Skip to main content

Uittreksel | Storieboekheld

Een

“Ek het nie ’n oppasser nodig nie.” Kelly is dadelik vies. Nee, sy is moerig. Moeriger as wat sy die laaste hoeveel maande nou al is.

“Jy het meer nodig as net ’n lyfwag,” sê Linda van der Bijl, uitgewer par excellence en seker die enigste vriendin wat Kelly oorhet omdat sy nou al langer as ’n jaar en ’n half wroeg oor haar man se dood.

“Ek gryp nou in, want jy is op ’n ellendige plek in jou lewe, en boonop is daar nou ’n mal aanhanger wat vir jou dreigbriewe stuur. Jy kan nie so alleen daar by jou seehuis bly nie.” Linda sug diep. “Buitendien is Seekatstrand heeltemal te afgesonder.”

“Ek is ses en dertig jaar oud en kan na myself kyk. Dis doodveilig hier, en Pearly Beach is net ’n klipgooi hiervandaan as ek nood het. Boonop weet niemand waar ek bly nie. En ek kom so min uit dat die bure nie eens weet ek is hier nie.” Kelly kyk na die see se ewig rustige beweging anderkant die rotse voor haar huis. “En hier is geen misdaad nie. Jy weet dit.”

“Kelly Logan, jy het ’n stalker wat jou dreig. Dis iets anders. En juis, jy moet uitkom. Hoe langer jy daar in jou eie kokon vassit, hoe erger raak daardie sosiale angstigheid van jou. Sedert Kobus se dood leef jy soos ’n kluisenaar en dis nie normaal nie. Nie vir jou nie en nie vir jou volgende misdaadroman waarvoor ek al ’n jaar wag nie.” Linda se stemtoon vertel sy is verby moedeloos.

“Ek het tyd nodig.” Kelly weet sy het al hoe minder lus om uit die huis te kom. Mense maak haar moeg. Selfs die lesers put haar uit, want hulle wil net meer en meer van haar weet, van wat sy skryf, en hoe ver is haar boek.

In die begin was dit nog oulik, maar nou is dit te erg. Sy wil nie eens meer boekpraatjies of
-bekendstellings doen nie. Eintlik wil sy nie meer skryf nie; Linda kry ’n floute indien sy dit sou hoor.

“Jy het ’n oppasser nodig. Een wat saam met jou op die strand gaan draf, wat jou kan vergesel na die winkels, kunsmarkte, museums – enigiets wat jou weer aan die skryf kan kry.”

“Ek draf nie. En ek is nie lus om uit die huis te kom nie,” sê sy moedswillig. “Ek sal YouTube-video’s van mense wat draf soek en na virtuele toere van museums kyk.”

“Jy beter ’n lewe begin kry sodat daardie kreatiewe juices kan vloei.” Linda raak streng. “Ek gee jou nog drie maande. Dis dit. Dan soek ek ’n manuskrip op my lessenaar. My vennoot is lus om jou hof toe te sleep. Ek sal natuurlik nie, maar ek herinner jou daaraan dat Lunar Uitgewers jou ’n belaglik groot bedrag voorgeskiet het vir die boek wat jy nou soos ’n onvrugbare eier sit en warm broei.”

“Vertel my iets wat ek nie weet nie. Ek het geen motivering of lus om te skryf nie,” sê Kelly wat self wens sy kan uit haar groef van selfbejammering kom.

“Toemaar. Wat jy nie weet nie, is dit: Binne die volgende tien minute gaan daar ’n voertuig voor jou deur stop en ’n man met die naam van Jason Decker gaan uitklim. Ek moes baie toutjies trek om hom sover te kry om vir die volgende drie maande vir jou as lyfwag op te tree.”

“Lindaaaaa!”

“Jy gaan hom innooi, in die spaarkamer van jou seehuisie laat slaap, en jy gaan ordentlik met hom wees. Verstaan ons mekaar?”

Kelly grom net.

“Kelly Logan. Jy is ’n internasionale skrywer, een wat al vyftien misdaadromans sonder probleme uitgeryg het en ’n spul pryse daarmee gewen het. Jy kan. Jy is bevoeg en bekwaam. Kom nou oor Kobus se dood.” Linda huiwer. “Nie dat ek mislik wil wees nie, maar Kobus was nie juis die storieboekheld waarvoor jy hom nou wil uitmaak nie. Hy het jou genoeg hel gegee.”

“Ja, Ma,” spot Kelly. Dit weet sy alte goed, beter as almal, tog was hy altyd daar vir haar. ’n Asem. ’n Stem. ’n Klankbord. ’n Vriend. Nou is daar niks. Met wie moet sy haar idees deel?

Asof Linda haar gedagtes lees, sê sy: “Jason was in die Britse weermag en het ’n interessante lewe tot dusver gehad. Jy kan gerus met hom gedagtes uitruil, dalk ’n bietjie van ’n muse in hom vind.”

“Ek is nie lus vir iemand onder my voete nie.”

Dis háár plek. Haar veilige hawe, nou moet sy die vreemdeling inlaat. “Veral nie ’n oudsoldaat met PTSS nie. Netnou val hy my in my slaap aan – het jy al daaraan gedink? Decker? Is sy van nie dalk Dexter nie?”

“Jy oordryf. Maar dit sou dalk goed wees om ’n bloeddorstige ou soos daai reeksmoordenaar, Dexter, van die TV-reeks by jou te laat intrek. Dink aan al die idees wat jy by hom kan kry.” Sy sug. “Kelly, dis vir jou eie veiligheid en om te keer dat jy kranksinnig raak daar op jou eie. Oukei. Lekker skryf. Groete vir Jason. Koebaai.” Linda lui af.

Kelly gooi haar selfoon dat dit doer oor die rusbank in die oopplansitkamer trek.

Juis toe hoor sy ’n voertuig buite parkeer. Sy trek haar heuplengte bruin hare agter haar kop bymekaar en bind dit vas met ’n scrunchy wat altyd om haar pols gereed sit. Gelukkig kan Linda nie sien hoe dringend sy ’n haarsny kort nie.

By die agterstoep se gordyn loer sy versigtig uit.

’n Stewige swart viertrekvoertuig staan in die oprit. Die man wat uitklim, dra ’n ligbruin oopknoophemp en ’n donkerder bruin chino. Beide span om sy lyf asof die spiere uit die klere wil klim. Dalk kry hy nie klere wat hom pas nie. Glad nie sleg gebou nie. ’n Regte G.I. Joe. Boonop twee meter lank, skat sy.

Hy kan maklik deurgaan vir een van haar storieboekhelde. Seker so veertig jaar oud, donkerbruin hare, byna swart, kort geskeer, tipies militêre man. Sy vierkantige kakebeen is styf gespan, sy gesigsuitdrukking verder effe grimmig. Lyk nie soos iemand met wie sy oor die weg gaan kom nie.

Hoekom dink Linda sy het ’n sersant-majoor nodig om haar lewe reg te ruk? Kamma is hy hier om haar op te pas. Hy gaan haar seker eerder voor sonsopkoms uit die bed jaag, met ongevraagde oefeninge dril, en haar met boeie aan die lessenaar vasbind totdat die boek klaar geskryf is.

Nee dankie, mister Dexter.

Hy stap nader, loop om die huis tot by die voorste glasdeur aan die strand se kant en lui die klok langs die deur se klepel.

Sy gaan net maak of sy nie hier is nie. Dalk kry hy die boodskap en loop.

Hy lui weer die klok, so hard dat sy seker is al die duikbote onder die see kan dit hoor, klop ook ’n slag dringend teen die glasdeur, maar sy bly tjoepstil. Net haar hart klop angstig. Die man moet verdwyn. Nou!

Gelukkig is haar gordyne nog toe, want sy het soos gewoonlik laat geslaap, is nog in haar pienk slaapbroek en -hemp – die een met die vrolike pandabeer op. Aan haar voete is haar snoesige Bugs Bunny-pantoffels. Sy het nie mense verwag nie – veral nie so vroeg nie. Die muurhorlosie in die sitkamer wys dit is elfuur.

Deur ’n gleufie in die gordyne hou sy hom dop. Hy staan ’n ruk op die stoep rond, draai na die see toe en strek homself lank uit. Dan gaan sit hy gemaklik agteroor op ’n stoepstoel, haal ’n boek uit sy rugsak, skop sy bene lank voor hom uit. En lees.

Dis nou ongemaklik. En ongeleë. En voorbarig. En belaglik.

Sy klim terug in die bed, trek die rekkie uit haar hare en trek die kombers oor haar kop. Laat hy wag totdat hy moeg is en dan sy ry kry. Sy het nie ’n babaoppasser nodig nie.


’n Uur later word sy wakker, strompel kombuis toe om koffie te gaan maak, maar in die waas waarin sy verkeer, val sy haar disnis oor die teetafel. Sy skel hardop toe haar enkel die skerp hoek van die tafel tref.

Daar is oombliklik harde klopgeluide teen die glasdeur.

Die lyfwag!

Hemel, tog. Kan hy nie net wegraak nie?

“Mevrou Logan. Ek weet jy is daarbinne. Kan jy asseblief die deur oopmaak?” Sy stem is diep en hees, presies soos wat sy haarself sou voorstel ’n storieboekheld moet klink.

Linda sou sê dis nou tipies sy om so tussen die werklikheid en haar verbeeldingswêreld te leef. Die lyn tussenin is partykeer baie dun.

Sy sug, gaan kook die ketel en maak twee bekers koffie. Een suiker in beide soos sy dit drink. Dan eers sluit sy die glasdeur oop. Die koel bries van buite slaan haar asem effe weg toe sy die deur met haar een pantoffelvoet oopstoot en met die bekers uitstap. Die feit dat sy nog in haar slaapklere is, pla haar min. Die man is hier in haar domein. Laat hy skrik en die pad vat.

“Goeiemôre. Dexter,” sê sy aspris verkeerd.

Sy plaas sy koffiebeker langs hom op die stoeptafel neer en gaan sit op die ander stoepstoel, vou haar bene onder haar in.

“Goeiemôre.” Sy intense bruin kykers staar openlik nuuskierig na haar en huiwer op die pandabeer op haar bors.

Sy het vergeet haar borste is aan die groot kant en die arme pandabeer se wange staan seker bol onder die druk.

Met ’n fyn glimlag tel hy sy beker op en gaan sit ook. “Dankie. En die van is Decker. Jason Decker.”

Tipies ’n Engelsman. Soos Bond. James Bond.

Sy trek haar lang hare alles oor haar een skouer vorentoe, deel dit in drie dele en begin dit stadigaan vleg. Iets wat sy doen wanneer sy ingedagte is. Dan takseer sy hom ook op en af. Eintlik moet sy ’n foto van hom neem en by haar rekenaar opsit, dan kan sy haar held van nou af maklik beskryf. Dis tyd vir ’n meer eietydse metroman, een wat in die gimnasium boer, gesond eet en soggens gaan draf. Sy is nou al lankal moeg vir haar helde met hul wit boordjies en dasse wat vape en te veel whiskey drink om van hul probleme ontslae te raak. Dié een lyk meer heilsaam. Dis die woord, ja. Nie haar tipe nie, maar die lesers sal van hom hou.

Haar vorige helde was op Kobus gebaseer. Wel, toe hy jonk was, voordat hy . . . Ja wel, toe hulle albei jonk was en romantiese goed gedoen het en seks gehad het net waar hulle gekom het. Op die strand, in die kombuis, in die vliegtuig, in restaurante se kleedkamers. Sy skryf al die jare seker oor die herinneringe van toeka se dae.

Hierdie ou hier voor haar kan haar nuwe idees gee. Linda is reg. Hy kan haar muse wees. Maar sy het steeds nie ’n oppasser nodig nie.

Die vlegsel is klaar en sy maak die punt met die scrunchy om haar pols vas.

“Enige opmerkings? Noudat jy my deurgekyk het?” Sy stemtoon is nie vriendelik of onvriendelik nie. Dis net wat dit is.

“Jy het my eerste aangegaap. Wat sien jy?” vra sy ewe emosieloos.

Sy lip trek aan die een kant op asof hy probeer glimlag. ’n Kuiltjie vorm in sy wang. “Eerlik?”

Sy knik, sluk van haar koffie. Wil sy regtig weet? Sy hanteer kritiek nie goed nie.

“Ek sien iemand wat lewensmoeg is. Wat selfs met ’n uitsig soos dié,” sy hand beduie oor die oseaan, “tot twaalfuur in die oggend slaap en geen lewenslus het nie.”

“H’m.” Dis seker waar. Haar oë gaan oor die deinende blou water, en sy wonder wanneer laas sy haar voete daarin gesit het.

“Jou beurt,” sê hy.

Sy bekyk hom weer ’n keer op en af.

“Jy is nie veel anders as ek nie, al doen jy die regte dinge en maak die regte geluide. Jou oë vertel dat jy net so opgebruik is, maar jy is gedissiplineerd en kan steeds doen wat van jou verwag word.” Sy sluk nog koffie. “Wat ek wonder, is hoekom jy my wil kom oppas? Het jy niks anders om te doen nie? Bomme om te gaan ontlont of dorpe om op te blaas of terroriste om te vang nie?”

Weer die skewe amper-glimlag.

“Ek is tans tussen werke. Iemand het my gevra om dié guns vir jou te doen, en hier is ek. Vir die volgende drie maande. Die geld is goed. En om te kan werk met hierdie uitsig is soos vakansie. Dalk lyk ek minder opgebruik hierna.” Hy drink ook sy koffie, bly in haar oë kyk. Daar is staal agter daardie blik. ’n Ysere wil en ’n selfversekerdheid wat uit jare se ervaring en oorlog gebore is. Hy weet wie hy is, maar tog, iets vreet aan hom.

Hoeveel mense het hy al geskiet? Sy sal ’n lysie moet maak van al die vrae wat sy hom wil vra. Haar held sal volrond moet wees. Gebalanseerd, maar met baie bagasie uit sy verlede.

Kelly kyk weg, see se kant toe. Ja, wat is sy? ’n Skrywer wat uitgebrand is en geen lus meer het vir skryf of leef nie. Sy wil net slaap.

“Linda sê vir my jy het ’n stalker?” vra hy.

“Sy oordryf. Dis net ’n bewonderaar wat ’n paar e-posse gestuur het waarin hy dreig om my iets aan te doen as ek hom nie in my volgende boek inskryf nie. En dit help ook nie dat ek nie aan die werk kom nie. Hy raak gefrustreerd en sy e-posse dringender.” Sy sug moeg. “Sulke ouens is gewoonlik meer bek as binnegoed. ’n Boek-bleeksiel wat agter sy rekenaar wegkruip en nooit uit sy huis kom nie.”

Klink soos sy.

Dis buitendien die minste van haar probleme. Haar probleem is dat sy nie meer lewenslus het nie. Veral nie vir sosiale interaksie nie. Mense maak haar angstig.

“Jy som my reg op,” erken sy sonder dat sy wou. Sy is immers menssku, en skielik wil sy met ’n vreemdeling oor haarself praat. “Wil jy iets tragies hoor? My sterreteken is ’n Ram, of Aries. Ek kon nog altyd in die moeilikste situasies induik, impulsief, vol ambisie, optimisties en sonder enige vrese. ’n Partytjiedier. Nou voel ek meer soos ’n geslagte ram wat onderstebo hang met die bloed wat uit my wonde dreineer.”

Waar is daardie passievolle, gemotiveerde en selfversekerde mens heen?

“Watter sterreteken is jy?” vra sy hom.

“’n Kreef. Het jy nodig om dit te weet vir een of ander keuringsproses?” Hy trek ’n wenkbrou op. “Ek wil net noem ek is reeds aangestel. Of ek nou werk of nie. Ek is kontraktueel verbind om vir drie maande naby jou rond te hang.”

“En as ek jou wegjaag?” Sy probeer regtig vriendelik voorkom, maar die man met sy nonchalante houding vryf haar verkeerd op.

“Dan slaap ek hier buite in my tent. Maar ek bly.”

Sy snork onvroulik. Sluk die laaste bietjie koffie weg. “’n Kreef. Die balanseerder van die see en land. Van die geestelike en die fisieke.”

“Is dié goed vir jou belangrik?” vra hy.

Hy is mos ’n praktiese vegter. Kan seker nie die sin insien van enigiets wat in die sterre-realm ’n invloed op sy lewe kan hê nie.

“Ja, ek gebruik die persoonlikhede van die verskillende sterretekens om die karakters in my romans te omskryf. Dis net soveel makliker. Wat ek dus weet van ’n kreef is die volgende: Julle is besonder intuïtief, waaksaam, geslote en wys nie maklik jul gevoelens nie. Julle kruip agter ’n stewige wapenrusting weg om julself te beskerm en kom soms kil voor. ’n Mens moet omtrent jul harde doppe breek om by jul sagte, deernisvolle natuur uit te kom.” Sy kyk hom aandagtig aan, kyk of hy saamstem.

Effense glimlag. “Ek sal dit eerder nie erken of ontken nie. Kom ons laat dit daar. Wat verwag jy van my om vir jou te doen?” Hy kom tot die punt. Genoeg nonsens gepraat.

“Ek verwag niks. Linda wou jou aanstel.” Sy staan op, neem die koffiebekers en toring oor hom. “Jy kan jou tent opslaan net waar jy wil. Ek het ’n buitetoilet en stort vir wanneer ’n mens van die see af kom en wil afspoel. Jy kan dit gebruik. Dis hier langs die huis.”

Dis eintlik meer ’n buitelugstort en net die toilet is toegebou, maar hy behoort skoon te kom. Soldate is seker gewoond aan minder geriewe as dit.

“Dankie, ek maak so.” Hy staan op, toring nou oor haar, want sy is heelwat korter as hy. Sy moet ’n tree agteruit gee om nie oorweldig te word deur sy groot aura nie.

“My voertuig is toegerus sodat ek die tent op die dak kan oopslaan. Jy moet egter weet, wanneer jy gaan stap of rondry, sal ek jou volg. Soos ’n skaduwee.” Hy haal sy skouers op. “Dis waarvoor ek aangestel is.”

Sy oë is so donker soos sy hare, intens en gevaarlik. ’n Bang rilling skiet deur haar ruggraat. Dié man is nie iemand wat ’n mens verkeerd moet opvryf nie. Gelukkig moet hy haar beskerm en is hy nie hier om haar aan te vat nie.

Haar voete gee outomaties nog ’n tree agtertoe. Die man se grootte is nogal intimiderend.

“Dankie. Ek loop of ry nie juis iewers heen nie. Bestel kos as ek iets nodig het van die plaaslike winkel. Johnnie’s Supermark. Jy moet dit ook maar doen. Ek maak nie kos nie.”

Met dié stap sy die huis binne en skuif die glasdeur agter haar toe. Hemel, sy is skoon uitasem en haar hart klop wild. Die man kan ’n gat deur jou mondering kyk sou hy wou. Liewer uit sy pad bly. Tog gaan sit sy by haar lessenaar in haar kamer waar sy op die see kan uitkyk wanneer sy skryf. Indien sy skryf. Dit was lanklaas. In ’n notaboek maak sy ’n paar aantekeninge oor Jason se basiese voorkoms en persoonlikheid.

Haar pen met die pienk tossel voel soos ’n ou vriend, bekend en geliefd, toe sy die notas begin maak. Het sy dit sowaar gemis om te skryf?

Goed, Jason Decker . . . Hoe kan ek jou beskryf?