Skip to main content

Uittreksel | Volmaansoene in Mauritius

Een

Zoey kyk die lughawebussie verlangend agterna toe die bestuurder met ’n wuif by die venster uit na Port Louis terugry. Die woorde op die sydeur: Aéroport International Sir Seewoosagur Ramgoolam, Mauri­tius, verdwyn saam met haar laaste wegkomkans om die eerste draai.

Haar hart trommel in haar ore. Pleks sy nooit uit­geklim het nie. Dan was sy amper weer op ’n terugvlug na haar klein dog praktiese meenthuis in Irene. Selfs Gauteng klink nou lekkerder as dié paradyseiland. Sy wil so graag nie hier wees nie. Nie hierdie dag wat Maandag is nie. Nie op dié pragtige plek nie. Nie vir ’n week lank nie. Nie naby aan die een mens wat haar hart ’n jaar gelede tussen sy twee groot hande verfrommel en weggesmyt het nie.

Liam du Bois.

Maar hoe kon sy haar beste vriende, Karel en Karools, se troue van die hand wys?

Sy gryp haar plus een se hand stewig vas terwyl hy die statige, koloniale hotel voor hom met sy diep­blou oë indrink. Hoe kan ’n man se hande so sag wees? En so vertroostend?

“Gilliaume. Jy beter my hand vir die res van hier­die week glad nie los nie.”

Dis ook nie reg dat ’n man so mooi is nie. Dik blonde hare by die blou kykers en ’n stunning lyf daarby, wat hy elke oggend in die gimnasium slyp tot ’n wapen van massavernietiging.

“En vir wat is jy gay? Ek het jou al lankal gesê jy is die ideale man vir enige vrou. Altyd goed ver­sorg, modegek, dol oor katte, lief vir emosionele uitrygsessies en tranetrekkerflieks en boonop ’n haarstilis.”

“Die mees gesogte haarstilis, actually wedding planner, in die Suidelike Halfrond, onthou? Vat ’n nommer en staan in die ry, meisiekind, ek kan jou nie sê hoeveel huweliksaanbiedinge ek al gekry het nie. Van die invloedrykste mans wat by my kom hare stileer, natuurlik. Die room van Gauteng se ce­lebs.” Hy gooi sy wit kuif agteroor.

“Ja, ja, ek ken die storie. Almal wat hul oë op jou lê, mans en vroue, sug van pure verrukking en be­geerte. Met rede.” Sy glimlag vir sy oormatige self­vertroue.

Hy grinnik en druk haar styf teen hom vas. “Jy kén my.”

“Onthou nou, dié is nie die Gilliaume-show nie. Probeer om net die helfte van jou sprankelende self te wees, anders gaan mense wonder.”

“Moenie bekommerd wees nie, skat. Ek sal jou rots wees in die swaar tye wat voorlê. Fors en manlik. Ons gaan daardie Liam-mannetjie ’n les leer. Hy mors nie met my bestie en kom weg daarmee nie.” Hy hou haar ’n entjie weg van hom af en bekyk haar. “Jy lyk self stunning met daai stywe jean en skouerlose toppie. Ek begeer al hoe lank jou welige bos sjokoladebruin hare en ligblou oë wat nou so groot soos pierings is. Dit gebeur net as jy angstig is. Ontspan. We’ve got this.”

“Ek is natuurlik flippen angstig. Die ding is, ek weet nie hoe ek gaan reageer as ek Liam weer sien nie. Hopelik is ek so koel soos ’n yskoningin en voel absoluut niks vir hom nie. In my kop het ek dit uitgemaak, ek is klaar met daai verneuker, maar sê nou net ek stort fisies inmekaar? ’n Mens se lyf het mos memory cells, en wanneer daai goed vir Liam sien of ruik, kan hulle my in die steek laat. Dis jou werk om my van myself te red, sou ek swak raak.”

Zoey is uitasem gepraat. Sy klou sy arm vas, dankbaar dat hy, al is hy skraal, tog gespierd is. Baie vroue het al by hom probeer aanlê sonder om te vermoed hy stel glad nie belang nie. Hopelik bluf sy almal om te dink Gilliaume is haar nuwe verloofde, en kan sy hierdie week met waardigheid agter die rug kry.

“Jy is sterk. Jy sal hierdeur kom. Met my hulp. Haal net asem.”

Ja, sy sal. Liam het buitendien lankal aanbeweeg, is dalk al getroud. ’n Jaar is niks vir ’n vrouejagter soos hy nie. Hy sou vir seker nie oor haar sit en huil het nie. Tien teen een was hy dankbaar toe sy hom soos ’n warm patat gelos het. Hy het dalk daardie hele insident met Siska met presiese tydsberekening beplan.

Sy dwing haarself om na die lieflike, ouwêreldse hotel omring met palmbome en groen grasperke te kyk. Aan die voorkant wink die helder blou oseaan en herinner haar daaraan dat sy natgesweet is van die vlug hiernatoe. Die see het nog altyd ’n manier gehad om haar te wil inkatrol. Hoe dieper, hoe lekkerder.

Karools en Karel kom by die groot houtvoor­deur uit, ’n kunswerk van ebbehout waarin ’n reuseboom gegraveer is. Hoe het sy nie na dié mense verlang nie!

Met ’n glimlag so breed soos die wye oseaan vou Karools Zoey in haar arms toe, haar wilde bos rooi­blonde hare in Zoey se gesig.

“Ek is só bly jy kon uiteindelik kom kuier, Zoey! Ek het my as af verlang na jou!”

Karel se lang arms vou van agter af vaderlik om beide van hulle. Sy wilde baard kielie ook nou Zoey se gesig.

“Welkom by La Grande Maison Coloniale!” sê die ligtekopreus trots. “Toe, wat het ons jou gesê? Ons het in twee jaar die fixer-upper uit die as gelig en tot haar glorieryke koloniale self herskep.”

“Dit is eenvoudig lieflik. Júlle twee is lieflik. Ek het so verlang!” sê Zoey tranerig. Hoe bly is sy om haar beste vriende weer te sien.

Nou moet sy boonop vir hulle jok. “En hierdie is my verloofde, Gilliaume Theron.”

Gilliaume staan nader, maak keelskoon, glimlag met sy skitterwit tande en sê: “Ek is van die The-rons, onthou? Soos in Charlize The-ron. Ek is bly ons kan uiteindelik ontmoet. Zoey kan nie oor julle uitgepraat raak nie.” Hy skud Karel se hand met ’n duidelik stewige greep en druk Karools styf teen sy bors vas.

Zoey knipoog goedkeurend vir hom. Tydens die vlug hiernatoe het sy aan hom verduidelik hoe kri­ties belangrik dit is dat sy almal oortuig hy is haar verloofde. Net vir die een week. Hulle moet vir Liam kan bewys dat sy aanbeweeg het, dat sy nie steeds oor hom en sy verneukery huil nie. Is dit al ’n jaar gelede? Miskien is haar hart gesond en hoef sy nie bekommerd te wees nie. Hopelik was al die slape­lose nagte en sensuele drome oor Liam die afgelope week net haar ooraktiewe verbeelding wat haar so vreesagtig gemaak het.

Vir die volgende uur vergeet sy gelukkig van haar eie probleme en word sy en Gilliaume op ’n ordentlike verkenningstog geneem om elke detail van die gastehuis-slash-hotel te waardeer. Daar is vyf kamers op grondvlak en vyf op die eerste ver­dieping, almal versier met antieke houtmeubels wat lyk of dit uit die koloniale era kom. En elke suite kyk uit op die blouste see waarop sy haar oë nog gelê het.

Hulle eindig by die hoofkuierplek van die hotel, ’n enorme stoep met ’n afdak wat heerlike lafenis bied op dié warm dag. Voor, waar die afdak eindig, is ’n langwerpige swembad wat die stoep van die strand skei. Die blou kalmeer Zoey se gemoed. Hierdie plek is ’n oase.

“Dis die lewe! Ek kan nie glo dat ek steeds in Gauteng bly nie,” sê Zoey met haar oë verlangend oor die rustige watermassa. “My droom was nog altyd om by die see te woon, en ek is op amper vyf en dertig steeds nie daar nie.”

“Ons trek môre hiernatoe, my skat.” Gilliaume hou nog die hele tyd haar hand vas en gee dit ’n stewige druk. “Ek is al veertig en wou ook altyd ’n seehuisie gehad het.”

“Daarsy, ek stem,” sê Karel.

“En ek stem. Hoe lekker sal dit wees as my beste vriendin hier langs my kom intrek? Ons kan jou joernalistieke vaardighede gebruik met die be­marking van die hotel.” Karools haal haar skouers op, maar haar oë blink opgewonde. “Just a thought.”

By die ingeboude kroeg aan die een kant van die stoep stop Karools en stel hulle aan die hotel se kroegman voor.

“Maurice is La Grande Maison Coloniale se mixoloog. En hierdie is my beste vriendin, Zoey, en haar verloofde, Gilliaume.”

Maurice glimlag verwelkomend, doen ’n toertjie met ’n bottel drank wat hy swierig in die lug op laat tol en weer in sy ander hand vang.

’n Besliste aanwins vir die hotel, besef Zoey. Hy is ’n aantreklike boorling van die eiland, so iewers in sy dertigs, skat sy, donker hare en ’n blas vel, wak­ker bruin oë en duidelik baie energie.

“Indrukwekkend!” sê Gilliaume.

En dis net hier waar Zoey besef sy gaan moei­likheid kry. Haar plan is toe nie so waterdig as wat sy gehoop het nie.

Oor die kroegtoonbank vou Gilliaume die ein­ste Maurice se hand in syne toe en kyk diep in sy oë. “Maurice van Mauritius. Ek hou daarvan.”

“Aangename kennis, Gilliaume,” sê hy ingenome. “Verskoon my, my Afrikaans is nog nie heeltemal op standaard nie, maar ek probeer.”

“En Zoey.” Sy verbreek die greep wat Gilliaume om die man se hand het en druk haar eie hand in Maurice s’n. Hopelik stop sy ook die intieme oog­kontak.

“Bly om te ontmoet, Zoey.”

“Maurice is onmisbaar hier by ons. Sy kennis van mengeldrankies is die beste in die wêreld. Ek is seker. Verras ons asseblief met jou spesialis ske­merkelkies. Enigiets met baie ys in, Maurice,” sê Karools en beduie na ’n houttafel omring deur ses stoele met geblomde kussings in die skadu van die stoep reg langs die swembad. “Kom sit. Ek wil alles van julle twee weet.”

“Wag nou eers met ons twee. Ek is so beïndruk met júlle twee se handewerk. In net twee jaar, Gil­liaume, het hulle die verwaarloosde hotel so pragtig reggeruk.”

Zoey gaan sit nie dadelik soos die res van hulle nie, maar staan en bekyk die lieflike prentjie voor haar. Die strand wat reg voor die swembad begin en die see wat tot in die oneindigheid strek, die bont versameling bootjies in die water en die son wat laag op die horison vir hulle vaarwel roep. Die hotel lê aan die westelike kus van Mauritius, skaars ’n halfuur se ry van Port Louis af. Elke sonsonder­gang behoort ’n ongelooflike skildery te verf.

“En hierdie uitsig gaan my hart steel,” voeg sy by.

“Ek het geweet jy gaan beïndruk wees, Zoey, jy was mos in ’n vorige lewe ’n meermin of iets?” spot Karel goedig.

“Dis ek daai. Die see roep my, maar in die laaste jaar was ek nie een maal met my voete in die sand nie. Dis net werk, werk, werk. My siel vergaan!” kla sy dramaties. “Vertel tog vir Gilliaume die hele storie van hoe julle hier geland het. Ek is so trots op julle. Toe, vertel.”

“Toe ek en Karools twee jaar gelede hier kom vakansie hou het, het ons onmiddellik op die plek verlief geraak, daarom . . .”

Karel se stem word een met die suising van die see.

Of is dit die skielike geruis in haar kop wat haar oombliklik duiselig laat voel? Die rede: die mans­figuur wat van die see se kant af aangestap kom. Zoey se keelspiere trek saam, sy wil sluk, maar daar is niks om te sluk nie. Die speeksel in haar mond het lankal opgedroog. Haar hart hou ook op om suurstof na haar brein toe te pomp.

Liam.

Die laaste strale van die son skilder sy bruin bolyf in ’n goue gloed. Die knielengte swembroek kan kwalik sy welgevormde bobene wegsteek. Sy onthou. Haar lyf onthou. Die verlammende gevoel wat deur haar liggaam trek, is so onverwags dat sy skaars op haar bene kan bly staan.

Ruk jouself reg, Zoey, raas sy. Moenie vergeet wat hy aan jou gedoen het nie.

Die gedagte vorm ’n galbitter smaak in haar mond. Die prentjie van Liam met die bikinimodel in sy arms. Die soen. Die insident wat haar lewe uit sy wentelbaan gegooi het. Die vernedering. Die te­leurstelling. Die ineenstorting van haar drome, haar prentjiemooi toekoms saam met Liam.

Tog kan sy haar blik nie van hom af wegskeur nie. Hy kom reguit op haar afgepyl, sy donker kuif nat oor sy gesig, sy geelbruin oë op haar gefokus. ’n Luiperd wat sy prooi met lang, rustige treë bena­der. Die jagter wat weet die prooi is te lam om te beweeg.

Haar hart het intussen weer begin klop. Dié keer te vinnig. Haar asem is nou vlak. Adrenalien wat deur haar brein vloed, immobiliseer haar totaal en al.

Reg voor haar stop hy. Te naby vir wat goed is. Die gewone kuiltjies in sy wange wat sy so goed ken, is nie daar nie. Geen glimlag nie. Net ’n frons.

Hy behoort haar met ope arms te ontvang, te verwelkom met ’n rooi tapyt, vir haar eksotiese drankies aandra en om verskoning smeek. Wat hy aan haar gedoen het, is laakbaar. Twee weke voor hul troudag.

“Hallo, Zoey.”

Dis asof hy gister nog met daardie hees stem in haar ore gefluister het, mooi woorde, leë beloftes.

Hoe sy dit regkry, weet sy nie, maar deur haar droë lippe kom ’n antwoord: “Hallo, Liam.”

Sy kan die see aan hom ruik, so naby aan haar staan hy. Die uitdrukking in sy oë kan sy nie uit­maak nie. Dis broeiend, soos ’n donderstorm wat enige oomblik gaan losbars. Asof h’y rede het om so te voel. Hopelik lees hy in haar oë net walging en afsku. In hierdie oomblik het sy geen beheer oor enigiets nie, nie oor haar hartklop nie en ook nie oor enige fisiese reaksie nie. Daar is net ’n doodse verlamming.

Wat sy beslis nie verwag het nie, is dat hy sy hand agterom haar kop plaas en haar gesig nader­trek. Die intieme soen vang haar heeltemal onkant. Dis wel kortstondig, ’n tipe groet, maar sy wil soveel meer daarin lees. ’n Diep verlange? Onderdrukte passie? Of is dit net wat s’y daarin wil sien? Is sy nog  nie oor die man nie? Nee, sy is, hy het haar net ver­ras. Negatief verras. As daar so iets is. Hy is immers beslis oor háár. Al drie honderd vyf en sestig dae gelede.

Sy ruk haar kop weg, amper asof vuur haar ge­brand het. Hierdie eiland was dalk tien miljoen jaar gelede deur vulkaniese aktiwiteit gevorm, maar dit voel asof haar liggaam nou lawa produseer. Haar binnegoed smeul vuurwarm, maar haar beendere is stokstyf gevries.

Hoekom bewe sy so? Is dit pynlike verlange? Walging? Niks maak nou sin nie.

’n Warm arm gly van agter af om haar skouers, red die situasie.

“Gilliaume The-ron,” sê haar plus een met ’n dieper stem as normaalweg.

Liam se verbaasde blik verskuif na die man langs haar en sy hand gaan outomaties uit om Gil­liaume s’n te skud.

Zoey sien hoe beide mans se kneukels wit uit­slaan soos wat hulle mekaar se hande druk, me­kaar se krag meet.

Ja, laat jy maar verbaas wees, Liam. Ek het aan­beweeg, sê sy vir haarself en vir hom in haar gedag­tes. Skielik wonder sy of die destydse model s’y plus een is. Het hy met haar getrou? Hulle sou seker ’n mooi paartjie maak, en mooi kinders, beide pragtig. Oppervlakkig en vol van hulself. Sy sluk die bitter emosies weg.

“Gilliaume is my verloofde,” sê sy onnodig en hou haar ringvinger outomaties in die lug. Dis ’n erfstuk. Haar ouma se trouring, ’n stewige diamant met ’n klompie kleintjies rondom gemonteer. Hopelik hoor Liam nie die benoude klank van leuenagtigheid in haar stemtoon nie.

“Baie geluk,” sê Liam eenvoudig. “Aan beide van julle.” Sy hand klem nog om Gilliaume s’n.

“Kom sit, julle, hier is ons skemerkelkies,” red Karools die situasie.

Sy is immers een van min wat die hele storie ken. Zoey kry effe skaam oor die vele aande wat sy en Karools oor video-oproepe gesit en kuier het. Sy het saam met Zoey gehuil en gewonder wat gebeur het dat Liam iets so laakbaars kon doen.

Almal gaan sit en vir ’n oomblik is daar stilte. Net die oseaan fluister sy nimmereindigende lied van trane en hartseer.

Terwyl die geklets oor die hotel en die ontwik­kelings in die area weer aangaan, klou Zoey Gilliau­me se hand op haar skoot vas. Hy druk ’n soen teen haar slaap en sy voel kalmer.

Gelukkig hoef sy nie haar liefde vir die man aan te dik nie. Hy is soos die broer wat sy nooit gehad het nie. En die suster. Sy glimlag dankbaar in sy oë op. Hy knipoog vir haar.

Dan vang sy Liam se broeiende oë op haar en weer eens neig haar hart om weg te hol. Haal asem. Haal asem.

Natuurlik sal hy oor haar wonder. Hulle het mekaar nooit ná daardie dag weer gesien nie. Hy het haar ’n honderd maal probeer bel. Sy het hom geïgnoreer. Hy het tekste gestuur. Vertel dat dit wat sy gesien het nie is soos wat sy dink nie.

Sy het gesien wat sy gesien het. Dis dit. Nooitooit sal sy daardie beeld uit haar geheue kan kry nie. En dit op die dag wat sy hom wou vertel van die lieflike trouvenue wat sy gevind het. Op kort kennisgewing. Sommer klaar bespreek vir die dag waarop hulle saam besluit het. Die eerste Septem­ber verlede jaar. ’n Strandtroue.

Nou trou Karools en Karel op dieselfde datum. Toevallig. Lentedag. Die dag wanneer blomme en bloeisels nuwe lewe en ’n nuwe seisoen aankon­dig. Hoop. Vernuwing. Geluk.

Sy byt op haar tande, want skielik wil haar trane loop. Met bonatuurlike krag stop sy dit. ’n Groot sluk van haar bont skemerkelkie help haar om op die geselskap te fokus.

“Hoe het jy en Gilliaume ontmoet, julle het nog nie vertel nie?” vra Karools.

Met ’n geforseerde glimlag luister sy hoe Gilliau­me vertel van hul ontmoeting. Dis alles die waar­heid.

“Die pragtige donkerkopmeisiekind het my kom sien om te help met die reëlings vir haar komende huwelikseremonie.” Hy kyk met ’n opgetrekte wenkbrou na Liam wat hulle twee broeiend aankyk. “Jammer as ek nou ou koeie uit die sloot grawe, maar dis die feite. Ek besit ’n besigheid wat jou hele troue organiseer, van die rok en die blomme tot die hare en die naels. En selfs die foto’s en video’s.”

“La Rose Rouge.” Zoey kry haar stem terug. “The Red Rose. Daar was net een ontmoeting met Gilliaume voordat, julle weet, die troue skielik af­gestel is.” Sy weier om na Liam te kyk, lig liewer Gilliaume se hand op en druk ’n soen op sy kneu­kels. “Toe ek hom weer sien om die troureëlings te kanselleer, het ons net gekliek.”

“Daardie ysblou oë van haar het my ingekatrol. Trane en al. Ons het deurnag gesit en gesels, oor ’n hele paar bottels rooiwyn. Gepraat oor alles en nog wat. Die sin van die lewe. Die liefde. Die pyn. En ja, van toe af was ons onafskeidbaar.” Gilliaume kyk liefdevol in haar oë. “Ek moet eintlik vir Liam dankie sê.”

Sy kan nie help om warm vir hom te glimlag nie. Hy speel sy rol volmaak.

’n Ongemaklike stilte.

Sy kyk op. Skrik toe sy die verterende drif in Liam se kykers opmerk.

“Ek sien,” sê Liam eenvoudig. Sy kaakspiere klem bultend op mekaar. “Alles is nou vir my duidelik.”

Wat sien hy? Wat is duidelik? Zoey se brein soek nou alle kante toe.

Daar is niks om te sien nie. Net Liam en sy model se vryery. Dis al.

Sy sluk die drankie met een teug weg. Hokaai nou. Daardie middagete op die vliegtuig was vroegbedien en is lankal verteer. Haar maag is dol-leeg.

“Kan ons nog van dié heerlike drinkgoed kry?” vra sy vir Karools.

“Absoluut,” sê sy, duidelik verlig dat die span­ning gebreek word.

“Nog ’n rondte, asseblief, Maurice!” roep Karel opgewek uit. “Die mense is dors.”

’n Uur of wat later word aandete bedien, en ’n paar hotelgaste kom sit aan by tafels waarop olielampies romanties flikker.

Onder ander omstandighede sou Zoey die lief­like eilandatmosfeer meer waardeer het. Die hui­sies en hotelle se liggies orals om die kus, wat in die verte soos sterretjies skyn, sou haar romantiese hart vlerke gegee het. Die venue wat sy vir haar en Liam bespreek het, was net so lieflik. Dit sou iewers langs die Weskus op ’n strand gebeur het. Gilliaume was bereid om hulle daar by te staan met reëlings. Nog ’n rede waarom sy nie verby die diep hartseer in haar hart kan kyk nie. Hier sit sy ’n jaar later by ’n byna identiese trouvenue.

Sy doen haar bes om te bly glimlag, die geselskap te geniet en om Liam se opmerklike stilswye te ignoreer. Hy is dan altyd die hart van die geselskap, die joviale een vol grappe en praatjies.

Nou vervul Gilliaume daardie rol. As daar nou een ding is wat hom plesier gee, is dit gesels. Dis gelukkig altyd interessant, want sy sin vir humor is ’n treffer.

Sy luister met ’n halwe oor na sy staaltjies oor vreemde huwelike waarmee hy in sy besigheid te doen gehad het, die hoogtepunte en laagtepunte, die mislukkings en die suksesse. Almal lag vir sy kwinkslae.


Later gaan hulle kamers toe. Sy en Gilliaume is in een kamer ingedeel. Dis geen probleem vir haar of vir hom om in een bed te slaap nie. Hy is immers haar beste vriend én vriendin.

Die meubels in die kamer is van swaar embuia­hout gemaak en die bed het ’n houtraam waarom ’n muskietnet gedrapeer is. So romanties.

Vir ’n oomblik sien sy haarself en Liam daarin, soos die droom verlede jaar dié tyd was. Stop dit. Dis verby. Nooit weer sal sy daardie man kan vertrou nie. Dis die ding van ’n Sagittarius, oftewel, ’n boog­skutter, sy spring dalk impulsief in ’n nuwe uitdaging in, met oop arms, maar as dit nie werk nie, bons sy gelukkig maklik terug. Toe Liam haar vra om te trou, het sy onmiddellik ja gesê, dit was op ’n staproete aan die Wildekus. Sommer gou, het hy gesê. Hy wil die res van sy lewe saam met haar spandeer. Sy wou hare met hom deurbring. Hulle moes vinnig reëlings tref. Die eerste September. Dit sou die ideale dag wees.

Haar hart krimp ineen, maar net so ’n bietjie, want sy is mos oor die man. Ná die insident met Liam en met Gilliaume se hulp het sy haarself opge­tel, in haar beroep verdrink en kon sy groot werks­bevrediging ervaar. Nog ’n eienskap van ’n boogskutter. Sy het sterk wilskrag.

Sy het haar bes gedoen om weer haar ou self te wees. Vol selfvertroue, nuuskierig oor die lewe – ’n tipiese joernalis – en iemand met ’n vry gees vol avontuurlus. Liam kon dit nie van haar steel nie. Of het hy? Die laaste jaar was seker die verveligste tyd van haar lewe, veral werksgewys. Was dit nie vir Gilliaume wat sy bes gedoen het om haar sosiaal besig te hou nie, was sy elke aand vroeg in die bed met ’n boek.

“Dankie, Gilliaume, jy het my vanaand ’n paar keer van myself gered,” sê sy nadat sy in die aan­grensende badkamer gestort het, haar slaapklere aangetrek het en nou haar tas uitpak.

“Plesier, my skat. Ek verstaan heeltemal. Daar­die Liam is ’n aantreklike blikskottel. Ek kan net dink hoe jy moet voel.” Hy pak sy perfek gevoude klere in die laaikas, maar draai eers na haar toe om haar styf teen hom vas te druk. “Ek is hier vir jou as jy jou hart wil uitpraat.”

“Dankie. Ek weet nie wat ek tans voel nie. Ek het só gehoop dat ek ná ’n jaar genees sou wees, maar dis nou van voor af seer.” Sy maak haar los uit sy arms en hang haar klere in die hangkas. “Juis omdat hy nooit die affair of affairs wou erken of vir my jam­mer wou sê nie.”

“Dit was net ’n skok, die weersiens. Jy sal hieroor kom. Gee dit net ’n dag of twee tyd. Jy sal sien, Zoey. En ek is hier om jou deur die maze van gevoelens te help.” Hy druk ’n soen op haar wang en verdwyn die badkamer in. Die deur gaan toe en sy hoor stort­water loop.

Later kom hy uit met ’n lang satynslaapbroek en -hemp aan. Hy kom lê langs haar op die bed en trek ’n masker oor sy oë.

“Lekker slaap, my verloofde,” sê hy en draai sy rug op haar. Binne minute hoor sy sy rustige asemhaling.