Skip to main content

Uittreksel | Vereistes vir ’n trouman

Een

Dis een van daai dae. Alles, maar álles loop verkeerd. Emily vee-vee met haar hand teen die voorruit van haar motor. Sy kan op die aarde niks sien nie. Dit reën nie net nie, dit sous. En dis koud. Soos in sneeu-op-die-berge-koud. Normaalweg is sy mal oor die sagte geluid van reën op die dak, maar nie vandag nie.

Sy is nat tot teen haar vel. Natuurlik het dit begin reën toe sy uit die skool stap, dis net so ’n soort dag. En sy, wat altyd probeer om op alle moontlike weersomstandighede voorbereid te wees, was sonder ’n sambreel.

Môre sluit die skole en sy kan nie meer wag nie. Sy is mal oor haar graadvyfklas. Om met kinders te werk was haar droom en sy is regtig elke dag opgewonde om skool toe te gaan, maar die afgelope ses maande se min slaap begin haar nou inhaal.

Al waarna sy nou uitsien, is ’n lang, warm bad, haar sweetpak en ’n koppie tee. En pannekoek. Sy is so bly sy het gisteraand deeg aangemaak wat gereed in haar yskas wag.

Vanoggend het sleg begin. Sy het verslaap. Sy. Verslaap. In haar hele lewe het sy dit nog nooit oorgekom nie. En dis nie asof sy net ’n bietjie laat was nie. O nee, sy het deur beide wekkers wat sy gewoonlik stel, geslaap en eers ’n uur nadat die skool begin het, wakker geword. In haar lewe was sy nog nooit laat vir iets nie. Vandag was sy ’n uur en twintig minute laat vir skool. En sy is die juffrou.

Sy weet nie waar om haar kop in te steek nie.

Die remligte van die motor voor haar flits meteens rooi. Net betyds bring Emily haar motortjie tot stilstand. Stellatjie, die motor wat ouma Em vir haar gegee het toe sy Stellenbosch toe is om te gaan swot, ruk verontwaardig, maar vrek gelukkig nie.

Weer probeer Emily die voorste ruit met haar koue hande vee, maar dis onmoontlik om uit te maak wat aan die gang is, die wêreld buite is vaal van die reën. Stellatjie moet vervang word, sy weet, en dit moes hierdie maand gebeur het, maar daar was net so baie ander uitgawes. Miskien kan sy nog ’n paar maande wag. Motors is darem maar duur. Miskien teen die einde van die jaar.

Uiteindelik beweeg die motor voor haar weer. Sy het net haar voet van die rem afgehaal toe sy die beweging uit die hoek van haar oog sien. Weer trap sy rem en leun vorentoe om te kyk. Dis een of ander dier! ’n Hond? Sopnat en halfverkluim probeer die arme ding skuiling langs die sypaadjie soek.

Sy is buite haar motor voor sy twee keer daaroor kan dink. Haar enigste missie is om die dier uit die koue en reën te kry.


Ryno trap rem en byt ’n vloekwoord af. Wat de hel? Is die vroumens heeltemal van haar kop af? Wie hou in die gietende reën in die middel van die Paarl se hoofstraat stil en spring uit die motor?

Agter hom raas toeters, maar hy kan nie beweeg nie. Van voor af kom motors, en alhoewel die Morris waaruit die vroumens gespring het klein is, staan dit in die middel van die pad. Daar is geen manier hoe hy sy groot voertuig verby die motor kan kry nie.

Nog toeters val in, ligte flikker, maar die girl wat uitgespring het, steur haar aan niks en niemand. Sy buk af langs die sypaadjie. Wat doen sy? Hy probeer kyk, maar die reën sous neer, hy maak net haar buitelyne uit.

Die volgende oomblik kom sy regop en met iets in haar hande draf sy uiteindelik terug na haar motor en klim in.

Dankie tog. Agter hom raak die toetery al hoe heftiger, maar die motor voor hom beweeg nie.

Moerig kyk hy op sy horlosie. Dêmmit, hy gaan laat wees vir sy vergadering. Vinnig stuur hy vir Lien, Louw se sekretaresse, ’n boodskap voor hy weer met sy vingers op die stuurwiel trommel.

Dit lyk of die motortjie se ligte af is. Dit beteken net een ding – die girl wat uitgespring het, kry nie weer die voertuig aan die gang nie.

Vir ’n oomblik kry hy hoop, die motor se ligte flikker-flikker, maar toe is daar weer niks. Flippenheltog. Die reën val nóg harder en agter hom lê die bestuurders erger op die toeters. Daar is net een ding wat hy kan doen en dit is om uit te klim en te gaan kyk of hy die girl kan help, anders sit hulle hier tot die son ondergaan.

Opgewerk klim hy uit in die gietende reën en stap met lang treë na die bestuurderskant van die motor. Die vroumens sien hom nie, sy leun vorentoe terwyl sy weer die sleutel draai. Nat slierte hare hang om haar gesig.

Vies en koud klop hy aan die venster. Die vroumens ruk en draai verskrik haar kop in sy rigting. ’n Paar groot blou oë kyk op na hom.

Sy hart skop hard teen sy ribbes. Dis Emily Beyers. Dieselfde Emily Beyers wat haar nou al ses maande lank in sy gedagtes tuisgemaak het, al doen hy sy bes om nie aan haar te dink nie. Dieselfde Emily Beyers wat op ’n dag onverwags in sy arms gestap het asof sy nog altyd daar was.

Terwyl hy ’n vloekwoord afbyt, ruk hy die motordeur oop. “Wat de hel doen jy? Jy hou die hele straat se verkeer op.”

Onder haar nat baadjie kom ’n bruin hondegesig te voorskyn.

“En die brak? Waar kom hy vandaan?” bulder hy.

“Hy was langs die pad . . .”

“Het jy uit die motor geklim, ’n hele straat se verkeer opgehou en dit oor ’n flippen hond?”

Water drup oor haar voorkop, sit vas aan haar lang wimpers. Bliksemheltog, hy het nie vandag hiervoor krag nie. “Skuif op.” Die toetery raak by die minuut erger.

“Wat . . .?”

“Skuif op.” Hy kners op sy tande voor hy haar, hond en al, optel en op die ander sitplek neersit. Sy is sopwaternat. En sag. En lenig. En . . .

Hy gaan sit. In ’n plas water. “Wat de . . .?”

’n Geluid wat baie soos ’n giggel klink, laat hom vinnig sy kop draai, maar daar is nou nie ’n sweem van ’n glimlag op haar gesig nie.

Met sy kake styf opmekaargeklem, maak hy seker die motor is heeltemal afgeskakel voor hy dit weer aansit. Dit vat met die eerste probeerslag.

“Kry nou hierdie verskoning van ’n motor uit die pad sodat ons ander kan ry,” sê hy bars. Moerig maak hy die deur oop net toe hy die snuif hoor. Sy kop ruk om voor hy daaroor besluit.

Haar oë is blink van die trane.

“Emily . . .”

Haar onderlip bewe, maar terwyl sy die hond met haar een hand beskermend teen haar lyf vashou, druk sy teen hom met die ander een. “Klim uit,” beveel sy.

Agter hulle begin die getoet weer van voor af.

Moedeloos vryf hy oor sy nat gesig. “Ek is . . .”

“Klim net uit.” Haar stem is bewerig, sy druk weer teen hom.

Wat de hel hom besiel, sal hy nie weet nie, maar sy vingers vou om hare.

Blou oë kyk op na hom. Vir ’n vlietende sekonde sien hy iets raak wat weerklank vind in sy binneste, maar voor hy kan besluit wat hy gesien het, kyk sy weg.

Hy klim uit, druk die deur agter hom toe en wag vir haar om die kar in die regte rat te sit voor hy terugstap na sy motor toe.

Sy foon lui net toe hy agter Emily begin aanry. Dis Lien. Daar was ’n ongeluk op die N1 van die Kaap af, die verkeer staan opgedam tot by Brackenfell. Hulle kliënt gaan omdraai. Die vergadering is na volgende week uitgestel.