Skip to main content

Uittreksel | Verbode drif

Een

Elizabeth kyk ontevrede na die wanorde om haar. Sy wil nie hier wees nie, sy wou nooit teruggekom het Sanddrif toe nie. In die Kaap het sy by haar ma gepleit om te kan bly. Aunt Sophia het gesê sy kan by haar en aunt Alena bly en daar in die Kaap haar skoolloopbaan voltooi. Sy kan aanhou met haar musieklesse by mister Baucher, sy kan miskien selfs verder studeer.

Haar ma het haar kop geskud. “Die oorlog is verby, my kind, maande al. Ons plek is op Sanddrif, by jou pa.”

“Maar Mamma, die koerante sê die Engelse het die Boereplase verwoes. Hulle het die huise met meubels en al afgebrand, die diere gevat of doodgemaak. Hulle het die mense in konsentrasiekampe ingejaag. Ek wil nie teruggaan Transvaal Colony toe nie, ek wíl nie teruggaan plaas toe nie.”

“Jy het tog self Pa se brief gelees, Elizabeth. Jy weet ons huis staan nog, te danke aan mister Katz wat daar ’n ogie gehou het. En Pa het geskryf ou Maggie-hulle kon die meeste van ons huisraad versteek hou. Ons het baie om voor dankbaar te wees.”

Dankbaar te wees. Watter redenasie is dit nou? “Maar ek wil my skoolloopbaan klaarmaak. Die dorpskool by Sanddrif gaan net tot vorm een en ek het nou reeds vorm twee geslaag. Ek wil eendag ’n onderwyseres word, of miskien ’n pianiste. Ek wil aanhou met my musieklesse.”

Aunt Sophia het probeer help. “Maria, die dogter hoort hier by my en sus Alena. Ons sal mooi na haar kyk.”

“Die kind hoort by my, en ek moet na my man teruggaan.”
Toe vererg aunt Sophia haar. En as aunt Sophia kwaad raak, wys haar skerp kant alte duidelik. “Om te wat? Kyk hoe lyk jy al, Maria. Jy, wat die mooiste meisie in die Kaap was. Jy met jou fyn aanvoeling vir kuns en jou musiektalent.

Jy slyt jou dae met . . . met brood bak en slag en seep kook! Is dít wat jy vir jou dogter wil hê?”

Elizabeth se ma het stadig na haar gedraai. Sy het moeg gelyk en haar oë het om begrip gepleit. “Elizabeth, verstaan my mooi, ons het nie ’n keuse nie. Jou pa het laat weet ons moet voor Kersfees nog kom.”

Sy het stilgebly. So maklik laat sy haar nie vang nie.
Haar ma het gesug. “Ons sal kyk hoe jy kan skoolgaan aankomende jaar. Dalk na ’n skool in Pretoria, maar ek belowe niks. Pak nou jou goed in die kleretrommel. Hou net ’n paar goedjies uit vir die treinreis, dit kan ons sommer in my valies pak.”

“En my musieklesse?” Dis nie dat sy so graag by die twee oujongnooitantes wou bly nie, hulle was . . . wel, bedompig. Dis net, sy kon nie teruggaan nie.

“Dalk kan missus Katz jou verder onderrig. Sy was pianiste voordat sy uitgekom het na die Republiek toe. In Pole, dink ek.”
Haar ma het ook alewig ’n antwoord op alles. “Ma sal moet onthou, ons is nou nie meer ’n republiek nie, ons is nou deel van die British Empire.”

Weer sug haar ma. “Ja, ek weet nie hoe jou pa dit sal vat nie.”
“En hoe voel Ma daaroor?”

“Ag, ek het mos maar hier in die Kolonie grootgeraak, Queen Victoria was kleintyd al my Queen. Nou is sy ook nie meer daar nie, saliger nagedagtenis.”

Tipies Ma, aanvaar net alles soos dit kom.
Nou lê die Kaap dagreise ver agter en hulle is terug op Sanddrif.
Dit is erger as wat sy dit onthou. En sy is weer Elisabet, nie Elizabeth soos in die Kaap nie.

Sy vee die sweet van haar voorkop af en tree bo-oor die klerekis om by die skuifraamvenster te kom. Die geblomde gordyne is selfs meer verbleik as voor hulle weg is. Sy pluk die gordyne met mening oop en skuif die raam op.

Voor haar lê die kaal werf. Van haar ma se mooi tuin het weinig oorgebly. Die gras is verdor deur die Bosveldson, in die krake van die sementpaadjie groei kakiebos en knapsekêrels. In die ronde visdammetjie is geen water nie, net droë, wilde grasse.

Haar oë dwaal verder af, verby die kaal kol wat eens haar ma se groentetuin was, tot by die eendedam met die vaarlandswilge op sy rand. Die eende is weg, die water laag en slykerig. Sy glimlag stadig: Kleintyd het sy en hulle bywoners se dogter, Raaitjie, vir hulle kranse gevleg van die takke en om hulle koppe gebind. Hulle het selfs probeer rompe van die takke maak, maar die goed het altoos afgeval.

Nou is Raaitjie ook weg – gedood van die ontberinge van die oorlog, het ta’ Alie tranerig vertel, saam met Kosie en die twee kleintjies. En oom Basjan is ôk maar op sy laaste. Is net Bybie wat oorgebly het, en natuurlik Hansie-wat-starag-is.

Haar pa, Herklaas, het gisteraand effe moedeloos geklink. “Ek weet nie wat om met die mense te maak nie. Ou Basjan lê net en kreun in die son as ’n mens naby kom, en Hansie is vir niks bruikbaar nie.”
“Ja, arme kind. Maar ’n mens kan die stomme mense ook nie summier wegjaag nie – hulle het geen ander heenkome nie.”

“Hierdie armblankes gaan waaragtig nog ons volk se ondergang wees.”

Sy draai terug en beskou die kamer krities: die koperkatel, die bekende lappieskombers met sy driehoekpatrone, die Bybel-en-kerstafeltjie langs die katel met sy gehekelde lappie, die mooi wit porseleinkom en -beker op die wastafel in die hoek.

Alles is nog dieselfde, net sy nie. Sy was ’n dogtertjie van elf toe sy laas hierdie deur agter haar toegetrek het. Nou is sy byna vyftien, ’n jong dame wat weet wat sy wil hê. En dit is beslis nie om hier in die warm Bosveld te vergaan van elke dag se brood bak en slag en seep kook nie!

Sy begin die snuisterye een vir een uitpak. Sy skil versigtig die papier waarin hulle toegedraai was, af en rangskik hulle op haar spieëltafel. Stadig begin die kamer weer soos haar eie voel. Sy gaan sit voor die ovaal spieël, maak haar lang vlegsels los en begin haar hare borsel. Haar dik hare is die kleur van ryp koring, haar oë is viooltjieblou. Sy het altyd ’n ligte gelaatskleur gehad, met gesonde rooi wange, maar vir haarself lyk sy nou vaal.

By die afklimslag het ta’ Alie gesê: “Ag, wat, bietjie vars lug, en die rooi wange is terug.”

Ek het amper al vergeet van ta’ Alie en oom Basjan, en hulle swetterjoel kinders, en hulle bedompige huisie met sy skewe agterdeur, dink Elizabeth. Oom Basjan het altoos glo gesukkel met die hart, en het een of ander moeilikheid met die bene gehad, en kon dus nie baie gereeld werk nie. Dan het hy maar medisyne gedrink uit so ’n bruin bottel.

“Te veel medisyne,” brom haar ma gereeld.

Ma hou nie van die bywoners nie. As een van die kinders ’n koppie suiker of ’n kommetjie flour kom leen, sug haar ma. “Sê vir jou ma die kos groei nie op my rug nie. En sê vir jou pa hy moet sy stêre lig en vir sy gesin sorg.”

Elizabeth haak haar tabberds een vir een aan die skouertjies in die hoek agter die gordyn. Ma kan nogal haar sê sê, soms. Dis net as Pa bykom, dat sy heeltemal in haar dop kruip.

Toe die kamer min of meer na haar sin is, stap sy deur die voorhuis na die kombuis om te gaan handjie bysit met die aandkos. Sy stop in die deur en trek haar asem diep in. Die pot lensiesop staan op die Welcome Dover-stoof en prut. Op die geskropte tafeltjie in die middel van die kombuis is ’n groot, vars brood toegegooi onder ’n spierwit doekie.

Ou Maggie is besig om ’n stompie hout in die Dover se gulsige bek te druk. Elizabeth trek haar asem diep in. “Sjoe, ek besef nou eers hoe honger ek is. Wie’t die lekker brood gebak?”

“Mies Alie. Maar die botter is klaar, ons sal die vet moet dek.”
Elizabeth steun kliphard. Sy het sowaar vergeet van die vet. “Net môre karring ek botter.”

“Julle sal moet slag ook. Die vleis is min.”

Ek ís terug op die plaas en dis warmer as ooit. En droog. En bak en slag en seep kook is my voorland.

“Die spens is ook leeg,” gaan Maggie swaarmoedig voort. “Ek het die rakke geskrop, Nonnie sal maar moet scallops sny van die koerantpapier.”

Bak en slag en seep kook en karring en scallops sny, terwyl ek wil studeer en toonlere oefen.

Haar ma kom die kombuis binne. Sy is natgesweet, selfs al is die son reeds besig om water te trek. “Sal jy die tafel dek, Elizabeth?”
. . . én tafel dek.

Sy stap na die saaidbord in die voorkamer. Uit die boonste laai haal sy die gestyfde wit tafeldoek. Haar ma was altyddeur gesteld op haar tafeldoek, so asof sy na die beter tye van haar Kolonie-opvoeding wou teruggryp. Sy dek drie messe en soplepels (pure aanstellerigheid, die ronde lepeltjies, mor haar pa altyd) en vee die wit sopkommetjies met die blou wilgerpatroon op met die doekie skoon.

“Waar is al ons breekgoed, ou Maggie? Waar’s die borde met die geel-en-rooi blommetjies?”

“Kon nie als red nie,” brom ou Maggie en vee die sweet met die agterkant van haar hand af. “Is ’n wonder die huis is nie gebrand nie.”

Ek was ver van die oorlog, dink Elizabeth, dis nog steeds nie vir my ’n werklikheid nie.

Langs haar pa se plek kom die piering met die jammerlappie. Dié sal sy eers natmaak net voordat hulle eet, anders verdroog dit in die hitte. Sy kyk rond: nou nog die plank en mes, en natuurlik die nare vet. Sy loer by die spens in, maar daar is nie eers een botteltjie konfyt nie!

. . . én konfyt kook. Maar die tafel dek is die slegste.

Toe sy klaar is, gaan sit sy op die regop riempiesbank voor die klein skuifvensters om weer na die voorhuis te kyk. Alles is hier ook nog dieselfde, miskien net ’n bietjie kleiner as wat sy dit onthou: die lae rietplafon, die blinkgesmeerde misvloer, die koedoevel met sy opkrulrande op die vloer. In die middel van die vertrek staan die groot geelhouttafel op sy swaar stinkhoutpote en agt regop riempiestoele. Bokant die tafel, aan vier kettings, hang die pragtige koperparaffienlamp.

Gelukkig nie nog koper opvryf ook nie, dis Maggie se kleingoed se werk.

Teen die oorkantste muur is die geweerrak met Herklaas se Mauser en Martini-Henry. Neffens, aan die kapstok, hang die bandelier en twee van sy hoede. Die somber portretgesigte van haar voorsate hou oor alles wag, saam met ’n groot foto van president Paul Kruger. Eenkant, inkennig in een hoek, ’n Europese prent van ’n takbok in sneeubedekte berge wat haar ma destyds nog uit die Kolonie gebring het. Dit is totaal uit plek in hierdie Bosveldruimte.
Net Maria se klavier is weg. Ou Maggie weet nie wat daarvan geword het nie.

“’n Klavier kan mos nie net verdwyn nie!” het haar ma ontsteld gesê toe hulle gisteraand ná donker hier aangekom het.

Herklaas het nie veel simpatie met sulke soort sentimente nie. “Dit was oorlog, vrou. Jy kan dankbaar wees die Bosveld is so warm, die Rooinekke kon dit nie hier uithou nie. Anders was meer van ons besittings weg.”

Die voorhuis is die middelpunt van die huis, al die vertrekke loop uit die voorhuis. Maar die kombuis bly die hart van die huis.

Herklaas moet sy kop afbuig om van die stoep af by die voordeur in te kom. Die gaasdeur klap agter hom toe. “Julle moet die gaas op grendel hou, die muskiete vreet ons op,” brom hy.
“Goed, Pa. Naand, Pa.”

Net haar pa lyk groter – groter en kwaaier as wat sy hom onthou. Hy loop ook nou mank. Hy gebruik soms ’n kierie om mee te loop, nou ná die oorlog.

Sy gaan maak die jammerlappie nat. Haar ma is besig om die sop in die groot kom te skep, Maggie is reeds weg statte toe.
Hulle hou nie soos ander gesinne hande vas as haar pa die seën vra nie.

Hulle eet in stilte.
“Herklaas,” begin haar ma onseker, “ek wil graag hê onse Elizabeth moet haar skoolopleiding voltooi.”
Met daardie apologetiese stemtoon kom Ma nêrens nie, dink Elizabeth.

Herklaas kyk net gesteurd op van sy kommetjie sop.
“Ek het gewonder, Herklaas,” gaan sy moedig voort, “daar was mos altyd in Pretoria ’n goeie, Christelike skool, die Staatsmeisjesskool? Dink jy dit bestaan nog?”

Herklaas slurp eers nog ’n sluk sop in. “Dit kos geld, vrou.”
Maria sny ’n stuk van die vars brood af en sit dit langs hom neer, voor sy weer probeer: “Ek het nou so gemeen: Ek het nog bietjie van die geld wat ek destyds by oorle’ Pa geërf het en . . . e . . .” Sy kyk af na waar haar hande op haar skoot lê.

Elizabeth wens sy kan tot die gesprek toetree, maar as sy nou iets sê, bedons sy alles dalk. Sy vind dit net so moeilik om stil te bly.
“Ons moet eers weer die plaas op die been kry. Dis nie net die skoolgeld nie. Sy sal êrens moet loseer ook.” Hy kou die stuk brood ingedagte. “Nee, sy is te jonk om alleen weg te gaan. Jy moet haar maar verder leer.”

Elizabeth maak haar mond oop om te protesteer, maar haar ma se oë maak haar stil.

“En ek stuur haar g’n na een van die Milner-goewerment se staatskole nie.”

Die lensiesop word dik in Elizabeth se mond. Maar haar ma het nog nie klaar gepraat nie. “Dan moet ons miskien ’n meester kry om Elizabeth te onderrig. Sy is ’n slimme kind, en ek kan nie verder vir haar leer nie.”

Herklaas van Rensburg kyk van onder af deur sy ruwe wenkbroue na sy vrou, maar sê niks. Dis minstens nie ’n summiere weiering nie.
“Dalk kan ons nog een of twee leerlinge kry, dan kan hulle ouers help betaal?” stel Elizabeth versigtig voor.

“Met waffer geld? Almal trek noustrop, die oorlog het ons almal geruïneer.”

“Mister Katz kan dalk belang stel?” sê-vra haar ma huiwerig.
“Bring die Boek, Elisabet.” Daarmee is die gesprek afgehandel.

Dit voel vreemd dat haar pa uit die Hollandse Bybel lees – haar tantes het die Engelse Bybel gebruik. Hollands is tog nie ons taal nie, dink sy. Ek wens ek kan die Bybel in my taal hoor.

Daardie aand sak Elizabeth op haar knieë op die rooibokvelletjie langs haar bed neer en bid lank en ernstig. Die Here moet haar asseblief help om verder te kan skoolgaan. Sy huiwer ’n oomblik. Selfs al is dit dan saam met daardie nare Izak Katz-vent.

Sy gaan lê bo-op die lappieskombers. Sy het al vergeet hoe ellendig warm die Bosveld kan word. Oom Basjan sê altoos daar’s net ’n sinkplaat tussen hier en die hel, en dié is plek-plek ook al deurgeroes. Herklaas hou nie van sulke ligsinnige praatjies nie, maar sy wat Elizabeth is, dink dis nogal waar. En snaaks.

Die Here verstaan Afrikaans, daarvan is sy seker. Wel, sy aanvaar so, anders is sy nou fluks op pad hel toe. En veel warmer as hier sal sy nie kan hanteer nie.

Hoekom kan die Bybel nie maar in Afrikaans wees nie?
Dan dink sy aan Izak Katz. Hý is nou ’n pyn, as daar ooit een was. Simpel, altyd met sy verspotte grappies en poetse. Stout, so erg dat hy in die dorpskool aanmekaar moes buk. Maar verniet of hy opgehou het.

Sy is eers in standerd drie dorpskool toe. Hulle plaas grens aan die dorp, dit was nie meer as ’n halfuur se ry met die donkiekar nie. Maar haar ma wou haar die eerste jare self onderrig. Sy het haar ook leer klavier speel.

In standerd drie het Hansie-wat-starag-is haar met die donkiekar dorpskool toe gevat. Raaitjie is aan die begin saam dorpskool toe, maar sy kon nie eers in die beginnersklas vorder nie. Toe het sy maar weer by die huis gebly.

Izak Katz was van die begin af ’n pes.

“Haai, waar kom jy vandaan met jou geel vlegsels?” Hy staan in die deur van die klas sodat sy nie kan verby kom nie. “Jy kan nie in hierdie klas inkom as jy nie kan lees en skryf nie.”
Sy het onseker gevoel. “Ek kan lees en skryf.”
“Dan moet jy eers sê: ‘asseblief, grote koning’ voor ek jou inlaat.”

“Nee.”
“Het jy swiets in jou sak?”
“Nee.”
“Nou wat’s dan in jou sak?”
“My lei. My broodjies.”
“Wat’s op jou broodjies?”

Gelukkig het meester Oudekerk op daardie oomblik opgedaag. “Izak Katz, pla jy al weer die meisiekinders?” Sy stem was baie streng.
“Nog nooit nie, Meester. Ek sien sy is nuut en vreemd, toe help ek haar net bietjie. Maar sy wil nie haar naam sê nie.”

Liegbek! Hy het nooit haar naam gevra nie. Hy sal hel toe gaan as hy so lieg.

Van die begin af kon hy nie haar vlegsels uitlos nie, gedurig die strikke losgetrek, of die twee strikke aan mekaar gebind. Die eerste week reeds moes hy buk oor sy gekarring. Sy het op die bank reg voor hom in die klas gesit.

“Elisabet, lees aan,” het meester Oudekerk lomerig gesê. Dit was baie warm.

Sy het opgestaan, maar haar kop het agteroor geruk: Haar twee vlegsels was stewig aan die sitplek van haar bank vasgemaak. Die hele klas het begin lag. Trane van vernedering en woede het oor haar wange geloop. Daardie dag het sy gesweer: Eendag sal sy nog vir Izak Katz terugkry – hy sal nog spyt wees.

En nou lyk dit of hy haar enigste hoop is om dalk verder te kan skoolgaan.