Skip to main content

Uittreksel | Skakerings van liefde

Een

Met ’n sug wat diep uit haar gekweste hart kom, maak Barbara die agterdeur van die bakkie se kap toe. Binne-in die klein ruimte is al haar aardse besit­tings. Die skerwe wat oorgebly het van haar veilige lewe wat net eendag skielik gebreek het, soos ’n glaspot wat op die vloer stukkend geval het.

Sy is deur ’n bitter moeilike en hartverskeurende drie maande. Van iewers af het sy die krag gekry om ná haar ouers se noodlottige ongeluk haar kursus in beeldende kunste aan die Universiteit van Stel­lenbosch te staak, haar pa se groentewinkel in die hoofstraat van Driefontein en hulle huis op die klein­hoewe buite die dorp te verkoop en op te ruim. Die huis met die groentekwekery en die winkel behoort nou aan ’n Wikus Louw. Sy moet vroeg vanoggend ontruim sodat hy kan intrek, en wat voorheen aan haar en haar ouers behoort het, oorneem.

Sy vee haar trane met ’n snesie af en snuit haar neus. Die finale afskeid wat sy gevrees het, is nou hier. Met ’n swaar hart kyk sy vir oulaas na die huis en werf.

“Totsiens, liewe ou huis. Ek sal jou seker nooit weer sien nie.”

Dié eenvoudige grootwordhuis is gevul met die herinneringe aan ’n liefdevolle, hardwerkende ma en pa. Sy moes noodwendig verkoop, en dis ’n onom­keerbare verlies.

Hoe kon haar ouers so vlytig gewerk, en so min nagelaat het? Die antwoord is bloot dat haar ouers skuld gemaak het om haar universiteit toe te stuur, omdat sy veronderstel is om talentvol te wees. Sy was in die koshuis en hulle het sakgeld en alles voorsien. Hulle het hulle afgesloof om alles vir haar op te offer en te gee, omdat sy ambisieus is en hulle in haar ge­glo het. Haar pa het ’n verband op die huis uitgeneem wat afbetaal moes word, en dit het byna al die geld wat sy uit die verkoop maak, ingesluk.

Nou loop sy met ’n enorme skuldgevoel in haar binneste dat sy hulle verarm het.

Die leë huis is soos die leegte in haar hart. ’n Leegte wat nooit gevul sal word nie. Sy neem herin­neringe van gelukkige kinder-en jeugjare saam met haar. Bibberend in die oggendkoue kyk sy na die bekende omgewing. Adem vir oulaas die geur van die blomtuin in. Haar ouers het altyd die mooiste tuine gemaak. Sy luister na die sagte voëlgesange, die geruis van die wind in die bome om die ou huis. Al dié dinge wat sy as vanselfsprekend aanvaar het en nou gaan verloor, sal sy in haar hart saamneem. Hier was sy gelukkig, al het hulle dit nooit breed ge­had nie, en hier is die kunsvlam in haar aangesteek en aangeblaas.

Sy vee trane af. Die oomblik het aangebreek om in die bakkie te klim en die stof van die verlede van haar voete af te vee.

Terwyl sy ry, kyk sy rond en in die truspieël na die stof wat agter haar opdwarrel. Die eenvoudige dorpstrate verdwyn agter haar en sy twyfel of sy ooit weer hierheen sal kom.

Sy neem haar karige besittings en finansiële on­sekerheid saam met haar na Stellenbosch wat haar terugroep. Daar sal sy haarself probeer vestig, al is sy te trots om haar ou studentemaats en dosente te kontak. Wat sal hulle van haar dink as sy soos ’n hawelose swerwer daar aankom? Gestroop van alles behalwe ’n bakkie, ’n bed, ’n tafel en twee stoele, haar esel, skildergoed, en ’n skamele bedraggie geld? Stel­lenbosch is egter ’n dorp waar kuns waardeer word. As daar ’n plek is waar sy haar werk kan verkwan­sel, sal dit daar wees. Sy ken darem Stellenbosch. Dis amper ’n tuiskoms, al kom sy armlastig daar aan.


Barbara parkeer langs die R44, langs die Laerskool Rhenish, waar daar ’n plek onder bome is waar mense goed smous. Sy het toestemming by die mu­nisipaliteit gekry en nou maak sy haar staanplek langs ’n vrugtesmous met ’n stalletjie waar die heer­likste wit en swart druiwe, goudgeel en rooi perskes, donker vye en groen waatlemoene op stellasies uit­gestal word in kleureprag wat haar aandag trek.

Sy het vyf olieverfskilderye om te verkoop en sy stal dit om haar bakkie uit. Kyk skewekop of dit sal aandag trek. Verskuif hier en daar. Laai haar stoel en esel af en haar verftafel, sit ’n ongebruikte doek op die esel, en gaan sit. Baie motors kom verby, van een verkeerslig na die ander. ’n Mercedes hou stil. ’n Man klim uit en loop na die vrugtestalletjie. Sy hou hom dop. Gaan hy in haar rigting kyk?

Maar nee, hy kyk skaars na haar skilderye en loop met kardoese vrugte terug na sy motor, laai dit in die kattebak, en ry weer. Binnekort hou nog ’n motor stil, en nog een. Almal koop vrugte en ry weer. Barbara raak moedeloos, maar sy vertel haar­self om nie hoop te verloor nie. Mense weet van die vrugtesmous en sy is nuut hier.

Die oggend is amper verby en die hitte neem toe. Al is sy in die skadu, kry Barbara warm. Sy drink water en eet die toebroodjies wat sy vir haarself ge­maak het. Haar ouers sou geskok gewees het om te dink hulle dogter is nou haweloos, en sy smous langs die pad. Nee, sy moenie so dink nie en moet probeer om nie terug te dink aan Driefontein en haar ouers nie, anders raak sy net van voor af bedroef.

’n Isuzu-bakkie hou by die vrugtestalletjie stil en ’n middeljarige man in kakieklere klim uit. Hy lyk soos ’n boer. Hy neem ’n kardoes met wit druiwe en tot Barbara se verbasing loop hy reguit na haar, bekyk haar skilderye een vir een, en kom staan voor haar met ’n glimlag op sy goedige gesig.

“Dagsê, Juffrou, ek het jou nie voorheen hier ge­waar nie.”

“Môre, Meneer. Dis my eerste dag.”

Hopelik lyk sy nie vir hom gehawend en armlastig nie. Sy het darem in ’n goedkoop gastehuis oornag, hare gewas, en sy dra ’n skoon denim en ’n blou T-hemp wat die blou van haar oë beklemtoon.

“Jy maak mooi goed, Juffrou. Ek hoop alles verkoop sommer tjop-tjop.”

Hy gaan seker net komplimente uitdeel en nie self koop nie, dink sy moedeloos. Wat hy wel doen, is om die kardoes met druiwe aan haar te oorhan­dig. Sy kyk verstom daarna.

“Die vrugte kom van ons plaas op die Annan­dale-pad, en ek dink jy kan doen met iets soet en lekker.”

“Baie dankie, maar dis regtig nie nodig nie . . .”

“Vat, en geniet. Dis van die beste, dit verseker ek jou.”

Sy neem dit, skielik so verleë dat haar wange brand. “Dankie, dis bedagsaam van u.”

Hy glimlag. “Waar kom jy vandaan, as ek mag vra?”

“Van Driefontein, ’n klein plekkie in die Karoo . . . e . . . Oom.”

Hy staan met ’n groot voorvinger teen sy ken en ’n frons tussen sy ruie wenkbroue. “Jy skilder soos iemand wat geleer het hoe, of wat wragtag oorloop van talent.”

“Dankie.”

Hy wink die vrugtesmous nader. “Edwin, kyk die mooi goed wat dié juffrou maak. Jy moet elke dag vir haar ’n pakkie vrugte van haar keuse gee, hoor jy.”

“Ek sal so maak, Meneer.”

Nou is Barbara éérs verleë. Die gawe man dink regtig sy is so armlastig, sy kan nie kos bekostig nie. “Nee, ek kan dit nie aanvaar nie, Oom. Ek sal betaal.”

“Gmf, jy sal g’n betaal nie. Ons verkoop nie ou vrugte nie en goed wat heeldag in son, wind en weer staan, gaan mos af. Daar bly altyd oor. Buiten­dien weet ek wat die behoeftes van studente is. My seun is ook een.”

Hy knipoog vir haar asof hy dink sy is ’n student wat sakgeld verdien. Glimlag en groet.

Sy kyk hom agterna toe hy na sy bakkie loop, inklim en wegry. Edwin het weer terugbeweeg na sy stalletjie. Sy loop soontoe.

“Edwin, wie is daardie man . . . jou baas?”

“Hy’s meneer Chrisjan Nolte, Juffrou, van die plaas Villiershoop. Hy’s ons baas daar, maar die plaas be­hoort aan iemand anders.”

“O, is hy die plaasbestuurder?”

“Ja, Juffrou.”

“Hy’s baie gaaf.”

“Hy’s ’n goeie man, Juffrou.”

Sy kry ’n idee. “Edwin, ek wil jou by jou stalletjie skilder. Die vrugte lyk so mooi, in verskillende kleure. Mag ek?”

Hy lag, maar lyk gevlei. “Any time, Juffrou. Any time.”

“Oukei, ek sal dit môre doen. My naam is Bar­bara Jansen. Ek het daar by Driefontein in die Karoo gewoon. My pa het groente gekweek. Ons het ge­lukkig ’n goeie boorgat en water gehad. Hy het die groente in die dorp verkoop, by sy klein winkeltjie.”

Edwin kyk verwonderd na haar. “Regtig? En nou kom verkoop Juffrou prente hier in Stellenbosch in?”

“Ja, maar my ouers is dood en ek is nou op my eie.”

Hy skud sy kop simpatiek. “Sjym. Ek hoop Juffrou verkoop sommer baie prente.”

Sy glimlag. “Ek ook. Dis nou al inkomste wat ek het.”

Die dag gaan verby. Motors kom in strome verby. Verskeie hou stil om vrugte te koop, maar niemand kom na haar skilderye kyk nie. Sy is redelik moede­loos en begin oppak. Vanaand sal sy weer by die gastehuis slaap, maar sy sal versigtig moet werk met haar geld. Dalk kom daar ’n tyd wat sy in haar bakkie sal moet slaap. Sy het dit een keer gedoen en dit was vreesaanjaend. Sy het omtrent niks geslaap nie. Dis gevaarlik vir ’n vrou om dit in Suid-Afrika te doen, en sy was bang iemand kom val haar aan.

Sy is egter te trots om iemand wat sy voorheen in Stellenbosch geken het te vra of sy verniet by hulle kan kom parkeer. Dis nie in haar aard om op iemand se nek te lê en aalmoese te verwag nie.

Sy sidder liggies. Dalk kom daar ’n tyd wat sy haar trots sal moet sluk.