Skip to main content

Uittreksel | Sy proe soos heuning

Een

Irma klap verskrik na die vrypostige hand naby haar agterstewe. “Hou jou hande vir jouself!” skel sy ter­wyl sy omswaai.

Die man ruk soos hy skrik en enkele springmielies vlieg uit die houer in sy ander hand. Sy lang blonde kuif val tot amper in sy wydgerekte oë. As sy nie so verontwaardig was nie, het die man voor haar ’n heel ander reaksie as woede ontlok.

“Het jou ma jou geen maniere geleer nie?” spoeg sy kwaad en storm weg.

Sy probeer die sekuriteitswag vriendelik groet toe sy by hom kom, maar die glimlag om haar lippe voel stram. Sy hou haar kaartjie na hom toe uit.

’n Hand raak aan haar arm. “Hei.”

Sy kyk om en retireer. “Voertsek.”

Donkerblonde wenkbroue trek saam bo die blouste oë wat sy nog gesien het. “Ek is nie ’n hond nie.”

“Nee. Selfs ’n hond het beter maniere as jy.”

Die man stoot sy hand deur sy te lang blonde hare. “Sorrie, oukei.”

Irma hou haar hand ergerlik op. “Sorrie? Jy dink sorrie is ’n verskoning?” Sy blaas minagtend deur haar neus en kyk na die wag wat haar kaartjie na haar toe uithou. Sy bedank hom en sonder ’n terug­blik na die voorbarige vent wat so laakbaar opgetree het, loop sy na die teater waar die film draai waarna sy kom kyk.

“Hold up,” hoor sy die wag praat. Sy kyk om en sien dat hy die man terughou. “Ticket?”

Sy snuif en ’n vermakerige glimlaggie raak aan haar lippe. Die vermetele mansmens se oë hou hare nog ’n oomblik voor hy omkyk na die mense agter hom. ’n Ander man druk sy pad met kaartjies om­hoog deur die fliekgangers. Sy kyk nie langer hoe hy vorder nie. Die kanse dat hulle na dieselfde teater op pad is, is een uit drie, maar sy gaan sowaar nie wag om uit te vind nie.

Sy neem haar plek in die middelste ry in en trek die rekkie uit haar lang ligbruin hare. Sy woel met haar vingers daardeur terwyl sy haar selfoon uithaal. Met haar hare wat soos ’n gordyn langs haar gesig af hang, hou sy haar met haar selfoon besig. Sy het net so ’n gevoel dat as die twee mans hier inkom, die blonde een haar gaan opsoek.

Voorbarige, vermetele, arrogante barbaar. Hy is dalk aantreklik, maar liewe land, wat gee hom die reg om so onbeskof op te tree? Sy hoop sommer hy kry ’n kramp.

Dat hy natuurlik die mooiste oë het wat sy nog gesien het, dit is gewis. Onder ander omstandighede sou sy dalk selfs met hom gesels het net om ’n ruk­kie in daardie oë te kan kyk. Sy snuif. Maar toe is hy ’n barbaar. Dis ook nie asof sy gereeld met mans, veral wildvreemde mans, gesels nie.

Toe die ligte verflou en die eerste voorprent be­gin draai, slaak sy ’n sug van verligting. Dankie tog. Hy het toe nie . . .

Iemand tik haar op die skouer en toe sy omkyk, glimlag die man wat sweerlik glo hy is die antwoord op die vroulike geslag se gebede vir haar.

Sy kners op haar tande en sluit haar oë. “Los my uit.”

“Kan ek net . . .”

Sy staan op en gooi haar handsak se band oor haar skouer.

“Wag nou.”

Sy kyk hom vies aan. “Ek het nie kom fliek om deur ’n orige mansmens lastig geval te word nie.”

Hy hou sy hande op. “Oukei. Sit en kyk die fliek. Ek sal jou nie weer pla nie.”

Sy sien dat die rye hoër op redelik leeg is. “Nee, jy sal nie.” Sy kyk vlugtig na die ander man en sien dat hy net daar sit en grinnik terwyl hy springmielie ná springmielie in sy mond skiet. Sy vererg haar sommer vir hom ook. Hy is waarskynlik net so aan­matigend. “Addergebroedsels!”

Springmielievreter stik en Gawe-aan-vroue se mond val oop.

Sy storm weg, maar toe sy die trappe bereik, kyk sy ’n oomblik terug toe sy die donkerkop nog hoor hoes en sien dat sy vriend hom tussen die blaaie klop tot hy sy hand uiteindelik ophou. Sy wil die vent darem nou ook nie hospitaal toe stuur nie, maar hy lyk darem orraait. Dat sy nooit so praat nie, laat haar wange vuurwarm brand.

Sy gaan sit in die heel boonste ry, bly om nou deeglik van die twee ontslae te wees. Dit vat egter lank voor sy weer die vrede kry waarna sy soek. Sy was nog nooit in so ’n ongemaklike posisie nie. Dit laat haar rooi sien dat ’n man so voorbarig kan wees om ’n vrou, wat hy van geen kant af ken nie, se boud te knyp. Het niemand dan meer enige respek vir hulle medemens nie? Meer nog, dink die twee mansmense vrouens is net daar vir hul plesier? Die ergste van alles is dat sy nie eens klere aanhet wat hulle aandag hoegenaamd op enige manier kon trek nie. Nie terwyl daar genoeg ander uitlokkende lywe om haar in die voorportaal rondgemaal het nie. Sy was nog nooit soos ander meisies nie. Sy dra nie sagte, vroulike klere nie en sy gebruik nie grimering nie. Sy is ’n plein Jane. Meer so met haar ligbruin hare en bruin oë. Sy is boonop van gemid­delde lengte en het net genoeg kurwes om te bevestig dat sy ’n vrou is. Sy laat nie koppe draai nie. Sy wil ook nie – sy is tevrede daarmee om so plein te wees as wat kan kom. Hoekom kan mense haar nie net so aanvaar nie?

Wat het Gawe-aan-vroue laat dink dat sy vir sy onwelkome aandag te vinde sal wees? Het hy gedink hy doen haar ’n guns? Dat sy dalk nie haar geluk sal glo dat ’n ou soos hy in haar belangstel nie? Gmf, hy moet sy kop laat lees. Sy weet mos dis te goed om waar te wees. Wie wil ook so ’n eiegeregtige mans­mens in haar lewe hê?

Haar oë dwaal na die twee mans en sy het som­mer lus en loop uit. Net om soveel afstand moont­lik tussen hulle te kry en totaal van hulle te vergeet. Maar sy bederf haarself selde, en hierdie flieksessie was ’n verjaardaggeskenk aan haarself. Om nou te loop is geldmors, en geld is die een ding wat sy nooit mors nie. Ten minste is die kans dat sy hulle ooit weer gaan sien so goed soos nul.


“Remy, wag nou, man,” keer Irma laggend toe die ses maande oue Parson Russell haar bevlieg ter­wyl sy die bakkie se deur oopmaak. Hy lek haar in die nek en gesig. Waar hy kan bykom, daar soen hy haar.

Sy vang hom uiteindelik teen haar bors vas. “Jou lawwe ding. Het jy na my verlang, h’m?” Sy krap sy ligbruin ore en die wollerige wit lyf met die paar swart kolle deurmekaar. Toe hy speels begin grom en na haar hande begin hap, sit sy hom vinnig neer. “Ha-ha, het jou. Hallo, Caeser, Asha,” groet sy die twee Duitse herdershonde met kopkrappe.

Remy spring nog ’n oomblik opgewonde om hulle rond en hap-hap na die groter honde se nekke, maar toe Asha haar stem waarskuwend laat hoor, los hy en hardloop om sy bal te gaan haal.

“Ek is bly om te sien Remy begin sy plek ken,” sê sy vir Jonas toe hy by haar kom ná hy die hek vir haar kom oopmaak het.

“Die Caeser, hy vat baie van die kleinhond. Maar Asha, sy vattie nonsies nie.”

“Ja-nee. Gelukkig is ou Caeser die een met die geduld, nè, my groot honne.” Sy krap sy ore, dan die teef s’n. “Asha, jy sê net jy’t al genoeg ondervinding met klein hondjies. Hierdie enetjie is bloot nog ’n maltrap om in toom te hou, nè?”

Remy kom sit ’n bal by haar voete neer en sy tel dit op. “Een gooi. Ons kan later speel,” waarsku sy hom en gooi die bal.

“Hoe gaan dit hier?” vra sy terwyl sy die kappie oopsluit.

“Alles is reg. Daar was nie probleme nie.”

Sy knik, soos altyd verlig wanneer sy vir twee dae weg was Windhoek toe en niks hier op die plot skeefgeloop het nie. “Ek is bly. Dit het ook baie voor­spoedig by die Boeremark gegaan.”

“Dis goed. Ons het die geld nodig.”

“Ja, ons het,” stem sy saam met die Nama-man wat sy al van kleintyd af ken. “En Pa?”

Jonas skud sy kop effens. “Angela sê hy weier van­dag weer om te eet. Hy het my ook nie vanoggend herken nie, Irma,” sê hy ná ’n kort huiwering.

Haar kop draai skeef en sy sluit haar oë. “Ai, Jo­nas.”

Sy hand kom lê op haar skouer. “Die siekte begin hom vat.”

Sy knik stadig. “As hy jou nie herken het nie, dan beteken dit dat hy een van die dae ’n permanente ver­sorger gaan nodig kry.” Kommer slaan sy kloue diep in haar hart in. Hoe gemaak wanneer daardie dag kom? Sy is besig om haar pa stadig maar seker te ver­loor en daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie.

“Ek en Angela sal help, Irmatjie.”

Sy glimlag moedig. “Dankie, Jonas. Ek waardeer julle elke dag meer. Ons sal hom tuis versorg vir so lank as wat dit vir ons moontlik is. Kom dat ons af­laai.”

Hy knik stilswyend en hulle dra die leë kratte in die stoor in.

Jonas en Angela is onlosmaaklik deel van haar lewe en van M&H Boerdery. Sonder hulle sou sy nie kon vermag wat hulle in die afgelope ses jaar reggekry het nie. Hulle betroubaarheid en veral hulle morele ondersteuning is al wat haar aan die begin staande gehou het. Baie dae nog steeds. Sonder hulle sou sy en haar pa die plot al moes verkoop . . . en baie, baie dieper in die skuld gewees het. Die twee mense se bereidwilligheid om harder te werk as enige ander werknemer en meer te doen as wat sy ooit van hulle gevra het nadat sy die omvang van hulle omstan­dighede aan hulle verduidelik het, het gewys hoeveel Angela en Jonas vir haar en haar pa omgee. Vyftien jaar se diens voor Pa se siekte aan die lig gekom het en ondanks die besigheid se finansiële probleme, is dit vir hulle net so belangrik soos vir haar om die plot te behou. Daarom is hulle ook die enigste werkne­mers wat in die binnekring van hulle huishouding staan. Vir Jonas en Angela kan sy heelhartig vertrou, anders as soveel ander mense wat voorgegee het om daardie vertroue werd te wees, dink sy wrang terwyl sy die laaste krat op die stapel sit.

“Dankie, Jonas.” Sy trek die stoor se deur toe. “Ek neem aan die koeie is klaar gemelk?”

“En gevoer, ja.”

Sy glimlag. “Ek het geweet dit sal die geval wees. Nou goed, kom ek gaan neem by Angela oor. Dan kan julle ry.”

“Ek sal die bakkie gaan bêre,” bied hy aan.

“Dankie.”

Met die honde op sleeptou, stap sy aan na die huis waarin sy grootgeword het. Vyf en twintig jaar se herinneringe lê op hierdie werf vasgevang. Nie net vir haar nie, maar ook vir haar pa wat dit kort voor haar geboorte gekoop het. Alles op hierdie plot is eers met haar pa se sweet en bloed en nou met hare tot stand gebring. En tog word alles bedreig as sy nie die mas oor die volgende dertien maande kan opkom nie.

Sy ban hierdie vrees wat haar elke jaar hierdie tyd vasgryp uit haar gedagtes. Sy moet net deurdruk. Dinge moet sekerlik een of ander tyd beter begin gaan. Een maand op ’n slag, herinner sy haarself. So­lank as wat hulle net-net regkom, bly sy aan hoop vasklou.

Die grasperk glinster in die Septembermiddag se lig, en die vars, klam reuk stu in haar neus op. In die beddings langs die huis se siersteenmure be­gin nuwe plantjies kop uitsteek, en sommiges wys reeds blomknoppe. ’n Sagte bries ritsel deur die palmtakke bo haar kop, en teen die heining roer die mango- en sitrusbome se blare. Hoendervel slaan oor haar arms uit en sy vryf daaroor. Mariental is heelwat koeler as wat dit in Windhoek was.

“Hopelik was dit die laaste groot koue,” prewel sy. Sy stoot die bodeur van die kombuis oop en tref Angela voor die stoof aan. “Jy’s tog nie aan’t kook nie?”

’n Breë glimlag trek plooie in die bruin gesig. “Naand, Nonnie. Ek weet mos jy sal nie wil kos maak ná die lang ry nie.”

Sy lag en kom druk Angela, wat haar help groot­maak het, se skouers. “Hallo, Angela. Dis nie die ry wat my uitput nie. Dis die stad.”

“Jy’t goed gedoen?”

“Ek het. Alles is verkoop.”

“Dis goed, dis goed. Het jy darem ’n bietjie gekuier ook?”

Sy snork en leun oor die stoof om in die pot op die agterste plaat te kyk. Soetpatats. Haar mond be­gin water. “Waar moet ek nogal kuier?”

“Nee, ek wetie. Ek hoor mos maar daar is plekke waar die jongmense kan gaan dans en so.”

“Jy weet jy sal my nie dood in so ’n plek vang nie, Angela. Buitendien gaan ’n vrou nie alleen klubs toe nie.” Of blykbaar bioskoop toe ook nie, dink sy in haar enigheid en voel hoe die ergerlikheid som­mer weer in haar are begin bruis. Aan daardie voor­barige mansmens gaan sy egter nie langer dink nie. “Dankie vir die kos. Ek was tot nou nie juis honger nie, maar dit gaan baie lekker wees. Ek hoor Pa het nog nie vandag geëet nie?”

Angela klik haar tong en sug. “Miskien kry jy hom om vanaand te eet. Hy is weer nie homself nie.”

“Ek verstaan hy het Jonas vanoggend nie herken nie?”

Angela sug. “Ja.”

“En vir jou?”

“Hy weet wie ek is.”

Sy knik verlig. “Het hy gister geëet?”

“Ja, maar ook net bietjie-bietjie.”

Sy tel ’n stukkie wortel op wat op die snyplank agtergebly het en knibbel daaraan. “Dink jy dis oor ek weg was?”

“Nee, en moenie weer kom staan en spoke jaag nie. Jy weet hy eet sleg, al is jy ook hier.”

Sy glimlag moedig, al weet sy Angela probeer haar dalk net gerusstel. Tog weet hulle albei baie goed dat haar pa se gesondheid deesdae vinnig ag­teruitgaan. “Ons sal een van die dae iemand moet kry om permanent hier te kom bly.”

“Jy weet ek sal enige tyd kom intrek sodra dit nie meer anders kan nie.”

“Ek weet, maar jou familie het jou ook nodig.”

“Hulle is almal groot genoeg om vir hulleself te sorg. Sodra my jongste die jaar klaarmaak met skool, kom bly ek permanent hier in die huis.”

Sy begin haar kop skud, maar Angela gee haar nie baie kans nie.

“Ek kom, Irma. Dis finaal.”

Sy glimlag. “Nou goed. Ons praat anderdag verder daaroor. Wat is in die oond?”

“Skaapnekke. Hulle moet nog so twintig minute bak.”

“H’m, nou raak ek regtig honger.”

Angela glimlag weer breed. “Sien, ek het geweet jy sal honger wees.”

“Jy ken my te goed. Jy kan solank klaarmaak, Jo­nas wag vir jou. Ek gaan gou vir Pa hallo sê.”

Angela skakel die plaat waarop sy die gemengde groente gebraai het af. “Goed. Sien jou môre, Irmatjie.”

“Tot môre. Mooi aand.”

Irma stap in die gang af en haal diep asem voor sy aan haar pa se kamerdeur klop. Hy is wakker en sit op die stoel voor die venster wat op die voortuin uitkyk.

Sy gesig helder op en sy loop glimlaggend nader. “Naand, Pa.”


Irma lê en staar deur haar kamervenster na die sterre wat tussen die wuiwende palmtakke deur flonker. Ten spyte van die moegheid in haar lyf ontwyk die slaap haar vanaand. Haar gedagtes bly kring om haar pa, die besigheid, en die lening van die bank wat sy vandeesmaand net-net kan terugbetaal.

Irma sug en sluit haar oë. Hoe maak sy wan­neer haar pa permanente versorging gaan benodig? Die sorg wat hulle gee, gaan binnekort nie meer genoeg wees nie. Dis ’n uitgawe wat sy nie nou al kan bekostig nie. “As ek natuurlik nie nodig het om elke maand Windhoek toe te ry nie, kan ek die geld daaruit finansier,” mymer sy hardop.

Ongevraagd kruip die insident by die fliekteater haar gedagtes binne. Sy sien die arrogante glim­lag, die vonkelende blou oë en te lang blonde hare nog duidelik voor haar geestesoog. ’n Mansmens soos hy dink sweerlik dat al wat vrou is voor hom sal swig, maar om darem so voorbarig te wees om haar boud in die openbaar te knyp, dít was plein vermetel. Sy kry opnuut ’n bietjie lekker dat sy hom so geskok en sy vriend aan sy springmielies laat stik het. Hulle verdien niks minder nie. Dat hy haar skrobbering nie verwag nie, laat haar steeds stom. Het hy regtig die teenoorgestelde verwag? Werp vroue hulle dan so maklik in die arms van sulke voorbarige mans? Sy snuif. Dalk is dit wat fout is met haar. Sy sal haar nooit so laat behandel en dit oulik vind nie.

Wat hom so teenoor haar laat optree het, kan sy nog nie kleinkry nie. Sy is die allerlaaste mens wat ’n man se aandag sal trek. Te oordeel na Henrico se oordeel, in elk geval. Die gedagte aan hom laat haar hart pynlik saamtrek en sy onderdruk die snik wat diep uit haar wil losruk. Sy dwing haar gedagtes van hom en die blonde barbaar af weg en sy dink eerder weer aan al haar probleme. Daaraan kan sy ten minste iets probeer doen. Van mans en hulle streke vergeet sy met graagte.


“Remy!” roep Irma benoud en struikel vorentoe. Asha gee ook onmiddellik voor haar pad en Irma val met ’n kreun teen die stoor se muur. Genade bo genade laat val sy nie die boks glasbottels uit haar hande nie. “Jou klein pes. Bly onder my voete uit, man. Volgende keer pos ek jou terug na daai nikswerd wat jou vir my gegee het,” baklei sy. Dat haar dreigement leeg is en sy hom so nooit as te nimmer na Henrico toe sal stuur nie, weet net sy.

’n Lae fluit klink op en die honde swaai om. Hulle hardloop uitbundig na Hugo toe wat van die tuin­woonstel af aangestap kom. “Is jy oukei?”

“Ja. Dankie.” Sy druk haarself van die muur af regop en glimlag. “Maar die klein snip moet leer om onder my voete uit te bly.”

“Hy sal nog. Middag, Irma. Hoe gaan dit?”

“Goed, dankie. Jy?”

“Alles in die haak. Hoe was Windhoek?”

Sy sit die boks op die tafel langs die stoor neer. “Bedrywig, maar lonend.”

Hy glimlag. “Dis goed om te hoor.”

Sy knik. “Hoe help ek?”

Hugo is ’n heel aangename ou, maar hulle kon nog nooit juis ’n gesprek voer nie. In die paar jaar wat hy al by hulle huur, kry hulle dus selde met mekaar te doen en ook net as daar ’n rede voor is. Daarom praat hulle altyd sonder om doekies om te draai. Iets wat sy deesdae waardeer.

“Ek sal nog vanaand ’n e-pos stuur om dit skriftelik deur te gee, maar ek wou darem net eers gou met jou kom gesels. Dis oor my trip Amerika toe. My planne is uiteindelik agtermekaar. Ek vlieg begin November.”

Sy knik stadig. “Oukei.”

“Michael Bruwer kom neem in my plek waar. Is dit nog reg so dat hy in die woonstel kom bly?”

“Natuurlik.”

Hy knik glimlaggend. “Jy kan hom ook enige tyd vir hulp vra.”

Sy skud haar kop. “Ek is seker dit sal nie nodig wees nie.”

“Jy weet nooit wanneer jy ’n man se hulp nodig kry nie. Selfs selfstandige jong vroue kan nie alles self doen nie.”

Sy skalkse glimlag krap vandag aan haar en sy reageer skerper as wat sy bedoel. “Ja, ja. Ek ken die cliché. As ek regtig nie anders kan nie, dan sal ek hom vra. Dankie.”

Sy sien hoe ’n spiertjie kortstondig in sy wang spring voor hy knik. “Goed. Ek stuur later vir jou daardie e-pos.”

Sy knik en groet, maar eerder as om onmiddellik die stoor se deur oop te maak en van hom te ver­geet, kyk sy Hugo agterna terwyl hy wegstap woon­stel toe. Sy sug. Hy het hom nog nooit vir haar vererg nie, maar hy weet tog al teen hierdie tyd dat sy selde enigiemand om hulp vra. Dat sy ook nooit iets wat soos liefdadigheid lyk, aanvaar nie. Dit het hy tog geleer in die eerste paar maande waarin hy sy dienste as veearts telkemale aangebied het. Sy moes hom uiteindelik inlig dat sy nie enigiemand anders as die staatsveearts sal kan gebruik indien nodig nie. Om hulle finansiële probleme so te kenne te gee het haar dwars in die krop gesteek. Gelukkig het hy haar nog nooit weer in so ’n situasie geplaas nie.

Die honde draf agter Hugo aan tot hy by die woonstel se hekkie ingaan en hy hulle elkeen met ’n krappie agter die ore laat gaan. Hugo is een van die min mense wat sy ken met wie sy nog nie probleme gehad het nie. Mag die Michael wat tydelik kom waarneem hom tog by sy eie dinge bepaal en haar en haar doen en late ook in vrede laat.