Uittreksel | Spoke van gister

Een
Kathleen hark haar vingers deur haar lang kastaiingbruin hare wat weer vanmôre ’n wil van hulle eie het, en daar is onweer in haar bruin amandelvormige oë. Niks wil vanoggend saamwerk nie.
Sy is nie in die luim vir die afspraak met die prokureur oor haar oorgeërfde aandele nie. Sy wens sy kon dit botweg ignoreer. Die ure vir slaap was laas nag uiters beperk met die oog op haar eksamen wat voorlê. Nou ja, niemand het gesê die finale jaar in natuurbewaring is maklik nie. Dalk is sy net moeg gestudeer en wil in die veld kom. Haar drome gaan uitleef.
Nou is sy opgesaal met aandele in ’n verlate hotel iewers op ’n spookdorp. Sy het genoeg naslaanwerk gedoen. Dit lê diep in die Bosveld, skuins van Gravelotte in Limpopo. As dit nou eerder aandele in ’n wildplaas was, sou sy beslis anders daaroor gevoel het.
Wat haar voorgeslagte besiel het om die dekselse aandele elke keer aan die eersgeborene oor te dra, sal geen mens weet nie. Sy vermoed hulle beskou dit as ’n tradisie. Ongelukkig is sy die eniggeborene en nou sit sy met die finale keuse om daarvan ontslae te raak.
Vir al wat sy omgee kon hulle dit eenvoudig aan die naaste boemelaar oorhandig het. Nie net is die aandele al van geslag tot geslag oorgedra nie, maar daarmee saam ook die hele verhaal van die vete tussen die twee mede-eienaars se families.
Asof malaria en leeus nie genoeg onder almal gemaai het nie, was noodlottige kroeggevegte alledaags. Soos sy dit sien het, het almal aan goudkoors gely, en drank was hulle stapelvoedsel.
Haar ooroorgrootvader Jeremy Porter was in ’n stadium die eienaar van die hotel in Langmarkstraat, met Jake Perkins as vennoot. Min mense het dit geweet totdat die hel in Leydsdorp losgebars het. Perkins het sy kleim reg langs Joe Paraffien s’n afgesteek en het nie veel te doen gehad met die hotel nie. Op ’n mooi dag het Perkins eenvoudig verdwyn. Daar was gerugte dat hy vermoor is en Jeremy Porter was die hoofverdagte. Dit was die begin van ’n bloedige stryd tussen die twee families. Die res van die gemeenskap het aangegaan asof daar niks gebeur het nie; al wat saak gemaak het, was die goud en hulle bierbottels.
Volgens haar oupa was sy oupagrootjie beslis nie die skuldige nie. Hy was ’n vredeliewende man wat met waardigheid na sy gaste in die hotel en die kroeg omgesien het. Hy het eerder probeer om kroeggevegte te beheer as dit gelyk het of dit op moord kan uitloop. Perkins, daarenteen, was self kort-kort in ’n kroeggeveg betrokke. Vir haar klink die hele spul soos iets uit die Wilde Weste.
Sy staan voor die prokureur se kantore. Gelukkig is die plek nie in ’n besige deel van Pretoria nie. Sy ken die stad soos die palm van haar hand, maar die verkeer is iets wat sy nog altyd probeer vermy het, al het sy hier grootgeword. Sy verkies die stilte in die natuur.
Hopelik kan sy vandag ’n einde maak aan die sage wat van geslag tot geslag oorgedra is. Vreemd om so daaraan te dink, maar met haar handtekening op ’n stuk papier wis sy geskiedenis uit wat nou byna honderd en dertig jaar oud is. Sy moet erken dit bring ’n effense gevoel van verlies.
Kathleen frons liggies toe ’n man verby haar stap en die trappies twee-twee na die voordeur toe uitdraf. ’n Man met ’n houding. Sy moet erken hy is nie sleg op die oog nie. Sou dit die prokureur wees wat met haar kontak gemaak het? Sy stap teen die trappe op en stoot die deur oop, net betyds om te sien hoe die man van flussies agter die ontvangsdame aanloop. So, dié meneer het ook ’n afspraak.
Die ontvangsdame is egter vinnig weer terug en glimlag in haar rigting.
“Is u mejuffrou Porter?”
Kathleen knik. “Die einste.”
“Volg my, asseblief, meneer Harmse wag reeds vir u.”
Kathleen kyk fronsend na haar selfoon. Sy is beslis nie laat vir haar afspraak nie. Hy is seker net nie ’n besige man met ander afsprake nie. Sy stap sonder om te reageer agterna.
’n Lang gryskopman kom regop agter sy lessenaar.
“Goeiedag, mejuffrou Porter. Dankie dat u gekom het.”
Kathleen neem die hand wat hy na haar uitsteek.
“Noem my Kathleen, asseblief.”
Hy knik vriendelik. “Ontmoet asseblief ook vir meneer Perkins.” Hy beduie na iemand aan haar linkerkant.
Sy draai effens skuins en kyk vas in die byna swart oë van die man wat die trappe by haar verby veerkragtig bestyg het. Sy sien hoe hy ook opstaan en bokant haar uitrys. Seker ’n hele ses voet as sy hom moet skat. Met haarself aan die kort kant voel sy effens geïntimideer.
“John Perkins, aangename kennis.”
Sy knik styf. Perkins. Sy moes dit geweet het!
Die ander vennoot se nasaat. Sy kan net nie glo dat sy familie wraggies ook dit as ’n erfporsie deur die geslagte oorgedra het nie. Sy gaan sit op die stoel wat die prokureur vir haar wys. Sy sou egter verkies het om te staan want die sitplek is geheel en al te naby aan Perkins.
Kathleen kan nie anders as om te wonder oor die oombliklike antagonisme wat sy jeens John Perkins ervaar nie. Sou dit soos ’n vloek deur hulle families trek? Sy ken hom tog van geen kant af nie.
Die prokureur onderbreek haar gedagtes.
“Ek is baie bly julle kon die afspraak beide nakom. Soos ek reeds in my telefoniese gesprek aan julle verduidelik het, is daar ’n aanbod vir die hotel op Leydsdorp waarvan julle gelyke aandeelhouers is. Al is hierdie vergadering net ’n formaliteit aangesien die plek nie vir julle meer van waarde is nie, moet dit afgehandel word.”
Kathleen laat nie op haar wag nie. “Ek het geen probleem nie. Dit is in elk geval niks werd nie, en as ek reg kan verstaan, is Leydsdorp net ’n spookdorp. Wat my betref, teken ek dit met graagte oor aan die voornemende koper.”
John maak skielik keel skoon. “Dit is nie so eenvoudig nie, want ek het ook ’n sê.”
Kathleen draai na hom sodat sy reguit in sy oë kan kyk.
“Ek het nie ’n saak met jou deel van die aandele nie, meneer Perkins. Jy kan daarmee maak wat jy wil. Tensy jy die aspirasie het om self die hotel te gaan bedryf. Ongelukkig gaan jy net met die geeste as gaste tevrede moet wees. Die laaste wat ek met die sensus kon sien, was daar skaars ses siele ongeveer sewe kilometer uitmekaar. Dus plakkers.”
Daar pluk ’n skewe glimlag aan John se mond waarvan die onderlip effens meer prominent is.
“Dalk moet jy eers gaan kyk voordat jy jou erfporsie so goedsmoeds wil weggee.”
Kathleen se oë vernou. Die tenoorstem pas by die man. Gemeet aan die blas vel en donker hare vermoed sy dat sy voorsate dalk van Italiaanse afkoms moet wees.
Haar stem steek nie haar irritasie weg nie. “Asof jy die moeite gedoen het om te gaan kyk waar jou voorsate geleef het. Dan sou jy beslis nie vandag hier gesit en met my geargumenteer het nie.”
Sy merk dat die prokureur hulle glimlaggend sit en dophou. Sy is bly hy vind die gesprek amusant. Haar humeur is besig om kookwater te raak met die beterweterige Perkins. Geen wonder haar oeroupa het sy voorsaat se nek omgedraai nie.
Harmse sit al twee sy hande op sy lessenaar se blad. “Goed, julle twee. Ek glo nie ons gaan vandag ’n ooreenkoms bereik nie. Ek stel voor julle besoek albei die plek voordat julle finaal besluit. Ek sal dit so aan die voornemende koper oordra. Aanvaar julle dit so?”
Kathleen skud haar kop. “Ek kan nie nou gaan nie, want my eindeksamen lê voor die deur. Ek dink in elk geval dit is ’n mors van tyd. Ek het my navorsing reeds gedoen. Daar gaan hoegenaamd niks aan nie. Behalwe ’n paar murasies en grondpaaie.”
John laat skuinsweg van hom hoor. “Dit is steeds ons geskiedenis. In elk geval is dit binnekort vakansie, dan kan jy seker gaan, aangesien ek aanneem jy is ouer as agtien.”
Sy vervies haar bloedig. Sou die swernoot dink sy is nog op skool?
“Nee, meneer Perkins. Ek is besig met my finale jaar in BSc, so, my ‘vakansie’, soos jy dit noem, is nie binnekort nie.”
Hy steek sy hande in die lug. “My fout, jammer. Wel, met die oog op ’n beroep in natuurbewaring is Leydsdorp dalk die regte plek om te wees. Dit bevat al die regte elemente.”
Die prokureur staan op. “Hoe dit ook al sy, ek gee julle drie maande, dan ontvang ek graag julle finale besluit. Julle kan verstaan ons kan nie die koper vir ewig aan ’n lyntjie hou nie. Hopelik sal julle ’n besoek in Leydsdorp tog ernstig oorweeg.” ’n Effense glimlag pluk aan sy mondhoeke. “En probeer asseblief om nie die foute van die verlede te herhaal nie.”
Kathleen kan nie besluit of hy ’n grap probeer maak of dit ernstig bedoel nie. Sy gaan egter nie daaroor pieker nie, sy beskou die afspraak as afgehandel. Sy staan op.
“Dankie, meneer Harmse. Ek sal u binnekort kontak.” Sy knik net styf in John se rigting.
Hy staan ook dadelik van sy stoel af op. “Dankie, meneer Harmse. Ons kom so gou moontlik na u toe terug met ons antwoord. Teken asseblief namens ons verskoning aan by u kliënt.”
Kathleen kyk vies in sy rigting. Wie dink die vent is hy? Watse ge-ons is dit met hom?
Die prokureur verhoed haar net betyds voor sy hom iets kan toesnou.
“Dit is goed so, meneer Perkins, juffrou Porter . . .”
Hy beduie na die deur en wag dat sy vooruitstap.
Kathleen trek haar skouers regop en begin terugstap na ontvangs. Sy knik vriendelik in die rigting van die dame agter die toonbank en stap reguit by die voordeur uit.
Die son skyn helder op haar vel. Sy het so gehoop dat sy hierdie hoofstuk in haar familiegeskiedenis vandag finaal kon afsluit, maar danksy Perkins het sy ’n nuwe opdrag.
’n Hand sluit van agter af om haar boarm en sy word effens teruggehou. Sy draai onmiddellik op haar hakke om.
“Kan ons gou praat, Kathleen?” John se donker gestalte staan kop en skouers bokant haar uit.
Sy kan nie onthou dat sy met hom al op voornaambasis is nie, maar nou ja.
“Ek is eintlik haastig, John. My studies wag.”
“Ek belowe ek gaan jou nie te lank ophou nie. Kan ons gou koffie daar gaan drink?” Hy beduie na die straatkafee aan die ander kant van die straat.
Sy oorweeg dit om summier die uitnodiging van die hand te wys, maar hulle is danksy hulle voorouers saam in hierdie besluit.
“Goed, maar my tyd is beperk.” Sy draai om en stap saam met hom met die trappe af en oor die straat. Dit is opmerklik dat sy sy pas gemaklik handhaaf ten spyte van hulle lengteverskil.
John trek vir haar ’n stoel by een van die oop tafels uit en wag dat sy sit voordat hy omstap en ook gaan sit. ’n Kelner is dadelik by om hulle bestelling te neem.
John kyk vraend na haar. “Koffie of tee?”
’n Duiweltjie spring op haar skouer. “Cappuccino, asseblief.”
’n Glimlag vorm om sy lippe en ontbloot spierwit egalige tande. Sy moet erken hy is nogal heel aantreklik as sy kan vergeet wie hy is.
Die kelner stap weg om hulle bestelling te gaan haal.
John skuif effens rond op sy stoel. “Die rede hoekom ek jou vir koffie genooi het, is sodat ons kan kyk of ons dit nie so kan reël dat ons saam Leydsdorp toe gaan nie. Jy sê self dit is net ’n spookdorp en vroualleen is dalk nie ’n goeie idee nie.”
My maggies, die meneer het sowaar ’n greintjie omgee in hom. Sy is egter van geen man afhanklik nie en dit moet hy uit die staanspoor weet.
“Jy hoef jou glad nie oor my te bekommer nie, dankie. Ek sal jou wel laat weet wanneer ek gaan. Gee my net jou telefoonnommer. Indien jy te bang is om alleen te gaan, kan jy my daar ontmoet.”
’n Frons kom lê tussen sy donker wenkbroue.
“Ek, bang? Ek is ’n argeoloog, juffrou Porter, ek is gewoond aan vreemde verskynsels. Gee vir my jou foon, asseblief, dat ek my nommer daarop kan intik. Let wel, nie omdat ek bang is nie, maar besorg oor jou veiligheid alleen in die spookdorp.”
Sy kyk vies na sy vingers wat aanhalingstekens vir haar wys toe hy van Leydsdorp praat. Sy oorhandig haar foon teësinnig aan hom. “Wel, die mense wat die plek besoek het, skryf almal oor die siele wat nie almal rus gevind het nie en steeds daar ronddwaal.”
“Ek steur my min aan spookstories, Kathleen. Dit is gewoonlik mense wie se verbeelding op hol gaan die oomblik as hulle iets van spoke hoor. As argeoloog sal ek die plek egter graag wil besoek. Veral die ou myn. Daar kan dalk ’n paar interessante artefakte wegkruip.”
Hulle koffie daag op en sy neem hare. Sy beloer John oor die rand van haar koppie en frons liggies. Nou is sy oë ’n donker groenbruin en nie die aanvanklike donkerbruin nie. Verkleurmannetjie-oë. Sy wil amper glo dis nes sy persoonlikheid.
Sy neem ’n slukkie en pers haar lippe saam om van die nattigheid ontslae te raak. Sy merk dat hy elke beweging van haar dophou en sy wonder wat in sy kop aangaan. Dalk moet sy eerder seker maak dat John sy aandag by hulle gesprek bepaal.
“Is dit jou ingebore liefde vir goud wat jou onbewustelik lok, John? Jou oeroupa was altoos ’n myner met sy eie kleim.”
Sy oë vernou effens. “Probeer jy my nou subtiel van hebsug beskuldig?”
Kathleen trek skewemond. “As die skoen jou pas.” Sy neem weer ’n sluk koffie.
John skud sy kop. “Ek kan sien wie is jou voorsate.”
Sy frons kwaai. “Presies wat bedoel jy daarmee?”
“Vinnig om aannames te maak.”
Haar humeur is onmiddellik rooiwarm. “Ekskuus my, John Perkins, maar dit is een van jou familie se karaktereienskappe. Dankie vir die koffie, maar nou moet jy my verskoon.”
Kathleen staan onmiddellik op en stoot haar stoel driftig onder die tafel in. Sy weet dadelik sy het iets getref en gemeet aan die pynlike trek op John se gesig, moes hy in die pad gewees het van die stoel se pote. Hopelik sy maermerrie. Sy draai om en stap reguit terug na haar motor toe en ry weg. Sy kyk vir ’n oomblik in haar truspieëltjie en sien John waar hy voor die straatkafee staan, hande in die sye terwyl hy haar motor agternakyk.