Uittreksel | Soen my, cowboy

Een
“Hoor ek reg? Oom Stef wil hê dat Emma hier op die plaas moet kom kuier?”
Sylvie vee die vadoek plat wat oor haar skouer hang.
“Ja. Sy kom kuier vir die volgende drie maande. Sy behoort oor ’n uur hier te wees.”
James se frons verdiep en sy oë vernou. “Drie maande? Dis ’n bietjie lank vir ’n kuier. Wat het sy aangevang dat oom Stef haar na ons toe pos?”
Sylvie snork vererg terwyl sy die leë koffiebekers in die wasbak sit. Sy klik haar tong. “Hoekom moet jy die slegste van Emma dink? Julle het mekaar laas gesien toe julle kinders was. Hoeveel jaar gelede is dit? Twaalf of dertien?”
“Séstien. En dis nog steeds nie genoeg tyd nie. Daai meisiekind . . . Is sy uit op parool?”
Sylvie slaan die vadoek met ’n knal teen die kombuistafel.
“James! Jy stop dit nou, hoor jy my? My aarde, hoe kan jy so iets oor iemand sê? Ek het jou mos nie so grootgemaak nie!”
James vou sy arms om sy bors en leun terug teen die kombuiskas. “Dis nie wat ek bedoel nie, en Ma weet dit.”
Sylvie snork vererg en draai na die wasbak om die koffiebekers uit te spoel.
“Ma het nog nie my vraag beantwoord nie. Hoekom het Emma so uit die bloute besluit om te kom kuier – ná sestien jaar? En dan nog boonop vir drie maande . . .”
Sylvie droog die laaste beker af voor sy na James draai. Sy ontmoet sy blik en blaas haar asem stadig uit. Die dag toe Stef en Emma Durban toe getrek het, het James nooit weer haar naam genoem nie. Dis asof hy haar doelbewus uit sy jong lewe gesny het. Sy het mettertyd moed opgegee om nuus oor hulle te deel. Elke keer wanneer sy Emma se naam noem, raak James doof en stap uit die vertrek. As James maar net weet waardeur Emma die afgelope agtien maande was . . .
“Sy kom hier aansterk ná ’n longoorplanting. Covid het haar hard geslaan. Ek en oom Stef dink die vars plaaslug sal haar help met die herstel.”
Vir ’n oomblik is dit stil in die kombuis. Ma en seun staar na mekaar. Sylvie sien die skok wat soos ’n ligstraal deur sy oë flits voor dit vervang word met die kalmte wat altyd uit James straal. Behalwe as dit by Emma kom. As kinders was Emma die enigste een wat hom altyd die harnas kon injaag en sy siel tot in die verderf kon uittrek. Sylvie weet instinktief dat James se jeugliefde vir Emma nooit geblus is nie. Namate hy ouer geword het, was hy in ’n paar verhoudings, maar nie een was ernstig genoeg om van die betrokke meisie ’n lewensmaat te maak nie. Nogtans hoop Adel, sy meisie van net oor ’n jaar, om die een te wees wat hom kansel toe kan sleep. So ver lyk dinge op koers, maar noudat Emma kom . . . Sy was die één meisie wat James ’n lus vir die lewe gegee het. Al was dit dan nou in hoofsaak om mekaar verkeerd op te vryf en poetse op mekaar te bak. Maar nou is Emma ’n volwasse vrou en nie meer die klein rabbedoe wat destyds James se wenkbroue afgeskeer het terwyl hy geslaap het nie. Wat die volgende drie maande op hierdie plaas gaan gebeur, weet die Here alleen.
“Wanneer was die longoorplanting gedoen?” vra hy gedemp.
“Amper twee maande gelede. Daar was nog te veel vog op haar longe om te reis, daarom kom sy nou eers.”
“Hoekom hoor ek nou eers hiervan?”
“Omdat jy nooit oor Emma wil praat nie. Ek het jare gelede al besluit om niks meer met jou te deel oor oom Stef en Emma nie.”
James blaas sy asem stadig uit en stoot sy hande deur sy kuif. Daar is ’n harde uitdrukking in sy blik toe hulle oë ontmoet.
“Het Ma so waar as wragtig gedink ek sou nie wou weet dat Emma ’n lewensbedreigende siekte het nie? ’n Lóngoorplanting?! Magtig, dit is nie ’n verkoue of griep nie!”
Sylvie staar na haar seun. Haar skouers sak. Hy het reg. Sy moes vir hom en Seth van Emma se gesondheid vertel het.
“Ek is jammer. Jy is reg, ek moes iets gesê het.”
James laat sak sy arms tot langs sy sye. “Hoe lank is die herstelproses?”
“Ek is nie seker nie . . . ek dink ongeveer twaalf maande.”
James knik woordeloos, vee moeg oor sy oë. “Dit was ’n lang dag. Weet Ma of Hector al die nuwe kalfies nader aan die agterste kraal gebring het?”
“Ja, ek het self gesien toe hy hulle nader gebring het. Kom môreoggend vir ontbyt. Ek dink Emma sien uit daarna om jou en Seth weer te sien.”
James skud sy kop en maak die agterdeur oop. “Ek ry vroeg in dorp toe om die koopkontrak van die nuwe stuk grond te teken. Die reünie sal moet wag tot môreaand.”
“Kan die kontrak nie wag tot later nie?”
“Nee, ongelukkig nie. Ons kan môreaand braai om Emma te verwelkom. Adel was van plan om môre uit te ry plaas toe, so sy sal ook hier wees.” Hy buk vooroor en gee haar ’n soen teen die voorkop.
“Laat weet my wanneer Emma veilig op die plaas is. Nag, Ma. Lekker slaap.”