Skip to main content

Uittreksel | Sober

Hoofstuk 1

Kom agter die ware kap van die byl – die feite

Hierdie boek is geskryf vir iemand wat moontlik gereeld, of by tye, te veel alkohol gebruik, asook vir diegene wat reeds van alkohol afhanklik is én vir die gesin waarin iemand moontlik te veel alkohol gebruik.

As terapeut het ek oor die jare bewus geraak van die baie, baie persone en huisgesinne in die samelewing wat swaarkry as gevolg van hierdie probleem en maar aansukkel. Die swaarkry is as gevolg van die skynbare hopeloosheid van die situasie, want tot nou toe het nog niks gehelp nie. Die skyn van ’n “normale” en gelukkige gesin moet voorgehou word en jy of gesinne weet in elk geval waarskynlik nie hoe om die probleem aan te pak nie. Die aanname dat “hy of sy doodgewoon net moet ophou drink”, het nog nooit gewerk nie.

Dit is duidelik dat geen mens ’n probleem kan oplos as hy of sy nie die volle kennis en insig omtrent die aard van die probleem en die moontlike oplossings daarvoor het nie. Alkoholafhanklikheid is ’n siekte soos enige ander siekte en geen mens op aarde het al ooit gekies om dié siekte te ontwikkel nie. Genesing is wel moontlik. Die stadige ontwikkeling van alkoholafhanklikheid spaar niemand nie en enigeen wat op die aarde loop kan hierdie probleem ontwikkel. Om hierdie redes wil ek graag die feite van hierdie siekte te boek stel en die pad na soberheid verduidelik. Genesing lê inderdaad in jóú hande.

Ek staan by die voortuin se hekkie en kyk straataf, en wag vir my pa. Hy is laat. Ons huis is omtrent tien minute se stap van Tiervleistasie in Prinsloostraat af, dan met die voetpad langs die rivier oor die vlakkie tot by Markstraat waar ons huis is. Die vlakkie is ’n sandveld so groot soos ’n rugbyveld waar ons as kinders gespeel het, onmoontlik was, en grootgeword het. Ek is in standerd 6 en bang vir vanaand ...

Dan kom my pa oor die vlakkie met ’n bos blomme in sy hand. Die gewig wat in my borskas hang, raak nog swaarder. As hy blomme bring, is hy dronk. Weer ’n aand van vlug, kwaad, hartseer en “hoekom”-vrae. Die saggeaarde, liefdevolle, hardwerkende, beste pa ter wêreld kan ten spyte van pleit, vergeef, liefhê, kwaad wees, soebat en huil net nie ophou drink nie. Nóg ’n aand se gaan slaap met dié gewig in my bors. Pleit by die Here blyk ook nie te werk nie.

Waarvoor dan?

Dit is my storie. Maar ook nie die hele storie nie. Ek en my susters, een jonger en een ouer as ek, is as “spoorwegkinders” eenvoudig, maar met groot liefde en sorg grootgemaak. As kinders het ons nooit ooit getwyfel aan die permanensie van ons ouers se liefde nie. Ons was altyd onvoorwaardelik gekoester deur beide ons ouers. Ek is toe deur standerd 6, matriek en universiteit. In my tweede jaar op universiteit sterf my pa skielik aan ’n infeksiesiekte.

Ek is nou skielik die man in die huis.

Op universiteit het ek ook gedrink, maar vroeg geleer dat ek gou en opmerklik aangeklam raak – veral my balans en praat word aangetas. Intoksikasie maak van my ’n persoon wat ek nie graag wil wees nie. Simpel! Dit was Genade! Sedertdien, en tot vandag toe het ek my Kaapse droëwyne, my keuse, baie geniet maar met berekende versigtigheid. Ek het eers as dokter en heelwat later as psigiater en bio-etikus gekwalifiseer.

Terwyl ek hier sit en skryf, is dit vandag my laaste dag van amptelike aksie in my professionele lewe. Môre is ek afgetree en moet ek die blare by die huis uit die geute haal. Ek het tog die behoefte om effens terug te ploeg uit die ondervinding van 46 jaar as klinikus.

Tydens dié jare het ek my toegespits op die behandeling van alkohol- en dwelmafhanklikheid: die feite van die verslawingswetenskap, die hoekoms, die waaroms, die motivering, soberheid en terugvalle, hartseer en vreugde, wenners en verloorders, nuwe mense én die wat gesterf het, van val en opstaan, van medeafhanklikheid en waar (hoe) om te begin help.

As dit by alkoholgebruik of alkoholmisbruik kom, het ek ’n weersin in mense op platforms wat eerstens net die probleem verkondig. Doemprofete wat derms uitryg, gal braak en “afpraat” na dié wat met ’n alkoholdrinkprobleem sukkel.

Tweedens is ek moeg vir kitsoplossings en wonderkure, gebore uit hulle – soms allerheilige – houdings, eie opinies en moralisering. Ek het al so baie skade van dié “slim” mense met hulle “eie” opinies gesien. Dit is asof sommige mense, sonder enige wetenskap óf proefondervindelike agtergrond, net “weet”. Hierdie “eksperts” kan gevaarlik wees. Glo my, daar bestaan baie onkunde oor die siekte van alkoholafhanklikheid.

Ek wil graag vir die kwesbare jongmense, en ook volwassenes, antwoorde gee. Ja, dit is so dat ook bejaardes en families swaarkry as gevolg van iemand se alkoholgebruik of -misbruik. As ek nog een persoon – dalk vir jou, kan help, is dit die moeite werd om weer voor die rekenaar te sit.

My skrywe word aan twee groepe mense gerig: Diegene wat moontlik besig is om ’n probleem te ontwikkel of reeds ’n drinkprobleem het, en die groep omstanders of buitestanders, geliefdes, gesinslede, ouers kinders en ander wat swaarkry as gevolg van iemand se probleem met drinkgedrag. Lees daarom met die ingesteldheid om dit wat op jou situasie van toepassing is, raak te lees.

Moet nooit die gedagte koester dat ek nie met jóú praat nie, want êrens in hierdie boek dink ek aan jou en praat ek met of van jou. Die groot uitdaging is om jouself in die inhoud van hierdie boek te herken.

Ons almal wil graag die persoon wat moontlik ’n alkoholdrinkprobleem aan die ontwikkel is, of reeds afhanklik is, help. Die probleem is: Hoe kry jy die perd by die water? Hoe maak jy die perd drink? En, is die perd ooit by die regte put water?

Indien jy die persoon is met die potensiële drinkprobleem of reeds afhanklik is: Wanneer moet jy besef (of weet) die gevaarligte flikker vir jou? Wanneer presies moet ek as buitestander of geliefde toetree, intree, of iets probeer doen aan die persoon wat besig is om te verdrink? (Miskien stel ek dit té kras. Miskien nie.)

Aan die ander kant is jy ook reg as jy wil sê: “Dis my leefstyl. My alkoholgebruik is mý keuse!” Dit is mos so in die daaglikse werklikheid dat die persoon met die moontlike alkoholprobleem nie maklik self sy of haar probleem sal herken, erken en self soberheid sal inisieer nie. Inteendeel, die persoon met die probleem sal waarskynlik alles in sy of haar vermoë doen om die bestaande drinkgedrag in stand te hou. “Sobriety? Thank you, but no thank you!”

Dan is daar ook ’n groot groep mense wat weet hulle is in die moeilikheid as gevolg van hulle drinkgedrag, maar soberheid net nie kan begin of volhou nie. In die meeste gevalle word die wegspringskoot na soberheid afgetrek deur die familie, vriende, lewensmaats, ’n werkgewer of gesondheidswerker.


Feit: Die eerste aksie of waarskuwing of bewusmaking kom meestal van buite. Hierná moet die persoon sélf die uitdaging aanvaar en die keuse maak om sy of haar probleem aan te spreek, of nie.

En hier lê die groot probleem. Eerstens om die perd by die water te kry en tweedens vir die perd om die water te drink.

Hierdie motivering of “wegspringplek” van buite hou prakties ’n groot probleem in. Dikwels word die wegspringskoot nooit afgetrek nie en die probleem karring aan en aan, ten spyte van die erge verliese vir die persoon, sy of haar gesin en die gemeenskap. Die gesin, geliefdes en ander weet nie wanneer of hoe om die motiverings-of aanvoorwerk te doen nie, of is self net moedeloos, want niks werk nie.

Die problematiese drinkgedrag ontstaan nie oornag nie, maar ontwikkel stadig oor maande en selfs jare. Dikwels ook nie opsigtelik of ooglopend nie, maar “soos ’n dief in die nag”. Daar gaan dikwels baie tyd verby voordat die drinkprobleem sonder twyfel ’n probleem geword het.

Dit gaan mos maar so met baie van ons daaglikse probleme. Ons raak gewoond daaraan. Ons pas aan. Ons verdra. Ons probeer anderkant toe kyk. Maar daar kom ’n tyd dat die probleem aangespreek móét word.

Die alkoholdrinkgedragprobleem is kompleks en word nie so maklik soos die omruil van ’n dooie gloeilamp opgelos nie. Ek is bevrees voordat ons die probleem van drinkgedrag suksesvol kan aanspreek, moet ons eers baie meer kennis en begrip kry oor en van onsself, ons gesin, ons interaksie met die wêreld daar buite. Ons moet ook baie meer van hierdie probleemsiekte leer.

Ek wil die leser net daaraan herinner dat almal van ons hierdie lewenspad vir die eerste keer loop en daarom dikwels onseker en onkundig is oor wat om in die komplekse omgewing waarin ons lewe, te doen. Daarom maak ons ook gereeld foute met die eerste, tweede en derde probeerslag.

Soos ons met elke dag se dinge aangaan, voel ons maar ons pad (on)versigtig oop. Ons maak persoonlike keuses, en êrens langs die pad neem almal van ons goeie en verkeerde besluite. Ons kies die regte of verkeerde aksies tot probleemoplossing. Ons is mos maar almal geneig om foute te maak.

Enige mens wat dink hy of sy kan altyd op sy of haar eie regkom in die wêreld, en dat hy of sy altyd toegerus is om die regte besluite neem, is op ’n dwaalspoor.

Uitdagings en onsekerheid is deel van ons elke dag se leerproses. Uiteindelik, soos sagte klei, word ons persoon tog gevorm deur ons keuses, ons gevolglike aksies, die gevolge van ons aksies en ons interaksie met die betekenisvolle ander mense rondom ons.

Mettertyd ontstaan die: “Só ken die mense my en só sal hulle my onthou!” manier van dink. Onthou net, geen mens is ’n eiland nie. Ons is onlosmaakbaar deel van ander: ’n groep, ’n gemeenskap, ’n gesin en ’n vriendekring.

’n Goeie voorbeeld vandag is die Covid-19-pandemie waar daar gepraat word van ’n “kudde-immuniteit” wat ontwikkel. Daar is vanselfsprekend ook altyd deels harmonie en deels konflik tussen my en ander – veral geliefdes, se saamleef.


Vraag: Breek jou huidige drinkgedrag en leefstyl hierdie harmonie met ander af en skep dit dalk konflik wat pyn veroorsaak?

Vir die familie en ander is daar die keuse om die persoon met sy of haar drinkgedrag te konfronteer óf om maar soos dit nou gaan, te probeer aanhou verdra.


Feit: Daar is weerstand teen verandering.
Ons gesels meer hieroor wanneer ons by die gesprek oor motivering kom. Onthou net: Jy is wat jy vir die wêreld wys jy is.


Feit: Ek is altyd deel van ander rondom my. Hierdie “kudderealiteit” gee vir my ’n gevoel “ek behoort” aan iets of iemand. Die mens se grootste behoefte in die lewe is om te behoort. Veroorsaak jou huidige drinkgedrag verhoudingsprobleme tussen jou en ander?

Ek wil nie die bobbejaan te ver agter die bult gaan haal nie, maar eers ietsie meer oor my of jou daaglikse persoonlike keuses. Is jy bereid om van jou keuses en gedrag te heroorweeg as daar gevaarligte aangaan? Of loop jy wetende met oogklappe of ’n masker aan as dit by jou alkoholgebruik kom?

Min van ons wil weet, of erken, dat ons verkeerde keuses gemaak het en daarom hou ons aan om dinge te doen wat ons ware persoon nie sal wil doen nie. Jy wil mos maar vir jouself skerm. Slegs die feite, kennis en ervaring kan jou help met nuwe keuses indien jy bereid sou wees om weer te dink wanneer jy die gevaartekens begin sien.

Een van my ou professors, ’n ginekoloog en verloskundige, het eendag in die klas gesê: “Geen mens kan beter funksioneer as sy of haar kennis nie. ’n Mens kan swakker funksioneer as sy of haar kennis, maar nie beter nie.” Sonder kennis is jou knieë geknak. So is daar ook baie slim of ingeligte mense wat swak doen in hul daaglikse handel en wandel. Daar is ook die sogenaamde baie “slim” mense wat “weet”, maar wat eintlik onkundig en op ’n dwaalspoor is.

Kennis is broodnodig vir goeie besluitneming. Bring vir my iemand wat alle duidelikheid het, wat weet, nooit twyfel oor moeilike besluite nie, en ek sal hom of haar probeer help. Daar is nie sulke mense te vinde nie. Baie dínk hulle weet alles, maar is eintlik onkundig. By tye twyfel ons almal. Ons almal maak soms die verkeerde keuses en ons almal probeer dan om ons eie doen en late te regverdig.

Selfkritiek is moeilik en onaangenaam. Al besef ons dikwels daar is fout, probeer ons steeds om dinge tog net dieselfde te hou en die oënskynlike dit-gaan-goed te bewaar. Veral as dit kom by die beginstadium van alkoholafhanklikheid.

Paulus skryf oor die menslike insig ’n mooi ding in sy brief aan die Korinthiërs. “Toe ek nog ’n kind was, het ek gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind; maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê. Nou kyk ons steeds in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken net soos ek ten volle geken is.”

Vir my dui dit daarop dat wysheid met ervaring kom, maar slegs as jy bewustelik op soek is na dit wat goed en reg is. In my gedagtes onthou ek die Bybelse woorde: “Ek kyk na die wêreld asof in ’n dowwe spieël.”

Die waarheid is dat ek en jy, vandag, nie duidelikheid het oor al die komplekse dinge in ons lewens nie. Ons voel-voel maar ons pad deur elke dag se onsekerhede. En tog ploeter ons mos darem nie net vorentoe sonder om te dink nie.

In die gang van ons daaglikse lewe, blink liggies, versoekings, frustrasies en opdraandes is moeilike leefstylkeuses en onsekerhede ’n werklikheid wat hanteer moet word. Selfs al flikker daar daagliks rooi gevaarligte vir my, moet ek tog vir die wêreld wys ek is oukei en in beheer.

Die waarheid is, onsekerheid is ons daaglikse metgesel, ons “dowwe spieël”, ’n werklikheid wat ons dwing om vandag se realiteite te herdink. Omarm onsekerheid want dit noop ons om die nodige vrae te vra. Onsekerheid motiveer my tot selfondersoek. Daarna motiveer onsekerheid my tot soeke na die aksies tussen my en my medemens wat werklik van waarde sal wees.

Ek gaan later meer gesels oor onsekerheid en die vryheid wat onsekerheid meebring, maar wat wil ek hier te kenne gee?
Die lewe is ’n soektog na wat regtig die moeite werd is om te doen. In ons soektog maak ons daagliks foute. In ons lewenslange groeiproses moet ons ons keuses van vroeër kan herevalueer en die krag wys om te kan verander, om aan te pas. Die beeld dat alles altyd goed gaan, is nie ’n eerlike beeld nie.
Sommige van ons het ’n alkoholprobleem ontwikkel. Dalk nie uit eie keuse nie, maar nogtans ’n probleem. Selfondersoek lewer wins en bewys karakter.

Welkom by “mens”-wees. Sommige van ons drink te veel en maak foute. Herken dit en erken dit, al is dit hóé moeilik. Ek begryp dit is vir enige mens ’n moeilike uitdaging, maar nogtans is dit deel van ons soektog na wat goed is en bevryding sal bring.
Ek wil graag weer terugkom na wat ons van onsself sien in die dowwe spieël. Een van die grootste uitdagings in die lewe is om die werklike self in die spieël te eien. Die werklike self is die self wat jy vir die wêreld wys. Wie jy is soos die mense jou ervaar. Het jy die moed om die werklikheid omtrent jouself en jou familie te herken en erken?

So dikwels bedrieg ons onsself en sien ons net die ideale self in die spieël terwyl ons geliefdes die werklike self van nou, daagliks ervaar. Waar skuil die ware self? Is jy, diep binne-in, nie dalk moeg vir jou eie “skynbestaan” nie? Wil jy nie die jy van nou na die ware jy toe verander nie?

Die ware jy is die jy wat jy regtig wil wees. Steeds vol krake en kwaste, maar nietemin die ware jy. As jy by tye of gereeld te veel drink, of jou slegs af en toe vergryp (binge) en met ’n babelaas wakker word, of selfs as jy net ligweg bekommerd is oor jou alkoholgebruik, lees verder.

As jy ’n kennis of familielid het wat te veel drink en jy en die gesin het nou al alles probeer, of as jou liefde tot die uiterste beproef is en jy jou knieë sonder sukses seer gekniel het, is hierdie ook vir jou bedoel. Ek wil jou uitnooi om saam met my te stap, te dink, te herdink en weer moed te skep. Want ek weet, jy kán as jy regtig wil.