Uittreksel | Waar die doring bome sing
Een
Lenore maak Ben-Karel stewig in sy babaharnas op haar rug vas terwyl sy by die afgebrande ruïne van Mambahoek se opstal uit haar bakkie klim.
“Kom, boeta,” sê sy vir Barry en neem sy hand.
Sy is hier om die forensiese ondersoeker van die versekeringsmaatskappy te ontmoet. Vandag het dié assessor gekom om haar te woord te staan oor van haar bevindinge.
Die bosbrandreuk stuif teen die dag op en vou ’n kombers oor die dag se broeiende hitte op die kantelende wind rondom Troonberg. ’n Tenger oggendson skyn ná die bui op die horisonbome.
Sy haal haar wapen uit die paneelkissie en plaas die rewolwer in die wapensak aan haar denimkortbroek se gordel. Ná Ben-Karel se geboorte het sy haar skraal lyf teruggekry. Met haar maand oue seun dikwels op haar rug moes sy uit die gewoonte kom om die koel geweerloop agterin haar broek te dra. Só het Theuns ook verkies om sy rewolwer te dra toe hy sekuriteitshoof van Bateleur was.
Sou die brand gebeur het as hy lewend was? wonder sy gereeld. Hoe ouer Ben-Karel word en op Theuns trek, hoe meer verlang sy na haar man. Hoe bitter was sy ná Theuns se dood! En oor hy haar nie van Tjaart se liefdeskind, Gabriella da Silva, vertel het nie. Hoe onbenullig lyk sy swye egter nou.
Al die miskiens en sê-nou-nets. Die gedagtes maal saans inhaar kop wanneer Ben-Karel neergelê is en sy alleen die muskietnet oor haar en Theuns se bed trek. “Wanneer die hart sy paaie gaan”, soos haar gunstelingliedjieskrywer sing.
Haar stryd met die Vader het pas weer begin. Oor die hoekoms en waaroms dat slegs kortstondige geluk hulle gegun is.
Hoekom kan Ben-Karel nie sy pa ken nie?
Sy was so seker sy sou ’n vol en vervulde lewe saam met Theuns kon lei. Die verwydering wat sy swye oor Gabriella as Tjaart se liefdeskind meegebring het, was tog nie onoorbrugbaar nie? ’n Mens takseer immers nie ’n liefde op een vertrouensbreuk nie.
Sy dwing haar gedagtes terug na die werklikheid en laat haar oë op die omgewing rus.
Bella se bakkie staan in die koelte onder die doringboom. Maar sy sien haar niggie nêrens nie.
Hoe graag wil Bella nie hierdie raaisel rondom die Mambahoekbrand oplos nie. Sy het geen leidraad met rus gelaat nie. Voor Bella die Bateleur-lodge en -reservaat se bestuurder geword het, was sy nie verniet een van die Laeveld se beste ondersoekers nie. Soos die aartsskelm Rick Hansen tot sy spyt uitgevind het toe hy horings uit die wildtuin gesmokkel het.
Die dag toe hulle Rick die eerste keer in ’n strik vasgetrek het, was ’n triomf vir Bella, Johnny en ook vir haar niggie Tarien.
Hopelik het Tarien veilig in die Boland by haar ma op haar familiewynplaas aangekom. Met Rick se onlangse dreigemente uit die tronk was Tarien se lewe in gevaar. Só het Johnny se polisievriend, Moeti Khumalo, kom waarsku.
Tarien het destyds ’n lokval vir Rick gestel. Dié strik het op sy arrestasie uitgeloop. Sy kon sien Bella vermoed Rick is weer die hoofverdagte in die brand op Mambahoek. Niemand bluf haar niggie nie. Bella weet, al is ’n aartsskelm agter tralies, is hy nog steeds tot slinkshede in staat.
Wraak kon ’n sterk dryfveer vir Rick gewees het. Met renostergeld in die bank in ’n geheime rekening of twee, sou hy brandstigters kon betaal. Deur brandstigting kon hy die huidige eienaars van Thulamela lodge en die Van der Walts gelyktydig bykom.
Toe Rick Hansen se familie bankrot gespeel het, moes die Hansens hul plaas en reservaat op Thulamela-wildplaas aan ’n oorsese hotelgroep verkoop.
Sy weet nie wat sy motief rondom die stigting van ’n brand op Ivan Brown se grond sou wees nie. Jaag sy spoke op? Brown het bewys hy huiwer nie om haar en haar familie te intimideer nie. Hy sal veel doen om die noordekant van Bateleur te kan koop oor die ryk steenkoolreserwes daar.
“Is Mamma oukei?” vra Barry bekommerd.
Sy trek sy hoed laer oor sy sproetgesiggie af. “Ja, boeta, dankie.”
Sy skud die harnas op haar rug reg en neem Barry se smal, bruingebrande hand. In die maand ná Ben-Karel se geboorte het sy gewoond geraak aan haar kaalkoppie se ligte gewig op haar rug. Die kleintjie se nabyheid met sy babapoeiergeure, sy ligte steuntjies en kreuntjies abba sy soos ’n mens ’n gerusstellende gedagte in jou hart koester. Of sy nou na die renosterskuiling gaan of by Bella by die lodge gaan inloer, sy kan nie verduur om hom agter te laat nie.
Met Joss Fourie se kuiers rondom die olifantjies, Masingita en Kimbi, het sy ook altyd haar seuntjie op haar rug in sy abbaharnas vasgemaak. Dié veearts se goedkeurende blik rus gewoonlik sag op haar seuntjie. Hy onthou dikwels Ben-Karel se geboortedag.
Haar seuntjie met sy kaalkoppie en diep kuiltjies wen orals harte.
“Dis so sleg ...” Hierdie woorde moet sy telkens aanhoor. Sy kan nie aan die onvoltooide sinne gewoond raak nie. Soveel onvolledighede hang in die lug oor Theuns se skietdood in Mosambiek.
“Gaan ons daai oom met die geel helikopter sien, Mamma?” vra Barry toe hulle die ondersoeker inwag terwyl sy naderstap.
Lenore vou haar bruingebrande arms. Dis sy derde verwysing na “die oom”. Sy vermoed dis Albertus Strydom. “Nee, ons het die ondersoeker kom sien. Sy moet vasstel hoe die brand gebeur het.”
Die bekende brandbestryder Albertus Strydom het glo ’n groot rol gespeel tydens die brandbestryding op Mambahoek. Hy het met die helikopter se net water uit die Komatirivier geskep en dit op die verspreidende vlamme gegooi.
Strydom word deur verskeie Laeveldse firmas en brandbekampingsorganisasies gekontrakteer wanneer brande dreig of reeds woed. Meer kon nie sy, Bella of Johnny oor hom te wete kom nie, al was daar talle koerantberigte oor sy heldedade.
“Dis asof hy iemand sonder ’n geskiedenis is,” het Johnny telkens ongemaklik gesê. “Dis ’n ikoniese helikopter. Só ’n kuns om die masjien met talle maneuvers so laag te laat vlieg. Daar moet al meer oor die man as oor sy werk geskryf wees.”
“Ek wil ook ’n Huey hê. En ek wil ’n vlieënier word, Mamma,” het Barry met haar terugkeer van die hospitaal af gesê.
Dis duidelik wie sy held is.
Albertus het hom ’n keer tydens ’n verkenningsrit in die Huey opgeneem toe sy in die hospitaal was. Barry het nog haar toestemming gevra.
“Die oom kan op ’n tiekie land, het oom Johnny gesê, en jou kleingeld gee ook. Wat is ’n tiekie, Mamma?”
Daardie helikopterrit het ’n onuitwisbare indruk op hom gelaat.
“Mamma moet hoor as daai skroewe begin draai ... whop, whop ...” het hy die geluide perfek nagemaak.
Sy het einde ten laaste vir hom ’n helikopterspeelding met afstandbeheer gaan koop, tot Johnny en Jakes se groot vermaak.
“Hy moes mooi gekyk het hoe Strydom vlieg. Kyk hoe dip hy daai neus van die helikopter,” het Johnny uitgewys.
Sy neem sy smal hand in hare. Al is die sproetgesiggie amptelik aan haar toegeken deur die aannemingsowerhede, laat hy haar en Ben-Karel nie uit sy sig nie, asof hy hulle sou kon verloor. Hy het ’n swaar las op hom geneem om nou die “grootman” van hulle gesin van drie te wees – al is hy skaars ouer as tien.
Ben-Karel steun behaaglik teen haar rug. Hy het ’n rukkie terug sy voeding gehad.
“Debra Herbst,” stel die blondekop met die poniestert en die oorpak haarself voor toe sy naderstap.
Aan haar voete draf ’n fris bronskleurige Staffie.
Die hond trek dadelik Barry se oog. “Kan ek met hom speel?” vra hy opgewonde.
“Samson is sy naam,” antwoord Debra vriendelik en maak sy leiband los.
Samson stamp in sy gretigheid om te speel amper vir Barry om. Min weet hy die atleties geboude seun is gewoond aan sy troetelvlakvark se manewales.
Lenore lag hardop, vir die eerste keer sedert sy ’n maand gelede op hierdie selfde plek gestaan en ’n skerf van die okkerneuthangkas se spieël uit die puin opgetel het. Daardie spieël het in die hitte van die brand gebars. Die skerf was die enigste oorblyfsel van die destydse skiettragedie. En die brand, waarvan vlamme van die Smutsblok na Bateleur oorgespring het, het die hartseer spoor en plek van Jaco se dood uitgewis. Van Mambahoek se opstal is daar slegs puin oor.
“Lenore Adriaanse,” stel sy haarself voor. Sy loer skrams oor haar skouer na die salig slapende baba op haar rug. “En dis Ben-Karel. Dis Barry wat met jou hond speel. Wat ’n pragdier.” Sy wys sy na waar die twee hul weg deur die veld vind.
“Twee seuns. Jy is gelukkig met ’n plaas soos hierdie een om te bemaak,” sê Debra geesdriftig.
“Watse nuus het jy vir my?” vra Lenore sonder om doekies om te draai. Hoekom is die Debra-vrou se eerste gedagtes nou aan ’n testament? Seker ’n professionele gewoonte in die versekeringsbedryf.
Die polisie vermoed brandstigting. Moeti Khumalo en Laura Tshabane het dit ook vertroulik vir Johnny gesê. Hóé en deur wié kon niemand verklaar nie. Of die versekering haar gaan uitbetaal, hang van soveel faktore af. Of sy en haar gesin op Bateleur gaan kan aanbly, is afhanklik van dié uitbetaling. Haar enigste bates om te verkoop is die stoet rare swartwitpense en die lodge. Oor die eerste voel sy sentimenteel en die tweede sal in die familie moet bly.
“Die oorsaak is beslis ’n sigaret. Dis in die veld geplaas of daar weggegooi,” sê Debra. Sy wys hulle moet aanstap na waar die Smutsblok en Bateleur se grensdraad vir ’n paar meter oorvleuel.
Lenore staan eers vasgenael en volg toe die blondekop. Debra sal sekerlik nie so ’n uitspraak lukraak maak nie?
“Niemand loop ooit daar nie,” sê Lenore oorbluf.
Debra trek haar skouers op. “Skynbaar wel.” Die blondekop wys na Bella ’n entjie verder. “Jou niggie Bella is ’n puik ondersoeker. Ek dink sy moet vir ons kom werk. Dis sy wat eerste die vermoede oor die sigaret gekry het.”
Bella met haar platinum kuif onder ’n pet ingedruk is naby die grensdraad aan die stap.
Hulle durf nie waag om op die aangrensende grond van mynbaas Ivan Brown te oortree nie, al het die brand daarvandaan na Bateleur versprei. Sedert die brand het Brown veiligheid op sy stuk grond opgeskerp.
“En was Bella reg?” vra Lenore.
“Ja, ek dink sy is selde verkeerd. Goeie ondersoeker, soos ek sê. Ek weet nie wat soek sy hier, versteek op ’n wildplaas, nie. Sy kan soveel geld maak en mense help. Danksy haar het ons ’n goeie waarskynlike tydlyn van gebeure.”
Brown was siedend oor die skade op sy stuk grond. Hy wag om te hoor of hy ’n lisensie kan kry om die area te myn. Asof hy die een is wat ’n waardevolle opstal en operasionele kamer vol tegnologie verloor het. Lenore se veldwagters moet ook nog vergoed word vir hul beskadigde besittings.
Net Brown se veld het gebrand, ’n algemene verlies vir ’n boer in die Laeveld, bykans jaarliks. Veld herstel orals ná die eerste lentereën. Daar was nie eers vrugtebome op sy grond nie. Brown was nie die ware verloorder nie. Hy het haar met ’n omweg laat weet hy vermoed sy het iemand betaal om die brand te stig. Die rede? Sy het glo gehoor in sy geding teen die vorige eienaar het die hof die grond aan hom toegestaan.
“Waarom dink julle dis brandstigting, Debra?”
“Jou buurman se ondersoeker het die sigaretfilter opgetel. Die veld het vanaf ’n middelpunt gebrand en toe versprei. Ons kon nie toegang na die grond langs jou kry nie, wel hommeltuigfoto’s van die gebrande veld. Die ongeluk is, daar was geen getuies nie. Of altans nie waarvan die polisie weet nie.”
Lenore staan ’n oomblik stil. “My buurman dink dis opsetlik begin. Hy beskuldig my dat ek daarvoor verantwoordelik is. Gelukkig het ek die beste alibi in die wêreld. Ek het ten aanskoue van ’n klein skare geboorte gegee in die renosterskuiling toe die brand aan die gang was.”
“Ek het jou verklaring gelees. Wat ’n gebeurtenisvolle dag vir jou.”
Debra steek haar hand uit om Bella te groet toe dié by hulle aansluit.
“Slaap hy?” vra Bella en loer oor Lenore se skouer na Ben-Karel se gekreukelde gesiggie onder sy hoed. Haar niggie leun oor en sorg dat Ben-Karel gemaklik is.
Bella wil so graag vir haar en Johnny se Jakes ’n boetie of sussie gee. Besoek na besoek aan ginekoloë het egter niks opgelewer nie. Daar is geen mediese rede dat Johnny ten spyte van sy tydelike verlamming ná die skietvoorval nie in staat is om nog ’n kind te verwek nie. Ook met Bella blyk daar nie fisiologies fout te wees nie.
Wie sal tog weet wat die rede is? Nie een van hulle drie Van der Walt niggies se lewens was ’n lied sedert hulle oupa Tjaart van der Walt hulle na die Laeveld gelok en toe aan ’n beroerte gesterf het nie.
“Jy was toe reg,” sê Lenore vir Bella. “’n Sigaret was wel betrokke.”
“’n Stompie? Die veld lieg nooit nie.”
Debra maak haar rekenaartablet oop. Sy wys vir Bella en Lenore foto’s en notas. Dis materiaal wat sy van Ivan Brown se ondersoeker ontvang het.
“Waar het die ondersoeker hierdie leidrade gekry?” vra Bella gespanne.
“O, redelik ver van julle grensdraad af.” Debra wys hulle die foto van die gebrande sigaretfilter. “Dis in die veld opgetel. Indien die sigaret deur iemand gerook is, kan daar DNA aan wees.” Sy gee die tablet vir Bella en stap veld-in om oor die grensdraad te tuur asof sy ’n afstand wil skat.
“Wie dink jy het hierlangs geloop en rook? Wie het toegang?” vra Lenore.
Haar niggie haal haar pet van haar steil blonde hare af en vee moeg oor haar oë. Om die besige lodge te bestuur eis sy tol van haar. “Dis geensins ’n deurloop nie. Beslis nie vir iemand aan Thulamela-lodge se kant nie. Hulle het te veel buffels. Niemand waag te voet sy lewe hier nie.”
“Ek hoop die hoofargument teen uitbetaling is hiermee uit die weg geruim.” Lenore skuif Ben-Karel ’n bietjie hoër op haar rug en draai na Bella.
“Toeval het niks hiermee te make nie,” sê Bella en sit haar hande op haar smal heupe.
“Ek is so bly Theuns het aangedring om die versekeringspremies te betaal,” sug Lenore.
“Op sy stil manier het jou man soveel vermag.” Bella trek Ben-Karel se hoedjie laer oor sy gesig.
Lenore veg teen haar trane. Sy mis dit so: die sekerheid en selfvertroue waarmee Theuns sy werk op Bateleur gedoen het. Alles is sonder ’n bohaai afgehandel. Die leemtes wat deur sy afsterwe gelaat is, word nou duidelik. As sy met hierdie krisis net ’n fraksie van sy stil selfvertroue kon hê.
Sy roep na Barry waar hy en die hond naby die opstal se puin stap. Die gebied is afgesper. Theuns se operasionele sentrum om die plaas te beveilig moes na die renosterskuiling verskuif word. Sy sal opnuut toerusting moet koop. Ondertussen word die veldwagters en veiligheidspan by die lodge gehuisves. Sy het so in die gewoonte gekom om te vra: Wat sou Theuns gedoen het?
“Kom hiernatoe, Barry!” roep sy toe Bella beduie na twee foto’s op die skerm, daarna na die swartgebrande landskap aan die ander kant van die grensdraad.
Groen stopsels gras beur al deur die grys oorblyfsels van plante.
“Kyk,” Bella sit haar wysvinger en duim op die skerm om die beeld te vergroot, “hier kan ’n mens sien hoe die brand se pad geloop het tot by die opstal. Die vlamme is deur die sterk wind aangewaai.”
Lenore staan nader en bestudeer die rooi pyle op die foto wat wys hoe die brand versprei het.
Sy hoop op ’n uitbetaling groot genoeg om die nuwe operasionele kamer te befonds. Johnny is ook ten gunste daarvan. Hy weet in detail wat hy wil doen en hy mis vir Theuns. Hulle was pasmaats in hul opvatting van veiligheid. Op die dag van die brand het hy en die Mambahoek-span hul bes gedoen om die opstal te red. Die wind was egter onversetlik. Alles in die vlamme se pad is verteer.
Bella beduie weer na die skermfoto’s. “Só het die vuur se boog geloop,” wys sy vir Lenore. “Ons volg die boog om die oorsprong van die vuur te kry. Sien jy, hier was die beginpunt.” Sy vergroot die foto’s. “Die brand het eers by Troonberg se kranse doodgeloop.”
Debra sluit weer by hulle aan en draai skuins om na die opstal se ruïne te kyk. “Netsowel julle het pompe in die rivier gehad toe die brandweer gekom het, anders was julle veel meer kwyt.”
Lenore verstel haar hoed en druk haar sonbril hoër op haar neus. “Theuns, my oorlede man, se voorsorg,” sê sy saggies.
Debra leun vorentoe. “Ek het nie bedoel ... Ek het gehoor ...”
Lenore hou haar hand op in ’n stilmaakgebaar. “Als reg. Hoe kon jy geweet het?”
“Kom, ek dink ons werk hier is klaar,” neem Bella taktvol oor.
“Johnny het laat weet Joss wag vir jou, Lenore. Hy het glo goeie nuus. Ons kan daarmee doen. En, Debra, kom drink gerus ’n drankie of koffie by die lodge.”
Lenore wink vir Barry. Hy bring die hond vir Debra terug.
Debra maak haar tablet toe en skud hande om te groet. Sy gee vir Lenore en Bella haar sakekaartjie. “Dankie, maar ek sal in die pad moet val. Kom ons kyk wat gebeur met die verslae.” Sy roep Samson nader en klim in haar voertuig.
“Moet jou nie bekommer nie, nig. Sy weet wat sy doen,” sê Bella terwyl hulle terugstap na hul voertuie.
“Die hommeltuigfoto’s wys die oorsprong van die brand is nie te ver van die toegangspad af nie,” sê Lenore nadenkend.
“Indien die brandstigter daarvan gebruik gemaak het, moes iemand hom tog iewers langs die pad gesien het?”
Bella haal Ben-Karel van Lenore se rug af en help haar om hom in sy karstoeltjie te kry.
“Jy sal self nie ’n vrot ondersoeker uitmaak nie,” sê Bella.
“Sien jou later.”
Lenore staar haar ingedagte agterna. Haar niggie word al hoe maerder van die spanning om swanger te raak, die bemarking van die lodge en Johnny se behandeling vir sy been. Sy wil nie te swaar op Bella leun nie.
Tarien sit ver in die Boland op Welgevonden, eerder nog ’n bekommernis as bemoediging vir hulle twee. Al koester sy ’n onuitgesproke verwyt jeens Tarien oor Theuns se dood weet sy Hy werk in haar hart daaroor. Tyd genees nie alle wonde nie. Die Gees genees wel mettertyd. Sy voel die werking daarvan in haar. Herinneringe se invloed op haar lewe is besig om te verander. Die Vader het haar vergewe. Wie is sy om nie ander en haarself te vergewe nie?
“Ek mis Pappa,” sê Barry en kyk besorg na Lenore asof hy haar gedagtes lees.
’n Groot, helder traan biggel oor sy sproetwang. Sy het nog nooit iemand so sien huil soos Barry nie. Terwyl hy praat en snik, loop die trane onverpoos, soos reëndruppels, oor sy sproetwange. Sy kussing is soms sopnat gehuil.
“Pappa sou so trots op jou gewees het, grootseun, so trots,” probeer sy en skakel die voertuig aan.
Sy byt haar trane terug. Barry voel sekerlik haar onsekerheid rondom die brand aan, hul onveiligheid op die plaas en hul benarde finansiële posisie. Met sy biologiese ma, Chantel, wat nou in die rehabilitasiesentrum op Komatipoort is, is hy ten minste minder angstig oor haar.
Was dit die regte besluit om Chantel naby hulle te vestig? Tyd alleen sal leer. Barry se gemoedsrus is vir haar meer werd as die moeite en onkoste met Chantel. Theuns sou sy goedkeuring hieraan gegee het. So glo sy. Hy het so hard vir Barry se onthalwe probeer om Chantel van dwelms af te kry.
Kinders maak van jou ’n beter mens. In haar ma, Anne, se geval dalk nou nié. Vir Anne was sy ’n las toe die lewe op ’n buitepos in die Krugerwildtuin te stil geword het.
“Ek mis Pappa ook, Barry.” Sy neem sy klam hand terwyl sy na hulle huis oorkant die lodge bestuur.
Barry se sproetgesig is afgewend en sy skouers hang.
As sy Debra Herbst net kon lees. Dié vrou het so saaklik gebly. Haar sakekaartjie sê ook min. In die ry skuif sy dit by die bosak van haar kakiekleurige Bateleur-lodge en -reservaathempie in.
Oupa Tjaart van der Walt sou van haar verwag om alles te doen om die plaas, reservaat, lodge en renosterskuiling te behou. Sy gaan hom nie teleurstel nie. Buitendien, daar is geen ander opsie nie. Bateleur is haar en haar seuns se blyplek vir die res van hul lewe. Nie bloot ’n tuiste nie. Veel meer as ’n holte vir die voet. ’n Heenkome vir die siel.
Sy gaan hierdie stryd met alles in haar stry. Wel, nie in eie krag nie. Alleen die Vader kan ’n wonderwerk rondom die versekering bewerkstellig. Daarvoor sal sy haar knieë deurbid.
Oor Mambahoek se Troonberg vlieg die bateleurpaar in ’n sirkel. Hul geroep klink op toe hulle op die kranse land. Die mannetjie gaan staan met sy vlerke oopgesprei en punt die vere die lug in. ’n Klassieke feniksposisie.