Skip to main content

Uittreksel | Stryd vir liefde

Een

Lija staan tussen Dimitris en Claudia op die dek van die handelskip wat die hawe in Sesarea Maritima stadig binnevaar. Die weke lange seereis van Rome af is verby. Judea lê voor haar, die landstreek wat sy haar hele lewe al begeer om te sien.

Gistermiddag was hierdie grootse oomblik nog net ’n droom vir haar.

Sy en Dimitris het toe ook hier gestaan om af te koel in die laatmiddagseebries, met net die see oral om hulle. Dit was nadat hy vir die laaste keer vir haar in die geheim ’n les in selfverdediging daar onder in die buik van die skip tussen die vraggoedere gegee het – sakke graan, perkamentrolle, geweefde linne, leerprodukte soos perdesaals en leisels, alles wat die lewe in Judea vir die Romeine beter kan maak.

“Die belangrikste wat jy moet onthou, is waar die bron van jou krag lê,” het Dimitris nog vir haar gesê. “Hoe harder jou maagspiere is, hoe groter is die krag waarmee jy ’n vuishou slaan of ’n steekhou met ’n dolk uitvoer. Flink voetwerk, jou veerkrag en ratsheid om ’n hou te ontduik, jou balans te behou of te herstel, alles is gesetel in die kern van jou maag.”

Sy seegroen oë was ernstig, deursigtig, en sy het begrypend geknik.

“Dieselfde geld vir jou hart, Lija. Hoe harder hy is, hoe groter is die krag waarmee jy sal slaan, hoe groter die oorwinning wat jy sal behaal in die lewe.”

“Jy hoef nie bekommerd te wees nie, Dimitris, my hart is hard, kliphard.”

“Vol determinasie en deursettingsvermoë?”

“Vol haat en wraak,” het sy afgemete gesê.

Dis in haar hart vasgemessel.

Sy huil lankal nie meer nie.

Sy kry nie nagmerries nie.

Claudia is die een wat huil en nagmerries kry. Dis waarom hulle op hierdie skip is. Haar stiefma het al meer nagmerries en voorbodes begin kry oor haar veiligheid en haar welsyn daar in Rome. Veral nadat Pontius Pilatus, haar man en Lija se stiefpa, as goewerneur hier na Judea toe gestuur is en sy Lija alleen daar opgepas het. Sy het uiteindelik besluit om Lija na ’n veiliger plek te bring, buite die bereik van haar eie pa, Cassius Longinus, ’n gevreesde tiran. Toe Lija net sewe jaar oud was, het hy haar ma vir die soveelste maal hewig aangerand en verneder, haar byna vermink op ’n skip weggestuur. Hy het daarna ook vir Lija aan sy gewelddadige drange blootgestel en sou haar seker ook vernietig het as Claudia nie betyds ingegryp het nie.

Maar Lija druk die herinneringe ferm weg uit haar gedagtes, terug oor die see, tot in Rome. Sy staan fier en regop en uitkyk oor die hawe terwyl die matrose anker gooi en die skip tussen ander skepe deur maneuvreer tot teen die kaai.

Krakende toue en seile, die stemme van die matrose, seemeeue wat om hulle skree, heet haar welkom. Die reuk van vis en soutwater, speserye en sweet maak haar lighoofdig. Die hawestad met die Romeinse naam, die imposante steengeboue in Romeinse boustyle en oral soldate in Romeinse uniforms, is ’n getuigskrif van Rome en keiser Tiberius se mag wat tot hier strek.

Maar die goue gloed daar agter, waar hardgebakte woestyn en genadelose son mekaar ontmoet, gryp haar hart aan.’n Romeinse amptenaar, Lucius Vitellius, ontvang hulle toe hulle aan wal stap.

“Is my man, Pontius Pilatus, dan nie hier om ons te ontvang nie?” vra Claudia teleurgesteld vir hom.

“Hy moes ongelukkig dringend Jerusalem toe gaan en het my aangestel om die fort hier te hou.”

Hy neem vir Lija en Claudia na ’n drastoel met die Romeinse embleem van ’n arend reg rondom op die houtraam daarvan uitgekerf.

Lija kan sien Claudia se opgewondenheid is gedemp omdat Pilatus nie self hier is om haar te verwelkom nie, maar sy deel nie haar stiefma se gevoel nie. Pilatus was ’n onverdraagsame voog vir haar toe hy nog in Rome was. Hy wou haar nie in sy huis ingeneem het nie. Hy wil haar sekerlik ook nie hier hê nie. Sy is verlig dat sy nie dadelik in sy gesig hoef vas te kyk nie. Haar maagspiere ontspan, spanning vloei uit haar skouers toe hulle in die drastoel deur die strate begin beweeg.

Dimitris en Phoebé, haar eie twee slawe vandat sy sewe jaar oud is, en Kalima en Nuba, Claudia se twee persoonlike slawe, volg hulle met die bagasie. Lucius vergesel hulle na die paleis waar goewerneur Pontius Pilatus gedurende sy verblyf in Judea bly.

Dis ’n opvallende gebouekompleks wat deur ene Herodes die Grote gebou is en uitkyk oor die see en hawe. Al die versierings en detail in die argitektuur, die marmerpilare, fresko’s en ornamentele beelde laat Lija se maag draai. Die talle vaandels van ’n arend, die embleem van Rome se mag, oral hier buite om die paleis en prominent by die ingang, bring die bitter smaak van Rome weer al meer terug in haar mond.

Lucius bly self ook in die paleis. Hy is in beheer van al die administratiewe sake in Sesarea Maritima terwyl Pilatus in Jerusalem is.

“Wanneer kom Pilatus terug?” vra Claudia hom toe hulle in die ontvangsarea van die paleis instap.

“Hy gaan vir ’n rukkie in Jerusalem bly. Hy het ’n dispuut tussen godsdienstige leiers en inwoners van die stad gaan help oplos, maar die spanning loop nou weer hoog daar met die naderende godsdienstige fees van die Jode.”

Claudia se wenkbroue boog vraend oor haar voorkop en Lija luister ook nuuskierig oor die stad waar haar eie ma vandaan kom.

“Jerusalem is die godsdienstige en politieke sentrum van Judea,” sê Lucius, “en honderde besoekers, van pelgrims tot vreemdelinge, stroom elke jaar vir die Jode se godsdienstige feeste daarheen. Met so baie verskillende mense en godsdienstige faksies en politieke groepe almal bymekaar, is dit amper onvermydelik dat daar botsings en geskille gaan ontstaan.”

Lucius trek sy skouers op asof dit maar net nog een van vele probleme is waarmee hulle te doen kry.

“Maar nou is daar ook ’n Nasarener wie se onderrig en reputasie al meer debatte en bakleiery onder die Jode veroorsaak. Berigte van sy wonderwerke het Jerusalem ook bereik en baie nuuskierigheid en opgewondenheid onder die mense gesaai, maar ook skeptiese houdings en streng teenkanting van ander ontlok.”

“Watse wonderwerke?” vra Claudia.

“Hy maak glo siekes gesond en dryf duiwels uit soos een of ander god. Hy beheer selfs die weer, sê hulle. Baie mense noem hom hulle messias, hulle redder.”

“En waar is hierdie man, hierdie Nasarener nou?”

“Hy is maar meestal werksaam onder die armes en ellendiges in Galilea, maar volgens wat ek laas gehoor het, het hy ook ’n vrou in Sigar in Samaria genees van een of ander siekte.”

Lija spits haar ore al meer.

“Dink jy dis die waarheid wat hulle van hom sê?” vra Claudia.

“Dat hy hulle messias is?” Lucius skud sy kop en grinnik. “Hy is ’n Jood, ’n doodgewone timmerman van Nasaret af.”

“En dis oor hom wat die dispuut gaan wat Pilatus moes gaan help oplos het in Jerusalem?” vra Claudia.

Lucius knik weer bevestigend. “Goewerneur Pilatus het gevra dat jy dadelik by hom daar in Jerusalem gaan aansluit. My soldate sal julle op die reis vergesel en seker maak julle bereik veilig die Antonia-fort, waar hy daar gestasioneer is.”

Nadat Claudia en Lija se bagasie in twee kamers ingedra is en hulle hul opgeknap het, bespreek Claudia en Lucius hulle reis na Jerusalem.

“Hoe lank gaan die reis duur? Is dit baie ver?”

“Dis ’n paar dae se reis,” sê Lucius. “Ons sal die hoofroete daarheen volg. Dit word deur baie reisigers gebruik en sal die vinnigste wees met die minste gevare, en daar is herberge langs die pad waar ons kan oornag.”

“Dan moet ons eerder eers oormôre vertrek en môre nog rus en kragte opbou vir die reis.”

“Dis in orde,” sê Lucius. “Ek sal die soldate en waens gereed hê wat julle sal vergesel. Ons sal teen dagbreek vertrek.”

Claudia staan ’n rukkie en nadink. “Ek wil graag eers by ’n vriendin in Sigem aandoen, Cornelia Flavia. Sy kom ook van Rome af en is al ses maande in Sigem. Haar man, Marcus Aurelius, is ’n administrateur in Samaria en in Sigem gestasioneer. Ken jy hom dalk?”

“Ja, ek ken hom inderdaad. Hy is al drie jaar saam met my hier in Judea.”

“Dink jy dit sal moontlik wees om daarheen te reis en van daar af na Jerusalem?”

“Dit sal seker. Van hier tot in Sigem is omtrent vyftig myl, en ’n reis tot daar sal ongeveer ’n week duur as alles goed gaan. Van Sigem tot in Jerusalem is dit omtrent dertig myl, wat ook ’n paar dae sal neem.”

“Dis nogal lank.”

“Afhangende van die weer en ander oponthoude.”

“Hopelik nie langer as twee weke nie,” sê Claudia. “Ek wil nie hê Pilatus moet bekommerd oor ons raak nie. Maar aan die ander kant, dalk is daardie dispuut oor twee weke uitgesorteer en het die gemoedere van die inwoners bedaar teen die tyd wat ons dan daar aankom.”

Die volgende oggend gaan besoek Lija en Claudia die mark in Sesarea Maritima, waar Claudia vir hulle albei ligter en koeler tunieke, en stolas en mantels van dunner geweefde linne koop teen die warm Judese weer.

Op die mark, wat bruis van energie en opwindende nuus, hoor Lija en Claudia nog getuienisse van die wonderwerke wat die Nasarener, Jesus, doen. Dat hy ook ’n storm op die See van Galilea laat bedaar het en ’n Romeinse centurion se slaaf gesond gemaak het.

Vir ’n flitsende moment wonder Lija of hy haar stukkende hart ook gesond kan maak, en die storm in haar ook kan laat bedaar. Daardie aand bring Dimitris vir haar ’n dolk wat hy op die mark vir haar gekoop het.

“Dis joune, Lija. Dra dit te alle tye op jou, onder jou mantel, om jou daarmee te verdedig indien dit nodig sou raak.”

Sy is darem lankal nie meer skrikkerig vir ’n wapen nie en vat die dolk met selfvertroue by hom, vou haar hand met gemak om die geves.

Met Dimitris se geheime lesse op die skip het sy geleer om haarself te verdedig teen enige aanvallers. Eers was dit net hand-tot-hand-gevegstegnieke soos vuishoue op kwesbare liggaamsdele van die opponent en stoeigrepe om hom vas te pen. En defensiewe krygsoefeninge soos om vinnig ’n situasie op te som, strategies te dink, flink voetwerk te doen en rats te koes om ’n aanval af te weer.

Dimitris het haar daarna ook die basiese tegnieke geleer om ’n swaard en ’n dolk te hanteer, hoe om steek- en kaphoue en snywonde met die wapens uit te voer.

Sy steek die dolk in haar gordel onder haar mantel weg. Claudia mag niks hiervan weet nie. Dít sal sy nie ook toelaat nie, al het sy net voorgegee dat sy nie bewus was van Dimitris se gevegslesse nie. Sy het geweet deur watter gevaar Lija reeds in die oë gestaar is deur haar eie pa.

Dit was net deur genade van Jahwe, haar eie ma se god, dat Claudia Procula daardie dag, tien jaar gelede, betyds gestuur is om haar te kom red. Sy het gesien hoe Cassius haar vasdruk, en het haar dadelik laat wegvat uit sy sorg. Aangedring om haar in haar en Pilatus se sorg te neem, al het Pilatus haar versoek sterk probeer teëstaan.

Sy het geweet dis vir Lija se eie beswil dat sy leer om haarself te beskerm, en het nie Dimitris se hulp probeer stopsit nie.


Op die roete na Sigem bly Lija se oë streel oor die beeldskone, ongewone natuurskoon van die woestyn. Sy voel tuis en welkom in die droë klimaat en tussen die dorre koper- en amberkleurige rantjies wat hulle omring. Dis of sy hier in die Judese landstreek behoort, hoewel sy nog nooit hier was nie. Sy neem ook die woestynomgewing om haar diep in. Die veldblomme wat oral kleur bring, raak beloftes dat die lewe hier mooi gaan wees vir haar.

Hulle oornag by ’n paar herberge langs die pad soos Lucius Vitellius gesê het.

Claudia gaan besoek haar vriendin in Sigem baie vroeg een oggend soos hulle gereël het. ’n Klompie Romeinse soldate in hulle dreigende rooi-en-brons uniforms vergesel haar. Hulle hovaardige houding, asof hulle alle mag in pag het, en die onbeskofte manier waarop hulle die herbergier hiet en gebied, ontstel Lija en sy besluit om die dag by die herberg te bly en sodoende vir een dag aan hulle onaangename, oorheersende teenwoordigheid te ontsnap.

Sy beproef haar dolk in die geheim. Kerf ’n gleuf in ’n olyfboom buite die herberg se stam daarmee, pen dit in die ruwe, harde aardkors en verbeel haar dit is Cassius met wie sy afreken, vee dan die lem aan haar mantel af dat dit weer verblindend blink in die son.

Dimitris en Phoebé bly deurentyd aan haar sy. Dimitris waarsku haar teen die gevare daarvan om die dolk roekeloos te hanteer. Phoebé was die stof uit hulle klere en haak dit oor die takke van ’n populierboom om droog te word. Sy kam Lija se heuningbruin hare uit tot dit glad is en vleg dit dan met haar soepel, geoefende vingers in lang stringe om haar kop.

Ná tien jaar in hulle sorg en beskerming beskou sy Dimitris en Phoebé nie meer as slawe nie. Hulle is lankal nie net meer haar persoonlike lyfwag en diensmeisie wat ook al die pad van Rome af saam met haar gekom het nie; hulle het haar vriende geword, ’n broer en ’n suster, want hulle is ook saam met haar in haar opstand teen die Romeinse heersers. Hoewel hulle slawe is, het sy vinnig agtergekom sy kan hulle intelligensie nie onderskat nie, en hulle waarde kan nie aan meetbare dinge geskat word nie.

Hulle ken haar verhaal. Weet dat haar ma oorspronklik van Judea af kom. Hulle is saam met haar opgewonde toe hulle die stad Jerusalem eindelik, na vele dae van ’n uitputtende reis oor stowwerige paaie en onder ’n genadelose son, op ’n heuwel in die verte sien.

Die stadsmure kronkel teen die heuwel af en om, en koepeldakke daar binne blink in die son. Lija se maag maak opgewonde draaie en nuwe energie bruis deur haar toe hulle die manjifieke hoë mure van die stad bereik.

Maar voor die poort waar hulle in die stad inry, die Damaskuspoort, sit bedelaars verrinneweer deur winterkoue en honger en smeek vir aalmoese. Haar binneste krimp ineen toe sy die smart in hulle oë sien. ’n Melaatse toegedraai in ’n linnekleed sit verder weg eenkant en prewel asof hy bid. Armsalige inwoners vlug met krom rûe en geboë skouers uit die pad van die aankomende Romeinse konvooi, en sy besef opeens sy het Rome nie ontsnap nie.

Sy het hier te doen met ’n groter omvang van Romeinse genadeloosheid as wat sy ooit in Rome gesien het.

Weersin bou al feller in haar op en ’n plan van wraak neem al meer in haar kop vorm aan soos hulle deur die strate en verby die imposante Joodse tempel ry. Teen die tyd dat hulle by die hek van die Antonia-fort indraai, kort voordat sy vir Pilatus in die gesig gaan staar, is haar maagspiere op ’n klipharde knop getrek en haar hart is so hard soos een van die stene in die hoë muur wat die stad omring.