Skip to main content

Uittreksel | Wanneer skaduwees kantel

Deel Een
Bella Vertroueling

1

Bella vleg stadig deur Theuns en Lenore se huweliksgaste op die buitestoep van Bateleur Lodge, verby die dansbaan waar elegante Laevelders ritmies dans. Haar seegroen rok se swaairomp klok sag na onder en krul om haar enkels. Sy sien Jakes is nog veilig in Tarien se ma, Rika, se arms.

Sy kan steeds nie die wonderwerk glo dat Johnny uit sy rolstoel kon opstaan en haar vroeër vandag vir ’n paar danspassies kon neem nie. Hy het eers veel later sy nuwe staalkruk uitgehaal en tot rus gekom.

Johnny en sy mediese span het lank daaraan gewerk dat hy vandag sal kan opstaan en beweeg, het hy ná die dans vertel. Hy wou die eerste bewegings uit sy stoel juis as ’n verrassing vir haar en as ’n getuienis vir almal hou.

Die stoele vir die bevestigingseremonie staan steeds op die kortgesnyde grasperk uitgepak al is die elegante en eenvoudige formaliteite lankal verby. Dominee Karlien Botha het haar soos altyd goed van haar taak gekwyt. Sy het ook die vlegsel wat sy normaalweg oor haar skouer dra, verruil vir ’n netjiese stapelbolla op haar kop. Sy glimlag vir Bella en wuif. Dominee Karlien het hulle baie met Tjaart se begrafnis gehelp en só deel van die groter Bateleur Lodge-gesin geword.

Almal peusel nog aan die smaaklike koue geregte, uitgepak onder die hoë bome op lang, roosversierde tafels met flikkerende kerse in lanterns. Rose wat Lenore se ma, Anne, nog destyds geplant het. Lenore se dekorkleure vir die troue was seegroen gemeng met pastelkleure, juis om die veelkleurige en roomwit rose te komplimenteer.

Mens mag mos op jou troue sentimenteel wees al is jy normaalweg kaalvoet tussen die renosters. Sy weet ook Lenore dra ouma Ellen se vertroetelde kantsakdoekie, wat nog na verslaande 4711-parfuum ruik, in ’n geheime sakkie in haar rok. Tarien se ma het dit vir die geleentheid vir Lenore geleen.

Van hulle drie het Lenore haar ouma Ellen die maklikste vir haar aandadigheid aan die tragiese skietvoorval in die verlede vergewe. Lenore het hulle dikwels juis aan dominee Karlien se woorde herinner: “Een of ander tyd moet ons mekaar vryspreek.”

Sy is seker dominee Karlien sal vandag met van die roomwit rose wat haar gunsteling is huis toe gaan. Bella kry dikwels op haar versoek ’n bos daarvan vir die kerk se kapel ook, soos met Tjaart se troosdiens.

Theuns het op ’n dagtroue in die oorvloedige somertuin aangedring, met ’n dans daarna. ’n Vorige vrolike aandgeleentheid het renosterstropers die gaping gegee om op Bateleur toe te slaan. Noudat sy daaraan dink, Theuns en Johnny was seker kop in een mus wat Johnny se skielike danspassies betref.

Vanaand is dit weer renostermaan. Die volmaantyd wanneer natuurlewemisdadigers goed in die veld kan sien en toeslaan. ’n Aanval word dikwels op so ’n aand verwag, en daar word dus ekstra sorg met veiligheid geneem. Sy weet die feit dat Lenore en Theuns hulle trou aan mekaar voor God in die buitelug en natuur kon belowe, kleur vir Lenore haar troudag in en maak dit ’n sprokiestroue.

Dis juis Lenore wat daarop aangedring het om oupa Tjaart se eertydse, buitehuwelikse liefling Esperanza – ma van die swartkop Gabriella wat haar nou volg – wel na hul troue te nooi as ’n gebaar van versoening. Karlien se woorde het ’n diep indruk op haar gemaak. Sy was seker Esperanza, ’n etiketbewuste dame, sou nie die uitnodiging aanvaar nie. Theuns het teësinnig ingestem.

Van sy kant was daar, behalwe sy vriende, net twee lang verlore niggies aan sy pa se kant van die Onderberg, Stefanie en Emsie. Theuns se pa het sy suikerplaas, Dwaalboom, in die groot droogte verloor. Die twee niggies boer nog in die Onderberg op die plaas Tweede Geluk.

Vir dié twee is dit net verkleinwoordjies voor en agter. Met die gelukwensing was hulle skreeusnaaks: “So bly jy is nou in die familie, Lenore’tjie. So bly. Kindertjies by die dosyne, nè?” het Stefanie tot haar suster se verontwaardiging kwytgeraak.

Emsie het haar met die elmboog ’n stamp in haar sy gegee.

“Verskoon tog, Lenore’tjie, asseblief. So gebore en so gelaat staan,” het sy gefluister en Stefanie weggelei.

Theuns se ma het hom in Brittanje grootgemaak totdat hy by die Britse weermag aangesluit het. Sy het tydens sy dienstyd in Afghanistan gesterf.

Bella stap voor met die elegante Gabriella da Silva ’n tree of wat agter haar. Sy het in Esperanza se plek opgedaag, ’n genooide maar onbevestigde gas. Toe Bella deur die veiligheidsman na die hek toe ontbied is omdat die nuwe aankomeling nie op die gastelys was nie, kon sy Gabriella tog nie wegwys nie.

Dié het haar hand met die goed versorgde, pêrelkleurige naels na Bella uitgesteek en met ’n ompad verduidelik sy is oupa Tjaart en Esperanza se liefdeskind. “Ek neem aan jy is my Van der Walt-halfbroer se dogter, Bella?”

Liefdeskind?! Niemand op Bateleur het ooit ’n woord hiervan gesê nie.

Die swartkop het verduidelik sy is inderdaad Tjaart se drie seuns se halfsuster en dus die drie niggies se tante. Sy het verder verduidelik haar ma, Esperanza, is ongesteld. Sy was ook vol verskonings en jammer oor die doeanehekke by die Lebombogrens so besig was.

Bella was skoon oorbluf. Sy het self ’n lang pad gestap om haar met die verlede te versoen. En nou vandag, die wonder werk met Johnny se bene! Dominee Karlien het haar dit op die hart gedruk: “Niks is te groot vir God om te vergewe nie. Put krag daaruit.”

Bella het Gabriella se versoek om deel van die verrigtinge te wees as ’n toets gesien om haar geestelike groei te meet. Sy wou die toets slaag. Met elke tree het sy egter ’n ongemaklike gevoel oor hoe die ander twee niggies hierdie bekentenis gaan ervaar.

Tjaart se liefdeskind! Kan dit waar wees?

Sy dwing haarself om na dominee Karlien te kyk en hul gesprekke oor selfvergifnis voor die gees te probeer roep. Voor hierdie oomblik het sy gevoel sy kan soms met ’n nagmaalshart vol vergifnis lewe.

Met sulke gesprekke wou die predikant simbolies die verlede se skuldgevoelens ter ruste lê. Hulle drie niggies het vir jare swaar aan blaam gedra. ’n Swaard van spyt en verwyt hang al so lank oor hul koppe. Hulle is vir haar broer, Jaco, se dood verkwalik.

Haar oog val op haar kleuter wat op haar wederhelf, Johnny, se skoot sit. Jaco – of Jakes, soos haar man hom noem – se blonde hare krul sweterig teen sy rooi wange. Lyk of hy sy Britse grootouma se rose-en-room-gelaat gaan hê. Sy hou maar altyd ’n hoed byderhand om laag oor sy gesiggie te trek. Sy wipneus is reeds met sproete besaai. Niks op hierdie aarde mag hom ooit seermaak nie.

Haar niggies beskou van ver af hul aantog van waar hulle op die lodge se stoep ’n blaaskans neem.

Theuns dans met Tarien se ma, Rika. Sy kop is glad geskeer, soos hy dit verkies, met sy spierwit hemp se moue reeds opgerol. Die oorlogletsel op sy arm wys wit af teen sy bruingebrande vel. Dit lyk soos ’n stuk doringdraad wat van die hand tot by sy elmboog loop. Sy sensitiewe seeblou oë is nie vandag agter sy gebruiklike loodsstyl sonbril weggesteek nie. Hy lyk ietwat ongemaklik in sy snyersbroek wat styf om sy gespierde bene vou. Altyd so netjies op homself. Sy kon sien sy drag, veel formeler as gewoonlik, het Lenore geamuseer maar bekoor terwyl sy na die kansel onder die bome aangestap het.

Eenkant drink Theuns se gewese oorlogsmakker en strooijonker, die aantreklike Daniel Earpe-Jones, bier saam met sy oudsoldatemakkers. Earpe-Jones was die perfekte heer tydens die seremonie. Toegegee, met sy gryswordende stoppelbaard en lui glimlag is hy nogals sag op die oog.

Die span oudsoldate werk op kontrak vir ’n veiligheidsmaatskappy en doen teenstropingswerk. Craig Walker, Bateleur se hoofveldwagter, het ook nou by hul geselskap aangesluit. In hul wit hemde en pakke is die bonkige span renosterridders ’n toonbeeld van manlikheid en kameraderie.

Toe Theuns die goue band versigtig langs die ring met die enkele diamant aan Leonore se vinger skuif, kon almal aan haar stralende gesigsuitdrukking sien iets in haar gemoed verander.

Lenore het ’n kantelpunt bereik.

Die Laeveldlug is steeds lig ingekleur deur die geur van oopgekelkte blomme.

“Die geur van liefde,” het Rika dit genoem toe die geharde oudsoldaat se gelaat by aanskoue van sy bruid versag.

“Veldprinses, jy is beeldskoon,” het hy tydens sy bruidegomstoespraak in Engels aan sy bruid gesê, tot groot vermaak van sy vriende en strooijonker, Daniel Earpe-Jones. En toe aan sy hempsboordjie getrek en sy das losgeknoop.

Sy ontblote, bruingebrande gesig en nek het ook verklaar hoekom haar niggie so gelukkig gelyk het. Hy was nog altyd met sy kaal kop op ’n eiesoortige maar intense manier aantreklik. Niemand het iets so digterlik soos “veldprinses” van die Britse weermag se voormalige sluipskutter verwag nie.

Hy is immers die tipiese stil en sterk tipe. Sy onthou Lenore het vertel hoe hy elke keer haar voete onder haar uitslaan wanneer hy so stip oor ’n kampvuur na haar staar sonder om ’n woord te uiter. Sy sê altyd oor Theuns: “Hy maak iets in my wakker wat ek nie verstaan nie.” So ’n een-keer-in-’n-leeftyd-liefde verskuif grense in mense.

Sy laat altyd haar gedagtes loop wanneer sy iets wil ontken. Tans vlug sy in haar gedagtes van die feit dat haar oupa se liefdeskind agter haar aanstap en sy haar nou kalm en volkome in beheer aan haar niggies moet voorstel. Sy het nie ’n vae benul hoe nie.

Lenore en Tarien staan beleefd op toe Bella hulle bereik waar hulle eenkant op die stoep asemskep. Sy stel Gabriella op Engels voor, want die vrou verstaan nie Afrikaans nie. “Dis my niggies, Tarien van der Walt en die bruid, Lenore Adriaanse.” Sy draai om na die beeldskone vrou in die sjiek ligpienk tweestukpakkie. “Esperanza da Silva se dogter, Gabriella. Haar ma is ongesteld en het haar gevra om die geleentheid by te woon.”

Lenore verstil en raak ’n oomblik aan haar hooftooisel om die rose in posisie te druk. Sy neem hoflik Gabriella se uitgestrekte hand en kyk vraend na Bella.

Die donkerkop skud ook die oorbeleefde Tarien se hand.

“Bly te kenne,” stamel Tarien ietwat oorstelp.

“Ek is so spyt ek het die huweliksbevestiging misgeloop. Ek is regtig jammer dat ek laat is. Die grenspos was besig. Ek wou so graag ons geskenk persoonlik by julle besorg.”

Theuns en Tarien se ma het klaar gedans. Hy neem haar na Johnny en Jakes toe en kyk van daar af na die niggies toe. Sy vriende roep hom, maar hy wuif net vir hulle en kom sluit eerder hier by hulle aan.

“Goeiemiddag, Gabriella. Dis ’n verrassing. Welkom by ons,” sê hy maar druk sy hande afsydig in sy sakke.

Bella tree agteruit op haar goue spykerhakkies en wankel effens voordat sy haar ewewig herwin. “Ken julle mekaar?” vra sy oorbodig.

Theuns kyk stip maar agterdogtig na Gabriella asof hy wil peil hoekom sy, uit die bloute op hul huweliksdag op Bateleur, soos ’n figuur uit ’n misvlaag verskyn het. “Ons het mekaar af en toe skrams raakgeloop wanneer ek Tjaart in Maputo by haar ma se villa gaan aflaai het.” Hy klink ontwykend. “Sy was meesal in Portugal. Is dit nog so?”

Gabriella probeer hom blykbaar met haar nougetrekte oë meet. “Ja, ek het daar grootgeword. Lank daar gebly, maar nou is ek al ’n ruk terug. Ek neem my ma se sakeryk oor,” glimlag sy verduidelikend na Bella se kant toe. “Jy verstaan seker?”

Asof ek omgee. En nee, ek verstaan beslis nie.

Sy wonder hoekom voel sy so op die verdediging uit oor die vreemdeling se bywoning van die troue. Hoekom het Theuns of Tjaart nooit iets oor haar gesê nie? Indien Lenore ook iets oor hierdie vrou uit Maputo by Theuns gehoor het, sou sy haar en Tarien tog daarvan gesê het.

Weet Theuns ook dat Tjaart haar pa is, en as hy weet, hoekom het hy hulle nie gesê nie?

Sy weet haar gevoelens kan toegeskryf word aan haar natuurlike agterdog jeens vreemdelinge. Sy voel dikwels haar jare agter die leuenverklikker se kontroles het ’n naamlose sintuig in haar ontwikkel. Soms registreer hierdie sintuig, soos nou, soos ’n padteken: Go ahead with caution.

Haar blik glip na waar Johnny met Jakes op die grasperk speletjies maak. Hy is vir eers uit die rolstoel en het sy hand op sy staalkruk. Sy kan skaars glo hy stap, alhoewel sukkelend, agter Jakes aan.

Hoe gaan ek U ooit bedank, Here? wil sy net oor en oor vra. Jakes se blonde hare krul veel minder as toe hy ses maande oud was.

Vul sy hartjie, Heer, bid sy in haar hart. Laat hy altyd ’n tuiste by U vind.

Sy waai selfbewus vir Johnny toe hy opkyk van waar hy stadig agter Jakes aanstap. Tree vir tree, het hy ná hul danspassies vertel, het hy geleer om weer te stap tussen twee handrelings.

Die normaalweg bruuske en kortaf speurder van vroeër het in ’n liefdevolle en prettige pa verander. Hy het egter nie sy kettingrokery gelos nie, maar rook nie naby Jakes nie. Dan kou hy biltong wanneer hy wil rook.

Hy het nie veel tyd vir haar ge-Jaco’tjie nie. Sy gee nou maar in daaroor. Sy wou hulde bring aan haar broer deur hul seun na hom te vernoem. Miskien is die verbuiging daarvan na Jakes beter, minder van ’n direkte herinnering aan haar broer.

Sy fokus weer op die goed versorgde vrou met die swaar ingetekende wenkbroue en glanslipstiffie. Haar voorkop lyk nes Tjaart s’n. Sy platinumgrys hare het ook so vanaf sy slape en voorkop agtertoe gegolf. Haar afleiding laat haar aardig voel; sy kan nie hierdie ongemaklike gevoel oor Gabriella verduidelik nie. Hoe moet sy dié onrus aan haar niggies oordra? Dis asof die vrou reeds ’n strak stilte tussen haar en ander veroorsaak het. En haar niggies weet nog nie eers van Gabriella se afkoms nie!

Bella kyk met opgetrekte wenkbroue na Theuns en beduie met haar oë na die gedekte tafels.

Hy knik ongemerk. “Kom, Gabriella, ons gaan sit die geskenk neer en kry vir jou iets te drinke.”

Hul nuwe gas glimlag aangeplak sjarmant. “So beleefd soos altyd. Jul oupa se skaduwee al die jare. Hy het altyd so hoflik teenoor my ma opgetree.”

Bella kyk hom stil agterna en vee oor die gladde satyn van haar romp voordat sy haar niggies se vraende blikke ontmoet. Sy beduie hulle moet binnetoe stap. Self het sy nou beslis ietsie te drinke nodig en die lodge se lugverkoelde ruimte onderdak.

Voordat hulle die voordeur bereik, staan Gabriella weer langs hulle. Sy het haar teruggehaas en tik ’n steeds verbaasde Lenore dié keer liggies op die arm, haar vingers net so oordadig bering soos haar ma s’n op Tjaart se troosdiens was.

“Oor die geskenk . . . My ma het daarop aangedring. Sy het gesê sy weet Tjaart sou so iets vir julle wou gee. Hy was so lief vir dié produkte.” Sy weifel ’n oomblik voor sy terugstap na waar Theuns op haar wag. “Dis hoog tyd dat ons mekaar beter leer ken. Dit gaan nie goed met my ma nie. Sy sal seker eersdaags oorstap. Ek kry dan die stuk grond wat Tjaart vir haar gegee het.”

Bella staan versteen. Waarvan praat die vrou?

“Die Smutsblok, dink ek is die naam? Ek dink dis langs Bateleur. So langs die grens. Ons gaan nog eendag bure wees.” Haar nasale Portugese aksent slaan swaar deur. Sy stap glimlaggend weg, maar draai om om ’n grynslag in hul rigting te flits.

Bella tas agtertoe na ’n stoel asof dit ’n besonder warm dag is en sy flou wil word. Sy neem plaas eerder as om binnetoe te gaan. Haar hartklop is onreëlmatig.

Sy sien Lenore is net so verbysterd. Haar niggie kry bykans nie gepraat nie en toe vloei die woorde skielik soos ’n spruit na ’n stroomversnelling. “Oor my dooie liggaam is ek en daai vrou bure! Wie is sy om sommer net op te daag op my mooiste dag en als te kom wil bederf.”

Bella voel dadelik skuldig dat sy Gabriella by die troue toegelaat het. “Sy het so aangedring om in te kom. Ek was so verstom. . .”

Lenore hou haar hand op. “Dis nie jou skuld nie. Net nog ’n raaisel van Tjaart – die Smutsblok nogal.”

Tarien lyk onthuts. “Tjaart het nooit daarvan gepraat nie? Hy was so erg oor sy grond. Hy sou iets daaroor gesê het. En niemand anders het ooit daaroor gepraat nie. Beslis nie my ma-hulle nie, in elk geval.”

Bella merk op Theuns kyk bekommerd oor sy skouer asof hy die heftigheid in hul stemme hoor. Hy aanvaar die vrou uit Maputo se komplimente oor die blomme en dekor ongeduldig en met ’n opgetrekte wenkbrou. Mooipraatjies en sentiment is nie sy forte nie.

Hy kyk besorg na sy bruid in die gemakstoel op die stoep. Lenore het haar hooftooisel van vars rose afgehaal en eenkant op die tafel neergeplaas. Sy is gewoond om haar hare in ’n poniestert te dra. Haar lang, soepel bene wys toe sy haar romp optel en oor haar knieë skuif. Vir ’n rabbedoe gewoond aan kakiekniebroeke is ’n satynrok met kant ’n uitdaging.

Bella skop haar goue hoëhakskoene uit. Sy is nie meer gewoond om soos in haar professionele dae sulke hakke te dra nie, maar sy wou darem haar kort figuur vandag rek om by die skraal en lang Tarien te kan pas as strooimeisie. Kop agteroor maak sy haar oë toe. “Dis nie die enigste bom nie. Hierdie vrou is Tjaart en Esperanza se kind. Tjaart is haar pa. Sy is ons pa’s se halfsuster. Sy het my dit als by die deur meegedeel. Sommerso.”

Dis Tarien se beurt om in ’n stoel neer te val, haar kop tussen haar hande. Vir ’n oomblik is haar krullebol al wat te sien is. “Daai vrou uit Maputo is Tjaart se kind? My pa se halfsuster? Hoe oud dink julle is sy?”

Bella skud haar kop. “Ek sal werklik nie weet nie. Seker nie veel ouer of jonger as wat ons pa’s nou sou gewees het nie. In haar laat vyftigs? Vroeë sestigs? Sy is goed versorg. Sy kan dalk selfs ouer wees.”

Tarien sug verslae. “Net toe ek dink mens kan hom veel vergewe. En nou dít!”

Lenore kyk rond of sy Theuns gewaar. Sy is steeds sprakeloos, wat verstaanbaar is.

Die feit dat hy Gabriella herken en so ooglopend kalm ontvang het, wys hy weet hiervan. Hy het Lenore duidelik nooit gesê nie! Nie eens toe hy die drie niggies na Esperanza se villa in Maputo aangery en weer op Bateleur terugbesorg het nie. Hulle drie het voor die troue saam ’n beleefdheidsbesoek aan haar gebring om die raaisel rondom die skiettragedie op te los. Theuns het jare lank tydens sy pos as Tjaart se sekuriteitshoof hul oupa na Maputo en Inhambane vir besoeke aan haar aangery.

Tydens hulle besoek aan die stad het Esperanza huilend haar en Tjaart se jare lange buitehuwelikse verhouding bevestig. Van ’n kind was daar geensins tydens daardie gesprek sprake nie. Indien Theuns van Gabriella geweet het, sou hy ook nie die vertrouensverhouding tussen hom en Tjaart verbreek het nie. Tjaart was die een wat hom as ’n gebroke mens ná sy diens aan die Britse weermag as sluipskutter in Afghanistan weer op sy voete help kom het. Hy was blindelings lojaal teenoor Tjaart nadat dié hom die geleentheid gegee het om op Bateleur van sy posttraumatiese stres en oorlogsmoegheid te kom genees. Dis nou maar eenmaal Theuns. Onlosmaaklik verbind aan iemand wat hom gehelp het toe hy ontheem en emosioneel vermink was.

Watter ander geheime van Tjaart ken hy? Wat steek hy nog weg? Hy moes Lenore hiervan vertel het, voel Bella. Sy moes ten minste van hierdie belangrike waarheid in haar oupa se lewe geweet het voordat sy sulke groot besluite geneem het soos om haar op Bateleur te vestig en die renosterweeshuis op die been te bring. Daar is tog geen omdraaikans as jy sulke verantwoordelikhede op jou geneem het nie.

Bella vermoed sy weet wat in Lenore se gemoed aangaan, maar sy gaan haar nie daaroor uitvra nie. Die ontnugtering is op sigself groot genoeg.

Miskien was Johnny reg toe hy sinies gesê het Theuns trou omdat hy ’n ma vir sy aangenome seun soek. Maar nou ja, Johnny het nie gedink hyself is die troutipe nie. Hier is hulle drietjies nou ’n hegte gesin en boonop geseën met die wonderwerk van Johnny wat weer loop.

Barry is Theuns se kind uit ’n vorige verhouding in Johannesburg. Hy het hom in die verhouding uitgeleef tydens sy militêre vakansies in Suid-Afrika. Mettertyd sou dit blyk die seuntjie se ma het Theuns oor sy vaderskap gebluf en wou net onderhoudsgeld uit hom kry. Barry se biologiese pa was ook ’n huursoldaat wat in die oorlog in Iran gesterf het.

Hiermee het Tjaart ook vir Theuns gehelp toe hy werkloos na die Laeveld teruggekeer het. Daar was gereelde inskrywings in die boeke vir geld vir die vrou wat Tjaart “die meisie in Johannesburg” genoem het.
Miskien het Tjaart wel vir Theuns as ’n seun gesien. Ben Adriaanse, Theuns se pa, was immers voor sy dood vriende met Tjaart. Hulle het gedeelde boerderybelangstellings gehad.

Toe dié meisie in Johannesburg nie meer kans gesien het om Barry te versorg nie, het Theuns hom as sy eie aangeneem en met Lenore se instemming van Johannesburg na Bateleur gebring. Die geesdriftige tienjarige Barry is lank reeds deel van Bateleur. Was vandag sy pa en Lenore se hofknaap. Glad ook nie meer ’n stadsjapie nie, maar ’n bruingebrande kaalvoet kind.

Snorkie was Tjaart se skaduwee. Waar sy oubaas gegaan het, of dit nou na die renosters of na die skure was, Snorkie het stert in die lug agter hom aangetrippel. Hy het glad sy eie bottel vir melk by die renostertjies se skuiling.

Maar hy is eintlik ’n werfvlakvark. Nie te lief vir die bakkie nie. In die week, wanneer Barry in die koshuis is, neem Snorkie weer vir Jakes aan. Dit kan wel te make hê met die feit dat waar Jakes is, daar gewoonlik snoepgoed is. Die varkie is ietwat van ’n lekkerbek en eet maar langtand aan die boomwortels wat hy uitgrou.

Fokus, Bella, fokus, maan sy haarself. Om in jou gedagtes te vlug gaan jou nêrens bring nie. Dit is asof sy rond en bont dink omdat sy nie feite in die oë wil staar nie. Sy kyk deernisvol na Lenore. “Weet jy iets daarvan? Die Smutsblok waarvan die vrou praat?”

Lenore haal diep asem en vryf verwese oor haar voorkop. Al hierdie drama op die mooiste dag van haar lewe . . .

Bella volg haar blik. Sy kyk na waar Gabriella, hulle sogenaamde halftante, saam met Theuns stap. Of is sy dalk hulle stieftante? Wat noem mens die verwantskap? Hoeveel wraak moet sy nie in haar omdra nie! Om in Portugal groot te moes word terwyl haar pa net oorkant die Mosambiekgrens ’n luukse lewe saam met ’n uitgebreide gesin lei. Sou sy kontak met Tjaart gehad het? Het hy haar as sy kind erken?

“Tjaart en Gabriella se ma het nie bloot ’n korttermynaffair of ’n fling gehad nie,” sê Lenore skor, “veral nie as hy ’n stuk grond aan Esperanza nagelaat het nie. Hoekom sou hy dit gedoen het?” Haar bruidskrans bewe in haar hande, en sy vee oor die sagte broosheid van die roosblare.

Lenore se ma, Anne, het die roosbome nog op Bateleur geplant voor die skiettragedie. Bella kan haar indink hoe graag Lenore haar vandag hier sou wou gehad het. Anne het alleen in ’n ouetehuis gesterf nadat sy Lenore en Karel in die Krugerwildtuin agtergelaat het om in die stad te gaan woon. Sy was nooit waarlik ’n veldwagter se vrou nie. Netsowel, want uiteindelik is Karel noodlottig gewond toe ’n verwoede buffel na hom gegaffel het. Die fynbesnaarde Anne sou so ’n voorval nie kon verwerk nie.

Bella kyk op na Tarien toe sy opstaan om die krans weer op Lenore se kop vas te maak. Tarien se vingers is lomp en bewerig. Sy was bykans nie ’n oomblik van die dansvloer af nie. Daniel Earpe-Jones het haar nie toegelaat om vir een dans uit te sit nie.

“Tjaart het laat in sy lewe probeer boete doen, dearest,” sê Tarien vir Lenore. “Oor Ouma. Oor Jaco. Oor hierdie vrou se ma. Die erfgrond is seker deel van sy boetedoening teenoor Esperanza.”

“Waar is die grond, Lenore?” vra Bella.

“Hy het eenkeer daaroor gepraat. Iets gesê van ’n trust. Ek het gedink hy verwys na ’n trust van die Hansens van Thulamela Lodge. Die grond is langs Bateleur aan die grens se kant. Net die een hoek raak skrams aan Bateleur. Al wat ons deel, is so paar meter grensdraad naby Mambahoek.”

Lenore kyk op na waar die fotograaf naderstaan.

“Tjaart het nooit daarvan gepraat nie, en dit was nog nooit ’n veiligheidsrisiko nie.”

Tarien druk haar hooftooisel met knippies vas. Sy het seker ook die fotograaf opgemerk. En Daniel wat in die deur vir haar staan en wag, sy lang en soepel lyf teen die kosyn aangevly. “Kan Gabriella ’n huis daar bou?” vra Bella. “Sy kan darem seker eers erf wanneer haar ma sterf?” Sy help Tarien om haar bos blonde krulle agtertoe te stoot en trek haar eie haarband stywer om haar kop.

Tarien tree terug, haar oog nog op Daniel wat sy glas lig en haar met sy blik dansvloer toe nooi. “Ek verstaan niks hiervan nie, dearest. Hierdie vrou is hier met kwade bedoelings. Al hierdie storietjies oor die verlede . . . Dit is met voorbedagte rade gedoen.”

Bella se oë glip ook na Daniel, en sy neem Lenore se hand.

“Tarien is reg. Sy het g’n goeie bedoelings nie. Maar ons kan nie toelaat dat sy in haar doel slaag nie.”

Sy haak by Lenore in en wys Tarien moet aan die bruid se ander kant inhaak. Die fotograaf begin kliek vir ’n spontane foto van die drie blonde niggies teen die agtergrond van Bateleur se koloniale stoep. ’n Perfekte prentjie van ’n stylvolle bruid en haar beeldskone gevolg.

Die geborduurde, nousluitende satynrokke val in sagte dansplooie ondertoe. Tarien dra haar goue satynskoene losweg in haar hand. Sy het vir hulle gesê Daniel het nogal van haar kaalvoetdanse met haar vrolik geverfde toonnaels en toonringe gehou.

Die groep se gesigte is wel ver te ernstig, en die fotograaf is genoop om aanmoedigend te skree: “Glimlag! Julle lyk soos modelle!”

“Hoe het ons in hierdie gemors beland?” vra Tarien.

Bella glimlag op die fotograaf se instruksie al voel sy hoe vals. Lenore verdien nie nog slegte foto’s ook nadat haar dag reeds so bederf is nie.

“Hoe gaan ons hier uitkom?” vra sy en staan nog nader aan Lenore.

Hulle sal nou meer as tevore as ’n eenheid moet saamwerk. So ’n versoening tussen die niggies was mos eintlik Tjaart se idee. Dis hoekom hy hulle al drie na Komatipoort en Bateleur wou bring. Om weer ’n hegte familie op sy geboorteplaas te vestig.

Net jammer hy het in die verlede geheime spore getrap. In die hede gaan die stukkende verlede nou almal se lief en leed beïnvloed. Bella se voorgevoel is dat die vrou uit Maputo se mededelings vol gelade woorde was. Hulle kan nie eens begin om die omvang daarvan te verstaan nie. Die dramatiese toon daarvan skep op sigself onrus en onbehae in haar.

Sy het Tjaart soveel vergewe. Selfs in berusting en aanvaarding begin lééf. Voor die huwelikseremonie het sy saam met Johnny simbolies ’n ruiker veldblomme op Jaco se graffie gaan neerlê, naby aan die huis in die dodeakker waar Tjaart en ouma Ellen ook ter ruste gelê is.

Miskien is daar ’n brokkie waarheid versteek in die grafskrif wat Tjaart gekies het. Sy prokureur, Ignatius Moolman, het dit op die grafsteen laat aanbring: Waar gij nou ben, waar ik voordes / Waar ik nou ben, zult gij haas weesen / Door Gods krag en Gods mag / Wort alles weer tot stof gebrag.

Ná sy begrafnis het geen statige stoet met die hoofligte aangeskakel onder die klipboogingang met die woord Bateleur daarop deurgery na die familiebegraafplaas onder die pienk kapokbome nie. Net ’n paar van hulle het met die grondpad na die Bateleurdodeakker aangekruie waar hy langs ouma Ellen begrawe is.

Stof tot stof.

Selfs Tjaart Petrus van der Walt kon nie hierdie kringloop ontsnap nie. Hy het wel seker gemaak sy invloed op hul lewens is onvergeetlik. Hierin het hy nou sy langverlore buite-egtelike dogter as vennoot.