Skip to main content

Uittreksel | Wat die hart wil hê

Een

Jacqueline frons diep na die selfoon wat skril in haar hand lui. ’n Enkele naam, Linda, verskyn op die skermpie. Haar hart mis ’n slag. Kan dit wees? Sy druk die groen telefoonikoon. Net toe sy wil groet, klink ’n skril stem in haar oor.

“Liewe hemel, liefie! Uiteindelik! Ek het jou seker al ’n honderd keer gebel nadat jy sommer net verdwyn het. Die laaste wat ek gehoor het, was ’n harde slag soos . . . soos ’n ontploffing en toe is jy net weg! Is jy daar, Gerrie? Praat met my!”

Jacqueline hou die foon van haar oor af weg en kyk na die verligte skermpie. Dit voel asof sy enige oomblik aan haar spoeg gaan verstik. Sy maak haar oë toe. Die hemel alleen weet, sy het dít nou nie verwag nie, al het sy vermoed dat Gerhard die kat in die donker knyp. En die enigste een wat dit waag om hom Gerrie te noem, is sy ma, dink sy vies en druk met haar vingerpunte teen haar slaap. Sy sal moet kalm bly, anders gaan sy binnekort met ’n migraine sit.

“Wie is jy?” vra sy toe sy weer die foon teen haar oor druk.

“Wie is jy?” kom dit oprukkerig van Linda.

Jacqueline rol haar oë. Sy het eerlikwaar nie lus vir derms uitryg nie.

“Gerhard se verloofde.”

Skielik is dit so stil dat sy vir ’n oomblik wonder of die vrou dalk flou geword het.

“Is jy nog daar?”

“Ek . . . jammer. Ek dink ek het die verkeerde nommer hier beet!” sê Linda vinnig en druk die foon summier dood.

Jacqueline voel hoe haar binneste saamtrek. Natuurlik weet Linda nie dat háár Gerrie verloof is nie, nè!

Sy kyk af na die man wat byna leweloos in die hospitaalbed lê, met verbande om sy kop en bolyf gedraai. Sy regterarm is in ’n spalk en aan sy linkerhand is ’n intraveneuse drup gekoppel. Net een lig brand bokant sy bed. Die res van sy silhoeët is in semi-donkerte gehul. Die monitor wat langs sy bed biep-biep, laat haar opnuut ril.

“Mevrou, ek is bevrees dat u nou sal moet gaan. Dit is al baie laat en ons pasiënt het rus nodig,” sê die nagsuster wat intussen die kamer binnegekom het.

Jacqueline voel hoe sy van kop tot tone koud word. Hoekom moet almal altyd van die opinie wees dat hulle getroud is? Wat tussen haar en Gerhard Brink was, is lankal verby, die oomblik wat hy die ring twee jaar gelede aan haar vinger gesteek het. Hulle het daarna albei hul eie gang gegaan, nes gewone vriende. Tot vandag toe kan sy nie onthou hoekom sy ingestem het om aan hom verloof te raak nie. Was dit net om haar ouers tevrede te stel? Hy is mos hul eerste keuse vir ’n huweliksmaat vir haar.

Vanaand wou sy finaal ’n einde aan die verlowing maak, alhoewel sy nie regtig geweet het waar om te begin nie. Die negatiewe gevoelens wat sy reeds vir so lank al wegsteek, moes net uit, maar hierdie ontydige motorongeluk het haar planne in die wiele gery.

Sy kyk weer na Gerhard. Hy lê soos ’n dooie, heel onskuldig, maar wag ’n bietjie . . . Het sy haar dit nou verbeel of was daar ’n glinstering naby sy ooglede? Sy buk effens af. Nee. Sy oë is toe. Wat sal sy reaksie wees as sy hom skielik aan sy skouers vat en hom begin skud, sommer in ’n ander dimensie in?

“Gerhard, kan jy my hoor?” waag sy. Hy lê egter doodstil.

“Mevrou?” sê die nagsuster weer. Jacqueline byt op haar tande.

“Ja, ja, ek loop nou.” Sy trek die bedkassie se laai oop en sit die selfoon daarin, kyk ’n laaste keer na Gerhard en wragtiewaar, daar sien sy dit weer – hy lê vir haar en loer. Net toe sy wil praat, maak hy weer sy oë toe. Die blikskottel!

Jaqueline trek haar asem diep in, draai om en so vinnig as wat haar twee bene haar kan dra, storm sy in die lang gang af. Mense kyk haar fronsend agterna, maar sy gee nie om nie. Sy moet hier wegkom. Sy wil behoorlik asemskep, tot haar sinne kom.

Sy sien ’n deur wat na die parkeerarea lei, stamp dit oop en gaan staan uitasem op die sypaadjie, draai dan om en kyk vies na die deur terwyl dit stadig toegaan.

Alle hospitale het outomatiese skuifdeure, hoekom nie hierdie een ook nie? Hoekom moet sy vandag met alles sukkel? Nog mense kom by die deur uitgestap en Jacqueline skud haar kop toe sy besef dis net ’n sydeur wat gebruik word wanneer ’n ambulans met ’n pasiënt inkom, om sodoende nie ’n hindernis te veroorsaak nie.

Sy beter haarself regruk. Sy gaan haarself nie nou oorgee aan skok, wanhoop, en alles wat negatiwiteit in haar lewe saai nie. Die oomblik wanneer Gerhard by sy volle bewussyn is, gaan sy beslis ’n einde aan hul verlowing maak.

Jacqueline kyk op haar horlosie. Dis kwart voor elf. Gits, sy het heeltemal van Katryn vergeet. Toe sy haar jonger suster vroeër probeer bel het om haar hospitaal toe te neem, was sy nie beskikbaar nie. En om haar nou hierdie tyd van die aand te skakel, gaan net in ’n maraton van vrae ontaard. Hoe gouer sy ’n Uber ontbied en by die huis kom, hoe beter vir haar eie sielerus. As haar dekselse motor nie opgepak het nie, kon sy nou op eie stoom by die huis gekom het.

Jacqueline sien ’n bushalte oorkant die straat en besluit om vandaar die oproep te gaan maak. Sy begin stap maar dan vang die flitsende diamant van haar verloofring haar oog. Sy staar vir etlike sekondes daarna voor sy dit van haar vinger aftrek en in haar baadjiesak druk. Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie, sou Katryn se kommentaar gewees het. Voel sy hartseer? Nee. Dis iets wat sy lankal moes gedoen het en . . .

Die volgende oomblik swik haar voet onder haar en Jacqueline moet keer om nie gesig eerste op die teerpad te beland nie. Haar hande skuur rou teen die teer toe sy hard op haar knieë te lande kom. Motorbande skree etlike sentimeters van haar tot stilstand.

’n Deur gaan oop en klap weer toe. Voetstappe kom haastig nader, maar sy weier om op te kyk. Sy wil nie sien wie en wat haar byna die ewigheid ingestuur het nie. Brandpyne skiet deur haar hande en knieë. Sy knyp haar oë toe. Nou staan sy laataand handeviervoet in die middel van die straat ook!