Uittreksel | Stories vir die siel | Afdraaipad na geluk

Afdraaipad na geluk - Irma Steffens
Die son trek al water toe Hannes uiteindelik die hek na Riviersiggasteplaas bereik. Neef Lukas het mooi beduie: Jy ry so vier kilometer op die grondpad. Draai by die derde hek aan die regterkant in. Dan ry jy nog so vyf honderd meter tot by die hoofhuis, waar jy die sleutel sal kry.
Sy Toyota Corolla se afstandmeter werk nie meer nie, dus het hy die hekke getel soos hy ry.
Anderkant die hek wat hy deurry, is die middelmannetjie hoog en hy kruie tot by die plaasopstal. Sy oë swiep oor die werf, op soek na ’n hond. Alles lyk rustig. Verlig drafstap hy die drie trappe tot op die stoep uit en klop aan die afgeskilferde voordeur.
’n Hond blaf verwoed agter die toe deur.
Hy hoor ’n vrouestem aan die binnekant: “Kom nou, Pote, bedaar. Sjj. Dis mooi so, ounooi se honne,” prys die stem voordat sy vra:
“Wie’s daar?”
“Hannes Meyer van Mbabane. Ek kom kry net die sleutel van die huisie langs die rivier.”
Die deur gaan op ’n skreef oop, die veiligheidsketting steeds in posisie. ’n Donkerbruin krulkop loer deur die opening. Die hond grom.
“Stil, Pote. Ek is jammer, maar jy het die verkeerde afdraaipad geneem. Die derde hek gaan Riviersig toe. Jy is nou op Kleingeluk. Ons is die vierde hek.”
“Ag nee! Ek het juis stadig gery om seker te maak ek mis nie ’n hek in die skemer nie. Jammer dat ek gepla het. Lekker aand.”
“Als reg. Dis net so ’n entjie terug. Jy kan dit nie mis nie. Daar is twee witstinkhoutbome weerskante van die hek.”
“Dankie. Ek het die bome gesien, maar gedink dis die tweede hek.”
Hannes draai om.
Maar die vrou se uitroep stuit hom in sy spore. “Wag! Het jy gesê jy is Hannes Meyer van Nelspruit?”
Hy draai terug. “Ja ...?”
“Was jy dalk in 2007 in matriek op Hoërskool Bergvlam?”
“Ja?”
Die volgende oomblik word die deur toegedruk en die ketting losgemaak. Toe gaan die deur heeltemal oop en hy sien haar in haar volle glorie: die bruin krulhare, goudbruin oë, skraal postuur en lang, bruingebrande bene. ’n Geel labrador aan haar sy. “Wil jy nou meer? Ná amper sewentien jaar staan Hannes Meyer voor my deur.”
“Ek voel nou regtig simpel, maar ek het geen idee wie jy is nie.”
“Jy en my broer Frans was in matriek en ek in graad agt.”
“Frans se kleinsus ...” ’n Fronsplooi verskyn tussen sy oë, toe weerkaats die lig van herkenning in sy oë. “Anita? Annie?”
“Ansa.”
“Ansa Bester!”
Met ’n onderstebo glimlag antwoord sy: “Nou die weduwee Smit.”
Hy sien die skaduwee net ’n oomblik in haar oë huiwer, besluit om die verwysing na haar weduweeskap te ignoreer. “Is dit sowaar jy?”
Sy tree eenkant toe. “Wat staan ons so op die stoep en gesels? Kom in, ek maak koffie. Daar is jare se gesels om op te vang.”
“Dit sal lekker wees, maar dit raak laat en ek moet nog by die gasteplaas gaan inboek.”
“Maar dan moet jy belowe om môre te kom koffie drink.”
“Dankie, ek sal beslis so maak. So tienuur?”
“Klink reg. Ek sien sommer baie uit daarna.”
Skuins voor tien stop Hannes voor die ou opstal. Toe hy uit sy motor klim, gaan die voordeur oop en Ansa, met Pote langs haar, stap op die stoep uit. Sy lyk pragtig in ’n geblomde rok wat sag om haar slanke figuur vou.
Pote draf tot by Hannes, snuffel aan sy bene. Hy steek sy hand uit en laat die hond daaraan ruik. Pote swaai sy stert en draai terug na Ansa, gaan staan weer langs haar.
“Jy het regtig ’n uitstekende waghond, Ansa.”
“Sy blaf is erger as sy byt, maar ons bly liewer stil daaroor. Stap sommer saam kombuis toe. Dis altyd geselliger om daar te kuier.”
Pote maak hom onder die kombuistafel tuis.
Ansa skakel die ketel aan en haal anysbeskuit uit.
“Hier’s jou koffie.” Sy beduie na sy regterkant. “Daar’s melk en suiker. Kry vir jou.” Sy gaan sit oorkant hom.
Pote kreun van lekkerte toe sy haar voet oor sy rug begin vryf.
“Jene, maar die beskuit is lekker. Bak jy self?”
“Ja. My ouma se resep.” Sy skuif die bordjie nader. “Kry gerus nog.”
Hy laat hom nie twee keer nooi nie, en neem nog ’n beskuit. Doop dit in sy koffie, kou smaaklik. “Heerlik.”
“Dis seker voorbarig om te vra, maar hoekom hou jy alleen vakansie, Hannes? Dis mos nie lekker nie?”
’n Sug ontsnap diep uit sy bors. Hy stut sy elmboog op die tafel en vou sy hand onder sy ken asof hy sy kop só probeer regop hou. “My vrou het my drie jaar gelede gelos vir haar ryk baas.”
“Ag nooit!” Ansa raak saggies aan sy arm. “Ek is so jammer. Het julle kinders?”
Hy skud sy kop. “Nee, sy wou nie kinders hê nie. Het jy kinders?”
“My man het vier jaar gelede verongeluk. Ek het ...”
Huilgeluide dieper uit die huis laat haar vinnig opstaan. “Verskoon my.”
’n Rukkie later kom sy terug, ’n dogtertjie van so vyf jaar op haar heup. “Ontmoet vir Mia.”
Hannes se blik skuif na die blonde krulkopdogtertjie wat styf teen haar ma se skouer lê. Duim in die mond loer sy skaam in sy rigting.
“Hallo, Mia.”
“Ba-ba-ba-ba-ba.”
Ansa het seker die onuitgesproke vraag in sy oë gesien, want toe sy weer oorkant hom kom sit, dié slag met Mia op haar skoot, sê sy:
“Mia is met serebrale gestremdheid gebore.”
“Ek is so jammer. Dit moet erg wees vir ’n ouer. Dan moet jy haar nog alleen grootmaak ook.”
“Ek sal jok as ek sê dit is maklik om so iets te verwerk en te aanvaar. Vir maande ná haar geboorte het ek die Here kwalik geneem oor haar gestremdheid. Ek kon nie meer Bybel lees of bid nie. Ek was te kwaad vir die Here.”
“Dis seker menslik om so te voel. Ek bedoel, dis ’n groot verantwoordelikheid om ’n kind groot te maak, wat nog te sê een met ’n gestremdheid.”
“Dis waar.” Hy sien die liefde in haar oë wanneer sy na Mia kyk.
“Sy was so vyf maande oud toe sy een oggend uit die bloute so mooi vir my glimlag. Ek het daardie oggend vir die eerste keer by haar gestremdheid verby gekyk, my kind vir die eerste keer werklik raakgesien. Besef dat sy ’n geskenk van God is. Dat die pakkie waarin sy toegedraai is wel beskadig is, maar dat dit geen afbreuk doen aan die inhoud nie. Daardie oggend het ek besef Mia is ’n ware sonstraalkind en die Here gesmeek om my te vergewe.”
Hannes vee oor sy agterkop en sy adamsappel beweeg op en af.
Hy steek sy hand stadig na haar toe uit, maar pluk dit weer vining terug en druk dit in sy broeksak.
Sy stem is effe skor toe hy vra: “En jou man?”
Ansa besluit om die onderwerp te verander. “Kyk waar staan die tyd al. Eet sommer hier? Niks spesiaals nie, net hoenderpastei en slaai.”
“Dit klink na ’n feesmaal. Daar was net kaas-en-tamatie-toebroodjies op my spyskaart. Maar jy moenie moeite doen nie.”
“Dis geen moeite nie. Ek sit gou die pastei in die lugbraaier. En daar is slaai in die yskas.”
Sy staan op, Mia op die heup.
Hannes steek sy hande huiwerig uit. “Ek kan haar by jou vat, as jy wil?”
“Is jy seker?”
“Ek dink so ...” Hy hoor die onsekerheid in sy eie stem.
Sonder skroom val Mia in sy arms.
“Gewoonlik wil kinders nie sommer na my toe kom nie,” sê hy verbaas.
Mia kraai van die lag toe hy haar op sy knie laat perdjie ry.
Nadat Ansa die kos op die tafel neergesit het, vat sy Mia en gaan sit oorkant hom. Sy strek haar hand na hom toe uit. “Sal jy vir ons bid, asseblief?”
Huiwerig vat hy haar hand. Hy het nog nooit weer gebid ná daardie dag wat Susan finaal uit sy lewe gestap het nie. Die stilte rek. Huiwerig begin hy. “Here, baie dankie vir die kos wat ons nou gaan eet. Voorsien ook aan hulle wat nie so bevoorreg soos ons is nie.” Hy bly ’n oomblik stil. “En baie dankie vir Ansa en Mia wat my vandag weer van U laat onthou het. Amen.”
Terwyl hulle eet, gesels hulle lekker oor alles en nog wat. Ansa voer tussendeur vir Mia en ná ete gaan sit sy haar in die bed vir haar middagslapie. Daarna was sy die skottelgoed en outomaties begin hy afdroog.
Met alles skoon en op hul plek beduie sy na die stoel. “Nog koffie?”
“Dankie, maar ek sal moet aanstaltes maak. Oom Freek van Riviersig het gevra dat ek vanmiddag saam met hom gaan lyn natmaak in die rivier. Nogmaals baie dankie vir die heerlike ete en kuier.”
Mia begin huil net toe hulle op pad is na die voordeur. “Sy droom seker. Ek gaan net gou kyk.”
“Kan ek saamstap?”
“Natuurlik.”
Mia lê op haar rug, traanspore oor haar wange. Ansa buk oor die bed, maar Mia draai haar kop na Hannes en steek haar arms na hom uit.
“Mag ek?”
Ansa knik haar kop instemmend en hy tel Mia op. Druk die warm lyfie sagkens teen sy bors terwyl sy hand meganies oor haar rug vryf. Die snikke bedaar en hy vee saggies die traanstrepe met twee vingers van haar wange af. Druk ook ’n soentjie daarop. Met haar arms styf om sy nek stap hulle na buite waar hy haar teruggee aan haar ma. Hy kielie haar in die nek en sy lag tog te lekker. Die nare droom vergete.
“Sy het behoorlik met jou gebond.”
Mia gooi weer haar arms in sy rigting.
“Oom moet ongelukkig nou ry, maar as dit reg is met jou mamma, sal ek weer vir julle kom kuier.”
“Ba-ba-ba-ba-ba.”
“Jy is altyd welkom, Hannes.”
Hannes besluit Donderdag om weer ’n draai op Kleingeluk te maak.
Sy hét mos gesê hy is enige tyd welkom.
Voor hy kan aanklop, maak sy al die deur oop. “Dis lekker om jou weer te sien.”
“Ek het ’n kans gevat en gehoop julle is tuis.”
“Stap sommer deur kombuis toe. Ek is juis besig om vir my en Mia iets te drinke te maak.”
Mia sit op ’n kombers en speel met Pote wat langs haar lê.
Hannes buk en vryf oor Mia se blonde krulle, ook oor Pote se kop. “Hallo, Mia en Pote.”
“Ggggg-ba-ba-ba-ba-ba,” kom dit van Mia.
Pote gee ’n uitgelate blaf.
“Tot die hond is bly om jou te sien. Sit solank. Ek maak gou koffie. Anysbeskuit?”
“Ek sal nooit nee kan sê vir daardie heerlike beskuit nie.”
Hy gaan sit by die tafel.
Sy sit ’n beker koffie voor hom neer en kom sit oorkant hom. Stoot die bordjie beskuit nader. “Jy weet seker die helfte van die meisies op skool het ’n crush op jou gehad?”
Hy lag verleë. “Nooit.”
“Jy lyk verniet so skaam. Jy was ’n catch.”
“Nou trek jy my been.”
“Glad nie.”
“Het jy ook ’n crush op my gehad, Ansa?”
Hy glimlag toe ’n bekoorlike blos haar wange verf en sy die onderwerp verander.
“Drink klaar, dan stoot ons vir Mia tot by die dam. Sy geniet dit so as ons die eende voer.”
By die dam haal Ansa ’n kombers uit die mandjie onder die stootkarretjie, gooi dit op die gras oop. Met Mia op haar heup breek sy en Hannes van die brood in stukkies en gooi dit op die water. Mia klap hande en maak opgewonde geluide oor die eende wat nader swem.
Later sit sy Mia op die kombers neer en gaan sit langs haar. Beduie hy moet by hulle kom sit. In stilte kyk hulle na die eende op die dam.
Sy probeer ’n gaap agter haar hand wegsteek.
“Lê met jou kop op my been, dan slaap jy ’n rukkie. Ek sal Mia dophou.”
“Dankie.” Sy skuif nader sodat haar kop gemaklik op sy been rus en raak binne oomblikke aan die slaap.
Hannes streel ingedagte oor haar krulle terwyl sy oë Pote volg waar dié uitgelate langs die dam ronddraf. Sou dit nie wonderlik wees as hulle drie altyd so bymekaar kon wees nie? Hy sal ’n goeie pa vir Mia kan wees. Dié gedagte laat hom skrik. Waar kom dit nou vandaan?
Ansa roer, maak haar oë stadig oop. Hul oë ontmoet. ’n Begeerte om haar in sy arms toe te vou roer in sy binneste, maar Mia begin kriewel en die oomblik gaan verlore.
“Ons moet teruggaan. Dis amper Mia se badtyd.”
By die huis maak sy vinnig vir Hannes ’n beker koffie en vra of hy nie lus het om te bly vir aandete nie.
“Dit sal lekker wees, dankie, maar dan moet julle Saterdag by my kom braai. Ek het genoeg vleis, en ons kan sommer braaibroodjies maak. Wat kan ek vir Mia kry om te eet?”
“Dit klink baie lekker, maar moenie bekommer oor Mia nie. Ek sal sommer iets vir haar saambring.”
“Afgespreek.”
Sy sit die beker voor hom neer. “Drink solank jou koffie, ek gaan haar net gou bad.”
Later bak sy wors en sny tuisgebakte brood daarby. Sit ’n paar tamaties op ’n bordjie. “Dis ’n karige ete, maar met liefde voorberei.”
“My mond water behoorlik vir die tuisgebakte brood. Jy is ’n vrou van vele talente. As ek reg onthou, staan daar iewers in die Bybel dat ’n deugsame vrou se waarde ver bo korale is, of so iets.”
Ansa lag. “Ek wens my ma kon jou nou hoor oor die brood. Sy het altyd gemor omdat ek liewer wou boek lees as om te leer kook.”
Die tyd vlieg verby terwyl hulle skerts en lag en staaltjies oor hul kinderjare uitruil.
Hannes kyk later op sy horlosie. “Genade, kyk waar staan die tyd al. Ek beter ry.”
By die motor trek hy haar nader, soen haar sag op haar lippe. “Dankie vir ’n heerlike dag.”
Hannes se oë fokus op Ansa se mond toe sy oor haar lippe, wat nog blink van die tjoppie se vet, lek.
“Dankie, Hannes, dit was nou heerlik. Nie almal kan ’n varktjoppie so perfek braai nie. Die vleis was lekker sappig en die vet krakerig.”
“Ek is bly jy het dit geniet.”
Sy oë val op die slapende Mia met Pote langs haar. Hy strek hom op die gras uit en trek Ansa langs hom neer.
Hulle lê ’n rukkie in stilte.
Sy raak saggies aan sy arm. “Kyk hoe mooi is die wolkformasies. Ek sien wolke as God se skilderye. Hy teken altyd prentjies daarmee. Kyk, daardie een lyk soos ’n haas. En daar is ’n skaap.”
“Ek sien net wolke.”
“Nee, man. Gebruik jou verbeelding.”
Hy lig hom op sy elmboog. “Ek kyk liewer na jou. Jy is baie mooier as wolkprentjies.”
“Aag, jy!” Sy stoot hom teen die skouer sodat hy terugsak op sy rug. Kielie hom met ’n grasspriet onder sy neus.
Hy gryp haar hand vas. Hul oë ontmoet. Maar die oomblik versplinter weer want Mia begin huil.
“Dis was lankal haar badtyd. Ons sal seker moet gaan.”
Onwillig staan hy op. Trek eers vir Ansa regop en hou haar ’n oomblik styf vas. Raap vir Mia ook op en blaas kieliesoentjies in haar nek tot die gehuil verander in ’n plesierige lag.
Met Mia op sy een arm en die ander om Ansa se middel stap hulle na haar motor. Hy gespe Mia sorgvuldig in haar stoeltjie vas. Druk ’n soen op haar krulkop en sluit die deur.
“Baie dankie vir vandag, Hannes. Dit was regtig baie spesiaal.”
Hy hou haar styf teen sy bors vas. “Ek wil jou weer sien,” fluister hy in haar hare.
“En ek vir jou. Maar wat van Mia?”
“Wat van haar, Ansa?”
“Ek en sy is ’n onafskeidbare pakket. Dis ononderhandelbaar. En dis nie altyd maklik met ’n gestremde kind nie. Haar behoeftes kom altyd eerste.”
“Kom ons gee dit ’n kans.”
“Jy laat dit so eenvoudig klink, Hannes.”
Mia vroetel ongeduldig in haar stoeltjie. “Ggggg-ba-ba-ba-ba-ba.”
“Die baas het gepraat; ek beter ry dat ek haar kan bad en in die bed kry.”
Hannes laat haar onwillig gaan. “Ek moet môreoggend baie vroeg ry, maar ek bel jou môreaand, dan praat ons verder hieroor. Pas jou en die meisiekind mooi op.”
Toe haar motor om die draai verdwyn, stap Hannes diep ingedagte terug en gaan sit op die stoepmuurtjie. Kyk op na die wolke en verbeel hom hy sien ’n dolfyn. Hy glimlag en sluit sy oë: “Dankie, Here, dat U steeds by my gebly het toe ek U verwyt en eenkant toe gestoot het. En baie dankie dat U my verkeerde afdraaipad in die lewe omskep het in ’n tweede kans op geluk. Amen.”