Skip to main content

Uittreksel | Verbly julle in die hoop

Aanhef
20 Maart 2020

Dis byna twaalfuur toe Andreas met ’n skok uit sy dagdromery wakker skrik. Waar was hy tog? Sy gedagtes vloei soos water, soos die rivier see toe, soms stadig, soms vinniger. Hy sit hier en onthou en skielik het hy geen beheer meer nie, hy raak weg, ingetrek deur die verlede. Miskien het daar ’n uur verbygegaan, dalk twee?

Pampoentyd, het Estie dit genoem. Hy het in hul aftreehuis by die see al geswig teen die vaak wat hom in die middel van die dag oorweldig. Dan het hy sy boek toegemaak en hom op die divan in sy dakkamer, wat hulle as studeerkamer ingerig het, uitgestrek om ’n bietjie te dut. Afhangende van hoe vroeg hy die oggend al op die strand was, dikwels voor sonsopkoms om die visbote in te wag, het die slaap hom oorval. Soms het hy so vas geslaap dat hy gedroom en met ’n skok wakker geskrik het wanneer Estie hom teen eenuur kom wakker maak vir middagete. Sy was nie een vir middagslapies nie, heeldag te besig met haar naaldwerk en hul huisie by die see aan die kant hou, haar roostuin versorg. Liewe Estie ... Dit was asof sy nooit moeg geword het nie, nooit haar hande laat rus het nie. Al sit sy ook, hulle bly besig.

Eers toe sy so siek was dat die pyn haar tot stilstand gedwing het, het sy ingegee en ook bedags gaan lê. Dan het hy hom langs haar op die dubbelbed uitgestrek, haar hand gevat, rustig gepraat oor gister, vandag en môre – altyd met die hoop dat sy weer skemeroggende saam met hom sou strand toe stap. Sy was lief vir die lewe, hy sien haar voor hom uithardloop die dag tegemoet. Nie vandag nie. In die werklikheid van vandag is sy nie meer hier nie.

Op die skinkbord voor hom staan ’n koppie koue tee, die beskuit daarin onaantreklik deurweek. Hy verbeel hom hy het dit netnou nog geskink. Maar sy polshorlosie sê dis verby twaalfuur en Patsy bring dit stiptelik om elfuur. Waar was sy gedagtes? Dan maar gou die bewysstuk uitskep en sluk, soos sy oupa Faan gemaak het. Hy was lief daarvoor om sy brood in sy koffie te week en dit met ’n lepel uit die koppie te eet. As klein seuntjie, nog in die laerskool, het Andreas dit eendag nageaap. Toe word hy kamer toe gestuur en sy ma gee hom ’n lesing oor tafelmaniere. Die onregverdigheid daarvan het hom genoop om beswaar aan te teken. “Maar Oupa ...” het hy begin.
“Niks se ge-maar-Oupa nie, jy doen dit nie.”
Destyds het kinders hul plek geken. Hy was ’n gehoorsame kind, al het hy ’n paar keer daarna tog skelm sy brood in die koffie geweek. Gehoorsaam, en stilletjies ’n klein kansvatter, dit was hy. Hierdie koue pappery smaak nou regtig nie lekker nie. Boonop is daar iemand by die deur, met ’n sagte kloppie.

“Meneer, kan ek inkom?”
Patsy wat die skinkbord kom haal. Gelukkig het hy die gemors betyds ontdek. Hy versluk hom byna, vee ’n slag oor sy mond, laat val die teelepel in die koppie.

“Ja, dankie, Patsy.” Intussen gryp hy die naaste boek, sy kleinseun se digbundel, maak dit oop, versigtig om dit nie onderstebo te hou nie. Lees asof hy heeltyd daarmee besig was.

“Meneer ...” Patsy trek die skinkbord nader, tel dit op. “Meneer moet kom kyk, Marlow het toe van die moerbei se takke afgesaag. Dis goeie vuurmaakhout. Ons vat dit huis toe, dan lyk die boom ook beter. Meneer moet kom sê watter nog.”

Andreas laat sak sy boek. “Ek maak so, Patsy.”

“Dit sal Meneer goed doen om die bene te rek voor ete. Ons eet eenuur, skaapstowe.”

“Klink lekker.”

“Dan kan Meneer nog rus voor die mense kom vir die boeke. Mevrou Willemse het gesê vieruur vanmiddag.”

“Goed dat jy my herinner. Dankie, Patsy.”

Sy sit die skinkbord neer, skuif die koppie en die teepotjie na mekaar toe. “Meneer lyk hoeka of Meneer moeg gelees is.”

“Dis swaar om afskeid te neem.” Hy maak die digbundel toe. “Dié een hou ek, die stapeltjie hier ook saam met die Bybel.”

“Meneer, ek dink ek hoor Marlow by die agterdeur.” Sy lig die skinkbord so oorhaastig, die koppie ratel in die piering. “Askies, Meneer, hy wil saag en klaarkry.”

Marlow met die sigaret in die hoek van sy mond.

“Patsy! Ek wag!”

“Hoe’s Marlow al weer so ongeduldig?”

Sy antwoord nie, vat net die skinkbord vas en loop. Wat van Patsy en die kinders gaan word wanneer hy hulle hier agterlaat, dit weet Andreas nie. Hy kom vinniger as gewoonlik orent, dronkerig van lae bloeddruk. Sy bene is styf en seer, sy knieë vandag ook weer lastig. “Ek loop saam met jou.”

Maar sy is alreeds halfpad met die gang af. “Marlow, ek kom, ek kom!”

“Roer jou gat, ek het nie tyd vir rondsit nie!”

Andreas skud sy kop, sulke taal voorspel moeilikheid. Hy het Marlow al deeglik onder hande gehad, lank met hom gepraat, saam met hom gebid en gehuil. Marlow het sy sondes bely. Hy het tot bekering gekom, die drank laat staan, eenkeer vir drie maande aaneen, toe “val hy weer in die versoeking”, soos hy kom bieg het.

“Die duiwel lag vir my oor my bekering. Sal Meneer my help om weer te kan bid?”

Marlow is nie ’n slegte mens nie. Hy het ’n besondere talent om met hout te kan werk, nie net gewone skrynwerk nie. Dit doen hy ook. Marlow is ’n kunstenaar wat beelde uit houtstompe kan skep en dit dan in sy dronkenskap in die vuur gooi. Andreas verstaan sy stryd teen die duiwel. Hy het self soveel keer teruggeval in die duisternis van sonde. Genadiglik het die dorings in sy vlees hom nie van God vervreem nie, hom eerder in sy swakheid nadergetrek en vasgehou. Daarby is sy lewe sekerlik ook makliker as Marlow Bantjies s’n.

Dié staan met die saag in sy hand onder die boom en rook. Rondom hom lê afgesaagde takke, sommige nog met lote en blare, ander verknoets en verdroog van ouderdom.

“Hoe lyk dit, Marlow?” roep Andreas van die agterdeur af. Marlow verander van beduiweld na nederig.

“Nee, Meneer, dit kom aan. Meneer moet net sê hoeveel nog. Ek wil nie die boom in die grond in verniel nie.”

Andreas sorg dat hy naderstaan, nie tussen die takke in nie, naby genoeg om om te loop en die skade te bereken. “Saag maar net die dooies uit,” se hy.

“Hy gaan skeef trek, Meneer.”

“Dan maak jy die skewe tak korter.”

“Dis hoe ek ook gedink het, kort en klaar.” Marlow lag sy slymerige lag. Hy prop die sigaret in sy mond terug.

“Volgende jaar maak hy nuwe lote,” se Andreas asof die boom na dese nog ’n greintjie krag in hom oorhet. “Jy sal sien,” voeg hy by, meer om homself te oortuig.

“As ek nog hier mag werk.”

“Ek doen vir jou ’n goeie woordjie, jy weet mos.”

“Ja, Meneer, laat ons hoop hulle luister. Almal in die dorp is nie dieselfde nie.” Marlow gooi die saag neer, tel die byl op en begin verwoed om stompe middeldeur te kap.

Andreas loop liewer om voortuin toe en af met die tuinpaadjie tot by die voorhekkie. Die posbus hang skeef. Miskien kan Marlow dit ook heelmaak vir nog ’n paar rand, en die tamarisk regsnoei, nie te erg nie – net genoeg. Die gras is gesny, die randjies om die beddings omgespit, nie dat dit veel aan die tuin verbeter nie. Dis herfs, die rose is uitgeblom en die dahlias is ook aan die afgaan. Andreas het madeliefies gesaai, maar hy sal nie hier wees om te sien dat hulle opkom nie. Hopelik sal Marlow onthou om nat te gooi. Hy hou daarvan om met die tuinslang in sy hand te staan asof die huis en tuin aan hom behoort.

Andreas kyk in die straat af, kry nie ’n mens of dier in sig nie. So verlate voel hy, so alleen op die wêreld, dat hy teleurgesteld terugdraai huis toe. Daar klim hy die trap na die koel voorstoep met sy regterhand gestut op die houtreling wat ook nie meer so veilig is nie. Die gemeente is aan die krimp en geld is skaars om die kerk en die pastorie in stand te hou. Andreas skud die kussings op die rottangbank reg en gaan sit. Van hier af kan hy die hoofweg sien en motors wat heen en weer jaag, reisigers wat beter daaraan toe is as die mense van sy dorp.

Hy voel jammer vir hulle, sy skaaptroppie. Hy het hul omstandighede onder hul nuwe herder se aandag gebring. Die welvarende gemeenskap langs die rivier is stadig aan die uitsterf. Die wat agterbly, is stukkend, arm en siek, dwalend soos skape op soek na waters waar rus is. Hy sou vir altyd hier wou woon, maar hy word oud en eweneens afhanklik.

Dis sy kinders en kleinkinders wat hom so ver gekry het om sy werk af te rond en klaar te maak, terug te gaan see toe, te rus. Maar nou is die seehuis opgepak en sy kamer in die ouetehuis oop, hulle haal hom van die lys af as hy weer wil uitstel. Dis goed, het hy toe besluit, teen die einde van jou lewe wil jy terug na die oerwaters toe, soos pa Faan ook vir hom gefluister het in sy siekbed daardie keer met sy eerste hartaanval, toe hulle gedink het hy sterf. Dit was die jaar 1957, drie dae voor Kersfees, drie dae voor sy verjaardag. Toe sit hy langs sy pa se bed en sy pa wat altyd ver was, is skielik naby, te naby met sy belydenis.


Deel 1

1
Desember 1957

Hy moet hom terugtrek en ’n toeskouer word van sy eie lewe as hy daardie drie dae in perspektief wil sien, daarna kyk asof hulle karakters is wat toneelspeel, die mense wat hulle toe was uit die mis van die verlede gaan haal. Andreas Beyers, amper sewentien jaar oud en sy pa, dominee Faan, ses-en-sestig en pas afgetree.

Hy lê in ’n groot wit hospitaalbed. Andreas staan op die drumpel van die siekekamer. Hy kan nie sy pa se suurstofmasker miskyk nie, ook nie die staanders met drupsakke en hul netwerk van buise en naalde nie. Dit lyk ongemaklik, maar Stephan het hom die sketse in sy mediese boeke gewys. Dis hoe medikasie direk in ’n mens se are gedrup word.

Die suurstofsilinder en die pyp wat na sy pa se masker lei, verbaas hom nie. Diepseeduikers en vegvlieëniers is afhanklik van suurstof, vanselfsprekend ook siekes wat nie kan asem kry nie. Pa Faan was vanoggend lelik benoud, maar hier kan hy ontspan en hom oorgee aan die tegnologie. Geen wonder nie, het Stephan altyd gesê, die mediese wetenskap ontwikkel so vinnig, in die toekoms sal ’n mens maklik honderd jaar oud word – sonder pyne en skete. Ongelukkig vir Stephan sou hy dit nie self kon beleef nie.

Vreemd, dis asof Stephan hier is, iewers in die kamer. Miskien wil hy hul pa se hand vat en dit vir hom makliker maak. ’n Koue rilling trek teen Andreas se ruggraat af. Nee, Stephan, wag eers!

Amper sê hy dit hardop, toe gee hy ’n kuggie om die verpleegsuster se aandag te trek. Sy was nog besig om aantekeninge in haar boek te maak.

“Andreas, nè?” Sy steek haar pen in haar hempsak en staan van haar stoel af op. “Kom sit hier en skuif nader. Jou pa is baie swak, maar hy wil opsluit privaat met jou praat. Ek gee julle vyf minute. Wees versigtig, moenie hom vermoei nie. En lui die klokkie as julle my nodig kry.” Sy laat rus haar hand vir ’n oomblik lank op pa Faan se arm. “Dominee, jou seun is hier.”

Hy gaan sit onseker. Sy pa het ’n suurstofmasker op, maar hy sien kans om te praat. Andreas raak so op sy senuwees, hy skrik toe die suster die kamerdeur op knip trek. Is dit die oomblik van waarheid? Moet hy verantwoording doen oor alles wat hy gesondig het: elke wit leuentjie, sy onwilligheid om soos Stephan te wees? Sal dit help om te sê dat hy gisteraand met Søren Kierkegaard se dagboek begin het, sy pa se inskripsie op die skutblad gelees het, professor Marincowitz s’n ook, ontdek het dat hy nie alleen is nie? Hulle is eenders, hy en sy pa, twyfelaars soos Søren, God se swartskape. Weet pa Faan dat Stephan ook hier is? Andreas wil vra, maar hy kyk nie in sy rigting nie. Hy staar in die lug op, bleek met grys kolle op sy wange. Dalk het hy nie genoeg asem om geluide te maak nie. Andreas leun nader. “Pa? Hoe voel Pa?”

“Andreas?” Sy stem klink dof agter die masker.

“Ja, Pa.”

“Ek dryf ... op die water ... die groot see van die tyd. Julle?”

“Ons bid, ek en Klaas en Safira. Ma bid, Josef-hulle, tannie Marianna. Ons sal ’n ketting begin, ons sal almal aansê. Pa, Pa sal oukei wees.”

“As die Here ... as Hy ...” Pa Faan se skouers ruk. Hy huil, maar sonder trane.

Andreas is so verskrik, hy wil eers die klokkie lui, toe sy skoon sakdoek uit sy broeksak pluk, toe niks. Hy maak vuis tot sy naels in sy palms invreet en wil net opspring om die suster te gaan roep. Toe lyk dit asof sy pa tot bedaring kom. “Ek het jou ’n ding aangedoen...” Hy wurg aan sy woorde. “Dit ... vreet aan my.”

Andreas raak byna net so benoud. Skuld en skaamte oorval hom. “Pa, dis nie Pa nie, dis ek.”

“Nou of ... nooit.”

“Ek is jammer, Pa.”

“Jy ...?”

“Omdat ek so sukkel om ... om te glo.”

“Ek het jou ’n ... las opgelê.”

“Nee, Pa!”

“Andreas ...” Hy lig sy hand, laat val dit asof dit te swaar is vir sy arm. “Die dag ... die dag toe jy gebore is ... toe staan ek op die trap na die preekstoel en ek ... bid ... belowe die Here God as Hy ... as Hy jou spaar, sal jy predikant word. Ek’t ’n gelofte afgelê ... namens jou ... op die trap na die preekstoel ... Jy is ... syne ... jy ... lewe ...” Lewe? Is dit die laaste woord wat hy kan uitforseer?

Andreas weet nie of hy reg gehoor het nie. Sy pa maak nog geluide. Dis onsinnige klanke, sy tong sleep. Sweetdruppels blink op sy voorkop, hy snak na asem, sidder asof hy koud kry, sy oë is toe. Het hy hom oorgegee aan die see? Maar hy haal nog asem, in en uit en weer in. Andreas druk sy oor teen sy pa se bors, luister na sy hartklop. Kom terug, Pa, kom terug. So intens luister hy na die lub-dub, lub-dub, hy voel skaars die sagte hande op sy skouers.

“Tyd is om,” sê die verpleegsuster.

Andreas lig sy kop en kyk. Pa Faan haal nou so rustig asem, sy skouers beweeg skaars. “Slaap hy?”

“Eindelik,” sê sy. “Toe, uit is jy.”

“Ons het nie klaar gepraat nie.” Andreas kom nietemin uit die stoel regop.

“Julle kan môre weer, dalk later vandag.” Sy du hom in die rigting van die deur. “Jou mammie wag vir jou, sy en Marianna.”

Marianna? Andreas is amper daar, maar hy draai terug. Haar naamplaatjie sê Leonie Dreyer. “Ken Suster vir tannie Marianna?”

“Marianna Lichtenstein. Ons was saam op skool. Ek was Leonie Moller, oom Gert se oudste dogter.”

“Oom Gert wat katkisasie gee?”

“Einste hy. Jou pa het my en my man getrou, toe koop ons huis in Milnerton. Hou moed, Andreas. Ons sal ons dominee so goed versorg, oor ’n week gaan hy perdfris saam met julle terug huis toe.” Sy kyk na hom nes oom Gert, met medemenslikheid. “Oulike seuntjies gewees, jy en jou boetie.”

Andreas wil vra of sy weet dat Stephan dood is, maar dan hou sy die deur wyd oop. “In die wagkamer, hulle wag vir jou.”


Ma Louisa, tannie Marianna en Josef sit langs mekaar, elk met ’n tydskrif in die hand. Ma Louisa lees nie, sy blaai sonder om te kyk. Josef lees ’n Reader’s Digest asof hy die woorde uit sy kop wil leer. Tannie Marianna met haar skerp ore hoor Andreas toe hy instap, al sluip hy soos ’n dief. Sy gooi haar Huisgenoot neer, storm op hom af, slaan haar arms om hom en druk hom uitasem.

“Andreas, ek is só, só jammer.” Oor haar skouer sien hy hoe Josef van sy Reader’s Digest af opkyk en sy oë rol. Ma Louisa laat sak net haar tydskrif op haar skoot. Tannie Marianna se vasklouery maak Andreas ongemaklik. Hy verduur dit totdat sy haar greep verslap en hom loslaat. Toe kla sy. “Ou Leonie wil my nie by my predikant toelaat nie. Hoe lank kon jy bly?”

“Omtrent so vyf minute.”

“Dis ook onregverdig.”

“Tannie, hy was baie moeg.”

“Slaap hy?”

“Ja.”

“Sê nou hy word nie weer wakker nie? Ek wou net inloer.” Trane oorweldig haar, sy strompel na ma Louisa toe, en val langs haar neer. “Daai vroumens dink sy het die wet aan haar kant.”

Ma Louisa sug. “Marianna, reëls is reëls.”

“Dit is nie haar hospitaal nie.”

“Dit is ’n hospitaal en te veel besoekers sal Faan uitput.”

“Julle is getroud en jy mag nie ’n stoel vat en langs hom gaan sit nie. Op die ou end sterf hy alleen.”

Andreas kan sy ore nie glo nie. Is tannie Marianna daarop uit om ma Louisa te ontstel? Hy gee een tree en gaan staan voor hulle.

“Mammie, Pa slaap. Hy moet rus.”

Sy ma glimlag. “Dis wat Dokter ook sê. Het julle toe gepraat?”

“Bietjie.” Weet sy van die gelofte? Andreas wonder. Is hulle kop in een mus, sy ma en pa?

“En?”

Hy is nie lus om die gesprek voor almal te herhaal nie. Buitendien, hy is nog te deurmekaar. “Hy het ’n suurstofmasker op, ek kon nie mooi hoor nie.”

Sy ma knik. “So gedink.”

Tannie Marianna pluk ’n sakdoek uit haar mou, vee haar trane af, blaas haar neus. “As hulle hom op suurstof het ...” Sy klink onheilspellend. “Louisa, jy moet onthou om die dokter uit te vra as hy weer sy gesig hier by ons wys. Ons is in elk geval gestrand vir die dag.”

Ma Louisa skud haar handsak op haar skoot reg. “Jy kan ry. Ek gaan nie huis toe sonder my man nie.”

Tannie Marianna frons. “Het ek al ooit vir jou weggery?”

Andreas gee nie om of sy bly of ry nie, hy skaar hom by sy ouers. Tannie Marianna is nou wel sy ma se beste vriendin, maar sy is nie familie nie. Miskien moet hy ’n telefoonhokkie soek en bel, vir ouma Letsie, of nee, die skok sal te groot wees. Iemand soos tannie Ansie moet haar in die oë kyk en saggies met haar praat. Maar langafstandoproepe kos geld en telefoonhokkies is onbetroubaar. Oom Frik in Worcester kan vir oom Hermaans-hulle van sy huisfoon af laat weet. Of dalk moet hulle eers vir ouma Albertyn in die hande kry.

“Mammie, moet ek vir ouma Albertyn gaan bel?” vra hy en voeg moedswillig by. “Sy kan Mammie kom geselskap hou.” Ma Louisa skud haar kop. “Liewer nie. Sy is nie gesond nie en netnou klim sy weer in haar kar en ry al die pad van die Strand af hiernatoe.”

“Oom Frik en tannie Felicia?”

“Nie nou nie, teen vanaand se kant.”

“Voor hulle die res van die familie op hol jaag,” gooi tannie Marianna haar stuiwer in die armbeurs. “Buitendien, almal is vandag in die winkels.”

“Môre is dit Sondag, drie dae voor Kersfees ...” Ma Louisa se stem klink vreemd. Andreas weet hoekom, hy onthou van oupa Faan wat dood is sonder om enigiemand vir oulaas te groet – een dag voor Kersfees. Dit pla haar, hy kan dit sien, maar sy wil dit nie hardop sê nie, nie voor hom nie. Hy maak of hy dit nie agterkom nie en hou by sy voorstel.

“Hulle sal ons kwalik neem as ons hulle nie inlig nie.”

“Jou pa mag nie besoekers ontvang nie.”

“Dis nie te sê dat hulle vandag al van Worcester af sal ry nie.”

“Andreas, ek het nie krag nie.”

Hulle kan saam met ons bid, wil hy sê, maar skielik is hy skaam en tannie Marianna is ook weer op haar stukke. “Andreas, jou ma is moeg, los haar.”

“Ek het net gewonder ...”

Toe kyk ma Louisa na hom asof sy haar bedink het. “Jy is reg, hulle moet ingelig word, gee net kans dat ons tot verhaal kom. Goed so?”

“As Mammie so voel ...” Hy wil in die naaste leunstoel neersak.

Uit die hoek van sy oog sien hy egter hoe Josef sy Reader’s Digest neersit en opstaan. “Cooldrinks vir almal?”

“Asseblief, Andreas, die dors begin my inhaal.” Tannie Marianna hark haar handsak nader en haal haar beursie uit. “Louisa, ons moet vir Dominee laat weet dat hy vir Faan kom bid.”

“Liewer nie,” antwoord sy ferm. “Dis Saterdag, preekmaakdag.”

“Jou man het honderde siekes gesond gebid. Nou is dit sy beurt.”

“Nie vandag nie en môre is dit Sondag.”

“Joshua van Deventer is jonk en gesond, ’n hospitaalbesoek op ’n Saterdagmiddag sal hom nie seermaak nie. Bel jy hom of moet ek?”

“Ons sal.” Josef bied dit ewe onbaatsugtig aan.

“Het julle kleingeld vir die tiekieboks?”

Andreas sit sy hand in sy sak, vou sy vingers om sy beursie. “Ja, Tannie.”

Intussen vis sy ’n halfkroon uit en gee dit vir hom aan. “Vir die koeldranke. Weet nie van julle nie, maar ek hou van Coke. Of wil jy liewer kafee toe stap, Louisa? Dan bestel ons vir ons tee?”

Ma Louisa skud haar kop. “Netnou het Faan my nodig.”

Josef raak al ongeduldig. “Kom, Andreas.”

Hulle loop deur die koel gange verby toe deure en verpleegsters op ’n drafstap langs haastige dokters. Alles en almal, selfs die Kersversiersels, is gehul in skitterwit stilte. Die hartkliniek is ’n onderafdeling van die Groote Schuur-hospitaal, ’n nuwe gebou met dieselfde neoklassieke fasade van Griekse pilare en Korintiese kapitele. Dit was die droom van die briljante spesialis wat Stephan geïnspireer het om verder in hartchirurgie te studeer. So opgewonde was hy dat hy een Sondag ná middagete vir hulle ’n pak kiekies gewys het. Andreas onthou verskeie weergawes van Stephan en sy vriende op die trap voor die imposante ingang, ook goed toegeruste teaters en siekesale, enkelkamers vir spesiale gevalle en Stephan se held voor ’n swartbord besig met ’n reusediagram van die hart.

Sy portret hang in die ingangsportaal. Andreas het sy naam vergeet, maar hom met die intrapslag herken en kan dit nie weer ignoreer nie. “Daar’s een van Stephan se helde,” sê hy vir Josef. “Hy’t vir hom klas gegee.”

Josef gaan staan eers en lees die inskripsie op die kopernaambordjie. ‘Velva Schrire, director and founder of the Groote Schuur Cardiac Clinic.’

“Ja, ou Stephan ... dis om ons aan die dink te sit.”

Andreas antwoord nie. Josef verstaan en dis genoeg. Hulle loop in stilte voordeur toe. Hy en Josef is so goed bevriend, hulle kan netsowel broers wees, maar dis asof die hospitaal sy verlange na Stephan aanwakker. So intens raak dit, hy verwag elke oomblik om hom by ’n sygang te sien uitkom, diep in gesprek met een van sy kollegas, dalk oor dominee Beyers se hartaanval. Wat sou hy sê as hy moet weet dat pa Faan vandag hier opgeneem is? Of sit hy oorkant suster Dreyer en tel elke asemteug wat haar pasiënt nog kan neem? Wens hy ook dat hulle met mekaar kan praat, stry as dit moet? Andreas het nooit die moed gehad om soos Stephan met hul pa te redeneer nie. Vir hom was dit makliker om sy gevoelens te onderdruk. Al die tyd loop pa Faan toe ook met selfverwyt aan die een kant en hoop aan die ander kant.
Toe Andreas saam met Josef uitstap en die sonlig hom vir ’n oomblik verblind, besef hy dat hy dit aan sy pa verskuldig is – en aan die Here Jesus – om hom onvoorwaardelik oor te gee.