Skip to main content

Uittreksel | Vroue met vlerke

Deel 1

Een

Toe Emma in die draaistoel voor die spieël gaan sit, weet sy daar is geen omdraaikans meer nie. Sy’t lank genoeg oor haar besluit getob voordat sy hier by Roberto ingestap het.

“Sny!” beveel sy. “Kort. Ek wil jonk en funky lyk.”

Sy oë ontmoet hare in die spieël. “Jonk en funky is fine,” knik hy. “I’m all for it. Maar jonk en funky gaan eerder oor wat ín jou kop aangaan, nie óp jou kop nie.”

O, great! dink sy moedeloos. Roberto is in een van sy filosofiese buie. Gewoonlik gee sy nie om nie, maar vandag is nie die dag daarvoor nie. Vandag is ’n dag vir doen, nie ’n dag vir dink nie.

“Sommer sny? Kort? I don’t think so,” vervolg hy en staan hande in die sye na haar en kyk.

“Sny, Roberto!” Haar stem slaan skerp deur. “Ek wil nie langer daaroor dink nie. Dis tyd dat my lewe verander … en vir my lewe om te verander, moet my voorkoms verander.”

Hy woel met sy lang, sensitiewe vingers deur haar hare. “Okay, I get it. Dis ’n midlife crisis.”

“Midlife crisis se dinges, man. Ek’s nog in my thirties, met ander woorde in die fleur van my lewe.” Die onsekerheid val haar van voor af aan. “Of altans, dis wat ek graag wil glo.”

“Jy ís, lovey. Maar ná fleur kom vrot, jy weet?” Hy lag vir sy eie grappie.

“Ek het nie vandag tyd vir jou lawwe praatjies nie, Roberto.” Tot haar ergernis hoor Emma hoe haar stem breek. Sy wens sy kan hom vertel hoe belangrik dit skielik vir haar is om jonk en mooi te lyk, maar sy kan nie. Sy mag nie.

“Oh dear, wat’s fout? Wil jy daaroor praat?”

Gewoonlik, ja. Gewoonlik kom pak sy hier by hom af. Of hulle ontmoet mekaar by die gym om die sorge van die lewe om ’n wortelsappie of enigiets lekker heilsaam te deel. Vitamiene en proteïene en al daardie soort goed waarmee jy jou daar volprop omdat niks anders beskikbaar is nie.

“Nee. Ja. Ag, ek weet nie. Miskien.” Sy sug. “Whatever, man! Ek sal dit doen terwýl jy my hare sny.” Sy’s histeries, sy weet. Midlife crisis ofte not, maar sy’s amper reg vir die manne in die wit jasse om haar te kom haal en weg te neem na ’n plek met baie sipresbome. Sy kán nie langer wag nie; sy wíl nie. Sy kan nie die Emma wees wat sy voorheen was nie. Sy hou nie meer van daardie vrou nie, wil nie meer in haar lyf leef nie … en veral wil sy nie meer haar lang, golwende hare hê nie.

“Ek’s moeg vir hierdie Moeder Maria-hare van my,” sug sy. “Ek dra te swaar daaraan.” Haar stem sak. “En aan die beeld wat daarmee saamgaan. Vroom en vroed en veral vaal en vervelig.” Roberto tel die skêr op. Dit troos en kalmeer haar effens.

“Almal verwag van my om sag en lief te wees. Vriendelik, gaaf en selfopofferend. Dienswillig, die uwe! Mollige mense is mos veronderstel om vreeslik loveable te wees. Meek and mild. En as jy dan nog Moeder Maria-hare het, beskou mense jou as ’n engel op aarde, een op wie daar maar getrap mag word.” Sy sug sidderend.
“Ek ís nie ’n engel nie. Nog minder ’n saint. En ek’s siek en sat daarvan om een te probeer wees.”

Sy’s veel meer duiwel as engel, sy weet. Vra maar vir Ma. Of vir Bella … Vra die hele wêreld, enigiemand wat van haar sondes weet. ’n Engel vang nie die dinge aan wat sý aanvang nie. ’n Engel val nie pens en pootjies in die modder van die lewe nie.

“But, my dear, mollig you are not! Jy ooze sex appeal.”

Die heuning in Roberto se woorde is nie vandag genoeg om haar midlife crisis of whatever te ontlont nie. Sy’t tot hier gekom en sy kan nie weer hier uitstap soos sy hier ingekom het nie. Dan het sy regtig in ’n doodloopstraat beland, een waarin sy lankal nie meer tuis voel nie.

“Hierdie keer wil ek nie hê jy moet net die dooie punte afsny nie. Nee, jy moet die dooie punte met wortel en tak uitroei.” Sy’s melodramaties, sy weet, maar dis hoe sy vandag voel. Sy wil haar hande in die lug gooi en met groot fanfare haar frustrasie Shakespeare-styl uitskreeu.

“So by the way, jy’t nie exactly Moeder Maria-hare nie,” mymer Roberto. “Nie regtig nie. Maybe, sover ’n mens op die painting kan sien, Mona Lisa-hare, ja. En iets van haar gesig ook, jy weet?”

“Dis ál wat ek nou nog vandag nodig het,” brom Emma. “Om met háár – of hóm – vergelyk te word. Het jy geweet daar word vermoed dat die model vir die Mona Lisa ’n man was?”

“Ag, rubbish! Dis ’n girl daai. Vra my, ek weet waarvan ek praat. G’n man kan so ’n serene uitdrukking op die gesig hê nie. Nie as daar ’n krieseltjie testosteroon somewhere in sy lyf skuil nie.”

“Serene uitdrukking op die gesig? Dis wat jý – en hoeveel kunskenners die wêreld oor – dink. Maar julle slaan die bal ver mis. Julle kyk nie in die model se oë nie, sien nie die trekkie om daardie mooi mond van haar raak nie. Ek dink die mooie Mona Lisa is eerder die mislike Mona Lisa. Dis ’n siniese ou smiletjie daardie. Miskien, ás dit ’n girl is, het sy PMS gehad toe Leonardo da Vinci haar geskilder het, want sy lyk vir my taamlik omgekrap. Sy wou seker nie so lank stilsit en mooi lyk nie. Het seker gewens hy kry ’n kramp in sy hande of die verf val op sy skilderdoek om of so iets.”

I know the feeling, dink Emma. Hoe dit is om in iets gedwing te word wat jy nie regtig wil doen nie. En ook hoe dit is om alles wat jou pla binne-in jou opgekrop te hou.

“Daar is ’n sluwe uitdrukking in haar oë,” borduur sy voort aan die negatiewe gevoelens wat Mona Lisa by haar opwek. “So al asof sy ’n ding beplan – iemand se downfall, as jy my vra. Miskien nog einste ou Leonardo s’n.”

“Niemand weet mos regtig wat die storie daar was nie,” stem hy gedeeltelik met haar saam. “Secrets by the dozen.”

Nie dat Mona Lisa die enigste vrou met geheime was of is nie, dink Emma. Om die waarheid te sê kan dié dame met haar enigmatiese glimlaggie by haar wat Emma is kom leer oor geheime. Wat sy met háár saamdra, kan sy met niémand deel nie. Daar was ’n dag, sy onthou goed, dat sy die veld ingery het. Sy’t haar motor gemoor en ’n grondpaadjie, ’n afdraaipaadjie na nêrens, gevat. Net sodat sy alleen kon wees, diep in ’n bos met geen lewende siel in sig of binne hoorafstand nie. Sy was bang vir die alleenheid en die verlorenheid. Maar sy was nóg banger om langer met die skrikwekkende geheim in haar rond te loop. Sy wou dit hardop sê, sy wou dit verwoord, sy wou dit uitgil … asof sy so van die gif in haar ontslae kon raak. Sy wou hê die gebeure moes vir haar sin maak sodat sy haar verstand kon behou.

En sy het. Ver weg van die beskawing met net die geluid van sonbesies om haar het sy dit uitgeskree. Amper soos in ’n sprokie wat iemand vir haar vertel het toe sy nog ’n kind was. Iemand … sy kan nie onthou wie nie. Sy weet net dit was nie Ma nie, want dié het nie vir haar sprokies vertel nie. Bybelstories, wel. Bybelstories van wonderwerke, dinge wat haar na asem laat snak en laat glo en hoop het. Maar ook Bybelstories oor sonde wat gestraf word, verkeerde dade wat jou nooit weer vrylaat nie en, les bes, skuld wat jy die res van jou lewe met jou saamdra.

In elkeen van daardie Bybelstories was sy wat Emma is die skuldige. In die verhaal van die tien maagde met hulle lampies – sommige met olie in, sommige daarsonder – was sy een van die dommes, een van dié wat nie by die feesmaal toegelaat is nie en buite in die koue en die donker agtergebly het. Sondig. Nie goed genoeg nie. Dom.

Maar nie Bella nie. Nee, haar suster is saam met die wyse maagde by die deur in. Sý is daar binne verwelkom en vriendelik ontvang. Sý kon aansit by die feestafel. Dit was nie eens vir haar nodig om tot daar te sukkel of hinkepink tot daar te loop nie. Die engele, só het Emma dit voor haar geestesoog gesien, het Bella sommer by die deur kom haal en binnetoe gedra. Of dalk nog geabba sodat sy aan hulle vlerke kon vashou.

Ag! onthou Emma met ’n sug. So was dit ook met die tien melaatses wat wonderbaarlik gesond geword het. Sy wat Emma is sou beslis een van die nege gewees het wat so bly was dat hulle al huppelend die pad gevat en skoon vergeet het om dankie te sê. Bella sou die enigste ou suikerbekkie wees om haar goeie maniere, danksy Ma se sedepreke, te onthou. Sy sou omgedraai het om haar dank op ’n gepaste manier aan die Meester te betuig. Geen wonder sy was al die jare Ma se witbroodjie nie. En natuurlik is sy nog steeds die lieflingdogter, die uitverkorene.

Altyd, áltyd, haar lewe deur, het Emma skuldig gevoel en haar kop in skaamte laat sak. Maar nooit was sy só skuldig soos daardie dag toe sy in haar wanhoop roekeloos die bosse ingery het nie. Sy’t geweet dat haar skuld verdubbel het en dat haar dade nog meer mense as voorheen sou benadeel. Vir die tweede keer in haar lewe was sý die Jona wat die skip sou laat sink en baie mense in ’n stormsee kon laat verdrink.

Sy’t dit uitgekreun, haar gesig na die hemel gehef en die geheim waarmee sy vir die res van haar lewe sou moes saamleef met alles in haar uitgeskree. Ook het sy haar verbeel sy hoor die eggo daarvan, hoe die beskuldiging na haar toe terugkeer. Maar dit kon nie wees nie. Veel eerder het die see haar woorde ingesluk en dit in die diepste duisternis van die oseaan begrawe om daar te bly tot in ewigheid. Die klank van haar stem het die voëls verskrik laat opvlieg weg van haar af wat die vrede van die veld so versteur het met die kras woorde wat die snydende waarheid oopgevlek het.

Eers toe dit stil om haar raak, is sy terug huis toe. In haar het dit tog effens ligter gevoel. Sy’t geweet sy kon die waarheid nooit weer uitgil nie, nooit weer ontbloot nie. Aan niemand nie. En sy’t dit gelate aanvaar.

Sy weet dalk nie met watter moontlike geraamtes in Mona Lisa se kas Da Vinci dalk moes worstel nie, maar sy weet hoe swaar ’n mens kan dra aan die skuld van jou verlede. “Kunskenners, toeriste … almal bewonder die Mona Lisa,” mymer sy en snorklag dan, “maar nie ék nie. Miskien is dit omdat sy my aan myself herinner. Dalk is jy tog reg.”

“Oh dear! Dis nie jou dag vandag nie, nè? It’s a dark and stormy day in your pretty little head. What gives?”

Maar sy antwoord hom nie. Vandag is sy hier om haar hare te laat sny, nie om haar stukkende siel aan Roberto bloot te lê nie. Die dinge wat dreig om oor haar lippe te bars, pas beslis nie in a pretty little head nie en moet maar eerder gis waar niemand dit sien nie. Ook nie Roberto nie. Die afgelope paar jaar stort sy graag haar hart by hom uit, maar sy praat nie oor alles nie. Daar is sekere waarhede in haar hart wat net sý ken. En dis hoe dit moet bly … Roberto sit die skêr neer en begin haar lang hare verdeel en stuk-stuk uitkam. Wat beteken hy gaan haar tog haar sin gee, hoop sy.

“Ek weet nie wat dear old Mona Lisa upset het dat sy vir jou mislik lyk nie and frankly, my dear, gee ek ook nie om nie. Sy’s dood en begrawe. Ek wil eerder weet waarom jý so uitgefreak is.”

Emma kyk op en sien in die spieël ’n beduidenis van ’n frons op sy voorkop. Simpel trane brand agter haar ooglede. Hy frons nie sommer nie, eintlik vir niks en niemand nie. Daarvoor is hy te gesteld op plooie wat daardie vlekkelose voorkop van hom permanent kan beskadig. Sy het nie geweet hy kán nog frons nie.

“Moenie met my staan en nice wees nie, man. Ek’s te broos daarvoor. As ek vandag hier by jou aan die tjank gaan, hou ek nie gou op nie, en jy’s vol bespreek vir die res van die dag. Dit gaan nie goed wees vir besigheid nie. Jou kliënte gaan dink ek huil omdat jy ’n flop van my hare gemaak het.”

“Dalk kan ek jou hare net ’n bietjie layer, jy weet?” probeer hy nog keer. “Of vir jou ’n bob sny.”

“Ek háát ’n bob. My ma het altyd my hare in haar weergawe van ’n bob gesny. Nou wel nie met die potjie onder die bed as riglyn nie, maar met ’n ronde Tupperware-bak op die kop. Nie dat dit veel gehelp het nie; my hare was in elk geval die ene happe gesny.”

Hy lag. “Maybe was dit haar version van layers.”

“Dis nie iets om oor te lag nie, Roberto. Alles wat ek by my ma gekry het, was minderwaardig. Tweedehands. Pure plastiek soos die Tupperware-bak.” Sy lag bitter. “Fake. Veral haar kamstige liefde vir my. Dit was net vir die show sodat ander nie sou sien presies hoe min sy van my hou nie.”

In haar kop hoor sy Ma se stem helder en duidelik. Soos op daardie dag jare gelede toe dit genadeloos skerp van agter die toe kamerdeur opgeklink het. “Ek’s jammer, my man, ek weet dis verkeerd. Maar ek kan die kind nie voor my oë verdra nie.” Sy was nog bitter klein, hopeloos te jonk om alles te verstaan, maar die trant van Ma se woorde – die haat en veragting daaragter – was duidelik genoeg. “Vat haar asseblief net weg dat ek nie teen haar hoef vas te kyk nie.”

Dit was ’n donker tyd in haar lewe, seker dié donkerste omdat niks daarna weer dieselfde sou wees nie. Sy kan nie Pa se antwoord op daardie wrede woorde onthou nie, net sy smekende stemtoon. En dat dit nie gehelp het nie, want Ma het kwaad gebly. “Probeer asseblief verstaan!” het Ma uitgeroep. Of Pa verstaan het, weet Emma nie. Maar sý het. Later. Toe sy ouer was en die verskil tussen goed en kwaad vir haar duideliker geraak het en oorsaak en gevolg vir haar begin sin maak het.

Sy wou nie, sy wou dit ontken, sy wou die skuld by Ma soek en haar daarvoor kwalik neem dat sy haar nie kon verdra nie, maar sy kon nie. Nie regtig nie. Dit sou nooit verander nie, en sy moes dit later jare so aanvaar. Sy het Ma se liefde verloor en sy sou dit nooit weer terugkry nie.

Sommige stemme van die verlede word nooit uitgedoof nie, weet Emma. Sommige woorde vervaag nooit, sommige verwyte ook nie. Toegegee, Ma het daardie dag seker nie besef sy staan in die gang en dat haar jongste dogter, klein soos wat sy was, daardie verdoemende woorde sou hoor nie. Maar dit het die seer deur die jare nie minder gemaak nie.

Dit was nie iets wat Ma openlik kon erken nie. Die mense om haar moes dit nie hoor of weet nie. Hierdie ontboeseming het agter ’n toe kamerdeur plaasgevind. Die wreedheid van die waarheid is deur die oneerlikheid rondom Ma se ware gevoelens vererger. Hoe kon sy ooit daarna enigiets glo wat Ma vir haar sê? Ma wat so hard probeer voorgee het dat sy vir haar lief is, maar dit nooit kon regkry nie?

Emma haal diep asem. Sy behoort nie vandag in die verre verlede te gaan delf nie. Daar is erger dinge op die spel as Ma se liefdeloosheid. Sy’t dan juis hier by Roberto se salon ingestap met die vaste voorneme om soveel moontlik van die verlede van haar af te skud. Beslis nie om dit vir hom uit te stal nie!

“Hoe so?” wil hy hoeka nou by haar weet. “Wat was Mother dearest se storie met jou?”

Maar die wag voor Emma se mond is terug op sy plek. Roberto sal haar uitlok totdat sy aan die gesels raak, maar sy’s bang vir wat by haar mond kan uitkom. Sy onthou die goggas wat by Pandora se kis uitgevlieg het en dat dit nooit weer moontlik was om hulle onder slot en grendel te kry nie. “Don’t get me started, Roberto,” keer sy. “Slyp daardie skêr van jou en get going.”

“Oukei, dan. I surrender. Miskien is dit nie so ’n bad idee nie. Ek gaan vir jou ’n cut gee wat jou jare jonger gaan maak.” As sy maar jare uit haar lewe ook kon ban, wens sy met ’n innerlike sug. As sy maar weer op universiteit kon wees en van voor af kon begin …

Toe Roberto die eerste klossie hare op die vloer laat val, maak sy haar oë toe en neem fluisterend afskeid van die vrou met die lang, golwende hare: “Koebaai, Emma die deugsame, Emma die ou vaal verloorder. Get the hell out of my life!”

Minute later skrik sy self vir die spieëlbeeld wat voor haar begin vorm aanneem. Maar dis ’n lekker bollemakiesie in haar maag – ’n skok wat haar asem wegslaan en wat sy hoop alle ander mense s’n ook sal wegslaan.

“Wow! Jy lyk stunning. If I say so myself.” Roberto staan terug om sy handewerk te bewonder. Hy vroetel met sy vingers deur die koketterige kabouterstyl. “So ’n windswept look maak die wêreld se verskil. Jy lyk young and carefree, net reg om te flirt.”

Carefree! Sy wil lag. Soms wonder sy of daar ooit ’n tyd was waarin sy sorgeloos geleef het.

“En funky.”

“Maar nie funky genoeg nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek wil hê jy moet my hare kleur.”

“Good thinking. ’n Paar highlights sal voorwaar ook wondere verrig.”

“Nie highlights nie. Dis te ordinêr. Ek wil blond wees. Behóórlik blond.”

“Now, now, let’s not get ahead of ourselves,” probeer hy water op haar geesdrif gooi. “Let’s not overdo it.”

Maar Emma voel vere vir sy protes. “Let’s!” stel sy voor. “Kom ons overdo dit. Kom ons raak behoorlik roekeloos. Maak van my ’n platinum blonde!”

Hierdie keer sak Roberto op die stoel langs haar neer, sy hande verdedigend voor hom uitgesprei. “As your old and trusted friend …”

“Vergeet daarvan om my old and trusted friend te wees. Praat met my as my haarkapper. Kan dit gedoen word?”

Hy hou sy hande in die lug. “Maar natuurlik. Hierdie hande van my staan vir niks verkeerd nie. Ek kan van jou ’n blonde maak as dit is wat jy wil hê. Maar die change gaan rather radical wees, girl. Dit moet jy weet. Mense gaan jou aangaap of jy van Mars af hier geland het.” Hy dink ’n oomblik na. “Of maybe from Venus. Die ene vrou. Wild and wonderful!”

“Dis fine met my. Dis presies wat ek wil hê.”

“Okay, your wish is my command. Maar dan moet jy vir my sê wat aan die gang is. Ek sterf van nuuskierigheid.”

Emma sug. Natuurlik kan sy hom nie alles vertel nie. “Kom ons sê maar net ek gaan op ’n trip down memory lane. In lewende lywe. Ek gaan mense sien wat ek jare gelede in die gesig moes kyk.”

“Aha, ek verstaan,” knipoog hy. “Say no more. Jy wil hê hulle moet vir jou sê jy’t niks verander nie. Jy lyk nog net dieselfde as vyf of tien jaar gelede. So jonk en funky as ever.”

“Nee, Roberto, jy’s verkeerd. Ek wil juis nie hê hulle moet my herken nie. Ek wíl nie lyk soos toe hulle my geken het nie. Ek verseker jou toe was ek nié jonk en funky nié. Allesbehalwe. Ek was vet en vaal en vervelig, en ek het lekker bleh gevoel elke dooie dag van my patetiese lewe. En dís hoe hulle my onthou en aan my dink. ’n Regte ou loser. ’n Muurblom. Dis so … wel, dis so vernederend.” Sy lig haar ken vasbeslote.

“Hierdie keer wil ek hê my vriende, as ’n mens hulle so kan noem, moet met ander oë na my kyk. Hulle moet my raaksien, behoorlik raaksien en verkieslik hulle asems, toekoms en verlede wegskrik. Hulle kan maar oor my skinder, selfs sê ek’s mutton dressed as lamb. Ek kan maar ’n bietjie na ’n tert ook lyk vir al wat ek omgee. Eerder ’n tert as ’n regte ou soetkoekie wat in geen man se smaak sal val nie. Soetkoekies is mos nie by mans in tel nie; net die wilde girls laat hulle mos twee keer kyk.”

“Ek sien,” sê hy nadenkend. “Ek dink ek verstaan nou beter.” Hy klap sy vingers vir een van sy assistente. “Bring vir Emma iets om te drink. Sy gaan dit nodig kry vir haar nerves. She’s about to change forever!”

Niemand pla hom terwyl hy die haarkleursel meng nie. Die kunstenaar is aan die werk. Emma is bang, maar terselfdertyd ook vreeslik opgewonde. Vandag is ’n dag soos geen ander nie. Sy wil nie met hom gesels terwyl hy besig is nie. Daarvoor is die saak te ernstig. Hy moet fokus. Daar’s ’n hol kol op haar maag terwyl hulle deur al die rituele gaan.

Hy draai haar stoel sodat sy weg van die spieël af kyk. “Wag!” sê hy toe sy ongeduldig raak. “Jy kan later kyk hoe jy lyk.” Eers ’n uur later is hy tevrede. “My work here is done,” sê hy ingenome met homself en swaai haar teatraal om sodat sy van aangesig tot aangesig met die nuwe Emma kan kom.

Hy’t haar gewaarsku dat die verandering radikaal gaan wees, maar tog het sy nie woorde toe sy na die vreemde vrou in die spiel staar nie.

“Ek lyk soos ’n flippen spook,” kry sy dit uiteindelik uit. “Soos ’n strooipop op steroids.”

“Dis omdat jy nie make-up aanhet nie,” verduidelik hy. “Jou features verdwyn ’n bietjie.”

“Ek hou gelukkig van strooipoppe en spoke,” lag sy senuweeagtig en vat-vat aan haar hare. Sy’s ’n platinum blonde, come hell or high water. En sy verwag albei wanneer sy die huis instap.

Roberto kom sit weer langs haar, laat sak sy stem intiem. “Al wat jy nou nog kort, is ’n bietjie botoks.”

“Wat ek wáár kry?”

Hy kyk oor sy skouer en bring dan sy kop nog nader aan hare asof hulle ’n groot geheim deel. “Jy kan saam met my na ’n botoks-paartie gaan as jy wil,” fluister hy. “Vanaand nog. In Universitas. High profile, taamlik eksklusief. Maar ek sal jou kan inkry. As my gas, jy weet. Ek’s ’n regular en kry tien persent afslag omdat ek so ’n goeie customer is.”

“’n Botoks-paartie! Vertel nog!” Haar oë blink.

“Nie hier nie. Nie nou nie.” Hy wys met sy oë na waar die ander haarkappers aan die ronddwaal is. “Ontmoet my ná werk in Mugg & Bean in Mimosa Mall dan vertel ek jou alles.”

Sy wil lag. Hy’s só ’n ou drama queen. Is hierdie hele cloak and dagger-houding nou regtig nodig? Maar haar nuuskierigheid kry die oorhand. “Oukei,” stem sy in. “Sien jou daar. Ek het in elk geval nie die moed om nou al huis toe te gaan nie.”

“Gaan shop solank,” lei hy haar in die versoeking. “Blondes have more fun. En daarvoor het hulle ’n hele nuwe wardrobe nodig.”


Dit voel vir Emma of sy op glasskerwe loop waar sy deur die winkelsentrum dwaal. Haar hart trek met ’n punt huis toe. Sy’s so bang soos altyd om te lank daar weg te bly. Maar sy’s ook bang om daar in te stap, doodbang vir die ontvangs wat sy met haar nuwe haarkleur en -styl gaan kry. Sy wonder wat die reaksie op haar metamorphose gaan wees. Dat sy heeltemal anders lyk as vanoggend toe sy by die huis weg is, is nie altemit nie.

Haar nuwe voorkoms moet gevier word, besluit sy toe sy verby ’n eksklusiewe boetiek se venster loop en ’n rok aan ’n winkelpop gewaar wat vir ’n blondekop gemáák is. Kort. Met ’n lae hals wat haar cleavage net goed kan doen. Toe sy by die winkel instap, borrel daar iets in haar bors. Dis hoop, besef sy. ’n Sprankie hoop dat die terugstap op die paadjie na die verlede vir haar iets goeds sal inhou. Dalk sal sy nou nie so pateties voorkom soos wat sy jare gelede daar weg is nie.

Emma kan haar nie van die winkelspieëls af wegskeur nie. Sy pas klere aan net waar sy gaan en bly ekstra lank in die aantrekhokkies waar sy van alle kante af sigbaar is. Sy verlustig haar skaamteloos in haar wulpse heupe, dubbel-D-boobs en skreeublonde hare wat kundig geknip en in ’n parmantige styl geskik is.

“Jy lyk nou éérs awesome vandat jy vir jou vars make-up aangesit het,” verseker Roberto haar toe hy haar later die middag by Mugg & Bean ontmoet.

Sy begin hom uitvra die oomblik toe hy koffie bestel en die kelner daar weg is. “Ek vermoed al lank jy’s vol botoks gepomp,” erken sy.

“Who cares? Sien jy miskien ’n plooi op my gesig?”

Sy leun vorentoe en trek haar oë op skrefies. “Nee. Niks. Jy lyk soos ’n porseleinpop. Maar jy onthou nog wat Mark Twain gesê het, nè? Elke plooi op jou gesig wys dat jy eens op ’n tyd gelag het.” Nie dat sý tot dusver juis iets gehad het om oor te lag nie, dink sy vies. Haar plooie is van huil en wroeg en frons omdat die lewe nou eenmaal nie verloop het soos sy dit sou bestel het nie.

“Arme ou Mark Twain,” laat hy hoor. “Hy’t nie van botoks geweet nie. Dis fabulous. Die beste uitvinding sedert diet pills. In your face, Vader Tyd! Hoe lyk dit? Join jy my?”

“Vir botoks? Ek weet darem nie. Gaan ons nie later almal nes Nataniël lyk nie?”

“As ek soos Nataniël kan lyk, kan hulle my maar botoks totdat dit by my ore uitkom.”

“Hoekom ’n botoks-paartie? Is dit nie veiliger in die dokter se spreekkamer waar alles steriel en klinies is nie?”

“Miskien, maar dan is daar geen fun aan nie. Kom vanaand saam met my dan sien jy wat ek bedoel. En bring jou kredietkaart, hoor! Dis nie goedkoop nie, maar dit bly ’n bargain.”

“Wat trek ’n mens aan?”

“Iets sexy. Of jou Sunday best. Met make-up en jewellery, die works. Jy moet fabulous lyk. Dokter Paul moet sien jy’s serious oor jou looks, anders doen hy nie moeite met jou nie.”

“Dokter Paul? Het die ou ooit medies geswot? Dit klink vir my bra sleazy.”

“Dokter Paul Hammond, my dear. En ja, Emma, hy hét medies geswot. Hy’s een van die beste plastic surgeons in die land. Google hom gerus as jy by die huis kom. Of vra ’n bietjie uit. Jy sal dalk verbaas wees oor wat jy alles hoor. Daar is niks sleazy aan hom nie, believe you me.”

Eintlik sou sy verkies het om die res van die dag net daar te bly sit. Veilig en ontspanne in sy geselskap sodat sy nie huis toe hoef te gaan en te please explain nie. Maar toe Roberto wegglip om hom te gaan mooimaak vir die aand, het sy nie regtig langer ’n verskoning om die gewraakte oomblik uit te stel nie.


Wat Emma die meeste vrees, so lánkal vrees, gebeur toe ook toe sy by die huis instap. Dit maak die seer nie minder om te weet sy kan net haarself blameer nie. Sy gaan snik haar teleurstelling agter haar toe kamerdeur uit. Weer eens het sy ’n verkeerde besluit geneem – ’n keuse wat vir haar meer verlies as wins inhou.

Dis laatmiddag voordat die storm uitgewoed is en sy haar selfoon optel. Dis te laat vir omdraai. Hare groei nie oornag nie. En om hierdie kleursel uit haar hare te kry, sal ook nie so maklik wees nie. Sy wíl ook nie, nie regtig nie. Selfs al is die prys wat sy daarvoor moet betaal hóé hoog. Sy gaan hierdie metamorfose baie nodig hê wanneer die vliegtuig met haar later in die week opstyg Kaap toe.

Eintlik is alles wat sy gehoor het baie waar. Sy lyk so ’n bietjie soos ’n winkelpop, ’n dooie ding wat in ’n winkelvenster hoort en daar in die niet staan en staar. Maar sy gee nie om nie. ’n Winkelpop is gewoonlik ’n mooi ding en word nie sommer deur emosie oorweldig nie. Die vergelyking met een van Madame Tussauds se wasbeelde is ook vir haar heel aanvaarbaar. Popsterre en filmhelde se beelde word daar verewig. Sy sal enige tyd haar plek daar tussen hulle gaan vol staan, dankie!

Emma google dokter Paul Hammond en lees alles wat sy kan kry oor die celebrity party-going dokter wat vroue – en ’n paar mans wat hulle ook aan die ydelheid oorgee – mooi, jonk en ferm hou.

Sy’s nie seker of dit dalk die duiwel sélf is wat in haar oor kom fluister het nie. Of dalk sommer maar net Roberto nie. En of daar veel verskil tussen die twee is nie. Maar toe sy daar opstaan, bel sy hom.

“Kom laai my tog maar vanaand op wanneer jy na jou botoks-paartie toe gaan,” sê sy. “Ek wil saamgaan. Hier by die huis praat niemand in elk geval met my nie. Vroeër vandag was hier ’n stortvloed woorde en verwyte oor my hare en sommer oor die res van my ook. Maar nou het almal stilstuipe. Ek’s persona non grata par excellence. Ek kan dit netsowel die moeite werd maak.” Sy’s eintlik ’n bietjie oud om ’n rebel te wees, sy weet. Maar aan die ander kant – sy was altyd ’n late bloomer.


Daar is niks sleazy aan die spoghuis in Universitas waar die partytjie gehou word nie. Ook nie aan die gaste wat in hulle weeldewiele daar opdaag nie. Vroue met dubbelkenne en diamanthalssnoere om die nek klou Louis Vuitton-handsakke vas en balanseer hulleself op stiletto’s. Almal is plooiloos. Of baie na aan plooiloos. Daar is nie veel uitdrukking op hulle gesigte nie, maar dis ook maar goed so. Emma wil dit nie eens wáág om te raai hoe oud hulle is of hoeveel silikoon hulle met hul saamdra nie.

Daar is versnaperinge en wyn – wit én rooi. Die southappies is amper te mooi om te eet en kunstig op borde uitgepak. In die agtergrond klink strelende musiek op en daar word gelag en gesels.

“Dis sowaar ’n partytjie,” fluister sy verwonderd in Roberto se rigting, “’n regte egte partytjie.”

“Ek sê jou mos. Dis net nie Tupperware wat verkoop word nie maar beauty and youth.”

Daarmee is sy doodtevrede. Ma het Tupperware-partytjies gereël en sommer genoeg nuttige bakke vir haar twee dogters ook gekoop om eendag te erf. Dis nou te sê as hulle daarin sou belangstel. Sy wat Emma is, voel eerder tuis hiér waar sy hoop om vanaand nog deur dokter Paul onder hande geneem te word.

Sy verkyk haar aan Roberto wie se hare so pynlik presies gestileer is dat dit soos ’n sintetiese pruik lyk. Die eweredige sonbruin van sy moddergladde gelaat is beslis toe te skryf aan talle sonbedsessies. Hy maak praatjies tussen die glasies wyn en versnaperinge deur en is so glad van mond soos ’n Amerikaanse evangelis.

“Dis net die fronsplooi op my voorkop wat my ’n bietjie pla,” sê sy onseker toe dit haar beurt is om by dokter Paul ’n draai te maak. Hy kyk uitdrukkingloos na haar. “En wat van die hoenderpootspore om jou oë? Kan jy daarmee saamleef?” Sy voel hoe haar wange warm word en vererg haar vir haarself. Hier sit sy tussen ’n spul zombies, die een so mooi soos die ander. Niemand wys enige emosie nie, maar sý voel verleë. Sy wens daar was ’n wondermiddel wat ’n mens daarvan weerhou om te bloos. Miskien ís daar … dalk moet sy vir Roberto vra. Sy wil hê haar masker moet volkome en volmaak wees.

“Kan dokter iets daaraan doen?” vra sy huiwerig.

“Natuurlik. Kom sit gerus.” Hy krap in sy toorgoed om net die regte hoeveelheid doepa vir haar te kry. “Botoks is niks anders as ’n spierverslapper nie,” stel hy haar gerus. “Dit keer dat ons allerhande lelike groewe op ons gesigte kry en lyk asof ons buite in die wind en die weer vergeet is.”

Sy voel ’n bietjie bang, want sy’s nie goed met inspuitings nie. Maar sy ken die motto van hierdie soort ding – no pain, no gain.

“Jy gaan ’n klein stekie voel,” waarsku dokter Paul, “maar dis gou oor. So oor ’n dag of wat behoort jy die resultate te sien.”

Roberto staan nader om haar hand vas te hou. Sy doen haar bes om haar soos ’n wasbeeld of ’n winkelpop te gedra, maar trek tog haar asem skerp in toe sy die prik van die naald voel.

“If your friends could see you now!” lag Roberto. “Not to worry, hulle gaan mal wees oor jou. Jy’s nou reg vir jou reünie, girl,” stel hy haar gerus toe sy effens dronkerig opstaan, maar darem nie op die punt om flou te val nie.

“Dis nie juis ’n reünie nie,” sê sy.

“Nou wat is die okkasie dan?”

“Dis … wel, dis eintlik ’n begrafnis.”

“ ’n Begrafnis?” Sy stem styg ’n oktaaf.

“Ja, Roberto, dis vir ’n begrafnis dat ek my so opdollie.” Sy weet dis verkeerd. Selfs haar haarkapper wat so open-minded is soos ’n Hollywood-ster is geskok in haar. Maar dis omdat hy nie verstaan nie. Niemand verstaan nie.

Dit is nie net haar inner child wat in opstand kom daarteen om verwese en verwaarloos op Stellenbosch aan te land nie. Daar is soveel meer … soveel skerwe van haarself wat sy agter haar nuwe voorkoms moet wegsteek.

“Wie se begrafnis is dit?” wil hy weet, ’n vraagteken op sy gesig, die botoks-inspuiting wat hy vroeër die aand gekry het ten spyt.

“’n Vriendin van my. Iemand saam met wie ek op varsity was. Die begrafnis is ’n week lank uitgestel sodat al die rich en famous tyd het om hulle sake te reël om daar te kan wees. Dis nou almal wat saam met ons studeer het en ’n sukses van hulle lewens gemaak het. Dit gee my kans om my ’n bietjie op te fix voordat ek in swart gehul daar opdaag.”

“Dit klink vir my meer na die social event van die jaar pleks van ’n begrafnis.”

Emma is nie doof vir die skok in sy stem nie. “Wel, jy kan vir jouself dink … Dis die eerste keer dat ons só bymekaarkom; die eerste keer dat ons saam begrafnis hou.” Sy sug effens. “Maar daar gaan nie nét begrafnis gehou word nie, Roberto. Daar gaan gekuier word ook. En gekyk word. En gewonder word. En geskinder word.”

“Jy … was seker baie na aan die oorledene,” peins hy, “as jy soveel moeite doen vir haar begrafnis.”

“Ek was eens op ’n tyd na aan haar,” sug sy afgetrokke. “Of so het ek geglo. Ek was lief vir haar, maar ek het haar ewe veel gehaat.”

Skielik is alles terug. Meteens staan die gebeure van die verlede lewensgetrou voor haar om haar te koggel en te tart …