Skip to main content

Uittreksel | Volbloedliefde

Een

“Ma, ek kan nie glo wat ek hoor nie!” Dit voel vir Alicia of haar hart by haar keel wil uitspring. Dis eg­ter nie die lekker soort sprong wat ’n mens se hart soms uitvoer wanneer jy ’n aantreklike voorbeeld van die manlike spesie gewaar nie. Nee, hierdie is ’n gevoel wat ’n mens kan laat wonder of jou hart so gesond is soos jy nog altyd gedink het.

“Dis ongelukkig die waarheid, Lici.” Haar ma se stem is sagter as gewoonlik, sodat sy effens nader aan die rekenaarskerm moet leun om mooi te hoor. “Ek het regtig in matriek ’n baba gehad en ek moes hom vir aanneming afgee.”

“Hemel, Ma, hoe kon jy jou lewe lank oor so ’n ding stilbly?” Dan skiet die volgende onaangename gedagte haar te binne: “Of is ek die enigste een wat nie geweet het nie? Soos daar al ’n paar ander goedjies was wat ek maar by my broer moes hoor?”

“Ander goed?” Ma Elizabeth klink nou meer soos Alicia haar ken: seker van haarself, ’n bietjie hard, selfs effens veroordelend teenoor haar enigste dog­ter. “Watter ander goed het ek vir jou weggesteek?”

“Ag, sommer goedjies soos dat Pa jou verneuk het en op die ou end met die vrou getrou het.” Sy weet sarkasme is die laagste vorm van bobbe­janisme, soos haar kleinboet Alex graag sê, maar sy kry nie die woorde gestuit nie. “Ek moes dit mos alles by Alex hoor. Weet jy hoe sleg was dit vir my?”

“My kind, dink jy dit was vir my aangenaam? Reken jy regtig ek kon jou sommer uit die bloute kontak en vir jou die hele ou storie vertel? Ek was op daardie stadium in so ’n toestand, ek het een­voudig nie die krag vir nog trauma gehad nie.” Die krapperigheid van die verlede is steeds tussen hulle, maar die tyd het tog Alicia se emosies versag. Sy het darem intussen grootgeword ook. Om op jou eie in die vreemde te oorleef, maak vinnig ’n grootmens van jou. “As jy my gereeld gekontak het, sou dit nie so ’n groot probleem gewees het nie, Ma.”

“Ek kan dieselfde van my kant af sê, Alicia. As jy my gereeld gekontak het, sou jy lank voor die finale breekspul al agtergekom het iets is verkeerd.” Eliza­beth se sug dra haar hartseer oor al die duisende kilometers tussen hulle oor. “Nou ja, as is natuur­lik verbrande hout. Dit help nie ons verwyt mekaar nie.”

Nou wil haar trane sommer loop. Die nare waar­heid is dat sy en haar ma mekaar tot ’n mate afgesterf het in die jare sedert sy in Europa kom werk het. Die pot kan nie die ketel verwyt nie. Hulle is albei ewe skuldig. “Ek is jammer, Ma. Ek besef ek is destyds oorhaastig uit Suid-Afrika weg en ek het nie genoeg moeite gedoen om kontak met almal te behou nie.” Sy wurg die woorde met moeite uit, maar dit bring geweldige verligting. Hoekom kon sy dit nie lankal sê nie? Sy is tog nie iemand wat probleme het om haar sê te sê nie, maar daar is dinge wat sy moeilik kan uitspreek. Dis ongelukkig die dinge wat die meeste saak maak wat die moeilik­ste in woorde uitgedruk word, besef sy nou vir die eerste keer.

“Ek het myself maar probeer beskerm deur nie aan te dring op gedurige kontak nie, my kind.” Elizabeth vee ’n enkele traan fyntjies met ’n snesie weg. “Jy dink miskien ek is ’n harde mens, maar jou weggaan en die verwydering tussen ons het seerge­maak. Elke mislukte poging om die drade op te tel het nog seerder as die vorige gemaak.”

“Ek sal probeer opmaak daarvoor, Ma.” Die woorde kom steeds moeilik, maar sy druk deur: “Ek het darem ook intussen grootgeword, hoor. Ek is nie meer heeltemal die opstandige jongeling wat destyds uit jou huis weg is nie.”

Haar ma leun nader aan die skerm sodat haar gesig dit feitlik vul. Sy is steeds ’n pragtige vrou, maar die jare het tog spore gelaat. “Daar’s ’n mak­like manier om op te maak, my kind. Dit sal vir my die wêreld beteken.”

Dadelik is Alicia agterdogtig. Sy sal regtig aan haar ingesteldheid moet werk. “Nou maak Ma my effens bang.”

“Ek is bevrees ek het nog ’n skok vir jou.” Sy sien verbaas hoe haar ma se gesig versag, haar oë begin blink. “Ek kan maar net hoop dis nie vir jou ’n skok nie, maar eerder so ’n heerlike verrassing soos wat dit vir my was.”

“Ja? Uit daarmee, Moeder, anders gaan my senuwees dit nie hou nie.” Die ou troetelnaampie glip onverhoeds uit. Wanneer laas het sy haar ma spelenderwys Moeder genoem? Seker in die dae toe sy nog Lici was, toe alles nog eenvoudiger was. Iets van die ou vertroudheid is onverwags terug tussen hulle en dis heerlik.

“Wel, dis eintlik ’n hele paar goedjies.” Elizabeth rol haar skouers, seker om haar spanning te ver­minder. Wat kan erger wees as die feit dat sy wat Alicia is, iewers ’n halfbroer het van wie sy nooit ge­weet het nie?

“Laat waai, asseblief, Ma. Jy maak dinge nou net erger. Ek het nie die vaagste benul wat om nóg te verwag nie.”

“Goed, my kind.” Elizabeth vroetel met haar hare in ’n gebaar wat Alicia goed onthou. Dis ’n gebaar wat spanning verklap. “Ek en my skoolliefde het mekaar weer gevind.”

“Die pa van die kind?” Hemel, sy kan haar dit nie voorstel nie.

“Sy naam is Danny de Villiers en hy bly nog al die jare hier in die Boland.”

“Nou hoe kom julle dan nou eers by mekaar uit?”

“Deur Alex, sonder dat hy dit enigsins bedoel het. Moenie bekommerd wees nie, Alex het ook niks ge­weet nie. Jou pa weet nie eens van die baba nie.”

Sy is skoon kortasem van skrik. Sy kan net nie besluit of dit ’n slegte soort skrik of die lekker soort is nie. “Hemel, dis g’n wonder jy en Pa kon nie ’n huwelik aan die gang hou nie! Hoe op aarde trou mens met ’n man en hy weet nie so ’n belangrike ding van jou nie?”

“Ek weet, my kind. Dit was ’n yslike fout.” Nou is dit nie meer net een traan wat weggevee word nie. Dit ontstel vir Alicia nog meer. Elizabeth van Aarde is nie iemand wat vir elke bakatel trane stort nie.

“Oukei, kom ons los dit daar. Dis tog gedane sake. Hoe was dit om hom weer te ontmoet?” Die gedagtes skiet soos weerligstrale deur haar brein. Deurmekaar gedagtes wat mekaar oor en weer uit die pad druk, sodat sy sukkel om enigeen van hulle samehangend uit te spreek. “Dit was seker . . . hoeveel, meer as veertig jaar gelede? Dit moet baie weird wees om ’n skoolliefde ná soveel jare weer raak te loop. Hou julle ooit nog van mekaar?” Toe die vraag uit is, besef sy dis seker presies wat ge­beur het: Die liefde van destyds het weer opgevlam.

“Dit was eers weird, my kind, baie weird. Ons het vir Alex en Lexi byna gek gehad, onsself ook. Ons het nie geweet hoe om teenoor mekaar op te tree nie. Ons het dit eers vir hulle probeer weg­steek dat daar ’n geskiedenis tussen ons lê, maar dit het nie gewerk nie.”

“Ek weet darem Lexi is Alex se nuwe meisie, maar ek weet nie veel meer van haar nie.” Alex het nog altyd min of meer kontak met Alicia behou, maar die laaste tyd het hy ook stiller geraak. Seker te besig met die nuwe liefde. Die gedagte laat haar ’n bietjie afgeskeep en eenkant voel. Eintlik het Alex seker nie geweet hoe om al hierdie goed aan haar oor te dra nie, of gereken dis hulle ma se plig.

“Sy is ’n lieflike mens, Lici. ’n Rooikop soos Alex en net so vol lewe soos hy. Danny is haar oom en sy bly by hom. Dis hoe Alex hom ontmoet het. Lexi het ’n bejaarde Duitse herdershond vir wie Alex gaan fi­sioterapie gee het – en toe is die koeël sommer deur die kerk. Die twee is vreeslik verlief.” Elizabeth klink nou meer ontspanne. Dis duidelik dat sy in haar noppies is met dié Lexi se rol in Alex se lewe.

Dis moeilik om nie effens jaloers te wees nie. Alex is soveel jonger as sy en hier sit sy nog sonder ’n stabiele verhouding in haar lewe. “Ek is bly julle hou van mekaar, Ma.”

“Daar is nog iets, my kind.”

Hemel, was dit nie nou al genoeg skokke nie? “Laat waai, Moeder! My senuwees is op.”

“Ons het ook ons kind opgespoor, Alicia.” Nou loop haar ma se trane vryelik.

Sy sit verstom na die skerm en staar. Haar enig­ste gedagte was hoe verskriklik dit moes gewees het om ’n mens se baba af te gee, en nou dít. “Má?” Haar stem kom in ’n fluistering uit.

“Eintlik het ons mekáár opgespoor, my kind. En van albei kante af onnodig lank gesloer om dit aan te roer. Ons het later besef almal was ewe bang vir ontnugtering, dat die ander party dalk vol woede en verwyte kan wees.”

“Hoe op aarde het dit gebeur? Ek bedoel, dis net te toevallig om waar te wees.”

“Ek glo nie meer in toeval nie, kindjie. Hierdie kan niks minder as ’n bestiering wees nie.” Haar ma vat ’n volgende snesie en vee nog trane af. “Sy naam is Dirk Human, hy is ’n polisieman hier in die dorp en hy was al Alex se vriend lank voordat hier­die dinge op die lappe gekom het.”

Nou huil Alicia hartlik saam. Dis net ongelooflik, geen mens kan onaangeraak bly nie. “Hou julle van hom, Ma? Is hy ’n nice mens?” Wat moet dit aan ’n man doen om op veertig plus jou eie ouers te ont­moet?

“Hy’s ’n dierbare mens, Alicia.”

“Ek is só bly, Moedertjie! Ek is egter nou heelte­mal bewerig, ek dink ek moet ietsie gaan skink en dan eers ’n bietjie stilsit en alles behoorlik deurdink.”

“Dis nog nie al nie, Lici.”

“Má?” Sy het sowaar nie meer woorde nie.

“Ek en Danny trou binnekort, my kind, en dit sal ons só gelukkig maak as jy vir die troue kan kom.”

Sy was nog nooit so na daaraan om soos ’n lap­pop van haar stoel af te val nie. “Trou? Hemel, Ma!”

“Ek verstaan dis ’n hele reeks skokke, my kind, maar ons wil jou só graag hier hê. Lexi se ouboet werk ook in Europa en hy het alreeds laat weet hy sal beslis hier wees vir die okkasie.” Elizabeth sit die deurnat snesie eenkant en vee haar hare reg. Sy is nou weer in beheer. “Sy naam is Ruben Retief en hy is ’n operasanger iewers in Europa. Ek is nie presies seker waar hy op die oomblik is nie.”

“Opera? Nee, o aarde, Ma, dis mos nou nie my soort musiek daai nie.” Sy sien al die man – seker ’n rooikop soos sy suster, heel waarskynlik dikkerig en verfynd. Wat sal hy nie dink as hy moet hoor waar­mee sy haarself besig hou nie? Wat sal haar má dink wanneer sy onvermydelik uitvind haar dogter is lankal nie meer ’n respektabele bibliotekaresse nie? Maar dis anderdag se moeilikheid daardie. Vir eers moet sy net hierdie rits skokke absorbeer. Ten minste is sy in haar beroep gewoond aan skokke absorbeer. Hoewel dit skokke van ’n meer fisieke aard is.

“Hy klink vir my na ’n goeie seun, min of meer jou ouderdom ook.”

“Ma, moet asseblief nie vir my begin man soek nie!”

Elizabeth lag skielik uit haar maag. Dis ’n mooi geluid. “Ek sal dit nie waag nie. Ek weet mos jy’s nie een wat jou maklik laat manipuleer nie.”

“Mooi.” Sy moet hierdie gesprek nou afsluit en in stilte haar dinke gaan dink. “Ek laat weet binnekort oor die troue. Stuur solank vir my die presiese da­tum, hoor!”

“Ek maak so, my kind.”

“Dankie, Moeder. Ons praat binnekort weer.” Sy sit lank ná sy die oproep beëindig het, nog na die skerm en staar. Haar gevoelens is deurmekaar, maar die stukkie vreugde oor beter kontak met haar ma oorheers die verwarring. Haar liewe moeder moet nou net nie die singende Ruben op haar kom afdwing nie, dan gaan dinge baie vinnig weer skeefloop tussen hulle twee.


“Agge nee, wie kan dit nou wees?” Alicia kom teen­sinnig orent, sukkel om die slaapnewels van haar af te skud. Sy korrel met een oog na haar foon. Twaalfuur in die middag en sy voel of sy pas ingesluimer het. Gisteraand se geveg was besonder taai en die after party was besonder jolig. Al drink sy nie ’n druppel alkohol nie, het sy aangeleer om op dieet­koeldrank en swart koffie by die ander klomp by te hou. Kafeïen kan jou ’n ver ent bring as dit moet. Hoe lank sy egter nog dié leefstyl sal kan volhou, weet sy nie. Die adrenalien, die opwinding, die kwa­lik onderdrukte aggressie – dis nie meer vir haar so bevredigend soos aan die begin nie.

Daar druk die persoon al weer die klokkie by die gebou se hoofingang. Sy is nou wakker, sy sal dit maar tot by die woonsteldeur moet maak. “Ek kom, ek kom!” skree sy, al weet sy die persoon kan haar g’n onder op straatvlak hoor nie.

Sy haal darem die interkom sonder om oor iets te val of duiselig te raak. “Wie’s daar?” Sy’s so deur die blare dat sy skoon vergeet om Engels of haar halfgebakte Nederlands uit te haal.

“Jy ken my nie, maar laat my asseblief inkom,” kom ’n besonder aangename stem oor die inter­kom. In suiwer Afrikaans. “Ek het sowaar al weer die koue onderskat.”

Sy skrik haar asem skoon weg. Iets het met iemand by die huis gebeur en Alex het die Suid-Afrikaanse ambassade gekontak. Dis haar ma. Dis sweerlik haar ma wat iets oorgekom het. Dit sal haar wat Alicia is, se straf wees, presies wat sy ver­dien. Maar die ambassadeur of so iemand sal tog nie self ’n tyding kom oordra nie. Of sal hulle? “Jou naam, asseblief?” kry sy dit deur bewende lippe uit.

“Ruben Retief. Ek is Lexi se broer. Jy weet, Lexi? Jou broer se meisie.”

Natuurlik, dis logies dat Alex via Lexi sal werk om tyding by haar uit te kry. Hy sal nooit sommer net bel met verskriklike nuus nie. Sy bewe so dat sy die knoppie die eerste keer skoon mis druk. “Kom in!” Haar stem slaan hoog deur van pure paniek. Sy het vergeet hoe lief sy haar ma het – dit het sy ná verlede week se gesprek eers behoorlik besef. Nou weet sy sy is nie gereed om haar ma te verloor nie. In hierdie enkele oomblik weet sy ook sy sal Suid-Afrika toe gaan vir die troue. Indien daar natuurlik wel ’n troue is, indien Ruben Retief nie die draer van vreeslike tyding is nie.

Dit voel na net ’n paar minute voor sy voetstappe op die trappe hoor. Die man moet fiks wees, dis nie sommer enigiemand wat hierdie smal, steil trappe so vinnig kan klim nie. Sy ruk die deur oop en wag hom in; kyk dan verstom na die man wat na haar toe aankom. Dit kan nie Ruben Retief wees nie. Sy weet van opera net mooi niks, maar dis beslis nie hoe sy haar ’n operasanger voorgestel het nie. Wel, hy het ten minste ’n mooi praatstem, dit het sy dadelik opgelet. Sy sangstem het gelukkig niks met haar uit te waai nie. “Hallo! Ek soek na Alicia?” Van aangesig tot aangesig is die stem nog mooier, maar nie naastenby so mooi soos die man self nie.

“Dis ek. Kom in! Wat het gebeur?” Sy staan terug dat hy kan inkom en val amper oor Stoffel wat ge­luidloos agter haar ingeskuif het. Die liewe ou kat het natuurlik dadelik agtergekom iets is verkeerd. Of dalk is hy net vies oor sy so vinnig uit die bed opgespring het. Hy dink mos sy bestaan net om sy persoonlike verwarmer te wees.

Ruben kom nie in nie. Hy staan onseker op haar drumpel en kyk haar op en af. “Jy is Alicia? Is jy seker? Hoe bedoel jy, wat het gebeur? Niks het gebeur nie, behalwe dat Kupido se pyltjie twee oumense getref het en hulle ons by die troue wil hê.”

“Regtig? Is jy seker sy het niks oorgekom nie? En hoekom kan ek nie Alicia wees nie?” Die verligting is so oorweldigend dat haar ore behoorlik sing. Soos gewoonlik as sy op haar senuwees is, gaan sy onbedaarlik aan die babbel: “Ek dink dis my skuldige gewete wat my sommer laat besluit het dis iemand van die ambassade wat my kom vertel my ma het iets oorgekom. O liewe hemel, en kyk hoe lyk ek! G’n wonder jy wonder wie ek is nie. Kom in, kom sit, ek trek net gou iets aan en was my gesig. Maak sommer die deur agter jou toe, dis weer flip­pen koud vandag.” Sy maak dat sy wegkom kamer toe, kom daar tot stilstand en staar verskrik na die meisie in die spieël. Sy lyk presies soos sy voel: ver­ward en verleë. Haar hare staan in elke denkbare rigting, sy het nie laasnag haar grimering afgehaal nie en sy is geklee in ’n wynrooi nagjurkie van satyn wat nie eens die heel nodigste behoorlik bedek nie. Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om vir die man te sê hy kan nou maar weer gaan – sy weet mos nou haar ma is oukei. Nee, dit sal nie werk nie, sy sal beskaafd moet probeer optree. “Maak solank vir ons koffie, asseblief? Ek maak myself net respektabel,” roep sy uit die kamer en skarrel inderhaas badkamer toe om so gou as moontlik te red wat te redde is.

“Oukei!” roep hy tot haar verbasing terug en oomblikke later hoor sy hoe hy in haar kombuisie kaste oop- en toemaak. Dit lyk nie of haar holder­stebolder verskyning hom te veel ontstel het nie. Of dalk is hy maar net van nature so voor op die wa dat dit vir hom niks snaaks is om in ’n vreemdeling se kombuis rond te nie.

In ’n rekordtyd is sy aangetrek en terug in haar woonkamer. Sy gaan help hom met opset nie, maak haar net op die bank gemaklik en wag om te sien wat uit haar kombuis te voorskyn kom. Sy hoef ook nie lank te wag nie. Hy kom rustig met ’n skinkbord woonkamer toe. Dis die mooiste prentjie wat sy in ’n lang, lang tyd gesien het. Die skinkbord is netjies gedek met haar bekers met Afrikapatrone en die bypassende melkbeker en suikerpotjie. Die blou Delftbakkie waarin hy die beskuit gepak het, pas nie so lekker in die prentjie nie, maar wie is sy nou om krities te wees? Dis nie aldag dat ’n mens deur so ’n beeld van ’n man bedien word sonder dat dit jou ’n sent kos nie. Dan hou hy sowaar nog soos ’n ware gentleman vir haar die skinkbord ook. Sy help haarself, sit dan agteroor met ’n beskuit. “As my ma perdfris is, wat bring jou dan hier?”

Hy gaan sit oorkant haar, help homself en kruis sy bene. Hy lyk so tuis in haar woonkamertjie asof hy nog altyd hier was. “Ag, ek hou maar net daar van om beeldskone vroue op ongeleë tye wakker te klop.”

Sy kan nie help om verleë te lag nie. “Wel, dit was beslis nie ’n beeldskone vrou wat vir jou die deur oopgemaak het nie. Ek het geskrik toe ek in die spieël kyk, hoor!”

“Well, you cleaned up nicely.” Sy oë gaan oor haar hare wat sy inderhaas in ’n skewerige poniestert vasgemaak het, haar seep-en-water-gesig, pienk jogabroek en oorgroot blou top, tot by die pers wolsokkies wat sy haastig oor haar kaal voete getrek het.

Sy voel soos ’n gogga onder ’n mikroskoop, of eintlik soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks, as sy so na haar eie kleurskema kyk. Sy byt egter vas en kyk hom moedswillig ook sistematies van bo na onder deur: langerige donker hare; kort, netjiese baard; donker oë; smal hande met lang vingers wat sekerlik nog nooit ’n steek handewerk verrig het nie; leerbaadjie, vaal gewaste jeans, ge­hawende stewels. “Jy lyk ook nie te onaardig nie,” kry sy hom terug en wag om te sien of hy die or­dentlikheid het om verleë te lyk.

Hy raak geensins verleë nie. Hy bars uit van die lag en slaan sy hand dramaties oor sy hart. “Dankie vir die kompliment, o skone dame.”

’n Eienaardige ding gebeur met Alicia, iets wat sy nog nooit beleef het nie. Sy kan sweer die woon­stelvloer beweeg so effens onder haar. Of dalk het die aarde ’n graad of twee gekantel. Iets in die lug het verander en in haar lyf neerslag gevind. Sy voel beurtelings koud en warm en haar hand bewe lig­gies toe sy die koffiebeker haastig op die skinkbord neerplak. Sy weet onmiddellik – helder en duidelik: Ruben Retief is moeilikheid. Die ding is net, sy was nog altyd mal oor moeilikheid.


Ruben vat sommer nog ’n beskuit, net om sy hande besig te hou. Iets vreemd is met hom aan die ge­beur, iets wat hy jou wragtig nog nooit ervaar het nie. Alicia van Aarde is darem nie die eerste mooi vrou wat hy in sy lewe ontmoet nie, maar hy dink Santie Viljoen in graad twaalf het laas ’n soortge­lyke effek op hom gehad. Hy sal regtig op praktiese dinge moet konsentreer as hy sy temperatuur bietjie wil afbring. “Hoekom het jy ’n skuldige gewete oor jou ma?” Hy het wel al van Lexi se kleurvolle vertellings afgelei Alex se ma ’n formidabele vrou is. Die beeld wat hy in sy kop van haar het, is beslis nie dié van ’n patetiese mens wat maklik deur haar dogter geboelie sal word nie.

“Ag, dis ingewikkeld.” Alicia vou haar lang bene onder haar in en vat nog ’n beskuit. Die opsigtelike genot waarmee sy dit in die koffie doop en presies op die regte oomblik hap, laat hom dink sy is nie ie­mand wat chronies op dieet is nie. Sy is in elk geval nie soos ’n klerehanger gebou nie. Die lang bene in die pienk kleefbroek is gespierd en haar bewegings is dié van iemand wat volkome tuis in haar eie lyf is. “Dit het ook nie eintlik iets met jou te make nie. Ek was netnou sommer melodramaties; ek het nog soos ’n klip geslaap toe jy die klokkie gelui het.”

Hy kry die boodskap hard en duidelik: Moenie verder uitvra nie. Goed, dan los hy die kwessie van haar ma daar, maar hy het nog heelwat ander vrae. “Ek het omtrent twaalfuur hier aangekom. Ek het nie gereken dis te vroeg om by iemand aan te klop nie.”

Sy trek effens aan haar blonde poniestert, vee die los haartjies om haar gesig onnodig weg. ’n Bekoorlike blos versprei oor haar wange. “Gisteraand was ’n bietjie rof. Ek het nie meer die stamina van ’n twintigjarige nie.”

Hy registreer met ligte ontsteltenis die gevoel van teleurstelling wat hy ervaar. ’n Partytjiedier, dis wat sy is. Laat uit op die Saterdagaand, Sondagmiddag steeds aan die slaap, gesig nog beplak met te veel grimering van die vorige aand. Dis nie die prentjie wat hy in sy kop gehad het van ’n bibliotekaresse by een van Amsterdam se lieflike biblioteke nie. Dit wys jou net hoe verkeerd kan ’n mens wees. Hierdie meisie het heel moontlik ’n Europese lewe waarvan haar mense niks weet nie. Wel, hy gaan deur die troue darem net op ’n ingewikkelde manier aangetroude familie van haar word; dis nie dat hulle beste maatjies hoef te wees nie. “Jy kan seker maar weer gaan inkruip as ek my loop gekry het. Lexi het so aangehou ek moet kom kennis maak dat ek maar besluit het om ’n draai by jou te gooi.”

“Ek het nie eens geweet jy is ook in Amsterdam nie.” Sy is ooglopend nie baie in haar noppies met die feit dat hy hier opgeduik het nie.

Om te dink hy het gereken hy kan dalk ’n bietjie aangename Afrikaanse geselskap op die Sondag raakloop. Europa is nie meer vir hom vreemd nie, en Nederland voel in elk geval ’n bietjie soos huis as gevolg van die taal, maar hy verlang tog die afgelope tyd meer huis toe as tevore. Hy sit dus sy beker neer en kom orent. “Toemaar, ek sal jou nie crowd nie. Ek wou maar net kom kennis maak, aangesien ons vermoedelik saam sal moet troue hou.”

“Hoe voel jy oor die trouery? Is dit nie vir jou ’n bietjie weird nie?” Sy kyk hom fronsend aan. Hy kry die gevoel daar is iets aan die situasie wat haar ont­stel wat sy nie met hom gaan bespreek nie.

Hy haal sy skouers op. “Ag, dis altyd mooi as mense verlief raak, hoewel verlief raak nou nie juis een van my stokperdjies is nie. As die twee in hulle later jare gelukkig saam kan wees, gun ek hulle dit.”

“Dit klink nie of jy weet van die geskiedenis tus­sen hulle nie.”

Dis vir hom ’n verrassing. “Het hulle mekaar vroeër geken? Is daar iets wat jy my nie vertel nie?”

Sy glimlag ’n snaakse glimlaggie. Daar is seer­kry agter die glimlag. Of verleentheid, hy is nie seker nie. “Daar is baie wat jou blykbaar nie vertel is nie. Ek dink egter nie dis my plek om hulle dinge uit te blaker nie.” Sy kom ook orent en gaan maak som­mer die deur vir hom oop. Dis duidelik dat sy nie kan wag om van hom ontslae te raak nie. “Hoewel ek verbaas is dat Lexi jou nog nie die hele storie ver­tel het nie, sy klink vir my na enetjie met ’n redelike los mond.”

Mensig, hoe vererg hy hom vir die vrou! Hy het Lexi lanklaas gesien en sy is nie besonder goed met geheime nie, maar sy bly sy kleinsus. “Het jy al vir Lexi ontmoet, Alicia?”

“Op Skype, ja. Sy lyk na ’n woelige entjie mens.”

“Is jy dalk jaloers omdat sy jou boetie se hart gesteel het?”

Sy maak sommer die deur nog ’n bietjie wyer oop. “Ag man, nou’s jy skoon simpel!”

“Ek mag simpel wees, maar jy’s ’n bietjie veroordelend teenoor iemand wat jy nie regtig ken nie.” Hy tree oor haar drumpel, draai dan moedswillig om en wuif onnodig. “Mooi bly, Alicia. Sien jou by die troue.” Toe maak hy dat hy wegkom, voor hy dinge sê wat liewer ongesê moet bly. Oor die dinge wat hy voel, het hy egter nie beheer nie. Die enigste raad is ’n vinnige fietsrit terug huis toe, of nee, hy sal sommer ’n paar ekstra draaie ry. Oefening is al wat vir die vreemde woelinge in sy lyf sal help. Hopelik.