Skip to main content

Uittreksel | Tuiskoms van die hart

Een

“Jis, ou Brent, ek kan my verkyk aan die girls se bene! Van hier tot in die Kaap, kyk net daai lang enetjie onder die pale.” Shaun lig sy bier in die rigting van die TV waar die Suid-Afrikaanse netbalspan in ’n taai stryd teen Australië gewikkel is.

“Ou maat, daar is wragtig g’n salf aan jou te smeer nie.” Brent onderdruk ’n sug en val op die bank langs sy vriend neer, knak sy bierblikkie met genot oop. Dis Vrydagaand en dit was ’n lang week, maar hy het darem nog ’n stukkie van sy gehawende humorsin oor. “Hier dag ek jy het ’n ernstige belang­stelling in netbal ontwikkel.” Hy het dadelik gesien dis ’n heruitsending van ’n vorige wedstryd, maar dit sal geen verskil maak om dié feit vir Shaun uit te wys nie. Sy vriend sal net sê mooi is mooi, maak nie saak of dit gister of vandag se mooi is nie. Miskien sal Shaun nog die stukkie byvoeg van alle katte wat grys is in die donker – en hy sien nie kans om dit nog ’n keer aan te hoor sonder om sy pel se nek om te draai nie. Spreekwoordelik om te draai, natuurlik. Nie dat hy aldag so seker is van die “spreekwoordelik” nie. Hoe langer hulle saambly, hoe meer pla sy huismaat se manlike chauvinisme hom. Op sulke oomblikke sukkel hy om van Shaun se talle lieflike eienskappe te onthou.

Shaun lig sy voete op die koffietafel en vat ’n lang sluk van sy bier. “Ek weet nie veel van die reëls nie, maar mooi was nog nooit lelik nie, hoor.”

Brent plant sy voete langs Shaun s’n op die kof­fietafel, al voel hy onmiddellik skuldig. Sy ma is nie hier om hom te betig nie, maar dis verstommend hoe hy telkens haar prekies, soos hy dit soms as dwars tiener smalend genoem het, op die vreemd­ste tye onthou. Buitendien is dit steeds haar huis en haar meubels wat hy so lekker mag gebruik. “As jy regtig belang gestel het, kon ek jou gou touwys gemaak het. Maar ek vermoed jy sien net die bene raak, nie die vaardighede nie.”

Shaun kyk hom skuins aan. “Vaardighede? Het jy nou al weer jou woordeboek ingesluk, ou pel?”

Brent sluk hard aan sy ergernis. “Skills, Shauna, skills, en ek raak nou ’n bietjie moeg vir jou gekar­ring oor ek redelik suiwer Afrikaans probeer praat. Hoe de joos kan ek Afrikaans op hoërskool gee en dan praat ek ’n mengeltaal soos die leerders?”

Shaun lig sy bene van die tafel af en plak sy bierblikkie op die tafelblad neer waar dit onmiddellik ’n nat kringetjie maak. “Jy’s darem deesdae lekker knorrig, ou maat. Watse bee het jy in jou bonnet? Is daar dalk iewers ’n pragtige bytjie wat jou hormone deurmekaar klits?”

“My hormone is piekfyn, dankie. Ek laat klits my darem nie so maklik deurmekaar soos sommige ander mense wat ek ken nie.” Hoe kan hy sy groei­ende irritasie met alles en almal aan sy vriend ver­duidelik as hy self nie duidelikheid het oor die bron daarvan nie? Dis maklik om dit op Shaun te projek­teer, en as hy nie ligloop nie, kan hy hulle vriendskap daardeur verongeluk. Ten spyte van klein ver­skille is en bly Shaun die beste pel wat hy het.

“Jy moet sê as ek moet waai, Brent. Jy’s deesdae kort-kort in my karakter in. As ek nie Englikaans praat nie, was ek nie my skottelgoed nie. As ek die skottelgoed onthou, is ek weer seksisties as ek na die girls op TV se bene kyk.”

“Ek is jammer, ou maat, ek sal môre ’n ordentlike ent gaan hardloop. Dis maar die week se dinge in die onderwys wat my gekou het.” As iemand wat dwarsdeur die pandemie in die onderwys kon oor­leef, kan hy nie nou kla nie, maar dis die maklikste verskoning om aan te bied.

“Ek weet steeds nie wat jy nog in die onderwys soek nie, ou maat. Ek is donners bly ek het uit­geklim. Ek het betyds gesien ek sal daai bloedjies voor die voet vermoor as ek dag ná dag vir die res van my lewe met klasse vol van hulle moet worstel.” Shaun beduie driftig met sy bierblikkie. “My krieketmanne is erg genoeg – ’n spul mamma se seuntjies en so entitled dat hulle kan bars, die hele lot van hulle. Van die meisies is die helfte meer besorg oor hulle naels as oor hulle kolftegniek, en die ander helfte probeer soos die manne wees.”

“Jy staan ook maar met een voet in die onderwys met jou krieketafrigting. En jy kan darem nie so ver­algemeen nie, daar’s baie ordentlike kinders ook. Hulle hou net nie meer hulle monde vir ’n groot­mens nie, dis al.” Hy moet sag wees op sy vriend. Shaun het swaar getrek met die pandemie toe hy vir maande nie kon werk nie. Hy het nie net finan­sieel groot skade gely nie, maar ook emosioneel – soos duisende ander wat op honderde verskillende maniere deur Covid geraak is.

“Ek weet nie, dalk het die verdomde pandemie met my kop gesmokkel.” Shaun se sug val swaar tussen hulle. “Voor die tyd het die kinders my da­rem nie heeltemal so mal gemaak nie. Ek het nog altyd gereken ek het my varkies almal min of meer op hok, maar deesdae dink ek ek het ’n spul eekhorings wat hulle op geen manier laat rondorder nie.”

Brent ontspan, leun gemaklik terug. Hy kom nou eers agter hoe penregop hy gesit het, hoe gespanne die gesprek hom gemaak het. “Ek dink Covid het met ons almal se koppe gesmokkel, Shaun. Dalk sukkel ons meer met die sogenaamde ‘nuwe normaal’ as wat ons self besef.”

Shaun leun ook ontspanne terug. “Gelukkig is daar darem nog plesiertjies in die lewe. Kyk nou net daai meisiekind wat die doele gooi. Daai paar bene kan ’n man mos laat drome droom en gesigte sien.”

“O, die hoofdoel wat jou so op loop het, is Elsbet Minnaar. My ma het op ’n stadium gereken sy gaan een van die beste Suid-Afrikaanse doelgooiers ooit word.” Vandat sy pa die kluts kwytgeraak en sy ma in Engeland gaan afrig het, het hy ’n bietjie tred ver­loor met die netbalwêreld. In sy grootwordjare was netbal só deel van sy lewe dat die voortdurende kom en gaan van pragtige langbeenmeisies by hulle huis nie vir hom vreemd was nie. Elsbet was destyds een van baie, maar sy is die één wat hy goed onthou.

Shaun sit nou regop, kyk met volle aandag na die spel. “Jis, daar mis sy al weer ’n doel. Dit lyk nie op hierdie stadium of jou ma se voorspelling reg was nie, of hoe?”

“’n Mens kan nie op een stukkie van een wed­stryd oordeel nie. Dié wedstryd is in elk geval al ’n tyd terug gespeel.” Brent sluk sy laaste bier weg. “Sy moes al ’n paar lelike goed in haar lewe hanteer. Ek hoop regtig sy’s oukei.”

Shaun kyk skuins na hom, so ’n ek-weet-jy-weet-meer-as-wat-jy-wil-sê soort kyk. “Jy weet darem baie van die meisiekind af, ou maat? Is jy seker jy het haar nie ’n bietjie raakgevat in julle prille jeug nie?”

Nou het hy genoeg gehad. “Liewe donner, Shaun Mouton, ek is nie een wat meisies ‘raakvat’ nie! Jy kan darem wragtig ’n bietjie respek hê, hoor.” Hy is nie ’n man wat maklik kwaad raak nie, maar as dit die slag gebeur, doen hy dit ordentlik. “Els­bet is ’n blerrie oulike mens, sy is nie net ’n paar bene wat toevallig goed kan doel gooi nie. Netbal is ’n ontwikkelde sport wat net soveel toewyding verg soos enige ander professionele loopbaan.” Hy weet hy sê onnodig te veel, maar hy kry nie briek aangedraai nie. Hy het eenvoudig in sy tienerjare te veel gesien van watter soort staal netbalspelers gemaak is wat op hoë vlak speel. Soos enige ander sport se spelers. “Daai meisies is slim en sterk en hulle werk hard om bo uit te kom. Ek hoop hulle is teen die tyd dat hulle op nasionale vlak speel, lankal gewoond aan simpel mansmense wat net oor hulle bene aangaan en nie hul talent en vaardighede en deursettingsvermoë raaksien nie.”

Hy dink verniet sy toespraak sal vir Shaun ont­senu. Nee, sy pel lê soos hy lag. “Mens, maar jy kan darem op hol gaan oor niks!” Sy oë vernou, hy kyk skielik skerper: “Het jy ’n geskiedenis met die Els­bet-vroumens, Brent?”

“Nee, Shaun, ek het nie ’n geskiedenis met haar nie. Ek loop liewer; ek het ’n wavrag opstelle om na te sien.” Nou ja, dalk het hy en Elsbet ’n piepklein geskiedenissie, maar dit was so onbeduidend, nie­mand onthou dit seker eens meer nie.

In sy kamer stuur hy tog maar ’n vinnige WhatsApp vir sy ma: Weet Ma hoe dit deesdae met Elsbet gaan? Die res van die aand worstel hy om op sy leerders se kreatiewe pogings te konsentreer. Hy onthou die dae veels te goed toe hy, soos hulle, ’n wandelende bondel hormone en komplekse en be­geertes was. Die dae toe dit vir hom na die toppunt van ellende sou gelyk het om op ’n Vrydagaand tuis te sit en opstelle nasien. Nou lyk dit wel vir hom ’n klein bietjie hartseer, maar gelukkig het hy ’n keuse in die saak. Sy vryheid en onafhanklikheid is iets wat hy nie maklik gaan prysgee nie.


“Tannie Jay, dis nou ’n verrassing!” Elsbet kon dit skaars glo toe Joyce de Lange se naam op haar skermpie verskyn. Daar was ’n tyd toe tannie Joyce vir haar ’n aanvullende ma-figuur was en haar huis vir Elsbet ’n heenkome. Dis net jammer die huis is ook deur haar ellendige seunskind bewoon. Geluk­kig lê die ou belaglike insidentjie met Brent ver in die verlede.

“Ek wonder sommer hoe dit met jou gaan, Elsie.”

Die ou bynaampie bring ’n stukkie nostalgie vir haar terug. Soms mis sy die dae toe sy nog haar mense se Elsie was. Darem net af en toe, as die donkerte haar regtig wil oorweldig. “As Tannie die netbalnuus dophou, weet jy sekerlik dit gaan nie be­sonder goed met my nie.” Wat ’n verligting om dit vir iemand te kan sê. Iemand wat verstaan, iemand wat regtig omgee. Al het hulle deesdae bitter min kontak, is sy steeds oortuig van Joyce de Lange se beste be­doelings.

“Die pandemie het almal teruggesit, my kind. Hier by my klub in Engeland sien ek dit ook. Die meisies is emosioneel uitgeput, hulle het almal ’n mate van trauma ervaar. Party was siek, ander moes ’n paar keer isoleer as gevolg van reisregulasies wat voort­durend verander het. Sommiges het geliefdes ver­loor.”

Sy voel sommer van voor af skuldig. Sy weet goed sy het baie seëninge om te tel. “Ek weet, tannie Joyce. Ek het baie om voor dankbaar te wees. Ek het die virus net baie liggies opgedoen en ek het niemand verloor nie.” Ja, sy het niemand verloor nie, want sy hét niemand om te verloor nie. Die pandemie het haar alleenheid in eensaamheid laat omsit. Sy voel ankerloos, asof sy op die oop see dryf.

“Ek is bly daaroor, Elsbet, maar elke mens ervaar hierdie tyd verskillend. Jy kan jouself nie aan ander mense meet nie.” Dit sal ook net tannie Joyce wees wat haar vinger so sekuur op ’n kwessie kan druk.

“Ek probeer, tannie Jay, maar ek voel alewig tam en lusteloos en my doelgooiery is absoluut hope­loos.” Sy het al vergeet hoe maklik dit vroeër was om vir die tannie haar binnekant te wys. Toe sy oorsee begin speel het, het sy baie gou geleer om haar binnedinge vir haarself te hou. ’n Mens maak nog skaars jou mond oop, dan is jy in die koerant. Ná die ding met haar ouers destyds wil sy tog as­seblief nooit, ooit weer in die pers beland vir iets anders as haar sport nie.

“Kyk jou klub darem mooi na julle? Is daar ’n terapeut beskikbaar, kindjie?”

“Ek dink hulle probeer, maar daar’s ’n waglys by die terapeut. Baie van my spanmaats het regtig ern­stige probleme, baie erger as my eie ou dingetjies. Ek hou in elk geval nie van die man nie.”

Dis vir ’n paar oomblikke stil, dan kom die woorde wat sy half en half verwag het: “Is jy nog skrikkerig om mense te vertrou, Elsbet?”

Sy kry die woorde moeilik uit, maar die ver­ligting is geweldig. “Ek weet nie of ek ooit weer ie­mand volkome sal kan vertrou nie, tannie Jay.” Sy weet nie wat sy gedoen het om hierdie onverwagte genade te kry nie, maar die tannie se oproep so uit die bloute is soos ’n soeklig wat dwarsdeur haar donkerte dring.

“Ai, my kind, dink jy nie jy moet maar ’n slag ’n bietjie huis toe gaan nie?”

“Ek het nie meer regtig ’n huis in Suid-Afrika nie, Tannie. Ek het mos destyds al my ma-hulle se plek verkoop, my bande met die verlede probeer sny.” Sy probeer haar stem lig hou, maar teen hierdie tyd loop die trane. Om bande te sny was toe nie so maklik soos sy op ’n stadium gedink het nie. Des­tyds was sy nog woedend genoeg om drasties op te tree, te sweer sy loop nooit weer op daardie pad terug nie. Mettertyd het die woede egter vervaag en net ’n vae gevoel van verlies het oorgebly. Verlies en verlange – sy weet net nie meer so lekker waarna sy nou eintlik verlang nie.

“Huil jy, Elsbet? My kind, ek wens ek kon help.”

“Ag, dis net ’n verdwaalde paar trane, Tan­nie. Van pure verrassing.” Die dae toe hierdie vrou haar vertroueling was, kom helder terug na Elsbet toe. “Tannie se oproep het alreeds tonne gehelp, dankie.” Destyds toe sy oorsee gaan speel het, het sy nie geweet hoe sy sonder Joyce de Lange sou oorleef nie. Nou weet sy sy het oorleef, ja, maar sy het nie floreer nie. Sy het gedink haar vlerkies sal mettertyd sterker word, dat sy solo sou kon vlieg. ’n Internasionale netballoopbaan het vir haar gewink en ook vir haar ’n werklikheid geword. Sy het net nie voorsien presies hoeveel energie dit uit haar sou tap nie.

“Dan is ek so bly ek het gebel, Elsie-kind. Ek glo mos nie aan toeval nie. Jy onthou seker ek glo aan tekens? Julle het partykeer vir my gelag, nè? Maar toe Brent gisteraand uit die bloute vra of ek weet hoe dit met jou gaan, het ek dadelik geweet dis ’n teken dat ek moet bel.”

Elsbet kom met ’n slag aarde toe van die optimistiese wolkie waarop die onverwagte oproep haar geplaas het. “Brent, Tannie? Hoekom op aarde sou hy dit gevra het?”

“Dit klink vir my sy huismaat het een of ander heruitsending van ’n wedstryd gekyk en ’n aanmerking oor jou bene gemaak. Daar loop dit toe amper op ’n rusie uit.”

“’n Rusie? Oor my bene?” Nou weet sy regtig nie wat aangaan nie.

“Jong, Shaun is ’n dierbare kind, maar partykeer so ’n bietjie van ’n ongeskraapte aartappel. So ef­fens chauvinisties, sou ek reken. Ek weet dit pla vir Brent, al is die twee vriende baie erg oor mekaar. Ek moet sê, my kind is ook nie deesdae op sy beste nie.”

“Hoekom, Tannie? Hou hy nog skool? Wat is dan verkeerd? Dit klink vir my die skole het maar swaargekry met die pandemie. Dalk is hy ook net ’n bietjie gaar, soos dit vir my lyk die meeste mense is.” Sy het so lanklaas aan hom gedink dat dit ’n paar oomblikke neem om sy beeld weer helder op te roep. Dis ’n bloedjong Brent wat voor haar geestesoog verskyn; hy het sekerlik intussen ouer geword, soos elke mens op aarde.

“Jong, Brent word vanjaar dertig. Ek kry die ge­voel hy is kriewelrig en lus vir ’n verandering, maar hy weet nie lekker watter kant toe nie. Dis frustrerend om so ver van hom af te wees. Ons praat gereeld, maar dis eenvoudig nie so bevredigend soos as ons bymekaar is nie. Hy is mos nie een wat sy binnekant so maklik vir ’n mens wys nie.”

“Ek kan dit glo, ja, maar ek moet nou regtig gaan, tannie Jay.” Sy is nie lus om verder oor Brent te praat nie. Hy is sekerlik oud en lelik genoeg om na hom­self te kyk. Nie dat daar van “lelik” sprake is by hom nie, tensy hy natuurlik intussen ’n boep en ’n bles ontwikkel het. “Dankie vir die oproep, Tannie het nou regtig my dag gemaak. Sê maar groete vir Brent as julle weer praat.” Die oproep het sy fleur verloor. Brent se naam het dit vir haar bederf. Om aan hom te dink het nog nooit vir haar vrede gebring nie. Dis ’n skok om te besef dis nog steeds die geval, al het ’n goeie tien jaar intussen verloop.

“Totsiens, kindjie. Kyk mooi na jouself, hoor. Bel asseblief as jy dit nodig het. Jy weet mos ’n WhatsApp-oproep kos nie die wêreld se geld nie, al is ons op twee uiterste kante van die aarde.”

“Els, wat byt jou, girl?” Olivia kom ongevraagd haar kamer in en val sommer langs haar op die bed plat. “Dit lyk of jy ’n spook gesien het, jong.”

“Miskien het ek, maar dis ten minste ’n baie aantreklike spook.” Sy kan nie help om te glimlag nie. Olivia hoef net na ’n mens te kyk, dan voel jy al klaar beter. Die jare oorsee het niks van haar Kaapse woema weggevat nie.

“Oe, kom ons stalk hom gou, toe?” Olivia het haar foon reeds op Facebook oop. “Wat is dit se naampie?”

Elsbet het nie ’n keuse nie. Sy moet maar in Brent de Lange se aantreklike bakkies vaskyk. Hy lyk presies soos destyds, natuurlik net ’n bietjie ouer. Donker en ’n bietjie broeiend, vreeslik ernstig. Amper swart hare netjies kort gesny, donkerbruin oë wat vieserig in die kamera kyk. “Jy nou tevrede, Livvie?” Sy draai sommer weg. Sy is nie lus om energie op dié man te verspil nie. Al kan sy nie help om te wonder hoekom hy sou kwaad word as sy huismaat na haar bene kyk nie. Nog minder weet sy hoekom dit haar ontstel dat een of ander vreemde mansmens netbal kyk net om na die meisies se bene te kyk. Dit is sy mos darem lankal gewoond. Of so het sy altans gedink.


“Ouch!” Elsbet kan haarself nie keer nie, sy trap be­hoorlik met albei voete briek toe die vliegtuig die aanloopbaan ietwat onsag tref. Die pandemie het soveel dinge verander, soms dinge wat ’n mens glad nie verwag het nie. Een daarvan is dat haar vroeëre vrees vir vlieg weer opgestaan het. Dit was ’n bit­ter lang vlug van Perth af, en die masker het dit nie beter gemaak nie. Daarby weet sy nie regtig wat sy in Suid-Afrika kom soek nie; hier is regtig nie meer iets vir haar nie. Vandat tannie Joyce egter genoem het sy moet dalk die drade kom optel, ’n bietjie op haar ou spore terugloop, kon sy nie weer van die idee ontslae raak nie. Op die ou end het sy maar toegegee op die tannie se sagte aandrang en haar afsprake hier in die Kaap gemaak, al sou sy die­selfde dienste makliker in Australië kon kry.

In die aankomsaal staan sy ’n paar oomblikke botstil terwyl geliefdes mekaar rondom haar omhels, soms trane afvee, dan geselsend koers kry na die parkeerterrein. Half eenkant staan die rytjie manne en vroue met naambordjies vir diegene wat op ’n sakereis aankom en gerieflik sonder vrees of moeite na hulle hotelle vervoer word. Sy mik maar som­mer vir die lughawehotel waar sy kan laag lê tot sy môremiddag moet aanmeld vir haar “vakansietjie”, soos sy dit vir haar spanmaats en afrigter gestel het.

“Elsbet, hier!”

Sy steek só vinnig vas dat ’n vreemdeling van agter af in haar vasloop. “Sorry! Jammer!” Die man brom iets onhoorbaar en stoom by haar verby.

Vir ’n oomblik mik sy om te vlug, want wie op aarde weet dat sy vanaand hier aankom? Dan sien sy hom: Brent de Lange. Donker en ernstig en on­behoorlik aantreklik. Met ’n plakkaat waarop haar naam lewensgroot staan asof hy aanvaar hulle sal mekaar nie noodwendig outomaties herken nie. “Brent?”

“Hallo, Elsbet. Dit lyk nie of jy my hier verwag het nie.” Hy kom tot by haar, kyk haar vlugtig van kop tot tone deur. Nie dat sy hom kwalik kan neem nie, want sy doen dieselfde. Dis tog wat mense doen wat mekaar ná ’n lang tyd weer sien – jy neem bestek op, registreer ooreenkomste en verskille, probeer bepaal waar jy nou met mekaar staan.

Wat sy sien, is sag op die oog, maar hard op haar innerlike vrede. Dit maak haar katterig, al besef sy dit self en hou sy nie daarvan nie. “Nou toe, wat is jou bevinding? Ek is jammer die jeans wys nie genoeg been nie, dis mos hoekom julle manne net­bal kyk.” Sy is ná die lang vlug nie op haar beste nie en daarby dodelik gespanne oor wat voorlê.

“Het my ma by jou geskinder? Ek hoop sy het dit duidelik gestel dis eintlik my huismaat wat hom so aan jou bene verwonder het.” Hy dring aan toe sy nie haar tas dadelik vir hom wil gee nie. “Gee dat ek help. Jy is seker pootuit.”

Sy steek egter viervoet vas tussen die malende mense. “Brent, hoekom is jy hier? Ons het nie ’n af­spraak nie, het ons?”

Die stadige glimlag wat sy so goed onthou, breek deur sy erns. “O, aarde, ek ruik ’n rot.”

“Is dit nie ’n anglisisme nie?” glip dit uit voor sy kan keer. Hy was as student al so gesteld op sy taalgebruik dat sy maats hom graag gespot het. Vir haar as hoërskooldogter was dit nogal oulik. Soos die meeste ander dinge aan hom. Gelukkig is sy nie meer ’n hoërskooldogter nie.

“Ek kan nie nou aan ’n beter Afrikaanse uitdruk­king dink nie.” Hy lyk dadelik bekommerd, asof hy homself teleurgestel het. “Of ja, ek dink daar’s ’n slang in die gras!”

“Nou wie is dié slang?” Hoewel sy nou presies besef wat gebeur het.

“My liewe moeder het nie vir jou gesê sy het ge­reël dat ek jou kom haal nie, nè?”

“Nee, sy het nie.” Hemel, hoeveel het die tan­nie hom vertel? Sy gaan haar sowaar nie maklik vergewe as sy al haar planne uitgeblaker het nie. Dit sal sy môre uitklaar. Op die oomblik moet sy net veg teen die vreemde verligting om nie alleen die nag hoef in te gaan nie. “Ek het beplan om sommer hier in die hotel by die lughawe oor te slaap. Ek kan regtig op my eie tot daar kom. Jou moeite was werklik on­nodig en jou ma se inmenging ook.”

“My ma het dit goed bedoel, Elsbet.” Hy begin aanstap met haar tas, so sy moet maar agterna kar­ring.

“Ek weet sy sou dit goed bedoel het, maar ek voel verneuk, so asof sy nie glo ek kan na myself kyk nie.” Sy skrik self vir haar eerlikheid. Sy het lank­laas haar gevoelens sommer so teenoor iemand uitgespreek. Sy moet regtig pasop, sy weet mos ’n mens se woorde kom maklik in verdraaide vorm na jou toe terug.

“My ma weet jy’s ’n onafhanklike entjie mens, Elsbet, sy probeer jou nie ondermyn nie. Sy het iewers vandaan die idee gekry dit gaan nie so goed met jou nie, en sy is vasbeslote om te help.” Sy kan nie help om op te let hy moet ’n bietjie opkyk na haar toe nie. Sou dit hom nog soveel pla soos des­tyds?

“Ons het ’n paar keer die afgelope tyd gepraat.” Eintlik het hulle feitlik elke dag gepraat, maar dis nie sy saak nie. “Jou ma is fyn, sy het my gou-gou gepeil, maar hierdie stukkie inmenging is regtig nie nodig nie.” Hulle is nou by sy motor, ’n ouerige model, onopvallend wit. Brent was nog nooit ’n spoggerige soort mens nie. “As dit regtig moet, kan jy my hotel toe vat. Met die lughawebussie sou ek al amper daar gewees het.”

Hy laai haar tas in, hou vir haar die motordeur oop. “My ma sal my onterf as ek jou vannag in die hotel laat slaap, Elsbet. Kom tog vredesonthalwe saam huis toe, al is dit net vir die een nag, asse­blief?”

Sy vat-vat na die deur, reg om uit te spring, be­sef dan dit sal nie baie volwasse wees nie. “Oor my dooie liggaam, Brent.”

Hy lag saggies, skakel die motor aan. “Wel, dis dan óf jou dooie liggaam óf ek wat sonder ’n erf­porsie sit.”

“Is jy sowaar bang vir jou ma?”

“Nie bang nie, net versigtig.” Sy kan die glimlag in sy stem hoor, al kan sy slegs sy profiel sien in die speling van lig en donker terwyl hulle die parkeer­terrein verlaat en die pad N1 toe vat.

“Ek is bly om dit te hoor.” Diep in haar binneste voel sy ’n glimlag roer, ’n stukkie lewenslus wat sy lanklaas gevoel het.

Hy kyk vlugtig na haar. “Ek is bly as jy bly is.”

Om een of ander rede kalmeer die eenvoudige woorde haar. Sy sit terug, haal diep asem. Sy sal nie teen die prikkels skop nie, liewer saam met die stroom swem. Net vir vanaand. Môre sal sy beheer neem, haarself uit Brent de Lange se vaarwater ver­wyder en haar toespits op die uitdaging wat voorlê.