Skip to main content

Uittreksel | Vlinders en vonke

Een

“Karo, kyk gou om. Voor jy alles mis!”

Die ywer in haar vriendin se stem laat haar nuuskierig omkyk. Verder af in die ry staan ’n handjievol middeljarige vrouens, ewe opgewonde om die seevaart tussen Port Elizabeth en Bazaruto mee te maak. Hul gekoer en gejuig neem aansteeklik toe en Karo moet effens uit die ry tree om te sien wat aangaan.

’n Lang man met stywe Levi’s en ’n wit bofbalpet is besig om die dames se groot klomp bagasie op ’n trollie te laai. Hy lyk effens verontwaardig oor al die aandag, maar glimlag nogtans sjarmant en sy toffiebruin bisepse span parmantig toe hy die volgende reistas vasvat. Haar blik haak behoorlik op hom vas toe hy boonop sy twee lang bene soos Hugh Jackman uitmekaar moet plant om die swaar tas gelig te kry, tot al die omstanders se groot vermaak.

“Liewe land,” kwyl Flaviana langs haar, “dis mos nou hoe ’n bootvaart moet begin.”

Karo kan nie stry nie. Die vreemdeling met sy Wayfarer-sonbril en ridderlike houding het pas haar voete onder haar uitgeslaan. So iets gebeur nie maklik nie. Uit die aard van haar werk kry sy daagliks te doen met mans mooier as die lewe self, maar hierdie adonis, kan sy met alle sekerheid sê, is een van daardie gelukkige mans met die unieke X-faktor in sy gene.

Toe hy klaar is, maak hy onverwags ’n ommekeer en kom in haar rigting aangestap. Amper te laat skuif sy weer terug in die ry en toe hy verbyloop, lig hy so ewe sy hand en salueer haar met twee vingers teen sy pet. Karo glimlag verleë. ’n Vuurwarm gloed slaan oor haar wange uit en sy loer onderlangs na waar hy in ’n ander ry by sy twee sportsakke gaan staan. Haar asem blaas bewerig uit.

“Sjoe! Waar kom hy vandaan?”

“Herken jy hom nie?” Flaviana stamp van agter af aan haar en fluister by haar oor. “Dis Christian Bailey. Hy doen Hugo Boss se editorials!”

“Wat?! Ek wou sê hy lyk bekend.” Karo is steeds in vervoering. “Wat sou hy hier kom maak?”

“Wie gee om?” koer Flaviana. “Dalk het hy ook ’n vakansieromanse kom soek.”

Flaviana se woorde tref haar soos ’n bak yswater en sy dwing haarself terug aarde toe. Ja, natuurlik. Dis hoekom hulle hier is. Teen die tyd dat die Southern Star môreoggend in Oos-Londen anker gooi, sluit die man van haar drome ook by hulle aan en teen môremiddag sal hulle vier paartjies aan boord wees, oneindig opgewonde en gereed vir die belowende seevaart wat voorlê.

Sy vestig haar aandag op die doeanebeampte toe dit hulle beurt is om aan te meld en glimlag by haarself terwyl hy deur die reisdokumente blaai. Sy voel darem nie te skuldig oor haar openlike bewondering vir ’n vreemdeling nie. Vir oulaas gun sy dit vir haarself, want van môre af wanneer Kabous ook daar is, gaan haar lewe nie meer dieselfde wees nie.

“Moenie nou opkyk nie,” fluister Flaviana by haar oor, “maar die mansmens kyk hierheen. Ek dink hy het jou herken.”

Sy grinnik effens gevlei, maar sy vermoed ook dat Flaviana soos gewoonlik oordryf. “Hoe sal jy weet? Die man het ’n sonbril op en buitendien, hy kan netsowel vir jou kyk.”

“Karo, ons wou nog altyd saam met hom gewerk het,” fluister Flaviana opgewonde. “Nou’t ons die kans om skouers met hom te skuur, heel moontlik in ’n jazzkroeg of ’n borrelbad. Hoe groot kan ’n passasiersboot nou wees, hmm?”

“Solank jy nie vergeet dat jy vir jou ’n kêrel saamgebring het nie,” herinner Karo haar.

Flaviana se glimlag verdwyn en sy loer vinnig na waar haar nuwe vriend elders besig is om aan te meld. “Ai tog! Hoekom het ek iemand saamgebring?”

“Wel, ek dink hy is heel oulik. Vol sports en ’n goeie sin vir humor.”

“Wie?”

“Dian, wie anders?” Karo glimlag. “Dit lyk of hy baie erg is oor jou.”

Flaviana verander van rat en glimlag guitig. “Hy’s oulik, is hy nie? En hy’t hierdie sagte plekkie vir krulkoppe. Liewe land, dit gaan een onvergeetlike bootvaart wees.”

Karo kan maar net lag vir haar vriendin se stuitighede.

Die beampte vind hulle besonderhede in orde en verwelkom haar en Flaviana op die Southern Star. Hy oorhandig die dokumente en toegangsbandjies en verduidelik dat hul bagasie reeds na die kajuite geneem is.

Dian het intussen met ’n kamera om sy nek by hulle aangesluit en hy vou sy arm besitlik om Flaviana. “Sal ons na die kajuite gaan soek?”

Met fladderende wimpers krul Flaviana haarself onder sy arm in en hulle stap arm om die lyf voor Karo uit. Sy kyk hulle agterna en verlang meteens na Kabous. Wanneer hy môre by hulle aansluit, begin die volgende fase van haar lewe. Sy is gereed vir enige aankondiging of fotosessie wat mag volg. Die gedagte sit ’n sprankel in haar gemoed en haar treë rek asof sy die pragstuk van ’n modeskou moet vertoon. Iewers buite haar gesigsveld duik die wit bofbalpet weer op, maar haar aandag is doelgerig op die uitgang. Miskien in ’n ander leeftyd, meneer Bailey, dink sy heimlik voor sy uitstap.

In die skouspelagtige grand foyer gaan al drie sprakeloos staan. Sy het nog nie iets aangrypender gesien nie. Pure luuksheid in ultramoderne dekor, met glanswit afwerkings, glas en blinkgepoleerde hout. ’n Grandiose draaitrap lei hulle af na die volgende dek, van waar hulle ’n goeie uitsig kry oor die twaalf ander dekke van die drywende paleis. Dit wemel van vakansiegangers wat, nes sy, hulle aan die besienswaardighede vergaap en alles probeer inneem. Een van die glashysers neem hulle af tot diep in die maag van die vaartuig en spoeg hulle in ’n lang gang uit. Aan die einde van die gang herken sy die drie metaalblou kleretasse wat sy vroeër ingeboek het. Nog verder weg staan Flaviana en Dian se bagasie en hulle mik daarheen. 

“Ek brand om te hoor van jou nuwe werkskontrak, Karo,” raak Flaviana aan die gesels en val langs haar in. “Hoekom klink jy so geheimsinnig daaroor?”

“Ek’s nie geheimsinnig nie. Ek sal jou vertel sodra ons rustig iewers kan sit en gesels.”

“Sê dan net vinnig wie jou die aanbod gemaak het?”

Karo maak ’n kreungeluid. “Daar gaan meer as genoeg tyd wees om daaroor te praat. Verkieslik langs die swembad met ’n skemerkelkie . .”

Haar woorde sterf op die daad weg toe die wit pet met die netjiese Levi’s onverwags vanuit ’n sygang voor hulle instap. Sy en Flaviana verminder tegelykertyd spoed en kyk stomgeslaan hoe Christian Bailey by die deur oorkant die blou tasse tot stilstand kom. Hy waai met die toegangsbandjie oor die slotmeganisme, tel die twee sportsakke by sy voete op en verdwyn na binne. Toe die deur agter hom toeklap, kyk Flaviana uit die veld geslaan na haar.

“Kyk net hoe gelukkig is jy!”

Karo snork kliphard en gaan staan by een van die tasse om die handvatsel uit te trek. “Hy kan maar bly waar hy wil, Flav. En hy mag dalk die nimlike X-faktor hê, maar ek het my eie vooruitsigte, dankie.” Haar arm lig om die kajuitdeur oop te sluit. “Wil julle inkom en kom kyk?” Sy sleep die kleretas op sy wieletjies agter haar by die deur in, met Flaviana en Dian wat met die res van haar bagasie volg.

Pragtige, serene slaapkwartiere verras hulle. Links is ’n klein kombuisie, regs ’n gesellige sithoekie en op die groot bed in die middel is twee handdoeke wat sierlik in die vorm van harte gevou is.

Flaviana skuif die balkondeur oop. “Asemrowend!” roep sy oor Port Elizabeth se grysblou water uit.

Karo skud haar kop toe Dian outomaties sy kamera lig en Flaviana haar lang hare elegant uit haar nek lig om dadelik gereed te staan vir ’n fotosessie. Anders as sy, geniet haar vriendin die konstante kollig. Sy wat Karo is, het vir eers afgeskakel, heel moontlik vir goed.

Sy parkeer die kleretas, plons op die bed neer en streel liggies oor die sagte deken. Dit het lankal tyd geword vir die volgende stap in haar en Kabous se verhouding. Ongelukkig het dit haar ’n hele paar jaar geneem voor sy kon besef dat hy die perfekte man en ideale pa vir haar kinders gaan wees, maar noudat sy nie meer daaroor twyfel nie, het sy sewe salige dae om hom daarvan te oortuig.

“Is dit hier waar my gunstelingvriendin bly?” vra ’n opgeruimde stem by die kajuitdeur en ’n lang man en sy blonde vriendin kom hand aan hand ingestap. “Ek’s bly ons kan uiteindelik saam kuier, Karo. Nina het hoeka gesê sy gee nie om as jy saans ’n bietjie my rug wil kom krap nie,” sê hy terglustig.

“Ja, reg, Meyer,” kap sy speels teë. “Asof jy so braaf sal wees om dit toe te laat.”

“Wil jy ’n weddenskap aangaan?” hou hy kastig vol, maar steek sy hande uit en hy en Nina omhels haar gulhartig. Sy stel hulle voor aan Dian en Flaviana as Kabous se vriende van universiteit en laat nie na om te noem dat hulle onlangs verloof geraak het nie. Toe almal ywerig aan die gesels raak oor die bootvaart wat voorlê, glimlag sy tevrede. Haar en Kabous se vriende sal goed oor die weg kom.

“Wat is die storie met Kabous?” wil Meyer weet.

“Volgens sy laaste boodskap sien hy ons eers môre.”

“Een of ander krisis by die hospitaal,” verduidelik sy skouerophalend. “Ons het skaars begin ry, of hy moes terugdraai. Ek kon darem reël dat hy môreoggend in Oos-Londen opklim.”

“Arme Kabous, hy kan so verknog raak aan sy pasiënte, ten koste van homself.” Nina se oë begin glinster. “Jy weet, ek en Meyer koukus nou al lank. Soos ons hom ken, is hy die laaste een wat ’n bootreis sou aanbeveel. Tensy hy natuurlik iets op die hart het.”

Sy kan die plukkie aan haar mondhoeke nie keer nie. “Wat sal ek sê? Die oomblik toe hy daarop aandring dat julle ook moet saamkom, toe weet ek hy voer iets in die mou.” Sy glimlag bedees. “Maar hy wou nie ’n woord rep nie en ek hoop van harte nie ek verbeel my nie.”

“Hmm . . .” Meyer vryf oor sy ken. “Jy besef dat hy spesiaal vir Adam uit Jordanië laat kom het om hier te wees? Wat Adam nooit sou doen, as hy nie ’n baie goeie rede gehad het nie.”

Karo glimlag van oor tot oor. As Kabous se vriende ook twee en twee bymekaar kon sit, het sy duidelik nie die kat aan die stert beet nie.

“Ek kan Adam ’n bietjie gaan pols as jy wil,” stel Meyer voor.

“Nee dankie,” keer sy vinnig. “Los maar vir Adam uit. Ons sal wel binnekort weet wat Kabous in die mou voer.” Sy vryf oor haar boarms. Teen dié tyd weet hulle waar Adam Jordaan in die prentjie pas.

“Hopelik is hier genoeg vonkelwyn aan boord,” laat Flaviana geesdriftig van haar hoor. “Lyk my die onmoontlike gaan tog gebeur.”

“Nou ja, toe.” Meyer trek vir Nina aan haar hand op. “Ons wil gou die boot gaan verken voor Adam en sy meisie ook arriveer. Sien ons julle by die wegseilpartytjie?”

“Natuurlik,” beaam Karo. “Ek wil net eers uitpak, dan kry ons julle later.”

By die deur draai Meyer weer om. “O ja. Nina voel ons moet ’n skedule opstel vir die week se planne. Hoe klink dit vir julle?”

Toe almal tevrede instem en Kabous se twee vriende in die gang af verdwyn, sak Flaviana langs Karo op die bed neer.

“Het ek reg gehoor? Bring ons vriend Adam ’n meisie saam?”

Karo knik tevrede. “Kabous het belowe dat Adam iemand gaan saambring wat hom sal besig hou. Daar is geen manier wat ek Kabous met hom gaan deel nie, nie vir ’n oomblik nie, dankie. Hierdie bootvaart is gans en al te belangrik.”

“Goed so. Jy en die teddiebeer sien mekaar min genoeg.”

“En wie is Adam?” wil Dian nuuskierig weet. “Sal ek moet ligloop vir hom?”

“Nee wat,” keer Flaviana. “Hy is niemand besonders nie. Dis al wat jy hoef te weet.”

Toe Dian vraend na haar kyk, kapituleer sy. “Nou goed, hy is ’n ou skoolpel van Kabous. Maar hy bly nog by sy ouers en as jy my vra, is dit hoekom hy so knorrig is en nie klaar geleer kry nie. So, nou kan jy ontspan.”

“Hy het nog nie begin werk nie, want hy flenter alewig in die buiteland rond,” gooi Karo ook ’n stuiwer in die armbeurs en trek die ritssluiters van haar tas oop. “Dankie tog, hy is nou iemand anders se probleem. Iemand wat van nors gesigte hou en dink alle plastiese chirurge is ’n goeie vangs.”

Dian se mondhoeke krul afwaarts. “’n Plastiese chirurg? En die probleem daarmee is?”

“Vat ’n raai.” Flaviana kruis haar arms. “Hoe dink jy is natuurlike modelle soos ek en Karo veronderstel om met silikooninplantings en ontrimpelings te kompeteer? Daai meisies raap al die lekker kontrakte op en jammer om te sê, die meeste fotograwe ken nie eens die verskil nie.”

Dian se oë rek. “Goed jy sê my. Volgende keer sal ek eers ’n deeglike ondersoek moet doen.” Hy lag te lekker vir die vuil kyk wat hy kry.

“Kom jy?” sê-vra Flaviana en staan op. “Ek wil ook my tas gaan uitpak.”

Sy sak onmiddellik weer terug tot op die bed en bly doodstil sit. Karo kyk nuuskierig op en volg Flaviana se versteende blik in die rigting van die oop deur. Haar asem trek opsluit in toe die Hugo Boss-model by die kajuit instap en ietwat verdwaas rondkyk.

“Karo? Ek dag ek hoor jou stem.” Die diep stem klink alte bekend en dit neem haar ’n paar sekondes om te besef dis nie Christian Bailey wat voor haar staan nie, maar Kabous se skoolpel.

“Adam?” vra sy oorbluf. “Ek dag . . . ek het nie geweet jy’s al hier nie.” ’n Vuurwarm gloed klim teen haar wange uit toe sy besef dit was die irriterende Adam wat sy en Flaviana vir ’n gesogte model aangesien het.

Hy kyk ondersoekend na haar. “Ek het jou so ewe gegroet, Karo, daar in die doeanekantoor.” Hy wil nog iets byvoeg, maar hy merk die twee ander mense in die vertrek en haal sy sonbril en bofbalpet in een beweging van sy kop af.

“Hoe gaan dit, Flaviana?” vra hy vriendelik en hou sy hand na Dian toe uit. “Ek is Adam, aangename kennis.”

“Dian. Bly te kenne.” Hulle skud hande en Dian staan agteruit, bekyk die man op en af.

Adam vryf ongemaklik oor sy kortgeskeerde hare.

“Kabous? Is hy dalk hier iewers? Ek het hom net kom sê dat ek wel hier uitgekom het.”

“Hy sal eers môre by ons aansluit,” verduidelik sy haastig. “Die hospitaal het hom op die laaste nippertjie teruggeroep.”

Adam knik en met ’n frons sit hy weer die pet en sonbril op. “Ek sien. In daardie geval gaan ek gou kyk of ek vir Meyer en Nina iewers kan kry. Sien julle later.” Sonder om vir ’n antwoord te wag draai hy om en stap uit.

Flaviana vlieg op om die kajuitdeur agter hom te gaan toedruk. Toe sy omkyk, is haar oë groot van verontwaardiging. “Nee, ek glo dit nie!”

Karo druk die paar kledingstukke in haar hande styf teen haar gesig vas en val agteroor op die bed neer. “Hemele behoed my! Het ek gesê die man besit die X-faktor?”

“En nou?” vra Dian in die duister. “Wat het ek misgeloop?”

“Moet liewer nie vra nie,” kreun Flaviana.

“Wat ’n kolossale misgissing!” Karo ril steeds.

“Die seelug moes my verstand aangetas het!”

“Wag nou, wag nou. Ons het die man maande laas gesien,” probeer Flaviana hul optrede verskoon. “Hy moes in die tussentyd begin oefen het en dis van al die gerinkink in die Midde-Ooste dat hy soos karamelpoeding lyk.”

Karo kom weer orent en grynslag bewerig. “Christian Bailey? Rêrig, Flav?”

“Dit was ’n onskuldige fout, Karo. Wys jou net wat ’n paar Levi’s vir ’n man kan doen.”

“Daai Levi’s is definitief ’n eerste,” stem sy saam.

“Iemand moes hom geleer het hoe om aan te trek.”

“Dalk die nuwe meisie?”

“Ek sal haar rêrig graag wil ontmoet.”

Dian maak keelskoon. “Ek is nou lus vir ’n bier, Flaviana. Kom jy?”

Stert tussen die bene trippel Flaviana agter Dian aan en haar blik bied nogmaals ’n verskoning aan.

Hierdie keer maak Karo seker die kajuitdeur is gesluit, terwyl sy die erge verleentheid van haar wange af probeer waai. Sy sidder en knyp haar oë toe. Om te dink sy het ’n halfuur terug gevoel die man slaan haar voete onder haar uit. Is sy nou heeltemal die kluts kwyt?

Uiters vies vir haarself begin sy om die stapels klere op die bed uit te pak. Dit moet haar verdiende loon wees. Hierdie verwarring met Christian Bailey is eenvoudig haar skuldige gewete wat haar inhaal. Nou goed, dit het Kabous nog nooit gepla dat sy en Adam nie oor die weg kom nie, maar sy kan soms liederlik teenoor die borselkopman uitvaar in sy afwesigheid. Hom uithaal oor sy antagonistiese houding en verveelde kyke, en verder het sy Adam se smaaklose kleredrag tot in die fynste besonderhede gekritiseer.

Sy swiep haar lang hare agter haar skouers in en begin om die keurig uitgesoekte kledingstukke te groepeer. Miskien het sy vergelding gesoek met haar kritiek, sy kan nie werklik sê nie, maar hy het haar reg van die begin af verkeerd opgevryf. Haar laat voel dat sy nie goed genoeg is vir Kabous nie, ’n mooi gesiggie wat haar bes gedoen het om ’n derdejaar- mediese student in te katrol. Boonop was sy skaars agtien en het sy reeds die skool in graad elf verlaat. Nie eintlik die geskikte kandidaat vir sy geleerde vriend nie, was sy?

Sy wonder wat hy nou dink, noudat sy haar in die geledere van supersuksesvolle modelle bevind. Daarmee saam het haar en Kabous se verhouding die groot afstande en lang tye uitmekaar oorleef en eintlik behoort Adam sy arms wawyd oop te gooi vir haar. Maar nee, sy bombastiese houding het gekom om te bly, met die gevolg dat sy ook nie ’n wapenstilstand wou verklaar nie.

Haar oog vang die roospienk kleur van ’n kort aandrokkie wat sy ingepak het. ’n Uitlokkende nommertjie wat vanaand vir Kabous sy eerste voorsmaak op hul toekoms sou gee. Sy haal dit nietemin tussen die ander uit en hou dit voor die spieël teen haar op.

’n Glimlag groei oor haar lippe. Kabous gaan hom in ’n stupor lag as hy moet hoor sy het Adam vir ’n Hugo Boss-model aangesien. Hy sal tien teen een voel dis uiteindelik ’n stappie in die regte rigting.

Die stukkie glinsterende pienk lap sal goed werk saam met die oprygsandale. By haar blou oë en ligbruin hare wat aswit na die punte toe skakeer, afgerond met ’n bietjie van die koraalpienk blosser oor haar neus en wange, sal sy maklik ’n somervoorkoms kan skep.

Verder het sy geen moeite ontsien nie. Elke item uit die tas het die doel om te bekoor. Kabous gaan besef sy kan enige tyd van die dag of nag romanties en verleidelik wees, nie net voor ’n kamera nie.

Opgewonde begin sy die hopies klere in die kas pak. Haar beste aankope vir die bootreis kom binne maklike bereik heel voor in die kas: ’n paar stelle einaklein-tweestukkies met eksotiese snitte. Die bikini’s is dalk ’n bietjie gewaagd, maar doelbewus uitgesoek om Kabous langs die swembad mee te betower.

Dalk moet sy die insident beskou as ’n geleentheid om die vakansie saam met Adam op ’n nuwe bladsy te begin. Dit sal ook nie te moeilik wees nie, want hy gaan ’n meisie by hom hê. Sy sal vanaand ’n punt daarvan maak om tyd saam met hulle deur te bring. Daar is geen twyfel dat Adam vir altyd deel sal uitmaak van haar en Kabous se verhouding nie en hoe gouer sy die grimmighede van die verlede uit die weg ruim, hoe beter.