Uittreksel | Versamelaar van verlore drome
Een
Vir iemand wat op soek is na romanse en ’n onvergelyklike sensuele ervaring is die Karnaval van Venesië die ideale geleentheid. Die stad vibreer vanaand met tasbare energie. Musiek en parfuumgeure vul die nou straatjies waardeur Lyra haar weg na die Sint Markus-plein baan.
’n Gevoel van vryheid en algehele oorgawe aan passie en uitgelatenheid hang swaar in die lug. Dis tyd vir gesellig wees, toegeeflik wees, laat gaan, leef en laat leef, leef in die oomblik! Die maskerade maak die fees nog fassinerender en aanloklik. Dit skep die perfekte kans om van ’n mens se inhibisies ontslae te raak, en weg te raak in ’n wêreld van fantasie en misterie. Presies soos die stad in die agtiende eeu tydens karnaval gewemel het van gemaskerde dobbelaars, avonturiers, courtisanes en wilde hedoniste.
Tussen talle paartjies wat uitgedos in oordadige en dekadente uitrustings uit die agtiende eeu, oor die plein stap met handwaaiers, sluiers en hooftooisels in feestelike kleure, juwele, lang vere en asemrowende, ornamentele maskers wat hul identiteit verberg, kan Lyra na hartelus ook nét so “wegraak”. Of dalk juis baie aandag trek, want sy is immers self iets vir die oog.
Die maskertjie wat sy vanoggend in een van die winkeltjies hier op die kaai raakgeloop het, is van vleklose ivoorkleurige porselein wat delikaat ontwerp is in ’n pikante popgesiggie. Dis versier met saffierblou en roospienk edelstene terwyl rose van dieselfde pienk die bokant afrond. Dit het ’n skerp neusie wat darem oor haar eie neus pas, ’n spitskennetjie en ’n roosknopmondjie geverf in ’n diep roosgoue kleur. Die wye, amandelvormige oogopeninge is omraam met dieselfde kleur, en onder die oogopeninkies biggel twee baie fyn en delikate strepies wat soos sierlike traandruppeltjies teen die wange afrol. Dit wek die indruk van iets tussen misterieuse onskuld, verbloemde hartseer en subtiele verleiding.
Nie net het Lyra goedkoper daarvoor betaal as wat sy gedink het dit werd was nie, maar dit pas ook besonder goed by haar rok van sagte fluweel in ’n diep skakering van roospienk wat oraloor met blinkertjies besprinkel is. Boonop pas die rok haar soos ’n handskoen; sensueel vou dit om haar kurwes, soos ’n minnaar se sagte, waarderende aanraking. Die moue is lank en klok uit na onder soos die rok wat self soos ’n meerminlyf om haar heupe pas en by haar enkels uitklok met subtiele glans en skadu in die voue verberg. Die halslyn is laag, en om haar nek hang ’n hangertjie van fyn kristalle wat die oog lei na die perfekte klein rondings van haar bors.
Haar hare is op haar kop opgetooi en stel haar lang, delikate nek ten toon. Haar steweltjies is net hoog genoeg sodat sy gemaklik daarmee kan stap en selfs dans indien sy sou wou.
Die hele uitrusting het sy gister by La Vita Venezia, ’n boetiek hier in Venesië, gekoop, maar net soos sy nog sukkel om aan te pas by die stad met sy nimmereindigende stegies, gangetjies en waterkanale en op intuïsie moet voortbeweeg deur die labirint na waar sy dink die Sint Markus-plein is, so is sy ook maar nog besig om gemaklik te raak in die dramatiese, kleurvolle uitrusting wat sy aanhet. Met die treffende maskertjie daarby vang dit egter die essensie van die karnaval se betowering en romanse perfek vas en trek baie aandag; beslis nie iets waaraan sy gewoond is nie. Die materiaal se weelderige aanraking en die elegante styl van die rok, laat haar soos die een of ander koningin uit ’n nostalgiese era voel. Die sensuele voorkoms en aura van betowering wat haar uitrusting skep, stuur haar omtrent soos ’n meermin deur die magiese dieptes van die sprokieswêreld.
Op die plein sweef Lyra op ’n wolkie van ekstase deur ’n ontploffing van kleur en klank en voel gevlei toe ’n bewonderaar haar opmerk en vir haar bly loer. Of sy vir hom. Nie dat sy op soek is na romanse of ongeïnhibeerde plesier tydens haar besoek aan Venesië nie, maar sy kan netsowel die karnaval geniet.
Skynbaar is die hele Venesië betrokke by en deel van die feesvieringe. Niemand gaan haar voor die fees se laaste dag, die Mardi Gras, ook bekend as Vet Dinsdag of Pannekoek Dinsdag, help soek na haar ma se antieke viool nie.
Moedswillig kyk Lyra weer direk na die man in die sygladde swart pak wat haar net soveel begin boei soos sy skynbaar vir hom. Hy staan met sy hande in die sakke, ontspanne, regop skouers, skaars tien tree van haar af. ’n Deel van die marmerpilare en ryk detail van die Sint Markus-basilika agter hom vorm ’n gepaste agtergrond vir ’n barokskildery waarin hy die fokuspunt is.
Sy swart hare is glad en baie stylvol agteroor gekam, en krul sexy onder teen die kraag van sy baadjie. Sy hemp is net ver genoeg oopgeknoop om enige vrou se samestelling deurmekaar te krap. Tall, dark and handsome, daardie stereotipe hunk wat nog nooit gefaal het om vrouens se hartklop dramaties te verswak, óf te versnel nie.
Sy masker maak net die boonste helfte van sy gesig toe, en is versier met ingewikkelde, swierige krulpatrone van silwer filigraan en klein kristalle; die enkele groot swart veer krul perfek om sy hoë regterwangbeen en beklemtoon tegelykertyd sy sterk kakebeenlyn. Stylvol, klassiek en afgerond soos ’n Dolce & Gabbana model op die voorblad van ’n modetydskrif.
Gister is sy sommer maklik en vinnig meegevoer deur die atmosfeer van die “mooiste kuierkamer van Europa”, soos Napoleon die Sint Markus-plein glo genoem het, en vanaand gee sy haar net so onkeerbaar oor aan die onweerstaanbare, geheimsinnige aantrekkingskrag van hierdie plein.
Die man hou nou sy gesig weggedraai asof hy glad nie van haar bewus is nie en nie eens daaraan dink om in haar rigting te kyk nie, maar hy flous haar nie.
Sy weet hy maak seker hy verloor haar nie uit die oog nie. As sy net agter een van die ander feesgangers hier om haar sou wegkoes, sal hy vinnig omswaai en deur sy enigmatiese masker se oogopeninge na haar soek.
Venesië is glo nie ’n gevaarlike stad nie, en sy voel nie bedreig deur die feit dat hy kort-kort vir haar loer nie, maar sy bly nogtans op haar hoede en maak daarom seker sy verloor hom nie uit die oog tussen die feesgangers nie.
Toe Lyra weer na hom kyk, lyk hy meteens anders. Sy knip haar oë vinnig agter die maskertjie. Steeds geklee in ’n swart pak, is sy liggaamshouding nog dieselfde, maar hy staan sonder ’n masker en sy hare is in ’n heeltemal ander styl gekam.
Dis ’n ander man, besef sy. Dis nie die een wat haar nog heeltyd dophou nie; hy is weg. Sy wil tussen die ander mense na hom soek, maar haar oë bly vasgenael op die man daar oorkant. ’n Vrou staan by hom. Haar hare lyk amper goud in die son.
Lyra maak haar oë ’n paar sekondes toe en rek hulle weer oop, maar die son skyn regtig op hulle – dis helder oordag! Dis asof Lyra in ’n ander wêreld ingesuig word terwyl sy na hulle bly kyk. Haar hart rammel al vinniger, al meer onbeheersd, en sy is te lam om te roer.
Dis asof ’n krag groter as haar eie haar dwing om te bly staan en te kyk hoe die man “Die vlug van die engel”, een van die hoogtepunte van die fees, geniet. Hy staan met ’n opgewekte grinnik en opkyk toe die klok van die Sint Markus-toring op die plein presies om twaalfuur sy eerste slag slaan en ’n akrobaat van heel bo van die toring spring en tot groot vermaak van die skare oor die plein begin sweef. Die vrou langs hom kyk nie na die akrobatiese kunstoertjie nie. Haar kop is geboë, haar een hand rus op die ronding van haar maag, en Lyra sien ’n traan oor haar wang rol wat sy vinnig wegvee.
’n Diepe hartseer, gemeng met angs, sak onverklaarbaar soos ’n koue mistigheid wat haar verlate en alleen laat voel, neer op Lyra. Sy hou nie van die gevoel nie, en draai haar kop ontsteld van die vrou af weg.
Net om opnuut verbaas en verward te staan toe dit skielik weer donker is op die plein. Dis aand en alles om haar vibreer van lewe en energie soos oomblikke gelede. Sy draai haar kop terug in hulle rigting, maar die man en vrou staan nie meer daar oorkant nie.
Sy sluk die gevoel wat in haar opwel terug, en skud haar kop liggies. Met ’n hart wat nog wild klop, stap sy tussen die mense deur na die verhoog in die middel van die plein waar die volgende vermaaklikheid op die program, die Beste Masker-parade, gaan begin. Vir die volle duur van die tien dae lange fees, is daar elke dag so ’n parade en kompetisie vir die bes gemaskerde feesganger. Sy gaan nie deelneem nie, maar sy wil dit nie misloop nie.
Sy kan nietemin die eienaardige ervaring nie van haar afskud nie.
Wat het met haar gebeur? Wie is daardie man en vrou wat sy gesien het, of gedink het sy sien? Het sy gehallusineer?
Weer merk sy die man in sy swart pak en masker op, die een wat haar nog heeltyd dophou. Nou staan hy egter aan die oorkant van die verhoog. Sy sien hoe hy weer in haar rigting loer en sy hou hom soos tevore ongemerk en ietwat gespanne dop.
Hy lyk na ’n gewilde, miskien bekende persoonlikheid. ’n Hele paar feesgangers herken hom ten spyte van sy misterieuse voorkoms, en gaan groet hom met die hand, of stamp ’n skouer gemoedelik teen syne; geniet ’n paar joviale grappies met hom.
Hy lyk baie aantreklik, veral wanneer hy lag, en sy wens meteens sy kan hoor wat hy sê, hoe sy stem klink. Vinnig kyk sy weg toe sy kop skielik direk in haar rigting draai. Haar hart bons so wild soos die karnavalmusiek wat oor die plein druis; vir ’n oomblik wonder sy of sy oor ’n geheime aantrekkingskrag beskik wat hom nadertrek, en of dit sy aantrekkingskrag op haar is wat tot gevolg het dat sy nie regtig tussen die menigte hier om hulle buite sig wil verdwyn nie.
Sy indrukwekkende voorkoms en houding is nietemin besig om haar al hoe meer mee te voer. Te verlei. Of dalk te mislei. Hy trek haar al meer in, baie meer nog as daardie visioen van die man en vrou wat so uit die bloute voor haar opgedoem het.
Miskien was die paartjie net haar verbeelding, begin sy dink terwyl sy die vreemdeling bewonderend aanstaar. Haar hart krimp ineen toe ’n vrou uit die bloute langs hom verskyn en haar arm om syne vleg. Sy is lank en skraal, lyk beeldskoon hier van waar Lyra haar kan sien; foutloos elegant in ’n rok van silwer sy en glanswit pêrelstringe met ’n bypassende maskertjie.
Hierdie keer verbeel Lyra haar dit beslis nié, al wens sy eintlik sy het.
Sy vergeet heeltemal van die parade en die deelnemers wat in hul bekoorlike uitrustings en maskers oor die verhoog stap. Roerloos staan sy en toekyk hoe hy iets in sy metgesel se oor fluister en wanneer hulle weer in mekaar se oë kyk, verwens Lyra die teleurstelling wat soos ’n swaar mantel oor haar neersak.
Toe sy weer opkyk, sien sy hom tussen die mense wegstap en verdwyn. Sy soek tussen die menigte na sy beeld, maar hierdie keer is hy net spoorloos weg. Sekerlik het hy al klaar van haar vergeet.
Sy wag om te sien wie die bestemaskerkompetisie gaan wen, maar al die opwinding het vir haar verdamp. Sy draai om en raak self tussen die mense weg. Waarom sy nou so ongelukkig is oor die hele voorval, verstaan sy nie.
Toe ’n volslae vreemdeling sy hand na haar uitsteek vir ’n dans, sluit sy summier by hom aan vir die farandole, ’n lewendige kettingdans oor die plein in ’n poging om van die man in die swart pak te vergeet.
Lank voor middernag is Lyra moeg en besluit om na haar woonstel terug te keer. Die beeld van die maskerlose man en vrou in daglig het vervaag, en sy skryf die ervaring toe aan haar gemoed wat oorvol is van haar ma en die viool. Haar verbeelding het bloot ooraktief geraak as gevolg daarvan.
Die elegante man in die swart pak het sy ook nie weer gesien nie, maar kry hom net nie uit haar gedagtes nie. Daarom herken sy hom dadelik toe hy skielik voor haar verskyn, roos in die hand, voor sy om die hoek stap in die straatjie op wat van die plein af terug na haar woonstel toe lei.
Sy gaan steek in haar spore vas, al haar senuweepunte orent. Het hy haar dan nog heeltyd dopgehou? Met ’n onsekere opwinding wat deur haar bruis, wag sy vir hom om sy volgende skuif te maak. Gelukkig is hier baie mense om hulle. Die ganse atmosfeer en doel van die karnaval is immers om ’n bietjie lighartig en ongebonde op te tree; selfs ongeoorloofde plesier te geniet. Maar is dit sy enigste bedoeling met haar? Dat hy haar so staan en inwag en onverwags voor haar inspring hier aan die rand van die plein?
Sy misterieuse voorkoms is ongetwyfeld fassinerend. Hy straal van selfvertroue toe hy in die stylvolste van alle flirtasie- en verleidingstegnieke waarmee sy al te doen gekry het, die dieprooi roos in sy hand na haar toe uithou.
Dit verhoog die spanning, en ontaard in ’n wedywering tussen aangetrokkenheid en weerstand wat onverwags in haar woed; baie meer as die waarskynlike rede vir sy onverwagse opwagting.
“Goeienaand, bella signorina,” groet hy met ’n Italiaanse aksent wat haar laat tintel, maar sy onthou van die meisie vroeër saam met hom.
“Totsiens, Casanova,” sê sy ferm. Sy staal haar teen die begeerte om langer deur sy aantrekkingskrag geabsorbeer te word, en stap verby sonder om die roos by hom te vat.
Hy kom agter haar aan, rek sy treë tot voor haar en sy gaan staan weer.
“Bella, jy’s regtig . . . pragtig,” sê hy.
Italiaanse mans ken die kuns om te flankeer en ’n meisie baie spesiaal te laat voel, maar sy voel onseker, en giggel senuweeagtig om van die spanning in haar ontslae te raak.
“Jy kan dan nie eens sien hoe ek rêrig lyk nie. Maar ek is bly jy hou ook van die masker. Dit ís pragtig,” herwin sy haar selfvertroue.
“Dit is iets baie spesiaal,” beaam hy. “Dit lyk soos ’n . . .” hy kom staan ’n tree nader aan haar om dit beter te bekyk, maar sy gee dadelik twee kleineres agteruit, haar binneste die ene fladdering.
“Waar kry jy dit, as ek mag vra?” vra hy net toe sy besluit om weer aan te stap.
Sy bly staan, sy hand skaars ’n paar millimeter van haar arm af. Vonkies opwinding skiet reeds weer deur haar.
“By ’n winkeltjie hier in Venesië gekoop,” sê sy heserig.
“Kan jy onthou watter een?”
“H’m . . . Dis daar êrens teen die see.”
“Dit lyk soos ’n meesterlike kunswerk vir ’n museum,” sê hy en klink werklik gefassineer deur die maskertjie.
“H’m . . . ek sal môre inskryf vir daardie bestemaskerkompetisie . . .”
“Nee, moenie! Asseblief . . .”
Hy is skielik buitengewoon heftig, en hou sy hande op asof hy haar letterlik aan die skouers wil vat om te keer dat sy dit doen. Verbaas staar sy hom net aan.
“Ek sal jou die kompetisie se prysgeld betaal as jy dit dadelik aan my verkoop!”
Haar hart hamer in haar bors. Hy klink omtrent desperaat. Tog bly hy selfversekerd voor haar staan, oortuig daarvan dat sy sy aanbod sal aanvaar. Maar . . . as sy dit nou dadelik aan hom verkoop . . . as dit al rede is waarom hy haar vroeër dopgehou en nou hier voorgekeer het, sal hy haar nie weer opsoek nie. En dit is opeens nie wat sy wil hê nie.
Sy sal hom graag weer wil sien. Hy het haar verbeelding aangegryp en sy sal graag wil weet hoe hy sonder daardie geheimsinnige masker lyk. Al kan sy hom nou vra om dit af te haal en haar nuuskierigheid te bevredig, wil sy hom ook in die daglig sien . . . en in maanlig . . . en by kerslig . . . Net nie net hier in die lanternliggies wat ’n soort magiese element aan hom verleen en hom baie enigmaties en aanloklik laat lyk nie.
“Ek sal jou betaal soveel jy wil hê,” sê hy weer dringend en ernstig.
“H’m . . . ek sal daaroor dink.”
Sy wil weer verby hom aanstap.
“Jy lyk absoluut asemrowend in daardie pienk, signorina. Dit aksentueer jou lieflike hare.”
“Gmf, pienk en rooi pas glad nie eens nie!”
“Dit pas volmaak in jou geval, signorina. Ek verkyk my aan jou. Kan ek asseblief jou selnommer kry?” vra hy weer.
Sy grinnik geamuseerd. Pienk is ’n kleur van romanse, maar vir haar is die kleur eintlik te waaghalsig en amper te oorweldigend. Sy is nie gewoond daaraan om sulke helder en sterk kleure te dra nie. Dit trek te veel aandag. Sy sou die rok nooit aangetrek het as sy nie ook agter die maskertjie kon wegkruip nie.
Sy is egter nie só waaghalsig dat sy haar selnommer sommer net so vir hom sal gee nie. Hy is wel sjarmant en aantreklik, maar nogtans ’n wildvreemdeling. En hoewel sy die onverwagse aandag en die ongebonde pret meer geniet as wat sy gedink het sy sou, is sy steeds ’n respektabele jong dame wat nie die manlike geslag heeltemal vertrou nie.
“Dis ongelukkig nie my gebruik om my nommer vir vreemde mans te gee nie.”
Daarmee volstaan sy en begin wegstap.
“Vat dan minstens my nommer!” roep hy haar agterna.
Sy bly net voor haar kyk en sit een voet voor die ander, al vinniger.
“Pas die maskertjie asseblief mooi op!”
Aan die dringende toon in sy stem kan sy hoor dat hy sy besorgdheid oor die maskertjie baie ernstig bedoel. Haar bene is die ene jellie, haar mond kurkdroog, en haar binneste ’n mallemeule van onsekerheid en opwinding terwyl sy stem agter haar aan eggo toe sy straataf om die hoek verdwyn.