Skip to main content

Uittreksel | Yolandi van Rooibos (RomanzaStoom)

Een

“Hallo.” Haar oë trek op skrefies toe die middaghitte die lugverkoelde motor binnestroom terwyl die ven­ster afrol. “Ek is . . .”

“Jolla Joubert?” Die hekwag gooi sy arms oop asof hy haar deur die venster wil omhels. “Jolla. Is dit regtig jy?”

Sy voel hoe haar oë rol terwyl sy binnensmonds vir haarself op sy retoriese vraag antwoord. “Ja. Dis ek. Basuin daai aaklige naam asseblief harder uit.”

“Ekskuus?” Hy staan nader. Sweetwalms wat die motor saam met die hittegolwe binnewaai, verklaar die nat kolle wat sy op die man se hemp gesien het toe sy nader gery het.

“Bly om jou te ontmoet.” Sy hou haar hand na hom uit om hom te groet.

“Vanoggend toe ek opstaan, toe sê ek vir my vrou iets groots gaan vandag gebeur. Wag tot ek haar vanaand vertel. Ons kry nie aldag bekende mense hier by ons ou tronkie nie.” Hy druk sy kop by die venster in asof hy haar wil soengroet. Sy stem is ’n fluistering toe hy teen haar gesig praat. “Het hier iets gebeur? Gaan ons vanaand op die nuus wees?”

Sy glimlag wrang en trek haar kop so ver van sy gesig af weg as wat die sitplek se stut teen haar ag­terkop dit toelaat. “Nee. Dis privaat. Ek kom net ie­mand sien.”

“O. Dis jammer.” Die teleurstelling staan op sy gesig toe hy terugstaan. “Maar dis nog steeds lek­ker om ’n celeb hier by ons te hê. Jy lyk soos ’n regte mens hierso voor my. Wanneer jy die nuus op You­Tube lees, lyk jy so . . .” Hy maak met sy wysvingers en duime ’n reghoek waarmee hy haar gesig om­raam. “Jy lyk so onwerklik op die skerm.”

Sy glimlag verleë. “Gaan jy die kar deursoek?”

“Is jy nou laf?” Hy klap sy tong. “Jy is dan die bekendste nuusgesiggie in die land. Wat sal jy nou hier by die tronk wil kom insmokkel?” Hy wys na ’n af­draaipad. “Gaan daarso links. Daar’s ’n parkeerplek wat jy nou nie van hier af kan sien nie, maar jy sal dit sien as jy daar kom. Stop onder die bome. Van daar af is die kantoor net om die draai aan jou regterkant. Jy sal ’n bordjie daar sien wat jou wys.”

Yolandi voel die man se blik op haar terwyl sy wegry en die venster toemaak. Die lugverkoeling spartel teen die hitte en die reuk van sweet terwyl die lugversorger op sy vinnigste draai.

By die parkeerterrein ry sy die BMW agteruit in die parkeerplek in sodat sy nie tyd hoef te mors om eers om te draai wanneer sy hier wegry nie. Sy maak haar oë toe terwyl sy in die sitplek terugsit. Die koel lug van die lugversorger bied ’n welkome lafe­nis. In haar geestesoog probeer sy Kruger se gesig oproep. Hy was pas klaar met matriek toe sy hom vir die laaste keer van aangesig tot aangesig gesien het. Elke keer daarna wat sy gesig in die koerante of op sosiale media was, het sy gevoel dat dit hom nie gestand doen nie. Sy het dit nogtans uitgedruk en in haar plakboek gebêre. Tweedimensionele fo­to’s kon nooit regtig wys hoe die kepie in sy ken sy sterk kakebeen beklemtoon nie. Op die foto van sy inhegtenisneming in verlede week se koerant het hy ’n bakkebaard gehad. Dit het sy gesig vetter laat lyk as wat sy hom kan onthou. Dalk het hy gewig opge­tel. Sy hare het ook olierig op die foto gelyk. Dit was onmiskenbaar sy haredos, maar net onversorg. Dis meer as ’n dekade sedert hy die laaste keer by die agterdeur van hulle kombuis uitgestap het. Alleen. Haar suster wou nie saamstap nie, al was hulle beste vriende. Sy onthou die water wat in strepies teen die venster afgeloop het. Sy het by die kombuistafel gesit en was besig om opsommings te maak. Al het die matrieks klaar geskryf, moes die res van die skool nog eksamen skryf. Sy was wat? In graad nege? Sy het daardie dag Afrikaans geleer. Sy was by woord­soorte toe Kruger in die agterdeur huiwer.

In sy oë was hartseer toe sy mond glimlag en hy haar groet: “Jy moet soet wees, Yolandi. Ek hoop dinge werk vir jou uit.”

Daar was nie woorde by haar nie. Sy kon nie verstaan dat haar suster nooit enige ander gevoelens as vriendskap vir hom ontwikkel het nie. Vir Yolandi was Kruger nog altyd die mooiste mens op twee bene. Daarmee saam het hy persoonlikheid en breins. Hy was een van die min mense wat haar nooit Jolla genoem het nie. Vir hom was sy altyd Yolandi. Sy het daardie dag net half gegrinnik toe hy vir haar oog knip en ’n soentjie blaas. Hy het die deur saggies toegetrek. Sy het vinnig opgespring en by die venster gaan staan. Tussen die waterbane en wasem op die glasskans kon sy sien hoe hy koes-koes die reën trotseer voor hy om die hoek van die huis verdwyn het. Sy wou agter hom aanhardloop. Haar kalwerliefde aan hom bely. Sy het nie.

Yolandi sug toe sy haar oë oopmaak en die mo­tor afskakel. Dit was baie water gelede en lank voor­dat Kruger opgang gemaak het as ’n geoktrooieerde rekenmeester by een van die land se genoteerde fi­nansiële instellings. Lank voordat sy ’n joernalis en een van die suksesvolste smaakmakers in Afrikaans geword het. ’n Huishoudelike naam as nuusleser. ’n Geloofwaardige joernalis.

Die hitte tref haar opnuut toe sy uitklim en na die ontvangskantoor stap. ’n Wolwefluit kom van iewers agter tralies af en verbreek die eentonige klik-klak van haar hakke op die teer. Sy kyk nie op nie en tel die treë in haar gedagtes tot sy by die ontvangskantoor instap. ’n Waaier woer-woer eentonig, maar kry skaars ’n luggie geroer. Die reuk van asyn hang in die lug.

Die vrou agter die tafel is duidelik nie ’n gereelde nuuskyker nie, en sy bly op haar stuitjie sit toe sy na Yolandi kyk. Sy vat nog ’n paar skyfies en druk dit in haar mond voor sy haar hande aan ’n servet afvee. “Wie’s jy?” Die skyfies laat haar wange van binne bol.

“Yolandi Joubert. Ek kom sien vir Kruger Wolma­rans.”

Die vrou se oë gly van Yolandi se kroontjie tot by haar hakke en weer met dieselfde paadjie op tot by haar gesig. “Wat soek jy met hom?”

“Ons is goeie huisvriende.” Teen die tyd wat enigiemand moontlik sou agterkom dat dit ’n leuen is, is sy al lankal terug by die werk, gegrimeer, hare gestileer en voor die kameras besig om die vroeë aandnuus te lees.

“Vul dié in.” Die vrou kom met moeite orent en plak ’n reuseboek voor Yolandi op die tafel neer. Sy blaai dit oop en beduie na die eerste oop reël. “Naam, van en ID-nommer. Teken hier.” Sy sit ’n pen op die oop boek neer en gaan val weer op die stoel plat waar sy die oorblywende skyfies in haar kieste prop.

Yolandi skryf versigtig om nie haar hand deur die vetkol te trek wat in die hoek van die bladsy uitslaan nie. By die opskrif wat lui: “Verwantskap met die gevangene” huiwer sy. Sy kyk hoe die pen die letters vorm, maar sy voel daarvan verwyderd. “Vriend.” Sou sy hier gewees het as hulle meer as vriende was? Sou sy hier gewees het as sy nog nooit van hom gehoor het nie? Dis ’n onregverdige vraag. Sy is nie hier om Kruger Wolmarans te be­soek nie. Sy is hier omdat die nuusredakteur haar gestuur het. Kruger het gevra dat Rooibos Media vir Helma moet stuur. Hy het haar ’n scoop belowe. Gaan hy steeds praat as hy sien dat dit nie Helma is wat gestuur is nie? Gaan hy haar ooit herken? Sy maak haar handtekening in die laaste blokkie en maak die boek versigtig toe.

“Het jy enige wapens of ander onwettige goed by jou?” Die vrou beduie na ’n plakkaat met prentjies van messe en gewere en ’n paar ander items op wat Yolandi as alledaags sou beskou het, maar klaar­blyklik gevaarlik kan wees.

“Net die gevaarlikste wapen van almal.” Sy waai haar selfoon in die lug.

Die vrou besef nie dadelik dat Yolandi sarkasties is nie en sy is duidelik nie beïndruk met die opmerking toe dit tot haar deurdring nie. “Jy moenie grap­pies maak nie. Ek sluit vir jou ook toe.” Sy frommel die skyfiepapier op en skiet dit met ’n boog in die rigting van ’n snippermandjie wat in die hoek staan. Sy doen nie moeite om dit op te tel toe dit nie die teiken tref nie. “Ek mag dit doen. Weet jy dit?”

Yolandi sug stadig. “Nee, ek het niks gevaarliks of onwettigs by my nie.”

“Los daai foon hier. Jy mag nie daarmee in nie.”

“Ek sal dit in die kar . . .”

“Dit sal niks oorkom nie.” Die wag ruk die foon uit haar hand uit en prop dit in ’n laai. “Dra dié te alle tye.” Sy hou ’n kaartjie met die woord “BESOEKER” in groot rooi letters gedruk na haar uit. “En moe­nie iets snaaks doen nie. Hier is orals kameras. Ek watch jou.”

“Pas jy sommer die karre ook van hier af op?” Yolandi loer na ’n paar skerms wat in die hoek teen ’n muur staan. Op die meeste van hulle is die een of ander grys staaldeur sigbaar.

“Ek praat nie van buite nie.” Die stem klink meer soos ’n blaf. “Orals hier binne is kameras, ou slim­mie.” Sy beduie na ’n metaalverklikker. “Loop eers dáárdeur. En wag by die deur totdat iemand jou kom haal.”

Sy het skaars in die gang gaan staan voor die vol­gende wag haar kom haal. Dié vrou is vriendeliker as die een in die kantoor en probeer ’n gesprek aanknoop. Yolandi is nie lus vir gesels nie. Dit moet die onsekerheid wees van wat om te verwag wat aan haar gedagtes knaag. Dit en ’n knop wat al groter op die krop van haar maag word. Gaan Kruger haar herken? Gaan hy ooit onthou wie sy is?

“Die flippen ding is al weer stukkend.” Die vrou se stem bring haar gedagtes terug. “Stap na daai kamer toe en wag daar.” Sy beduie na ’n deur in die gang af. “Hulle sal hom bring. Ek moet iemand gaan soek om die sleutel hier uit te kry voor ek die ding afbreek. Hulle moes al die slot kom regmaak het.”

’n Enkele tafel en twee metaalstoeltjies weerskante daarvan is vasgebout in die middel van die vertrek. Verf dop plek-plek van die mure af. Die muwwerige reuk trek in haar sinusholtes op en sy gaan staan by die klein venstertjie teen die verste muur van die vertrekkie. Vanuit vensters by die oor­kantste vleuel van die gevangenis hang oorpakke uit wat wag om droog te word. Hier en daar is ’n geel oorpak met die woord “Corrections” in sirkels op gedruk tussen die magdom oranje oorpakke van die gevangenes.

“Jolla?” Die vraag klink meer soos ’n stelling.

Yolandi weet nie of sy moet lag omdat hy haar herken het, en of sy moet huil omdat hy ook die aaklige skelnaam gebruik nie. Sy maak seker dat sy al haar emosies onder beheer het voor sy omdraai. “Kruger.”

“Julle het twintig minute.” Die bewaarder trek die staaldeur agter hom toe, maar bly agter die tralies staan. “Julle vat nie aan mekaar nie. Ek hou julle dop.”

Die kettings om sy enkels ratel toe Kruger tot by die stoel sukkel. “Ek het gevra dat Helma moet kom.”

“Is dit ’n probleem?” Die woorde wat van die kaal mure af terugkaats, klink vir haar harder as wat sy dit wou sê. “Ek is een van ’n dosyn joernaliste in die kantoor. Helma is ’n fotograaf en grafiese ontwerper. Sy doen nie stories en onderhoude nie. Die hoofre­dakteur het my gestuur.”

“Jy bedoel jou ma?” Kruger buk versigtig af tot op die stoeltjie en sit sy geboeide hande op sy skoot.

“By die werk is sy die redakteur.” Sy waag self ’n tree nader aan die tafel. “Sy is baie gesteld daarop.”

“Hoe gaan dit met moeder Maria?”

“Sy is nie meer die vrou wat jy geken het nie, Kru­ger.” Yolandi gee die laaste tree tot by die ander stoel. “Sy is ’n ander mens ná . . .”

“Jou pa se dood?”

Sy probeer die stoel tevergeefs uittrek voordat sy daarop neerplof. “As jy so op hoogte van my fami­lie se welstand is, sal jy weet dat sy daai naam nou verpes.”

Hy kyk haar stil aan terwyl sy blik tussen haar oë spring. “Hoekom is jy hier, Jolla?”

“Dis nie my naam nie.”

“Dis die naam wat op die skerm staan.”

“Redakteur se instruksies.”

“Jy antwoord nie my vraag nie.” Hy verskuif op die stoel wat heeltemal deur sy postuur verdwerg word. “Ek het gevra dat jou ma jou suster moet stuur.”

Teleurstelling kom lê vlak in haar bors en sy sluk droog voor sy haar vingers inmekaarvleg en haar hande op die tafel sit. “Helma is besig met ’n ander projek.”

“Jou redakteur is ’n slim vrou.” Kruger maak haar beweging met die hande na en sit sy hande ook op die tafel met die vingers ineen. “Dit was nog altyd lekkerder om jou te sien as vir Helma.”