Uittreksel | Volbloedman

Een
“Denise, het jy iemand wat jou kan kom haal?” Tannie Pillay staan en bibber van die skok en die koue, maar sy het nog krag om aan iemand anders ook te dink. “As dit nou nie vir die brakkie was nie, kon ek my suster gevra het. Is daar nie dalk iemand by wie jy haar kan los nie?”
“Sy is al wat ek nou het, Tannie.” Denise se arms klem outomaties stywer om die bewende Babsie. Rondom hulle is dit ’n gedruis van brandweer, polisie en nuuskieriges, plus vriende en familie wat alreeds aankom om haar bure veilige huisvesting te bied.
“Jy het darem nog jou winkel, hoor. Daar’s altyd iets om oor positief te wees, my kind.” Die tannie klink nou effens verwytend. Selfs in hierdie oomblik waar ’n klomp mense se tuistes pas in vlamme opgegaan het, is sy een van daardie goeie siele wat onwrikbaar positief bly. Bewaar die persoon wat negatief wil raak in haar omgewing; hy word baie vinnig reggehelp.
“Ek weet ek het nog my winkel, ja.” Denise draai liewer weg, laat haar oë oor die nagmerrietoneel rondom haar gaan. Die tannie se positiwiteit is op hierdie oomblik te veel om te hanteer, maar dit ís so dat sy nog haar besigheid het. Eintlik het sy bietjie meer as haar winkel: haar warm winterjamies en die kamerjas wat sy inderhaas kon oorgooi, haar skaapvelpantoffels waaruit sy amper in haar angs gehardloop het, haar foon, haar beursie met ID en bankkaarte wat sy inderhaas kon gryp. Sy draai haastig terug, roep na die figuurtjie wat al besig is om in haar suster se motor te klim: “Tannie is reg – soos gewoonlik! Ek het eintlik die belangrikste goed nog oor!” Want ja, haar skootrekenaar en motorsleutels het sy ook. Net jammer die sleutels is nutteloos sonder ’n motor. Dié is sekerlik uitgebrand. Sy het natuurlik ook haar hond, die Africanis-hondjie wat al wie weet hoeveel traumas in haar lewetjie moes deurmaak. Daar is nie ’n manier dat sy Babsie by iemand anders sal afgee nie.
“Kan jy ’n plan maak vir vannag, kind?” Die tannie roep nog deur die motorvenster, al het haar swaer al weggetrek, gretig om van die ramptoneel af weg te kom.
“Ja, dankie! Moenie worry nie!” Al wat sy kan doen, is winkel toe stap en die res van die nag daar deurbring. Ten minste is daar koffiemaakgoed. Of nee, koffie is nie nou die aangewese ding nie. Tee, ja. Rooibos, wat sy eintlik verpes. Die Bolandse herfsnag is ysig koud, of dalk is dit die skok wat haar nou inhaal. Die stap sal darem seker vir die koue en die skrik help. Sy sal aanstap, sy sal nie terugkyk soos Lot se vrou nie. Die kans is daar dat sy kan versteen van skok en aanhou staar na die skrikwekkende toneel: die woonstelblok in vlamme teen die naghemel, die donker figure van die brandweermense, nietig teen die geweldige krag van vuur. Nee, vorentoe beur. Dis wat sy nog altyd kon doen, dis wat sy vannag ook sal doen.
“Hallo daar!”
Die stem ruk deur haar. Sy het waaragtig nie agtergekom ’n bakkie het langs haar ingetrek nie. Dis al wat sy nou nog nodig het – ’n man wat dink aa, hier’s ’n hulpelose vrou, dis my kans om haar te red en haar vir ewig van my afhanklik te maak. Sy lig haar kop en stap vinniger. In haar nagklere, met haar verbouereerde hond sonder ’n leiband, haar skootrekenaar en handsak krampagtig vasgeklem, stap sy met die wete dat sy vannag finansieel geruïneer is. Emosioneel sal sy op een of ander manier oorleef. Maar sy gaan haar nie weer deur ’n man laat red nie. As jong meisie het sy gedink Duncan kom haar uit haar ouerhuis red – en kyk waar het dít haar gebring! Hóé weet sy nie, maar sy sal self deur hierdie ding ook kom.
“Mevrou, kon niemand jou kom haal nie? Kan ek julle gou iewers heen neem?” Die man het stilgehou en uitgespring, ’n donker figuur in die swak lig.
“Ek is oukei, dankie, en ek is nie ’n mevrou nie.” Ná die egskeiding het sy haar nooiensvan teruggeneem en alle spore van haar huwelik doodgevee. Dis darem minstens iets waarop sy altyd trots sal wees. Sy kyk nie weer op nie, stap net verbete aan, op die verste kant van die sypaadjie. Sy voel aan Babsie is nie meer langs haar nie, maar sy is te bang om te gaan staan. Haar hart klop in haar keel. As sy vannag nog die hond ook moet verloor, gaan sy dit sowaar nie maak nie.
“In die nag, in jou slaapklere?” Sy kortaf laggie is nie dié van ’n geamuseerde man nie. Eerder dié van ’n haastige man wat ’n irriterende hindernis in sy pad gevind het. “Kyk, jou hondjie klim al in.” Nou is daar die beduidenis van ’n glimlag in sy stem. “Laat ek julle net gou na ’n veilige plek toe neem, asseblief.”
“Ek het ’n veilige plek en ek is amper daar.” Sy kan nie anders as om vas te steek nie. “Babsie, kom!”
“Jou hond is nie so koppig soos jy nie. Kyk, sy sal sommer bestuur ook.” Denise kan nou duidelik hoor hy is geamuseerd.
Sy moet buk om te sien, en ja wragtig, daar sit die hond penorent agter die stuurwiel van die . . . O, dis ’n polisiemotor! “Hoekom het jy nie gesê jy’s van die polisie nie? Moet jy nie by die brand wees nie? Hoekom is jou blou lig nie aan nie? Het julle al ’n idee hoe dit gebeur het? Is almal oukei? Het almal betyds uitgekom?”
“Stadig, stadig, een ding op ’n slag.” Hy hou sy hande in die lug en staan ’n tree terug. Skrik hy vir al die vrae wat onverhoeds uit haar mond getuimel het, of besef hy sy voel bedreig as hy te naby staan? “Ek moet by die vuur wees, ja, maar ek het julle sien wegstap. Kom, klim asseblief tog nou in!”
Mens kry korrupte polisiemanne, hulle is nie noodwendig almal die redders van goeie mense nie. Dis egter flippen koud en sy moet so gou as moontlik iets warm en soet in haar lyf kry. “Oukei, dankie.” Sy val omtrent by die passasiersdeur in wat hy vir haar oophou, trek haar hond verleë van die bestuurder se plek af. “Kom, Babsie, kom sit hier by my.”
Die man klim in, maar huiwer voor hy wegtrek. “Babsie? Dis mos een van Lexi se honde? So jy ken vir Lexi? Kan ek jou na haar en oom Danny toe neem? Daar’s altyd plek vir nog iemand. Dis net ’n bietjie ver uit die dorp, maar as ons gou maak, is dit oukei vir my.”
Sy het nie eens krag om te vra hoe hy vir Lexi Retief en haar pleeghonde ken nie. “Nee, my werkplek is net hier voor regs en dan weer links.”
“Dit klink nie vir my na ’n goeie plan nie.”
“Dis die beste plan wat ek het.” Sy kan verdomp op haar eie bene staan.
Koppig, tipies man, hou hy aan: “Hoekom nie na Lexi-hulle toe nie?”
Sy het tog nie krag vir doekies omdraai nie. “Lexi hou nie van my nie en soos jy sê, dis te ver en jy hoort by jou werk. Ek sal oukei wees in my winkel.”
“Jou winkel? O, jy’s die vrou van die wolwinkel! Wil jy die res van die nag alleen dáár gaan sit?” Hy maak summier ’n U-draai in die stil straat. “Dan vat ek jou na my plek toe.”
“Is jy mal?” Paniek stoot in haar keel op. Die motor beweeg reeds te vinnig om uit te spring, maar haar hand gryp outomaties na die deur.
“Nie mal nie, net prakties. Moet asseblief nie uitspring en die nag nog ingewikkelder maak nie.” Hy druk vinnig die knoppie wat al die deure sluit. “Alex is daar, hy sal kyk dat jy oukei is vir vannag.”
“Alex van Aarde? Lexi se ou?”
“Jip, hy’t mos vir Lexi ontmoet toe hy ’n rukkie daar by oom Danny gebly het tot my vorige woonstelmaat uitgetrek het.”
“So, jy’s Dirk?” Sy is vaagweg van die man se bestaan bewus. Sy het seker maar sy naam opgetel by Lexi se jogaklasse waar Alex deesdae ook gereeld sy verskyning maak.
“Einste.”
Sy sak teen die kussing terug, skoon slap van verligting. Maar skrik dan weer van voor af en sit orent. Alex deel Dirk se woonstel, hy is seker nou nog salig aan die slaap. Dieselfde Alex wat vir ’n kort tydjie aan haar hartsnare gepluk het met sy ongekompliseerde menswees, die gemaklike manier waarop hy deur die lewe stap. Dit was voor sy besef het presies hóé jonk hy nog is en dat hy in elk geval smoorverlief op Lexi is. Sy het baie amper ’n gek van haar gemaak oor Alex. “Ek kan nie na Alex toe gaan nie!”
“Jammer, maar ons is al amper daar. Hy’s waarskynlik vas aan die slaap. Ek’s so vinnig daar uit, ek is nie seker of hy ooit agtergekom het nie. Jy kan ten minste lekker stort en vir jou tee maak. Nie nou koffie nie, hoor!”
“Is daar ooit ’n bed vir my?”
Net ’n ligte huiwering, dan besluit hy blykbaar:
“Jy kan sommer in myne klim. Ek gaan nie vannag terugkom nie.”
“Oukei, dankie.” Sy druk haar gesig in haar hond se nek en maak haar oë toe. Sy is op hierdie oomblik só gedaan, sy sal dalk nie eens agterkom as hy later by haar kom inkruip nie. Al wat sy nou wil doen, is slaap en slaap en slaap tot . . . Tot wanneer? Tot al haar probleme opgelos is? Nee, dit sal helaas nie werk nie. Sy sal haar foon stel vir ingeval sy dit op een of ander manier regkry om ’n bietjie te slaap in ’n vreemde man se bed. Voor hy terugkom, sal sy en haar hond weg wees. Voor Alex opstaan en hulle daar kry. Sy sal hierdie stukkie hulp aanvaar, maar as die son opkom, is sy weer op haar eie.
“Babsie? Wat is dit?” Dit voel of sy deur dik olie na die oppervlak beur. Waar de hel is sy? Hoekom staan en blaf haar hond op haar bors? “Babsie, áf!” Sy vlieg so vinnig orent dat die hondjie verskrik van die bed aftuimel. “O, my donner!” Die werklikheid het haar getref. Met ’n helse slag. Sy is in die Dirk-man se bed, in sy te groot sweetpak, in sy woonstel waar Alex van Aarde ook bly. Alex op wie sy amper-amper verlief was. Alex wat vir Lexi lief geword het. Kalm, bedaarde Lexi Retief, bloedjonk, maar so uitgesorteer en rustig dat sy eintlik ’n pyn is. Met elke jogaklas wat sy by Lexi bywoon, besef sy meer en meer hoe ver sy nog het om te kom voor sy weer in beheer van haar lewe gaan wees. Dit was egter gister, toe haar grootste bekommernis net die lae verkope in haar wolwinkel was. Nie so vreemd as mens in aanmerking neem hulle is pas deur ’n skroeiende Bolandse somer nie. Dis regtig net die heeltemal verslaafdes wat deur só ’n somer kan aanhou brei en hekel.
Vandag is dit egter ’n ander saak. Vandag is die sukkelende winkel al wat sy oorhet. Die sukkelende winkel – en haar hond wat op Dirk se slaapkamervloer gaan piepie as sy nie gou uitgeneem word nie. “Kom, Babsie!” Sy is so deur die wind dat sy nie eens onmiddellik kan onthou waar die uitgang na buite is nie. Het die man ooit ’n stukkie tuin? Sy kan bitter min van laas nag se aankoms hier onthou. Aa, hier is die kombuis en hier is die agterdeur en daar is ’n stukkie grasperk! Haar verligting is amper so groot soos haar hondjie s’n. Ten minste het daar nie ’n glips in die man se kamer gekom nie. Nou moet sy net maak dat sy so gou as moontlik hier wegkom. Die ketel wink egter so sterk vir haar dat sy swig. “Net ’n vinnige koffietjie, Babsie, en in my klere spring, dan waai ons.” Vrekkit, sy het geen klere meer op haar naam nie. Dis óf haar nagklere, wat waarskynlik swart van die roet is, óf Dirk se oorgroot sweetpak.
“Denise? Wat op aarde?”
Ag, as sy maar met hond en al onder die teëlvloer kon verdwyn. Sy kan egter nie, sy moet vir Alex in die gesig kyk. ’n Deurmekaar geslaapte Alex; bos rooi hare in wanorde, geklee in ’n sweetpak feitlik presies soos wat sy aanhet. Behalwe dat syne soos ’n handskoen aan sy gespierde lyf pas en hare soos ’n sak aan haar hang.
“Hallo.” Sy moet ’n slag keel skoonmaak, probeer dan weer: “Hallo, Alex. Dis ’n lang storie. Daar was ’n brand.”
“Wáát?!” Hy val op die naaste stoel neer en krap sy bos hare nog meer deurmekaar. “Ek dag ek het gedroom ek hoor sirenes! Waar’s Dirk? Hoekom is jy hier? Denise, was dit jou blyplek?”
“Ja, dit was my blyplek.” Sy verwarring laat haar ’n klein bietjie beter voel. Sy is geregtig om geskok en verward te voel. Sy hoef nie vanoggend al ’n koel kop en kalmte van haarself te verwag nie. “Kan ek vir jou koffie maak?”
Hy spring orent dat die stoel amper kantel. “Jy’t Dirk se sweetpak aan! Jy’t nie klere van jou eie nie? Nee, hel, ek is die een wat jóú moet bedien! Hier’s Babsie sowaar ook! Ek onthou jy’t haar aangeneem. Sy was Lexi se eerste suksesvolle aanneming, weet jy? Sy is so trots dat julle twee so mooi regkom.”
Gaaf, dan sit sy maar en wees nog ’n rukkie die hulpelose slagoffer. Net vir hierdie paar minute terwyl ’n gawe man vir haar koffie maak en haar hond warm teen haar bene aanleun. “Ek was miskien die eerste wat agtergekom het daar’s fout.” Omdat sy lê en planne maak het om die winkel se omset te verbeter, ja. Op ’n manier het haar finansiële verknorsing dalk haar lewe gered, miskien selfs dié van haar bure ook.
Hy gooi twee lepels suiker in haar koffie sonder om te vra, skuif dit oor die tafel na haar toe en begin brood en smeergoed bymekaar soek. “Het jy als verloor, Denise?”
“Ek moet maar vanoggend gaan kyk of ek enigiets kan red. Wat die vuur nie verwoes het nie, het die brandweer se water seker beskadig.” Sy vou haar hande styf om die warm beker. Hopelik help dit vir die bewing wat sy nie beheer kry nie. Sy is regtig nog in haar kas in geskok. “Ek het op een of ander manier kopgehou, al die belangrikste goed gegryp en gehardloop – my handsak met my ID en bankkaarte, my laptop met my ganse besigheid daarop. Ek het nie ’n idee waar ek op daai oomblik die teenwoordigheid van gees gekry het nie.” Dis sekerlik nog iets om op trots te wees. Sy sal op die goeie dinge moet konsentreer as sy wil oorleef.
“Ek neem aan die polisie is uitgeroep en Dirk het jou hiernatoe gebring?”
“Teen my sin, ja. Ek kon netso goed die res van die nag in my winkel gebly het.” Dit word al hoe moeiliker om ’n skyn van selfstandigheid te handhaaf. Die soet koffie is soos balsem vir haar verwarde gees, maak dit makliker om haar net aan hierdie jong man se goedheid oor te gee.
“Alleen in jou winkel ná jy uit ’n brandende gebou ontsnap het? Nee, o genade, Dirk sou dit nooit toegelaat het nie. Daai man het vir jou ’n sagte hart, hoor. Hy lyk maar net so groot en gevaarlik.” ’n Sny brood met dik grondboontjiebotter en gouestroop word voor haar ingeskuif. “Hierso, eet. Jy kan nie hierdie dag op ’n leë maag begin nie.”
“Is daar vir my ook?” In die deur staan Dirk, oë bloedbelope, donker hare in alle rigtings, moeë lyne op die gesig. “Kon jy darem ’n bietjie slaap, Denise?”
Onmiddellik is haar gesig vuurwarm. “Ja, dankie.” Sy weet dit was onwaarskynlik, maar sy kon sweerlik nog iets van sy liggaamshitte in die bed voel, iets van die vorm van sy lyf. Dit was vreemd gerusstellend om onder ’n duvet in te kruip waar iemand kort tevore uitgespring het om mense in nood te gaan help. Gerusstellend, maar ook skrikwekkend intiem. Só intiem dat sy nou gloei van verleentheid en net een begeerte het en dis om weg te kom. “Ek moet gaan, julle. Dankie vir alles.”
“Eet eers, Denise.”
Die hand op haar arm is nie van die skoonste nie, maar sy gril nie. Nee, sy skrik só vir haar lyf se reaksie dat sy summier opvlieg en die broodjie sommer in haar hand vat. “Oukei, ek vat dit sommer saam, dankie.” Het sy nou heeltemal gek geword? Om te midde van so ’n helse krisis in haar diepste binnekant warm te word as ’n man net aan haar arm vat?
Hy trek sy hand vinnig terug, asof hy iets van haar skrik aangevoel het. “Oukei, kom ons waai. Babsie kan maar eers hier bly, hoor.”
“Ek kan stap, Dirk. Gaan slaap nou, jy lyk soos ek seker laas nag gelyk het.” Nie dat sy op hierdie oomblik veel beter lyk nie. Sy het wel intussen heerlik gestort, maar sy besit nie eens meer ’n borsel om deur haar hare te trek nie.
“Ek vat jou eers dat jy kan gaan kyk of daar iets te redde is.”
“Ek bel solank vir Lexi.” Alex se foon is alreeds in sy hand. “Oom Danny sal jou met ope arms ontvang. Jy gaan beslis nie in jou winkel bly nie, Denise.”
“Moenie my lewe probeer oorneem nie!” Haar stem slaan hoog deur en die trane prik in haar oë. “Ek sal self besluit wat om te doen.”
“Ons neem nie oor nie, Denise. Ons probeer help.” As die man net nie so ’n mooi stem gehad het nie. Word hy ooit oorstuur? Of is dit maar ’n front? Hoeveel ellende moes hy al as polisieman aanskou? Laas nag se brand was seker ’n vulletjie teen wat hy al gesien het.
Sy val soos ’n sak patats terug op haar stoel. “Oukei, dankie.” Net vir vandag sal sy nog hulp aanvaar. Van môre af sal sy weer vir haarself sorg, soos sy gewoond geraak het om te maak. Net vir vandag sal sy haar nog van ’n goed bedoelende mansmens laat hiet en gebied. Môre is sy terug aan die stuur van haar lewe. Of indien nie môre nie, dan die dag daarna.
“Ek is bevrees dit gaan nie ’n mooi gesig wees nie.” Dirk hou liewer sy oë op die pad, want dit ruk aan sy hart om reguit na haar te kyk. Klein en weerloos sit sy langs hom in sy bakkie. In sy te groot sweetpak met haar vuil skaapvelpantoffels aan haar voete, haar hare wanordelik oor haar skouers. Haar skouers is egter na agter getrek en daar is ’n koppige trek om die mooi mond. Skraal vingers klou aan haar handsak en rekenaarsak, asof dit ’n reddingsboei is. Wat dit seker op ’n manier is.
“Ek kyk maar solank na die akkerbome wat aan die herfs word is.”
Teen sy sin is hy beïndruk. “Dis great dat jy in jou situasie nog die Boland se herfskleure kan waardeer.”
Sy kyk vlugtig met daardie paar donkerbruin bokkie-oë na hom. “Dis nie die eerste terugslag wat ek in my lewe ervaar nie, Dirk. Ek het al geleer die wisseling van seisoene is één ding wat konstant bly, wat ook al in ’n mens se lewe gebeur.”
“Dis gaaf om te hoor.” Gewoonlik gun hy mense hulle privaatheid, want hy verkies self om sy persoonlike spasie te beskerm. Die egskeiding het daardie behoefte by hom versterk. Waar die drang om meer van Denise se agtergrond uit te vind nou vandaan kom, weet hy nie so lekker nie. Natuurlik is daar die praktiese rede: Sy was immers laas nag in die afgebrande gebou. Dis egter meer as die feit dat sy as getuie ondervra sal moet word. “Aa, hier is ons. Ek stap saam met jou sodat jy op die terrein toegelaat kan word.”
“Dankie.” Toe hulle die groen lig kry, keer sy hom egter met haar hand omhoog: “Ek wil graag alleen gaan kyk.”
Dirk staan hulpeloos en kyk hoe sy versigtig deur die puin probeer trap sonder om haar pantoffels nog verder te besmeer. Sy is nie die enigste een nie. Nog inwoners kom nou stuk-stuk saam met familie of vriende aan om te kom kyk of daar iets te redde is. Hy kon hulle al van die teendeel verseker het, maar natuurlik gee dit mense beter afsluiting as hulle self kan sien daar is nie veel wat nog bruikbaar is nie. Goedjies van sentimentele waarde, ja, maar van bitter min praktiese waarde.
Dit neem ook nie lank voor sy weer voor hom staan nie. Die skraal skouers is nie meer heeltemal so regop nie en sy kon nie die spore van trane heeltemal weggevee kry nie. “Ek moet seker ’n selfie neem en op die winkel se Instagram-blad plaas sodat my kliënte kan weet wat aangaan.” Haar stem is moeg, maar ten minste kan sy nog aan praktiese dinge dink.
“Jip, dit maak sin. Gee jou foon, dan neem ek jou gou af. Het jy genoeg foto’s vir die versekering geneem?”
Sy slaan ’n klein figuurtjie voor die verwoeste gebou en sy gehawende ou grys sweetpak hang soos ’n sak aan haar. Op ’n manier kry sy dit egter nog reg om effens te glimlag vir die foto. “Dankie. Kan jy my gou winkel toe neem?”
“Oom Danny het al genoem jy’s knap met sosiale media. Dalk moet jy dadelik die foto plaas en sê jou plek is voorlopig gesluit.” Dis nie dat hy veel van sosiale media af weet nie, maar hy ondervind ’n sterk behoefte om haar te help om dinge in orde te kry. Dis ’n ontstellende behoefte, want dit gaan verder as dié van ’n polisieman wat bloot sy plig doen.
Sy is alreeds met haar foon besig. “Ja, ek moet uitreik, al is ek liewer lus om iewers in ’n gat te gaan wegkruip.” Sy kyk fronsend na die foto wat hy geneem het. “Liewe hemel, ek lyk soos ’n spook!”
“Niemand verwag van jou om vanoggend soos ’n model te lyk nie, Denise.” Hy kan sekerlik nie vir haar sê as sy soos ’n spook lyk, is dit die mooiste spook wat mens jou kan voorstel nie.
“Daar’s hy, dis gedoen. Ek moet in elk geval winkel toe. Ek kan regtig maar sommer gou stap.”
“Oom Danny is alreeds besig om Alex se ou kamer vir jou reg te maak.” Hy probeer ongeërg klink; hy weet mos sy gaan vies wees. “Dalk kan julle gou daar ’n kennisgewing print, dan gaan plak ek dit met die terugkom vir jou by die winkel op. Vir die mense wat nie op sosiale media is nie.”
Sy swaai woedend om na hom toe. “Ek het jou gesê ek sal self besluit wat om te doen. Ek soek nie mansmense wat vir my dikteer wat om te maak nie!”
Nee, laat hy liewer nie aan haar raak nie, al brand hy om ’n ondersteunende hand op haar arm te sit. Hy is deel van die polisiemag wat die brand moet ondersoek; dis nie deel van sy posbeskrywing om emosioneel by die inwoners betrokke te raak nie. Hy het laas nag alreeds buite sy jurisdiksie opgetree toe hy haar na sy blyplek toe geneem het, maar dit het in die chaos van die nag redelik ongemerk verbygegaan. “Het jy enige alternatiewe blyplek, Denise?” Sy stem klink kalmer as wat hy voel. Hierdie vrou is besig om onder sy vel in te kruip en dis die heel laaste ding wat hy wil hê.
Sy sak met ’n sug terug teen sy bakkie se sitplek. Die werklikheid van die swartgebrande gebou het haar deeglik getref. Sy doen haar bes, maar hy kan sien haar moed is besig om vinnig te verdamp. Hy ken die tekens van skok en hy weet dis nie iets wat sommer gou-gou verbygaan nie. “Ek het nie blyplek behalwe my winkel nie. Ek is nog nie so lank in die dorp dat ek hegte vriende gemaak het nie. Dis nie iets wat mens sommer vir enige mens vra nie.”
Hy kry die bakkie aan die gang, trek amper te vinnig weg. Sy moet liewer wegkom na ’n beter omgewing. Dit help nie om hier rond te hang nie. “Laat ons asseblief toe om te help, Denise. Dis werklik niemand se bedoeling om jou lewe oor te neem nie. Jy is in ’n verknorsing, dis net logies dat oom Danny en Alex-hulle wil help. Dis die soort mense wat hulle is en jy ken hulle mos darem ’n bietjie.”
Haar oë vlieg na syne, hou sy blik ’n oomblik vas. “Dit kan ek nog verstaan, maar jy is niks van my nie. Ek is ’n vreemdeling vir jou.”
Dis die skrikwekkende ding: Sy voel nie heeltemal soos ’n vreemdeling nie. Nie ná sy ’n deel van die nag in sy bed deurgebring het nie, nie hier waar sy in sy sweetpak langs hom sit nie. “Jy is ’n vriendin van Lexi-hulle.”
Hulle is alreeds buite die dorp, oom Danny se kleinhoewe is net om die volgende draai. Nou let hy ook op hoe die herfs besig is om saggies oor die Boland neer te daal, een vergeelde blaar op ’n slag, een vallende akker op ’n keer. “Aa, hier is ons.”
Die dierbare oom en sy susterskind wag alreeds op die stoep. Hy, rond en gesond, nog in ’n flambojante bont kamerjas. Lexi in oefenklere wat elke ronding wys, haar rooi hare ’n wolk om haar gesig. “My dierbare kind, dat jy nou só ’n ding moet oorkom!” Oom Danny is dadelik by toe Denise traag uit die bakkie te voorskyn kom, vou haar summier in sy omhelsing toe. “Is jy oukei? Niks seergekry nie?” Hy laat haar gaan, hou haar liggies aan die skouers vas en bekyk haar openlik van bo na onder. “Waar kom jy aan die aakligheid wat jy aanhet? Laat ek raai – uit Dirk se omvattende klerekas?”
“Ek het net my nagklere oor.” Sy lig die plastieksak verleë op. “Maar ek kon die belangrikste goed gryp voor ek moes hardloop. My handsak, my laptop.”
Lexi kom haak by haar in, trek haar saam voordeur toe. “Ons gaan jou sommer gou regsien, maar eers gaan ons lekker eet. Die oomblik toe Alex bel, het ek dadelik begin spook om van sy lekker muffins te maak. Nie dat ek hom kan nadoen nie, maar dis my beste poging.”
Denise steek vas, kyk Lexi wantrouig aan. “Jy laat dit klink of ons iets het om te vier.”
“Ons het!” Oom Danny vat haar aan die ander arm. “Ons vier vanoggend dat jy met jou lewe daarvan afgekom het. Nie eens ’n skrapie of ’n blasie op jou nie.”
“Ek het alles verloor, oom Danny.”
“Dis wêreldsgoed, kind.” Die oom kyk oor sy skouer. “Jy kom eet eers saam, Dirk, dan kan jy by jou plek gaan inkruip.”
Dirk se hart word sommer nog sagter oor die goedheid van hierdie man. Dié man wat miskien méér as ’n vriend van hom is. Dis egter nie nou die tyd om aan homself en sy kwessies te dink nie. “Ek moet ongelukkig gaan, Oom. Daar’s nog dinge wat gedoen moet word.”
Denise draai om na hom toe. “Wat dan nog? Jy was dan heelnag daar?” Hy kan sweer daar is ’n smeking in haar oë, dat sy graag wil hê hy moet bly. Natuurlik is dit bloot sy verbeelding wat hom parte speel.
Dan moet hy maar uitkom daarmee: “Ons dink dit was brandstigting, Denise. Jy sal ongelukkig ook nog vir ondervraging moet inkom.”
Voor sy oë word sy nóg bleker, wat hy nie gedink het moontlik is nie. “Brandstigting? Is ek ’n verdagte?”
“Almal is op hierdie stadium verdagtes. Mense vang soms vreemde goed aan om versekeringsgeld in die hande te kry.”
“Wel, dan is dit seker goed ek het nie versekering nie.” Die dapper skouers sak oorwonne. “Dit sou my niks baat om my blyplek af te brand nie.”
Hy het so afgelei toe sy hom vroeër nie reguit geantwoord het nie. “Oukei, in daardie opsig is dit goed.” Dit beteken natuurlik ook dat sy geen kompensasie gaan kry vir alles wat sy verloor het nie. Huisraad, klere, seker ’n ryding ook. Sy sal in hierdie situasie werklik al die hulp nodig hê wat sy kan kry. Hy het in dié kort tydjie genoeg gesien om te besef dit gaan nie vir haar maklik wees nie.
Sy kan sweerlik sy gedagtes lees, want sy ruk haar weer regop, kyk hom uitdagend in die oë. “Dankie, Dirk. Ek sal nou verder regkom.”
Hy lig net sy hand om te groet, maak dat hy in sy bakkie kom en ry te vinnig terug dorp toe. Hy het werk om te doen. Sy werk sluit nie in om vir elke brandslagoffer se penarie verantwoordelikheid te neem nie.