Skip to main content

Uittreksel | Soeter as heuning

Voorwoord

Soeter as heuning is ’n kombinasie van dagstukkies en Bybelstudie. Die boek bevat 52 dagstukkies waarin belangrike waarhede van die Bybel behandel word; een vir elke week van die jaar. Elke dagstukkie se tema word dan vir nog vier dae met kort Bybelstudietemas uitgebrei. Dit kom dus neer op 52 vyfdagweke van geestelike verryking. Jy kan die boek op enige stadium van die jaar begin lees, want die vyfdagweke is nie aan datums of tye van die jaar gekoppel nie. Ná elke vierde week is daar ’n joernaalwerkkaart ingevoeg waarop jy onder andere hoogtepunte uit die vorige vier weke as samevatting kan inskryf.

Die doel van Soeter as heuning is om jou weekliks met ’n geestelik verrykende boodskap uit die Bybel te bedien, maar ook om jou te help om daagliks self dieper in die Bybel te gaan delf vir waarhede en antwoorde om jou te help om geestelik te groei. Jy kan die boek in jou stiltetyd gebruik, of saam met ’n maat, of selfs in groepsbyeenkomste.

Hoe om die boek te gebruik

  1. Aangesien Soeter as heuning nie ’n gewone dagstukkieboek is nie, is dit belangrik dat die leser dit telkens met ’n Bybel en skryfding byderhand sal lees. ’n Ekstra skryfboek/joernaal word ook aanbeveel vir jou notas en antwoorde. Lees die boek in jou stiltetyd of saam met vriende.
  2. Op Dag een van Week een tot Week twee-en-vyftig, kan jy die volledige dagstukkie lees. Slaan gerus alle Bybelverse na wat in vet gedruk is. Jy kan ook jou gedagtes in jou skryfboek neerskryf.
  3. Op Dag twee tot Dag vyf lees jy die kort dagstukkie as uitbreiding op Dag een se tema. Soek al die verse op, vul die ontbrekende woorde in en beantwoord die vrae. Daar word ook geleentheid gegee vir selfondersoek en gebed. Soms word voorstelle gemaak en bykomende Bybelverse gegee wat oor die week se tema handel, en wat jy self kan naslaan.
  4. Die Joernaalwerkkaart ná elke vierde week help jou om weer te besin oor die temas wat reeds behandel is.

Vir seker is daar teksverse en temas in die Bybel wat reeds tot groot kontroversie lei; veral weens die tyd waarin ons leef. Sommige van die temas en verse kan selfs teenkanting teen die Bybelse boodskap in die geheel ontlok. Hoewel die skrywer begrip het vir bogenoemde reaksies, is die doel van hierdie boek nie om die betrokke reaksies te regverdig of teen te staan nie. ’n Heel ander benadering in ’n ander boek sal daaraan aandag kan gee.

Die hoofdoel van hierdie boek is, soos bo genoem, om lesers uit die Bybel geestelik verrykend te bedien en ook om die leser ongedwonge te help om die kern Bybelse waarhede te ontdek of te herontdek en in hul lewe toe te pas.


Week 1: ’n Nuwe begin

Dag een

2 Kor. 5:17-18 Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.

Dink jy dit is moontlik om ’n nuwe begin te maak?

Onthou net, dit is onmoontlik om van voor af te begin bloot omdat dit onmoontlik is om die horlosie terug te draai. Jy kan nie van voor af met ’n vriendskap, ’n verhouding of ’n huwelik begin nie, want jy kan nooit dit wat gebeur het, of wat jy veroorsaak het, ongedaan maak nie. Jy kan nie verkeerde besluite oor neem nie. Jy kan nie iemand wat jy doodgemaak het, lewend maak nie. Jy kan hoogstens berou toon.

Maar ’n nuwe begin is moontlik wanneer God aan die kruis van Christus van jou ’n totaal nuwe mens maak deur jou volkome vir jou ou lewe te vergewe. Dan ontken jy nie jou ou lewe nie, maar jy kan die ou lewe vir altyd agterlaat. Al was jou lewe skarlakenrooi van foute, kan jy begin fokus op ’n nuwe lewe en nuwe geleenthede wat nou vir die res van jou lewe voor jou ooplê.

Paulus sê: Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. (2 Kor. 5:18). En weer in 2 Kor. 5:20: Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

’n Nuwe begin saam met God is soveel meer as net ’n oppervlakkige verandering van ’n situasie. In Eseg. 11:19 beloof God: “Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder hulle laat posvat. Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee.”

Jou ou kliphart kon jou in die verlede verkeerde besluite laat neem het. Jou nuwe hart sal jou help om die lewenservaring wat jy tot nou toe opgedoen het, in te span om nuwe besluite te neem wat jou lewe daagliks sal vernuwe. Jy sal voel jy het weer ’n toekoms. Jy is weer gelukkig. Jy het weer vrede.

Net God kan jou só nuut laat begin as jy Hom toelaat. Hierdie boek wil vir jou Bybelse riglyne gee vir ’n daaglikse nuwe lewe saam met God.


Dag twee

Maak jou los van wat agter is

Filip. 3:13 Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Om nuut te begin, moet jy jou losmaak van wat agter is. Presies wat sal so ’n losmaak behels? Kan ’n mens jou losmaak deur te verhuis of om met sekere vriende en gebruike te breek? Sulke drastiese stappe is soms nodig, maar deur net weg te breek het jy jou nog nie noodwendig losgemaak nie. Slegte gewoontes, skuld en vrese trek soos spoke saam met jou. Voor jy jou kom kry, leef jy dieselfde ou lewe op jou nuwe dorp, in jou nuwe werksplek, in jou nuwe kerk, in ’n nuwe vriendekring en selfs in jou nuwe huwelik.

Losmaak van wat agter is, begin waar jy met nuwe oë na jouself en jou situasie kyk.

Voltooi:

  • Rom. 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur ………………………...............................................................
    Dan kan jy ophou om te broei op gedagtes of gesprekke oor die verlede, ophou met selfverwyt, selfkastyding en wraakgedagtes.

  • Ef. 1:18-19 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Wat dink jy bedoel Paulus hier met die term “geestesoë”? ………………………...............................................................

  • Hoe sou jy met een sin op Jes. 43:18 uitbrei? Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. ………………………...............................................................

  • Hoe sou jy met een sin op Ef. 4:22 uitbrei? Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. ………………………...............................................................

Voorstel: Dit is belangrik dat jy weet waarvan jy jouself moet losmaak, maar ook dat jy oortuig is om dit te doen. ’n Berader (sielkundig en/of geestelik), sal jou kan help.


Dag drie

Sing ’n nuwe lied

Ps. 98:1 Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.

Om ’n nuwe lied te sing beteken jy borrel die nuwe begin wat jy by God ontvang, van binne af uit. En dit waarvan jy oorborrel, wys wie jy innerlik is. As jy gedurig negatief borrel, is dit ’n aanduiding dat jy die ou dinge binne-in jou aan die lewe hou, en dan is daar min kans op ’n nuwe begin. Jy ken seker ook ’n paar morpotte, foutvinders, negatiewe denkers. Mense vermy later sulke morbiede geselskap. Maar borrel jy van God se goedheid ten spyte van omstandighede, dan beïnvloed dit jou eie uitkyk op jou lewe en raak elke dag vir jou ’n nuwe begin van hoop saam met God. Jy hoef nie ’n vrolike vinkie met die maklike antwoorde te wees nie. Wees maar net die gelowige wat ten spyte van storms, krisisse en teleurstellings aanhou om God se Naam groot te maak.

’n Nuwe lied tot eer van God beteken nié dat dit van nou af net goed sal gaan met jou nie. Die nuwe lied begin wel jou ingesteldheid teenoor die daaglikse lewe hervorm.

  • In Ps. 103 besef Dawid hy is so verganklik soos ’n veldblom wat kan vergaan as die woestynwind oor hom waai. Nogtans sing hy steeds van God se goedheid. Met watter woord beskryf hy die liefde van die Here? ………………………...............................................................

  • Watter woorde gebruik Habakuk én Jesus om te wys dat hulle in alle omstandighede positief sal bly getuig oor God? (Hab. 3:18; Mat. 26:39) ………………………...............................................................

Om oor na te dink: Hoe gereeld borrel jy oor God se goedheid, ten spyte van jou omstandighede? Wanneer laas het jy vir iemand vertel wat God vir jou beteken?

Selfleesverse: Ps. 31:20; Ps. 31:24; Ps. 33:1-5; Ps. 103:1-2; Ps. 115:1; Ps. 116:7-14.


Joernaalwerkkaart

  1. Is daar enige teksverse in die voorafgaande temas wat jy graag sal wil onthou?
    (Onthou, die beste manier van onthou sal wees om die teksverse dikwels te gebruik!)
    ………………………...............................................................………………………...............................................................
  1. Is daar enige nuwe insigte waartoe jy gekom het?
    (Deel dit gerus in gesprekke met vriende.)
    ………………………...............................................................………………………...............................................................
  1. Het jy enige nuwe besluite geneem?
    (Leef dit daagliks uit om sodoende die nuwe besluite in jou lewe te vestig.)
    ………………………...............................................................………………………...............................................................
  1. Is daar enige onderwerp waaroor jy graag self meer navorsing wil gaan doen?
    (Die internet is ryk aan moontlikhede, maar jy kan ook ’n nuwe Bybelstudie aanskaf.)
    ………………………...............................................................………………………...............................................................
  1. Is daar enige iets waarvoor jy vir die Here dankie wil sê?
    ………………………...............................................................………………………...............................................................

  2. Is daar enige iets wat jy graag van die Here in gebed wil vra?
    (Jy kan ook ’n gebedsvriend vra om saam met jou te bid.)
    ………………………...............................................................………………………...............................................................