Skip to main content

Uittreksel | Welvaartskeppers

Strategieë wat jou lewe kan verander

SUKSESSTORIE: NAOMI BUTOW

GEEN SPANBOUSESSIES, ASSEBLIEF!

Naomi Butow is ’n entrepreneur en een van Suid-Afrika se
mees ervare en gerespekteerde bemarkingspesialiste.


Watter raad sou jy jou jonger self gee?

Dis oukei om hulp te vra. Moenie probeer om alles self te doen nie, veral as jy ’n entrepreneur is. Kontrakteer sekondêre take uit sodra jou kontantvloei groot genoeg is sodat jy op die kernsake kan fokus.

Watter gewoontes help jou om sukses te behaal?

Ek glo vas dat selfsorg van kernbelang is as jy skerp wil bly. Party mense dink jy moet altyd besig en gestres wees om sukses in die sakewêreld te behaal. Dat jy altyd vir alles moet ja sê. Ek verskil radikaal van hierdie siening. My filosofie is om slimmer te werk, nie harder nie. As jy gedurig rondhol en jouself oorlaai met werk, gaan jou kernpligte daaronder begin ly. Stel grense wat jou in staat stel om ’n balans tussen jou loopbaan en jou persoonlike lewe te handhaaf.

Meditasie en asemhalingstegnieke help my om om te sien na my geestelike behoeftes. Probeer om in die oomblik te lewe – dit baat ’n mens niks om vas te val in die verlede of eindeloos te wroeg oor die toekoms nie. Ek geniet dit om tyd saam met my gesin deur te bring, en ná ’n paar jaar het ek dit uiteindelik reggekry om 100% teenwoordig te wees wanneer ek saam met my kinders is.

Ek is ook 100% teenwoordig wanneer ek met my werk besig is. Ma’s in die sakewêreld is geneig om hulle oor die werk te bekommer wanneer hulle saam met hul kinders is en om hulle oor hul kinders te bekommer wanneer hulle by die werk is. Lei jouself op om die twee wêrelde af te baken, en wees ten volle daar vir die mense saam met wie jy op daardie oomblik is – hetsy by die huis of by die werk.

Wie of wat motiveer jou?

Ek het op ’n jong ouderdom geleer dat ware motivering nie van eksterne bronne kom nie, maar van binne jouself. As ’n jong werknemer het ek altyd spanbousessies gehaat. ’n Groot ophef word gemaak, en almal is vuur en vlam op die dag, maar sodra almal terug op kantoor is, verdamp die geesdrif bitter vinnig.

Kort voor lank verval almal maar net weer in hul ou gewoontes. Die rede hiervoor is dat iemand anders jou nie kan motiveer nie. Jy is die kaptein van jou skip – en jy weet hoe om dit die beste te stuur. Niemand gaan in die oggend opstaan en jou lewe woema gee nie. Daai moet jy self doen. In 2003 het ek my eie maatskappy op 26-jarige ouderdom begin, en ek is verlig om te kan sê dat ek nooit weer ’n spanbousessie moes bywoon nie.

Watter rol het jou grootwordjare in jou sakesukses gespeel?

As ’n jong meisie was my droom om ’n topsakevrou met haar eie onderneming te wees. In my geestesoog het ek gesien hoe ek – stylvol geklee en perfek gegrimeer – van stad tot stad vlieg om sake te doen. Daardie drome is vandag my werklikheid. Ek het geword wat ek altyd wou – die direkteur van ’n maatskappy wat ek besit.

Watter boodskap het jy vir voornemende entrepreneurs?

Ek het al ’n hele paar waardevolle lesse in my sakeloopbaan geleer en deel graag die volgende wenke:

  • Entrepreneurskap is ’n wipwaentjierit. Jy moet ’n persoonlikheid
    hê wat terugslae en uitdagings kan hanteer.
  • Moenie ’n onderneming begin as jy die soort mens is wat sku
    is om mense te bel en aan te dring op betaling nie.
  • Wees gereed om in die begin baie dinge self te doen. Jy gaan aanvanklik jou lyf bemarker, rekenmeester, sakebeplanner én skuldinvorderaar moet hou. Namate jou onderneming groei, kan jy al hoe meer van hierdie take uitkontrakteer of voltydse personeel aanstel. Rus jouself toe om dan ’n goeie sakebestuurder te word.
  • Baie mense dink die pad na sukses volg ’n reguit lyn. Dit is ver van die waarheid. Wees voorbereid op ’n kronkelpad vol onverwagse dorings en klippe. Sorg dat jy ’n Roete B, C en D gereed het wanneer Roete A afgesny is.
  • Moenie toelaat dat ’n mislukking of twee jou definieer nie. Beskou dit as ’n les wat jou gaan help om in die toekoms beter planne te beraam en foute te vermy. Party aande gaan jy jouself aan die slaap huil, maar byt vas: Die potensiële beloning vir al die swaarkry is gróót as jy ’n entrepreneur is.
  • Moenie al jou wins aan salarisse bestee nie. Ploeg ’n deel daarvan terug in die onderneming sodat jy kan groei.
  • Belê in die professionele ontwerp van ’n logo, besigheidskaartjie en webwerf. Wees bereid om geld te bestee aan die hardeware, sagteware en ander tegnologie wat jy nodig het om suksesvol te wees.
  • Beskou jou onderneming as ’n lewende handelsnaam en bou dit uit in pas met jou persoonlike oortuigings. Mense koop handelsname waarmee hulle hul kan vereenselwig.