtig: Die sug wat uit die rosige mond van ’n jong vrou kom wanneer haar fiets deur ’n knik beweeg. Iemand wat fluit. Die gekrys van ’n groot raaf op ’n huisboot wat vir ’n blonde vrou en haar blonde seuntjie sit en kyk waar hulle glimlaggend teenoor mekaar by ’n tafel in die immer-geankerde vaartuig sit. Of die stemme van merels en duiwe in die kaal takke van die groot plataan- en beukebome.
    Ek vind die teenwoordigheid van voëls gerusstellend. Hulle verleen ’n vitaliteit aan ’n omgewing; hulle is lewensbevestigend.
    Dít in teenstelling met die doodse stilte wat ek jare gelede beleef het in Toskane, waar jagters die lug met hul gewere ontruim het.
    Terwyl ek pas ná my aankoms op ’n rooi toeristebus deur die stad gery het, het ek in die verte twee wit swane gesien. Was dit op die IJ of op die Amstel? Ek is nie seker nie, maar ek hoop om nog swane te gewaar, ook die (vir my) misterieuse en ongewone swartes.
    In die vliegtuig op pad hierheen het ek gelees waarom die ruim vensters van die ou Amsterdamse huise meestal onbedek is deur gordyne of blindings en jy op mense se lewe kan inkyk. (Ek het al ’n aardbol, ’n lieflike boekery, ’n lewensgroot beeld van ’n flamink en ’n swart kat wat van ’n kas afspring, gesien.)
    Dit is glo nog die sediment van ’n Calvinistiese ingesteldheid van: Kyk, ons het niks om weg te steek nie.
    Dit kan so wees, maar vir my as ínkyker het dit ook laat dink: Ja, ek sien die intimiteit van twee mense besig om kos te maak; besig om ’n glas wyn te drink; besig om TV te kyk; die een besig om, gebaai in sagte lig, die ander se hare te streel. Of ’n skamel geklede vrou wat glimlag en wink. Ek sien dit en dit is bekoorlik. Maar dit laat my ook alleen voel en of ek baie ver van hulle af is. Want ons kan mekaar immers nie hóór nie. Al wat ons almal kan hoor, is die klokke.

1 thought on “Uittreksel: Boodskapper van die Gode – Murray La Vita

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS