Skip to main content

Uittreksel | Waar die wolwe huil

Een

Die naghemel strek soos ’n swart kleed van hori­son na horison. Enkele yl vlieswolke dryf onder die sterre. Van waar baron Lewis Bloodsworth in die kil aandlug op die dak van Carlisle se katedraal sit, kan hy reeds die vae begin van ’n goue skynsel agter die Scafell se bergpieke sien. Dis nie meer lank nie, dan gaan die maan opkom.

As hy vannag die strate wil aandurf, sal hy dit nou moet doen, want selfs in die verligte tye van 1814 sal niemand wat ’n weerwolf op straat teenkom, dit vir homself hou nie. Dit sal ’n vuur ontke­ten wat net geblus sal word as ’n skuldige aangewys kan word; indien nie hy nie, dan wel iemand anders wat in sy plek sal moet teregstaan.

Dae lank al voel hy die bekende onrustigheid en ongedurigheid, die prikkelbaarheid van sy sintuie, die hunkering na vryheid en mag. Vandag was ’n worsteling. Wanneer hy in hierdie toestand verkeer, is die mensdom vir hom ’n oop boek om te lees. Nie dat hy enige belang het by die inwoners van Carlisle se onderlinge getwis, hul gebrande aandetes en hul kinders se gehuil nie. Klanke en geure dring hul eg­ter aan hom op en herinner hom elke oomblik met pynlike volharding aan sy andersheid. En sy alleen­heid.

Hy voel spyt dat volmaan gebeur op die nag wat hy in die dorp moet oorslaap. Dis baie riskant en uiters frustrerend, maar hierdie keer kon hy dit ongelukkig nie voorkom nie. Hy het ’n aflewering gehad wat betyds op die wa na Keswick moes kom.

Hy sug berustend. Hoe lank nog voor hy wolf is? ’n Uur? ’n Bietjie langer, dalk. Genoeg tyd om ’n draai te stap en vir hom iets te drinke by The Bucket te gaan kry.

Voor hy sy lyf oor die rand van die dak laat af­sak, luister hy eers aandagtig. Niks. Niemand in die straat anderkant die katedraalmuur nie. ’n Paar oomblikke hang hy aan sy vingers voor hy laat los en op sy voete op die dak ver onder hom land. Van daar is dit ’n eenvoudige sprong van ongeveer vyftien voet grond toe.

Die gebruiklike vermenging van geur en stem wag hom in The Bucket in. Hy bly in die oop deur staan terwyl hy die plek deurkyk. Die gewone, sien hy. Mense uit die werkersklas wat geselskap soek, kos soek, iets te drinke soek.

Sy tweelingbroer Wesley kry die stuipe as hy sien Lewis besoek ’n derderangse drinkplek soos The Bucket. In Lewis se boekie is die plek ook derderangs, maar dit pas hom. Hy het geen behoefte aan ou bekendes en hul gegis agter sy rug nie. Die moontlikheid dat iemand van die ton, die rykes en die elite hierheen sal kom en hom dalk sal herken as baron Lewis Bloodsworth van Mounthampstead Place, is skraal.

’n Paar gesigte draai na hom en terwyl hy net binne die deuropening staan, word dit stiller in die vertrek. Meer mense kyk om en vergeet waaroor hul besig was om te praat. Hy voel hul oë oor hom speel en moet hom inhou om nie aan sy gesig te vat nie, net om seker te maak hy is nog mens en nie reeds wolf nie. Eindelik taan die belangstelling en hervat die gesprekke.

“Daar is vir u ’n oop tafel, Meneer.”

Hy draai sy kop na waar die jong vrouestem vandaan kom en kry ’n glimlag wat hom laat ver­stil. Vars. Jonk. Haar oë is ’n vreemde mengsel van groen en blou agter digte donker wimpers. Haar hare hang in ’n dik koperbruin vlegsel oor haar een skouer. Slanke nek, fyn hande wat die skink­bord vashou, oorgroot voorskoot om ’n dun middel geknoop. Sagte, vol, sensuele mond. Ongekunsteld mooi.

“Kyk,” beduie sy. “Daar agter die pilaar.”

Hy skeur sy blik van haar gesig af en stap na die oop tafel sonder om ’n woord te sê. Sy stem is waar­skynlik reeds besig om growwer te word. Wanneer hy volledig wolf is, is praat buite die kwessie.

Dieselfde kelnerin vind haar pad tussen die vol­gepakte tafels deur tot by hom. “Wat kan ek vir u bring?”

Hierdie vrou is nie oorspronklik van die werkersklas nie. Sy praat sonder die aansitterigheid van die ton, maar tog soos iemand met stand. Of so nie ’n vrou met ’n fyn opvoeding. Die dogter van iemand uit die welvarende middelklas wat in finansiële moeilikheid beland het, dalk?

“Wat is jou naam, Juffrou?”

Waaksaamheid flikker in haar oë. Sy laat sak haar blik en begin om die tafelblad voor hom met ’n klam vadoek af te vee. “Edith,” sê sy onwillig. “Kan ek u bestelling neem?”

Edith. Hy ken niemand anders met die naam Edith nie. Wat ’n ongelooflike mooi naam. Haar reuk is om hom, in sy neus en sy denke. Sonder dat hy dit kan beheer, dwaal sy oë na haar hals, sak laer, maar haar klere bedek haar rondings heeltemal. Nogtans, lap kan nie als wegsteek nie, en sy kop voltooi on­willekeurig die prentjie van haar vroulikheid. Een ná die ander registreer hy haar geure. Onmiskenbaar vrou. Kamille. Laventelseep.

Haar gemoed is egter onrustig. Sy is gespanne. Hy lees haar onsekerheid, haar waaksaamheid. Sy is baie versigtig vir hom.

Wanneer laas was ’n vrou so na aan hom? Ná Madeleine was daar nog nooit weer ’n vrou in sy lewe nie. Hoeveel jaar is dit? Ses? Geen wonder dat hierdie Edith hom so fassineer nie. Hy lig sy blik en memoriseer haar gelaatstrekke, sien die senuagtige flikkering van haar wimpers toe sy na hom kyk en vinnig weer wegkyk.

Die wolf het reeds van haar kennis geneem. Begeerte roer in hom soos iets wat wakker word ná ’n lang winterslaap. Hy ignoreer dit, meteens erger­lik.

“’n Bier. Asseblief.” Ja, hy was reg. Sy stem is reeds growwer as normaalweg. En hy klink kortaf, amper ongeskik.

Sy knik en gee met verligting van hom af pad soos wat hy verwag het. Asof sy dankbaar is om te kan wegkom.

Hy laat dwaal sy oë oor die vertrek, sien niks ongewoons nie buiten die werkersklas wat ontspan ná nog ’n lang, harde dag. ’n Vrou wat al haar jare hier op aarde geleef het, sien hom en kom met wiegende heupe nader. “Hallo, handsome.”

Handsome, nogal. Sy baard is onversorg, sy hare is gewas sonder dat hy ’n kam naby gehad het. Hy het sy ou werksjas aan en sy stewels is vol modder. Sy hoop seker maar hy het geld.

Sy kom staan by hom en laat rus haar hand met familiariteit op sy skouer. Hy wurg aan haar reuk, ’n onaangename mengsel van sweet en drank en goedkoop lyfpoeier wat hom ’n hoofpyn wil gee. Gelukkig ontsenu sy gebrek aan belangstelling haar sodat sy haar attensies na die tafel langsaan neem.

Nog voor Edith van agter af kom en naderleun om sy bier voor hom neer te sit, word hy bewus van haar geur. Sy blik val op haar hand. Klein en vroulik, haar naels kort en skoon.

Toe sy die beker los, vang hy die skraal pols tus­sen sy vingers vas. Hy hoor haar geskokte hyg na asem, maar het moeite om die grom wat wil-wil boontoe stoot binne te hou. “Wie het dit gedoen?” Dit klink in elk geval meer na ’n grom as ’n vraag.

“Ek . . . los my!” Sy praat gedemp, maar hy hoor die angstigheid in haar stem en ruik die skrik wat in haar opstaan.

Hy vee met sy duim oor die blou kneusmerke om haar pols. As hy moet raai, sou hy sê dat iemand haar aan die arm beetgekry en sy heftig weerstand gebied het. “Wie het dit gedoen?”

Haar asemhaling versnel. Haar hartklop ook, soveel so dat hy dit kan hoor. “Een . . . van die klante. Gisteraand.”

“Is hy hier?”

Sy swyg en toe hy sy kop draai om na haar te kyk sien hy die bang in haar gesig. Sonder om te praat lig sy haar oë om na die oorkant van die vertrek te kyk. Hy volg haar blik en sien die man met die ge­borduurde onderbaadjie. Een van die elite. Dis ’n maer vent met ’n smal, snedige mond en gitswart hare en oë. Arrogante manier van sit wat hy het, een arm oor die stoelleuning gehaak, een been reguit voor hom uitgestrek sodat die kelnerinne daar­oor moet trap om verby te kom.

“Wat is sy naam?” grom hy.

“Humpfrey Wilson.”

Lewis ken sy tipe. Sy soort kom hierheen met twyfelagtige motiewe. Soos om iemand wat nie in ’n posisie is om kapsie te maak nie te kom uitbuit. Dat daardie pierewaaier sy attensies op Edith afgedwing het, verbaas Lewis nie. Edith is mooi. Na Lewis se mening is sy beeldskoon. Maar omdat sy arm is, word daar van haar verwag om aan enige eise toe te gee. Sou sy weier, word sy verniel.

Humpfrey sit hulle en dophou, en toe Lewis sy stoel agteruitstoot en opstaan, sien hy hoe die man se oë rek. Nog voor Lewis die tweede tree in sy rigting kan gee, het Humpfrey ook reeds uit sy stoel opgestaan. Lewis se oë volg die beweging van sy hand toe dit onder ’n baadjiepant verdwyn. Hy glimlag grimmig. Natuurlik. Humpfrey Wilson het rede om ’n wapen byderhand te hou. Want hy is ’n bangbroek.

Die geselskap het klaar agtergekom dat hier spanning in die lug is. Dit is nou stil in die ver­trek. Nuuskierige blikke spring tussen hom en die vrouevernieler. Lewis huiwer. Die wete dat dit die wolf is wat hom dryf om daardie namaaksel van ’n man se nek te gaan breek, dring tot hom deur. Dis asof hy sy broer se waarskuwings in sy kop kan hoor. “Bly met volmaan weg van mense af, Lewis! My magtig, man! Jy weet jy soek jou ondergang.”

Natuurlik is Wesley reg. Natuurlik sal hy homself ’n guns bewys as hy nou by die deur uitstap en sy voete nooit weer hier sit nie. Maar as hy nou terugtree, het daai vent hierdie onderonsie gewen. En dan gaan dit na alle waarskynlikheid bitter gevolge vir Edith inhou. ’n Man wat hardhandig met vroue werk, het ’n siek geneigdheid om wraak te neem wanneer een van sy slagoffers sy optrede openbaar maak. Daarom stap Lewis nou doelgerig vorentoe. Om hom staan mense uit hul stoele op, gee die klandisie van The Bucket alkante toe pad.

Dalk is dit sy lengte en breedte van skouer, dalk is dit sy geharde voorkoms in sy werkvoos jas, maar nog voor Lewis by hom kom, is die mes uitgepluk en staan Humpfrey daaragter en wegkruip. Lewis glimlag. Stommerik! Hy vat die mes met een hand af en slinger dit in ’n dakbalk dat net die hef daarvan uitsteek. En toe beduie hy met sy kop na die deur.

Terwyl die ryke druipstert padgee, weergalm die gelag en applous om Lewis se sensitiewe ore. Die elite word nie noodwendig met ope arms ver­welkom in plekke soos hierdie nie. In die oop deur draai die man egter terug. Hy beduie met ’n vinger na Lewis.

“Jy moenie dink jy gaan hiermee wegkom nie. Jy ken my nie. Jou dag sal kom. En jy!” Die lang vinger wys nou na Edith. “Vir jou wag ek ook. Klein klik­bek!”

Lewis gee een tree na sy kant toe en Humpfrey is uit by die deur. Die mense lag en spot, en en­keles kom klop Lewis teen die skouer. Hy glimlag vaag terug en gaan weer na sy tafel waar Edith nog steeds staan, haar oë groot in haar bleek gesig.

Hy haal sy beursie uit. “Dit is vir die bier.” Hy sit ’n geldstuk op die tafel neer. Hy beduie met sy oë na haar ander hand en toe sy dit onseker na hom uithou, vou hy haar vingers om ’n ander geldstuk. Haar hand is klein in syne en iets in sy bors krum­mel. “En hierdie een is vir jou. Jy moet versigtig wees vir daardie vent.”

Sy staar na hom met algehele verwondering in haar lieflike oë, kyk toe met ongeloof af na die pond in haar hand.

“Jy is ongelooflik mooi.” Hy skrik amper vir die woorde wat so uit sy hart oor sy lippe klim. Sy stem is skaars herkenbaar grof.

“Ekskuus?” vra sy.

Hy glimlag net vaag en sluk sy bier met ’n paar teue af voor hy uitstap. Hy besef hy waag te veel. Sy tyd is verstreke. Maar hy sal nie na veiligheid kan padgee nie. Hy sal in die omgewing moet bly en ’n oog oor Edith moet hou. Hy ken die arrogansie van die ton goed genoeg om te weet dat daardie man sy vernedering op ie­mand gaan uithaal. Waarskynlik op Edith.