Uittreksel | Somersoen

Een
“Is jy seker jy kan nie jou kursus ’n ander naweek doen nie?”
“Ja-a-a, Ma. ’n Mens kan nie kies wanneer jy watse off-road-kursus wil doen nie. Hulle bied die kursusse net ’n paar naweke in die jaar aan. En as ek nie nou die intermediate doen nie, kan ek ook nie die advanced een in Julie doen nie.” Hy gaan wraggies nie tot volgende jaar wag nie. Hierdie twee motorfietsnaweke is die enigste goed wat hy het om na uit te sien.
“Dis nou jammer. Ek het gedink dit sou vir jou lekker wees om Nicolene weer te sien.”
Die seergemaakte uitdrukking in sy ma se oë kla hom aan. Was dit nou nodig om so kortaf met haar te wees? Sy bedoel net goed, maar hy wens sy wil ophou om aan hom te karring. As dit van hom afgehang het, het hy met Nicolene Ehlers getrou die oomblik wanneer sy klaar is met haar somatologie-swottings. Maar toe is hy geweeg en te lig deur haar broer, nou ook sy aanstaande swaer, bevind. Nee, hy’s totaal gediskwalifiseer.
Toegegee, Brand het hom agterna om verskoning gevra en gesê dat hy verkeerd was, maar dit kon nie woorde wat in sy siel gebrand is, ongedaan maak nie. Die tydsverloop het ook nie gehelp nie; veral omdat Brand sy verskoning eers aangebied het ná hy aan sy suster, Christie, verloof geraak het.
Die insident het op Nuwejaar gebeur toe hy Nicolene gaan groet het. Hy’t maar pas die oggend daar gestop, toe Brand uit die bloute sê: “Die antwoord is nee.” Sommer net so. Onomwonde. Finaal.
Totaal uit die veld geslaan, het hy gevra: “Dink jy dan ek is nie goed genoeg vir haar nie?”
“Nee, maar alles wat jy het, is jou pa s’n.”
“So? Ek is deel van die boerdery.” Hy is immers sy pa se enigste seun. Boonop is die Greys vermoënde mense in die Chrissiesmeer omgewing. Enige jong meisie sal wat wil gee om deel van so ’n gesiene familie te raak.
“En as die noodlot toeslaan en julle dalk eendag alles verloor, hoe gaan ek weet jy sal vir haar kan sorg en dat jy nie gaan begin drink en ’n einde aan jou lewe maak nie?”
“Dis belaglik! Wat laat jou dink dat ons alles sal verloor?”
“Niks, maar geen rykdom is gewaarborg nie. Vra my, ek weet.”
Met ’n mond vol tande kon hy Brand net aankyk.
Die ergste is dat hy dit tot nou toe nie kan weerspreek nie want alles wat hy het, is sy pa s’n. Hy het niks om op te roem nie. Hy dra niks noemenswaardig by tot die boerdery nie, al het hy sy suster probeer oortuig dat hy baie planne vir die boerdery het. Sy pa sê vir hom wat by die saaiery moet gebeur en wanneer, en Brand hanteer die beeste. Nee, hy hanteer eintlik die hele verdomde boerdery terwyl Chrisjan Grey maar net hier is omdat dit sy geboortereg is. ’n Reg wat stadig maar seker besig is om die lewe uit hom te wurg.
Deur stywe kake kners hy uit: “Ma, vergeet tog nou asseblief van Nicolene.”
“Maar hoekom? Julle was Desember dan so verlief op mekaar.”
Sy hartklop skiet op en pomp die seerkry deur sy hele lyf. “Soos ek Ma al gesê het, ons is te jonk om ernstig te raak en sy moet nou op haar studie fokus.” Dis die beste verskoning waaraan hy kon dink en nou hou hy daarby.
“Maar dis nie te sê julle kan mekaar nooit sien of kontak nie? En sy het maar net ’n jaar oor. As jy nie pasop nie, verloor sy nog haar hart op iemand anders.”
Moet sy ma dit nog sê? Dié moontlikheid dryf hom teen die mure uit, want hy weet hoe maklik dit kan gebeur. Dis maar ’n strooihalm om aan vas te hou dat ’n ander man ook die toets by Brand gaan dop. Vat nou maar ’n prokureur of dokter se voorsprong bo hom. Dit kan selfs ’n plastiese chirurg wees. Nicolene het juis laat val dat daar ’n kans is dat sy volgende jaar vir een kan gaan werk.
Sy vingers vreet in sy vuiste. “Ma, asseblief, los dit nou.”
Diepe omgee en moederliefde dwing haar wenkbroue na mekaar. “Jannie, ek probeer net verstaan en help.”
Hy kyk af na sy slimhorlosie. Sy ma het nie nodig om te weet wat Brand vir hom gesê het en werklik van hom dink nie, al sê hy ook wát agterna. “Ek moet waai. Julle moet die kombuistee geniet.”
Ma Suzette sug. “Dankie. Jy moet veilig ry. En geniet dit.”
“Ek gaan, dankie.” Dit is voorwaar ’n bestiering dat hierdie naweek saam met Christie se kombuistee val, want hy sien nie kans om Nicolene weer te sien nie, al gaan daar nie ’n dag verby dat hy juis daarvoor wens nie. Hy wil haar net ’n laaste keer sien. ’n Laaste keer soen.
Met ’n diep asemteug rek hy sy treë voordeur toe. Op sy motorfiets sal hy op die roete en sy nuwe vaardighede moet konsentreer, en sal hy nie aan haar kan dink nie.
Nicolene Ehlers se ingewande bol saam toe sy buite Carolina wegdraai na Chrissiesmeer. Laas toe sy op pad was na die Greys se plaas, was haar kop vol drome. Sy het hulle uit nuuskierigheid op Facebook gaan soek en op oom Christoff se profielfoto, ’n gesinsfoto, afgekom toe Brand die werk by hulle gekry het. Chrisjan, die jongste van die vier kinders en die enigste boetie, het dadelik haar oog gevang en haar hart gesteel. Hoe onverklaarbaar en belaglik dit ook al was.
Sy moes hom eenvoudig ontmoet, al het Brand haar probeer ontmoedig. Hy het geen ooghare vir ryk mense nie en dink hulle is regdeur die bank aanstellerig en verwaand. Daarom dat sy haar nie veel daaraan gesteur het nie.
Haar kans het gouer gekom as wat sy gedink het. Brand kon nie Kersfees huis toe kom nie en sy was “so gaaf” om aan te bied om na hom toe te gaan. Die geluk was aan haar kant en haar stoutste verwagtinge is oortref toe die Greys hulle genooi het om Kersdag saam met hulle te spandeer.
Haar binneste swel toe sy die oomblik herroep toe sy en Chrisjan mekaar die eerste keer gesien het. Sy oë het van skone bewondering gerek. Dit het sy hele gesig laat ophelder en haar na die sewende hemel verplaas. Ook het sy opeens geweet dat hy die man is met wie sy eendag wil trou.
Haar binneste krimp ineen en sy klem die stuurwiel stywer vas. As sy net weet wat verkeerd geloop het . . . Dit maak tog nie sin dat hulle die een oomblik alles vir mekaar was, en die volgende oomblik het hy haar net gegroet en nooit weer van hom laat hoor nie.
Of is sy maar net traag om die waarheid te aanvaar? Sy was bloot afleiding. Pret. En toe haar kuier geëindig het, was dit uiteraard verby.
“Nikki, is jy nog orraait? Moet Mamma nie maar verder bestuur nie?”
Sy plak blitsig ’n glimlag op haar gesig en skud haar kop. Haar ma het ’n paar dae by haar suster in Pretoria gekuier en nou hoef hulle darem nie elkeen op hul eie na Christie se kombuistee te ry nie. Ongelukkig kon haar sussie, Lianca, nie saamkom nie omdat haar beste vriendin se een-en-twintigste verjaardagpartytjie vanaand is. “Dis nie nodig nie, dankie Mamma. Ons is in elk geval amper daar.”
Die angstigheid moes deurgeslaan het in haar stem, want haar ma se glimlag is nie net ’n reaksie op haar antwoord nie. Elke lyn om haar mond is met kommer gevul terwyl haar oë van omgee vernou. “Sien jy op daarna om Chrisjan weer te sien?”
Sy asem diep in en knik toe maar.
“Ai, Nikki. Maar dalk kan julle dit die naweek uitsorteer? Ek is seker daar is net die een of ander misverstand.”
Haar mondhoeke gee ’n plukkie. Watse een kan daar tog wees?
“Daar’s niks om uit te sorteer nie, Mamma. Ek het net meer in ons tydjie saam gesien as wat daar was.”
’n Lastige hitte slaan op haar wange uit. Dit bly swaar om dit te erken, al is dit teenoor haar ma. As sy dit maar net vroeër geweet het, dan het sy nooit haar verliefdheid uitgeblaker toe sy ná Kersfees by die huis gekom het nie.
Ma Anna-Marie gee haar been ’n drukkie. “Jy is regtig lief vir hom, nè?”
Eers ná ’n paar sekondes knik sy en onderdruk ’n sug. Daar sal nooit weer ’n man in haar lewe kan wees ná hom nie.
“Jy moet onthou, hy’s maar nog baie jonk. Mans is nie so vroeg gereed om te trou soos vroue nie.”
Met ’n skrams glimlag fokus sy weer op die pad. As dit die geval was, sou hy met allerhande verskonings gekom het waarom hulle mekaar nie meer kon sien nie. Maar toe is daar niks van daardie aard nie.
Niks sê baie. Dit sê álles.
Haar hart begin swaar klop. Elke klop is pynliker. Hoe gaan sy kan maak asof niks gebeur het nie wanneer sy hom weer sien? Maar dalk sal hy hul huis tydens die kombuistee vermy. Soos sy egter vir tannie Suzette ken, sal sy hulle nooi om by hulle te kom eet.
Mooivlei se bord kom in sig en sy lig haar voet van die petrolpedaal. Buig of bars, Chrisjan mag nooit weet hoe diep en innig sy hom liefhet of hoe seer hy haar gemaak het nie. Sy gaan glimlag en maak asof sy dolgelukkig is op die oomblik. Dis haar enigste behoud.
’n Aankomende bakkie gryp die lug in haar longe vas. Laat dit tog oom Christoff wees. Of Brand. Is daar ’n motorfiets agterop?
Soos ’n verskrikte perd begin haar hart in haar borskas rondtrap toe sy Chrisjan agter die stuurwiel eien. As sy net haar hand kon lig en verbyhou, maar nou verminder hy spoed.
“Wie’s dit?”
“Dis Chrisjan, Mamma,” antwoord sy skaars hoorbaar. Desperaat probeer sy haarself regruk en die verwoede klop van haar hart stil. Sy glimlag so breed as wat haar stywe mondhoeke haar toelaat.
Chrisjan stop langs hulle en laat sak sy ruit.
Haar hart dreig om by haar borskas uit te spring en hom om die nek te gaan gryp. Sy wil sy arms om haar voel en hoor dit was rêrig net ’n misverstand. Sy oë helder egter nie op soos met hul eerste ontmoeting nie, en bly afsydig.
“Hallo, Nicolene.”
Nicolene, nie meer “Lien” nie. Daarby is sy stem ernstig en nie meer skertsend en sorgvry soos sy dit onthou nie. Is hy nie eens ’n biétjie bly om haar te sien nie?
Net met genade van Bo slaag sy daarin om aan te hou glimlag. “Haai, Chrisjan. Kan ek jou gou aan my ma, Anna-Marie Botha, voorstel?” Hy sal seker onthou dat haar ma ná haar pa se dood weer getroud is. Dié dat haar van nie meer Ehlers is nie.
“Aangename kennis, Tannie.”
“Hallo, Chrisjan. Dis lekker om jou te ontmoet.”
’n Flou glimlag raak aan sy mond toe hy terugkyk na haar. “Julle moet die kombuistee geniet.”
“Dankie.”
’n Sekonde of twee langer bly sy oë in hare. Sy wil haar vir ’n oomblik verbeel dat daar weer ’n konneksie tussen hulle is voor hy wegkyk en sy hand lig.
“Verskoon my, ek’s haastig.”
Haastig om weg te kom van haar af? Teleurstelling bondel in haar keel saam en sy bestry die impuls om dit af te sluk. Sy kry dit selfs reg om gemoedelikheid in haar stem te forseer toe sy antwoord: “Doodreg. Sien jou weer.” Haar woorde klink egter hol in haar ore, leeg soos haar hart.
Die wiele skop gruis op toe hy te vinnig wegtrek.
Was dit nou nodig? Wat moet haar ma van hom dink? Bepaald dieselfde as Brand – dat hy ’n windgat, bedorwe rykmanskind is.
Met ’n hewige sug druk hy die knoppie om sy ruit te laat opskuif. As sy ma nie aan hom gekarring het en hom opgehou het nie, het hy nie nou vir Nicolene raakgeloop nie.
Dit was ’n groter skok om haar te sien as wat hy gedink het. Is dit omdat niks in haar oë hom vertel het dat sy net soveel na hom verlang het nie? Sy lyk stralend gelukkig en hy weet hy’s nie die rede nie. Is daar dan reeds iemand anders in haar lewe? Het hy dan so min vir haar beteken? Haar “sien jou weer” was net ’n manier van groet en het glad nie die wens uitgespreek dat sy hom weer wil sien nie.
Nou is hy éérs bly dat hy nie die naweek hier kan wees nie. Daarby kan hy die een ding doen wat ’n glimlag op sy gesig sit.
Hy kyk in die truspieël na hul kar wat in die teenoorgestelde rigting ry. Sy hart trek saam. Dit trek met ’n punt na haar toe. Lien. Sy Lien. Die blondekop met wie hy sy toekoms wou deel. En laat hy nou maar eerlik met homself wees: Die genot wat hy op ’n motorfiets ervaar, kan nie vergelyk met die tyd wat hy saam met haar spandeer nie. Haar lag is aansteeklik en haar oë is ’n blou hemel waarin hy nie genoeg kan kyk nie.
Die antwoord is nee . . .