Skip to main content

Uittreksel | Volbloedvrou

Een

“Oom Danny, is jy seker jy sal regkom met die fisioterapeut?” Lexi maak haar motordeur vasbeslote toe, maar laat dan weer haar ruit haastig sak. “Sal jy haar mooi vertel my ou hond is nie meer so jonk nie en die heupe begin ’n probleem raak? Sien jy regtig kans om die ander honde ook elkeen vir ’n kort stappie te neem?” Dis die eerste keer dat sy haar oom vir ’n hele voormiddag in bevel van haar “dieretuin” moet los. Sy het behoorlik ’n naar kol op haar maag van senuwees. Is dit senuwees oor haar geliefde oom se vermoëns as hondeversorger of oor haar eie vermoë as openbare spreker? Sy weet sowaar nie. Daar is egter net een manier om uit te vind: Hulle moet albei doen wat hulle veronderstel is om te doen en hoop dit werk goed uit.

“Maar sie jy nou so staan en tyd mors, kind!” Oom Danny trek sy ronde lyfie regop en gee vir Fifi die hoeveelste soen van die oggend. “Netnou is jy nog laat ook, asof jy nie genoeg bekommernisse het nie.” Die brakkie vly haar net stywer teen hom aan en kyk met aanbiddende uitpeulogies na hom op.

Sy bekommer haar nie net oor die bejaarde Duitse herdershond met die verswakkende heupe nie, maar ook oor haar oom wat die honde so soen. “Oom, jy moet onthou waar lek daai bekkie wat jy so staan en soen oral, hoor!”

“Kindjie, los jy maar vir my en Fifi uit. Ek het vanoggend persoonlik haar tandjies silwerskoon geborsel.” Die toiingrige straatbrakkie kry summier nog ’n soentjie, maar hierdie keer darem tussen die parmantige, regop oortjies.

“Geborsel? Hoe op aarde het jy dit reggekry?” Sy kry nog nie eens die potsierlike dingetjie se stekelrige hare behoorlik geborsel nie, wat nog te sê haar tande bykom. Hoe lank Fifi op straat was, weet niemand nie, maar maniere het sy nie eintlik nie, en sy is ook nie baie lus vir leer nie. Sy is wel lus om getroetel en bederf te word, en dit doen oom Danny met oorgawe. Dit kan ’n probleem raak wanneer Fifi reg is om na ’n goeie huis te gaan. “Foster fails” is deesdae hoogmode, waar die pleegouer uiteindelik die diertjie aanneem. ’n Emosionele besluit oor ’n dier kan egter later op ’n mens boemerang.

“Moenie die boer die kuns afvra nie, Lexi. Kry nou jou ry en gaan betower die anties van die Weskus.”

Hy weet goed sy is doodbang vir die “anties” van die Weskus. Tot dusver het sy haar werkswinkels oor meditasie en bewustelikheid nog net in die Boland aangebied, waar ’n wye verskeidenheid mense dit bygewoon en geniet het. Sy vermoed egter haar gehoor gaan vandag ’n goeie klompie geharde boervrouens insluit, en sy is nie so seker van hulle reaksie nie. Haar ouma Alexandra was ’n stoere boervrou van die Karoo en sy het nie geduld gehad met wat sy sommer gou “nonsies” genoem het nie. Die mindfulness, meditasie en joga waarmee Lexi haar lewe maak, sou beslis as “nonsies” geklassifiseer gewees het.

“Oukei, oukei, ek ry, maar Oom moet onthou om daai fisioterapeut te bel, hoor. Ons het nou regtig hulp nodig met Hilde, en die Alex-vrou klink vir my na die beste persoon in ons omgewing.” Sy moes die vrou natuurlik persoonlik gekontak het, maar die waarheid is dat sy so angstig was oor vanoggend se werkswinkel dat sy eintlik te veel tyd aan haar voorbereiding bestee het en te min aan ander dinge in haar lewe.

“Ag, dis maar net oor julle naamgenote is wat jy haar gekies het. Maar ek sal haar laat kom en haar goed uitkyk.” Fifi se voorpootjie word in ’n kamma-groet in Lexi se rigting gewaai. Na Lexi sou sy waarskynlik gehap het, maar vir oom Danny laat sy enigiets toe. Lexi kan haar so verwonder aan sy slag met honde. Dat sy met haar vraggie pleegbrakke hier by hom op sy kleinhoewe kon kom intrek, is sowaar die grootste geluk wat haar nog getref het. “Toe, toe, kry jou ry!”

Reg, dis wat sy moet doen. Mindful wees, in die oomblik bly, haar asemhaling rustig hou. Soos altyd werk dit goed. Sy konsentreer op die boodskappe wat haar sintuie vir haar stuur: die blou-blou lug, die verskillende skakerings van roomkleur en bruin van die Swartland se stoppellande, die gevoel van Drienie, haar motortjie, se stuurwiel onder haar hande, die verandering in haar karretjie se dreuning as hulle ’n bult aandurf.

Dis hoekom sy onmiddellik die vreemde geluid oplet. Sy weet dadelik dis ’n band, links agter, presies op die mees verlate stukkie van die pad. Gelukkig hoef sy nie hier in die oggendson te staan en wag op beter dae nie. Sy weet wat om te doen en sy kan dit vinnig en flink doen. Vinnig en flink sal dit moet wees, want sy het alreeds te lank by die huis gedraai. Sugtend klim sy uit en inspekteer die band met haar hande in die sye. Jip, hy loop vinnig af. Dankie tog, sy het onmiddellik gestop en nie eers die band flenters gery nie.

Net toe sy behoorlik punt in die wind met die moere staan en stoei, hou ’n bakkie agter haar stil. Sy gee die man wat uitklim net ’n skrams kyk, beduie dan hy kan maar ry, sy is oukei. Sy is meer as oukei, dankie, behalwe vir die feit dat haar rok se hals skeefgetrek het en die man vermoedelik meer sien as wat hy veronderstel is om te sien. Sy is trots op haar bates en beslis nie skaam vir hulle nie, maar aan blatante uitstalling glo sy nie.

Die voetstappe hou egter aankom, kom dan langs haar tot stilstand. “Gee dat ek help.” Die stem is manlik en diep, nogal gerusstellend. As sy gerusstelling sou nodig gehad het.

“Nie nodig nie, dankie.” Die laaste moer is los. Sy kom orent, onthou net-net betyds om nie haar hande aan haar rok af te vee nie. Toe sy reguit na hom kyk, gaan hulle gelyktydig aan die lag. Sy oë is baie blou en sy hare is . . . wel, baie rooi. Nes hare. Dit weet sy: Selfs in hierdie dae van wokeness waar almal meer regte het as wat hul soms kan hanteer, word rooikoppe steeds dikwels tot vervelens toe gespot.

“Ek is Wortel.” Sy handdruk is ferm, sy glimlag stout en sy boarmspiere beur teen die moue van die T-hemp.

“Ek is Red.” Sy kan nie help om terug te glimlag nie. “Op skool was dit Rooies, wat om een of ander rede erger klink as die Engels.”

“Dankie tog, ek was nooit Carrot nie!”

“Klein genadetjies, nè?”

“Jip,” glimlag hy. “Kan ek gou vir jou klaarmaak hier? Al weet ek jy kan dit self doen?”

“Oukei, dankie.” Dis heel aangenaam om te staan en kyk hoe ’n gawe man jou band omruil, al kan jy dit baie goed self doen. Hy is nogal aantreklik ook, al is min dinge vir haar minder aantreklik as ’n rooikopman. Sy weet dis diskriminasie, want sy het vrede met haar eie rooi hare. Dis eenvoudig hoe dit is – ’n rooikop plus ’n rooikop kan niks goeds beteken nie. Dis eenvoudig te veel van ’n goeie ding. Dit beteken egter nie sy mag nie die man se breë skouers en mooi voorarms oplet nie. Sy het nog altyd ’n swak vir sterk voorarms gehad. Bultende boarmspiere is oukei, maar goedgevormde voorarms maak haar bene so effens lam.

“Thanks, Carrot,” groet sy toe hy terugstap na sy bakkie toe.

“My plesier, Rooies.” En weg is hy. ’n Besige man wat dalk ook amper laat vir ’n afspraak is.

Skielik lyk die stoppellande rondom haar ekstra vaal en voel sy ’n klein bietjie verlate. Net vir ’n oomblik, toe is sy in haar motor en op die pad. Sy is self ’n besige vrou wat amper laat is vir ’n afspraak.


“Dankie tog, ek het oorleef!” Lexi trek vir Drienie onder die lieflike ou akkerboom in, klim uit, strek haar stram litte lekker en trek die rekkie en knippies uit haar hare. So ja, dit voel mos beter. Sommer die skoene ook uitskop. As sy alleen gebly het, het haar bra ook nou gewaai. Haar oom het nou wel nie ’n bekrompe haar op sy amperkaal kop nie, maar sy wil hom darem ook nie te ver druk nie.

Met die uitklimslag word sy feitlik verswelg deur haar blaffende, stertswaaiende verwelkomingskomitee. Dis soos sy vermoed het: Oom Danny het die pleeghonde uit hulle kampie laat kom en die tuin laat oorneem. Al haar pogings tot dissipline is waarskynlik daarmee heen. “Toe nou, julle, bedaar!” Met haar swaaiende skouer- en rekenaarsakke, skoene in die hand en los hare wat oor haar gesig val, lol dit om almal ’n kopvryfie te gee. Sy doen nogtans haar bes. Eers toe sy by die voordeur insukkel sonder dat die hele klomp ook instorm, besef sy Hilde is nie by nie. Sy skrik so ’n groot skrik dat sy summier haar sakke op die naaste stoel laat val. Hilde is nie een van haar pleeghonde nie, maar haar eie metgesel vir baie jare. Die dierbare ou hond is op ’n manier nog ’n band met haar ouers, iets om aan vas te hou, al was daar destyds heelwat konflik met haar koms. Hoekom het sy so verwerp gevoel toe haar ouers emigreer? Dalk is dit net omdat dit vir haar so verkeerdom voel. Dis mos vervlaks die jongmense wat emigreer, nie die oues nie. Sy is te vas aan hierdie land om ooit weg te gaan. Haar ouers het egter net eendag aangekondig hulle het nou genoeg gehad van misdaad en korrupsie, en die oorvloedige sonskyn is nie meer genoeg om hulle hier te hou nie.

“Hallo, Rooies!”

Sy skrik haar hare sweerlik nog ’n skakering rooier en swaai so vinnig om dat haar skoene uit haar hand vlieg en amper die man op die vloer tref. “Wortel? Wat maak jy hier?” Die simpelste vraag denkbaar, want dis baie duidelik wat hy doen. Voor hom lê haar geliefde Hilde salig uitgestrek op ’n matjie terwyl hy die ou heupe en rug sistematies masseer.

“Ek wou jou dieselfde vra,” grinnik hy, “maar nou weet ek. Hilde, groet maar eers jou nooi, dan kan ons verder gaan.”

“Wag, wag, sy staan moeilik op.” Lexi gaan sit sommer plat by die ou hond se kop en vryf die ore tot sy weer rustig word. “Ek is hier, alles is reg, en hierdie man gaan dit vir jou beter maak,” belowe sy. “Wel, ek hoop so.” Sy gee hom ’n moedswillige kyk. Sy het hom wel op die internet nagevors, maar ’n mens weet nooit – daar is deesdae oral skelms wat hul as iets anders voordoen as wat hulle regtig is. Haar navorsing was in elk geval nie so danig goed as sy nie eens agtergekom het Alex van Aarde is ’n man nie. Die gedagte dat sy onbewustelik aanvaar het ’n fisioterapeut sal noodwendig ’n vrou wees, skuif sy ferm na agter. Sy het dan juis ’n broertjie dood aan rigiede rolle vir mans en vroue, hoe kon sy so ’n oordeelsfout maak? Die feit dat sy nie sy bakkie voor die deur herken het nie, ontstem haar nog meer. Sy het maar net aangeneem dis iemand wat by oom Danny kuier.

“Toe is Alex van Aarde die hele tyd ’n man!” lag oom Danny van die kombuis se kant af. “En jou wragtig nog ’n rooikop ook!” Hy kom sit die skinkbord op die koffietafel neer en gee ’n bordjie met ’n yslike stuk sjokoladekoek vir Lexi aan. “Boonop het hy koek gebring.”

“Ná al die gesonde happies wat ek vanoggend inhet, sal so ’n stuk sonde goed afgaan.” Sy gee vir Alex weer ’n moedswillige kyk. “Ek wonder net hoekom ’n professionele persoon met koek by ’n nuwe kliënt aankom? Is dit witvoetjie soek? Of is dit om die aandag van sy gebrek aan vaardigheid af te trek?”

Sy hou hom fyn dop vir tekens van die vinnige humeur waarvoor rooikoppe berug is. Dit lyk egter nie of hy eens haar moedswillige woorde gehoor het nie, want sy aandag is by Hilde. Sy kan nie help om die hande op te let wat so sag met die hond werk nie. Sterk hande wat by die gespierde lyf pas, maar hande wat saggies en vaardig vat. Die onverwagte gedagte aan daardie paar hande op haar lyf laat haar vuurwarm van pure skok word. Waar op aarde kom dit nou vandaan? Sy steek summier ’n ordentlike hap koek in haar mond en word onmiddellik sommer op nog ’n paar plekke vuurwarm. Hierdie een is nie jou gewone tjoklitkoek nie, dit is ’n absolute smaaksensasie. ’n Baie sensuele smaaksensasie. Nie te droog nie, nie te klam nie, met die versiersel ’n romerige droom wat haar oë van genot laat toegaan.

“Dis ’n lekker side hustle, soos hulle deesdae sê,” onderbreek Alex haar skandelike gedagtes. “’n Manier om ’n ekstratjie in te bring terwyl ek my besigheid vestig.”

Sy kom met ’n ligte slag aarde toe. “Jy verkoop koek? Is dit nie ’n vreemde aktiwiteit vir ’n fisioterapeut nie?”

“Dis die logiese ding vir iemand wat lief is vir bak.”

“Wat? Jy’t dit self gebak?”

“Jip.” Hy gee haar ’n vinnige kyk, een wat vra van wanneer af mag mans nie koek bak nie. Dan is sy aandag weer by Hilde: “So ja, oubaas se honne, dis nou eers genoeg. Ons wil nie hê die ou lyf moet môre seer wees nie.” Toe hy sy aandag terug na Lexi verskuif, is hy weer die professionele persoon vir wie sy kliënt eerste kom. “’n Mens kan nie veel aan die heupprobleem doen nie, maar met ’n gereelde fisiosessie kan ons haar gemakliker maak. Dit behoort haar pyn te verminder en haar beweeglikheid te verhoog.”

“Ek wil nie hê sy moet swaarkry nie.” Lexi bly net daar sit in die poel van haar lang rok vol sonneblomme wat sy vir ekstra energie aangetrek het. Sy voel so effens oorweldig. Die man wat vanoggend haar band help omruil het, is nie net ’n rooikop met feitlik dieselfde naam as sy nie, hy is ook Hilde se nuwe fisioterapeut en ’n uitmuntende bakker daarby.

“Dis wat ek kan doen – haar oudag vir haar gemakliker maak. Sien jou weer, Lexi!” Hy knipoog jou wragtig vir haar met die groetslag. Of dalk is dit pure verbeelding, miskien was daar bloot ietsie in sy oog. Dit voel vir haar of haar kop so effens draai. Is dit van te veel suiker? Sy steek summier nog ’n happie koek in haar mond terwyl sy net daar bly sit en kyk hoe oom Danny saam met Alex voordeur toe stap. Die man is nie sleg aanmekaargesit nie, hoor. Baie spiere op die regte plekke. Nie oordadig opgepompte spiere nie, net mooi reg na haar smaak. ’n Kragman wat koek bak? Kan jy nou meer! Maar nou ja, sy is mos juis nie een vir die ou, deurgetrapte rolle van mans en vrouens nie. As sy haar kar se band self kan omruil, kan hy sekerlik maar bak as hy so voel. Dit het absoluut niks met haar uit te waai nie.

“Dit was nou vir jou ’n lekker verrassing, of hoe?” Oom Danny kom met ’n groot glimlag van buite af in. “Hilde se fisio is toe ’n rooikop én jou naamgenoot. Kan jy nou meer?”

Lexi staan van die vloer af op en trek haar rok reg. Sy hoop nie die man het al weer meer van haar rojale kurwes gesien as wat hy veronderstel was om te sien nie. Hy het sekerlik op haar afgekyk toe hy opstaan nadat hy met Hilde klaar was. Terwyl sy op die vloer bly sit het soos een wie se bene letterlik onder haar uitgeslaan is. “Hoekom is dit nou juis so ’n lekker verrassing, oom Danny?” Vir haar was dit meer van ’n skok as ’n verrassing.

Die oom vat haar bordjie by haar en gaan sny vir elkeen van hulle nog ’n stewige stuk koek in die kombuis. Toe hy oorkant haar kom sit en die eerste happie vat, gaan sy oë eintlik toe van plesier. Sou hy dit ook soos sy as ’n sensuele ervaring beleef? Darem seker nie – hy is haar ma se oudste broer, so hy moet omtrent sestig wees. Kry ouer mense ook nog sulke gedagtes? Sy kan hom natuurlik vra, maar dit sal darem te voorbarig wees. Hy is alles wat ’n mens nié van ’n sestigjarige verwag nie, maar daar is darem grense ook. Sy bly dus stil en geniet die skepping van die rooikopfisio met wie sy ’n naam deel.

“Hoekom dit vir my ’n lekker verrassing is?” Oom Danny glimlag oor sy bordjie koek na haar. “Jy weet mos ek hou van iemand wat ’n bietjie buite die ou, uitgediende grense beweeg.”

“Jip, Oom het my mooi geleer.” Sy kan sweer as ’n mens fluweel kon eet, het dit soos hierdie koek gesmaak. Sag, sensueel, verleidelik. Hemel, dat sy nou op ’n warm Maandagmiddag oor ’n stuk tjoklitkoek sit en fantaseer. Dis mos darem nie hoe sy haarself ken nie. Sy was nog nooit die tipiese rooikop wat nie haar humeur of haar emosies kan hanteer nie. Nee, sy gaan waardig deur die lewe en dis wat sy haar kliënte ook probeer leer: Leef in die oomblik; beheer die warboel in jou kop deur in krisisoomblikke op jou asemhaling te konsentreer; beweeg jou lyf om van ongewenste spanning ontslae te raak. Wel, dis te warm vir ’n stywe jogasessie en sy het reeds vroegoggend haar gewone vyf kilo’s gestap. Tot dit laatmiddag koeler word, is sy dus op haar asemhaling en op die koek aangewese. Vervlaks of sy ’n derde stuk gaan eet. ’n Meisie het darem haar selfrespek ook, al was dit nog nooit haar droom om ’n plankdun klerehanger te wees nie.

“Hoe lyk dit dan vir my dié mannetjie beweeg ’n bietjie te ver buite die grense na jou smaak, Lexi-kind?”

Sy weet goed dié oom van haar kyk én voel veel dieper as wat sy joviale voorkoms ’n mens laat verwag. Hier verras hy haar egter, soos dikwels tevore.

“Dit kan seker wees, ja,” gee sy toe. “Dat ’n man ’n fisioterapeut kan wees, is alreeds ’n verrassing. Die fisio’s wat ek al ontmoet het, was almal meisies.”

“Hoeveel van hulle het jy altemit al ontmoet? Jy kyk mos mooi na jou lyf. Ek het nog nooit gehoor jy’s beseer nie, al knoop jy jouself in allerhande vreemde posisies met die joga.”

Sy raak sommer week van die ou komplimentjie. Dis nou tipies van oom Danny om iets moois oor enigiemand te sê as hy die kans kry. Sy mag vyf en twintig jaar oud en selfstandig wees, en haar ma duisende kilo’s ver in Engeland, maar Lexi wens steeds dié kon ’n ietsie hê van haar broer se vermoë om altyd die beste in iemand uit te lig. Sy spring summier op en gaan gee haar “oompie” – soos sy hom liefdevol in haar gedagtes noem – ’n stewige druk. “Dankie, my oompie! Jy bly maar ’n skat!”

Hy vryf laggend oor sy magie. “Oompie? Daarvoor is hier ’n bietjie te veel van my, of hoe?”

“Jy kan altyd soggens saam met my kom stap, hoor.” Die dag as dit gebeur, gaan ’n hele paar perde definitief horings hê.

“Ons kan so ’n plannetjie maak,” verras hy haar, “maar dan moet jy nou eers vir my vertel hoekom ontstel ’n gespierde man wat sulke ongelooflike koeke kan bak jou so?”

Haar bordjie klater op die koffietafeltjie langs haar neer. “Ek is g’n ontsteld nie, oom Danny! Die man is net vir my effens weird, dis al.”

“Weird is goed, my kind. Weird is uniek, onkonvensioneel, individualisties.”

Sy sug, tel ’n laaste krummeltjie met haar voorvinger op en lek dit behaaglik af voor sy opstaan om hulle bordjies kombuis toe te neem. “’n Rooikop wat Wortel genoem word, is ’n cliché, oom Danny. Niks uniek daaraan nie.”

“Dis uniek genoeg as hy vrede het met byname en die skerp sin vir humor wat hom jou dadelik as Rooies laat groet het.” Oom Danny se glimlaggie sê meer as wat sy onskuldige stemtoon sê. “Dit gee my ook die gevoel julle twee het mekaar al tevore gesien, want hoe sou hy geweet het jy haat die Rooies-naam?”

“Ons het mekaar vroegoggend langs die pad ontmoet,” moet sy maar toegee. Sy wou eintlik stilbly van die pap band, anders bekommer oom Danny hom van nou af elke keer as sy uit die dorp moet ry. Haar afsprake begin juis nou wyer uitkring en sy kan nie een weier sonder om haar reputasie skade aan te doen nie. “Ek het ’n pap band gehad, maar jy weet mos ek kan dit self omruil. Ek het hom maar laat klaarmaak om nie sy manlike ego te kwes nie. Veral toe ek sien hoeveel spiere daar onder die T-hemp is.”

“O, en wanneer was jy van plan om dit vir my te vertel?”

“Dis darem nie nodig dat Oom álles van my af moet weet nie, of hoe? Ons het mos besluit ons kan saamboer hier, maar ons gaan nie in mekaar se sakke leef nie.” Tot dusver het hulle goed daarin geslaag om die balans te behou.

“Ja, ja, maar ek ruik lont, hoor. Iets sê vir my daai mannetjie het met die intrapslag jou aandag getrek.”

“Wie kan daai bos rooi krulle miskyk, oom Danny?”

“En die spiere? Wat van die spiere?”

“Ek hou nie van opgepompte spiere nie, my oompie!” Hoekom klink dit dan nou of sy haarself probeer oortuig?

“Daai spiere is nie grillerig opgepomp nie, Lexi-kind. Daai spiere is net reg.”

“Hoe sal Oom nou weet? Kyk jy in die geheim na mans se spiere?” Sy weet goed oom Danny met sy bont hemde en groot ringe word dikwels as gay aangesien, maar hy is so straight soos ’n strykplank kan droom om te wees.

“Ek het oë in my kop, kindjie. Daai oë sien wat hulle sien.” Sy glimlaggie word al hoe stouter. Dis tyd dat sy hierdie gesprekkie nek omdraai.

“My oompie, jy praat strooi!” Sy plant ’n vinnige soen op sy voorkop en maak dat sy wegkom. Hoekom haar hart so op loop gesit het, sal sy nie kan sê nie.


“As jy nou donkeraand eers hier aangesit kom?” Ma Elizabeth se netjiese wenkbroue is net ’n fraksie saamgetrek. “Jy weet ek kook saans ter wille van jou, en ek hou nie daarvan om te wag nie.”

Alex is nie verniet al vyf en twintig jaar lank haar jongste kind nie; hy weet daardie fronsie beteken eintlik sy het haar deeglik vererg.

“Jammer, Moedertjie,” paai hy uit jare se gewoonte. “Ek het by Dirk ’n draai gaan maak en ’n bietjie vasgehaak.”

“Ek is nie gerus oor jou vriendskap met Dirk nie, Alex.” Die bak met keurige hoenderpastei word net ’n ietsie te hard op die tafel gesit. “Ek weet nie hoekom nie, maar die man maak my ongemaklik. Dalk net omdat hy soveel ouer as jy is.” Sy ma is eintlik ’n meester in passiewe aggressie – min uiterlike tekens, maar sy laat kom jou deeglik agter as sy vir jou vies is. Hy verstaan elke dag ’n bietjie beter hoekom sy sus Alicia nie net vroeg-vroeg uit die huis is nie, maar sommer landuit ook toe sy die kans kry.

“Daar’s niks verkeerd met Dirk nie. Ma ken hom in elk geval nie. As ek reg onthou, het julle maar een keer vlugtig ontmoet.” Hy haal diep asem, sluk die res van die vinnige antwoord terug. Hy is darem wragtig nie ’n seuntjie wat teen ’n ouer man beskerm moet word nie. Hierdie ding moet hy netjies aanpak en daarvoor sal ongeduld nie werk nie. Hy is hoeka hartlik moeg om die oomblik as hy net effense ergernis wys met sy pa vergelyk te word. Hulle mag albei rooikoppe wees, maar hy het nie ’n duit van sy pa se opvlieëndheid geërf nie en sy ma weet dit baie goed. “Ek gaan was gou my hande.” In die badkamer kyk hy ’n oomblik na homself in die spieël, trek ’n hand deur sy bos hare. Dalk is dit tyd dat hy die spulletjie gereelder onder die skêr laat kom. Lexi se hare was vanoggend in ’n netjiese vlegsel vasgevang en sy was bekwaam besig om self haar kar se band om te ruil. “Nou waarvandaan kom die gedagte aan ’n vreemde vrou se hare nou?” vra hy vir sy spieëlbeeld, maar kry geen antwoord nie.

Hy draai vinnig van die spieël af weg. Aan Lexi Retief wil hy nie dink nie; dit was erg genoeg dat sy heel eerste gedagte oor haar was dat hy darem daarvan sal hou as sy daardie vlegsel losmaak. Nog erger was die skok toe sy die huis binnestap waar hy ewe onskuldig met die pragtige wolfhond aan die werk is; die ergste was toe sy daardie gordyn van hare so oor haar skouers uitskud. Die héél ergste was toe sy verstom vassteek en met iets wat glad nie na blydskap gelyk het nie na hom kyk.

“Kom jy, Alex? Jy weet ek hou nie van koue kos nie!”

Hy wag tot sy vir hom ingeskep het, baie rys en min groente, soos hy daarvan hou. Besef dan vir die hoeveelste keer dat hy so ’n effense mamma-se-seuntjie geword het. Net effens, maar die tekens is daar. Vandat sy pa destyds weg is, het dit geleidelik erger geword. Amper ongemerk. Dis egter nou of nooit: “Gelukkig hoef jy nie meer baie lank met my uit te hou nie, Moederlief.”

Sy kyk so vinnig op dat hy wonder of die aankondiging veels te onverwags was. Dalk moes hy eers ’n paar draaie gegooi het. Maar hy is nie meer lus vir draaie gooi nie. “Ek het by Dirk gaan hoor of ek van Februarie af sy plek kan deel. Sy woonstelmaat gaan by sy verloofde intrek en hy het iemand nodig om te help huur betaal.”

Sy laat sak haar mes en vurk, kyk hom streng aan. “Dis nou ’n onverstandige besluit, Alex.”

Kalm bly, Alex, kalm bly. “My besluite is my verantwoordelikheid, Ma.”

“Verantwoordelikheid is nie jou sterk punt nie, my kind, soos . . .”

Voor sy kan sê “jou pa” knip hy haar kort: “Miskien het ek nog nooit regtig kans gehad om dit ’n sterk punt te maak nie, Ma.”

“Kritiseer jy die opvoeding wat ek jou gegee het, Alex?” 

Nog voor sy weer “jou pa” kan sê, vat hy sy kans: “Ma het my ’n wonderlike opvoeding gegee, maar my dalk so ’n klein bietjie te vas aan die voorskootbande gehou.”

“Neem jy my kwalik? Jou pa los my vir ’n stokou vrou en ek bly sit met ’n tiener! Wat moes ek doen? Jou vir die wolwe gooi? ’n Ma wil haar kind beskerm, my seun, dis al wat ek wou doen.”

“Miskien wou jy eerder wraak neem op my pa, Moedertjie. Vir hom en Charlene wys hoe goed ons sonder hom klaarkom.” Hy weet hy steek sy nek te ver uit, maar dit moet nou eenmaal gesê word. Hy verstaan as volwassene beter hoe moeilik dit vir sy ma moes gewees het om vir ’n ouer vrou verlaat te word, maar hy het ook deur die jare gesien hoe perfek Charlene by sy pa pas. Dat sy sewe jaar ouer as sy pa is, het nie toe saakgemaak nie en dit maak steeds vir niemand behalwe sy ma saak nie.

“As dit is hoe jy voel, moet jy maar jou goed vat en padgee, my kind.”

Hy skrik net vir ’n oomblik, toe besef hy dis die regte ding om te doen. Gee haar nou haar sin, kom paai oor ’n paar dae. Dis wat met sy ma werk. “Oukei, ek maak so.”

Die ongemaklike stilte waarin hulle klaar eet, is nie lekker nie, maar dit gee hom kans om te dink. Lexi se oom Danny bly in ’n kasarm van ’n huis op die kleinhoewe. ’n Kasarm vol honde, met Lexi as ’n toegif daarby. Dit kan die ideale oplossing vir hom wees, want vir ’n ongemaklike paar weke saam met sy ma tot Februarie sien hy sowaar nie kans nie. Om dalk daardie paar weke ’n huis met Lexi te deel, lyk egter na ’n wonderlike moontlikheid.