Skip to main content

Uittreksel | Toevlug

Petro

“Ja, al gaan ek deur die dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my …”
Psalm 23:4, CAB23


Een

Sporadiese geweervuur en haastige voetval verbreek die andersins doodse stilte van die nag. Daar is soms angsgille en pynkrete ook. Dis egter die demoniese gelag van die wreedaard wat as La Hyène – oftewel Die Hiëna – bekend staan, wat die meeste koue rillings by Petro Mentz se ruggraat laat afgly.

Die pers het dié beskrywende bynaam aan kolonel Ahadi Idi Nyoma gegee nadat hy en ’n handvol rebelle veertien dae gelede by ’n internasionale kleuterskool in die hoofstad ingebars en die skoolhoof en twee onderwysers, al drie Amerikaners, ontvoer het. Al wat die getraumatiseerde kindertjies en ander personeel ná die tyd kon onthou, is dat die leier aanhoudend gelag het. “Nes ’n hiëna,” het een kleinding voor die kameras gesnik.

Die ontvoerdes se lewelose liggame is die volgende dag voor die hek van die Amerikaanse ambassade uit ’n bewegende voertuig gegooi. Daar was ’n nota in die skoolhoof se baadjiesak: “Volgende keer vat ons die kinders.”

Waar Nyoma voorheen net een van talle gesiglose ekstremiste was wat ’n appeltjie met die Weste te skil het, het hierdie verfoeilike daad verseker dat Washington regop sit en notisie van hom neem. Hoe maklik die goed bewaakte skool met die strengste sekuriteitsmaatreëls binnegeval is en hoe kwesbaar die sowat vyftig kinders van hooggeplaastes eintlik was, het skokgolwe tot in die Withuis gestuur. La Hyène is tot vyand van die VSA verklaar. Die boodskap kort en kragtig: Raak aan ons kinders en jy raak aan ons.

Nyoma het soos ’n verwoede perdeby op die uitdaging reageer. Hy en sy radikale volgelinge het die afgelope tien dae elke dag op strategiese internasionale sleutelpunte toegeslaan. Daarby ontsien hulle nie plaaslike politici, amptenary en sakelui wat die Weste goedgesind is nie. Die lewensverlies styg toenemend. La Hyène neem nie gyselaars nie. Sy rebelle moor voor die voet. Die militêre presisie waarmee die operasies uitgevoer word, dui daarop dat hierdie ’n goed beplande en goed befondsde poging tot ’n staatsgreep is. Die tydsberekening is perfek, want la presidente Oribi Banza sterk in Duitsland aan ná ’n ingrypende mediese prosedure. En die gewone landsburgers is sagte teikens. Hulle het gewoond geraak om uit die hand van Westerlinge te eet.

Met dié dat paniek toeneem en opportuniste die voortspruitende chaos gebruik as ’n verskoning om te roof en plunder het verskeie ambassades hulle burgers gemaan om die land so gou moontlik te verlaat. Maar met openbare vervoer wat feitlik tot stilstand gekom het of net te gevaarlik is om te gebruik, is dit makliker gesê as gedaan. Niemand het verwag dat anargie só blitsig sou intree nie. Daar was nog hoop dat die polisie of weermag sou ingryp en die orde sou herstel, maar toe kom die skoknuus dat hulle hul agter Nyoma skaar. Direk daarna het die nasionale TV- en radiostasie van die lug verdwyn, en enkele ure later is die internetverbinding verbreek.

Wanneer Nyoma se lag weer diabolies opklink, loer Petro versigtig tussen die takkies voor haar deur na die frisgeboude Kongolees wat agterop ’n Willys Jeep staan. ’n AK47 hang ongeërg aan ’n band oor sy skouer. Sy tande glim wit in die donker. Hy beduie aan een van sy manne om ’n petrolbom na die afgewitte sendingkerkie te slinger. Dié gehoorsaam soos ’n outomaat. Daar is die geluid van brekende glas en dan verhelder die gloed van gulsige vlamme die omgewing. Die gebou staan binne oomblikke in ligte laaie. Nog ’n sarsie geweervuur klink op.

Petro druk haar wang teen die grond vas waar sy vroeër inderhaas onder ’n digte doringstruik ingekruip het. Haar gevorderde swangerskap het haar lomp en stadig gemaak, en sy kon nie betyds die beskutting van die reënwoud haal nie. “Here, dankie dat daar niemand in die kerk is nie. Dankie dat daar tyd was om weg te kruip,” prewel sy deur bykans roerlose lippe.

Daar is lang, bloederige hale oor haar arms en bene soos die geniepsige dorings haar bygekom het, maar haar lyf is so vol adrenalien dat sy geen pyn ervaar nie. Sy voel wel hoe haar baba besonder aktief in haar beweeg en lê haar hand beskermend oor die ronding van haar buik. Die knapie weet dat sy ma op hierdie oomblik erg angstig is.

Een van die sendingkinders het betyds alarm gemaak. Hy het eerste die konvooi voertuie die bult op sien kruie en opgelet dat die insittendes swaar gewapen is. Gelukkig het Petro se man, Evert, net die vorige dag ’n noodoefening gehou, en die inwoners van die sendingstasie en omliggende piepklein nedersetting het geweet om alles net so agter te laat en dieper die reënwoud in te vlug.

Evert het nie gedink dat die onluste tot hier by die afgesonderde Yugami sou versprei nie, maar die knaende gevoel van onrus wou hom net nie verlaat nie. Dankie tog dat hy fyn geluister het na die influistering van die Heilige Gees en besluit het dit sou nie skade doen om paraat te wees nie. Danksy sy gehoorsaamheid kon heelwat mense ontvlug.

Dit is net die oudstes en kranklikes wat nie vinnig genoeg kon wegkom nie. En dit is húlle krete wat nou kort-kort opklink soos die rebelle hulle een vir een hardhandig na die vierkant in die middel van die nedersetting, die oop spasie net voor die brandende kerkie, dwing. Hulle word aangesê om in die stof op hulle knieë te gaan en hulle hande op hulle koppe te hou. Dié wat nie vinnig genoeg reageer nie, kry ’n hou met ’n geweerkolf.

Petro lig haar kop en loer weer versigtig tussen die struik se ruie groei deur. Sy staar met ontsetting na die groepie knielendes wat slegs enkele treë van haar af teen die vuurgloed afgeëts is. Daar is die blinde oupa Yann, kromgetrek en grys van die ouderdom. Hulle het net verlede Sondag sy sewe-en-negentigste verjaarsdag met nagmaal gevier. Hy stel so ’n mooi voorbeeld vir die jongeres met dié dat hy verskeie Bybelboeke woord vir woord kan voordra. Langs hom sit sy dogter Dorcas plat op die grond. Bloed stroom uit haar neus wat sommerso windskeef staan. Sy het as kind polio gehad en haar een been is beduidend korter as die ander. Dit het haar natuurlik stadig gemaak, sodat sy nie saam met die ander kon vlug nie. Sy het die stem van ’n engel en is hulle voorsanger in die kerk.

Petro se oë glip verby die ander bekendes na die brandende gebou, waar hulle sulke geseënde eredienste gehou het. Sy en Evert het vier jaar gelede as sendelinge hiernatoe gekom nadat hulle eers vir drie jaar in Frankryk opleiding ontvang het en op ’n wynplaas gewerk het om fondse bymekaar te maak. Die gemeenskap was uitgehonger vir die Blye Boodskap en hulle is met oop arms ontvang. Jonk en oud het fluks gehelp om stene te maak en die kerkie te bou.

Oor die jare het hulle ook aan die oorkant van die vierkant ’n saaltjie opgerig met ’n ruim vertrek aan die agterkant wat as haar en Evert se slaapkwartier dien. Weeksdae hou sy skool vir die kinders en naweke kom sy en die vroue bymekaar om een of ander handwerkprojek te doen. Evert spandeer die meeste van sy tyd in die gemeenskapstuin waaruit almal eet. Sy hande staan vir niks verkeerd nie, en hy het die manne ook gewys hoe om met leer en hout te werk. So een maal elke twee maande reël hulle ’n gesamentlike uitstappie na een van die groter dorpe, waar die handewerk te koop aangebied word. Die produkte is gesog, want hulle lidmate is trots op hulle werk en doen dit asof vir die Here.

“Here, ons kan weer met u hulp die kerk en alles wat hierdie woestaards vernietig, bou. Dis aardse goed. Maar asseblief, Here, spaar u kinders se lewens,” bid Petro saggies. “Trek laer om ons, Here, en wees U ons toevlug.” Sy verskuif baie effentjies om gemakliker te lê. Haar blaas is oorvol.

Sy ruk soos sy skrik toe Nyoma se gelag sommer hier vlak voor haar opklink. Hy het van die Jeep afgespring en hou ’n spartelende seuntjie, wat een van die rebelle nadergebring het, sommer om die keel vas. Dis klein Atido, sien sy. Die sesjarige is versot op sy grootjie Yann, wat altyd gereed is om Bybelstories te vertel, veral dié van die jong Dawid wat die reus Goliat met ’n slingervel gedood het. Evert moes opsluit vir hom ook ’n kettie prakseer waarmee hy kon teiken skiet. Hy hou gehoorsaam by die reël dat hy nie na ’n dier of voël mag mik nie. Die onnut het natuurlik omgedraai toe hy besef sy geliefde oupa Yann bly agter. Hy het sekerlik gedink hy kan die rebelle met sy kettie afweer,  want hy klou dit steeds in sy handjie vas.

Petro se hart ruk in haar borskas toe sy sien hoe Nyoma die seuntjie met geweld teen die grond slinger en sy swaar stewel teen sy nekkie laat rus. Die kind se vreesbevange gesiggie is na die struik toe gedraai. Hy is so naby dat as sy haar arm sou uitstrek, sy amper die kettie uit sy hand sou kon neem. Sy wydgesperde oë kyk vas in hare, en sy sien die verbasing en herkenning daarin. Met haar vinger teen haar mond beduie sy vir hom om te sjuut. Dan bring sy haar hande teen mekaar en wys dat hy moet bid. Hy knyp dadelik sy oë styf toe, en sy sien hoe sy lippe begin beweeg.

“Vader, hoor hierdie kindjie se gebed en red hom, asseblief,” prewel sy saggies. Trane van magteloosheid stroom oor haar wange. As sy net iets kan doen! Maar hier is nie eens ’n stok of ’n klip naby haar waarmee sy Nyoma van agter af oor die kop kan moker nie. Dis nou ás sy ongesiens onder die struik kan uitkruip. Sy durf egter nie haar teenwoordigheid verraai nie, want wat van haar en Evert se ongebore kind? Sy mag nie sy lewe in gevaar stel nie. Hy moet oor ’n week gebore word. Sy kan net bid en vertrou dat God sal ingryp.

Wat soek Nyoma en sy manne in elk geval hier op die afgesonderde nedersetting aan die rand van die reënwoud? Hier is tog niks en niemand wat vir hom van enige politieke belang kan wees nie. Mens sou dink dat hy eerder daarop sou fokus om in die hoofstad sy terreurveldtog te voer en nie sy tyd sou mors deur ’n sendingstasie aan die buitewyke van die land aan te val nie. Iets maak nie sin nie.

Nyoma sê iets in Lingala. Petro spits haar ore en probeer ’n woord of twee eien, maar hy praat te vinnig. Sy het oor die afgelope vier jaar so ’n bietjie van die moeilike dialek begin verstaan, al kan sy dit nie self praat nie. Gelukkig ken omtrent die helfte van die land se inwoners Frans. Sy en Evert kan dít darem albei al redelik vlot praat.

Die groepie mense wat voor haar in die stof kniel, skud hulle koppe verwoed. Hulle is duidelik vreesbevange. Een van die rebelle tree dreigend vorentoe, die AK47 in sy hand gereed om te vuur. Dorcas lig haar hande hoër en pleit skril om hulle lewens. Van die ander vroue huil openlik, terwyl die manne verslae voor hulle uitstaar. Hulle besef dat die dood ’n sekonde of wat weg is.

La Hyène lag sy sieklike lag en laat sak sy stewel ’n millimeter of twee op Atido se nekkie. Die seuntjie begin wurggeluide maak, sy oë en mond wydgesper in blinde paniek. Petro begin instinktief vorentoe kruip om hom te help. Maar dan herhaal Nyoma wat hy netnou in Lingala uitgeroep het. Dié keer maak sy die naam “James Parker” uit. Sy ruk geskok tot stilstand. Dis die naam van die erg beseerde man wat weke gelede op ’n dag uit die reënwoud gestrompel het. Dit was ’n wonderwerk dat hy nie aan bloedverlies dood is nie, want sy linkerarm was net bo sy elmboog afgeruk. Hy het ook ander ernstige wonde oraloor sy lyf gehad en was met tye ylend van koors.

Evert het nie James se storie geglo dat hy ’n navorser was wat boomsampioene bestudeer het vir ’n artikel wat hy moes skryf oor die moontlike medisinale gebruike daarvan nie. Die aard van die vreemdeling se beserings het nie gestrook met sy verduideliking dat ’n verrotte boom op hom geval het nie. Dit het eerder gelyk of hy in ’n ontploffing was. Evert het vermoed dat hy ’n onwettige prospekteerder was wat in die reënwoud na goud gesoek het. Daar is ’n oeroue legende dat daar ’n versteekte mynskag is wat aan ’n lank reeds uitgestorwe stam in die omgewing behoort het. Diegene wat egter die skag probeer vind, is volgens die legende vervloek en sterf ’n vroeë en afgryslike dood.

James was te swak om ’n rit na die naaste kliniek te deurstaan. Hy het laat daardie nag aan sy veelvuldige beserings beswyk. Evert, altyd maar die herder en versorger, was alleen by hom toe hy sy laaste asem uitblaas. Hy het James se liggaam die volgende dag na die polisiestasie op die naaste buurdorpie, Tyiyona, so twintig kilometer hiervandaan geneem en ’n verklaring afgelê. Gelukkig was die man se paspoort in sy hempsak en kon die Amerikaanse ambassade van sy afsterwe in kennis gestel word.

’n Beroering klink meteens van agter af op. Nyoma lig sy stewel van Atido se nekkie af en draai nuuskierig om. Die kind kruip soos blits onder die struik in en kom lê styf teen Petro. Sy slaan haar arm om sy rukkende lyfie. “Sjuut, Atido, sjuut,” fluister sy teen sy oor. “Here, laat Nyoma vergeet van die seuntjie. Moenie dat hy van hom onthou nie,” bid sy pleitend.

Twee rebelle kom van agter verby die struik geloop. Hulle sleepdra iemand tussen hulle. Dis Evert! Hy hang slap asof hy bewusteloos is. Sy blonde kuif is donker van die bloed. Hulle bring hom tot voor Nyoma, en dié beduie met ’n beweging van sy kop dat hulle hom nader aan die lekkende vlamme moet neem waar daar meer lig is. Op daardie oomblik stort die brandende dak van die kerkie ineen en duisende vuurvonkies skiet soos vuurwerke die lug in. Die rebelle juig spontaan en lig hulle gewere hemelwaarts. Sarsies skote skeur deur die nag.

Petro lê verstar. Hoe kom Evert hier? Hy en Atido se pa sou die nag in die buurdorp deurbring waar hulle ekstra voorrade wou probeer aanskaf voordat die sendingstasie dalk weens die anargie van die buitewêreld afgesny word. Sy is vaagweg daarvan bewus dat haar blaas vanself ledig. Of is dit haar water wat breek? ’n Kramp trek haar ineen, en sy moet hard op haar tande byt om nie uit te roep nie.

Nyoma buk by Evert waar dié soos ’n sak patats laat val is. Hy gryp ’n hand vol van die bloeddeurdrenkte kuif en lig die wit man se kop op. Die pastoor kreun en maak sy oë oop. Hy sukkel duidelik om op die wreedaard se gesig te fokus. Nyoma trek ’n vlymskerp Okapi-mes uit sy skede en druk die lem teen Evert se keel.

“Nee!” Petro kruip handeviervoet onder die struik uit, onbewus van die dorings wat in haar lyf afbreek. “Nee!” roep sy weer en kom steierend orent. Sy sien die ontsetting op Evert se gesig toe hy besef dat sy vrou hier midde-in die gevaar is, maar dan duik een van Nyoma se manne haar plat. Die volgende oomblik reën houe en skoppe van alle kante af op haar neer. Sy rol haarself in ’n klein balletjie in ’n poging om haar ongebore baba te beskerm. “Here, help!”