Skip to main content

Uittreksel | Swyg

Proloog

Jy weet jy wil.

Agter hom is die geluide van ’n partytjie in volle swang. Die doef-doef van ’n popliedjie. Die skril gelag van ’n vrou. As hy nou na regs draai, sal hy hulle kan sien – die partytjiegangers agter die groot glasdeure van die elegante onthaalruimte bo-op die dak van een van die hoogste geboue in Kaapstad. Hulle is almal hier om die beroemde skrywer Louis Donkermann se verjaardag te vier; mans in gestrykte hemde en vroue in helderkleurige rokke, olieverf-figure wat meng en saamsmelt; ’n abstrakte skildery wat niemand eintlik verstaan nie.

Mis iemand hom al? Weet hulle ooit hy is nie meer in die vertrek nie? Louis twyfel. Sosialemedia-vlinders. Hulle is nie hier om sy lewe te vier nie; hulle is hier om gesien te word.

Die dak strek wyd oop voor hom – ’n muur van heuphoogte al skeiding tussen hom en die afgrond na benede. Twee-en-twintig verdiepings ver.

Hy stap nader.

Dink net.
Al die vryheid wat jy verlang, ’n kommapunt tussen hemel en aarde. Alles sal verby wees. Die sperdatums, die spiralende sinne en vraagtekens sonder vangnette. Dit sal alles tot ’n einde kom – met een, finale punt.

Voor hom is die nag deurdrenk met ink, behalwe vir Tafelberg se bleekblou beligte hange. Onderaan die berg kloek derduisende heldergeel straatligte saam, angstig afwagtend op die eerste daglig wat die vuil sementsypaadjies, half verkluimde haweloses en die rou realiteit sal ontbloot. Teen dan sal hy egter lankal weg wees. ’n Bloedkol op grys sement die enigste herinnering dat hy wel hier was. Dit en sy boeke. Sy fokken boeke.

Louis gee ’n tree vorentoe. Nog een. Nóg. Dan is hy reg by die muur.

Niemand gaan jou mis nie. Niemand gaan rou nie. Nie regtig nie.

Hy gee ’n versigtige tree nader, sy bobene teen die sementmuur. Hy hoef net op te klim en …

Als sal verdwyn – die pyn en die geraas, die stemme en die angs. Voor die mis, voor die son, spoorloos.

Wat as dit nie werk nie en hy eindig op in ’n koma, of verlam? Wat dan?
Jy was nog altyd dramaties, Boetman.

Hy druk homself op met sy arms totdat hy wydsbeen oor die muur sit. Selfs in dié posisie kan hy die krag van die afgrond voel. Meteens is die lugleemte ’n magnetiese veld wat hom nader trek. Nader en al nader. Af. Ondertoe. Grond toe.

Trek jou skoene uit. Dan sal jy beter voel.

Sy maag trek in soos ná ’n vuishou; ’n maag vol vlermuise wat probeer ontsnap. Hy voel dit. Die ysige hand van die wind wat hom saggies maar ferm vorentoe stoot.

Luister na my. Trek net jou skoene uit.

Sy handpalms sweet. As hy omswaai, sal albei sy bene oorhang. Al wat hy dan hoef te doen, is om vooroor te val.

Hy draai terug. Buk af en begin sy skoene uit te trek. Die sement is koel onder sy voete. Dit voel beter. Vaster. Voete op die aarde. Soort van.

Dié keer swaai hy sy bene oor die muur.

Fok.

Windkloue gryp hom aan die bors, probeer hom afruk. Binne hom is ’n magnetiese veld wat nou sterker as ooit afgetrek word na onder.

Jy weet jy wil.

Blou. Neonblou. Uit die hoek van sy oog sien hy dit. ’n Blou lig. Iemand staan skuins agter hom met ’n selfoon. Wat de … Louis swaai onmiddellik sy een been terug, sy gesig na die selfoonlig gekeer.

Die persoon kom nader – blykbaar om hom beter te kan afneem.

“Wat maak jy!”

“Sorry?” Die persoon laat die selfoon sak. ’n Man.

“Jy’t my gehoor. Is jy so wragtig besig om my af te neem?”

Die man sê nie ’n woord nie. Staan net daar, selfoon in sy hand. Die stem in Louis se kop is genadiglik nou stil, dalk ook wagtend op ’n antwoord, maar agter hom kan hy nog steeds die arms van die nag voel wat hom probeer ondertoe trek.

“So gaan jy nie meer spring nie?”

“My goeie fok, wat is jou probleem!” Louis swaai sy ander been ook terug dak toe. Hy trek sy asem diep in, staal homself vir die sprong terug op die dak. Een, twee, drie …

Hy spring van die muurtjie af, land byna reg voor die man. Die slag van sy voete op die sement laat sy sole brand.

’n Paar sekondes lank staar hulle net na mekaar. Nou! Louis gryp die man se arm met albei hande, en ruk dit na die kant toe. Dis vinnig, onverwags. Die selfoon kletter op die sement, maar voor Louis kan buk om dit te gryp, is die man se voet reeds daarop. Die vent buk en tel die foon op.

“Kom nou, dude. Dis net ’n misverstand.”

“Ek is nie jou ‘dude’ nie. Wie de fok is jy en waarom het jy my afgeneem! Is jy van die koerante?”

Soos wat die onthaalarea se ligte die man se gesig vang, kan hy sien dat die man in sy middel-dertigs is. ’n Oop, skoon gesig. Onskuldig, byna.

“Nee, nee, relax. Ek is ’n skrywer net soos jy.”

’n Skrywer net soos jy. As Louis honderd rand kon hê vir elke keer wat iemand hom al op die skouer geklop het met die woorde skrywer net soos jy, het hy tienduisende meer in die bank gehad. Elke Jan Rap en sy maat is deesdae ’n skrywer. Almal het ’n blog of TikTok of Insta-wat ook-al. Almal selfpubliseer. Selfbevrediging. Skommelskrywers. Die hele lot van hulle.

“Dude, dit was ’n great shot! Beroemde skrywer op die rand van ’n gebou. Dink net die views.”

Waarvan praat die fokker? “Views?”

“So ’n video is pure gold. Dit gaan ongelooflik baie views kry op social media. Instant fame.”

Te hel met instant fame. Hy is klaar beroemd. Daardie video sal net een ding regkry – dit sal hom vernietig. Louis gee ’n tree nader aan die mannetjie. Sy plan is kru, maar eenvoudig. Moker hom disnis met die voorkop.

Hy gryp die man aan die skouers, wieg op sy agterste hak en trek sy kop terug. Maar die laaitie hou meteens sy hande voor hom in ’n hensopteken.

“Hokaai, hokaai, dude, time out met die headbutt moves!”

Louis is lus en gryp die selfoon uit sy hand. Een laaste probeerslag. “Ek sê jou wat, ek sal die video delete. Ek belowe.” Hy gaan staan langs Louis en klik op die video. Louis se beeld verskyn helder en duidelik op die foonskerm. Die vent druk nog ’n knoppie. Are you sure you want to delete? Hy druk wéér ’n knoppie: Yes. Die beeld verdwyn.

Dan skakel hy die foon af en sit dit in sy broeksak, en hou sy hand uit.
“Sorry, dude, die naam is Brand. De Wyn is die van. Ek is ’n groot fan. Huge.”

Hy neem nie die fokkertjie se hand nie. “Wat?”

Skoongesig oorkant hom glimlag trots. Asof Louis ’n prys gewen het. “Jy’t reg gehoor. Die naam is Brand. Die van De Wyn. Brandewyn! Skerp, reg?”

“Dit kan tog wragtig nie jou doopnaam wees nie.”

“Dude! Natuurlik nie! Dis my handle. Vir Insta en TikTok en al daai.”

Hy het ’n drankie nodig. Brandewyn, maar die ware Jakob. Van Ryn’s. Glad oor die tong, maar met ’n gewaarborgde bosbrand in die bors.
Hy draai weg van die jonger man wat in die donkerte voor die afgrond staan en begin kaalvoet aan te stap na die verligte vertrek vol mense. Oor sy skouer sê hy: “Ek was nie van plan om te spring nie.”

“Ek dink jy was,” antwoord Brand.

Louis draai om. “Wat bedoel jy?”

“Jy’t jou skoene uitgetrek, dude.”


Kaapstad - 2024
Hoofstuk 1

Ann spoeg die melk dat dit daar trek. James kyk haar slaperig aan waar hy op sy hondekussing in die kombuis lê.
Sy vee een hand deur haar blou hare. Nee, dêmmit, man. Die laaste ding wat sy nou nodig het, is vrot melk. Dit gaan ’n moeilike dag wees. Sy benodig koffie met baie melk.
Ann gooi die melk in die wasbak, en smyt die plastiekhouer in die asblik. Dan neem sy ’n klein slukkie van die swart koffie. Dis vrek sleg. Sy gooi nog twee teelepels suiker by.

Haar getroue bulterriër, James, sug. Ek dink nie dis ’n goeie idee nie, Ann.
Wat weet jy, James! Jy is net ’n hond.
O, nou is ek net ’n hond. Hier dag ek dat ek jou beste vriend in die hele …

Die effek van die suiker tref haar kiewe. Griet Gert, dis soet.
Ek het jou gewaarsku, Ann. Oor ’n paar minute gaan die suiker inskop en dan gaan jy geheel en al hiperaktief wees. Onthou tog om later vandag melk te kry. Sommer hondekos ook. Eers moet jy egter vir my ’n drukkie kom gee. Toe?

Sy gee James se kop ’n vryf. Die suur reuk van die melk luier in die wasbak.

’n Voorbode.

Sy stap met haar slegte koffie na haar studeerkamer, waar die lêer wag.
Dokter Eduard Malan het dit vir haar gestuur ter voorbereiding vir hul ontmoeting vandag. Sy gaan sit en klik op die dokument. Dit maak oop en ’n titel verskyn: Vanessa Wessels.

Sy onthou nog die sensasionele moord. Stellenbosch was in rep en roer. Die twee meisies se foto’s was in al die koerante en orals op die internet. Sy tik Vanessa se naam in op Google en ’n reeks foto’s verskyn. Op almal is sy laggend besig met die een of ander rykmeisie aktiwiteit. Blond en bruingebrand in Mauritius. Poniestert-pragtig op ’n perd. Laggend saam met vriende in ’n eetplek – almal net so robuus en ryk soos sy.

Wag.

Sy vergroot die foto. Langs Vanessa sit ’n rooikop wat glad nie by die prentjie inpas nie. Haar hare is gekleur en sy dra ’n neusring, met ’n tatoe op haar arm. Rebels as fuck. Dit moet die ander girl wees. Christie.

Ann begin te lees. Haar koffie is al lankal koud toe sy terugsit en haar gedagtes agtermekaar kry.

Vanessa Wessels, afkomstig van ’n welgestelde familie in die Paarl, het haar woonstelmaat in 2009 op Stellenbosch vermoor toe sy twintig jaar oud en in haar tweede jaar op universiteit was. Christie Bester is met ’n vol, kokende ketel oor die kop geslaan en daarna met ’n draadhanger verwurg. Haar lyk is in die woonstel gevind wat die twee jong vroue gedeel het.

Vanessa se verdedigingspan en die staat het saamgestem oor een ding – sy was tydens die moord so hoog soos ’n kite.

MDMA is in haar bloed, spoeg en urine gevind, sowel as Propranolol en Fentanyl. Die staat het egter aangevoer dat haar dwelminname nie verminderde toerekeningsvatbaarheid veroorsaak het nie en dat Ecstacy nie psigose wat tot geweld kan lei, sal veroorsaak nie. Volgens die staat het Vanessa Wessels presies geweet wat sy doen en het sy haar woonstelmaat met voorbedagte rade vermoor.

Haar verdedigingspan het die roete gevolg van tydelike nie-patologiese onbevoegdheid. Hulle het aangevoer dat die kombinasie van dwelmmiddels haar sodanig kon beïnvloed het dat sy nie by haar volle bewussyn was nie. Haar advokate was ook van mening dat Ecstacy wel psigose en geweld kan veroorsaak. Volgens haar regspan het die nablywende psigose en vervolgingswaan tot haar moorddadige optrede gelei en het die neuro-psigiatriese simptome nie weer omgekeer nie.

Haar regspan het ’n belangrike punt beetgehad. Die newe-effekte van geweld en psigose het gewoonlik nie lank geduur nie, maar daar was al vermelde gevalle van langdurige, selfs permanente psigose. Vanessa is intussen van die gevangenis na Molenberg oorgeplaas, waar dit gou duidelik geword het dat haar psigose wel permanent van aard is.

Daar was ook ernstige geheueverlies. Van die moord het sy niks onthou nie. Geheueprobleme kom dikwels voor by psigotiese pasiënte. Deesdae word daar egter kognitiewe breinterapie – soms saam met medikasie – gedoen wat die geheue aan die gang kan kry.

Sy het ná jare van behandeling begin onthou wat daardie dag gebeur het – en nou wil Vanessa net met één persoon praat. Sy wat Ann is, is die gelukkige wenner van daardie lucky packet …


’n Uur later hou Ann voor die Molenberg psigiatriese staatshospitaal stil. Sy kan dit nie help nie. Elke keer as die twee stelle metaaldeure van die kriminele psigiatriese eenheid agter haar toegaan, voel dit vir haar kompleet sy is op ’n duikboot. Selfs die temperatuur verander. Dis kouer. Die atmosfeer kil. Die stemme van die sekuriteitswagte eggo in die veiligheidsone met sy metaaldeure en teëlvloere.

Hoe baie het sy nie al deur dié metaalverklikkers geloop nie. Honderde kere. Te veel kere. Telkens ervaar sy ’n effense beklemming. Nie vrees nie, nee. Eerder ’n verandering van vastigheid. Haar middelpunt verander, asof sy minder geanker is deur swaartekrag. Sy is skielik onderwater. Diepsee. Waar enigiets kan gebeur.

Sy was naïef om te dink sy kan hier uitstap en nooit terugkom nie. Die plek laat jou nooit gaan nie. Selfs al brand jy die ou gebou af met sy doolhofgange en oogholte-vensters wat almal dophou. Die mense is nog daar. Die inwoners. Die pasiënte. Die verwonde siele met hul herinneringe en emosies. Hulle sal nooit verdwyn nie. Soos hulle doodgaan, word ’n nuwe geslag gewondes geskep – en moet sy nogmaals terugkeer na dié donnerse duikboot vol drama.

Haar prof het altyd gesê die mens is soos die see. Op die oppervlak lyk almal dieselfde. Eers as jy onder die oppervlak duik, begin jy die verskille agterkom. Maar die vader weet, dis in die donker, onverkende dieptes waar die monsters skuil en waar niemand weet wat om te verwag nie – nie eens die pasiënte self nie.

“Hei, Dok!” sê Wayne terwyl hy haar handsak by haar neem, dit deursoek en dan teruggee. “Long time no see.”

“Nog steeds op jou pos, soos altyd!” groet sy terug.

“Altyd, altyd. Security is nog strenger sedert die moord …”

“Ek is hier om een van dokter Malan se pasiënte te sien,” val sy hom in die rede. “Weet jy of ’n besoekkamer ingerig is?”

“Ja, Dok. Kamer 204. Wag, ek buzz Dok gou in.” Hy druk ’n knoppie en nog ’n metaaldeur gaan oop.

Sy stap deur. ’n Lang, donker gang sonder vensters strek voor haar uit. Die ligte is al weer stukkend en net een flikker flou teen die plafon. Haar oë knip-knip om aan die donkerte gewoond te raak. Alles is verwronge, dof. Sy sukkel om te sien.

Min mense weet dit, maar nie enigeen kan ’n duikboot stuur nie. ’n Mens se sig moet uitstekend wees; jy moet kan kophou. Dis omdat die drukkingsromp en die water ’n mens se visie verwring. As jy twee penne aan die agterkant van die glas vashou terwyl jy daardeur kyk en jy probeer om die punte van die penne teenmekaar te bring, gaan jy sukkel om dit reg te kry. Lig kan gebuig word. Refraksie. Dis omdat die lig van die pen na jou oog deur die water, die glas én die lugruim moet gaan.

Net so kan verskillende weergawes, verskillende lae emosies, verskillende stories, die waarheid verbuig.

Aan die ander kant van die gang is nog ’n staaldeur. Een met ’n klein venster. Iemand loer daardeur. Heel moontlik ’n sekuriteitswag. Skielik voel sy angstig. Beelde flits saam met die gebreekte lig deur haar kop.

Bloed. ’n Omgekeerde stoel. Die hopeloos te dun rooi streep oor Dirk se keel. Die geblaf van honde terwyl hulle na die ontsnapte pasiënt soek. Hard en aanhoudend … Blaf! Blaf!

Die polisie het die ontsnapte later opgespoor in ’n dwelmhuis. Daar was ’n skermutseling en hy is doodgeskiet. Ná Dirk Stofberg se moord het sy gesweer sy kom nooit terug nie, maar hier is sy so fokken wragtigwaar weer.