Skip to main content

Uittreksel | Stories vir die siel | As jy vis vra

As jy vis vra - Lizelle von Wielligh

(gebaseer op ’n ware verhaal)

“Jy het darem een kind, nè?”

Sonet hou haar asem op en knik stadig.

’n Glimlag raak aan die suster se mond. Dit is egter nie blydskap wat die botoon voer nie maar eerder jammerte. “Ek is bly,” antwoord sy en begin die gordyne rondom die spreekkamer se bed wegtrek.

’n Beklemming span in Sonet se binneste. Dit is asof die implikasie van haar operasie haar nou eers tref. Sy het net een Fallopiusbuis oor. Die ginekoloog moes die ander een verwyder omdat sy ’n buisswangerskap gehad het en die fetus al begin ontbind het. Sy sal dus nie sommer weer kan swanger raak nie.

Sy en Arno beplan nie om nog kinders te hê nie. Hulle sien doodeenvoudig nie daarvoor kans nie. Daardie eerste sewe maande met Benjamin was nag. Hy het elke uur en ’n half – dag en nag – aan haar gedrink. Nou is hy al ’n jaar oud en hy slaap nog steeds nie deur nie. Boonop moet sy hom heeltyd vermaak terwyl ander babas doodtevrede met iets kan speel sodat die ma skottelgoed kan was of ander huistakies verrig.

Hul apteker meen hulle kan gelukkig wees. Volgens haar het intelligente babas meer stimulasie as ander nodig. Nie dat dit veel troos op hierdie stadium bied nie. Hulle kort rus. Arme Arno se werkgewer het hom al vir ’n EKG gestuur omdat hy so oes lyk. Die dokter het bevind dat sy hart niks makeer nie; hy is net moeg en moet goeie slaap inkry.

Arno gee haar handsak vir haar aan. “Ek is bly die dokter is tevrede en dat dit nou oor en verby is.”

“Ek ook.” Sy het by die dood omgedraai en kon nie glo dat sy sommer dadelik ná die operasie beter gevoel het nie. Dit was net ’n bestiering dat sy betyds by ’n ginekoloog kon uitkom omdat hul huisdokter haar simptome nie kon diagnoseer nie.


Sy maak hul slaapkamerdeur so geluidloos moontlik toe en klim versigtig langs Arno in die bed. Haar man slaap lig. Dié dat dit nie rêrig help sy doen alleen pajamadril sodat hy bedags by die werk kan konsentreer nie.

“Slaap hy?” fluister hy.

“Ja. Ekskuus, het ek jou wakker gemaak?”

“Nee, ek het vir jou gewag.” Met die rugkant van sy hand streel hy oor haar gesig. “Ons het vergeet om die dokter te vra watse voorbehoeding ons nou kan gebruik.”

“O, ja,” antwoord sy sugtend en skud haar kop. “Ek kan nog steeds nie glo ek het ondanks die voorbehoedende lussie swanger geraak nie. Ek bedoel, wat’s die kans?”

Hy skud ook net sy kop.

Sy vou haar hand om die hoek van haar kussing en klem dit stywer vas. “Wat as die Here eintlik nog ’n kind vir ons wil gee, maar ons probeer dit keer?”

Arno se oë gaan opsommend oor haar gesig en hy vryf oor sy stoppelbaard. “Wat probeer jy sê? Dat ons nie weer iets moet gebruik nie?”

Sy byt die binnekant van haar lip ’n oomblik vas en knik. “Die suster het dit vandag laat klink asof ek nie maklik weer swanger sal kan raak nie. Ek wonder of ons dit nie in die Here se hande moet laat nie. Laat Hy besluit.”

Hy verbreek oogkontak met haar en kyk vir ’n paar sekondes die donker in voor hy met ’n effense sug antwoord: “Jy’s reg. Dis selfsugtig van ons om nie nog kinders te wil hê nie. Ek dink ook ons moet dit aan Hom oorgee, veral noudat jou kans om swanger te raak so skraal is. En as dit dan gebeur, dan weet ons dit is God se wil.”


Die suster wat laas by was toe die ginekoloog haar steke uitgehaal het, se gesig helder op toe sy en Sonet mekaar in die spreekkamer se gang raakloop. “Haai, mevrou Van der Westhuizen. Wat doen jy hier?” Haar glimlag krimp. “Ek hoop nie jy is siek nie?”

“Nog nie, maar ek sal seker binnekort wees.” Sonet kan haar vreugde nie langer inhou nie en gee haar glimlag skiet. “Suster sal dit nie glo nie; ek is swanger! Dokter het dit nou net bevestig.”

Die suster slaan haar hande saam. “Maar dis wonderlike nuus. Ek is so bly vir jou, vir julle.” Verwonderd skud sy haar kop. “Goeiste! Hoe lank terug het jy die operasie gehad? ’n Maand? Twee maande?”

“Dit was net langer as ’n maand terug, Suster.”

Sy het sommer by die huis ’n swangerskaptoets gedoen, al was daar nog geen teken van ’n moontlike swangerskap nie. Vreemd genoeg het dit haar nie verbaas toe dit positief was nie, asof sy dit diep in haar wese reeds geweet het.


Sonet lê haar hand op haar maag en asem diep in terwyl sy op Benjamin se vreedsame gelaat afkyk. Wanneer hy ’n middagslapie vat, is dit al tyd wat sy vir haarself het.

Verwag sy nog ’n seuntjie of dié keer dalk ’n dogtertjie? As hulle maar geweet het, dan kon hulle al op ’n naam besluit het. Maar sal dié kind nie sleg voel wanneer hulle eendag hul getuienis met ander mense deel nie?

Sy en Arno het mekaar maar drie dae geken toe die Here vir hom gewys het sy is sy toekomstige vrou. Dit was geen nuus vir haar nie; sy het dit al die eerste oomblik geweet. Sy kon egter nie na hom toe gaan en vir hom sê “Hei, jy is my trouman” nie. Hy kon dalk gedink het sy is die kluts kwyt. Toe het sy gebid die Here moet dit self vir hom wys.

Op die vierde dag het die naam Benjamin kort-kort by Arno op gekom. Hy het vorentoe en agtertoe in sy Bybel geblaai en kon nie agterkom wat die Here daardeur vir hom probeer sê het nie. Toe hy haar later daarvan vertel, was sy verstom, want sy het weer die oggend gelees van kinders wat in hul ouers se ore kerm omdat hulle woning te klein vir hulle is. Op daardie oomblik het hulle geweet hulle gaan eendag ’n seun hê en hulle moet hom Benjamin noem.

Hoe kan hulle nou sommer self vir hierdie kind ’n naam kies?

Sy sluit haar oë en asem diep in. Here, sal U asseblief vir hierdie kind ook ’n naam gee, net soos vir Benjamin?


Arno neem haar hand en gee dit ’n innige drukkie. “Wil jy wag met die goeie nuus of kan ons maar vir almal vertel?”

Sonet trek haar mond op ’n plooi. Die mense by hul huiskerk is soos familie, maar sy is nog nie eens ses weke swanger nie. Boonop wil sy dit ’n rukkie net vir haarself hou, al brand sy om almal van hul wonderwerk te vertel. Die Here se wil het geskied en hulle is waarlik bly. “Ek dink ons moet maar eers ’n bietjie wag.”


Die kitaar se ritme pols deur haar. God is groot en daar is niks, absoluut niks wat vir Hom onmoontlik is nie. Sy verwag weer ’n kind. Dit is ’n groot geskenk, een wat sy weet sy nie verdien nie, veral as sy aan al die kinderlose vroue dink wat so bitter graag een wil hê.

Ná die lofprysing vergader hulle om die Woord.

Toe kan hulle lekker koffie drink en kuier.

’n Vrou kom na haar toe aangestap en glimlag toe sy haar bereik.

“Die Here wys vir my hierdie babatjie van jou ‘leap with joy’ soos Johannes die Doper het.”

Verwonderd kan sy net die vrou bedank. Hoe wonderlik dat haar kind so vol vreugde is!

Eers later in die kar kry sy die geleentheid om Arno daarvan te vertel. “Ek wonder of daar nie dalk ’n naam is wat so ’n betekenis het nie.”

Hy knik. “Ek sal dit ’n bietjie google wanneer ons by die huis kom.”


“Kom kyk hier.”

Met Benjamin op haar heup staan Sonet nader. “Wat is dit?”

Arno wys na sy selfoon. “Lees hier. Dit sê in die Nuwe Testament word die Griekse woord ‘chara’ – ’n mens spreek dit uit as khar-ah – gebruik om ’n diep, blywende gevoel van vreugde en blydskap te beskryf. Dit is die vreugde waarvan die vrou by die kerk gepraat het. Ek dink ons gaan ’n dogtertjie kry en ons moet haar Kara noem.”

Sy knip haar oë. Kara. ’n Dogtertjie. Dis ongelooflik. Sy het maar Woensdag eers vir die Here vir ’n naam vir hul kind gevra. Sy frons verbaas.

Arno frons. “Wat nou?”

Verdwaas verskuif haar blik na hom. “Dit tref my nou eers dat ek daardie vrou nog nooit voorheen gesien het nie. En niemand by die kerk het geweet dat ek swanger is nie.”

Sy oë rek en hy kan haar ’n paar sekondes net stil aankyk. “Dink jy dit kan dalk ’n engel wees wat dit vir jou kom sê het?”

“Het jy ’n ander verklaring daarvoor? Ons ken tog almal by die huiskerk, net nie daardie vrou nie.”


“Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie.” Matteus 7:9–10