Skip to main content

Uittreksel | Spykerhakmeisie

Een

Te laat sien Rozelle Combrink die slaggat in die teerpad. Die voorste linkerband tref dit met ’n harde slag. Die motor hop uit die gat en trek onmiddellik skeef. Sy weet daar is groot fout.

Sy trek aan die stuurwiel om die motor onder beheer te hou. Vinnig kyk sy op haar polshorlosie. Oor ’n kwartier moet sy by haar bestemming wees. As eiendomsagent is sy nooit laat vir ’n afspraak nie. Kliënte mag nooit wag nie.

Sy hou op die skouer van die pad stil en haar moed sak tot in haar skoene toe sy die pap band sien. Hoekom vandag? Nou gaan sy beslis laat én vuil wees.

Die huis wat sy oor ’n kwartier aan ’n kliënt moet wys, is ’n ou herehuis op ’n massiewe erf, wat Leendert vir baie miljoene in die mark gesit het. Haar kommissie gaan groot wees as sy die koop kan deurhaak. Maar dan moet sy ’n goeie indruk maak. Sy moet verkieslik nie sweterig, met vuil hande en boonop laat by die plek opdaag nie.

As sy so na die pap band kyk, het sy nie eintlik ’n keuse nie. Sy sal hierdie wiel móét ruil. So kan sy nie verder ry nie.

“Verdomp,” sê sy saggies en byt aan ’n goedversorgde rooi nael. Vandag is wat ’n mens ’n blou Maandag noem.

Met geoefende vingers vee sy haar donkerblonde hare agter haar ore in en maak die kattebak oop om die spaarwiel los te skroef. Haar pa het haar vroeg geleer om ’n band om te ruil en sy was nog nooit so dankbaar daaroor soos vandag nie.

Leendert, haar baas, het haar gister op die heilige Sondag gebel en gesê sy moet vandag ’n huis vir ’n jong man gaan wys. Hy is ’n ou kliënt met wie hulle al voorheen sake gedoen het en sy hoef dus, volgens Leendert, nie bang te wees om alleen saam met hom na die huis te gaan nie. ’n Mens hoor immers nou en dan van eiendomsagente wat ’n huis vir iemand gaan wys en nie weer terugkom nie.

Sy wens sy het eerder jeans en tekkies aangehad. Die rooi rok wat altyd so mooi en sjiek aan haar lyk, is nou soos ’n magneet vir stof, en pas dalk ook ’n bietjie te knap. Om die band te ruil is nie ’n probleem nie; sy het dit al voorheen gedoen, maar sy moet kan buk!

Sy kyk om haar en sien sy is nou in The Glades. Die erwe is byna so groot soos kleinhoewes en daar is bome en hoë mure net waar jy kyk; geen huise nie. Die kans dat iemand wat haar kan help tienuur in die oggend hier verby gaan ry sodat sy ten minste vars en skoon kan bly, is skraal. Sy het dus geen ander uitweg nie as om self die ding te doen. Al skeur die rok in twee.


Van ver af sien Rozelle die silwergrys motor voor die hek van die Heydt-herehuis staan. ’n Man leun met sy boude teen die motor en kyk sowaar op sy horlosie. Dit moet die kliënt wees. Ai-ai. Sy is vuil, stowwerig, sweterig en tien minute laat. Daar is geen kans dat sy eers by ’n kraan sal kan uitkom nie. Haar rok is gelukkig darem nog in een stuk.

Sy bring haar motor langs syne tot stilstand. Hy kom by haar venster staan en sy laat dit afrol. ’n Mens begin nooit met ’n verskoning nie, flits dit deur haar. Dit maak nie ’n goeie eerste indruk nie, het Leendert haar geleer.

“Môre,” groet sy en kyk na hom. “Is jy Hein Schlemmer?”

“Ek is, ja.”

Die mooiste paar blou oë staar na haar terwyl hy sy hand deur die venster steek. Hy is nie veel ouer as sy nie, dalk in sy vroeë dertigs.

Sy draai haar stowwerige swart handpalms na bo. Die ergste swart kon sy darem aan ’n snesie afvee voordat sy aan die stuurwiel moes vat.

“Ek is Rozelle Combrink.” Sy glimlag verleë. “Ekskuus, ek kan ongelukkig nie nou jou hand skud nie. Ek is deur ’n slaggat en moes die noodwiel aansit. Daarom is ek laat. By die huis is seker water waarin ek my hande kan was. Volg my, asseblief.”

Die man se wenkbrou lig en hy glimlag geamuseerd.

“Oukei, ek sal wag tot jou hande skoon is.”

Hy trek sy hand terug en stap na sy motor.

Vroeër die oggend by die kantoor het Rozelle die afstandbeheerder van die herehuis se reusebos sleutels afgehaal en dit langs haar rathefboom neergesit sodat sy dit vinnig kan gebruik. Nou druk sy die knoppie op die afstandbeheerder. Die swart ysterhek skuif voor die klipmuur oop.

Sy voel half en half in die diep kant gegooi. Sy was nog nie voorheen hier om die plek deur te kyk soos dit van ’n eiendomsagent verwag word nie. Dis alles Leendert se skuld. Hoekom het hy haar eers gisteraand geskakel en van die huis gesê? Sy kon tog nie in die donker kom inspeksie doen nie. Vanoggend by die kantoor het hy haar kortliks omtrent die plek ingelig en gesê dit is baie miljoene werd. Hoe verwag hy moet sy die plek behoorlik bemark? Sy wat ’n perfeksionis is.

Waarom het Leendert nie die huis vir Gerda of Philippa gegee om te verkoop nie? Dis net hulle vier by Leendert Long Eiendomme. Gerda werk al baie jare vir Leendert, en Philippa is sy eks. Gerda en Philippa is wel ’n paar jaar ouer as hierdie Hein-ou, maar hulle het beslis meer ondervinding as sy. Gaan dit dus oor die ouderdom van die voornemende koper? Is dit hoekom sý hier moet skou?

Wel, sy gaan die beste van die saak maak. Die kommissie sal genoeg wees om haar studiegeld klaar te betaal. Sy sal dadelik die lening by die bank kan aflos.

Haar ouers het dit nie breed nie, en daarom het sy ná skool liewer gaan werk. Terwyl sy op kosskool was, het haar ouers ’n plaasaanval oorleef. Hulle het die plaas daar en dan teen ’n verlies verkoop en padgegee stad toe. Sy het hulle nog nooit daarvoor verkwalik nie en is maar te bly hulle leef. Sy kan haar nie haar lewe sonder hulle indink nie.

Op vyf en twintig het sy deur Unisa begin studeer en in haar eie woonstelletjie ingetrek. Op ses en twintig het sy by Leendert Long Eiendomme begin werk om meer vrye tyd te hê om te kan studeer. Die skoonheidsalon en naelboetiek waar sy werksaam was, het lang ure vereis.

Sy hou digby die huis stil en sien ’n kraan teenaan die huis se wit muur. Dadelik klim sy uit en stap vinnig daarheen. ’n Swart kat skarrel voor haar verby en sy skrik vir die skielike beweging. Sy kyk die kat agterna en wonder of die arme ding alleen hier agtergebly het. Dalk is dit die bure se kat wat net ’n bietjie rondloop, want sy haat dit as mense troeteldiere sommer net weggooi as hulle trek.

Die kraan is laag en sy moet noodgedwonge effens buk om haar hande af te spoel.

“Het jy met dié rok en skoene ’n wiel omgeruil?” vra Hein agter haar.

Rozelle vlieg regop. Verleë skud sy die water van haar hande af. Die aantreklike gesig voor haar glimlag baie breed. Kon hy tot wie weet waar onder haar rok ingekyk het?

Haar oë dwaal na haar rooi skoene en sien dat daar nou vet waterdruppels bo-op die stof op haar skoene geval het. Dit lyk aaklig, maar dit gaan haar nie onderkry nie. Sonder weifeling kyk sy weer na hom.

“Ja. Ek het nie ’n keuse gehad nie, anders was ek nog later. Wel, bly te kenne.” Sy hou haar nat hand na hom toe uit en hy gee haar ’n stewige handdruk.

Hein is besonder aantreklik en lyk na ’n vriendelike ou wat nie skrik vir ’n nat hand nie. Hy is netjies uitgevat in ’n liggrys pak met ’n wit oopknoophemp. Sy grys skoene is sonder stof en waterspatsels, en sy hande is silwerskoon.

Hein draai om en stap na haar motor. Hy vryf oor sy ken terwyl hy na die dun spaarwiel links voor kyk.

“Ek moet bieg. Ek het nog nooit ’n wiel omgeruil nie,” sê hy oor die breedte van die motor. Dan verskyn ’n ondeunde trek op sy gesig. “Jy moet jou selnommer vir my gee sodat ek jou kan kontak as ek my kar se wiel in ’n slaggat afskryf.”

Rozelle bars uit van die lag. Dit kon sy geraai het. Hein lyk soos ’n suksesvolle sakeman wat ander betaal om wiele om te ruil. Ook sy mooi hande getuig daarvan.

“Ek sal vir jou lesse gee, maar jy sal dit wraggies self moet doen,” sê sy weer ernstig. “Kom ons gaan kyk na die huis. En hier moet ék bieg. Ek het nog nie self na die plek gekyk nie. Die vorige eienaars het vinnig uitgetrek en is sommer weer oorsee.”

“Hoekom?”

Behalwe vir ’n kleiner neus, kan sy sweer hy lyk soos ’n jong Tom Cruise. Hy het dieselfde welige bos bruin hare wat skuins agteroor gekam is.

“Geen idee nie,” sê sy skouerophalend.

Rozelle kyk na die imposante huis. Dit het kleinerige vensters met houthortjies voor soos die huise op die wynlandgoede. Dis tipies van die ou Kaaps-Hollandse boustyl. Dit het ’n eerste verdieping en heel bo is een enkele venster en moontlik ook een solderkamer in die nok van die dak. Voor hierdie vertrek se venster is dik staaltralies aangebring.

“Ek wonder wie was daar opgesluit?” sê-vra Hein wat ook na die plek kyk.

“Ou huise en families het dikwels ’n donker geheim gehad, soos ’n mens in flieks sien. Jy kan seker die plek google. Die Heydt-herehuis, The Glades. Laat ek net my handsak uit die kar haal en sluit, dan gaan ons binne kyk.”

Rozelle klim eers terug in haar motor voordat sy haar handsak onder die sitplek uithaal. Sy gaan nie sommer weer met hierdie rok buk nie. Sy gaan nooit alleen saam met ’n kliënt in ’n huis sonder haar handsak nie. Behalwe dat Gerda gewoonlik saamgaan vir veiligheid, is daar ’n klein .22-pistool in die sak, klaar gelaai met ’n patroon in die loop. Dis iets wat haar pa voorgestel het, want ná die plaasaanval vertrou hy niemand meer nie. Met sy karige pensioen het hy selfs vir ’n paar skietlesse gesorg. Sou ’n kliënt haar en Gerda wou beroof of aanrand, gaan hy of sy beslis tweede kom.

Nie dat Hein Schlemmer haar bang maak nie. Daar is nie ’n sluwe kyk in sy oë nie. Hy het ook nie ’n vatterige, meerderwaardige houding nie. Inteendeel, hy lyk heel ordentlik en op sy plek. Maar om haar handsak saam te vat is nou eenmaal ’n gewoonte.

Sy stap na die kattebak, haal haar aktetas uit en sluit die motor. Uit die sak haal sy ’n bos sleutels en ’n afstandbeheerder. Sy deaktiveer die alarm in die huis en sluit die swaar houtdeur oop met behulp van die grootste sleutel aan die bos. Dan beduie sy dat Hein voor moet stap. Sy doen dit altyd. Die kliënt moet na die huis kyk, nie na haar nie.

Die voorportaal is groot met ’n lang gang wat daaruit loop. Verskeie vertrekke gaan links en regs uit die gang. Hein gaan eerste by die kombuis in. Sy volg hom. Die kombuis is beslis gerestoureer met moderne granietblaaie bo-op die ou, oorspronklike geelhoutkassies.

Verder in die gang af is ’n groot sitkamer en ’n kleiner vertrek met ’n kaggel. Dan volg ’n badkamer met ’n toilet en ’n ruim slaapkamer met sy eie badkamer. Oorkant hierdie slaapkamer is ’n kleiner een. Die ou houtvloere kraak hier en daar wanneer hulle daarop trap, en die geluid weergalm in die leë ruimtes. Dit lyk asof die eienaars voor hulle vertrek darem skoongemaak het.

“Waarom stel jy in hierdie spesifieke plek belang?” vra sy. “Leendert het gesê jy wil net na dié een kom kyk.”

“Ek kom namens my tante. Sy vertrou my oordeel.” Hy lag saggies. “My tante is nogal eksentriek.”

“Hoe so?”

“Sy hoop die plek spook.”

Maak hy nou ’n grap, wonder Rozelle.

“Jy speel.”

“Nee, regtig.”

“Wel, ek weet van die buitegeboue was die slawekwartiere. Dan is daar die solderkamertjie heel bo onder die dak van die huis, en volgens Leendert is daar blykbaar ’n hele paar grafte op die perseel. Die plek kan dus heel moontlik spook,” sê Rozelle ongeërg.

Sal sy ’n spook moet prakseer om die plek vir “baie miljoene” verkoop te kry? Leendert sal moet help, want dis hý wat die prys vasstel. Hulle sal dringend moet koukus.

“Dit lyk asof die hoofslaapkamer op die onderste vloer is. Die kleiner slaapkamer was seker vir die jongste kinders ingerig. Die ander slaapkamers moet bo wees,” sê sy en stap na die trappe. Daar wag sy vir Hein wat eers by die twee vertrekke ingaan.

Rozelle kyk na die houttrappe wat na die eerste verdieping opspiraal. Daar is pragtige koperrelings links en regs.

Toe Hein by haar aansluit, laat sy hom eerste by die trappe opklim. Die trap kraak onder Hein se gewig. Hy gaan staan en kyk af. Dan klim hy hoër. Rozelle volg hom. Elke trap kraak onder haar en Hein se gewig, maar die trappe lyk heel. Waarom hulle dus kraak, weet sy nie.

Sy frons. Leendert het niks gesê van krakende vloere en sprake van spoke nie. Is Philippa en Gerda bang vir hierdie huis en toe gee hy dit vir haar wat Rozelle is om te skou? Haar oë dwaal na Hein hoër op teen die trappe. Breë skouers, stewige sitvlak …

“Glo jý aan spoke?” vra sy toe nog ’n trap kraak. Sy dink vlugtig aan die swart kat buite. Sy is nie eintlik ’n bang mens nie, maar hierdie gekraak is erg.

“Ek weet nie. My tante glo hulle bestaan. Ek sal hierdie plek moet google. Die meeste plekke wat spook, is iewers gelys vir toere,” antwoord hy sonder om om te kyk.

“As dit gelys is, wat dan?”

“Dan sal my tante dit beslis koop.”

“Goeiste aarde. Sy is omtrént anders.”

Dan is hulle op die eerste verdieping en Hein stap in die breë gang af. Hy kyk deur al die kamers en die kaste, en sy het niks anders om te doen as om hom te beskou nie. Hy is ’n fees vir die oog.

Die trappe na die solderkamertjie is nie so indrukwekkend soos die eerste stel trappe nie. Daar is een gewone staalreling en die smal trappe is van doodgewone en ru afgewerkte hout.

Die linkerkantse muur voel yskoud teen Rozelle se arm toe sy daaraan raak, ten spyte van Januarie se hitte. Die houtdeur lyk swaar en daar is ’n stewige grendel aan die muur en die deur. ’n Slot ontbreek en die deur kan dus oopgemaak word.

“Wie ook al in hierdie kamer toegesluit was, moes opgesluit bly,” sê Hein en draai die deurknop.

Toe Hein die deur wil oopstoot, voel Rozelle hoe haar dun spykerhak in ’n gleuf tussen twee planke intrap en sy val vorentoe. Haar hande druk teen Hein se rug. Hy swaai om, gryp haar in sy arms vas en herstel haar balans. Sy voel sy hartklop teen haar bors en raak intens bewus van sy arms om haar. Die reuk van sy naskeermiddel prikkel haar sintuie. Vir ’n paar oomblikke staan sy roerloos, haar blik vasgevang in sy blou oë.

Sy lees iets in sy kykers. Asof hy ook deeglik bewus is van haar lyf teen syne.

Sy kom tot verhaal. Dadelik stoot sy haar van hom af weg terwyl sy nog aan sy een arm vashou. Sy klou haar handsak vas terwyl sy afkyk na haar skoen.

“Wag, laat ek jou help om jou skoen los te kry,” sê Hein, wat nou ook afkyk.

Hy hurk op een knie, vat haar enkel vas en trek haar voet uit haar skoen. Haar vel is oorsensitief onder sy aanraking en sy voel ’n warmte in haar opstoot. Ag nee, sy moet net nie bloos nie. Dit sal heeltemal onvanpas wees, want hy is ’n kliënt. Om af te koel druk sy haar arm teen die koue muur.

Hy wikkel die hak tussen die planke uit, neem haar voet en druk dit weer sagkens terug in die skoen. Gelukkig het sy haar spykerhakke aangehou toe sy die wiel omgeruil het, anders was haar voet ook nou vuil.

Hein kyk op na haar.

“Dit het my nou laat dink aan die prins en Aspoestertjie,” sê hy.

Rozelle glimlag na hom toe.

“Nogal, ja. Behalwe dat dit minder romanties was.”

Sy byt amper haar tong af. Hoekom moes sy nou juis die woord “romanties” gebruik? En dit nogal in hierdie situasie waar sy, en hy heel moontlik ook, ietwat ongemaklik voel?

“Hoe so?” vra hy terwyl hy orent kom. Hy staan baie naby haar.

“Ek het my balans verloor en nié op ’n bankie gesit terwyl jy die skoen vir my aanpas nie.”

Hy maak ’n geluid wat klink of hy goedig lag.

“Dis waar. Maar jy sal liewer val as om jou handsak te laat los.”

“Daar is … ’n spieëltjie in wat kan breek,” antwoord sy vinnig. Hy hoef nie van die pistooltjie te weet nie en sy het wel ’n spieëltjie. Blykbaar tevrede met haar antwoord, draai hy om en tree die kamertjie binne.

Rozelle stap versigtig agter hom aan.

“Hierdie huis is in die era van plat skoene gebou. Volgende keer as ek hierheen kom, sal ek plathakskoene aantrek.”

“Het jy sulkes?” vra hy terwyl hy na haar toe omkyk.

“Nie eintlik nie.”

“Ek het so gedink. Jy lyk na ’n spykerhakmeisie.”

Hy glimlag.

Spykerhakmeisie. Bedoel hy dit as ’n kompliment, of hou hy nie van sulke meisies nie?

’n Muwwerige reuk laat Rozelle van die spykerhakke vergeet en sy kyk in die kamertjie rond. Daar is ’n kleinerige ingeboude kas, en die venstertjie is redelik hoog van die vloer af. Voor die venster is dik ysterstawe. Die plafon is van hout, maar daar is niks wat ’n mufreuk kan veroorsaak nie.

“Iemand was beslis hier opgesluit,” sê Hein. “Dalk ’n kind wat besete of melaats was of iets. ’n Skande wat hulle wou wegsteek. Deesdae word so ’n kind in ’n inrigting geplaas of gesond gemaak.” Hy kyk op na die venster. “Ek dink nie die persoon was veronderstel om deur die venster na buite te kyk nie. Behalwe as hy of sy op ’n stoel gestaan het. Dit is net hier om lig in te laat.”

“Dié kamer is erger as ’n tronksel, behalwe dat hier nie ’n wasbak en toilet is nie,” sê Rozelle en frons liggies. Hoe moet dit voel om hier opgesluit te wees? “Kyk hoe dik is die deur. En dit lyk na krapmerke waaroor vernis geverf is. Sien jy?”

Hein kom langs haar staan en trek ’n vingerpunt deur ’n krapmerk.

“Jislaaik! Die arme persoon. Ek sal ’n bietjie navorsing doen. Daar is dalk in die stadsraad se argief inligting oor vorige eienaars.”

“Ek dink jy gaan lank soek. Hierdie plek is oud,” sê Rozelle.

“Te lank vir julle om die plek vir my tante te hou?” vra Hein bekommerd.

“Jy dink dus sy sal wil koop?” vra Rozelle.

“Soos ek haar ken, ja. Hierdie plek het al die eienskappe om wel te spook. Dit het beslis ’n donker verlede, en nie almal kan spoke aanvoel nie. Die vorige eienaars het dit dalk nie eens agtergekom nie.”

Rozelle skud haar kop in ongeloof.

“Dink jy regtig jou tante sal koop? Ander voornemende kopers sal vinnig padgee as hulle selfs net vermoed daar is fout.”

“Soos die eienaars wat sommerso hier uitgetrek het?”

“Miskien. Ek weet nie wat hulle rede was nie. Hulle het dalk nie gehou van krakende vloere nie.”

“My vriendin is ’n stads- en streeksbeplanner by die stadsraad. Sy kan dalk ’n paar dinge omtrent die Heydt-herehuis uitvind. Ek sal jou môre laat weet.”

Vriendin? ’n Meisie of net ’n vriendin, wonder sy.

“Dit sal gaaf wees, dankie. Dan weet ek vir die toekoms,” sê sy.

Hulle draai om en stap uit die kamertjie uit.

“Laat ek voor stap,” sê Hein. “As jy weer val, val jy dan minstens teen my.”

’n Galante heer, dink Rozelle. Hoeveel van hulle is daar nog op aarde oor? Maar sy is nie van plan om weer te val nie. Rozelle laat die deur oopstaan sodat die mufreuk hopelik uit die mure en die hout kan trek. Dan klim sy die trappe versigtig af.

“Wil jy na die buitegeboue gaan kyk?” vra sy terwyl die trappe weer onder hulle kraak.

“Anderdag. Die huis is die belangrikste.”

“Dit is. En onthou, ons kan altyd oor die prys onderhandel,” voeg sy by. Noudat sy die plek gesien het, weet sy nie of Leendert sy hoë prys gaan kry nie. As Hein se tante nie die plek koop nie, gaan hulle sukkel om dit verkoop te kry. Hulle sal drasties met die prys moet afkom.

Daar is ’n atmosfeer aan die huis waarvan nie alle mense gaan hou nie. Alles omtrent die plek is net anders as ander huise. Wie wil dan krakende vloere in jou huis en grafte in jou erf hê? ’n Mens kan grafte nie sommer net laat verwyder nie, en met grafte op jou erf sit jy met die probleem dat die familielede elke nou en dan hulle voorvaders wil besoek. Dit skep ’n veiligheidsrisiko. Nee, Leendert sal moet herbesin.

Buite groet Hein haar met die hand. Al weet sy dit mag nie, gee sy aanraking haar ligte fladderings op haar maag. Hy is baie aantreklik, maar die ontroue Burger is ook baie innemend, soveel so dat sy vroulike kollega hom onweerstaanbaar gevind het. Toe sy dit uitvind en met hom uitmaak, kon hy dit kamma nie verstaan nie. Almal doen dit op kantoor, was sy armsalige verskoning.

“Ry nou mooi. Kyk uit vir die slaggate. Of miskien moet ek agter jou aanry,” stel Hein voor en hy klink opreg besorg. “Jy het nie nog ’n noodwiel nie.”

“Dis bedagsaam van jou. Dankie. Dan gesels ons môre,” groet sy glimlaggend.

Rozelle klim in die motor en druk haar handsak onder die sitplek in. Haar regterhand bewe liggies terwyl sy die motor aanskakel. Ruk jou reg, Rozelle, berispe sy haarself. Jy gaan die man dalk nooit weer sien nie. Jy het die huis klaar geskou. Hou die fladderings vir iemand by wie jy weet jy ’n kans het.

Sy is seker met die maan gepla. Hoekom nou skielik al hierdie bakvissiegevoelens? ’n Vel wat tintel onder Hein se aanraking. Fladderings op die maag. Wat het Hein wat hierdie vergete gevoelens by haar wakker gemaak het? Is dit wat die geleerdes die chemie van die liefde noem? Jy voel net onverklaarbaar aangetrokke tot iemand.

Burger was haar laaste liefde, maar hy het haar hart só met sy ontrouheid gebreek dat sy besluit het om mans op ’n afstand te hou. Die hartseer was te erg. Nou het Hein op die horison verskyn en klits hy haar binneste om, maar sy sien die meeste van haar kliënte nooit weer nie. Dieselfde kan met Hein gebeur. Hy ry agter haar aan totdat hulle by die hoofweg kom. Hy flits sy ligte en draai in ’n systraat af.