Skip to main content

Uittreksel | Tango met ’n twist

Een

Hang belowende prima ballerina haar balletskoene op?

Lisette staar geskok na die lokberig op die regterkantste hoek van Die Tuisvriend se voorblad. Tussen die goue lokke van ’n nuwe Suid-Afrikaanse sangsensasie staan die beriggie in pikswart letters gedruk. Sy vergroot die beeld op haar selfoon.

“Berndine, ek’s seker hierdie foto’tjie kom nog uit my skooljare!”

“Met boksterte en al!”

“En met drade in my tande! Nee!”

“Dis die eerste woorde wat ek van jou terugkeer hoor, Lisette Posthimus. Is ons nie besties nie? Hallo … hallo, is jy daar?”

Lisette se beste vriendin se misnoegde stem oortref amper die aankondigings wat hol deur Knightsbridge se tonnels weerklink. Lisette voel hoe haar skouers nog ’n aks sak.

“Waar sou hulle die storie uitgekrap het?”

“Ha-ha, in sosiale media hardloop stories vinniger as ’n windhond met terpentyn onder sy stert.”

“Gross! Dis net ’n joernalis wat sulke aaklige vergelykings kan maak!”

“Dis die stóries wat gross is,” rammel haar vriendin se stem ongestoord, ongevoelig voort. “As jy dink die voorblad is erg, moet jy eerder nie die hele tydskrif aflaai en die soetsappighede oor jou balletloopbaan lees nie. En ’n volbladfoto van jou wat gevaarlik hoog in die lug split – dramaties! Én een van jou in ’n koekerige rok met baie valle en vere om jou nek daardie jaar toe jy eerste joolprinses by Tukkies was. Almal het geweet hoekom jy nie die kroon gekry het nie. Hoekom moet ek nou eers in Die Tuisvriend hiervan lees?”

Lisette val haar vriendin se teatrale tirade ongeduldig in die rede: “Ek het my werk verloor!”

“Wat?”

“Jy’t reg gehoor. En omdat ek duisende reëlings het wat ek moes tref, was daar nie tyd om iewers simpatie te soek nie, man! Dit gaan dol met my. En dan ly ek ook aan skok …” Lisette sluk omdat die trane dam maak in haar oë.

“Wat het gebeur?”

Die bietjie simpatie in haar vriendin se stem draai haar traankrane oop. Sy soek in haar baadjiesak vir ’n snesie en snuif hard. “Royal Performance Art Academy het … móés ontbind.” Sy sluk pynlik, leun terug op die ongemaklike perronbankie in die raserige tonnel onder Londen se besigste straat. “Covid het ons planne in die wiele gery. Die maatskappy kan die dansgeselskap nie meer finansieel in stand hou nie. Jy weet mos … almal is ’n bietjie armer ná die pandemie. Vrek bang vir die virus. Kunstenaars kry wragtig swaar.”

“Ag nee, man, Londen is mos ’n kultuurstad; iewers gaan iemand ’n ballerina van jou formaat wil opraap.”

“Werk in die kultuurwêreld is so skaars soos hoendertande.” Lisette forseer haar oorfone dieper om beter te kan hoor toe ’n trein rammelend en met skreeuende remme op die swakverligte perron voor haar tot stilstand kom. “Die toestand is ongelukkig oral dieselfde – operahuise, teaters, you name it – almal is negatief geraak deur die virus.” Sy snuit haar neus en frommel die snesie in ’n klein bondeltjie. “Buitendien … ek het my lus vir die koue, nat weer hier in Engeland verloor.” Sy kan nou maar teenoor Berndine erken sy verlang huis toe, Suid-Afrika toe. Sy wil iewers begin met ’n loopbaan. Sy wil nie in Engeland oud word nie.

“Ek kan nie mooi hoor nie! Wat lawaai so?”

“Ek wag vir my trein in ’n molstasie,” probeer sy verduidelik.

“Hoekom bel jy my nie as jy weer rustig in jou stil woonstel is nie? Dan wil ek alles hoor.”

“Jy verstaan nie, ek hét amper nie meer ’n woonplek nie.” Sy hoop nie haar vriendin hoor die trane in haar stem nie.

“Wat?”

“Hoor jy nie wat ek sê nie? Ek het my werk verloor en is besig om te pak. Ek kom terug Suid-Afrika toe. Die balletgeselskap het ontbind.”

“En hier dog ek nog altyd jy gaan die wêreld se grootste prima ballerina word!”

Lisette blik vinnig na die elektroniese inligtingsbord wat bokant haar oor die perron hang – haar trein is in aantog. Dis asof die werklikheid nou eers behoorlik tot haar deurdring. Sy sal oud word sonder om ooit die geleentheid te kry om die romantiese pas de deux uit Tchaikovsky se Neutkraker saam met Mario Olvetti te dans. Haar skouers sak moedeloos.

’n Kans van ’n leeftyd is deur ’n onderduimse gekonkel voor haar neus weggeraap. Sy was amper oor die insident geskors, al is sy onskuldig bevind. Sy trek haar mus laer oor haar ore teen die koue wind wat deur die tonnel suis en knyp haar oë styf toe om nie toe te gee aan die dam trane nie.

“Ag, man, dit kan nie so erg wees nie. Ek kan hoor jy is ’n bietjie depro vandag. Gaan drink maar iewers ’n lekker ou teetjie met ’n komkommertoebroodjie daarmee saam om jou beter te laat voel.”

Lisette sug. “Jy verstaan nie. Sonder inkomste in ponde kan ek nie eers ’n flou Engelse teesakkie koop nie! Ek is platsak. Elke oomblik hier in Londen vreet my laaste spaargeld gulsig op. Ek het aansoek gedoen vir poste by die kunsskole in Pretoria en die Kaap, maar nog niks gehoor nie.” Sy swaai haar handsak oor haar skouer toe sy sien haar trein is soos ’n insek met een oog blitsig in aantog. “Ek sal maar oor die Kersseisoen saam met die familie by my ma-hulle op die plaas gaan plak.”

“Wag ’n bietjie.” Berndine se stem is ineens so duidelik asof sy oorkant haar op ’n bank in die trein sit. “My ma het vanoggend met haar vriendin in Granada brug gespeel en toe het sy …”

“Jou ma het met haar vriendin in Spanje brug gespeel?” Lisette krap afwesig in haar handsak rond vir ’n skoon snesie.

“Ja, man, op Zoom. Toe noem sy dat hulle dringend ’n soort van versorger vir haar seun se dogtertjie soek, want die kind herstel blykbaar ná ’n slegte siekte en die pa was in ’n ongeluk betrokke, en die ouma is self nie van die gesondste om na haar om te sien nie. Dit moet ’n Afrikaanssprekende meisie wees. My ma het vir my gevra of ek nie sal belangstel nie, maar ek en Carl het …” Berndine se stem verdwyn in die donkerte waarin die trein deur die mensgemaakte tonnels in die aarde voortstu.

“In Spanje? En nou dink jy ek moet aansoek doen? Ek kan nie kook nie en ek is nie opgelei om huis te hou of na siek mense om te sien nie.”

“Nee! Ek sê dan vir jou dis net om die kind geselskap te hou. Soort van ’n au pair vir die dogtertjie. Daar is glo ’n butler wat al die ander werkies kan doen.” Berndine se stem sak ’n aks. “Die mense is nie van hier nie,” skinder sy kliphard in Lisette se ore. “Die man is glo ’n vooraanstaande chirurg in die Kaap, en die familie gebruik die huis net vir ’n paar maande in die jaar daar iewers in die Spaanse gebergtes. My ma sê haar vriendin sê hulle Kersvakansie is elke jaar soos ’n sprokie en …”

“Haai, Berndine, ek sal later bel, die foon breek nou baie op,” jok Lisette. Sy het nie meer veel lugtyd op haar foon oor nie en sy moet ’n magdom reëlings tref voor sy volgende week op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe kan klim. Die trein spoeg haar saam met die menigtes op ’n perron uit. Die verkeer is druk en sy is verlig toe sy die trappe af na haar woonstelletjie klim. Hierdie plekkie met die enigste uitsig deur die paar venstertjies wat op ’n sypaadjie half onder ’n stel trappe uitkyk, was haar woonplek vir die afgelope drie jaar terwyl sy daagliks by die dansgroep gewerk het. Hier het sy die blase op haar tone gelaaf en so gesond moontlik geleef, haar eie kos voorberei. Sy het nie kans gesien om in luukser omstandighede saam met ’n klomp ander meisies in dieselfde huis te bly nie. So knap as wat dit is, met ’n skrapse interieur, was hierdie plek ’n holte vir haar voete met haar immer seer tone. Net hare om haar ewewig te behou in ’n werk wat fisiek baie hard op haar liggaam was.

Die bottel witwyn in haar yskas se inhoud lê gevaarlik laag, sien sy toe sy buk om dit uit te haal. Sy skud haar skouers nonchalant en voel dapper toe sy die laaste druppeltjie wyn uit die bottel in haar glas laat leegloop. Die enigste gemaklike stoel in die vertrek staan grotesk langs ’n tweesitplekbankie – die vorige huurders se uitskot waarvoor sy by die eienaar moes soebat om te verhoed dat dit op die sypaadjie uitgesmyt word.

“Hallo, stoel,” sug sy toe sy daarin neersak, “vir jou sal ek die meeste van alles mis wanneer ek jou volgende week hier in die ysige Londen vir die nuwe huurders moet los.”

Sy hoor die tieng van haar foon net toe sy haar stewels uitskop om haar seer voete op die koffietafeltjie uit te strek. Sy roer haar tone ongeduldig in die helderkleurige sokkies toe sy weer Berndine se nommer sien.

Au pair in Spanje nr. Go4it!

Nog ’n tieng. Dis ’n vreemde selnommer wat op die identifikasiekaartjie staan: Dr. H. Leon.

Lisette leun met haar kop agteroor teen die sagte kussing van die verweerde stoel. Sy druk haar wynglas oorwonne in die lug sodat die inhoud in die sagte lig van die enigste staanlamp in haar oë flonker.

“Come what may! Tjeers, my liewe stoel!”

Sy haal diep asem voor sy haar vinger op die nommer druk.

“Hugo Leon.” Diep stem, klink beduiweld.

Lisette se vinger huiwer op die dooddrukknoppie.

“Dis Lisette Jooste. Ek …”

“Iemand het jou by my ma aanbeveel vir die pos as au pair.” Kortaf. Sy skok verskrik orent.

“Lig my in, meneer Hugo.” Sy hou haar asem in. Sy onthou van haar banksaldo wat gevaarlik naby aan rooi lê.

“Leon.”

Lisette rol haar oë. Sy sweer hy het die eerste keer gesê Hugo. “Ek het by ’n vriendin wie se ma by haar brugvriendin gehoor …”

“Is jy goed met kinders?”

Ongeskikte vent, om haar so in die rede te val! Die duiwel kom sit op haar skouer. “Ek weet nie. My broer se seunskinders is onhebbelik, ek wil hulle nekke omdraai as ek hulle babysit …”

“Juffrou, ek het net een dogtertjie en as jy haar nek wil omdraai, sal jy met my te doen kry.” Lisette hoor die dreigement in die stem en onthou dat haar finansies ’n dringende aanvulling nodig het.

“Nee, ek bedoel net dat seunskinders rof is en …”

“Het jy kwalifikasies?”

“Ek kan dans.”

“Kwalifikasies het niks met uitspattige gewoontes te doen nie, Juffrou. Rook en drink en dwelms sal beslis nie toegelaat word nie. Ons laat nie TV toe nie. Het jy darem ’n skoolopleiding gehad sodat jy etikette op medisynebotteltjies kan lees? Sy herstel nog van ’n siekte.”

Lisette voel die verleentheid warm teen haar nek opslaan. Wie wil nou vir so ’n trol gaan werk! As dit nie vir haar skrapse beursie was nie, het sy die foon in sy oor neergeplak. Dêmmit!

“Ek het so ’n bietjie … kennis.” Sy rol haar oë, maar besluit dan om niks te sê van haar graad in anatomie en fisiologie wat haar kwaai, praktiese pa haar gedwing het om eers te doen voor sy die “lawwe” besluit sou neem om vir ’n paar jaar as ballerina te werk nie. “Ek kan alles doen behalwe om ’n motor in Europa te bestuur.” Sy kan ook nie vir hom sê sy het in elk geval eers met die derde probeerslag en met ’n mooi glimlag, haar rybewys in haar tweede jaar op universiteit gekry nie. Dit boonop op ’n plattelandse dorpie omdat die verkeer nie daar so erg was soos in Pretoria nie.

“Jy hoef nie ’n bestuurslisensie te hê nie, want alles hier by ons is binne stapafstand van ’n groot koopsentrum, of ons gebruik openbare vervoer.” Sy hoor die ongeduldige kug. “Sal jy onmiddellik beskikbaar wees?”

“Een week …”

“Nee, ek verwag jou oor drie dae. Whatsapp jou e-posadres vir my – die kaartjie sal jy vandag nog kry. Van Heathrow tot in Granada. Direkte vlug. My butler sal jou op die lughawe kry.”

Lisette se mond sak oop. “Stel jy my aan ten spyte van my skolastiese gebrek en neiging tot uitspattige gewoontes?” Die man moet desperaat wees, anders sou hy nie so ’n vinnige aanstelling gemaak het nie.

“Nee, slegs op my ma en haar vriendin se aanbeveling,” bevestig hy haar vermoede, “omdat ek my ma glo dat jou familie nie analfabete is nie. En omdat ek niemand anders kon kry wat ’n visum het om dadelik Granada toe te vlieg nie. Veral nie ’n Afrikaanssprekende nie en … oor die Kersseisoen nie. Dus stel ek voor dat jy jou rugsakkie pak, jou toerplanne wysig en op die vliegtuig klim.”

Lisette sak terug in haar sitplek. Sy kantel haar wynglas – daar is nie ’n druppel oor vir vertroosting nie. “Stoel,” sê sy uiteindelik, “hierdie oproep was die grootste fout van my lewe.” Sy sug melodramaties en vryf oor die verweerde leuning. “Iets sê vir my Granada is nie die romantiese dorpie wat ek in my drome gesien het nie. Iets sê ook vir my Bloubaard en sy gespuis sit en slyp hulle tande vir hierdie meisie wat sy geheime kamer gaan oopsluit.” Sy sug weer. As dit net nie vir haar dalende banksaldo was nie …