Uittreksel | Tussen klank en kleur
Een
Marieke staar oor die blinkgepoleerde blad van die rooshouttafel na die streng gesig van Kontreigeheime se hoofredakteur. Aan die duik van die een mondhoek sien sy dat dit nie vandag galbraak en bitterbotter is nie – die vrou is in ’n goeie bui.
“Jy wil ’n sabbatsverlof neem? Nogal vir ses maande om iewers op ’n afgeleë plek te gaan werk aan ’n boek? Rede?” Kortaf. Juffrou Rosseau, of ou Rosie, soos almal in die kantoor haar agter haar rug noem, het nie tyd vir strooi nie.
“Onbetaalde verlof,” benadruk Marieke. “Net vir ses maande.”
Marieke staar gefassineerd na die dunraambril wat stadig teen die dun neusvleuels afsak. As ou Rosie nie so streng en ongenaakbaar was nie, kon sy as ’n beeldskone vrou beskryf word.
“Natuurlik onbetaald,” drup daar nou gal. “Waaroor ek nog sal nadink. Maar vertel van die boek, of is dit ’n verskoning om te gaan rondrits in die buiteland soos julle jonges deesdae doen?” Ou Rosie se agterdogtige blik pen haar vas.
“Ek het tyd nodig om ’n koffietafelboek te voltooi.”
Sy sien aan die knak van die slanke nek dat sy nou die vrou se aandag het.
“Hoe so?”
“Die president van die Wes-Kaapse Fynboskwekersvereniging het my al twee jaar gelede gevra om ’n manuskrip met foto’s vir ’n koffietafelboek te doen. Die boek is klaar. Ek kon dit darem afhandel, maar toe besluit hulle om ook ’n reeks sketse saam met die boek uit te bring.”
“Jy?” Die wenkbroue lig vraend. “Kán jy?”
“Ekskuus?” Marieke sukkel om op haar hoof se vinnig wisselende vrae te konsentreer.
“Kan jy skets?”
Sy kyk verbaas na haar hoof. Natuurlik staan dit lewensgroot op haar CV dat sy ’n honneursgraad in visuele kunste het, met illustrasies as deel van die kreatiewe komponent. Dis hoekom sy betrokke is by Kontreigeheime se kunsuitleg.
“Ek kán, Juffrou.” Goeie genade, sy skets al sedert sy ’n potlood tussen haar vingers kon vashou.
“En jy het ses maande se verlof nodig om dit klaar te maak?”
Marieke sluk ’n sug terug. Toe sy die pos aanvaar het, het sy aanvaar dat dit ’n agt-tot-vyf-werk sou wees sodat sy saans en naweke tyd kon kry om die boek se sketse klaar te maak. Inligting en stories oor die kontrei was nie as deel van haar pos gedefinieer nie. Mettertyd het die redaktrise egter besluit dat sy netsowel deel kan wees van hul ondersoekspanne.
Dís hoekom. Dit was nie as voorwaarde ingesluit by die pos wat sy by die tydskrif aanvaar het nie. En die einste redakteur wat haar gereeld op haar tone hou met versoeke, sit nou hier voor haar en wonder wat sy met haar tyd maak.
“Wat gaan jy doen wanneer die opdrag afgehandel is?” Aan die oorkant van die tafel ontsier ’n onvleiende frons die vrou se gesig.
“Ek sal graag wil terugkom na die tydskrif, Juffrou. As ek mag.”
“Natuurlik. Maar ek wil weet hoekom dit vir jou so lank sal neem om die sketse te voltooi? Het jy nie vooraf jou navorsing klaar gedoen nie?”
“Ek het die formele inligting oor die blomme en plante van die Fynbosvereniging gekry. Dis nie ’n amptelike veldblomgids nie – daarvan is daar vele te kry. Ek is verantwoordelik vir die uitleg en foto’s.”
“En nou nog die sketse?”
Marieke bevestig dit met ’n kopknik.
“En jy kan dit nie in jou vrye tyd doen nie?” Een wenkbrou lig tot teen haar haarlyn en dit is genoeg om Marieke te intimideer
“My tyd is te beperk, Juffrou.” Wees maar die minste, Marieke, maan die stemmetjie in haar agterkop, jy is verleë oor ’n werk wat hopelik oor ses maande steeds vir jou sal wag om siel en liggaam aan mekaar te hou wanneer jy al die geld in jou neseiertjie opgebruik het.
“Hoekom wil jy in die grammadoelas gaan bly om jou sketse klaar te maak? Natuurlik omdat jou sosiale lewe hier in die Kaap te woelig geraak het,” beantwoord die dun stem haar eie vraag.
“Dit sal beter werk as ek afgesluit is van my ‘sosiale’ lewe,” antwoord Marieke sonder om die sarkasme wat sy voel, in haar stem te verklap. Die enigste sosiale lewe wat sy tussen die tydskrifwerk ingepas kry, is met haar buurvrou wat goedgunstiglik na haar kat en potplante kyk wanneer sy die platteland vol reis. En Eric wat haar tydig en ontydig verpes met sy onwelkome kuiertjies.
“Wat maak jy met jou huis terwyl jy weg is?”
Marieke kyk verbaas na haar hoof. “Ek sal die deur toetrek en my enigste lewendige plant in my huis wat nog nie van te veel water gevrek het nie, na my buurvrou neem. Aan die buitekant sorg die tuindienste. My kat . . .”
“Ek sal in jou huis gaan bly.” Juffrou Rosseau skuif die papiere op haar tafel haaks asof sy pas ’n besluit geneem en afgehandel het. “Maar ek wil nie jou kat hê nie – ek is allergies.”
“My huisie?!” Genade tog! Sy sien al hoe die deftige vroumens haar neus sal optrek vir haar tweeslaapkamerhuisie met haar oorlede ouma se outydse bal-en-kloumeubels wat maar wat min beweegruimte bied omdat dit so bonkig is. Nogtans bewaar sy die meubels soos skatte omdat sy sentimenteel is oor haar kinderjare.
“Jy het genoem dat jy die huis met jou erfgeld gekoop het? En dat dit ’n pragtige uitsig het oor die see. Hier naby ons kantore?”
Marieke se mond val oop – hoe het ou Rosie dit onthou? “Ja . . . e. . . maar dis ’n klein plekkie . . . baie beknop,” gooi sy wal.
“Dan kan jy in my huis teen die berg naby Swellendam gaan wegkruip om jou boek klaar te maak. Jy kan jou fynbossketse sommer so eerstehands in die berg gaan maak.” Asof dit ’n uitgemaakte saak is, sit sy die pen wat tussen haar vingers waaier, op die tafel neer. “My huis in Kampsbaai word gerestoureer en ek het tydelik ander verblyf nodig as ek nie heeltyd in stof wil leef nie. Soos gesê, ek is allergies. Ons ruil dus.”
“Maar . . .”
“Kyk, Marieke, jy soek afsondering. My plek bied dit, alhoewel dit op ’n funksionerende plaas staan. Dis een van vier huisies teen die berg waar jy kan doen wat jy wil. As jy dan móét weet: Dis op ’n familieplaas. Die boer se seun het die hele plaas geslagte gelede geërf en om die vier dogters te troos, het hulle elkeen ’n huisie met ’n klein stukkie grond in die hoek van die plaas teen die berg gekry. As troosprys. My ooroupagrootjie regeer steeds uit die graf. Ek het die plek van my ma geërf en mag dit nie verkoop nie. My werk is in die stad – ek kom selde daar en omdat die nasate van die verkose seun verplig word om om te sien na die vier huise, hoef ek nie eens self die plek in stand te hou nie.”
Gits, dink Marieke benoud. “Ek het meer gedink aan ’n plek op ’n klein dorpie iewers in die Karoo . . .”
“Ek dog jy wil juis in afsondering gaan bly om op jou sketse te konsentreer?”
“Afsondering op die platteland, maar nie heeltemal soos ’n kluisenaar nie.”
Ou Rosie bekyk haar asof sy van beter weet. Marieke kan nie vir haar sê dat sy wat in die oop velde van die platteland in heerlike vryheid grootgeword het, eintlik die stadslewe haat nie. Dis te besig, maar sy moes leer om te aanvaar dat dit maar die lewe se manier is om jou in ’n drukgang te kry. Om te doen wat jy moet doen, en jou brood in die sweet van jou aangesig te verdien soos haar oupa altyd gesê het.
“My plek is juis op die platteland, maar naby genoeg aan ’n dorp vir jou om vinnig in te ry om ’n brood te gaan koop. En ’n nasaat van een van die dogters bly tydelik in een van die ander huisies, werk glo aan ’n projek daar. Die ander twee huisies word soms deur erfgename oor naweke gebruik, maar hulle sal jou ook nie pla nie.” Sy kug en skud haar skouers asof sy van ’n lastigheid wil ontslae raak. “Die familie het nie veel erg aan mekaar nie, maar ek glo hulle is darem ordentlik.”
’n Flitsbeeld van Eric laat haar vra: “Sal ek veilig wees so . . . alleen op die plaas?”
“Die huis is deel van die groot bessieplaas, Charmanté. Jy sal omring wees deur sekuriteit. Daar is ook personeel wat daagliks by jou sal aanmeld om op te ruim en die huis skoon te hou.”
“Charmanté-bessies?” Marieke se mond sak oop. “Ek . . . dis great!”
“Kan ek jou daaraan herinner dat jy vir ’n tydskrif werk waar ons ordentlike Afrikaans praat?” Die vrou se goeie bui verdwyn soos reënwolke voor die suidooster oor Tafelberg.
“Ekskuus, ek bedoel, indrukwekkend, Juffrou.” Marieke se oë sak boetvaardig.
“Dan is dit afgespreek – my plek vir joune. Vir ses maande.”
“Kan ek vra dat die . . . ruiling tussen ons plekke net tussen ons . . . privaat gehou word . . . ter wille van afsondering?”
“Makliker om weg te kruip en weg te hardloop as om iemand trompop te loop, Marieke?”
Marieke knik, kyk af na haar hoof se deftige skerppuntskoene. Nee, Juffrou, sou sy graag wou sê, ek hardloop nie weg nie, miskien is “vlug” ’n beter beskrywing.
“Ek sal alles reël en vir jou die plek se adresspykertjie aanstuur. Daar is nie moderne goed soos lugbraaiers, versappers en lugreëlaars nie – jy moet dit maar saamneem, ek het nie erg daaraan nie.” Haar wenkbroue wip hoog bo die dun neus. “Jy kan jou kat saamneem plaas toe, ek wil hom nie hê nie – ek is allergies.”