Skip to main content

Uittreksel Vlug van die berghaan

Een

“Juliet Foxtrot Xray.”

Olivia se lippe klank die Beechcraft Bonanza se roepnaam terwyl sy oor die letters op die silwer verf van die vliegtuig streel. Sy loer onderlangs na die werktuigkundige waar hy stug doenig is by die skroef en die lemme bevoel. Sy hare hang grysgespikkel langs sy gesig af, steeds soos toe sy hom donkernag by sy huis gaan opklop het omdat sy ligdag wil opstyg Koepelplaas toe. Saam met hom loop sy rondom die romp van die vaartbelynde vliegtuig, staan op haar tone langs hom om te sien of die brandstofskroef op die vlerk sonder moeite beweeg, maak seker dat die vlerk-en stertflappe moeiteloos beweeg en die wiele stewig opgeblaas is.

“Jammer, oom Arrie.” Sy vryf die stof aan haar hande teen haar denim af, versigtig, sodat haar ver­loofring se diamantjie nie haak nie. “Jy is die enigste een wat deur my pa vertrou is met hierdie vliegtuig, én die enigste een wat ons familie se geite ken.”

“Sy’s reg om te vlieg, Livi, gediens net voor jou pa . . .”

“Dood is.”

Hy druk sy hand ongemaklik deur die digte grys boskasie. “Ja, toe hy die laaste keer sy kliniek daar in die godverlate wêreld gaan besoek het.”

Sy tik met haar hand op die silwer vlerk. “As die dag breek, vlieg ek.”

“Het jy nie die nagvliegopleiding destyds saam met jou pa gedoen nie?”

“Nee, ek was in my finale jaar, te besig, anders kon ek nou dadelik gevlieg het. Sy kyk vlugtig na buite – deur die vliegtuigloods se oop deure skitter en­kele sterre nog baie helder. Riviersicht se straatligte is dynserig van ’n mistige rook wat oor die woonge­bied hang.

“Dis nie oor die vliegtuig wat ek bekommerd is nie, Livi.” Sy wenkbroue maak woes en wit ’n sam­breeltjie oor sy oë. “Wanneer laas het jy gevlieg?”

Olivia se vingers peuter met die rooibruin string hare wat uit die vlegsel oor haar skouer losgekom het. “Koepelplaas toe, twee jaar gelede, net toe ek met my Zuma-jaar klaar was.”

“Dis lank terug.” Hy buk swaar om na iets op die wiele te kyk, kom dan regop. “Kom ons stoot gou dié lady buitentoe – ek wil hoor hoe haar enjin loop.”

Olivia druk met haar skouer teen die romp en steun ’n oomblik saam met hom om die vliegtuig by die loods uit te stoot.

“Is dit nodig dat jy vanóggend nog vlieg? Kan hulle nie ’n plan maak om die man by ’n hospitaal te kry nie?”

“Die water in die Oranje het reeds te hoog opgestoot, Oom. Omdat die rivier ’n haarnaalddraai maak daar waar die plaas baie laag by die drif lê, stoot selfs die geringste vloedwater oor die laagliggende dele, en het dit sommer vinnig ’n vloedvlakte tot gevolg wat die plaas van die buitewêreld afsny. Dis hoekom my pa die lodge, kliniek en plaaswerkers se huise so hoog moontlik en naby aan die rotskoepel gebou het. Rikus moes al eergister sy gaste aangemoedig het om te vertrek. Nou kan daar geen voertuig meer deur nie.”

“H’m, en die nuus sê dat die Vaalrivier se massas water op pad is om saam met die Oranje see toe te storm, daar’s chaos al langs die rivier op. Gelukkig is die lug skoon op jou vliegpad – die Noord-Kaap het nie eens ’n beduidenis van ’n wolkie in die lug nie, al stroom daar miljoene liter water verby op pad see toe.” Hy raak haastig. “Nou kom, laat ek jou gou help om die mediese toerusting uit jou voertuig te kry. Ek hou nie daarvan dat jy alleen op daardie godverlate plek inneuk met hierdie ou vliegtuig nie.”

Olivia glimlag. “Ek het met hierdie stukkie metaal grootgeword, Oom. Selfs my vlieglisensie met haar gekry. Al is sy al baie oud, het my pa haar vertrou en die viersitplek is baie gerieflik, nie so swaar nie.”

In die skraal lig wat uit die loods oor hulle skyn, trap sy op die vlerkgedeelte teenaan die romp en dop die voorste sitplek vorentoe om die bokse vol me­diese voorraad wat oom Arrie vir haar aangee, stewig vas te trek op die agterste sitplekke.

“Waarvoor is hierdie stapel ou koerante?” steun die ou man toe hy dit vir haar aangee om in te pak.

Sy lag. “Dis vir Talita se hoed. Die Herero-vroue druk mos koerantpapier daarin om die puntige vorm te behou. Ek het gelukkig daarvan onthou toe ek die koerante in my pa se praktykkombuisie gestapel sien lê het.”

Sy haal ’n fles met koffie wat Ma-Thea vroeg­nag tussen trane deur vir haar gemaak het, uit haar kortlyf-Pajero.

“Hoe is die man dan so in die nag op die plaas beseer?” Hy vat ’n beker aan by haar. Olivia luister na die genoeglike slurpgeluid uit die anysbeskuit wat hy met sy groot hand in die koffie dompel.

“Hy is geskiet.” Sy kyk op in die donkerte. “Hoe dit gebeur het, weet ons nog nie, maar Rikus was ang­stig toe hy vir Ma-Thea gebel het. Rikus hou vol dis ’n windbukskoeël. Gelukkig is suster Agnes se woon­stel in die kliniek en sy kon darem vir my sê dat dit na ’n skouerwond lyk. Gelukkig nie laag genoeg vir longskade nie.”

Oom Arrie frons. “Maar jou pa het mos nie jag­ters op die plaas toegelaat nie?”

Olivia sug. Sy kan netsowel maar aan die oom erken dat Rikus ’n paar van sy universiteitsvriende vir ’n week Koepelplaas toe geneem het. “Sy beste vriend trou Saterdag. Talita het laas nag oor die foon vir Ma-Thea gesê dat hulle ’n bietjie uitgehaak het.”

“Bachelors?” Die oom maak keel skoon. “Dit gaan neuk, nè.”

“Vir seker.”

“Hy sal hoop dat jy hom betyds terug vlieg vir die troue?”

Sy trek haar skouers op, sluk teësinnig aan die lou koffie wat te veel suiker het na haar smaak. “Suster Agnes sê daar’s ook ’n hele paar van die omgewing se mense in die kliniek wat hierdie week ingekom het en aandag nodig het. Ook hulle is nou gestrand op die plaas. Niemand kan meer met ’n voertuig, om nie eens te praat van die donkiekarre wat die meeste van hulle gebruik, deur die water kom nie. Nie eens Rikus se kragtige vier-by-vier kon daardeur nie – moes glo met die trekker uitgesleep word.” Olivia sluk die laaste soet druppels van haar koffie en sug vir die soveelste keer.

“My pa se dood het te onverwags gekom, oom Arrie. Ek moes inderhaas by die praktyk reëlings tref.”

“Wat van Groote Schuur – dis tog mos waar jou hart lê?”

“Sal maar ’n droom moet bly, Oom. Ek moet tog na aan my verloofde wees . . .” Olivia druk die twee leë bekers terug in haar stiefma se piekniekmand­jie. “Dieter het in sy nuwe pastorie ingetrek en ver­wag dat ek hom help – die gemeentesusters kon nie alles vir hom doen nie.” Sy leun met haar elmboë op haar knieë, sit vooroor in die ongemaklike stoel. “En Ma-Thea was te verward om te help met die be­grafnisreëlings – ek moes alles daar net so los om haar hier in Riviersicht by te staan, en te reël vir ’n locum in die praktyk.”

“Wat van Rikus? Kon hy nie help nie?”

Olivia strek orent, kyk moedeloos na die ouer man. “Nee wat, Oom. Hy het nie kans gesien daar­voor nie. Sedert die wrede aanval op hulle plaas waartydens sy pa dood is toe hy ’n klein seuntjie was, ly hy mos aan posttraumatiese stresversteuring. Hy moet gereeld sy meds gebruik. Toe my pa met Ma-Thea getroud is, het Pappa alles in sy vermoë gedoen om Rikus te help.” Sy knik haar kop. “Ja, miskien ’n bietjie bederf ook.”

“En intussen het jy maar jou koppie afgehou en hard gewerk om jou studies te voltooi. Jou pa het gehoop . . .” Die oom huiwer.

“Dat ek sou voortgaan met sy praktyk hier in Riviersicht,” konstateer sy die feit.

“En nou?”

“Nou sit ek tussen ’n klomp vure.” Oom Arrie hou sy bekertjie vir nog ’n slukseltjie koffie. “Dieter wil my naby hom hê – dis hoekom ek by Groote Schuur be­dank het. Hy het die beroep na ’n gemeente aan die buitewyke van Durbanville aanvaar – die gemeente soek ’n predikantsvrou. Tweedens soek die kliniek op Koepel dringend na hulp en Ma-Thea hoop dat Rikus sy voete in die lodge sal vind; sy hoop dat haar seun vir hom ’n loopbaan daar op Koepelplaas sal vestig, sy grootmensvoete sal vind.”

“Het jou pa Koepelplaas aan hom bemaak?”

“Dis die grootste probleem – groot ongelukkigheid. Ek is die erfgenaam. Ek dink my pa het gehoop dat ek, soos hy, na die kliniek sal omsien. Rikus het reg tot Koepellodge, indien hy die lodge sou wou bedryf, maar die besluit lê ook by my. As hy nie ’n sukses daarvan maak nie, verval daardie reg.” Sy sug. Sy voel ongemaklik om die situasie te verduidelik, maar terselfdertyd verlig om ’n oor te hê wat wil luister. “Pappa het vir Rikus ’n groot bedrag in ’n trust gelos waaruit hy jaarliks ’n toelaag kry. Ook Ma-Thea voel dat hy eerder die plaas moes geërf het.” Olivia kyk hulpsoekend na oom Arrie. “Om wat mee te maak? Hy het al lankal geluide gemaak dat die plaas eerder verkoop moet word vir iets meer winsgewend in ’n ander deel van die land. Dan is die nedersetting wat my pa op die plaas gevestig het, kliniek inkluis, daarmee heen. Min mense gaan ’n plaas wil koop daar in die afgeleë, amperse woestyngebied. Boonop as hulle ’n bestaan moet maak uit hoofsaaklik pelgrimgangers. Rikus het my pa oorreed om ’n groot klomp geld aan verbeterings aan die lodge te spandeer.” Sy glimlag skeef. “Dit het die speelplek van welvarendes geword wat bereid is om baie te spandeer aan ’n kort vakansie langs die rivier – kanovaart is ’n gesonde sport, wat my pa wel sou toegelaat het, maar wegbreeknaweke van jollers was die laaste ding wat my pa sou goedkeur.”

“Ek verstaan, Livi. Die pelgrimgangers is hoof­saaklik mense wat gaan vir die afgesonderdheid, die stilte. Ek het die artikel daaroor in die tydskrif Platteland gelees.”

“Jip, my pa se droom. Elke jaar, oor Pase veral, besoek talle instansies, kerke en ander godsdiens-en spirituele groepe die plaas. Dit was sy ideaal dat mense bewus moes word van die magiese stilte op Koepel waar die mistiek tussen die enorme graniet-rots en water voelbaar is. Dit is ook hoekom hy die tentkamp daar opgerig het. Sodat lede van ’n pelgrimstog in relatief gemaklike toestande hulle tyd daar kan deurbring. Die lodge sorg vir kosse – ou Talita is in haar element tussen die groot potte op haar stowe. Wanneer dit te besig raak, kry sy hulp van die plaaswerkers se vroue.”

“Is die tentekamp in gevaar om te oorstroom?”

“Nee, die tente en ablusieblokke staan hoog op teen die een kant van die koepelrots, met ’n pragtige uitsig oor die rivier.”

“En die praktyk hier in Riviersicht?” Die ouer man mik om op te staan.

“Dit het soos ’n ryp vy reg in my skoot geval. Vir my om oor te neem met boekhouding, pasiënte en tant Dora wat al vir soveel jare deel van die praktyk is. Gelukkig het ek vir dokter Barnard uit die Kaap gekry wat in die praktyk locum tot ek weet wat om daarmee te doen.”

Oom Arrie skiet die laaste druppeltjies koffie met ’n straaltjie uit by die loods se deur. Hy lag. “Ja, ou Dora wat sommer ook diagnoses daar in haar ontvangshokkie maak en meer van die pasiënte se siektes af weet as die dokter. Jong, die dag begin breek . . .” Hy beduie met die leë koppie na die lig wat stadig rosig verkleur. “Jy kan ’n laaste draai loop, en dan kan jy maar klim om die lady in die lug te kry.”

Olivia haak haar heupsak van die stoel af en mik badkamer toe.

“Hei,” roep hy haar terug met sy rasperstem, “miskien sal jy daar op Koepel stil genoeg word om koers te kry uit hierdie spul probleme wat na jou kant toe gegooi is.” Hy sit sy hand swaar op haar skouer. “Moenie dat hulle jou oordonder nie, kinta. Ou Mike Tyson het gesê die enigste manier om jou opponent op die vloer te kry is hou vir hou – sorg dat jy hierdie probleme ook só oplos, pas net op vir die steelhoutjies,” vermaan hy met ’n krakerige lag­gie.

Sy byt haar onderlip, bang om emosies te wys. “Alles is net té oorweldigend vir my op die oomblik, Oom.”

“Nee wat, Livi. Vandat jy ’n haasbekkie was, onthou ek jou breë glimlag. Een van die dae gaan ek dit weer sien. Hierdie moeilike tyd sal verbygaan, dan hardloop jou lewe weer op al sy silinders.”

“Dit klink op hierdie stadium onmoontlik.” Sy glimlag skeef.

“Onthou ook maar wat Napoleon daar op die gevegsgrond gesê het: Onmoontlik bestaan net in die woordeboek van dwase.”

“Regtig?” Olivia lag kliphard. “Sal Napoleon nou vanoggend vir my kom sê!”

Die man kug amegtig in die vroeë oggendlug. “Kry jou ry!” beveel hy kamstig kwaai, maar sy hoor die omgee in sy stem.


Olivia haal haar selfoon uit, druk op haar stiefma se nommer: Gereed v opstyg. Sal laat weet. Dan druk sy die foon dood en plaas dit terug in haar handsak. Eerste reël van haar pa – jou lewe is te veel werd om dit deur afleidings te verloor, en dis juis Dieter se honderde WhatsApps wat haar op die oomblik onderkry.

Sy het hierdie roete al soveel kere gevlieg dat sy net weer veiligheidshalwe vinnig op die vlieg­kaart seker maak van die koördinate waarlangs sy na die plaas toe vlieg. Die leersitplek is koud onder haar sitvlak, maar toe sy die deur langs haar op knip trek, voel sy weer die opwinding van daardie dag toe sy haar solovlug gedoen het. Hier, in die eng ruimte van die kajuit, is sy in beheer. Sy waai vir oulaas na die bekommerde figuur wat haar langs die loods staan en dophou, en knip haar veiligheidsgordel vas. Die windsak wys dat daar ’n stewige oostewindjie waai – sy kruie aan na die verste deel van die aanloopbaan ten einde teen die wind op te kan styg.

Daar gekom, vat sy die stuurstang stewig vas en trek die gasarmpie uit met haar voete op die rem­pedale, jaag die rewolusies rasend op totdat die kragtige enjin die romp onder en rondom haar laat bewe. Dan los sy die remme. Haar pa het altyd gesê dit moet dieselfde vir ’n jokkie voel wanneer sy perd se wegspringhekkie voor hom oopskuif. Die vlieg­tuig skiet met ’n vaart vorentoe. Met haar oog op die spoedmeter, trek sy die stuurstang op toe sy tagtig knope bereik. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd lag sy ongebonde. Asof in harmonie met die vlieg­tuig maak sy haar op daardie oomblik los van die aarde en al haar probleme. Sy maak seker dat die wiele korrek invou in die onderstel, trek die flappe van die vlerke op, kry die verlangde hoogte, en druk die vliegtuig se neus na Boesmanland se verste punt doer in die suidweste.

Haar merkers kom een vir een – sy weet sy’s op die regte pad toe sy Prieska se hoë silo’s sien wat dig teen mekaar breed en spierwit teen die blou lug in beur. Sy dink aan Koepelplaas wat ook teen die rivier lê, net nie so knus tussen felgroen landerye soos hier nie; daar is dit die mees dorre deel langs die rivier, met hoë somers-en lae wintersuiterstes. Haar pa het geweier om sy grond te bewerk. Hy het geglo dat die groot, ronde granietkoepel op die plaas nie van landerye langs hom sal hou nie. Sy glimlag. Hulle het almal geweet dat die grond te veel klip het – dit sou te veel geld en tyd kos om dit te bewerk. Die plaas se water kom uit die rivier, en raak skaars oor die warm maande. Gelukkig het hulle ’n sterk boorgat met soet water vir menslike gebruik wat nog nooit opgedroog het nie.

Sy skreef haar oë en aan die rokerigheid wat ver links van haar lê, weet sy dat dit Upington is – haar tweede merker. Ingedagte kyk sy later na die wasem van die massas water ver regs wat oor die afgronde by die Augrabies-waterval stort; kosbare water in hierdie droë streek wat onbeheerst en woedend deur die ravyn op pad see toe storm. Sy druk die rigtingroer effens na links, want vliegtuie word nie toege­laat om oor of naby aan die asemrowende waterval te vlieg nie.

Eers toe Pella se yl groen soos ’n oase in die kaal landskap tussen die onherbergsame aaneenskake­ling van gebergtes vol klowe, kranse en koppe in die verte sigbaar word, druk sy die neus van haar vliegtuig rivierkant toe tot sy die landingstrook op Koepelplaas sien. Sy trek haar asem verskrik in. Kan dit wees dat die water alreeds tot so na aan die landingstrook opgestoot het? Dit terwyl die groot massas water vanuit die Vaalrivier seker eers die volgende paar dae hier sal aankom?

Die grys dakke van die geboue staan blink neffens die reusegranietkoepel tussen die hoë dadelpalms. Olivia druk die stang en duik af op die lodge om die bewoners se aandag met die klank te trek, bult dan haar arm­spiere om die stang weer op te trek en ’n veilige hoogte te verkry. Sy gaan sekerlik raas kry by Talita oor hierdie stuitigheid om met die vliegtuig oor die dakke te duik. Haar maag maak ’n opgewonde draai om weer ná twee jaar die bekendes te sien.

Oom Gerhardus is alreeds in sy blou voormansbakkie op die smal plaaspaadjie onderweg om haar te ont­vang, sien sy en neem die Beechcraft met ’n wye draai terug aanloopbaan toe om teen die oostewind in te land. Langs die landingstrook hardloop plaas­kinders om boerbokke weg te jaag. Dit voel vir haar asof haar pa weer hier langs haar sit. Nes hy sou maak, huiwer sy ook nie om soos al die kere wat sy saam met hom hierheen gevlieg het, die vlerke in nabootsing van die bergarend te wikkel nie. Sy sien hoe die kinders hulle arms waai om haar te groet, en dan druk sy die stang stewig in om Juliet Foxtrot Xray terug te kry op die grond.

“Bateleur!” het die kinders altyd gejil wanneer hulle haar pa sien. Sy knipper haar oë – sal sy dan nooit gewoond raak aan die afwesigheid van sy formidabele teenwoordigheid nie?

“Bateleur! Bateleur!” roep hulle ook nou na haar.

“Allawêreld, maar jy het gewikkel om hier te kom, Olivia. Ek het jou nie so vroeg al verwag nie. Die wa­ter stoot so vinnig op, ek was bang jy sou nie ’n aan­loopbaan hê nie. Kom kind, laat ek jou gou help om die medisyne oor te laai in my bakkie,” warrel oom Gerhardus alles in ’n stroom woorde terwyl sy stram uit die kajuit klim.

Die voorman se lyftaal maak ’n ongerustheid in haar wakker – hy is van nature ’n rustige mens wat nooit ongedurig is nie. “Môre, Oom. Dit klink of julle besig is hier op Koepel?”

“Groot moeilikheid,” bevestig hy haar vrese. “Het gistermiddag gejaag om die man van die kêrevêntjie daar onder op die sandstrand te gaan waarsku oor die water wat op pad is. Kry ek hom bibberend van koors . . . Sukkel om hom in my bakkie te kry,” dra hy inligting oor in staccato-sinne tussen die aanvat en oorpak van bokse vol medisyne uit die vliegtuig na sy bakkie.

“En . . .?”

“Eers by suster Agnes gaan aflaai, hulp by die werkershuise gaan kry om tent op te slaan en al sy goed in die wa tussen die boeke en papiere in te foe­ter. Moes die trekker vat om die wa uit te sleep voor die water hom kon vat.”

“Wie’s die man? Hoe weet ek dan nie van hom nie?” Sou ’n vreemde dan nou kamp opgeslaan het op die boogstrandjie?

“Jou pa-goed het hom glo toestemming gegee, Olivia. Ons het hom net so nou en dan gesien as hy ingery het Springbok toe vir negosie en vleis, party­keer was hy vir lang rukke weg. Hy pla ons nie.” Hy kug ongemaklik.

“Weet Rikus van hom?”

“Ek glo so. Maar hy’s te besig om aandag te gee, hy en daardie mans wat so . . .”

“So wat?”

“Jollifikasie hou,” mopper hy terwyl hy die laaste boks in sy bakkie laai. “Alles het hierdie week ver­keerd geloop. Eers kry ons die tyding van die water wat op pad is, en toe die moeilike kêrevênkêrel, en dan die geskietery gistraand en . . . klim maar, Livi, ek vat jou eers lodge toe, dan sal ek die vliegmasjien kom vasmaak.”

“Ek help gou.” Hier is meer probleme as wat sy voorsien het. In al die jare sou haar pa nooit toege­laat het dat ’n kampeerder daar onder by die strand­jie staan nie. En Rikus is ’n nul op ’n kontrak hier op die plaas, besef sy. Alleen sal hy nooit die pyp kan rook om die lodge te bestuur nie.

“Los maar, kind, ek het jare lank geleer waar en hoe om die vlerke vas te maak. Ek dink jy moet by die kliniek kom – suster Agnes se tande is al stomp gekou van worry. Dis nie asof sy onbekwaam is nie, maar sy sit nou met twee baie siek mense. Buitendien het Talita al die koffiewater opgesit toe jou vliegmasjien so onhebbelik oor die dak gebrul het, nes jou pa-goed altyd gedoen het.”

“Ek wil eers ’n vinnige draai by die kliniek gaan maak. Ons kan dan sommer die meds-bokse in die stoorkamer gaan toesluit. Die koffie kan nog ’n ruk­kie wag.”

“Nes jou pa-goed,” hoor sy die oom brom toe sy langs hom in die bakkie inskuif.

Kan jy glo – ’n plakker op Koepel! Sy glo nie vir ’n oomblik dat haar pa dit sou toelaat nie. Sy klap die bakkie se deur met mening langs haar toe.