Uittreksel | Winterwens

Proloog
Lianca Ehlers kan haarself skop. Hoekom het sy nie maar vir haar ook ’n metgesel saamgebring na haar broer-hulle se troue nie? Nou sit sy en tande tel terwyl almal om haar lag en gesels en dit op die dansbaan uitkap.
Sy het egter nie kans gesien om een van die klerke wat saam met haar by Retief & Theron Ingelyf werk, te vra nie. Nie dat daar juis iemand was nie. Die meeste ouens het reeds meisies. Dit was eintlik net Heinrich en Erik wat sy kon vra. Erik is nog stiller as sy, terwyl Heinrich al lankal ’n oog op haar het. En sy kon dit nie bekostig om hom enige aanmoediging te gee nie. Dit sal hulle goeie werksverhouding skaad. Daarby is hy een van haar seniors.
Haar ma kan glad nie verstaan hoekom sy nie vir hom wil gaan nie. Sy reken hy sal ’n goeie man vir haar wees omdat hy ordentlik en ’n Christen is. Boonop moet hy nog net sy raadseksamen aflê voordat hy ’n geoktrooieerde rekenmeester is. Sy weet hierdie dinge is belangrik, maar wat van die vonk wat tussen hulle ontbreek? Of ten minste by haar. ’n Mens moet darem aangetrokke tot iemand wees om eendag ’n bed met hom te deel; dít is vir die res van haar lewe. Nee wat, dankie, sy wag maar liewer vir die regte een.
Met ’n heimlike sug kyk sy weg na die lang, skraal man met die bruin hare wat twee plekke van haar af sit. Paul van Huyssteen. Hy het ook soos sy alleen gekom, wat heeltemal te verstane is. Die feit dat hy enigsins hier is, is eintlik ’n wonder en sê baie van hom. Sy sou beslis nie die troue van iemand aan wie sy so te sê verloof was, kon bywoon nie.
Kyk net die seer en verlange in sy oë terwyl hy die bruidspaar op die dansbaan volg. Hy moet lus voel om haar broer te vermoor omdat Brand vir Christie op nommer nege en negentig voor hom weggeraap het. Dit was glo die aand waarop hulle verloof sou raak wat sy hom afgesê het.
Haar hart klop-klop vinniger soos haar oë oor sy reguit neus en glad geskeerde gesig gaan. Hy het by Chrisjan, Christie se kleinboet en die ou op wie Nicolene haar hart in Desember verloor het, gestaan en gesels toe hulle hier aangekom het. Dinge het egter nie verloop soos haar sussie gehoop het nie, al was hulle klaarblyklik smoorverlief op mekaar. Chrisjan het om die een of ander onverklaarbare rede net nooit weer iets van hom laat hoor nie. Dié dat Nicolene toe seker besluit het om vir Herman saam te bring – om Chrisjan natuurlik jaloers te maak.
Dit was nie moontlik om mooi na Chrisjan te kyk toe Nicolene hom aan hulle uitgewys het nie. Die oomblik toe sy vir Paul raaksien, het alles om haar vervaag en in die niet verdwyn. Sy kan dit nie verklaar nie, maar sy het net ineens geweet hy is die een. Nou is sy egter nie meer so seker daarvan nie. Hy het nog nie eens in haar rigting gekyk nie en gaan haar bepaald nie ná die troue kan onthou nie.
Toe Nicolene en Herman opstaan om te gaan dans, bevind sy haar onverwags alleen saam met Paul aan tafel. Haar hart begin benoud teen haar ribbes skop. Sy moet opstaan. Wegkom. Iets anders gaan doen. Dalk koeldrank by die kontantkroeg gaan koop. Om soos kiepie net voor haar te sit en staar of verlangend na die danspare te kyk, is voorwaar pateties.
Toe sy egter haar stoel agteruit wil stoot, maak hy oogkontak met haar.
“Wil jy dans?”
Al registreer sy vraag in haar brein, kry sy nie daarop gereageer nie. Hoe kan haar tong nie ’n simpel “ja” vorm nie? Hy begin haar al snaaks aankyk. Sy sluk en knik vinnig. Wat ’n eerste indruk van haar!
Met ’n vlugtige, stywe glimlag lei hy haar dansbaan toe en val met haar weg.
Wat is dit tog met haar? Hoekom kon sy nie maar so ’n sterk persoonlikheid soos haar broer gehad het of beeldskoon gewees het soos haar sussie nie? Sy het nie eens enige spitsvondigheid om daarvoor op te maak nie. Hierdie koekerige swart rok waarop sy besluit het, help ook nie. Dit hang tot op haar voete en die kant bedek haar hals en arms. Maar sy het nie kans gesien om die winter in so ’n rooi nommertjie soos Nicolene s’n aan te durf nie. Dis egter baie sexy met haar rug en een skouer wat oop is. Herman kyk skoon met skaapoë na haar.
Sy waag ’n versigtige blik op na haar dansmaat. Haar ooglede fladder weer neer. Dan het sy haar dit nie verbeel nie; hy het net oë vir die bruid en is skaars bewus van haar. Hy het nie eens gevra wat haar naam is nie.
Toe die lied eindig, knik hy ook slegs ’n dankie voordat hy omdraai en na die uitgang loop.
Sugtend kyk sy hom ’n oomblik agterna. Sy weet van beter as om te wens om eendag met hom te trou. Die Van Huyssteens is volgens haar broer skatryk. Sodra hy oor Christie is, sal hy kan kies en keur met wie hy wil trou.
Een
Twee jaar later
Met haar bene onder haar op die sitkamerbank ingevou, hou Lianca haar hande koesterend om die warm koffiebeker. Min mense is so gelukkig om soos sy op ’n vakansiedag te verjaar. In die winter is dit nog ’n groter bonus, want nou hoef sy nie die Vrystaatse koue vroegoggend aan te durf nie. Vandag is Jeugdag, haar vier-en-twintigste verjaardag.
Met ’n kar wat sy self afbetaal en ’n BCompt-graad agter haar naam kan sy trots wees op haarself. Dit was nie speletjies om heeldag met syfers te werk en dan saans en naweke te swot nie. Miskien was dit makliker vir haar omdat sy nie juis iets anders gehad het om te doen nie; ménse gehad het met wie sy iets kón doen nie.
Wat van haar ma? Dis nie dieselfde nie. Sy dink nie eens ’n vriendin sou hierdie leemte in haar kon vul nie. Almal trou links en regs om haar. Selfs Nicolene, wat twee jaar jonger is as sy, is nou getroud, nogal met Chrisjan.
Die alleenheid is besig om haar te vang, al bly sy steeds in haar ouerhuis. Miskien moet sy weggaan. Teen hierdie tyd is dit duidelik dat daar nie ’n man vir haar op Bethlehem is nie. Maar dan moet sy ’n ander werk kry. Op ’n heel nuwe plek gaan werk waar sy niemand ken nie. Wie sê sy sal dáár iemand vind of kan vriende maak? Ná skool het sy geglo dit sal anders wees wanneer sy eers werk, maar sy was verkeerd.
Sy ruk toe haar selfoon onverwags langs haar lui. Vinnig tel sy dit op. Haar ma en stiefpa slaap nog en sy wil hulle nie wakker maak nie.
’n Glimlag pluk aan haar mond toe sy sien dit is Brand. Natuurlik sal haar broer al wakker wees en na die beeste gaan kyk. “Haai, Boeta. Hoe gaan dit?”
“Nie so goed soos met jou nie. Baie geluk met jou verjaardag.”
As haar broer maar weet hoe “goed” dit werklik met haar gaan. “Dankie.”
“Wat’s nuus daar by jou?”
“Nie juis veel nie. Dis maar werk toe en huis toe. Die gewone.”
Brand reageer nie daarop nie. Seker omdat hy weet sy vertel hom nie alles nie en nou wag hy geduldig dat sy dit doen.
“Ek begin wonder of ek nie dalk vir my ’n ander werk moet kry nie. Ons werk ons oor ’n mik. Al die klerke het heeltemal te veel kliënte en te min tyd, en die base verwag net altyd alles moet betyds klaar wees. Dan kry ons nie naastenby soveel geld soos die mense buite die praktyk nie.”
“Ek hoor jou. Sê my, hoe sal jy daarvan hou om vir ’n boerdery te werk? Ek kan net nie sê of die geld beter sal wees nie.”
Sy het haar nou heeltemal verkeerd uitgedruk. Geld is nie die eintlike probleem nie, maar sy sien sowaar nie kans om haar broer die ware rede te gee nie. “Ek sal baie daarvan hou. Ek kan nie vir jou sê hoe baie ek terug plaas toe verlang nie.”
“Ek sal jou goed glo. Ons al drie is deur en deur plaaskinders. Jy moet sien hoe blom Nikki vandat sy en Chrisjan getroud is en sy nou weer op ’n plaas bly.”
Is die plaas rêrig die rede? Sy dink eerder dit is Chrisjan wat Nicolene so gelukkig maak. Hy aanbid behoorlik die grond waarop sy loop. “Ek is bly vir haar.” En sy ís. Dis net . . . dae soos vandag is dit swaar om haar ouboet en kleinsus so gelukkig te sien en te weet sy is nog steeds alleen.
“Ek ook. Maar om terug te kom by die werk, ons bure is op soek na iemand wat in hulle kantoor kan werk. As hulle hoor jy kan hulle boeke ook doen, sal hulle baie bly wees, want die boekhouers op Ermelo vra hulle ’n fortuin daarvoor. So, wat sê jy? Moet ek ’n onderhoud vir jou probeer reël?”
“Ek sal baie bly wees, maar . . . wat van Mamma? Dink jy nie dit sal vir haar swaar wees as ek ook Mpumalanga toe trek nie?”
“Natuurlik sal sy jou mis, maar voëltjies moet die een of ander tyd hulle vlerkies sprei en uit die nes vlieg. Sy kan jou nie vir altyd daar hou nie en dis nie asof sy alleen is nie.”
Dit is waar, maar haar ma is nie so gelukkig met stiefpa Petrus soos sy met hulle eie pa was nie. Tog moet sy die een of ander tyd uit die huis gaan, hoe gouer, hoe beter, anders sit sy dalk vir altyd op die rak. “Jy is reg.”
“Nou goed. Ek laat weet jou. Lekker verder verjaar en geniet dit om al die koek vir jouself te hê.”
“Dankie,” antwoord sy flou. Hy weet net nie hoe graag sy dit met hulle of iemand spesiaals sou wou deel nie.
Toe hulle aflui, drink sy haar koffie klaar, slegs vaagweg bewus daarvan dat dit nou al lou is. Sê nou sy kry die werk, dan kan sy naby Brand en Nicolene wees. Dalk sal haar broer en suster haar in hulle vriendekring intrek sodat sy nuwe mense kan ontmoet. Sy kan selfs weer vir Paul raakloop.
Nee, sy moet liewer nie aan Paul van Huyssteen dink nie. Hy het met Chrisjan en Nicolene se troue ’n brunet as sy plus een daar gehad, ’n meisie met die mooiste blou oë, en het natuurlik nie eens in haar rigting gekyk nie. Vir al wat sy weet, is hulle al verloof of getroud.
’n WhatsApp kom deur op Lianca se selfoon toe haar ma vir hulle elkeen ’n stukkie sjokoladekoek sny. Sy hou haar asem op toe sy sien dit kom van Brand af en maak dit vinnig oop.
Jy moet Saterdag 11:00 by oom Rikus-hulle vir ’n onderhoud wees. Kom kuier dan sommer die res van die naweek vir ons.
“Wie is dit?” vra ma Anna-Marie.
“Dis Brand.”
Haar ma knik aanmoedigend asof sy weet daar is iets wat van haar weerhou word. Ai, en sy het gehoop sy sal haar ma nie so gou daarvan moet sê nie.
Sy asem diep in. “Hy het my vanoggend vertel van ’n kantoorpos wat by hulle bure beskikbaar is, en nou het hy ’n onderhoud vir my by hulle gereël. Ek moet Saterdag elfuur daar wees.”
“’n Kantoorpos?” vra haar ma fronsend. “Maar jy gaan mos oorgekwalifiseer wees vir die werk.”
“Brand glo hulle sal baie bly wees as ek hulle boeke ook kan doen.” Toe haar ma net dieper frons, vervolg sy gerusstellend: “Mamma, ek weet dit gaan snaaks klink, maar dit is eintlik die tipe werk wat ek nog altyd wou doen. Dit is hoekom ek besluit het om nie verder te swot en ’n geoktrooieerde rekenmeester te word nie. Ek hou nie daarvan om elke dag net finansiële state op te stel en dit te interpreteer nie, maar wil eerder ’n besigheid se boekhouding doen. Dan is dit ook op ’n plaas.”
Ma Anna-Marie se gesig versag. “Haai, my kind. Ek het nooit besef dit is hoe jy daaroor voel nie. In daardie geval is ek regtig bly vir jou en sal ek styf duim vashou vir Saterdag.”
Lianca kyk haar ma eers ’n oomblik aan voordat sy glimlag. Haar ma bedoel dit werklik. Of steek sy net haar teleurstelling baie goed weg?
Hoe dit ook al sy, sy kan nie vir altyd in haar ouerhuis bly nie. As sy nie hierdie werk kry nie, moet sy doodeenvoudig ’n ander een soek. Ja, dis tyd dat Lianca Ehlers haar oë toeknyp, by die nes uitspring en haar vlerke sprei soos Brand gesê het.
Lianca verminder spoed toe die vrouestem van Google Maps sê dat sy oor vyf honderd meter regs moet draai.
Sy nader ’n mooi ingang met grysbruin mure en ’n klippilaar aan elke kant. Daar is selfs ’n netjies gesnoeide heining voor elke muur. Dit lyk na agtermekaar boere en of hulle vermoënd is. ’n Boer wat swaar trek, het immers nie geld om op sulke goed uit te gee nie.
Die naam vang haar oog toe sy indraai en haar gesig verstar. Van Huyssteen Boerdery. Paul-hulle se boerdery? Dit kan nie wees nie.
Sweet slaan op haar hande uit. Gaan Paul insit by haar onderhoud? Hy sal haar tien teen een nie kan onthou nie, maar sy gaan hóm kan onthou. Sy slaan sommer hoendervleis uit as sy net daaraan dink. Wat as sy bloos? Hoe op aarde sal sy kan ontspan en op die vrae kan konsentreer?
O, wat het haar besiel om te kom? Sy het gedink sy spring uit die nes en gaan haar vlerke sprei. Nou lyk dit eerder of sy haar te pletter gaan val. Brand het net gepraat van ’n oom Rikus. Hoekom het sy nie gevra wat sy van is nie?
Met haar hande om die stuurwiel geklem asof haar lewe daarvan afhang, kyk sy in die truspieël. Daar is nie nou wegkomkans nie. Al waarvoor sy kan hoop, is dat sy totaal en al faal, wat glad nie moeilik sal wees in Paul se teenwoordigheid nie. Toe hy haar by Brand-hulle se troue vir ’n dans gevra het, kon sy nie eens ’n behoorlike “ja” uitkry nie.
Die huis kom in sig. Kort daarna bereik sy ’n bordjie wat wys die kantoor is regs en die huis reguit aan. Sy sit outomaties haar regterflikkerlig aan. Dadelik sit sy dit weer af. Hulle sal dink sy is ’n stedeling wat dink ’n mens moet ’n flikkerlig op ’n plaas gebruik.
Sy blaas haar asem uit en trek dit toe diep in. Kalmeer. Haal weer diep asem. Kan dit nie maar al tyd wees om na Brand-hulle te vertrek nie?
Haar hartslae dreun in haar ore toe sy voor die kantoor stop. Here, help my, asseblief!
’n Man en ’n vrou – Lianca skat hulle omtrent haar ma se ouderdom – kom saam met Christiaan by die kantoor uitgestap. Dit is Paul se broer wat ook by Brand-hulle se troue aan haar tafel gesit het. Sy maak haar kar se deur oop en klim gedwonge uit. Paul gaan seker nou enige oomblik sy opwagting maak. Daar is egter nog geen teken van hom toe die ander drie haar bereik nie.
Die oom steek eerste sy hand na haar uit. “Lianca? Hallo, en baie welkom hier by ons. Ek is Rikus van Huyssteen en dit is my vrou, Barbara, en my seun Christiaan.”
Sy knik en skud sy hand. “Aangename kennis, oom Rikus.”
Die tannie se oë gaan goedkeurend oor haar. “Hallo, Lianca. Dis lekker om jou te ontmoet. Jy’s seker doodmoeg van die lang pad. Het jy darem goed gery?”
“Ja, baie goed, dankie, Tannie.” Sy is ’n uur vroeër weg sodat sy rustig kon ry en die slaggate vermy.
Christiaan hou laaste sy hand na haar uit. “Hallo, Lianca. Ek weet nie of jy my nog van jou broer se troue kan onthou nie? Ek is mos met Christie se sussie, Lizette, getroud.”
Sy skud sy hand en knik. “Ja, ek onthou. Julle het reg oorkant my gesit.”
Oom Rikus wys na die kantoor. “Sal ons ingaan?”
Gelukkig is dit ’n retoriese vraag, want sy is al weer met stomheid geslaan. Wat as Paul daarbinne is? Die kans is seker skraal, tensy hy ’n draai gaan loop het of iets.
Christiaan stoot die kantoordeur oop en wys sy kan eerste ingaan.
Genadiglik kry sy dié keer ’n “dankie” uit. Sy stap in terwyl haar oë angstig deur die vertrek gaan. Daar is egter niemand nie. Verligting trek deur haar, maar net vir ’n oomblik, want diep in haar hart het sy eintlik gehoop om hom weer te sien.