Skip to main content

Uittreksel | Soos dans

Een

In die middel van die sebraoorgang onthou Rozette die tas met wintersklere wat sy in haar woonstel in Edinburgh gelos het en haal weer haar selfoon uit. Toe sy nou net vir meneer Murdoch gebel het, het sy nie aan klere gedink nie. Die enigste gedagte in haar kop was dat hy die plek maar kan adverteer want sy kom nie terug Skotland toe nie. Nou antwoord hy nie sy foon nie. Soek seker ’n ander huurder. Sy sal ’n boodskap moet stuur.

Wat moet sy nog doen? ’n Motor kry, haar werk by Edinburgh Fitness and Health bedank, haar ma inlig dat sy nie drie weke hier kuier nie maar permanent terug is in die land … En dan moet sy almal wat skimpe gooi oor impulsiewe gedrag oortuig dat hulle dit mis het. As sy meneer Murdoch gister op die lughawe al gebel het, já. Dít sou impulsief gewees het. Sy wou. Maar sy het nie. Sy het net daar gestaan met die Februarie-son vir die eerste keer in twee jaar op haar vel en gewonder of dit nie net die Skotte is wat in ’n koue plek soos Skotland kan woon nie. Sy sal dit natuurlik nie oorweeg om haar hier in die Kaap te vestig nie, dit sou dom wees, maar dit beteken tog nie sy moet van die hele Suid-Afrika af wegbly nie. Dis so mooi hier. So lekker warm. Nee wat, sy het die regte ding gedoen.

Iets ruik heerlik. Sy stop haar selfoon in haar skouersak en volg haar neus tot by ’n oulike eetplekkie. Dis stampvol, maar sy gaan in. Iewers sal daar wel ’n gaatjie vir haar wees. Sy glimlag vir ’n verliefde paartjie wat beslis nie om háár onthalwe gou klaar sal eet nie, en dwaal in die rigting van ’n hoë ficus wat in ’n enorme pot voor die venster floreer.

’n Meisie kom orent en flankeer vir oulaas met die man by haar. Hoopvol stap Rozette nader, maar nee, die ellendige vent bly sit.

Hy lyk nogal op ’n manier bekend. Selfs al sit hy teen die lig met sy rug na haar, kry sy die idee dat dit ’n aantreklike man is. So rondom veertig. In elk geval aansienlik ouer as die jong blondine, wat ’n paar jaar jonger as sy self lyk. Rozette stap stadiger en gaan staan. Wie …

Die meisie tel haar motorsleutels op en hy laat rus die rugkant van sy vingers vlugtig, onopvallend, teen haar pols. Rozette knip haar oë. Dis ’n beweging wat sy ken. Sy onthou daardie sku aanraking aan haar eie pols.

Dis John.

’n Oomblik lank wil sy dit nie glo nie. Dis ’n misverstand. ’n Aaklige fout. Maar dit is nie, en dit verander elke herinnering wat sy van hom het. Daardie aanraking wat sy so goed onthou, het nie regtig gewys wat hy vir háár voel nie. Hy wou haar maar net so laat dink het – soos hy haar ook laat dink het ’n liefde soos hulle s’n kry jy net een keer in ’n leeftyd. Maar hier is hy saam met iemand anders en hy doen presies dieselfde dinge wat hy met haar gedoen het.

Sy moet padgee. Dadelik. Maar sy staan versteen, en toe die meisie omdraai en reg op haar afstap, besef sy die enigste deur buitetoe is agter haar, en dat John omgedraai het op sy stoel om die blondine met ’n selfvoldane grinnik agterna te kyk.

Sy gesig raak uitdrukkingloos toe hy Rozette sien. Dis nie hoe iemand lyk wat bly is sy is terug nie. Allesbehalwe.

Tot haar verstomming kom sy agter sy staan met haar voete uitmekaar geplant, hande in vuiste langs haar sye gebal, reg vir aanval of verdedig. In hemelsnaam. Hier in die middel van ’n besige restaurant. Tot op hierdie oomblik het sy nie aan haarself erken hoe kwaad sy in werklikheid die afgelope twee jaar vir hom was nie.

Een ding is seker. Hiermee gaan hy nie wegkom nie.

Sy trek haar asem diep in en gaan sit op die blondine se stoel.

“Hallo, John,” sê sy met ’n kraak in haar stem. “Was jou vrou nie vandag lus om saam met jou te kom koffie drink nie?”

Hy praat nie dadelik nie. “Hallo, Rozette.” Sy stem is sag. Sy moet naderleun om hom te hoor. Dis seker die hele idee. “Jy’t nog niks verander nie.”

“Jy bedoel vandat iemand twee jaar gelede vir my gesê het die vrou wat by jou staan, is met jou getroud?” Sy klem haar hande inmekaar op haar skoot sodat hulle kan ophou bewe.

“Wanneer moes ek dit vir jou vertel het, Rozette? Pas nadat ek jou ontmoet het? Voordat ek vir jou lief geword het? Daar wás skaars ’n ‘voordat’. Dit het so vinnig geb…”

“Nee wat,” val sy hom in die rede. “Jy kon sommer daardie eerste aand op die partytjie al gesê het jy sou graag langer met my wou gesels, maar jou vrou wag vir jou by die huis.”

Die ficus se blare ritsel.

John se blik flits oor die tafels naaste aan hulle. “Asseblief.” Sy stem is baie kalm. En sag, natuurlik.

Sy trek haar wenkbroue op. “Wil jy eintlik sê ek moenie so ’n herrie opskop nie? Ék het niks om weg te steek nie. Dis nie ék wat ’n skobbejak is nie, dis jy, en dis tyd dat iemand dit vir jou sê.”

“Tussen al hierdie mense?” Tot dusver het hy sy emosies goed weggesteek, maar nou slaan sy irritasie deur. “En hoekom nou eers, jare ná … ná wat ook al gebeur het wat jou alles net so laat los het? Jy het niks gesê nie, net verdwyn. Ek moes by iemand anders hoor jy’s weer oorsee.”

Net soos sy by iemand anders moes hoor hy is getroud. “Weet jy, jy’s reg. Dit sou my ’n klomp verdriet gespaar het as ek destyds met jou gepraat het, pleks van weg te hardloop Skotland toe. Dan sou ek gou genoeg agtergekom het jy’s een van daardie mans wat net goed oor hulleself kan voel as hulle gereeld hulle vroue bedrieg.”

Sy verstaan nie sy gesigsuitdrukking nie. Dis asof hy iets probeer uitreken.

“Dit gaan oor Madeline, nè?” sê hy.

“Oor wie?”

“Die meisie wat nou net hier uit is. Sy het met my kom gesels en toe maak jy die verkeerde afleiding. Rozette. Dis nie vir haar wat ek lief is nie. Nee, moet niks sê nie. Ons kan nie nou gesels nie want jy wil nog nie na my luister nie; jy’s te kwaad.” Hy staan op. Sy goed versorgde hand waaraan sy nog nooit ’n trouring gesien het nie, rus op die stoel se leuning.

“Bel my wanneer jy my kant van die saak wil hoor,” sê hy saggies en stap weg.

Hy is drie tree ver voordat sy haar stem terugkry.

“Is jy dan nou laf. Hoekom sou ek dit wou doen? Jy’s ’n skurk,” sê sy agter hom aan. Sy knyp haar oë toe.

“Tante Abelia was reg,” kreun sy saggies vir haarself. “Dit ís tyd dat ek met mans van my eie ouderdom begin uitgaan.”

Blykbaar was dit nie sag genoeg nie, want hier en daar lag iemand. John gooi ’n paar note by die kassiere neer en verdwyn buitetoe sonder om vir kleingeld te wag.

Sy moes verwag het almal gaan haar bekyk. Sy glimlag floutjies vir haar gehoor en fokus toe op die tafelblad, al lyk die meeste gesigte darem min of meer vriendelik. Ook maar goed sy het nog nie koffie bestel nie.

Sy sou nooit die koppie behoorlik kon vashou nie. Maar nou mag haar hande bewe soveel as wat hulle wil. Haar bene ook. Dis agter die rug. Alles is agter die rug.

Die ficus se blare ritsel weer. ’n Stoel skuif agteruit en ’n man met deurmekaar swart hare kom orent. ’n Lang man. Sterkgebou. Sy wenkbroue lyk soos vlerke.

Dis nie dat sy hom wíl aangaap nie, dis net, hoe moet ’n mens ophou kyk as iemand in die middel van ’n stedelike restaurant so onverwags agter ’n boom uitkom?

“Bravo,” sê die man met ’n onhebbelik geamuseerde vonkel in sy goudbruin oë. Sy stem is donker soos die skaduwee onder ’n sipres. “Dit was moedig. Ek reken jy verdien ’n beloning. Hierdie plek is bekend vir hulle lekker kaaskoek. Hoe lyk dit? Kaaskoek saam met ’n koffie?”

Dankie. Of nee, dankie. Dis wat sy moet sê. Nee, dankie, maar jislaaik dis gaaf van jou en baie dankie vir die wat ook al. Maar sy kan net knik.

“Reg. Ek gaan bestel gou.” Hy glimlag. “Jy sal orraait wees. Jy sal sien.”

Spierwit tande teen ’n sonbruin vel. Dis mos nou ’n glimlag wat ’n mens weer aan die lewe wil laat glo! Dis tog ’n jammerte hy vertoef nie langer nie, want in sy teenwoordigheid vervaag alle ander gedagtes – aan skurke soos John, byvoorbeeld, en hoe dom sy was. Hy knik net, gaan praat met ’n kelnerin wat eers glimlag en toe lag, en kom terug na haar tafel toe.

“Ekskuus, maar miskien misgis ek my. Hierdie tante Abelia van wie jy gepraat het. Dis ’n naam wat ’n mens min hoor en daar is ’n Abelia op die dorp waar ek woon.”

“My … my tante woon op Reënbaai.”

“So gedink,” sê hy tevrede. “Dis hoekom ek vir jou koffie gekoop het. Omdat jou tante ’n vriendin van my is. Voorspoed.”

Hy is by die deur uit voordat sy weer aan koffie en kaaskoek dink, en dit ook net omdat die bestelling so gou by haar tafel is. Sy is nie lus daarvoor nie, maar hy het gesê dis lekker, en sy is nogal bereid om hierdie man met sy gehawende groen T-hemp te glo. Sy trek die bordjie nader en peuter met die vurk. Eintlik wás die T-hemp dalk in ’n vorige leeftyd groen, met ’n dowwe afbeelding van ’n boom op die rugkant, so met die takke wat oor sy indrukwekkende skouers sprei. Werklik indrukwekkende skouers. Jy kan selfs nog die vreemde, gevlegte swart stam ook uitmaak as jy mooi kyk.

Stokou T-hemp, jeans met ’n winkelhaak ver onder die knie. Sy gooi suiker in haar koffie. Nogal merkwaardig wat sy alles van die man met die goue oë kan herroep, bloot omdat sy op hom gekonsentreer het sodat sy kan ophou bewe. Nou kan sy ten minste koffie drink sonder om te veel op die tafeldoek te mors. Dalk ís dit tyd dat sy met mans van haar eie ouderdom begin uitgaan.

Toe sy die laaste krummels op haar bordjie bymekaarskraap, kry sy drie selfoonboodskappe. Een is van die Afrikaanse meisie in haar tai chi-klas by Edinburgh Health and Fitness. Sy kom binnekort Kaap toe en soek ’n telefoonnommer vir Rozette se ma. Een is van meneer Murdoch wat wil weet wat haar plan is met die klomp klere wat sy in die woonstel gelos het. Die laaste een is van haar tante Abelia. Van Reënbaai. Waar haar vreemdeling met die mooi oë toevallig ook woon. “Welkom terug in die land,” skryf haar tante. “Jy moet tog ’n slag bel!” Gevolg deur ’n prentjie van ’n swetterjoel babavoëltjies in ’n nes en ’n stigtelike boodskappie wat oor moederharte gaan.


Durandt kom te vinnig op sy afdraaiplek in Reënbaai se miernes van grondpaaie af. Sy gedagtes is steeds besig met die swartgebrande bergveld langs die pad en hy het skaars tyd om rem te trap toe ’n ou pers Ford roekeloos voor hom inswaai.

“Abelia! Dis al die tweede keer hierdie week!” bulder hy bo-oor die stuurwiel.

Asof sy hom hoor, hou sy net daar in die middel van die pad voor hom stil en steek haar posbusrooikop by die venster uit. “Ag, jammer, Durandt. Ry agter my aan, dan gee ek vir jou tee vir die skrik.”

Tee is presies waarvoor hy nie lus het nie. Maar wat, miskien is dit ’n versterking wat sal help dat hy weer vir sy eie swartgebrande erf kans sien.

In haar kombuisie beskou Abelia hom ondersoekend. “Jy kom nou net van die stad af, nè?”

“Fynbostuin in Kampsbaai beplan, ja. Hoe weet jy waar ek was? Lees jy deesdae teeblare, of wat?”

Sy snork en tap die ketel vol water. “Giel het my gesê.” Sy haal koppies uit. “Volgens hom was jy by ’n verveelde, ryk Kaapse vrou wat hier na jou kaal bolyf kom kyk het, en jou toe omgehaal het om in haar bedding te gaan spit.” Sy staan met twee vierkantige teeblikke en probeer besluit waarmee sy hom die meeste wil laat ly. “Wat jy nodig het, is ’n tee wat jou kalmeer en jou vertroue in jou medemens herstel.” Sy frons nadenkend.

Tog net nie weer jasmyntee soos laas nie. Asseblief tog nie.

“Ek sit ’n skyfie of twee vars gemmer by.”

“Ek het familie van jou in die stad raakgeloop,” sê hy haastig voordat sy onnodig gasvry kan raak en haar oneetbare gesondheidsbeskuitjies óók vir hom aanbied.

“Ja?” Haar gesig verhelder. “Wie?”

“Ek het nie gevra nie en ek kon nie hoor wat sê die … die mense by haar nie.” Maar nou moet hy sy asem terugkry. Hoeveel gemmer hét sy dan in die tee gesny? Hy hoes eers klaar. “Maar sy het van haar tante Abelia gepraat.”

“En jy vra nie eens haar naam nie. Hygend, Durandt. Is sy jonk? Watter kleur hare? Wat het sy aangehad?”

“Middeltwintigs, bruinerige hare.” Hy onthou haar oë, wat verraai het hoe seer sy gekry het. Haar hande het so gebewe dat hy twyfel of sy ooit die kaaskoek geëet gekry het. Maar fyntjies en bewerig of te nie, sy het haar sê gesê. Goed gesê ook.

“Ek het nie haar klere opgelet nie. Sy’s blekerig.”

Abelia staar hom grootoog aan. “Gaan aan.”

Hy trek sy skouers op. “Ek was in ’n restaurant toe ek haar per ongeluk met iemand hoor gesels het.” Sy tong struikel oor die “iemand”. Op ’n eienaardige manier is hy onwillig om oor die meisie se verhouding met ’n getroude man te praat. Sy het nou wel nie geweet die vent is getroud nie, maar miskien skok dit Abelia as sy daarvan hoor. Abelia is darem al so te sê sewentig, al is haar hare so rooi.

“Sy praat mooi duidelik,” voeg hy by toe sy gasvrou te stip na hom kyk. Hy kan nie anders as om te glimlag by die herinnering aan daardie duidelike woorde wat almal in die restaurant soveel plesier verskaf het nie.

Abelia lag. “Rozette. Sy hoef nie hard te praat of naby jou te staan nie; jy hoor haar. Dis onse Rozette daai.”

“Dis die regte naam vir ’n meisie met so ’n mooi mond,” sê hy voordat hy dink. Dadelik sit Abelia so regop soos ’n meerkat, die ene oë, propvol romantiese planne vir haar familielid. “Mooi lipstiffie, moet ek eintlik sê,” voeg hy by. “Nou nie dat ek normaalweg notisie neem van mense se lipstiffie nie, maar dit was die presiese kleur van ’n …” Abelia sal nie die botaniese naam ken nie. “Van ’n erika wat toe nie uitgesterf het soos almal geglo het nie. Pienk. Dieppienk.” Vreemd genoeg begin die tee stadigaan beter smaak. “Kritiek bedreig.” Hy slaan die laaste slukkie weg. “Dankie, Abelia, dis net wat ek nodig gehad het. Jy sal my nou moet verskoon; ek smag na ’n stort.”

Abelia snork. “Ek sou skat jy het klaar gestort by wat’s-die-mens-se-naam. Daai voorbarige een met die vrypostige maniere.”

“O, nè.”

“Durandt,” roep sy van die stoep af toe hy by sy bakkie kom. “Giel sê jy ry een van die dae ’n bietjie binneland toe?”

“Dis die plan, ja. Hoekom vra jy?”

“Vra maar net.” Sy waai en kyk hom agterna toe hy wegtrek.

Op pad huis toe neem hy hom voor om op te hou dink aan meisies met sagte dieppienk monde wat gewoond lyk aan glimlag. Want beginselvaste meisies soos Rozette is uit. Hulle is net so uit soos rykmansvroue wat nie beginsels het nie, maar planne: heelwat onrealistiese planne vir hulle tuine en allerhande plannetjies met hulle tuinontwerpers. Gelukkig is hy nie so naïef soos hy dalk lyk nie. Hy was al daar. Was getroud met iemand wat die grootste stadstuin in die buurt wou hê. Was redelik vermoënd ook voordat hy ’n pak dokumente geteken het sonder om dit behoorlik te lees, want hy sou enigiets doen, enigiets, net solank hy kon wegkom van ’n vrou wat hom nie meer wou hê nie en dit op so ’n bitter manier vir hom gewys het. Abelia sal iemand anders vir Rozette moet soek.