Skip to main content

Uittreksel | Toe gebeur Vegas

Een

Die geluid van ’n helikopter wat land, meer nog as die wind wat dit veroorsaak, ruk Vanessa uit ’n diep slaap wakker. Waar is sy? Haar kop pyn verskriklik. Het die vliegmonster op haar kop geland? Kom uit die ding se pad! Sy duik eenkant toe. Eers toe sy van die bed afval en hard met die grond kennis maak, gaan haar oë behoorlik oop. ’n Sneeustorting van wit lappe en kantmateriaal is om haar kop en lyf.

Sy wikkel haarself effe los uit die koeksel en sit regop. Binne ’n paar sekondes weet sy meer. Die dakwaaier is op die vinnigste spoed gestel: Dís die helikopter. Sy is in ’n hotel in Las Vegas. Vir haar bachelorettewegbreek. Hierdie kamer is beslis nie haar en haar twee vriendinne s’n nie. Dis luuks. Soos ’n wittebroodsuite. Selfs die bed is in die vorm van ’n hart. En die spieëls.

Wat gaan aan?

In die einste spieël teen die muur langs haar sien sy haar eie beeld. Sy het ’n trourok aan: ’n oordadige, pofferige ding. Selfs die skouerlengte sluier is nog aan haar blonde hare vasgesteek. Dis wat haar kop so seermaak. Met een beweging pluk sy die gedoente af, trek ’n paar hare daarmee saam uit.

“Flippit!” Die pynlike klop-klop in haar brein is soos ’n gehamer wat geen einde ken nie. Dis hoe ’n ordentlike babelas voel. Sy onthou dit van daardie paar kere op universiteit wat sy op haar hand kan tel. Nou is sy darem al dertig en nie ’n suiplap nie. Haar pa is immers ’n dominee. Dit onthou sy darem. Verder is dinge redelik vaag. Hoe het sy hier gekom? In dié kamer?

Is sy alleen? Haar oë fynkam die oordadig luukse vertrek, die allesoorheersende wit tema – selfs die mat is wit.

Met moeite staan sy regop, sukkel om op haar jellierige bene te staan en sê vir die wit ontploffing in die spieël: “Vanessa. Sonnekus. Wat het jy aangevang?”

Hoekom die trourok? Waar is haar brein? Daar is net miswolke waar haar grysstof eens was. Hoekom onthou sy niks? Wat het gisteraand gebeur en wie se kamer is dit dié? En waar is haar verloofde, Neil? En haar vriendinne, Marlies en Wendy?

Sy onthou darem iets. Hulle het gister heeldag partytjie gehou. Tot die aand toe. Die laaste herinnering is van hulle drie wat iewers saam uitgehang en shooters gedrink het. Waar was dit nou weer? En nou is sy hier.

Vir ’n oomblik dink sy aan die rolprent, The hangover, toe daardie mans, net soos sy, wakker geword het met geen kennis van die vorige aand nie. Die gedagte laat haar hart op ’n woeste galop gaan. Nee, sy het geen sterk drank gedrink nie, net ’n shooter of twee of drie. Wat nog? Nee. Geen herinneringe van gisteraand nie.

Neil en hulle ander vriende, Luhan en Buks, is seker veilig in hulle eie kamer, dalk ook aangeklam, maar hulle sal kan verduidelik wat hier aangaan. Wat was hulle kamernommer nou weer? En haar en haar vriendinne se kamer? Hoe gaan sy hulle opspoor? As sy reg onthou, is daar by Caesars-hotel ses torings wat elk blyplek vir duisende mense bied. Vierduisend kamers, onthou haar verwarde brein. En in watter een is sy nou? Dalk is sy ontvoer? ’n Menseroofsindikaat of iets? Ysige rillings gly deur haar are. Nee, dis al daai boeke wat sy so verslind wat haar nou op hol jaag.

As sy net vir Luhan kan bel, hy is immers Neil se beste vriend, ook háár beste vriend. Hy het oplossings vir alles. Al bel sy hom in die middel van die nag is hy daar: nugter, betroubaar, met raad en daad. Waar is haar foon?

’n Geluid in die badkamer! Sy skrik reg in die rondte. Is iemand daar binne? In daardie Hangover-rolprent het een van die mans die oggend ná hulle ook so in hul hotelkamer wakker geskrik het met geen herinnering aan die vorige aand nie ’n tier in die badkamer gekry . . . Dis ’n onrusbarende gedagte.

Met bewerige bene stap sy soontoe. Dalk is daar net ’n mens in en dan kan sy antwoorde kry op wat ook al hier gebeur het. Wil sy regtig weet hoekom sy ’n trourok aanhet en in ’n vreemde kamer is? Sy trou oor twee weke met Neil. Sê nou net dis nie Neil daar binne nie?

Die kroegyskassie in die oopplanarea van die sitvertrek trek haar aandag en ’n droë sluk slaan vas in haar keel. Water! Sy pluk dit oop, gryp ’n botteltjie lafenis en drink dit heeltemal leeg. As haar kop net nie so seer was nie en sy helder kon dink! ’n Ander pyn verdring haar kopseer, laer af teen haar lae rug. Dis ’n branderige, seer gevoel. Dalk het sy boonop in haar dronkenskap iewers neergeslaan. Nee, sy is nie so nie. Sy is kuis en ordentlik.

Die water gee haar moed. Soos ’n zombie loop sy stadig na die toe badkamerdeur, haar een hand voor haar uitgestrek. Haar bewerige vingers trek die handvatsel af, stoot die deur stadig oop. Sy loer in.

Luhan?

Haar en Neil se beste pel van universiteit af . . . Poedelnakend kaal.

“Bliksem!” Hy vries, staan sopnat voor die stort.

Die handdoek waarmee hy sy ligbruin hare afdroog, val grond toe. Boonop lyk hy nou soos daardie Dawid-beeld iewers in die voorportaal van die luukse Caesars Palace waar hulle ses tuisgaan.

Die lewe verlaat haar lyf, dreineer deur haar voete die grond in.

En om een of ander rede kan sy nie haar oë van al sy onnoembare plekke wegskeur nie. Welbedeeld, is die term waaraan sy dink.

Hy tel die handdoek vinnig op, hou dit voor sy naaktheid. Lyk skuldig.

“Luhan?” Vanessa se brein is soos daardie Google-sirkeltjie op die rekenaarskerm wat soek en soek en niks kry nie. “Hoekom is ons hier?”

“Flippit. Ek weet nie.”

“Hoekom het ek ’n trourok aan?”

“Ek weet nie.”

Sy probeer verby die kopseer fokus. Verby Luhan se kaal manlikheid wat sy so pas aanskou het. Hoe gaan sy daardie prentjie uit haar kop kry? Ná al die jare se vriendskap wil ’n mens nie jou vriende so onthou nie. Hoekom is haar lyf nou vuurwarm?

“Wat weet jy?” Hoekom is sy nou vir hóm kwaad?

Hy kyk orals behalwe na haar. Sy helderblou oë is groot. “Niks! Toe ek wakker word, langs jou in die bed . . . ek weet wragtig nie hoe ek . . . ons . . . daar beland het nie.”

Haar oë daal na die handdoek wat hy steeds voor hom vasklou.

“Wat het jy aangehad? In die bed? Toe jy wakker word?”

Sy vierkantige kake byt so styf opmekaar vas dat die spiere aan die kante bult. “Niks.”

Hoekom sien sy nou sy sterk kakebeen raak? Ná al die jare? ’n Gedagte vanuit nêrens flits deur haar gemufde brein: haar hand wat om sy baardstoppels streel . . . Nie ’n gedagte nie, ’n herinnering!

’n Naarheid kom lê oor haar hele wese. Dit trap in haar maag rond, wil ontsnap. Met een tree is sy by die toilet en gooi alles wat sy gisteraand in haar lyf geprop het in die wit lelie op.

Met die een hand probeer sy haar deurmekaar blonde hare agter haar kop vashou en met die ander balanseer sy haarself oor die toilet.

Waddehel het gebeur? Hoe vernederend is hierdie hele situasie nie! Sy met haar kop in die toilet, en Luhan in sy geboortepak hier langs haar.

Toe sy uiteindelik opkom, het hy sy denim aan en staan kaalbolyf langs haar, sy oë bekommerd op haar en ’n glas water in die hand.

Hoekom is sy spiere so kragtig oor sy lyf uitgebeitel en hoekom het sy nog nooit die sespak oor sy maag sien vleg nie? Wat gaan met haar aan?

Sy roep Neil se gesig voor haar op. Die man wat sy liefhet en mee gaan trou. Neil Hunter, haar verloofde al vir twee jaar. En oor twee weke is sy mevrou Hunter. Waar is hy, die man wat haar moet beskerm en bewaar teen hierdie soort gevare?

Daar is soveel vrae.

Luhan probeer haar regop help toe sy opbeur. Sy klap sy hand weg, worstel terug op haar voete te midde van die uitspattige trourok wat haar beweging bemoeilik, en vee haar mond met ’n handdoek af. Hy druk die glas water in haar hand. Dit neem sy dankbaar en sluk alles weer eens gelyk af. Sy is so vreeslik dors. En wat is die pyn teen haar lae rug?

Haar oë dwaal oor sy lyf. Die prentjie van hom wat sy gesien het toe sy die badkamerdeur oopgemaak het, kielie aan haar abdomen. Haar gesig behoort nou so rooi soos ’n tamatie bokant die wit rok uit te steek. Sy draai vinnig weg, verlaat die badkamer en gaan sit op die bed, haar hande in haar hare, elmboë op die knieë. Dink!

“Wat het gebeur? Onthou jy regtig niks?” vra sy met ’n stemmetjie wat naby aan breekpunt is.

Hy kom sit langs haar, lyk net so verward. “Niks.”

“Kan jy ons kamers se nommers onthou?”

“Ek dink dit was op die twaalfde vloer. Nee, die dertiende. Ons het nog daaroor grappies gemaak. Oor watse slegte nuus dit kan voorspel.”

Nou is dit geen grap meer nie. Slegte goed het blykbaar gebeur.

Waar is haar klere? Haar oë gaan weer oor sy lyf. Vir wat? Stop dit.

“Dink jy . . . ons . . . het . . .?” Sou sy vir Neil so maklik verneuk het, sonder om te weet? Nee, wragtig, sy is iemand met ordentlike waardes. Haar pa is mos darem ’n blerrie dominee en haar ma ’n kwaai Afrikaans-juffrou.

“Nee.” Luhan wat altyd in beheer van enige situasie is, die een wat al Neil se sakebelange regoor die wêreld beplan en probleme uitsorteer. Hy is immers die voice of reason van hul vriendekring. Nou staan hy half paniekerig op, trek sy vingers deur die ligbruin hare wat in sy nek krul. Sy oë vermy hare. Hoekom het sy nog nooit gesien hoe vreeslik blou dit is nie?

Sê nou net hulle het gisteraand dinge aangevang? Vreeslike dinge?

Dit is immers Las Vegas hierdie. Hoekom het sy ingestem dat hulle hiernatoe kom? Almal weet van die gevare van Vegas – die feit dat ’n mens te maklik jou waardes en norme vergeet. Neil, die partytjiedier, die hart van elke jol, geld se baas, hy wou mos groot gaan, hul vriende bederf en sommer hul albei se bachelor- en bachelorette-partytjie hier hou. Mans op hul eie en vroue op hul eie vir daardie eerste dag wat hulle hier sou aankom. Saterdag. Dit was gister. En verder kon hul saam kuier, die tyd van hul lewe hê. Memories maak, het Neil gesê. Baie foto’s neem.

Foto’s. Sy staan op, kyk rond in die vertrek. Waar is haar selfoon? Haar handsak lê op sy kop gekeer agter ’n wit sofa. Met bewende vingers soek sy daardeur, kry ’n sleutelkaart.

“Hier is ’n nommer op. Dis ons vrouens se kamer. 1331.”

“Ja, dis wat dit is. Ons manne is 1333.” Meer gefokus vou hy sy arms voor hom. “Kom ons gaan terug soontoe.” Hy kyk ook nou rond, soek seker na sy besittings.

Hoekom kyk hy haar nie in die oë nie? Onthou hy meer as sy?

Sy grawe verder deur haar handsak, sug van verligting: “My selfoon.”

Dankie tog, dis iets bekends. Iets wat sy herken op hierdie bisarre, deurmekaar oggend. Skielik sien sy haar linkerhand se ringvinger.

“Liewe-goeie-donner-tog! Luhan, hier is ’n vreemde ring aan my vinger.” Sy hou haar hand voor haar in die lug, haar vingers stokstyf gevries. Die enkele diamantjie in die goue pand glinster vrolik.

Luhan staan ’n paar tree weg van haar af, blykbaar nie seker wat om te doen nie. Hy moenie so verward lyk nie. Hy is die sterk ene van die groep.

Wat altyd weet wat om te doen. Die fixer, sou hulle hom in misdaadflieks noem. Hy het ’n oplossing vir alles. Of so ken sy hom. Ken sy hom regtig? Het hy dié ding beplan? Om haar te verlei en na hierdie kamer toe te bring? Om een of ander vieslike rede?

“Is ons getroud?” vra sy suspisieus. Haar hart klop nou so erg dat dit haar kopseer se geklop verbysteek. “Jy weet iets, nè?”

“Nee magtig, man, Vanessa.” Hy soek skynbaar na die regte woorde. “Ek weet so min soos jy. Hoekom sou ons twee met mekaar trou? En waar is my selfoon?” Op die grond langs die bedtafeltjie kry hy sy foon en beursie. Sy hemp lê ook daar. Dié pluk hy oor sy kop: ’n wit langmouhemp met frilletjies om die kraag. Soos ’n trouhemp . . .

“Wat het ons gedoen?” Vanessa se stem bewe, ’n paar klein aardbewings sidder deur haar hart.

Hy skakel sy foon aan, kom staan langs haar en soek na die lêer waarin sy foto’s gebêre is.

“O, fok tog.” Hy hou die foon buite haar bereik.

“Wys my.” Sy pluk sy hand nader, bekyk saam met hom die reeks foto’s, sy lyf warm teenaan hare en sy spiere kliphard teen haar arm. Is dit my hand of syne wat so bewe? Sy los syne, maar bly na die skerm kyk. Gehipnotiseer en vreesbevange.

Daar is foto’s van die drie manne wat iewers in ’n restaurant by ’n tafeltjie sit en drink. Dan kom die drie meisies daar aan, bont skemerkelkies in die hand. Marlies skink vir hulle elkeen van haar oupa se mampoer in shooterglasies.

“Marlies het nog gespog met die antieke bottel wat sy van Suid-Afrika af saamgebring het – vir goeie geluk, soos die tradisie in haar familie nog al die jare was, onthou jy?”

Hy kreun net ja.

Dan volg ’n selfie wat Luhan geneem het waar hulle almal die glasies teen mekaar klink. ’n Paar foto’s volg van hulle ses wat lag, drink en sommer net laf is.

“Ek onthou hierdie kuier nog. En jy?” vra hy hier naby aan haar gesig.

Sy knik, kyk vinnig op in sy oë – wat nie ’n goeie plan is nie. Dis of die blou haar hipnotiseer. Dan kyk sy weer na die foon.

Dis die laaste paar foto’s wat Vanessa na haar asem laat snak.

Die binnekant van ’n spierwit kapel. Neonkleur kruise orals teen die mure. Elvis Presley is daar in sy wit bedazzlepakkie. Effens dik, swart pruik uit die oude doos, met sonbril en al. Wit Bybel in sy hand met baie blieng op. Daar is ’n foto van haar en Luhan waar hulle voor die eerwaarde Elvis staan en lag dat hulle kleintongetjies wys. Hulle soen. Verskeie hoeke van die soen volg. Nog foto’s van Luhan wat haar in die lug optel. Hy gooi haar oor sy skouer. Nog ’n foto van haar wat onderstebo deur die valle van die rok deur loer en lag.

Dit is dit.

“Waddehel?” hyg sy. Haar hand klap haar mond toe.

“Wadde-blerrie-hel?” Hy gooi die foon op die bed neer asof dit die bewyse gaan uitwis. Sy gesig is gryswit, sy hande in sy hare. Dit lyk darem nie of hy die ding beplan het nie. Skrale troos.

Skielik dink sy nugter, verby haar babelasbrein en gefokus op die hede. Sy sal die tameletjie moet oplos. En vinnig ook. Want dit lyk nie of Luhan iets gaan beteken nie. Sy dog nog altyd hy kan in die ergste krisis kalm soos ’n daggawalm optree. Toe nie.

“Dit het nie gebeur nie,” besluit sy.

Hy kyk vraend na haar. Die dag oue baardstoppels en hare wat klam in sy nek hang, laat hom ’n bietjie soos Chris Hemsworth lyk, die ou wat die dondergod, Thor, in die Marvel-rolprente speel. Wel, sy lyf lyk ook so. Die man hier voor haar kan maklik sy dubbelganger in die flieks wees. Nee, man, fokus. Dis Luhan Adler, jou pel. En jy is duidelik nog stormdronk, sê ’n flou stemmetjie binne-in haar.

Die einste Thor kyk haar vraend aan asof sy ’n vreemde, antieke taal praat.

“Dit het nie gebeur nie,” herhaal sy. “Niemand hoef te weet nie. As Neil uitvind . . . Nevermind dat ons getroud is, maar dat ons in die bed . . . Wat ook al gedoen het.”

Hy knik. “Ek verstaan. Ek dink nie daar het iets gebeur nie. Ons sou tog weet?”

“Ons weet nie eens ons het getrou nie – behalwe vir die bewyse hier op jou foon.” Sy kreun smartlik en loop op en af in die kamer. “Dis seker nie wettig nie? So ’n vinnige Las Vegas-troue? Ek bedoel, Elvis kan ’n mens mos nie wettig trou nie?”

Hy haal sy skouers op.

Kan hy nie meer emosie wys nie? Of positiewe energie in hulle situasie blaas nie? Hy is die fixer, nie sy met haar babelaskop nie.

“Sê net iets, oukei?” Sy wil hom aan sy skouers vat en wakker skud. “Dit het nie gebeur nie. Sê dit.”

“Dis reg. Jou plan klink reg.” Hy knik, maar lyk steeds nie of hy verstaan wat sy sê nie. Luhan is verreweg die slimste ou in hulle vriendekring, maar dit lyk of hy sy brein gisteraand weggedobbel het. Sy dalk ook. Haar kop voel soos ’n leë dop.

“Ons gaan kamers toe, ignoreer hierdie . . . wat dit ook al is. En vat dit van daar af. Reg so?” vra sy met meer paniek in haar stem as wat sy wou.

“Absoluut. Neil sal my anyway nooit vergewe nie. Of vir jou nie.” Hy stap deur toe. Kyk haar vraend aan. “En die trourok? Hoe gaan jy dit verduidelik?”

Sy kyk af na die wit gedoente. Daar is geen ander klere in dié kamer nie. Waar het sy die ding gekry? Waar is haar klere van gisteraand? Dit was nogal ’n duur rok. So ’n pers glitteraffêre wat soos daai onesie van Sandra Bullock lyk in die fliek, The lost city.

“Dalk slaap Marlies en Wendy nog. Ek sal ingaan, die rok iewers wegsteek en in die bed klim.” Dit moet net werk.

Hulle stap versigtig uit die kamer hysbak toe. Daar is ’n nommer twintig bo die deur. Sonder verdere woorde is hulle in. Luhan druk die knoppie vir dertien en vermy oogkontak.

By haar kamer se toe deur kyk sy hom weer ernstig aan. “Asseblief, Luhan. Niemand kan weet nie.”
Hy knik, lyk soos Thor wat totaal in beheer van die heelal is, maar sy weet hy is nie. Hy is nou so deur die weer soos sy. Weet so min soos sy.

“Ek is jammer, Vanessa, oor . . . wat ook al. Ek is jammer. Ek kan nie dink wat in ons gevaar het nie.”

“Ons praat nie weer hieroor nie.” Hemel, as Neil moet uitvind . . . Hul troue sal afgestel word.

Hy druk haar skouer half onbeholpe asof hy haar so wil oortuig dat dit die laaste van hierdie storie is en stap verder aan na sy toe kamerdeur. ’n Skoonmaker kom in die gang af en Vanessa hoor hoe hy haar vra om die deur vir hom oop te sluit.

Sy druk die sleutelkaart by haar kamerdeur in en dit gaan oop. Dankie tog, hulle is in die regte gebou. Sy loer eers binnetoe en sien die vertrek is nog in skemerdonkerte gehul, die gordyne dig toe. Op die dubbelbed lê Wendy en Marlies rustig en slaap.

Dan eers gaan sy binne. In die badkamer, so sag as wat sy kan, pluk sy die trourok van haar lyf af. Dis ’n gesukkel, want die ding het ’n spul knopies en ritssluiters. Wie sal in so ’n oordadige rok trou? Beslis nie sy nie. Toe die rok uiteindelik op die vloer val, stort sy lank en warm. En was al die sondes wat ook al kon gebeur het van haar lyf af.

Hoekom kan sy nie onthou indien sy wel saam met Luhan geslaap het nie? Sy behoort daardie lyf te onthou . . . Nee, flippit, vroumens, jou kop het nou uitgehaak. Neil is jou trouman. Sy lyf is ook goed ontwikkel. Ook spiere op die regte plekke. Al is hy ’n hele kop korter as Luhan.

Ja, luister vir daardie binnestem.

Haar gedagtes neig weer na ander onrusbarende plekke. Hoe gaan sy Luhan se kaal lyf uit haar kop kry? Die druppels orals op sy bruingebrande borskas en sy klam kuif. Hy het soos ’n model in ’n tydskrif gelyk. Nee, Vanessa, stop!

Toe sy haarself afdroog, voel sy iets wat teen haar lae rug vasgeplak is. Daar waar dit so seer en geskaaf voel. Sy draai met haar rug na die badkamerspieël, breek omtrent haar nek om te sien wat aangaan. Dis ’n losserige pleister. Sy trek dit af.

"Ouch!”

Dan sien sy in die spieël die volgende probleem. Rooi en opgehewe. ’n Tatoe.