Skip to main content

Uittreksel | Veilige hawe vir die hart

Een

“Sjoe, ek wens ek kan daai ou se bos hare vir hom mooi uitborsel!” Paula doen haar bes om onge­merk oor die koppe voor haar te kyk. Kan jy glo daar is nog vrouens wat hoede kerk toe dra? Dis sweerlik net van pure windmakerigheid. Of dalk hang die mense hier in Louis en Marike se kerk maar so uit as dit ’n Doopsondag is. Die hoede is volgens haar regtig net daar om jou se uitsig te bederf. Dit kan baie frustrerend wees, veral as die uitsig so belowend is. Die uitsig waaraan sy dink, is natuurlik haar bestie Marike en manlief Louis se babatjie, nie die lang man met die goue maanhaar wat die einste baba pas ingebring het nie.

Olivia onderdruk ’n giggeltjie en leun nader aan Paula: “Dis dalk net wat Derick nodig het, girl­friend. Dat jy hom ’n bietjie onder hande neem. Dis al hoeveel jaar en dit klink vir my die ou kry steeds swaar.”

“Derick?” Oeps, sy fluister al weer te hard. Besadigde Brent loer waarskuwend na haar van sy plek anderkant Elsbet af. Sagter vervolg sy: “Dáái Derick? Louis se oorlede sussie se eks? Wat so marakkas by die troue kom maak het? Hulle laat hóm die baba inbring?” Sy herken nou self die baba wat die man versigtig vashou asof die dingetjie enige oomblik kan breek. Daardie bos spier­witte haartjies kyk niemand sommer mis nie. Ook nie die lieflike dooprok waarin Marike self destyds gedoop is nie.

“Jip, dis net hy daai.” Olivia loer ondeund na haar. “Nie sleg aanmekaargesit nie, nè?”

Olivia probeer haar verniet koudlei. “Ek het vrede met hoe hy lyk. Hulle laat hom die kind inbring en ek weet nie daarvan nie!” Mensig, hoe sleg voel sy nou. Marike doen so ’n ongewone ding by haar baba se doop – en sy vertel nie haar beste pel daarvan nie. Wel, dalk omdat sy geweet het Paula Swart is nie een vir sulke sentimentele gebare nie. Paula Swart loop die lewe met oor­gawe storm, sy bemoei haar nie met soetsap­pighede nie. Sy vergewe ook nie so maklik nie. Daardie man het skandes kom maak by Olivia en Elsbet se dubbele troue met die manne van hulle drome. Hy het gemaak dat Louis en Marike die partytjie grotendeels misgeloop het. Blykbaar het hy intussen pelle geraak met hulle. Sonder dat sy daarvan weet. Normaalweg is haar vriende se vriende hare ook, maar sy weet nie so lekker van hierdie ou nie.

“Sjuut nou eers, girlfriend.” Olivia het reeds ’n bondel snesies in die hand, reg vir die trane wat gaan kom. Sy wat Paula is, stort nie so maklik trane nie, maar dit is darem aangrypend dat Louis en Marike hulle eersteling na Louis se oorlede sussie gaan vernoem. Dalk moet sy ook maar ’n snesie reg­hou, net vir ingeval. Met ’n pel soos Olivia moet jy weet daar gaan baie gelag en ook soms gehuil word. Met die lag het sy nie moeilikheid nie, sy kan vir die Springbokspan gaan lag as iemand briljant genoeg kan wees om so ’n span te stig. Oor die huilery is sy nie erg nie. Sy lag baie en sy lag hard, maar dis beter om jou huile liewer in jou binnekamer te huil.

Die egpaar Calitz is eerste aan die beurt. Die Derick-man gee die kleintjie so sorgsaam vir Marike aan dat hulle jou wrintie die dingetjie am­per van pure oorversigtigheid laat val. ’n Mens kan selfs van agter af sien hoe trek Louis se skouers op van pure skrik. Of dalk is dit om sy lag te hou. Louis is darem nie meer die sedige, soms stuurse man wat hy was toe hy destyds in die Boland aangekom het ná die dood van sy sussie nie. Toe die dominee die ouers aansê om na die gemeente toe te draai, het hy darem weer sy aantreklike gesig op ’n ern­stige plooi getrek.

“Lounie Calitz, ek doop jou . . .” Word dominees spesiaal gekies vir hulle mooi stemme? Hierdie een klink asof hy die hemelpoorte sommer met sy woorde vir jou kan laat oopgaan.

“Is dit nie te dierbaar nie?” sug Olivia hier langs haar en vat Shaun se hand nog vaster. Die ander hand bring die bondel snesies na haar gesig. Olivia is nie een wat ongemerk ’n traantjie afvee nie. As sy wil huil, dan doen sy dit behoorlik.

O wee, en Paula Swart bly ook nie vandag ag­ter nie. Sy het toe nie ’n snesie uitgehaal soos sy netnou oorweeg het nie. Nou kos dit ongemerk probeer rondgrawe in die allemintige handsak wat sy natuurlik weer vandag saamgesleep het. Dis ’n hopelose soektog. Sy kry haar verlore donkerbril, drie naelvyltjies en twee halwe pakkies suikerlose kougom, maar geen snesie nie.

“Hier, Paula.” Elsbet hou met ’n glimlag ’n pienk snesie na haar toe uit. Sweerlik moedswillig, want Elsbet weet teen hierdie tyd ook al Paula is nie een wat haar met pastelkleure ophou nie. Sy vul haar lewe met kleur, want dis hoe sy wil leef: kleurvol en uitdagend. Babapienk is . . . wel, vir babas. Hoewel deesdae se babas blykbaar ook nie meer baba-kleure dra nie.

Sy vat maar die pienk dingetjie, want sy het nie juis ’n keuse nie. “Thanks.” Dis ’n yslike voorreg om op hierdie spesiale dag tussen twee dierbare pelle te sit. Dit maak egter vandag ’n bietjie seer dat aan elkeen se ander kant ’n man sit wat glo die son skyn uit die vrou langs hom. Normaalweg voel sy vere vir haar alleenstatus tussen die paartjies, maar op hierdie ysige winteroggend sou sy darem ook van ’n stewige manslyf teen hare gehou het.

“Pragtig, nè?” fluister Elsbet teen haar oor. “Veral dat hulle sowaar vir Derick die kans gee om die baba in te bring. Dalk is dit die laaste ding wat hy nodig gehad het om vrede te maak met Lounie se dood destyds.”

Sy is so ontsteld dat sy weer vergeet om mooi saggies te praat. Sy kon hoeka as kind nooit be­hoorlik fluister nie, haar beste pogings het steeds te hard uitgekom. “Hoekom weet net ek van niks?” Gelukkig het die dopelinge blykbaar nou besluit hulle is nie meer lus vir dié affêre nie, want al vier oefen nou hulle longetjies dat dit klap.

Terwyl die dominee so tussen die outjies se huilery deur sy sjokoladestem oor hulle laat spoel, gee Paula vir Elsbet en Olivia elkeen ’n ordentlike vuil kyk. “Hoekom? Ek wil weet hoekom!” Sy kan sien Shaun, die stouterd wat hy is, is dik van die lag, en aan die ander kant is Brent besig om erg onge­maklik te raak met haar gekarring. Sy voel vere, sy wil weet.

“Hoekom?” gooi sy weer weerskante toe na die twee wat vir haar sulke goeie pelle geword het.

“Hulle was bang jy gaan nie daarvan hou nie,” fluister Elsbet onwillig, duidelik in ’n hoek vasgekeer.

“Hoekom nogal nie?” kap sy terug.

“Kom ons praat netnou,” fluister Elsbet benoud. Brent is besig om geïrriteerd te raak en dis nie iets wat maklik gebeur nie. Dit sal die kersie op die koek wees as sy vandag huwelikskrisisse veroor­saak. Eindelik is dit tyd vir die slotgesang. Nou kan sy haar prate praat. “Olivia, hoekom het hulle my nie van Derick vertel nie?”

“Oor jy so befoeterd was toe hy destyds met ons troue by Louis se plek aangekom en marakkas ge­maak het. Jy wou agterna niks weet van probeer verstaan van sy hartseer en sy woede nie.”

“Man, dit was sommer nonsens. Om maande ná die girl se dood in so ’n toestand hier aan te kom en skandes te maak. Asof dit nou sy eks sou terugbring. Hulle was in elk geval uitmekaar toe die ongeluk gebeur het.”

“Dit het vir hom gevoel asof Louis haar weg­gevat het net toe daar ’n kans was om dalk op te maak,” fluister Elsbet.

“Dis mos plein belaglik. Geen wonder arme Louis  het onder die skuldgevoelens vergaan nie. Asof hy kon help dat die vroumens terstond die blerrie mo­torfiets in die nat weer op ’n besige pad wou ry.”

Toe hulle uitstap, vat Olivia en Elsbet haar sag­gies weerskante aan die arm. “Sien jy nou? Jy rea­geer presies soos Louis en Marike bang was jy gaan reageer,” fluister Elsbet nou self nie meer baie sag­gies nie. Gelukkig is die orrelspel darem daar sodat die mense rondom hulle hopelik nie agterkom hier is iets aan die gang nie.

“Wees net nice met die man, Paula,” kom Olivia van die ander kant af by. “Hy’s deur ’n bittere tyd.”

“Já, whatever.” Sy’s sommer lus en ry huis toe en los die klomp om alleen dooppartytjie te hou. Netnou besluit hulle nog om haar met die blerrie man af te paar. Dit sal net mooi die toppunt van belaglikheid wees.


Buite die kerk is dit ’n gedruk en gesoen van ’n an­der wêreld, maar die dag se vreugde is vir Paula bederf. Dis nie ’n lekker gevoel om te weet jou vriende steek vir jou goed weg omdat hulle dink jy gaan nie goed daarop reageer nie. So asof hulle die reg het om oor jou doen en late te besluit. Die erg­ste is dat hulle in hierdie geval reg was. Sy het des­tyds vir Louis presies vertel hoe belaglik dit was dat die Derick-vent sy skuldlas nog groter moes kom maak met sy aansprake. Asof Louis enigsins kon help dat Lounie vir Derick kort voor die onge­luk gelos het.

Asof hy geroep is, kom Louis tussen die mense deur en hy stuur die Derick-skepsel aan die arm reguit na haar toe. “Paula, jy het mos nie destyds vir Derick ontmoet nie, of hoe?”

“O? Wanneer moes ek hom ontmoet het?” Asof sy nie baie goed weet nie.

“Toe hy met Elsbet- en Olivia-hulle se troue hier was.” Dis tipies Louis om die ding so mooi te probeer plooi. Hy sê nie ’n woord oor die onaangenaamheid wat die man veroorsaak het nie.

Wel, sy is nie een vir soetjies trap nie, sy sê ’n ding soos hy is. “O, is dit nou die man wat die hele troue vir jou en Marike bederf het?”

“Jip, dis einste ek.”

Haar katterige antwoord stol in haar keel. Die man se potblou oë trek haar in, hou haar vas. Sy stem is diep en donker, die bos hare laat ’n mens aan ’n leeumannetjie dink. “Jy klink sowaar trots daarop,” kry sy darem ná ’n oomblik uit.

Hy maak ’n beweging met sy skouers asof hy haar woorde van hom wil laat afrol. Hou haar vas met daardie oë, steek sowaar sy hand na haar uit om te groet. “Jy klink ook nogal trots daarop dat jy destyds so teen my uitgevaar het dat jou vriende nie eens kon waag om jou te vertel ek gaan vir klein Lounie inbring nie.”

Teen haar sin laat sy toe dat hy haar hand in syne vasvat. Syne is sterk, effens grof, nie die hand van ’n stadsjapie wat sy dae agter ’n rekenaar omsit nie. “Ek dink jy’t elke woord verdien wat ek destyds gesê het.” Sy trek haar hand terug, onderdruk die drang om dit vinnig aan haar baadjie af te vee.

Hy glimlag sowaar. “Sonder dat ek ’n kans gehad het om my kant van die saak te stel? Hoe regverdig is dit?”

Sy draai haar rug op hom en gooi die woorde oor haar skouer na hom terug: “Life’s not fair, my dear.” Sy huiwer, besluit dan om die ander lelike stukkie ook by te voeg: “Life’s a bitch. You marry one, then you die.”

Tot haar stomme verbasing vat Derick haar stewig aan die arm en kyk haar vas in die oë. “Jy’s darem verskriklik sinies, Paula. Dit moet ellendig wees om só deur die lewe te gaan.”

Sy trek haar arm ferm weg. “My lewe was fine, dankie. Tot jy hier uitgedop het. Lyk my dis jou styl om mooi okkasies te kom opfoeter.”

“As ons dan nou in Engels moet baklei,” haak hy koeltjies af, “dan sê ek maar it’s all in the eye of the beholder.”

“Wat ek sien, is darem nie te sleg nie. As jy net daardie boskasie van jou ordentlik wou kam.” Voor sy haar kom kry, het sy waaragtig haar hand liggies deur sy hare getrek.

Lag die man sowaar vir haar. “Ek wag eintlik vir ’n mooi vrou soos jy om dit vir my te doen. Elke oggend nadat sy my koffie bed toe gebring het.”

Nou kry sy darem self ’n stekie in. “Sekerlik ná sy eers haar vroulike plig in die kooi gedoen het, nè?”

“Paula, gedra vir jou!” Louis het darem uiteinde­lik sy asem teruggekry. Sy kan sien hy is ook baie lus vir glimlag.

“Hoe ken jy my, kollega?” Louis is vir haar iets wat ’n mens nie so maklik kry nie – ’n kollega wat ook ’n goeie vriend geraak het. Hulle werk as ar­beidsterapeute by die kliniek vir mense met gees­tesiektes bring vir hulle albei groot vreugde. Sy is ook stilweg bitter trots daarop dat sy haar deeltjie gedoen het om hom en die kliniek se dierbare ont­vangsdame bymekaar te bring. Hy en Marike het albei destyds ’n ligte skop onder die jis nodig ge­had. Paula Swart het hoeka ’n spesiale talent vir daardie soort skoppies.

“Ek ken jou maar alte goed, vriendin, maar ek gaan jou nie toelaat om ’n scene te maak by my kind se doop nie.” Louis gee haar ’n moedswillige kyk, een wat ’n bangbroek sou laat terugstaan. Gelukkig was sy nog nooit ’n bangbroek nie.

“Jou vriend hou mos van scenes maak – ek wou hom maar net laat tuis voel hier tussen ons or­dentlike mense.”

“Hier, Paula, vat jy gou ’n bietjie vir Lounie.” Marike kom van diékant af en prop die kleinding ongevraagd in haar arms. Sweerlik net om haar aandag af te trek.

Wel, dit werk. Sy vergeet van die malende mense rondom haar, sy vergeet van haar tone wat koud ge­word het tydens die diens, sy vergeet van die yl son­netjie wat hulle buite die kerk begroet het. Sy kyk in die kleine mensie se ogies en alles raak tjoepstil in haar. Alles, behalwe die smagting wat sy die laaste tyd soms tot haar skok in haar binneste ontdek. Die smagting na so ’n dingetjie van haar eie. Net jammer ’n mens kan nie so maklik enetjie aanskaf sonder die samewerking van ’n mansmens nie. Vir daardie spesie is sy lugtig. In haar voortvarende jeug het sy haar voet veels te dikwels teen dieselfde klip gestamp. Nou is sy mooi groot en sy loop haar pad alleen. Sy vlieg solo en daar is niemand wat haar vlerke met manlike chauvinisme probeer knip nie.

“’n Mens kan amper dink jy het ’n hart as jy só vir die dingetjie kyk.”

Sy kyk verstom op. Derick staan openlik na haar en die babatjie en staar. Vir ’n minuut of twee het sy sowaar van die mans vergeet. “Ek hét ’n hart, dankie, maar ek deel hom net met mense wat dit verdien.”

“So, ’n mens moet jou liefde koop? Ek neem aan jou prys is onmoontlik hoog.”

Hemel, die man ontsenu haar met daardie reguit kyk van hom. Daar moes heelwat in sy lewe gebeur het sedert hy destyds hier ’n spektakel van homself kom maak het. Goeie dinge, want hy lyk en klink nie soos die slagoffer van ’n tragedie nie. Sy onthou nou vaagweg Louis en Marike het iets van terapie gepraat, selfs van rehabilitasie. Sy het nie veel aandag gegee nie, want sy het hom klaar afgeskryf. Nou wonder sy skielik: Skryf sy mense te maklik af? Het sy hierdie man te kras beoordeel? Het sy hom sonder verhoor veroordeel?

Sy ruk haar reg, kyk hom behoorlik in die oë. “Ek skiet nie laag nie, Derick.” Dan draai sy na Marike, wat benoud langs haar staan. Dié is natuurlik te bang om iets te sê, te bang om nog olie op die vuur te gooi. Marike met haar sagte hartjie wat nie kon­flik kan verdra nie. “Kom, moedertjie, jou kind gaan koue vat hier buite. Ek hoop julle het ’n sjerrietjie ook saam met die tee reggesit.” Sy draai haar rug op die mans en begin solank aanstap kerksaal toe. Marike moet maar saamkom as sy weer haar kind wil hê.

“Ek hou van ’n vrou wat haar eie waarde hoog aanslaan,” moet die Derick-man so wragtig die laaste woord inkry voor sy veilig buite hoorafstand kon kom.

Sy sluk haar vinnige antwoord en maak dat sy wegkom.


“Mensig, maar dis mooi.” Derick het in die noorde grootgeword, hy ken nie hierdie nat groen win­ters nie. Die Boland is besig om onder sy vel in te kruip – die geil groen gras en graan, stralend teen die swart geraamtes van eikebome en wingerde, die sagte reën sonder donder en blitse, die damme water wat blink in die vallei.

“Jip, ’n mens raak nooit moeg daarvoor nie. Hierdie plek is een van ons gunstelinge, dié dat ons julle hierheen genooi het vir middagete ná die teedrinkery by die kerk.” Marike beduie na die to­neel langs die grondpaadjie wat inloop na die wyn­plaas. “Kyk net die perde op die groen weiding. En die tarentale, hulle is vir my altyd ’n simbool van aanpasbaarheid. Jy kry hulle oral, hulle laat hulle deur niks en niemand afskrik nie.”

Hy laat sy ruit ’n baie klein bietjie afrol, versigtig om tog nie ’n trek op die baba te laat kom nie. Nie dat hy weet of kinders regtig kan siek word van ’n koue luggie wat oor hulle waai nie. Dis maar wat hy as kind die ou mense hoor sê het as daar ’n baba in die nabyheid was. “Alles lyk so lewendig. In die noorde is die hele wêreld nou vaal en droog, soos julle weet. Of swart gebrand. Dis vir my die ergste, daai seisoenale brande.”

“Wil jy nie maar oorweeg om hierheen te versit nie, Derick?” Louis trek onder ’n kaal akkerboom in, skakel die motor af. “Ons is so ’n lekker klomp vriende hier. Jy sal jou voete gou vind.”

“En boonop maklik nuwe kliënte vir jou hout­werkbesigheid kry, Derick.” Marike vou vir klein Lounie ekstra knussies toe in ’n avokadogroen kombersie. En hier dag hy wat Derick is, dogtertjies word in pienk getooi en seuntjies in blou. Dit wys jou net hoe min weet hy.

“Met jou bestaande kliënte se life coaching kan jy mos aanlyn ook voortgaan,” voeg Louis by na­dat hy Marike gehelp het om klein Lounie stewig teen haar lyf vas te maak. “Ek en Paula kan jou dienste by die kliniek ook adverteer. Daar is altyd mense wat na iemand soek om hulle op die pad vorentoe te help.”

“Ek dink daaroor.” Hy weet nie of hy reg is om te verskuif nie. Hy het maar pas die lewe weer min of meer onder beheer gekry ná die slegte draaie wat dit met hom gegooi het. Dat Lounie destyds met hom uitgemaak het, kon hy eintlik verstaan. Hy was nie ’n betroubare metgesel nie, en die bottel het toe reeds veels te graag met hom gepraat. Toe sy egter so kort daarna in die motorfietsongeluk oorlede is, was dit vir hom net te veel. Nou kan hy sy eie dwaasheid insien, maar toe het dit vir hom gevoel Louis het haar van hom af weggeneem. Hy sal homself seker nooit vergewe vir die bykomende skuldlas wat hy daardeur op Louis gepak het nie. Asof die arme man nie reeds genoeg gehad het om te dra met sy sussie se dood en die ernstige heup­besering wat hy opgedoen het nie.

“As jy nou hier na die kale boom staan en staar?”

Hy skrik op uit sy gedagtes, draai na die vrou wat langs hom verskyn het. Hy het nie eens besef sy het langsaan stilgehou nie. Die heldergroen karretjie laat hom aan ’n appel dink. Haar baadjie is posbus­rooi, net soos die serperige ding waarmee die bos donker hare min of meer uit haar gesig gehou word.

“Jy hoop seker ek staan en wroeg oor al my sondes, of hoe?” Hy kan nie help om op die verde­diging te wees nie. Met Paula Swart sal hy seker nooit ’n gewone, rustige gesprek kan hê nie.

“Ek het vrede met jou en jou sondes.” Tot sy verbasing haak sy haar arm deur syne. “Kom ons gaan knak ’n bottel rooiwyn. Hulle het wraggies nie eens ’n bietjie nagmaalwyn by die teedrinkery in die kerksaal gehad nie.”

“Is jy nou moedswillig, Paula? Is dit ’n toets?”

Sy steek vas, kyk hom in die oë. “’n Toets? Waarvoor? Of iemand my onder die tafel in kan drink?” Haar gesig is op dieselfde vlak as syne, haar oë groot en donker met fyn kraaispoortjies by die hoekies. ’n Beeldskone vrou, maar iemand wat al ’n bietjie geleef het. Soos hy ook.

Dis nog steeds nie vir hom maklik om dit te sê nie. “Ek drink nie, Paula.”

Sy lag en skud haar hare agteroor. Haar mond is so rooi soos haar baadjie. ’n Mond wat maklik lag, maar wat ook bitsig kan wees, soos hy reeds agtergekom het. “Agge nee, moenie vir my sê jy’s een van daai skynheiliges wat dink ons klomp Bolanders is almal alkies net oor ons ’n wyntjie kan geniet nie.”

Dan moet hy dit maar vir haar uitspel. “Ek mag nie drink nie, Paula. Ek is ’n alkoholis.” Dis nog steeds bitter moeilik om nie te sê “Ek wás ’n alko­holis” nie. Want ja, dít het hy op die harde manier geleer: As die duiwel jou een keer beetgehad het, mag jy hom nooit weer ’n kans gee nie. Jy ís en bly vir die res van jou lewe ’n alkoholis.

Sy gaan staan so botstil dat hy haar amper om­trek in sy momentum. “My goeie donner, Derick!” Haar hand met helderrooi naels is oor haar mond, haar oë pieringgroot. “Ek met my groot mond! Louis-hulle het iewers iets van rehab gepraat, maar ek het nie veel notisie geneem nie.”

“Wel, nou weet jy.” Hy trek sy arm uit hare en begin aanstap na die lieflike ou houtdeure van die plaasopstal wat in ’n restaurant omskep is. Dis da­rem nie lekker om so mooi vertel te word hoe onbe­langrik jy eintlik is nie. Nie dat hy vir hierdie befoe­terde, voortvarende vrou belangrik wil wees nie. Dis net die beginsel van die saak.

Sy val weer langs hom in. Sy het ’n paar lang bene, ’n man sal nie sommer vir haar wegloop nie. “Derick, ek is só jammer!”

“Is jy? Of verlekker jy jou in die ontdekking dat die man wat jy so minag ’n alkoholis is? Nou het jy ten minste ’n stok om my mee te slaan, of hoe? Jy hoef nie meer op vae beskuldigings te steun nie.”

“Ouch,” is al wat sy sê, maar so innig dat hy haar amper jammer kry. Maar net ámper.

“Wat beteken daai ‘ouch’? Dat ek reg is?”

“Derick . . .” Hy kan sweer haar oë is effens klam. Dis seker maar die son wat nou nogal skerp agter die wolke uitgekom het.

“O, hier is julle twee!” Olivia pyl op hulle af, stralend in ’n vloeiende pers gewaad. Sy is ’n vrou met ’n rojale lyf wat dit nie probeer wegsteek nie. “Kom, kom, ons wil al ons drinkgoedjies bestel. Derick, vandag join ons jou almal eers met ’n hot chocolate, hoor? Die sonnetjie loer uit, maar die windjie bly skraal.”

Dankie tog, sy het onthou. “Dit klink vir my per­fek, Livvie, maar ek dink Paula wil sommer dadelik met die rooi begin.” Hy is nou ’n bietjie gemeen, maar hy kan nie die versoeking weerstaan nie.

Olivia lag dat jy net spierwitte tande sien. “Paulatjie, wou jy die man sowaar aan die drink sit? Hoe lank is jy nou droog, Derick?” Sy vra dit doodnatuurlik, asof sy vra wanneer hy laas geëet het. Dis hoe hy dit verkies. Hy haat dit as mense saggies om hom trap, die woord “drank” vermy en almal sit en borrelwater drink om hom kastig te ondersteun, terwyl hy weet hulle smag na hulle wyn of brannas en Coke.

“Tien maande en drie en twintig dae, Livvie.”

“Jis, gaan jy afkom Boland toe dat ons dit op ’n jaar kan vier?” Olivia trippel van plesier. Sy is altyd aan die soek na iets om te vier. As sy nie iets kry nie, máák sy ’n geleentheid.

“Ons sal sien, Livvie.” Hy vat dit nog dag vir dag, dis vir hom moeilik om selfs net tot by ’n jaar te dink.

“Is reg. Kom, kom sit hier by my en Shaun.”

Toe hy gaan sit, besef hy eers Paula is aan die oorkant van die tafel aan die organiseer om tog net nie regoor hom te sit nie. Dis goed so, die ge­voel is wederkerig. Hulle twee moet liewer uit me­kaar se pad bly.