Skip to main content

Uittreksel | Uit die donker

Een

’n Storm daar buite – Madelein

Madelein kyk hoe Ian vir Liam buite help om bollemakiesie te slaan. Haar seuntjie sit weer sy kop op die grond en rol oor, nou sonder Ian se hulp. Weer en weer. Hy spring op, gooi sy arms in die lug soos ’n triomfantlike gimnas. Nou druk Liam sy hand deur ’n spleet in die kantseil van die onderdak speelarea en vang reëndruppels op wat hy soos ’n hondjie uit sy hand lek.

“Jy en jou man het ’n pragtige ou dogtertjie,” breek ’n stem deur haar gedagtes. Dis ’n ouer dame wat langs Madelein by die tafel vassteek op pad uit. “Hoe oud is sy?”

Sy kyk vlugtig na die gryskopdame maar haar oë dwaal weer na haar kind en die man wat sy liefhet.

“Dis ’n seuntjie. Liam,” help sy die vrou reg. “Hy word die einde van die maand vier. Maar sy pa is nie my man nie. Hy is met ’n ander vrou getroud.”

Haar eie woorde vang haar ontkant, maar in plaas van verleentheid, in plaas van jammerte, is dit verligting wat deur haar spoel. Asof die wolk wat van Liam se geboorte af om haar hang, gelig het. Daar. Dis uit. Sy het die waarheid gepraat. En die waarheid maak vry. Die omvang van haar en Ian se dwaling is ineens draaglik.

’n Kelnerin laat val messegoed. Die gryskopvrou se man neem haar arm en stuur haar vinnig by die restaurant uit.

Hoeveel mense het haar gehoor? Sy het nie hard gepraat nie, het sy? Dis vreemd stil. Madelein kyk om haar rond. Niemand maak oogkontak nie, almal eet net verder.

Soveel misverstand. Mense sien Liam dikwels vir ’n dogtertjie aan omdat sy krulhare op sy skouers hang. Dat seuntjies kort hare moet hê, is iets wat die samelewing dikteer. Die samelewing wat maar altyd ’n kassie soek om mense in te sorteer. Soms dink mense sy is Liam se ouma. Die strepies grys in haar donker hare, die lyne op haar gesig vertel van ’n lewe wat sy al amper ’n halfeeu leef. Die drie van hulle gaan byna nooit saam uit nie, maar die kere wat hulle dit waag, aanvaar almal dat Ian en Madelein en Liam saam hoort.

Sy neem ’n slukkie wyn. Sy is moeg reggehelp. Aan haar ouderdom kan sy niks doen nie. Sy is ’n middeljarige ma met ’n kleuter. Liam se hare gaan sy sny wanneer hy reg is daarvoor. Die een keer wat sy hom na ’n haarkapper toe geneem het, was hy hartgebroke toe hy sy donker krulle op die vloer sien val. “Sit my hare terug,” het hy gehuil, sy skouers rukkend soos hy snik. Die arme haarkapper was later self na aan trane. Madelein ook. Sy het die saak beredder. Die haarkapper het net alles gelyk gesny en sy en Liam het gaan roomys eet.

Dit was een van die baie dinge wat Madelein geleer het van mawees. Een van die openbarings oor haarself: dat omkopery nie benede haar is nie. Toe Ian Liam daarna eendag weer vir roomys wou neem, was hy wantrouig. Moet hy eers sy hare sny, wou hy by sy pa weet. Want dán wou hy nie roomys hê nie. Hulle sal nie weer sy hare laat sny as hy nie wil nie, het hulle hom belowe.

“Al hang dit op die vloer?” wou hy weet.
“Al hang dit op die vloer,” het hulle hom verseker.

Madelein was nie spyt oor die belofte nie. Wat maak dit tog saak? Daar is soveel dinge waaroor ’n kind nie beheer het nie, waaroor hulle magteloos moet voel. Iemand besluit wanneer hulle moet slaap, wat hulle moet eet. Liam moet soggens speelgroepie toe gaan omdat sy moet werk. Hy sien sy pa net vir ’n paar uur elke dag. Oor hoe hy lyk, was sy en Ian dit eens, kan hy self besluit. Solank sy klere skoon en heel is, solank hy skoon is en so heel as wat ’n aktiewe kleuter kan wees.

Liam hang nou aan sy arms aan die klimraam. Ian hou sy bene liggies vas. Sy rooi hempie het opgeskuif en Madelein sien vir die eerste keer hoe hol sy maag geword het. Sy bene en arms lyk ook dunner. Haar seuntjie het sy babavet verloor. Hy het voor haar oë van ’n plomp peuter in ’n skraal kleuter verander. Sy rooi wangetjies is egter nog rond, en in sy gesig kan sy nog haar baba herken. Met heimwee dink sy aan hoe hy soos ’n seester in sy bababed geslaap het, sy mollige arms en bene onbevange, wyd uitgestrek. Hy hang nou onderstebo, sy donker hare ’n gordyn. ’n Oorweldigende begeerte om hom teen haar vas te druk neem van haar besit. Kinders is so vlietend klein, besef sy elke dag. Sy waai vir hom, wink hom nader.

Hy reik rats weer met sy arms na die dwarsbalk, en los dit dan sommer net, vol vertroue dat sy pa hom sal vang. Ian stel hom nie teleur nie. Hy soen hom voordat hy hom op die kunsgras neersit. Ian se kort, ligte hare is in kontras met Liam se donker krulle. Pa en seun. Ian is ’n liefdevolle pa.

Om haar het mense weer begin praat, haar bekentenis vergete, nie gehoor nie, of doodgewoon aanvaar. Sal dié wat gehoor het dit dalk later oorvertel? Ernstig, kopskuddend, afkeurend, oë wyd gerek?

Dit maak nie saak nie. Dit maak nie meer saak nie. Selfs as iemand haar herken het, maak dit nie saak nie. Haar geheim begin reeds krag verloor, verskrompel in die lig.

Liam wip langs haar op die bank, druk haar entoesiasties, soen haar op elke wang en op haar voorkop asof hy haar dae laas gesien het. Ian kom sit oorkant hulle. Ma, pa, seuntjie. Hoekom is die prentjie nooit vir haar verkeerd nie? Hoekom kom haar hart en haar gewete nie hieroor ooreen nie?

Toe die kelnerin sy kos voor hom neersit, stop Liam ’n handvol tjips in sy mond. Hy eet soos ’n stofsuier. Sy maan hom om mooi te kou, maar hy is te honger, te haastig om verder te gaan speel. Hy het ’n potensiële maatjie gewaar en draf weg. Hy kan soms vir ure aaneen sit en inkleur, boeke deurkyk of met sy dinosourusse en plaasdiertjies in die sand speel, maar as hy beweeg, het hy nie ’n stadige rat nie.

Ian maak haar glas vol. “Madelein?”
“H’m?”
“Ek vra, is jou steak nie te gaar nie? Dis nie so pienk as wat jy daarvan hou nie.” Hy glimlag skeef. “Jy is op ’n ander planeet. Waaraan dink jy?”

Hulle lewens stuur op ’n ramp af. Sy weet sy gaan sy lewe verwoes, en moontlik hare ook. Sy vrou s’n, sy ander kinders s’n. Sy dink daaraan dat sy ’n rooi letter op haar bors gaan dra as Ian sy huwelik vir haar opgee. ’n Groot etiket wat haar merk as ’n vrou wat ’n ander vrou se huwelik opbreek.

Dis nie nodig dat Ian nou op hierdie oomblik hoef te weet dat sy nie veel langer so wil leef nie. Binnekort, maar nie nou nie. Vandag is sy wêreld nog gekompartementeer. Hy het twee lewens, twee gesinne. Maar so kan dit nie aangaan nie. Miskien sal sy hom later sê, by die huis. Miskien sal sy dan die mat onder hom uitruk. Hom dwing om te kies. Wil hy by haar en Liam wees, of by sy ander gesin, by sy wettige vrou?

“Die steak is heerlik. Die tjips ook, lekker bros aan die buitekant en sag aan die binnekant.” Sy glimlag vir hom en neem ’n behaaglike sluk van haar wyn. “En die wyn is lekker koud.” Hierdie oomblik is hare. Sy sal elke druppel plesier indrink.

Liam kom weer aangehardloop en drink dorstig sy koeldrankglas leeg. Hy vat van haar tjips, en van sy pa s’n, al is daar nog kos in sy bord. ’n Seuntjie vol selfvertroue, een wat nog nie die woord buite-egtelik gehoor het nie. Miskien sou dit anders wees op die platteland, maar hier in die stad het hulle anonimiteit, bevraagteken niemand sy bestaansreg nie. Sy speelgroepie is klein en intiem, maar niemand vra vrae nie. In almal se oë is hy net nog ’n seuntjie met ’n ma en ’n pa. Hoe gaan sy pa se keuse hom raak?

Sy sal Ian nooit van hom weghou nie, maar as hy sy ander gesin kies, sal hy waarskynlik veel minder tyd saam met Liam kan deurbring.

“My maatjie-hulle gaan nou ry,” verduidelik hy sy teenwoordigheid. “Maar kan ek nog speel? Pappa hoef nie na my te kyk nie. Ek sal versigtig wees. Julle kan net hier sit en drink.”

Ian lag. En as Ian lag, is dit asof die son deur die wolke breek. Of soos reën op ’n dorre aarde. “Nou maar reg so. Eet net gou jou burger klaar.”

Liam vat ’n paar haastige happe, vee sy mond af en smyt die servet in sy bord voordat hy weer verdwyn.
“Wil jy net sit en drink, of wil jy poeding hê?” Daar is lag in sy oë, in sy stem. Ian is ’n maklike man om lief te hê.

“Nee, ek sal net drink. Ek is versadig,” antwoord sy glimlaggend.
Hy maak die bottel in haar glas leeg. “Ek sal oorslaan na koffie.”
Haar kop voel heerlik lig toe hulle uitstap. Sy het meer as die helfte van die bottel wyn gedrink, en sy is nie gewoond daaraan nie.

Uitstappies soos hierdie is raar. Buiten dat sy seker is Ian is tog maar bang iemand herken hom, al is hulle ver van die woonbuurt waar hy en sy gesin woon, is daar gewoon net nie genoeg ure in die dag vir hom om genoeg tyd saam met al twee sy gesinne deur te bring nie. Hoe hy wegkom met sy daaglikse kuiertjies by hulle, weet sy nie. Sy vra nie uit oor sy ander lewe nie. Sy is maar net dankbaar vir elke minuut wat hy vir haar en Liam afknyp.

Liam klou soos ’n apie aan sy pa se rug toe hulle uitloop. Ian vat haar hand. ’n Karwag kom aangedraf, hou ’n groot sambreel oor hulle. Vandag is hierdie prentjie nog hulle normaal. Vandag is hulle nog ’n gesin.

In Ian se kar sit sy terug terwyl hy Liam in die karstoeltjie vasgespe. Vandag voel sy nog nie soos ’n enkelma nie. Vandag voel sy net soos ’n vrou wie se lewensmaat baie besig is, maar wat nietemin elke oomblik vir hulle afknyp.

Die son breek helder deur die wolke. “’n Reënboog!” roep Liam van agter af. Hy beduie in die verte. “Wimpie se groot boetie sê ’n reënboog is nie magic nie, dis net ’n ligstraal wat in die druppels breek, en dan word dit al die kleure. Rooi, oranje, geel, groen, blou, ind, in. . .” Hy kyk fronsend na sy ma.

“Indigo,” help Madelein.
“Watter kleur is dit? Ek weet dit nie. Het ek so ’n kryt?”
“Dis ’n soort blou. Ek dink jy het so een in daardie groot pak wat Ouma vir jou gekoop het. Ons sal by die huis kyk.”

“O. Ek wil liewer hê ’n reënboog moet magic wees. Ouma sê daar is ’n pot goud aan die punt van die reënboog. Ry vinnig, Pappa, dan ry ons tot by die pot goud.”

Ian versnel en Liam lag.
“En wat gaan jy met die goud maak as ons daar kom?” wil Ian weet.
“Um, ek wil baie goed daarvan laat maak. ’n Kroon vir my, dan kan ek ’n regte koning wees. Of is ek te klein?”

“Daar was jare terug baie kinders wat al konings was. Dan is daar ’n spesiale persoon wat hulle help. Dit gebeur nie eintlik meer nie. En ’n mens moet in ’n koninklike familie gebore wees. Dis ’n groot werk om ’n koning te wees. Jy moet baie regverdig wees en almal gelukkig hou. Daar is baie goed wat jy móét doen en nie mág doen nie.”

“Soos koning Rosekrans in Blommeland. Hy het al die kabouters en dan sukkel hy nog met Liewe Heksie ook. En die gifappeltjies. Nee, dan sal ek liewer net speel ek is ’n koning. Ek wil nie werk nie.”
“Uit die mond van die suigeling,” knipoog Ian vir Madelein in die spieëltjie.

“En ek sal vir Mamma ’n ring maak,” brei hy uit.
“O, dis gaaf. Watse ring gaan jy vir my maak?” Madelein draai half om.

“’n Ring met ’n diamant en ’n trouring,” antwoord hy onmiddellik. “Dan kan Mamma en Pappa trou.”

Eensklaps trek die wolke weer toe en dit begin reën. Die ruitveërs vee heen en weer, ritmies. Heen en weer, heen en weer. “Dis weg, Mamma, die reënboog. Mamma moet maar wag vir die goud.”

Ian kyk onderlangs na haar toe hulle by die verkeerslig tot stilstand kom. Sy draai haar kop weg, kyk na die waterdruppels wat op die warm teer plof. ’n Traan ontsnap uit die hoek van haar oog, loop af in haar hare, in haar nek af. Sy ignoreer dit. Ontkenning. Dis wat sy die beste doen.


“Het jy tyd vir roomys?” vra sy huiwerig vir Ian toe sy die deur oopsluit. Sy wil hom nog ’n bietjie by haar hê. Sy wil.

Hy kyk op sy horlosie. “Dis nog vroeg. Skep jy solank terwyl ek die stoeltjie terugsit in jou kar.”

Sy skep Liam s’n in ’n horinkie. “Kan ek op die stoep sit?” wil Liam weet. “Ek wil met my voete in die stroompie sit.”
Sy knik instemmend. “Maar net jou voete. Ek wil nie hê jy moet sopnat reën nie.”

“Oukei, net my voete. Anders woes ek weer heelnag.”
“Ja, anders hoes jy weer,” knik sy.

Sy maak die skuifdeur vir hom oop, sluit die veiligheidshek oop en kyk hoe Liam sy sit kry, voete in die water wat oor die spoelklippies langs die stoep loop.

Moet sy nou vir Ian sê sy is klaar met die geheimhouding? Vroeër die jaar, toe hulle verhouding van prakties na intiem verander het, het hy haar gevra of sy hom tyd sal gee voordat hy sy gesin van haar en Liam vertel. Maar hoeveel tyd is billik? Sy weet sy jongste dogter is dié jaar in matriek, en hy wou haar nie ontwrig nie. Sy het begrip daarvoor. Maar die eksamen is verby. Het hy dalk bedenkinge?

Aan die een kant wil sy die geborgenheid nog uitrek, voel sy sy kan vir die res van haar lewe die ander vrou wees. Sy is nie aandagbehoewend nie, sy kan met afknyptyd saamleef. En voordat Ian op haar pad gekom het, was sy heel tevrede op haar eie. Dat hy deel van haar lewe is, is ’n bonus. Sy kan egter nie meer die verlatenheid ontken wat sy voel elke keer as hy huis toe gaan nie. Sy is besig om té vas aan hom te groei. Sy moet haarself van hom af losmaak voordat sy te verstrengel is, voordat daar niks van haar eie identiteit oorbly nie.

En Liam. Tot nou toe het hy nog nie die situasie bevraagteken nie. Daar is genoeg kinders in sy speelgroepie wie se ouers nie bymekaar is nie. Eintlik, as sy nou daaraan dink, bly min van die kinders by hul biologiese pa én ma. Saamgestelde gesinne is algemeen. Liam het al gevra of sy pa by die werk bly en in die nag daar slaap, en Madelein het na ’n antwoord gesoek, die regte antwoord. Gelukkig het Mollie van buite af ingekom met ’n voël wat sy gevang het, en Liam se nuuskierigheid het verdwyn in die opwinding om die geveerde te red.

Nou weet sy hy kom meer agter as wat sy gedink het. Dat hy bewus is daarvan dat sy ma en pa nie getroud is nie. Vroeër of later sal hy alles moet weet. Hoe gaan sy verduidelik? Hoe gaan ’n seuntjie van vier verstaan dat sy pa ’n ander gesin ook het? Dat die ander kinders meer geregtig op sy tyd is as hy?

“Die stoeltjie is in,” breek Ian deur haar gedagtes. “Ek sien jou een band het ’n bietjie lug nodig; onthou om by die vulstasie langs te ry. Of ek kan dit vir jou . . .”

Sy swaai om. “Nee, Ian. Ek kan na myself kyk.” Haar stem is skerp.
Ian lyk gekrenk, verward. Sy is nie ’n opvlieënde mens nie. Natuurlik haak hulle soms en stem hulle nie altyd saam nie. Maar hulle ruim hulle enkele meningsverskille op ’n volwasse manier uit die weg, is albei gewillig om die ander een se standpunt te respekteer.

Miskien is dit omdat hulle mekaar verstaan. Of miskien is dit een van die min voordele wat hulle ongeoorloofde verhouding inhou: dat hulle mekaar min genoeg sien om altyd gaaf te wees met mekaar. Om nie tyd te mors met onbenullighede nie.

“Ek sal môreoggend by die garage stop. Ek dink ek moet in elk geval brandstof ingooi,” sê sy sagter en gee vir hom sy roomys aan. “Kom ons gaan eet ook buite.”

Liam sit nou op die swaai met Mollie aan die spin op sy skoot. Die groot grys kat hang weerskante oor sy beentjies. Hy beduie na die lug. “Dit reën nie meer nie. My boude is nou net ’n bietjie nat van die swaai. Kyk,” sê hy en streel ingenome oor die kat. “Mollie hou van swaai.” Hy swaai versigtig heen en weer. “Skoppelmaai, skoppelmaai, ek ry op my skoppelmaai,” sing hy die liedjie wat hy by sy ouma geleer het. “Tata Mamma, tata Pappa, ek ry op my skoppelmaai.” Hy kom tot stilstand, sy voete in die modder onder die swaai. “Hierdie is eintlik nie ’n skoppelmaai nie, dis ’n swaai.”

“Wat is die verskil?” wil sy pa weet.
Druppels uit die boom val op Mollie. Sy spring af en draf ergerlik stoep toe waar sy gaan sit en haar was. Liam spring ook van die swaai af en skud die druppels uit sy hare. Hy draf na hulle toe. “Die een by ouma is ’n skoppelmaai. Dis van ’n tyre gemaak. Oupa het dit vir my gemaak toe ek nog ’n baba was. Dis ’n bakkie waarin ’n kind lekker pas. Hierdie een is ’n swaai. Ons het by die skool ook swaaie.

Grootmense kan ook op swaaie pas.”
“En nie in skoppelmaaie nie?” Ian leun vorentoe, sy elmboë op sy knieë, al sy aandag by sy seuntjie.

“Nee. Miskien kan party. Soos Ouma. Sy is klein. Sy sê sy groei agteruit. Sy word kleiner en ek word groter. Maar jy sal nie inpas nie, Pappa, jy is te groot. En Mamma is te rond.”

“Mamma lyk nie vir my rond nie. Sy lyk vir my net reg.”
“Ek bedoel nie heel rond nie. So,” beduie hy met sy arms. “Mamma is twee sirkels op mekaar. Haar boobs is rond, haar lyf is dunner en haar boude is weer rond. Dis die boude wat nie sal pas nie.”

“Uit die mond van die suigeling, inderdaad,” lag Madelein. Sy was nog nooit maer nie en het lankal vrede gemaak met haar rondheid.
Liam kom staan styf teen haar. “Ek is bly Mamma is rond. Mamma is sag.” Hy vat met ’n taai roomyshand aan haar wang, streel oor haar skouer, druk saggies aan haar boarm en vryf dan sy neus teen hare, ’n Eskimo-soen.

“Ek stem saam,” glimlag Ian en slaan sy arm om haar skouers.
Liam takseer hom vir ’n oomblik. “Staan ’n bietjie op, Pappa,” beveel hy.

Ian gehoorsaam.
“Pappa is ’n reghoek. Nee. Pappa is ’n driehoek. ’n Lange.” Hy beduie oordrewe. “Pappa se skouers is so groot, en Pappa se bene is lank en dun. Dis net die voete,” en hy skud sy kop fronsend. “Driehoeke het nie lang voete nie. Ek gaan vir Mollie soek, sy moet nog kom swaai,” kondig hy aan, tevrede dat hy hulle vorms vasgestel het.

“Spoel eers jou voete in die water by die geut af en gaan trek ’n droë broek aan,” roep Madelein agterna.
“Ek wou hom nog vra watter vorm hy is,” lag Ian.
“Hy is ’n reghoek, ’n dun reghoek.”

“Ja, hy het opgeskiet. Kyk hoe kort is daardie hempie. Jy moet sê . . .”

“Dis oukei, Ian. Ek sal vir hom groter klere gaan koop. Ek verdien ook geld. Jy betaal reeds sy skoolgeld en hou ons kaste vol kos.”
“Hy is my seuntjie ook. Dis die minste wat ek kan doen. Wat is fout, Madelein? Jy is so . . .”

Sy wik ’n oomblik. Sal sy uitkom daarmee dat sy nie meer so kan leef nie? Dat sy nie meer tevrede is met die krummels wat van ’n ander vrou se tafel af val nie? Of sal sy vir oulaas sy teenwoordigheid koester? “Jammer, ek is net moeg. Ek het gisteraand laat gewerk.” Dis nie ’n leuen nie. Sy het tot ná middernag gewerk en was douvoordag al weer saam met Liam op.

“Op ’n Saterdagaand?”
Ja, op ’n Saterdagaand, wil sy hom toesnou. Ek is alleen op ’n Saterdagaand as Liam gaan slaap. Ek het niemand teen wie ek my voor die TV kan aanvly of om saam met my musiek te luister nie.
Sy sluk haar woorde terug. “Die proefskrif wat ek edit, moes voor Maandag klaar, en dis ook maar goed ek het dit gisternag klaargemaak, anders kon ek nie vandag saam met jou en Liam gaan eet het nie.” Sy sit sy poedingbakkie in hare. “Ek dink Liam het uitgepass. Hy stry teen middagslapies, maar raak gewoonlik tog aan die slaap as hy ’n oomblik stilsit.”

Ian volg haar die huis in, trek die veiligheidshek agter hom toe. “Jy is reg,” beduie hy na hulle kind wat met die kat in sy arms op die bank lê. Saggies gooi hy die gehekelde kombersie wat oor die armleuning hang, oor die slapende figuurtjie.

“Ek dink ek moet sy voorbeeld volg,” sê sy terwyl sy die poedingbakkies in die skottelgoedwasser pak.
“Kom ons neem ons kans waar. Ek het ook ’n behoefte daaraan om ’n uiltjie te knip,” stel Ian voor.

Sy weet sy moet hom eintlik sitmaak en ’n ultimatum stel, maar sy het nie die hart nie. Nog nie; nie nou nie. Woordeloos lei sy hom kamer toe om miskien vir oulaas in sy arm te rus, haar kop teen sy breë bors. Later sal sy die handgranaat se pennetjie uitruk. Later, later.

“Hoe lank kan jy bly?” vra sy vir die eerste keer in hulle lewe saam. Sy vra nooit nie, altyd bewus daarvan dat hy vir haar en Liam tyd steel. Altyd bewus daarvan dat hy nie hare is nie. Sy gryp elke geleentheid om by hom te wees net met albei hande aan. Maar vandag het sy om een of ander rede nodig om te weet hoe lank.
Hy streel oor haar boarm, soen haar in haar hare. “Solank as wat jy wil. Henriette . . .”

Sy sit haar vinger op sy mond. “Sjjj,” fluister sy. “Kom ons rus voordat Liam wakker word.” Sy trek die sagte kombers wat oor die voetenent lê op en hy vou dit knus om hulle, ’n kokon van veiligheid teen die storm daar buite.