Skip to main content

Uittreksel | Woestynblom

Deel 1

Isabella kreun toe sy die geskel van die telefoon bo die geruis van die haardroër hoor. Nie die selfoon wat sy met opset afgeskakel het nie, maar die landlyn wat nie so maklik stilgemaak kan word nie. Sy kyk na die horlosie teen die muur. Tien voor nege! Tien voor nege op ’n Saterdagoggend. Wie bel haar tien voor nege op ’n Saterdagoggend?

Sy sug. Ma. Dit kan net Ma wees. Haar dag is dadelik bederf. Sy het juis vroeg opgestaan om haar hare droog te blaas voordat sy winkels toe gaan. Sy wou weg wees voordat Ma haar bel om te vra wat sy vandag met haarself gaan aanvang, en ’n volledige verslag verwag.

Isabella knyp haar linkeroog toe teen die hitte van die haardroër en krul haar kuif oor die ronde borsel. Lui maar, telefoon, besluit sy. Lui jou malle verstand af. Ek is nie haastig om te antwoord nie.

Kan sy dit nie net ignoreer nie?

Maar sy weet sy kan dit nie waag nie. Ma sal weer bel. En weer. Totdat sy antwoord kry. Op die landlyn verkieslik, of andersins op die selfoon. En as dit nie gebeur nie, sal sy Pa opkommandeer om alles te los waarmee hy besig is om die karretjie uit die garage te trek. Die blou Mazdatjie sal sommer gou-gou voor die woonstelblok stilhou en die twee van hulle sal soos opwengoetertjies in die gang afgetrippel kom. Pa sal aan die deur klop en nog voordat sy kan oopmaak, sal Ma haar naam roep. “Isabella? Is jy orraait?” Asof Ma verwag om haar bebloed en vir dood agtergelaat op die sitkamermat aan te tref.

Sy is so moeg vir daardie vraag sy kan skree. Ja, Ma! wil sy uitroep. Ek is orraait. Of altans, ek sal wees as Ma-hulle my net ’n bietjie wil uitlos sodat ek kan asemhaal.

Liewe land! Hulle was gisteraand hier, het met sakke vol Checkers-kos hier by haar aangekom en die hele aand hier rondgesit. Asof sy nie vir haarself kan kos koop nie.

Op ’n Vrydagaand!

Dis naweek! Sy is veronderstel om ’n bietjie uit te rafel soos ander jongmense van haar ouderdom, selfs om mal te gaan en eers in die vroeë oggendure huis toe geslinger te kom. Maar wat doen sy? Sy sit soos ’n vrou sonder hoop opgeskeep met haar pa en ma, sit en skinder oor die skandes en die skades wat die politici aanvang en die vervelige familie. Hoe pateties. Die twee lasposte is eers laat hier weg, nadat sy letterlik in hulle gesigte moes gaap sodat hulle die skimp kon vang.

Isabella bêre die haardroër. Die telefoon het stil geraak, maar sy weet van beter as om te ontspan. As sy gelukkig is, kan sy darem eers vir haar koffie maak voordat die ding weer aan die skril gaan.

Maar sy is skaars in die kombuis toe die gelui weer begin. Isabella slaan haar oë hemelwaarts, maar sy weet daar sal nie vir haar hulp of genade wees nie.

“Ja?” vra sy vies toe sy die gehoorstuk teen haar oor het. “Dis Isabella hier.”

Wie anders? Wie anders sal haar telefoon beantwoord? Een of ander man wat die nag by haar deurgebring het? Eers hier ingesluip gekom het nadat Pa en Ma uiteindelik weg is? Wat is die kans dat so ’n wonderwerk háár sal tref?

“Juffrou Jansen?” vra ’n manstem. “Praat ek met juffrou Jansen?”

Isabella skrik haar woorde skoon weg. Tik haar om met ’n veer – dis toe nie Ma nie. Hierdie is ook nie iemand wat vroegoggend iets aan haar wil afsmeer nie. Hierdie is die stem van iemand met gesag. Iemand soos ’n sammajoor of ’n predikant of ’n skoolhoof …

“Dis Isabella Jansen wat praat,” antwoord sy so bedaard moontlik. “Goeiemôre.”

“Juffrou Jansen, dis meneer De Villiers hier.”

Die meneer aarsel ’n oomblik. “Die hoof van Hoërskool Woltemade in die Kaap.”

Haar gedagtes verdwaal. So, sy was nie verkeerd met haar raaiskoot nie, dit ís toe ’n skoolhoofstem. Om die waarheid te sê, met daardie stem kan die mansmens die rol van die stereotipe hovaardige skoolhoof in ’n sepie speel. Sy intonasie, sy presiese uitspraak asof hy elke woord eers weeg voordat hy dit uiter, alles aan sy stem spel dit uit dat sy nou met ’n pedagoog te make het. Belangrik, beskaafd en baie besig. Die jeug van vandag het manne soos hy nodig om hulle van algehele ondergang te red – of dis wat mense soos daardie graag glo.

Dié een is van Hoërskool Woltemade. In die Kaap. En hy bel haar. Op ’n Saterdag nogal. Sy weet waaroor dit gaan. Sy kon hom nie dadelik plaas tussen die baie ander by wie sy haarself prober verkoop het nie. Isabella sug innerlik. Wat het hý vir haar te sê? Don’t call us, we’ll call you? Soos al die ander? Sy bloos by voorbaat, lekker verleë hier waar niemand haar kan sien nie. Dis belaglik – dié ding dat sy altyd so op ’n naaldpunt leef, altyd bang dat die septer nie in haar guns geswaai sal word nie.

Se voet! betig haarself. Sy is nie meer ’n skooldogter wat op die rooi tapyt staan nie. Tot die dood toe bang dat sy nie ’n goeie rapport of getuigskrif gaan kry nie. A nee a! Sy is ’n onderwyseres, onthou? Nou wel een wat kniediep in die moeras staan omdat haar toekoms taamlik onseker is, maar nogtans.

Haar bakvissiedae is verby en sy het ’n lieflike gemors daarvan gemaak. Nou is dit tyd om haar soos ’n grootmens te gedra.

“Ek het goeie nuus, juffrou Jansen,” hoor sy die gepoleerde stem in haar oor. Die skoolhoof aarsel weer, lank genoeg sodat sy aankondiging die nodige impak kan hê.

Goeie nuus? Die gesprek verwar haar, verloop nie volgens die draaiboek in haar gedagtes nie. Dis of daar ’n klein klappertjie van hoop in haar kop ontplof.

Dit kan tog seker net één ding beteken, dink Isabella opgewonde. Maar dan … die lewe het haar geleer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie. ’n Goeie skoot sinisme help ’n mens om te oorleef in ’n wêreld waar die onverwagte jou gereeld winduit slaan.

Isabella haal diep asem. Bly kalm, suster, spreek sy haarself ernstig aan. Dalk is dit nie waarop jy hoop nie en dan maak jy jou naam krater. Oor jou dooie liggaam kan jy hierdie man met sy skoolhoofstem daardie genoegdoening gee.

“Dis … dis gaaf, Meneer,” stotter sy nogtans toe die dekselse man nie sy sê kan sê en klaarkry nie. “Goeie nuus is altyd welkom.” Sy gee ’n sagte laggie. Onderdanig soos dit hoort. Aarde tog! Sy sal die man se voete soen ook as dit sal help om haar hier weg te kry.

“Ja, Juffrou, u het inderdaad die aanstelling vir die vakante pos ingepalm. Die keuringskomitee en die ouervereniging wat insae in die saak het, het besluit u is die mees geskikte kandidaat vir die gesogte Afrikaanse pos by die Hoërskool Woltemade. Veels geluk met die aanstelling.”

Isabella voel hoe haar bene lam word. Sy sak op die vloer neer soos ’n lappop waarvan die stopsels gestroop is. Dankie tog! Uiteindelik gooi die geluksgodin iets in haar rigting.

Die pos ingepalm, het die man gesê. Inderdaad, ja. Ingepalm. Maak nie saak hoe hoogdrawend hy dit stel nie, sy hét dit. Dis al wat saak maak. Isabella wil heerlik barbaars haar vreugde uitskree, selfs ’n paar danspassies maak, maar sy hou haar in. ’n Mens mag selde of ooit uiting gee aan jou instinkte, veral as jy in onderwyskringe beweeg. Sedig en ingetoë, dis die wagwoord daar. Maak nou nie saak dat die wêreld feitlik handomkeer verander het nie, dat pryssangers deesdae die dansende regering se lof lekker luidrugtig besing en dat predikante in kortbroeke preek nie. Onderwysers, veral in die Afrikaanse skole, handhaaf nog ’n sekere aantal streng reëls al klou hulle net met hulle vingerpunte daaraan vas.

Die geringste teken van baldadigheid van haar kant van die telefoonlyn af sou onprofessioneel wees en nie as gesofistikeerde optrede gereken word nie. En sy kan haar splinternuwe uitspattige rooi stiletto’s onder in die kas daarop verwed dat hierdie man beslis een van dié is wat van jou verwag om te alle tye die vlag hoog te hou en korrek op te tree. Stoere, stroewe boerebloed, dra die regte masker vir die regte geleentheid, hou die blink kant bo en moenie dat jou onderrok uithang nie. Iemand soos haar pa. En soos al die ander ooms wat in hulle swart blinkleerkerkskoene die paadjie kerk toe afstap by elke geleentheid wat daardie deure laat oopgaan. Isabella ril.

“Baie dankie, Meneer, dis werklik goeie nuus,” kry sy die woorde uit en doen moeite om haar stem gelykmatig te hou.

“Ek veronderstel u sal wel volgende kwartaal dadelik kan begin soos u in u aansoek gemeld het?”

Hoe gouer, hoe beter, wat háár betref.

Sy kug en bly in haar formele vel. “Geen probleem nie, Meneer.” Haar stemmetjie is heuningsoet. “Ek het reeds kennis gegee by die skool waar ek tans onderwys gee en iemand anders is in my plek aangestel.”

Natuurlik het sy haar disnis bekommer oor wat van haar gaan word as sy nie betyds ’n ander pos kry nie. Langer kan sy tog nie hier aanbly nie. Sy sal van haar verstand af raak.

Buitendien, selfs haar woonstelletjie is klaar verhuur en sy sou op straat gesit het as hierdie aansoek ook in die snippermandjie beland het. Of sy sou by Ma-hulle moes gaan aanklop vir onderdak. O, angsgedagte! Dit sou wees soos om opnuut in ’n tronk opgesluit te word. Een met maksimum sekuriteit.

En sowaar – sy het haar vonnis uitgedien! Dubbel en dwars. Stroopsoet by Pa en Ma gebly tot sy universiteit toe is. Sommige naweke teen haar sin huis toe gekom omdat hulle te veel na haar verlang het. Terwyl daar in die koshuis meer pret sou wees, al was die vryheid daar ook beperk. Sy wou skree! Los my net uit! Wou sy vra. Kry ’n lewe van julle eie. Kry ’n stokperdjie. Versamel seëls as dit nie anders kan nie, al is dit seker die verveligste tydverdryf onder die son. Gaan speel rolbal of gaan drink tee by die dominee of die dokter of die buurman, hekel ’n tafellappie, werk in die tuin, doen enigiets, maar moenie vir my wag om julle te vermaak nie.

Sy wou weg. Met alle geweld net weg van die huis af. Maar hulle het met leepoë na haar gesit en kyk, om die kombuistafel gebid dat sy tog asseblief, Liewe Heer, ’n onderwyspos in George of, as dit nie anders kan nie, in Knysna sou kry sodat sy hier naby hulle sou wees. Sodat hulle ’n ogie oor haar kon hou … For ever and ever. Amen.

Dis juis wat sy nie wou hê nie, steeds nie wil hê nie – Pa of Ma se oë op haar. Sy wou toe al dinge doen wat nie vir ouers se oë bedoel is nie. Aarde tog! Dit was hoog tyd dat sy haar vlerke sprei, ’n bietjie wild en wakker begin leef voordat haar jongmenslewe daarmee heen sou wees.

Maar Pa en Ma se aandele moet hoog wees waar dit saak maak, want sy het ’n pos in George gekry. Sonder dat sy daarvoor aansoek gedoen het, onthou Isabella vies. Uit die bloute het ’n skoolhoof haar gebel en haar ’n pos aangebied. Iewers is daar gekonkel, het sy toe geweet en sy weet dit steeds. Maar hoe en deur wie kon sy nooit vasstel nie. Miskien in die konsistorie, daar waar Pa en die ander broers bymekaarkom en mekaar se laste en bekommernisse deel, die hand uitsteek na mekaar, mekaar van die wal in die sloot help.

Dit was ’n aanbod wat sy nie kon weier nie, eenvoudig omdat sy aan geen verskoning kon dink om dit nie te aanvaar nie. In elk geval nie iets wat sy hardop kon sê nie. Sy kon tog nie vir die skoolhoof en al die liewe, gawe mense om haar verduidelik dat haar ouers haar grensloos irriteer en dat sy so ver moontlik van hulle af wou wegkom nie, kon sy?

Maar hierdie keer sal sy haar nie laat keer nie, hierdie keer is sy ’n paar jaar ouer, ’n paar tree nader aan die afsnypunt waarop ’n vrou daarvoor kwalifiseer om ’n man te kry om twee keer na haar te kyk. Dis nou of nooit!

“Dis gaaf om te hoor dat u inderdaad beskikbaar is,” verseker die skoolhoof haar. “Ons vind dit ontwrigtend genoeg dat die leerlinge in die middel van die jaar ’n nuwe leerkrag moet kry. Dit sou teenproduktief wees as die nuutaangestelde persoon nie reg aan die begin van die kwartaal kon aanmeld nie.”

“U hoef u nie daaroor te bekommer nie, Meneer. Ek sal daar wees.”

“Ek het toe sommer die vrymoedigheid geneem om vir u ’n kamer by die Snyman Hotel te bespreek,” hoor sy tot haar verstomming.

Sy verstaan nie. Waar sy gaan bly, het tog niks met hom te doen nie.

“Ekskuus, Meneer?”

“Die Snyman Hotel, Juffrou. In die omgewing van Mouillepunt en Seepunt, nie ver van die lighuis af nie. Dis ’n entjie se ry skool toe, maar dis uitstekende verblyf. Die linkervleuel van die hotel, die ouer deel, word soos ’n losieshuis bedryf en is beskikbaar vir permanente inwoners. Drie etes ’n dag, wasgoed ingesluit en in Kusweg geleë, oorkant die strand.”

Isabelle hoor wat die man sê, maar sy neem nie alles in nie.

“Die tariewe is baie billik en daar is ’n besondere samehorigheidsgevoel onder die inwoners. Dis waar die jonger onderwysers van Woltemade en ander Afrikaanse skole gewoonlik ’n holte vir hulle voet vind.” Hy gee ’n verhewe laggie. “Ons Afrikaanse mense moet maar saamstaan, anders gaan ons en ons taal nie oorleef nie, weet u?”

Hy aarsel en Isabella weet sommer hy wag nou vir ’n kloppie op die skouer – wat sy hom nie gaan gee nie. Sy sou verkies om self vir haar blyplek in die Kaap te gaan soek het, baie dankie vir niks. Verkieslik so ver moontlik van ander onderwysers af weg. Veral Afrikaanse onderwysers. Dis al wat sy ken. Dit in ’n tyd waarin alfa-vroue hulle Christian Louboutin-skoene as direkteure van maatskappye volstaan. Die wêreld is wyer as ’n klaskamer vol irriterende kinders wat geleer moet word. Maar dit sal hierdie man nie verstaan nie. Soort soek soort in sy klein kultuurwêreldjie en hy sou dit ook nie anders wou hê nie. Sý is op haar beurt slaggereed vir ’n avontuur van ’n ander aard, baie dankie.

Daar is seker niks wat sy nou daaraan kan doen nie, nie voordat sy self in die Kaap is en dinge kan deurkyk nie. Vir die res van die telefoongesprek hou sy haar argwaan vir haarself. Sy sê die regte goed en bedank die waardige skoolhoof plegtig, sodat hy nie sy besluit berou en dalk herroep nie.

Laat die arme man maar dink sy is so ’n soetkoekie soos haar CV haar voorstel. Hy sal gou genoeg ontnugter word. Dis nie die ou Isabella wat daar by hom gaan opdaag nie. Dis tyd dat die soetkoekie in ’n brandewyntertjie verander.

Isabella wil bars van opgewondenheid. Sy wens die man wil klaar praat sodat sy vir Elisma van hierdie verwikkeling kan gaan vertel. En later, heelwat later, vir Ma ook. En vir Pa. Dit gaan ’n vreeslike affêre afgee, weet sy. ’n Geween en ’n gekners van tande. Trane en drama op sy beste.

Pa gaan daarteen probeer baklei, maar op die ou end sal hy seker óók aan die huil gaan. Sy hartjie is so klein soos ’n budgiehok. Ma sal alte seker haar traankliere oortyd laat werk, maar dit sal nie soveel saak maak nie. Ma se geween ruk Isabella nie so aan die hart as die wasigheid agter Pa se brilglase nie.

Sy is jammer vir hom, maar dit kan nou nie anders nie. Selfs die arend weet daar kom ’n tyd dat sy kleintjies uit die nes geskop moet word. Weg, sommer ver weg. Of dan ten minste ver genoeg weg sodat ’n mens nie net vir ’n heen-en-weertjie kan oorry en dan jou sit by jou dogter kry asof jy daar vasgemessel is nie.

Liewe hemel! Die meeste van die studente wat saam met haar op universiteit was, is lankal landuit waar niemand hulle kan bykom nie. Hulle hou skool in die Ooste, waar die kinders glo nie ’n voet verkeerd sit nie, of maak op allerhande interessante maniere ponde en dollars bymekaar. Hulle spot met haar. “Onthou om die ligte af te skakel as jy uiteindelik so ver kom om ons te join, hoor.” Sy lag maar net. As sy teen dié tyd nog nie gewoond is aan ’n gespot nie, sal sy nooit wees nie.

Sy doen dinge net effentjies, sprei haar vlerke net genoeg om nie meer binne ’n katspoegie van die huis af te wees nie.

Niemand van haar tydgenote verstaan dit nie – hierdie onvermoë van haar om haar los te maak van Pa en Ma se geklou aan haar. Liewe aarde! Hulle hang soos blokke aan haar been, maar sy kry dit ook nie oor haar hart om hulle met geweld van haar af te skud nie. Hulle is so … so verskriklik afhanklik van haar, asof sy al is wat saak maak in hulle lewe.

Ander ouers maak nie so ’n bohaai daaroor as hulle kinders die huis verlaat nie. Hulle toer deur die land of gaan fliek of kuier om ’n kaggelvuur met ’n bottel wyn en iets om te eet. Maar nie haar pa en ma nie. Nee, hulle is huishoenders wat op hulle eie werfie bly rondskrop – terwyl hulle vir haar wag om hulle dae op te vrolik.

Dis nie liefde nie, brom Isabella. Dis selfsugtige versmoring. Daarom laat die vooruitsig op die tikkie vryheid wat uiteindelik op haar wag, die bloed in Isabella se ore suis.

Meneer De Villiers rammel nog ’n paar reëls en reëlings af en Isabella trippel ongeduldig rond. Toe die geagte skoolhoof uiteindelik klaar gepraat het, gaan hamer sy aan Elisma se deur.

“Oukei!” roep ’n stem van binne af. “Moenie my deur afbreek nie. Ek kom!” Elisma lyk soos iets waarmee ’n verveelde kat gespeel het toe sy uiteindelik die deur oopmaak. “Wat skree jy soos ’n mal ding so vroeg op ’n Saterdagoggend? Het jy g’n respek vir jou medemens nie?”

“Nie vandag nie. Vandag is te spesiaal.”

“Dit beter wees. Ek is nog skaars wakker,” brom Elisma.

Isabella skuif by Elisma verby. “Oeps,” onthou sy skielik. “Waar is Freddy? Is hy al weg?”

“Jy bloos al weer,” lag Elisma. “Net die gedagte aan wat ek en Freddy tussen die lakens doen, laat jou bloos.”

Isabella weet dis waar en sy voel hoe haar wange warm word. Dis so frustrerend. Vernederend ook. Sy behoort nie so verleë te wees die tye wat sy Freddy hier by Elisma raakloop nie, maar dit vang haar elke keer. Veral wanneer hy met sy kaal bolyf hier rondloop asof die plek aan hom behoort.

Sy hou nie van Freddy nie en vertrou hom ook nie. Elisma behoort ook nie, maar sy wil niks verkeerds van hom hoor nie. Het dan selfs besluit hy is goed genoeg om mee te trou. Tussen al die baie mans wat oor haar deurdrumpel is, is hy net die man vir haar, die ridder op die wit perd. Isabella snork innerlik. Veel eerder ’n boef op ’n donkie as ’n ridder op ’n perd. Gou om na háár te gryp as Elisma nie naby is nie. Maak kamma ’n grappie.

“Hallo, mooi ding. En toe, hoe gaan dit met my girlfriend? Het jy verlang na my?”

Mooi ding! Verbeel jou! ’n Mooi ding is sy beslis nie, en gesien teen Elisma is sy niks. Niks! Teen Elisma met haar rooiwarm hare en Hollywood-lyf is sy so vaal soos ’n verbleikte vadoek. Elisma kan kies en keur tussen die mans, maar sy besluit op ’n kansvatter soos Freddy. Dis dom.

Isabella probeer uit sy tentakels bly, probeer koes as hy naderkom, maar hy het arms soos ’n seekat. Druk sy lyf teen hare asof dit so hoort, soen haar in die nek, sy mond nat, laat sy tong oor haar wang gaan. Sy gril elke keer daarvoor.

Ja, sy verlang na ’n man se lyf naby hare. Sy is nie ’n besemstok nie, sy is ’n vrou soos enige ander. Een wat met hart en siel na méér verlang as wat sy het, maar sy wil nie skelm drukkies by haar vriendin se kêrel hê nie.

“Kom ek en jy vry gou ’n bietjie,” fluister Freddy graag met sy asem warm in haar oor. Sy háát dit! Sy haat selfs die woord “vry”.

Dis banaal!

Arrogante blikskottel wat dink sy staan bakhand en wens hy wil vatterig raak. Asof sy niemand van haar eie kan kry nie, asof sy dankbaar behoort te wees dat hy aandag aan haar gee. Dalk is dit onskuldige grappies, wel, so onskuldig as wat enigiets kan wees wat in die geheim gedoen word. Wat weet sy nou van wat toelaatbaar is in die naam van vriendskap en wat nie? Sy weet net sy haat dit om deur Freddy bevoel te word.

Haar vriendskap met Elisma is vir haar meer werd as ’n duisend drukkies van ’n man soos Freddy. Wat maak dit saak dat Elisma haar uitlag oor haar onkunde oor seks? “Hou op bloos, Isabellatjie,” terg Elisma. “Jy weet goed ek en Freddy doen meer as handjies hou as hy hier by my is en ons doen dit al vandat ek hom die eerste keer kamma vir koffie ingenooi het. Ons leef nie meer in die tyd toe meisies beentjies oorkruis op die rak gesit en stof vergader het totdat iemand hulle met ’n gekug en gestotter om hulle hand en hulle lyf kom vra nie. Deesdae gryp ons girls die lewe aan die keel en kry daaruit wat ons wil hê. Jy koop nie ’n motor voor jy nie teen die tyres geskop en om die blok gery het nie. Get real!”

Sy moet! Sy moet ophou ongemaklik voel by die blote gedagte aan seks.

“Ek ken die storie, Elisma. Almal doen dit. Spring in die bed saam met iemand wat jy halfdronk ontmoet het en skaars gaan herken wanneer jy hom die volgende oggend in die helder daglig sien. Jy eksperimenteer, oorweeg jou opsies, doen ondervinding op voordat jy jou finale besluit neem, bla, bla, bla…”

“Netso. Kry dit uit jou sisteem, sê ek. Voordat jy barefoot and pregnant in die kombuis is.”

“Dit klink vir my maar bra klinies,” kla Isabella.

Sy is ’n regte ou dromer. Sy sou verkies om van haar voete af verlief te raak en haar sonder voorbehoud aan ’n man oor te gee. Sy wil alles hê – die romanse, die blomme en sjokolade, die troumars en die huweliksformulier. Met haar ma in trane en haar pa ook. En natuurlik die swartskaap van die familie, haar tant Cornelia, wat skandes maak op die onthaal. Alles tradisioneel en tog te mooi.

Sy moet hierdie simpele drome van haar hier begrawe as sy in die stad wil oorleef en wil doen wat die stadsmeisies doen.

Sy moet soos Elisma wees. Elke keer as Elisma deur ’n mansmens ingesluk word, ontstaan daar ’n kloof tussen hulle. Dan is dit of haar vriendin in ’n ander sfeer beweeg, ’n dimensie waarvan Isabella niks weet nie. Asof sy ver bo Isabella verhef word, soveel slimmer en beter is, gelukkiger. Asof sy ’n wenner is terwyl Isabella soos ’n weggooiding iewers in ’n hoek agterbly.

Hulle praat nooit in detail oor Elisma se bedsake of haar eie gebrek daaraan nie. Heeltemal sonder ondervinding van daardie tipe ding is sy nie. Daar was ’n student of twee op Universiteit wat haar bene lam onder haar laat invou het. Dit was natuurlik streng teen die reëls, maar om ’n man in jou koshuiskamer in te smokkel was nie onmoontlik moeilik nie. En dit was vet pret! ’n Verbode vrug is altyd soeter as een wat jou op ’n skinkbord aangebied word. Daar is gehyg en gestoom, en meer as een keer wou sy laat los en saam met die stroom gaan. Maar sy het nie! Miskien omdat sy vreesbevange oor haar skouer bly loer het of haar pa en ma haar nie dalk, uiters ontydig soos gewoonlik, met een van hulle vele besoeke uit die bloute kom verras het nie. Daar sou ’n hele paar hartaanvalle of beroertes wees, haar eie ingesluit. Die arme man wat met ’n oopgeknoopte hemp betrap is, sou heel moontlik ook in die slag bly. Sy het in haar lewe ’n hele paar gefrustreerde mans weggestuur, die nag in. Daarom kan sy nie saampraat met dié wat ondervinding het van daardie uiteindelike samesmelting wat glo ’n behoorlike ontploffing is nie.

Sy wens sy kon.

“Ek weet Freddy is nie die eerste man wat sy skoene onder jou bed instoot nie, maar hopelik gaan hy die laaste wees,” merk sy taamlik dikbek op, die groot nuus wat sy wou kom vertel vir die oomblik vergete.

“Dis die plan, ja. Ek twyfel of hy daarmee tevrede gaan wees as ek ander mans in my bed onthaal as ons eers getroud is.”

Dis tipies van Elisma. Sy kry dit altyd reg om die gesprek in haar rigting te stuur. Omdat sy ’n lewe het en sy wat die arme Isabella is, op die rak sit en stof vergader. Beentjies oorkruis ook nog, soos Elisma dit beskryf. Die een dag is soos die ander. Sy het nooit iets sappigs om met haar wêreldwyse vriendin te deel nie.

Dis pateties. Sy is pateties. Maar nie meer vir lank nie.

“Ek het iets om jou te vertel …” herinner sy Elisma nou.

Vir ’n wonder, ja!

“Kom ons gaan maak koffie,” stel Elisma gapend voor. “My mond is so droog soos ’n woestyn.”

“Vergeet van die koffie. Luister nou eers!”

“Wat? Het jy ’n ou ontmoet?”

“Nee, man! Nog nie, maar ek hoop ek gaan binnekort.”

Nou het sy Elisma se aandag. “Hoe so?”

“Ek het ’n onderwyspos in die Kaap gekry.”

“Kaapstad? Aan die ander kant van die wêreld?” Elisma lag. “Dis fantasties! Jy sou vergaan het hier op jou eie as ek en Freddy weg is en in ons eie huis bly.”

Isabella wil nie eens teenoor haarself erken watter groot rol Elisma in haar lewe speel nie. Miskien is dit die gedagte om alleen hier agter te bly wanneer Elisma en Freddy binnekort hand aan hand die horison tegemoetloop wat haar finaal laat besluit het om weg te gaan.

“Ek gaan my dood verlang na jou,” sug sy toe hulle later langs die kombuistafel sit en koffie drink.

“No ways! Jy gaan ’n roaring tyd hê.”

“Of …” sug Isabella, “dalk gaan ek nog steeds stoksielalleen op ’n Saterdagaand wees.”

“Dit sal van jouself afhang, ou girl. Jy sal jou idees moet los of jy sál nog steeds soos ’n outydse ornament op die rak staan omdat niemand jou wil hê nie.”

Isabella neem ’n groot sluk koffie. “Ek het so lank uitgehou. Dit sal jammer wees om alles sommer net oorboord te gooi.” Sy hoor die effense bewing in haar stem. “Soos pêrels voor die swyne.” Haar ma se uitdrukking in haar kop!

“Komaan, Isabella! Om in maagdelike wit voor die kansel te staan is net nie meer moontlik nie. Die ouens sal dink jy is skeef as dinge warm raak en jy keer elke keer.” Haar stem styg. “Wie wil in elk geval ’n virgin wees? Spaar my daarvan! Al daardie gewroeg en gewonder … al daardie gevroetel sonder dat jy ooit aan die sterre raak. What a waste of a beautiful body! Dis tog nie so ’n big issue nie, weet jy?”

“Wham, bam, thank you, ma’am?”

“Min of meer, ja.”

“Dis ’n bietjie laat vir my om ’n rebel te wees.”

“Liewer laat as nooit, my dear!” Elisma lag. “Ek dink sodra jy onder ou Liesbet Bitterbek Jansen se oë uit is, jy jou porseleinpoppie-preutsheid gaan afskud en ’n lekker los meisie gaan wees.”

“My ma kry die horries as sy hoor wat jy haar noem.”

Isabella voel tog skuldig. Dis nog oukei as sy dit doen, maar dit krap aan haar as Elisma van ou Liesbet Bitterbek praat. So … sy weet nie hoe om te sê nie. So … sonder respek. “Ek wil darem ook nie heeltemal ’n los meisie nie, miskien net ’n bietjie van ’n wilde meisie.”

“Ek wil nie by wees as jy vir liewe moeder van jou planne gaan vertel nie,” verseker Elisma haar.

“Ek ook nie!” Isabella lag senuweeagtig.

“Wanneer ry jy?”

“Ek ry nie, ek vlieg.”

“O ja? Hoe so?”

“Parkeerplek is glo ’n probleem by die hotel cum losieshuis waar die voorbarige skoolhoof vir my plek bespreek het.”

“Klink baie soos ’n koshuis.”

“Darem seker sonder reëls en regulasies.” Sy hoop so. “Totdat ek ander blyplek kry, los ek my karretjie voorlopig hier. Dit sal my ma troos dat ek wel weer die een of ander tyd sal terugkom.”

Sy sal vakansietye moet terugkom huis toe, anders sal haar ouers dit nie oorleef nie, dit weet sy.

“Dis ’n goeie plan. ’n Meisie met ’n betroubare motor soos joune is heeltemal te onafhanklik en het nie ’n man nodig om te kom waar sy wil wees nie.”

“Ag, asseblief, Elisma, ’n vrou wat op ’n man moet staatmaak om te kom waar sy wil wees, is so verouderd soos yesterday’s news”.

Elisma lag. “Is so, maar in jou geval moet jy alles moontlik probeer om soos ’n damsel in distress te lyk. Jy is op die oog af hopeloos te bekwaam, die tipiese skooljuffrou wat al die antwoorde ken. Dit sit die ouens af. Dit kan nie kwaad doen om jou ogies te fladder en ’n bietjie hulpbehoewend te lyk nie. As ’n ou jou kan help met iets, laat dit hóm great voel. Dit streel die Adamsgeslag se ego en die pad na ’n man se hart is deur sy ego. Wel, onder andere …”

“Nie deur sy maag nie?”

“As dit die enigste manier was om by ’n man se hart uit te kom, het ek nog langs jou op die rak gesit. Jy weet ek kan skaars water kook.”

Isabella sluk. Sy is self nie ’n voorslag in die kombuis nie en sy het nie Elisma se vermoë om te flankeer om daarvoor te vergoed nie.

’n Resep kan sy dalk nog met moeite volg en sy bestudeer dikwels die voorskrifte, raadgewings en waarskuwings wat tydskrifte op glansblaaie publiseer. Hoe om ’n man te vang, hoe om ’n man te behaag, te plesier, te verras, te verstom, aan jou voete te hou. Soms is daar selfs illustrasies by wat haar die tydskrif onderstebo laat draai in ’n poging om kop of stert daarvan uit te maak. Teoreties is sy nie heeltemal oningelig nie … hoop sy. Dis wanneer dit by die praktyk kom dat sy nog heelwat het om te leer.

“Die mans gaan mal wees oor jou,” sê Elisma. “Daardie onskuld in jou blou ogies, die varsheid wat jou omhul.” Sy praat harder, ’n bietjie kwaaier. “Maar moenie ’n fout maak nie, iets wat in ’n donker hoek of onder ’n bed gebêre word, bly nie vir altyd vars nie. Dit vrot later.”

“Eers was ek ’n outydse ornament op die rak, nou lê ek al onder die bed en vrot.”

Elisma frons. “Jy weet wat ek bedoel. Jy moet jou aspoestermentaliteit laat staan, Isabella. Jou arme-ou-ekketjie-bly-by-die-huis-maniertjies. Bêre die besemstok waaraan jy vasklou voordat jy daarop begin ry. Luister vir jou towertante en trek die stoute skoene aan. Jy ís so lief vir mooi skoene. Verf jou toonnaels. Pers. Of swart. Of enige kleur sodat jy uitstaan tussen die ander vaal vroue en gepluk kan word voordat jy oud en verlep is.”

“Liewe aarde, maar jy raak diep en digterlik,” probeer Isabella Elisma se skielike erns weglag.

Maar Elisma het ’n beker koffie agter die blad en laat haar nie keer nie. “Gaan mark toe met wat jy het. Verkoop jouself aan die hoogste bieër en never, ever sell yourself short. Jy het baie om te bied.”

Isabella verstom haar aan Elisma. Sy is nie gewoonlik so welsprekend nie. Oor verskillende kleure naellak, ja, of oor die nuutste modes kan sy ure lank gesels. Maar semi-filosofiese gesprekke is nie deel van haar alledaagse lewe nie.

“Met daardie boskasie en aansienlike boesem van jou behoort daar duisende mans te wees wat maar te gretig sal wees om jou once and for all te deflower.”

Isabella bloos. “’n Mens sou sê jy praat van ’n dame van die nag wat onder ’n lamppaal haar ware staan en adverteer.”

“Nee, jou voorkoms is meer subtiel, te verborge om by mans onderaan die food chain te registreer. Iemand soos my Freddy is byvoorbeeld nie skerp genoeg om dit raak te sien nie.”

Dis wat jý dink, sê Isabella vir haarself.

“Dit sal ’n man moet wees wat ’n bietjie dieper kyk om jou sex appeal raak te sien. Dis veral ook jou lyftaal wat jou so sexy maak. Jy beweeg soos ’n fairy, eintlik soos ’n danser.”

“’n Feetjie is beslis nie soos ek gebou nie,” keer Isabella.

“Jy is reg. ’n Feetjie is klein en fyn en pieperig. Jy nie.” Elisma trek met haar hande in die lug die rondings van Isabella se lyf na. “Jy is wulps gebou en tog beweeg jy met ’n grasie wat ’n mens gewoonlik nie by vet mense kry nie.”

“Vet!” Isabella stik in haar ontsteltenis. “Sê jy ek is vet?”

“Nee, man, nie regtig nie, maar jy het ook nie ’n visstoklyf nie. Miskien moet ek eerder sê jy beweeg soos ’n feëkoningin.”

“Of die hoofheks.”

Elisma dink blykbaar sy wat Isabella is, is nie te onaansienlik nie. Gewoonlik kritiseer sy graag, maar soms lyk dit of sy met ’n sagte oog na Isabella kyk. So ’n oog is nie baie betroubaar nie.

“Dis net … kyk hoe trek jy aan! Plaas dat jy ’n bietjie cleavage wys. Jy kan ’n stunning vrou wees as jy wil. Jy moet net leer om te flaunt wat jy het. Maar nee! Kuise ou rokkies wat niks wys nie is jou voorland. Dis net jou skoene wat uitspattig is, wat wys dat daar binne-in jou ’n sexy vrou sit en wag om uit te kom en die lewe te geniet!”

“Jy … verstaan nie. Die oomblik dat ek iets dra wat ’n bietjie gewaagd is, is my ma op my. Soms preek sy vir my, maar ander kere sê sy niks. Dis amper erger, Want ek kan dit in haar oë sien. Die teleurstelling, die bekommernis, die sekerheid dat ek op die afdraande pad is, dat ek ‘my lewe weggooi’, soos sy dit al gestel het.”

“Daardie ma van jou hou haar verniet so heilig. Ek sweer sy het ’n geraamte in die kas.”

Isabella lag. “Ag, komaan, Elisma, jy met jou samesweringsteorieë en kombuisfilosofieë. My liewe ma se lewe is ’n ope boek. Haar suster, ja, my tant Cornelia, wel, dis ’n ander saak …”

“Wat het sy gesondig?”

“Wie sal weet? Niemand praat daaroor nie, maar as daar ’n paar geraamtes is, sal dit in háár kas wees.” Isabella frons. “Ek hét eenkeer ’n gesprek tussen my pa en ma gehoor wat wys daar is iets waaroor hulle nie sommer praat nie.”

“Het jy afgeluister? Dis mos nie wat ’n goeie meisie doen nie.”

“Eintlik het ek toevallig op hulle afgekom. Ek was veronderstel om by ’n kerkjeugvergadering te wees, maar ek het maagkrampe gehad en vroeër huis toe gekom. Ek het deur die huis geloop en my pa en ma op die agterstoep hoor praat. Daar was iets … iets in die lug … iets tussen hulle wat my laat vassteek het toe ek by die agterdeur wou uitgaan.”

Sy was nie gewoond daaraan nie. Haar pa en ma het nie sommer gestry nie, in elk geval nie waar sý hulle kon hoor of daarvan geweet het nie. Maar daardie dag was haar pa se stem vreemd kras, was hy nie so gedienstig teenoor haar ma soos waaraan sy gewoond was nie.

“Isabella is nie meer ’n kind nie, Liesbet,” het sy haar pa hoor sê. “Sy het die reg om te weet wat gebeur het.”

“Nee!” Daar was ’n amperse histerie in haar ma se stem. “Jy sê niks! Jy het belowe!”

Isabella kon hoor hoe haar pa sug. “Tot my spyt, ja. Ek moes dit nooit gedoen het nie. Daar is sekere dinge wat ’n mens nie vir altyd onder die mat in kan vee nie. Ek is verstom dat Cornelia nie lankal die hele sak sondes voor Isabella uitgeskud het nie.”

“Sondes?” Daar was ’n huilerige klankie in haar ma se stem.

“Noem jy dit sondes? ’n Sak vol daarvan?”

“Ek is jammer. Jy weet wat ek bedoel.”

“Ek het Cornelia mooi gevra, gesmeek selfs om nie haar mond verby te praat nie. Dis nie nodig dat Isabella van alles weet nie, dit sal haar net verwar en niks aan die saak verander nie.”

“Sy sal baie dinge beter verstaan, vrou. Sy sal ook in ’n beter posisie wees om haarself te beskerm teen wat dalk nog oor haar pad kan kom.”

Maar haar ma wou niks hoor nie. “Dis dinge wat saam met die verlede begrawe moet word.”

“Hoe kán jy so redeneer, Liesbet?”

Haar pa het opgespring om voor haar ma te gaan staan, maar met die omdraaislag moes hy ’n beweging gesien het, iets wat hom gewaarsku het dat hulle nie meer alleen is nie. Isabella het nie eens probeer wegkruip toe hy die bodeur verder oopstoot nie.

“Hy het geskrik toe hy my sien,” vertel sy vir Elisma. “Skoon bleek geraak toe hy besef ek staan ’n paar tree van hom en my ma af.”

“‘Kom sit, Blom,’ het hy nogtans genooi. ‘Kom gesels ’n bietjie met ons.’”

Blom! Sy haat dit as hulle haar so noem. Pa se blom! Ma se blom! En as hulle die dag ekstra liefdevol is, is dit “Blommetjie”! Sy is g’n niemand se blommetjie nie. Behalwe as daar van ’n woestynblom gepraat word, ’n dor blom met verwelkte blare, niks moois nie.

“Ek dink my pa wou my daardie dag vertel wat die sogenaamde geheim was waaroor hulle gestry het. Hy was rég daarvoor, maar my ma nie. Sy het na hom gekyk asof sy hom van die aarde af wou kyk en wou by my weet hoekom ek so vroeg terug was. Toe het sy vir my pille vir die maagkrampe begin aandra en my vir die res van die middag opgepiep en opgepas.”

“Waaroor dink jy het dit gegaan?”

Isabella haal haar skouers op. “Ag, jong, seker maar iets wat tant Cornelia aangevang het. Dalk nie eens vreeslik erg nie, maar vir hulle sal dit sonde wees. Tant Cornelia is die skandemaker van my ma se gesin, van dié wat nog leef. Ons het nie juis kontak met enige van my ma se mense nie, maar tant Cornelia was glo altyd die skandemaker onder hulle. My pa en ma behoort nie so behep met haar dinge te wees nie, maar hulle het mos nie ’n behoorlike lewe van hulle eie nie. Eintlik is my ma vir ’n wonder reg – wát dit ook al is wat tant Cornelia aangevang het, raak my nie werklik nie. Sy sal mý nie werklik skok nie, daarvoor ken ek haar te goed.” Isabella gee ’n laggie. “My ouers probeer my so ver moontlik van haar af weghou, bang ek sal haar voorbeeld volg. Ek het van kleins af ’n heldeverering vir haar. Seker omdat sy so anders is as my ma. Soveel makliker om mee klaar te kom. Nie altyd veroordelend nie.” Sy voel skuldig om so voor Elisma van haar mense te praat.

“Soms wens ek tant Cornelia was my ma.”

“Julle sou dalk beter met mekaar oor die weg kom.”

Isabella onthou ’n gespek tussen haar ma en tant Cornelia wat die verskil tussen die twee susters duidelik uitgewys het. “Dit help nie jy hou Isabella op hok soos ’n voël in ’n kou nie,” het tant Cornelia laat hoor toe Isabella alleen wou gaan fliek en Ma haar nie wou toelaat nie. “Jy sien wat het gebeur toe óns ma dit met óns probeer doen het, Liesbet. Sy het net die teenoorgestelde reggekry. ’n Mens, veral ’n vrou, moet betyds haar vlerke oefen sodat sy kan wegvlieg as dit die dag nodig raak.” Haar ma was vreeslik ontstel. Het dramaties opgespring, haar hande smekend na tant Cornelia uitgestrek. “Cornelia! Asseblief! Moenie krap waar dit nie jeuk nie. Wat verby is, is verby. Isabella is mý kind, nie joune nie. Ek sal besluit hoe en wanneer en waarheen sy mag gaan, nie jy nie.”

Isabella sug, probeer die situasie vir Elisma verduidelik. “Ek dink nie die twee susters is besonder lief vir mekaar nie. Iewers moes iets gebeur het wat hulle in twee kampe verdeel het, dis maar al wat ek kan dink.”

“Dink jy dit gaan oor ’n man?”

“Wat anders? My tant Cornelia was nog altyd lief vir mansmense. Alle mansmense. Dalk was sy met iemand deurmekaar, ’n verbode liefde, jy weet. Dalk nog ’n getroude man. Miskien is tant Cornelia deur haar kwaai ma belet om met die mansmens deurmekaar te raak en het my ma haar aan die goeie kant geskaar. Jy moet weet my ouma was regtig so kwaai soos ’n heks. Hulle was so arm soos kerkmuise, lekker agtertangs as jy my vra, het in die gopse gebly. Maar jy sou dit nie raai as jy na haar geluister het nie. My ouma het my ma en haar suster met ’n ysterhand regeer. Of ten minste probeer.”

“Soos jou ma dit toe weer met jou gedoen het?”

“Ja, jong. Omdat dit al manier is wat sy ken.”

“Maar nou gaan alles verander.”

Isabella kan maar net hoop Elisma se voorspelling word waar. Sy was lank genoeg in die skadu langs die kantlyn van die lewe.