Uittreksel | Tweede kans vir liefde
Een
Pyn skiet deur Karla se been en laat haar vervaard terugspring. So gefassineerd was sy deur die man wat sy tas verby haar gesleep het, dat sy wragtig in iemand se bagasietrollie vasgeloop en haar maermerrie hard gestamp het.
Die ouerige man wat die trollie stoot, kyk besorg na haar. “Het jy seergekry, dame?”
“Ag, nie te erg nie.” Nogtans vryf sy haar skeen, eintlik is dit baie seer en sy voorsien ’n yslike blou kneusplek; dalk selfs nog bloed ook.
Vinnig trek sy haar denim se broekspyp op. Dit bloei darem nie, maar sy sien reeds die swelsel op haar skeen. Liggies vryf sy daaroor. Die pyn moet maar net vanself minder word, sy het nie nou salf om aan te smeer nie. Sy kners op haar tande. Om te dink dat sy, ’n geskeide vrou en ma van in die veertig, nou wragtig só erg uitgeboul word deur ’n aantreklike man dat sy nie kyk waar sy loop nie.
Besonders is hy beslis. Sy dink sy het nog nooit voorheen iemand so selfversekerd manlik gesien nie. Lank en breedgeskouer met ’n sterk gesig, blinkswart hare wat hier en daar grys wys, en snor- en baardskaduwee oor ’n sterk kaak. Skynbaar haastig. Hy het vinnig geloop op lang bene, maar die donker oë onder swart wenkbroue het sowaar ’n oomblik lank geamuseerd na haar gekyk toe sy so onnoselrig in die trollie vasloop. En weg is hy, tussen die skare deur.
Hoe eienaardig dat ’n mens iemand sien wat jou oombliklik so hard tref dat jy wens hy kon in jou lewe vertoef, al weet jy hy’s ’n algehele vreemdeling wat buite jou sfeer leef. Iemand wat jy waarskynlik nooit weer sal raakloop nie.
By Qatar Airways se toonbank gaan staan sy in die tou om haar tas in te boek. Oor sowat ’n uur moet sy aan boord gaan. Dankie tog sy is uiteindelik reg om te vlieg. Die gewag vir die Ciprus-visum het amper alles vertraag, maar dit het darem twee dae gelede opgedaag. Sy is gestres, moeg, uitgebrand van te hard werk om van haar ellendes te probeer vergeet. Al wat sy nou wil doen, is om in pragtige Ciprus te gaan rus en haar dogter Estie na wie sy die afgelope jaar erg verlang het, te sien.
Die gapjaar wat Estie geneem het om haar tyd te gee om finaal te besluit of sy ook regte wil gaan studeer, het oneindig lank gevoel. Karla is op pad na Kyperounta, ’n dorp in die Troodosberge, waar Estie au pair vir ’n gesin met twee kinders. Die ma, Tia, is Afrikaanssprekend en getroud met ’n Cipriese sakeman, Yiannis Demetriou. Sy het geadverteer vir ’n Suid-Afrikaanse au pair om te help met agtjarige Katerina en tienjarige Stavros. Estie het die geleentheid aangegryp en is besonder gelukkig by hulle. Dankie tog dat Estie by sulke gawe mense beland het, dink Karla heeltyd. Dit kon anders gewees het. Sy het al horrorstories gehoor van au pairs wat vreeslike bloutjies geloop het.
Die Demetriou’s het haar dan selfs genooi om vir haar dogter te kom kuier . . . Iets wat sekerlik nie aldag met ander au pairs se ouers gebeur nie. Boonop het sy nou die geleentheid om Ciprus te deurreis.
Karla boek haar tas in en gaan met haar handbagasie deur sekuriteit na die ander kant. Daar is ’n boekwinkel waar sy ’n mooi boek vir die vlug kan koop. Daarna wil sy solank by die hek gaan wag waar hulle moet rapporteer om aan boord te gaan. Sy kan nie wag om op die vliegtuig te kom en uiteindelik te ontspan nie.
In die boekwinkel kyk sy na die misdaadromans en kies Dibi Breytenbach se boek Buit. Dit lyk spannend en aksiebelaai en sal haar aandag lekker in beslag neem.
Sy’s nog besig om die agterblad te bestudeer, toe sy bewus raak van ’n lang man naby haar. Met volle konsentrasie kyk hy na ’n rak. Haar hart spring soos ’n vlakhaas in haar bors. Dis wraggies die viriele vreemdeling wat haar in die trollie laat vasloop het!
Sy wil nie openlik na hom staar nie. Hy sal dit agterkom, dan skaam sy haar dood. Daarom beweeg sy weg en loer diskreet na hom. Hy het donker hare en ’n soel vel, en sy blou hemp en denim sit netjies aan ’n lenige figuur. Daardie agterstewe is net reg gerond. Sy let ook op dat sy nie die enigste vrou is wat twee keer na hom kyk nie. Hy lyk egter salig onbewus van die aandag wat hy trek.
Hou jou tog in, Karla, raas sy met haarself. Sy raak nou regtig die kluts kwyt. Sy kan nie onthou dat sy al ooit ’n vreemde man só beloer het nie.
Vies vir haarself stap sy na die toonbank, betaal vir die boek, en koers na die hek waar sy op ’n oop stoel neersak, deur die boek blaai en dan begin lees. Spoedig is sy so verdiep in die verhaal dat sy ’n ruk lank nie opkyk nie.
Uiteindelik hoor sy die aankondiging dat die passasiers kan aanmeld om deur te gaan. Gretig sit sy die boek in haar sak en beweeg na waar die mense ’n tou vorm.
En daar sien sy hom weer! Hy gaan sowaar dieselfde vlug neem. Hy gaan óf na Qatar, dalk is hy ’n aantreklike Arabier, óf hy gaan na Ciprus, en dan’s hy besmoontlik ’n aantreklike Ciprioot. Hy kan Italiaans óf Grieks, óf Spaans, of wat ook al wees. So opvallend tall, dark and handsome, ’n mens kan hom nie miskyk nie.
Hy is voor in die tou en sy agter. Gelukkig is die tou lank. Sy wil nie heeltyd na hom staar nie, maar nou en dan loer sy tog verby die gesinne en enkelinge met hul handbagasie en die geduldige houdings van mense wat lank wag om iewers uit te kom. Hy staan met ’n uitdrukkinglose gesig voor hom en uitstaar. Sjoe, maar die man is stunning. Wat sou hy vir ’n lewe doen? Dalk is hy ’n model vir Hugo Boss of so iets. Meteens weet sy aan wie hy haar laat dink – die akteur Henry Cavill. Nie meer so jonk nie, maar in awesome shape, soos Estie sou sê. Sy skat hom in sy veertigs.
Wag daar ’n gelukkige vrou vir hom? ’n Gesin? Sy sug. Só ’n man sal tog nie enkellopend deur die lewe gaan nie. Daarvoor is hy gans en al te sexy.
Sy kry lag vir haarself. Sy’t gedink sy is uitgebrand, maar skynbaar nie heeltemal so uitgebrand soos sy reken nie. There’s life in the old girl yet, spot sy met haarself. Sedert sy van Estie se pa geskei is, was daar nog nie eintlik ’n man in haar lewe nie, maar duidelik is sy nog nie oor die muur nie. In die veertigs is darem nog nie oud nie. Eintlik is dit ’n goeie ouderdom. Teen dié tyd het ’n mens al ’n paar nodige lewenslesse geleer en die neuroses van die jeug deurgewerk en hopelik afgeskud.
Karla dink met wrewel aan haar eksman. In sy middeljare het Pierre Malan hom beslis nie te oud geag om sy vrou te los vir sy sekretaresse nie. Bimbo Candice, skaars twintig en net een jaar ouer as sy dogter. Watter skok was dit nie vir Estie nie. Karla vermoed sy het die gapjaar geneem, nie soseer uit besluiteloosheid oor haar studies nie, maar ook om weg te kom van die onverkwiklike toedrag van sake by die huis. Al het haar ma haar pa nou al soort van vergewe, kry Estie dit nog nie reg om hom te vergewe nie.
Met ’n tikkie bitterheid wonder Karla hoe lank dit Pierre sou geneem het om ’n suksesvolle advokaat te word sonder haar ondersteuning en hulp. Toe hy tot die balie toegelaat is, was sy in die gelukkige posisie dat sy by haar pa se praktyk aangesluit het nadat sy as prokureur gekwalifiseer het. Sy het kliënte na Pierre verwys, en opdragte aan hom gegee; hy moes kliënte adviseer, en hulle het gereeld sy aan sy opgetree in hofsake.
Net toe hy goed gevestig is en lekker geld maak, los hy haar en hulle dogter vir die oorywerige sekretaressetjie. Praat van ondankbaarheid. Genadeloosheid. Sy’s maar net een van die vele vroue wat plek moes maak vir ’n jonger model.
“Ek het jou nog lief, Karla, maar Candice het onder my vel ingekruip en ek kan nie sonder haar leef nie,” het hy probeer om sy verraad te regverdig. Sy was daardie tyd nog steeds lief vir hom, maar hy het haar só erg gekwets dat die liefde gekwyn en uiteindelik gesterf het.
Ag, sy moenie nou weer swelg in daardie ou seerkry en verraad nie. Dis nodig om vorentoe te kyk en ander mooi mans raak te sien. Die een of ander tyd sal ’n goeie een weer in haar belangstel. Sy weet sy’s allesbehalwe onaantreklik, en voor Pierre het sy geen tekort aan bewonderaars gehad nie. Sy versorg haarself en sy’t nog dieselfde figuur as in haar eerste jaar op universiteit. Haar hare is nog dik en blond en haar blou oë is opvallend genoeg om nie te veel grimering te verg nie.
“Ma lyk nog goed,” het Estie laas vir haar gesê, en sy is altyd hiperkrities. Ja-nee, kyk, as ouer vrou is sy moeg geswoeg en beslis gereed vir ’n bietjie avontuur. Iets om oor opgewonde te raak en na uit te sien.
Uiteindelik kry Karla haar sitplek, pak haar handbagasie in die bagasierak, en skuif deur na die sitplek langs die venster. Dis lekker om na buite te kyk wanneer die vliegtuig opstyg en die landskap onder hulle wegsak.
’n Engelssprekende man en vrou kom sit langs haar. Sy glimlag vir hulle, maar haal haar boek uit. Vir klets met vreemdelinge is sy nie lus nie. Boonop pyn haar been wat sy gestamp het toe sy haar oë nie van ’n sexy man kon afhou nie. Sy vryf liggies oor die kneusplek.
Uiteindelik styg die vliegtuig op en die passasiers kan hul veiligheidsgordels losmaak. Kort ná die lugwaardin haar praatjie oor veiligheid gelewer het, is daar ’n aankondiging dat drank en verversings binnekort bedien sal word. Karla probeer kyk of sy die mooi man iewers kan gewaar, maar nee, helaas nie.
Nadat almal iets te ete gehad het, en die trollies weg is uit die gange, wip haar hart behoorlik toe ’n lang man verbykom. Dis hy! Sy hou hom dop. Sien hoe die twee waardinne vir hom kyk, lag, en koketterig met hom praat. Hy verdwyn by ’n deur in en sy wag dat hy weer verskyn.
Stadig kom hy in die gang af. Lyk asof hy rondkyk, iemand soek. Sy hou asem op.
Toe hy by haar ry verbyloop, vang hy haar oog. Hy glimlag sowaar vir haar, maar hy loop onverstoord verder. Sy kan skaars glo wat pas gebeur het. Dis soos om ’n geskenk te kry. Hy het haar raakgesien, én herken. Daar is ’n onmiskenbare fladdering in haar maag. Wat op aarde gaan aan met haar? Sekerlik kan sy op dié stadium van haar lewe na ’n mooi man kyk sonder om soos ’n bakvissie te reageer.
Wat is so anders aan dié vreemdeling?
Hulle land by Doha Internasionale Lughawe om ’n aansluitingsvlug na Ciprus te haal. Karla volg die tou passasiers op haar vlug. Die lughawe is geweldig groot en besig. Sy kyk of sy die aantreklike vreemdeling kan sien, maar gewaar hom nêrens nie.
Hy klim seker hier af. Soos ’n skip in die nag het hy by haar verbygevaar en sy ligte gewys. Nou raak hy weer weg. Sy kan nie verhelp om teleurgesteld te wees nie.
Daar is ’n uur om na die belastingvrye winkels te gaan kyk. Sy wil geskenke koop vir Estie en die Demetriou-gesin: sjokolade en parfuum, dalk ’n goeie whisky. Sy staan in die drankwinkel en bekyk die whiskies. Sjoe, maar die goed is duur! Nogtans wil sy darem ’n goeie een koop. Die Johnnie Walkers, blou, swart en so aan, is eenvoudig buitensporig duur. Miskien Dimple Haig? Drink Yiannis Demetriou ooit whisky? Volgens Estie is hy skatryk, dus het hy seker gesofistikeerde smaak. Hy besit glo eiendomme in Nikosia, Larnaca én op die platteland.
Met haar vinger voor haar mond en ’n frons tussen haar wenkbroue bekyk sy die drank. Skielik is dit asof ’n rilling deur haar gaan. Sy kyk vervaard om. Drie tree van haar af staan die aantreklike vreemdeling.
Hy kyk na haar. “Het jy jou been beseer toe jy in iemand se trollie vasgeloop het?” vra hy in goeie Engels met net ’n effense aksent wat sy nie kan plaas nie.
Sy word vuurwarm van verleentheid. Hy het dit gesien gebeur. Het hy besef dat sy dit oorgekom het omdat sy haar aan hom verkyk het?
“Ek het ’n blou kol op my skeen, maar ek sal oorleef,” spot sy.
Hy lag en beweeg weg. Sy kyk hom agterna, skaamkwaad. Hy wéét dis oor sy nie haar oë van hom kon afhou nie dat sy so ’n gek van haarself gemaak het.
“Arrogante, ydele vent,” sê sy hardop, en gryp sommer na die Dimple Haig op die rak.
Toe sy weer sien, het die hunk verdwyn.
Hy hou haar van agter ’n rak dop. Skat haar in haar laat dertigs of vroeë veertigs. Sy lyk wragtig goed.
Pragtige, gesonde blonde hare. Oë so blou soos die somerhemel. Mooi figuur. Slank, maar met die regte rondings. Sy reis alleen. Is sy op pad na haar man, of ’n minnaar? Het sy kinders? Heel waarskynlik. Hy hou van haar styl. Die denimpakkie en die syserp, met net genoeg juwele om classy te lyk. Dalk die een of ander professionele vrou. Sy lyk intelligent.
Hy kon sweer sy staar na hom toe sy in daardie ou man se trollie vasgeloop het. Indien wel, vind sy hom waarskynlik net so aantreklik soos hy vir haar.
Hy kan haar gerus gaan vra wie sy is en waarheen sy op pad is. Met haar gaan kennis maak. Nee, betig hy homself. Dis die laaste ding wat hy moet doen. Eleni wag vir hom in Ciprus, met al háár verwagtinge. Wat sal dit hom tog baat om sy nek uit te steek deur ’n ander vrou te leer ken as hy nie eens tot Eleni kan commit ná sy morsige skeisaak nie? Veral een wat hom dalk net soveel hoofbrekens kan besorg? Alle vroumense veroorsaak tog net probleme. Hy moet hulle afskud en hom liewer op sy kuns toespits. Én sy boek oor kerkkuns in Ciprus voltooi. Meer spesifiek ikonografie.
Hy koop geskenke en dwaal deur die mensemassa na ’n koffiewinkel. Daar sit sy alleen aan ’n tafel en koffie drink. Hy’s in die versoeking. Haak vas en kyk na haar. Dalk is dit die laaste geleentheid om met haar te gesels. Hy is nie juis impulsief van aard nie, maar loop nogtans in en gaan sit naby haar. Die kelner kom nader en hy bestel ’n Americano waarvoor hy nie regtig lus het nie. Hy hou haar onderlangs dop.
Sy’s besig op haar selfoon, kyk op, vas in sy oë. Lyk asof sy skrik. Hulle staar na mekaar. Hy glimlag vir haar en knik. Sy glimlag terug. Voorwaar ’n aantreklike vrou.
Sal hy by haar gaan sit? Nee. Dan begin hy weer iets wat hy liewer moes gelos het. Hy drink sy koffie vinnig klaar, betaal die kelnerin, staan op, en stap uit. Die mooi vrou sit nog daar.
Hy kyk nie om nie.