Uittreksel | Veilige tuiskoms by jou – Magda Schmidt
Een
Toe Karlien die warm tee vir haar bring en Madie se hande om die beker vou, bly sy eers daarmee sit sonder om te probeer drink.
“Kom, neem net één slukkie,” dring Karlien se stem, sag en vol deernis, tot haar deur . . .
Haar ma het op ’n dag in haar graadagtjaar vir haar gesê sy vertrou mense te maklik; sy gaan nog baie seerkry. Dit was toe haar beste vriendin van laerskool die eerste dag van hoërskool haar rug op Madie gedraai en, ingehaak by twee ander meisies, al giggelende en geselsende na die skoolsaal toe geloop het.
Toe dit die res van die dag en daarna die hele week so aanhou, het sy Cecile gekonfronteer. Sy wou weet wat sy verkeerd gedoen het, want sy kon eerlik nie aan iets dink nie. Niks, moes sy hoor. Cecile was net lus vir ’n verandering. Nuwe skool, nuwe vriendinne. En sy moet ongelukkig ook sê dat Madie nogal boring is. Madie het eers gedink sy sal nooit die seer van haar jare lange vriendin se verwerping kan verwerk nie. Geleidelik het sy egter self ook weer nuwe maats gemaak, hoewel sy versigtig gebly het om enige vriendin weer so van harte te vertrou.
Sy het eers in die eerste jaar van hulle fisioterapiestudies weer ’n vriendin ryker geword met wie sy gewaag het om geheime te deel. Sy en Karlien de Wet het sielsgenote geword: Karlien met die sagte glimlag en eerlike bruin oë. Karlien wat ook geheime met háár gedeel het, wat haar vertel het van die matriek-ou op wie sy in graad tien dolverlief was, maar wat haar toe diep teleurgestel het. Karlien, wat vanaand op die allerlaaste minuut tot haar redding gekom het en nou stil langs haar staan en wag dat sy die tee probeer sluk.
Sy het gewonder waarom Karlien, anders as wat sy beplan het, huis toe gekom en nie by hulle vriendin Jo oorgeslaap het nie. Toe Karlien, net voordat sy gaan tee maak het, verduidelik van die krisis by Jo se peetouers, het Madie onthou van haar skietgebed. Sy het toe gedink dit kan nie meer help nie, en tog het Karlien by hul woonstel ingeloop gekom enkele oomblikke voordat James . . .
Sy het James van Vuuren in Februarie vanjaar, haar en Karlien se vierde en ook finale jaar as fisioterapiestudente, ontmoet. Dit was in die hospitaal waar hulle al sedert die vorige jaar praktiese werk begin doen het onder die waaksame oog van een of twee ervare terapeute. Haar pasiënt het die vorige dag ’n heupoperasie gehad en Madie was besig om haar te help met ’n paar oefeninge in die bed. Mevrou Van Vuuren was ’n stil, amper somber vrou wat nietemin goed saamgewerk het en elke oefening pligsgetrou probeer uitvoer het.
Die gordyne rondom die bed was toegetrek, maar het onverwags geroer toe ’n diep stem tergend vra waarom daar helder oordag geslaap word. Madie het vraend na die ouer vrou gekyk en haar verbaas oor die verandering wat sy op die pasiënt se gesig kon opmerk. Alle tekens van somberheid was weg en ’n stralende glimlag het haar gesig versag terwyl haar oë geblink het van blydskap.
“Dis my seun, Madie,” het sy gefluister. “Ek weet dis buite besoekure, maar hy is ’n raadgewende ingenieur en omtrent altyd by die een of ander projek buite die stad betrokke. Hy kon nie kom sterkte sê voor die operasie nie.”
Madie het soos die gebruik onder die fisioterapeute was, mevrou Van Vuuren gevra om haar op haar naam te noem. Juffrou Van Tonder sou onbewustelik ’n afstand skep wat die gewenste vertrouensverhouding tussen pasiënt en terapeut stadiger laat ontwikkel.
“Mevrou weet ek is nie baas van die saal nie. Dis suster Van Heerden wat moet sê,” fluister Madie terug. “Maar ons het genoeg geoefen vir vandag. Ek gaan nou die gordyn ooptrek en maak asof ek nie sien daar staan iemand nie. Reg so?”
Eers later het sy dié woorde onthou, want toe het sy geweet dit sou vir haar onmoontlik gewees het om James van Vuuren nié raak te sien nie.
Sy het amper teen die lang man vasgeloop toe sy deur die gordynopening beweeg en twee groot hande om haar arms voel. Sy was dadelik bewus van die krag in daardie hande, van die subtiele geur van ’n naskeermiddel vermeng met ’n sweempie sweet en warm man. Sy kyk ver op en sien twee vonkelende bruin oë in hare afkyk terwyl ’n breë glimlag haar aandag op die man se sensuele mond vestig.
“Waarom so haastig, juffroutjie?” wil hy weet. “Kom kuier eers ’n rukkie saam sodat ek kan hoor hoe my goeie moeder vorder? Ek sien jy’s haar fisio. Hallo, Ma!”
Daar is ’n naambalkie en “student-fisioterapeut” op haar hemp vasgespeld.
Hy buk om sy ma te soengroet, maar sy een hand is nog liggies om Madie se boarm sodat hy haar ook nader trek na die bed toe. Sy slaag darem daarin om haar arm los te maak en wil net beleefd groet wanneer mevrou Van Vuuren haar met onmiskenbare trots aan haar seun voorstel.
“Madie, dis my enigste seun, James,” sê die ouer vrou en haar stem is eintlik hees van emosie. “Eintlik my enigste kind,” voeg sy by en daar is nou ’n ondertoon van bitterheid te hoor, “want sy suster en haar man is jare lank al in Amerika en ek sien hulle net so een maal in drie jaar. En tussenin is hulle maar skaars.”
“Bly te kenne, pragtige Madie!” sê James van Vuuren en steek dié slag sy hand uit om hare te druk. Hy hou dit in sy sterk greep terwyl hy saggies byvoeg dat hy hoop om nog baie van sy ma se fisioterapeut te sien wanneer hy weer op die “verkeerde tyd” kom inloer. Toe laat hy haar gaan en trek ’n stoel nader om langs sy ma se bed te sit.
Dit was die begin.
Karlien staan nog steeds langs haar en om haar vriendin tevrede te stel, drink sy die tee wat al begin afkoel, met klein slukkies.
“Jou aanvoeling was toe al die tyd reg, Karlien,” sê Madie amper kortaf toe sy die leë beker teruggee. “Jy’t nooit van James gehou nie.”
“Dis nie dat ek nie van hom gehou het nie, Madie,” spreek Karlien haar sag teë. “James was altyd goeie geselskap wanneer ons soms saam gekuier het. Hy kan immers baie sjarmant wees en hy het interessante sienings oor baie onderwerpe.”
“Maar jy het wel sekere voorbehoude gehad en nou het ek baie deeglik ervaar dat jy reg was,” sê sy bitter.
“Probeer nou eers om nie verder daaroor te tob nie, Madie,” moedig Karlien haar deernisvol aan. “Dis koud en jy moet liewer vinnig in ’n warm bad en daarna in jou pajamas kom. Augustus maak vanjaar asof dit nog middel Junie is. Ek gaan tap solank water in, dan kry jy jou goed bymekaar. Wanneer jy lekker knus in die vere is, kan ons nog ’n bietjie gesels. Dis te sê as jy nie dan al wil slaap nie.”
Madie wonder of sy hierna ooit weer sal kan slaap. Maar sy knik net en staan versigtig van die stoel af op, half bang dat haar bene haar nie sal kan dra nie. Sy weet haar bedagsame vriendin wil haar kans gee om van die geskeurde onderklere ontslae te raak. Sy het dit nie nodig as bewysstukke nie. Karlien het onmiddellik nadat James weg is, kom vra of Madie ’n klag wil gaan lê, maar sy het sonder aarseling geantwoord dat dit sinneloos sou wees. Sy het James van Vuuren genooi om by haar in haar woonstel te kuier en vir wat agterna gebeur het, sou dit haar woord teen syne wees. Buitendien het Karlien se onverwagte tuiskoms verhoed dat . . .
Toe sy in die warm skuimbad wegsak, probeer sy haar gedagtes orden om die verloop van haar en James se . . . verhouding, as dit wel só genoem kan word . . . oor die afgelope sewe maande te deurdink . . .