Skip to main content

Uittreksel | Vlamme van gister

Een

“Baai! Sien julle Maandag,” roep Leonie opgewek vir haar oefenmaats en instrukteur terwyl sy die skelpienk gimsak se band oor haar skouer gooi.

“Onthou ons koffiedate môre,” roep een van die vroue kortasem terug.

“Ek sal,” beloof sy glimlaggend terwyl sy die groot kleurvolle laslappiehandsak optel. Met ’n laaste tattawuif stap sy by die damesoefenklub uit. Soos altyd ná ’n oefensessie het sy ’n wip in haar stap en sy loop glimlaggend na waar haar blinknuwe kabriolet se rooi lyf die namiddagson weerkaats.

“Middag, Leonie. Hoe gaan dit?” groet ’n donkerkopmeisie wat pas uit haar motortjie geklim het.

“Hallo, Aniza. Goed en self?”

“Dis Vrydag, dan kan ons mos nie kla nie.”

Leonie lag. “En boonop is die winter ietwat laat hierdie jaar.”

“Dankie tog,” stem Aniza grootoog saam en beduie na Leonie se handsak. “Ek wil nog dankie sê vir hierdie pragtige ontwerpe. My ma is mal oor haar nuwe handsak.”

“Sy geniet dus jou geskenk?”

“O, absoluut.”

“Ek is bly. Jy lyk ook pragtig in daardie rok,” komplimenteer sy die meisie.

Aniza vryf oor die maksirok met sy kleurvolle blompatroon wat met ’n breë ligbruin belt om haar middel vasgemaak is en die LBD-handelsmerk dra.

“Dankie. Dit bly een van my gunstelinge. Ek is natuurlik opgewonde om te sien wat jou volgende reeks gaan inhou.”

Sy knip vir Aniza oog. “Dink helder en kleurvol.”

Die meisie se oë rek en begin van nuuskierigheid flikker. “Oe! Dit klink belowend.”

“Ek hoop om daarmee elke vrou aan te spoor om meer braaf te wees. Vibrant and brave, is die naam.”

“Dit klink baie interessant. Nou het jy my vreeslik nuuskierig. Jou unieke idees verras keer op keer. Dis goed dat dit eers laat in Augustus beskikbaar gestel word, want ek sal my kleretoelaag intussen moet versterk,” korswel sy, “anders gaan ek sowaar nie al die gaatjies toegestop kry nie.”

“Ek sê jou wat. Jy is só ’n groot ondersteuner dat ek jou met jou volgende besoek vyftien persent afslag sal gee.”

“Regtig?” vra Aniza met groot oë.

“Regtig.” Leonie glimlag innemend en haal ’n besigheidskaartjie en pen uit haar handsak. Hoe goed onthou sy nie die dae toe sy self na duurder ontwerpe gesmag het en dit nie kon bekostig nie. Mense soos Aniza is dun gesaai. Sy maak ’n aantekening agterop die kaartjie en teken daarby. “Hierso.”

“Jy is ’n ster,” verklaar Aniza met blink oë. Leonie lag en skud haar kop. “Jý is die ster deurdat jy my so getrou ondersteun.” Sy kam haar blou-en-pers kuif wat oor haar oë geval het uit haar gesig.

“En ek kyk graag na my spesiale klante.”

“Dankie, Leonie. Dit beteken vir my geweldig baie.”

“Dis net ’n plesier.”

Hulle groet en Leonie skuif agter die stuurwiel in. Sy dink aan Aniza se opgewondenheid terwyl sy wegry. LBD het al baie getroue klante, maar min individue soos dié jong meisie. Op een en twintig is Aniza skaars ouer as wat sy ook was toe sy elke Namibiese dollar moontlik gespaar het vir ontwerpersklere. Die meeste van haar klante is reeds gevestigde jong vroue, maar ook ’n paar skoolmeisies wie se ouers nog die rekeninge betaal. Dan is daar enkele boetieks, selfs een in Frankryk, wat gereeld bestellings plaas. Haar hart slaan soos altyd bollemakiesie en blydskap borrel in haar op. Mickey, oftewel Michael le Grange – sy moet seker ophou om haar ou skoolvriend op sy bynaam te onthou – se besigheid was ’n verrassing. Selfs al ken hulle mekaar, doen dit geen afbreuk aan die feit dat sy boetiek suksesvol en gesog is onder die Franse nie.

Sy neem die afrit na Windhoek-sentraal en trap rem toe ’n aankomende voertuig net te vinnig na haar sin aankom. Die volgende oomblik word haar gedagtes wreed onderbreek terwyl sy teen die sitplek vasgeruk word en ’n harde slag in haar ore weerklink.

Pyn skiet deur haar lyf en sy gryp na haar nek. ’n Paar tellings sit sy so en snak na asem. Die deur word langs haar oopgeruk, maar sy reageer skaars tot ’n hand op haar skouer val.

“Leonie?! Is jy orraait?”

Sy herken die diep stem onmiddellik en haar eerste instink om haar teë te sit neem die wyk. Sy knip haar oë ’n paar keer voor sy hulle gefokus kry. “Stefan, moet net nie vir my sê dis jy wat in my vasgery het nie,” kners sy en haal die ontwerpersdonkerbril versigtig af.

“Dit sal die dag wees. Is jy orraait?”

“Ek dink dis darem net my nek wat seergekry het. Wat het gebeur?”

“’n Bestuurder wat nie gekyk het wat hy doen nie. Bly sit, ek sal die polisie en ambulans bel.”

“Die ambulans is nie nodig nie … Tensy hý seergekry het?” vra sy en druk haar nek met ’n skaars onderdrukte kreun.

“Dit klink of hy niks oorgekom het nie, maar jy het whiplash. Sit stil.”

Sy wil stry, maar hy staan reeds eenkant toe met sy slimfoon teen sy oor. Sy kners op haar tande. As dit enigiemand anders was, het sy hom nou vertel dat sy heeltemal in staat daartoe is om vir haarself te sorg en dat sy niemand, minste van almal ’n man, se hulp nodig het. Stefan is egter anders. Hy bedoel dit goed. Sy weet dit. Maar net oor hy haar al tien jaar ken, beteken dit nie hy kan kom oorneem nie, mor sy in haar enigheid.

Ten spyte van haar gedagtes bly sy sit. Stefan se donker hare is nog netjies gekam, maar aan sy wange begin die vyfuurskadu al wys. Sy kan nie sy oë agter die donkerbril sien nie, maar ken die presiese kleur. Net soos haar oë is dit die kleur van die lepeltjie Nutella wat sy elke oggend op haar roosterbrood geniet. Die donkergrys pak sit asof spesiaal vir hom gemaak, en selfs sy donkerblou das sit nog netjies. Hy lyk byna asof hy pas sy huis verlaat het. Sy frons nadenkend. Dalk het hy. Vir al wat sy weet, hou sy hom op en het hy ’n klant wat vir hom wag.

Hy laat sak die foon en druk dit in sy sak.

“Ek sal verder regkom, dankie,” stel sy hom onmiddellik gerus toe hy naderkom.

“Ek het nêrens om dringend te wees nie en wil toesien dat jy veilig tuis kom.”

“Dis nie nodig nie.”

Hy antwoord nie, stap net na die agterkant van haar motor.

Sy kners op haar tande. Hoekom moet mansmense tog so aanstellerig wees? Sy klim uit, maar gaan sit onmiddellik weer toe duiseligheid haar oorval.

Stefan is oombliklik langs haar. “Bly sit. Wag tot die paramedici na jou gekyk het.”

“Oukei,” gee sy met toegeknypte oë bes.

“Dit lyk darem nie of daar te veel skade aan jou motor is nie. Die afleweringsmaatskappy het ook ’n verteenwoordiger wat reeds op pad is.”

Nou eers sien sy dat dit ’n afleweringsvoertuig is. Sy knik net, maar voel hoe woede in haar begin opvlam. Dis ’n splinternuwe motor, verdomp. Sy weerhou haar met moeite daarvan om die drywer van die ander voertuig nader te roep om hom uit te trap. Kon die bleddie mansmens nie gekyk het waar hy ry nie?

Die ambulans daag op en hulle is al amper klaar met haar voor die verkeerskonstabel opdaag. Leonie het ’n yspak teen haar nek terwyl die konstabel van haar en die ander bestuurder verneem wat gebeur het. Weer het sy moeite om haar humeur in toom te hou, veral toe die drywer kwytraak dat hy nie verwag het sy gaan stop nie. “Net oor ek ’n Audi ry, beteken dit nie ek’s ’n kansvatter of jaagduiwel nie!”

Die konstabel maan haar tot kalmte en sy kyk vererg weg. Sy sien hoe Stefan en die maatskappy se verteenwoordiger besonderhede uitruil en moet haar onvriendelike gedagtes selfs teenoor hom afskaal. Sy is nie ’n hulpelose meisietjie nie en sy weet dat hy dit weet. Ten minste, sy dink hy weet.

“Jy hoef nie op die oorlogspad te wees nie,” keer hy geduldig toe hy die besonderhede aan haar kom oorhandig. “Ek het jou net tyd en moeite gespaar. Ek is seker daarvan jy wil eerder by die huis kom.”

Sy sluk haar aanvanklike reaksie met moeite. Dat hy opgelet het hoe sy optrede haar ontstel, vang haar effens onkant. Ken hy haar só goed? “Dankie.”

Stefan se oë beweeg oor die verkeer wat toegeneem het. “Is dit raadsaam vir jou om nou te bestuur? Moet ons nie eerder reël dat jou motor ingesleep word nie?”

“Ek het nie my nek gebreek nie,” antwoord sy kortaf en loop na haar motor toe. Dat haar skouers styf en seer is, probeer sy versigtig verbloem. Ook die naarheid in haar keel.

“Nou goed. Ek sal nogtans agter jou aan ry tot by die huis.”

“Dis nie nodig nie.”

“Miskien nie vir jou nie, maar wel vir my.”

Sy woorde laat haar polsslag spring, maar sy keer haar hart voor dit op loop sit. Sy klim in haar motor. Jy moet nou regtig ophou om so te reageer. Stefan is Olga se verloofde, herinner haar binnestem haar. Sy weet dit alte goed, maar wanneer gaan dié twee eendag op ’n troudatum besluit?

“Leonie?”

Sy sit haar donkerbril op. “Doen wat jy wil.”

“Is jy seker jy’s oukei om te bestuur?”

“Ja.” Sy pluk die deur toe. Haar ore suis toe die deur se klap deur haar kop skiet. Vir enkele tellings sit sy met geslote oë voor sy die motor aanskakel en versigtig wegtrek.

Sy loer gereeld in die truspieëltjie en sien dat die Range Rover haar getrou volg. Ten spyte van die druk verkeer bly Stefan kort agter haar.

“Wil jy inkom?” vra sy toe hy agter haar in haar meenthuis se parkeerarea stop.

“Ek is eintlik op pad Boskloof toe.”

Natuurlik. Die kar moes dit al weggegee het, kners sy aan haarself. “Geniet dit.”

“Sal jy orraait wees?”

“Hou op karring, Stefan.”

Hy hou sy hande in die lug. “Goed. Ek is op pad.”

“Jy hoef Olga ook nie te vertel van die ongeluk nie. Sy sal net onnodig bekommerd wees en ek wil nie julle naweek bederf nie.”

Hy knik stadig, maar lyk nie oortuig nie. “Gaan sien onmiddellik die dokter as jy nie beter voel nie.”

“Ek sal. Toe, ry nou.”

Hy groet en sy kyk die voertuig agterna. Vir wat hou Olga so aan uitstel? Stefan is ’n ongelooflike vangs. Wie weet, as ek nie so teen trou gekant was nie, sou ek hom dalk self probeer aankeer het, probeer Leonie ’n grap met haarself maak. Sy snork en draai weg. Daardie bootjie het sy self weggestuur en buitendien, geen man sal haar weer vang nie. Maak nie saak hoe goed en gaaf hy is nie. Sy het ’n duur les geleer en daardie sirkeltjie wat ewige trou moet beloof, sal haar nooit weer bekoor nie.

Leonie sien dat haar kruieplantjies effe verlep lyk; sy tel die gietertjie op en gaan maak dit vol water.

Terwyl sy die plantjies natgooi, bly haar gedagtes om Stefan sirkel en hoe jammer dit is dat haar hart blykbaar nié die boodskap kry nie. Die orgaan gaan telkemale op galop wanneer hulle saam kuier. Kuiers wat vandat hy en Olga ’n paartjie geword het, op gereelde basis gebeur. Sy verstaan nie waarom sy nog steeds so reageer nie. Voor Stefan en Olga ontmoet het, het sy hom net per geleentheid gesien en hulle het altyd lekker saamgekuier, ten spyte daarvan dat hulle nie geslaag het as paartjie nie. Dis juis by so ’n toevallige ontmoeting dat sy hom en Olga aan mekaar voorgestel het. Leonie skud haar kop en draai na haar motor ná sy die gieter weer gebêre het. ’n Paar maande later is die twee verloof. Geen mens kan tog só vinnig weet nie. Hoe dit ook al sy, haar aangetrokkenheid tot hom het sy nog altyd geïgnoreer, maar ná sy verlowing met Olga moes sy dit met mening begin onderdruk. Stefan is ’n besonderse vriend, maar dis al wat hy ooit sal bly en sy is oukei daarmee.

Sy haal haar handsak en gimsak uit die motor en kyk weer hartseer na die skade aan haar nuwe pragstuk. Verdomde mansmens. Hy het geen idee hoeveel jaar ek vir hierdie motor gespaar het nie. Sy sluit die drieslaapkamermeenthuis oop en haar wrewelrigheid groei opnuut toe sy die pienk-en-pers lycra van haar lyf af stroop. Dat sy die hele episode in haar oefenklere, wat boonop natgesweet is, moes deurstaan, is nie iets wat sy op enige doenlysie wou afmerk nie. Geen wonder daar is ’n sêding dat jy altyd heel en skoon onderklere moet dra nie, dink sy tandeknersend terwyl sy die stortkrane oopdraai. Maar wie sou nou dink die idioot gaan aanneem dat ek voor ’n ander kar sal inry?

’n Ruk lank staan sy onder die stroom en laat die warm water teen haar seer nek spuit voor sy haar hare uit die rekkie losmaak. In haar gedagtes stel sy ’n lysie op van alles wat sy in die komende week sal moet doen en reël ná die onnodige ongeluk.

Met haar hare in ’n swart handdoek toegedraai en ’n groot wit handdoek om haar lyf, behandel sy eers haar gesig voor sy haar lyf met Japannese kersiebloeiselgeur room invryf. In die kamer trek sy een van haar LBD-langmoujaponne oor haar naakte lyf aan, en die sagte wit materiaal met sy gehekelde some omvou haar soos ’n geliefde se aanraking. Sy blaas haar hare droog en laat die blou-en-pers lokke los tot om haar skouers hang voor sy kaalvoet kombuis toe loop.

Sy skink ’n glas yskoue witwyn en maak ’n ligte tunaslaai wat sy sommer by die ontbythoekie sit en eet, eerder as in die sitkamer by die klein hout-en-glas eetkamertafel. Sy ruim op en haal ’n pakkie gevriesde mieliepitte uit die vrieskas en skink weer haar glas vol.

Met die pakkie groente in ’n vadoek toegedraai, druk sy dit teen haar nek en loop kantoor toe. Sy gaan sit in die gerieflike kantoorstoel en kyk op na die sketse teen die twee mure wat op spykerborde gemonteer is. Een is Herfs/Winter en die ander Lente/Somer gemerk. Elke bord is in ses kategorieë verdeel. Vanjaar het sy een blok op die Herfs/Winter bord oopgehou en dis die een waarop sy nou moet fokus. Dié blok is vir ouer dames. Sy het nog net drie ontwerpe daarop gemonteer. Haar algemene ontwerpe is te nuwerwets vir ouer vroue.

Sy draai die wynglas aan sy steel in die rondte en dink aan Mickey se onlangse navraag en sy aanmoediging om verder as haar eng horisonne te dink. Haar klere geniet baie belangstelling onder sy klante. Selfs die ouer vroue en nie net die Franse nie. Dit is voorwaar ’n pluimpie en die rede dat sy besluit het om sy uitnodiging te aanvaar na vanjaar se Emerging Talents in Milan en daarna ook aan te bly vir die Milaanse modeweek. Dis onder andere hoekom sy nou ernstig begin dink aan ontwerpe spesiaal vir vroue bo vyftig. Sy wil elke vrou tegemoetkom.

Haar hart slaan bollemakiesie. Dié keer met ’n kombinasie van opwinding en angs. Leonie Bruwer Designs het van krag tot krag gegaan vandat sy sewe jaar gelede die winkel in die middestad oopgemaak het. As vyf-en-twintigjarige het min mense gedink sy sal dit maak. Om dus te sê sy is trots op wat sy tot dusver bereik het, is net die bogrondse hopie van ’n termietnes. Om dit egter aan die wêreld bloot te stel en te hoop dit is goed genoeg, is nogal vreesaanjaend. Selfs vir haar wat van nature geneig is om kanse te vat.

Sy bekyk die ontwerpe skewekop. Miskien moet ek eers kyk hoe hulle ontvang word voor ek te veel moeite doen en dan is daar nie ’n mark nie. Sy knik vir haarself en diep haar selfoon uit haar handsak op. Sy neem elke ontwerp af, maak ’n paar aanpassings op die foto’s, plaas haar logo daarby en laai hulle op sosiale media met as opskrif: 50 and unstoppable.

Tevrede sit sy terug en neem ’n slukkie van haar wyn. Die terugvoer wat sy hierop kry, sal haar rigting bepaal. Sy blaai deur al die nuwe reaksies op haar sosiale blaaie en antwoord soos en waar nodig.