Skip to main content

Uittreksel | Wilde vere

Proloog

Die rit is stamperig, warm en lank. Langs haar in die kleinerige draadhokkie kekkel die paar hoenders benoud maar nuuskierig.

Dan skielik is daar stilte en die vriendelikheid van sonlig op die motor se agtersitplek.

Vir ’n paar oomblikke sweef die hokkie in die lug en stroom vars lug oor haar. Sy is buite en die klein draaddeurtjie voor haar maak oop. Sy word saam met haar susters uitgejaag en dan staan haar pote op vaste grond. Dit kielie.

Sy knyp haar hoenderogies styf toe en lig haar kop op na die blou daar bo. Die lig is verwelkomend. Sy is vry. Vry van die klein spasie in die groot gebou waar sy sedert haar geboorte moes deurbring, omring deur honderde lywe en bekke wat nie een oomblik stil is nie. Vry van die raserige ding op wiele wat haar hiernatoe gebring het en vry van die benoudheid van die draad wat haar lyf inperk.

Voor haar is ’n groot draadstruktuur met ’n oop hek. Binne is dwarspale en ’n paar kleinerige houthokkies in die lug. Dit lyk koel en aanloklik. Dis seker waar die groter henne hul eiers lê. Sy het soortgelykes gesien waar sy vandaan kom. Maar hierdie hok is oop, vriendelik en gesellig en laat haar reisgenote na binne spaander, reguit na die bak water en die paar mieliepitte in die hoek.

Sy drink verwonderd die sonlig en die omgewing in, hier buite die hok waar sy nog die gevoel van vryheid wil koes­ter. ’n Paar wit wolke hang lui in die lug. In die verte kan sy pype sien met nog wit wolke wat uit hulle stroom na die blou dak.

Sy skud haar vere reg en stap die hok binne. Sy sal later weer kom kyk, maar nou is sy honger en dors.

’n Skaduwee val oor haar en sy draai haar kop skeef om te sien wat tussen haar en die mielies op die grond staan.

Die hen voor haar is groot, baie groter as sy, en met ’n skud van haar swart-en-rooi vere, pof sy haarself nog groter. Die ogies is dreigend, intimiderend, die skerp bek wawyd oop.

Sy skarrel hoek toe en maak haar klein tussen die houtpaal en die ogiesdraad. Vrees ruk haar lyf.

In die oorkantse hoek kerm haar medereisigers onderdanig in ’n bondel. Nog ’n hen met rooi-en-wit spikkels op haar grys vere troon bokant hulle uit. Sy gee elkeen ’n venynige pik op die kop.

Die boodskap aan die inkommers is duidelik: Hier moet jy jou plek ken.

Sy is afgesny van die res van haar groep, en beide henne kom nou afgemete op haar afgestap. Die swart-en-rooi vere loop voor. Sy is duidelik die baas van die plaas. Daar is nie wegkomkans nie.

Die gepikkery op haar kop en lyfie is kortstondig maar ver­woed. Om haar dwarrel fyn veertjies in die sonlig. Van ver af hoor sy die aakligste geluide en besef dan dat dit uit haar eie bek kom.

Van buite die hok is daar ’n geraas. ’n Mens roep en skree en maak ’n groot lawaai met ’n stok teen die hok se draad. Tussen die groot hen se pote kan sy die oop hekkie sien en rats fnuik sy die laaste aanslag van die skerp snawel om tussen die geskubde bene deur te vlug.

Sy hardloop so vinnig as wat haar kort beentjies haar kan dra, weg van die aanslag. Weg van die woede.

Agter ’n muurtjie kry sy ’n omgeslane kruiwa waaronder sy wegkruip. Daar sit sy lank totdat die son begin koud word en die vroumens haar versigtig kom uithaal. Sy vryf saggies oor die spierwit vere en praat oor haar kop terwyl sy in die verte kyk, soekende na die pyp met die dun wolk in die lug. Die wolk is nou ’n veer teen die blou. Kuikensag en skoon.

“Hierdie is nou jou huis,” sê die vrou. “Hier moet jy inpas en jou job doen waarvoor jy geskape is. Hier moet jy leer van orde en oorlewing. Soos ons almal moes. Hoe gouer, hoe beter.”


2 Desember 2017

Pop de Wild se olyfgroen oë vee oor die aankoms­saal op soek na ’n oop stoel. Daar is al heelparty mense wat wag vir vlug SA237 vanaf Londen. Haar moermeter klim ’n graad of twee. Dis so simpel as iemand ’n stoel beset en ’n ander een twee stoele tussenin oorslaan. Langs watter siel gaan sit jy nou met die piepklein sitplekkies wat beskikbaar is? Met haar nommerveertig-agterstewe in gedagte, soek sy na drie oop stoele. Sy swets binnensmonds.

Niks sover sy kan sien nie.

Haar sweetpakbroek se dienstydperk het verval, die oop skoene is verweer, maar is nog steeds die beste in haar kas, al is dit nie heeltemal geskik vir die koeler weer vandag nie.

Desember is nie meer wat dit was nie.

Pop mors nie geld op dinge soos modieuse skoene nie; as die crocs nog goed genoeg is en lekker loop, is dit al wat saak maak. Hulle pas min of meer by alles in haar kas. Sy het ander noodsaakliker dinge om haar geld op te spandeer – die bietjie wat hulle kry van Gys se pensioen en die verkoop van ’n paar slaghoenders en eiers. Om darem ook nog ’n geldjie Londen toe te kan stuur, na Evan toe. Haar enigste kind.

Sy sal nou weer moet sorg dat Evan ’n werk en rigting kry. Soos wat sy al jare lank probeer om Gys te laat rigting hou. Dié het ook mos kort-kort van werk verander, want dan was dít verkeerd en dan dát – maar al wat verkeerd was, was sy liefde vir die slotmasjiene. Die laaste twaalf jaar by die staalfabriek was ’n rekord. Tot die pawpaw die fan gestrike het.

Sy sug swaar en wikkel haar agterstewe in ’n stoel tussen ’n haaipoppelaai vroumens en ’n jong meisiekind wie se oë aan haar selfoonskerm vasgegom is, nekkie krom soos ’n vraagteken. Hierdie generasie kinders gaan nog hul gatte sien met al die goed op daardie skermpie waaraan hulle so klou. Met die koms van hierdie woeps-waps plastiekkommunikasie word gewone fatsoenlikheid telkens eenkant toe geskuif soos wat hul vingers links en regs oor die skerm vee. Veral goeie maniere. Pop gee ’n fyn snorkie en loer uit die hoek van haar oog na die meisiekind. Daar beweeg nie ’n haar van haar vals wimpers nie. ’n Mens kan ’n bom langs haar laat afgaan en sy sal seker nog eers ’n selfie wil neem voordat sy haar laaste asem uitblaas.

Die lang wag op Evan begin. Sy is ’n halfuur te vroeg, maar met die mal Jozi-verkeer weet ’n mens mos nooit. Sy hoop nie die mense hoor haar maag grom nie. Hulle gatte in elk geval ook. Van opgewondenheid oor Evan kon sy net swart koffie en ’n Marie-biscuit inwurg. Sy sit terug op die klipharde staalstoel en strek haar bene lank voor haar uit. Miskien moet sy tog vir Kersfees vir haar nuwe skoene kry, dink sy toe sy sien hoe mevrou Poppelaai langs haar tersluiks na haar crocs loer. Ja, sussie, kyk maar. Hulle loop lekkerder as jou bandjie­bedryf wat duidelik jou voete pynig en daardie plooie op jou gesig veroorsaak.

Pop druk haar hare agter haar ore in. Sy moes maar vanoggend kop gewas het. Sy weet sy lyk verskriklik teen hierdie tyd. Maar om alles reg te kry in die oggend, en nog vir Gys so ver te kry om sy gat uit die bed te lig, vat tyd. Die hemel weet, sy’s só moeg vir alles en almal se nonsens; sy wil soms handdoek ingooi en die boek op hulle almal toemaak.

Evan moet kom sodat hulle huis toe kan gaan en sy weer in haar normale roetine kan kom. Die huis moet skoongemaak word, die wasgoed ook. Sy weet Gys sal nie na die hoenders kyk soos wat sy hom gevra het nie. Dan’s daar die boud wat sy laas week op special gekry het. Dié moet nog in die oond kom om Evan se tuiskoms te vier.

Evan moet sy kant bring, wragtig weet. Sy kan nie meer alles op die plot behartig nie. Sy is moeg, lewensmoeg, en sommer net gatvol. Waar bly die mannetjie? Dis nog ’n entjie Steel Valley toe en sy wil nie in die middagverkeer met die verdomde Uno ry nie. Die ding is op sy laaste bene. Nog iets wat haar elke dag beproef. Sy kon hom al lankal oorgedoen het as daar geld was vir die regte parte. Nou moet sy spoeg en plak om die stuk blik op die pad te hou.