Skip to main content

Uittreksel | Sinkplaatpad na liefde

Een

“Waar’s die dierasie?” Deziré Kriek se stem eggo deur die karig gemeubeleerde kantoor toe sy die deur oopstoot. Haar stewels kraak met elke tree op die teëlvloer.

“Ek dag jy kom nooit. Ek het al oorweeg om die ding vrek te trap.” Magda skuif haar stoel verder weg van die boekrak in haar kantoor en kom orent.

“Jy sal jou broek bevuil as jy naby aan die ou din­getjie moet kom. Wat is dit dié keer? Weer ’n lang­beenspinnekoppie?” Deziré haal die bofbalpet van haar kop af en skud haar hare los.

“Maklik vir jou om te praat, Tarzan. Ek boer nie soos jy in die bos nie. Die daddy-long-legs agter daai laaikas is die ma van alle spinnekoppe.” Mag­da skuur verby Deziré en skuifel deur se kant toe.

“Jy oordryf al weer,” sê Deziré en kniel langs die laaikas. “Ek sien hom, maar kan nie bykom nie. Gee my jou liniaal of iets aan dat ek hom in my keps kan injaag en hier uitkry.” Sy leun eers agter die kas in en kom dan orent. Haar oë bly vasgenael op iets in die keps.

“Jy bring nie daai ding naby my nie. Ek sweer ek spuit ’n blik gif op hom uit.” Magda tree terug en stamp haar elmboog teen die deur. “Deksels! Kyk nou wat doen jy,” sê sy en vryf haar arm. “Gooi hom by daai venster uit en maak dit sommer toe. Ek vat tien keer eerder die hitte as verdekselse spinnekoppe.”

Deziré skud die hoed by die venster uit. “Shame. Arme ding is so bang. Het jy gesien hoe bewe sy beentjies?”

“Sarkasme pas nie by jou haarstyl nie.” Magda sit die venster op knip en neem weer plek agter haar lessenaar in.

“Van hare gepraat, ek dink ek moet weer strepies laat insit. Rooi dié keer.” Deziré kyk na haar profiel in die weerkaatsing van die venster. “Die natuur­like swart groei nou weer sterk uit en ek gaan nooit weer my hare blond kleur nie. Die mans neem my nie ernstig op wanneer hulle kom kursus loop nie.”

“Die swart is seker meer prakties in die veld. Dit pas in elk geval mooi by jou kakieklere wat jy heeldag dra en bring die blou van jou oë uit. So sal jy maklik een van daai mans se aandag kan trek.” Magda lê terug in haar stoel en vou haar arms.

“Jy weet ek sal die hele dag oor modes en haar­style wil gesels, maar ek het werk om te doen. Vertel my van die wildplaas wat opleiding soek?” Deziré gaan sit en tol haar pet om haar wysvinger.

“Dis nou vir jou ’n gawe kontrak as jy dit kan losslaan.” Magda sit vorentoe en stut haar elm­boë op die tafel. Haar stem heelwat sagter: “Ibhino Lodge koop ’n dosyn nuwe viertrekbakkies en dis maar net die begin. Hulle soek opleiding ook. Die finansiële bestuurder was gister hier. So ’n regte modepoppie. Aaklige wyfie as jy my sou vra, maar die veearts wat saam met haar was, is nou vir jou iets vir die oog. Boonop enkellopend,” sê Magda en maak haar oë dromerig toe.

“Hoe weet jy hy’s enkellopend?” Deziré maak haar hare weer in ’n poniestert vas en sit die pet terug op haar kop.

“Hy was op sy foon besig en ná die tyd toe sê hy vir die poppie iets van sy eksvrou en sy seun.”

“Dis nie te sê hy’s beskikbaar nie. Dit sê net hy is ’n afvlerkie en dat daar groot gevaarligte flikker.”

“Dezzie, net omdat jou ma julle gelos het, beteken nie alle geskeide mense is afvlerkies nie . . .”

“Ja, toe nou,” onderbreek Deziré haar. “Kom ons los my ma maar hier uit. Vertel my eerder van die moontlike opleiding. Ek kort dringend werk, anders gaan my besigheid dit nie maak nie.”

Magda staan op en skuif die venster versigtig oop. Sy loer teen die muur af en draai dan weer na Deziré: “Lyk my die spinnekop is darem nou weg.”

“Sal jy nou stilsit en met een onderwerp klaar­maak? As dit nie die veearts is wat jou laat kwyl nie, is dit die spinnekop wat jou laat sidder.”

“Staan Divvie se aanbod nog om vir hom te gaan werk? Ek weet dis landuit, maar jy sal dit geniet in die bos en . . .”

“Los nou my familie uit, Magda.” Deziré slaan met haar hand op die tafel. “Ek praat net met Div­vie as dit absoluut nodig is en dan ook nét oor be­sigheid. Vertel my eerder van die kliënte.”

“Oukei, oukei. Hier’s die deal. Die poppie koop die bakkies by ons en ons beveel aan dat jy die opleiding verskaf. Jou maatskappy survive en jy kan die veearts dik vry terwyl jy hom leer hoe werk ’n viertrek nou eintlik.”

“Magda.” Deziré klap haar tong. “Vergeet nou van die veearts. Jy weet hoe dit met my en mans gaan. Hulle hou net eenvoudig nie lank nie.”

“Ja, Juffrou Commitment Issues. Wag net tot jy hom eers sien. Vol sjarme en ordentlik. Hy het my ac­tually in die oë gekyk toe hy met my praat. En mans kyk my selde in die oë, jy weet.” Magda trek haar asem in en druk haar bors uit.

“Nou goed. Gee my die nommer dat ek hulle bel. En net omdat ek die geld nodig het.”

“Enigste ou probleempie is net: Dit gaan ons ’n rukkie vat om die finansiering te reël en die bakkies te prep. So, ek stel voor jy verkoop ’n pakket aan hulle waar hulle eers met jou viertrekvoertuie opleiding kry en dan vat jy hulle op ’n road trip na Divvie toe sodra hulle bakkies afgelewer is. Lekker overland, jy weet. Mense hou van sulke uitstappies terwyl hulle voertuie nog nuut is.”

“Dankie vir die wenk. Die nommer, asseblief?” Deziré hou haar hand uit.

“Hierdie is die poppie se nommer.” Magda skryf name en nommers op die geel papiertjie voor sy dit van die pakkie aftrek en in Deziré se hand sit. “Die boonste ene is die skakelbord se nommer, want Mêrrim gee nie haar persoonlike nommer uit nie. Jy moet eers verby haar persoonlike assistent kom voor sy haar sal verwerdig om met jou te praat.”

Deziré kyk na die papier en lees hardop. “Kylie Kruger, hoof van finansiële dienste, en Nico Spies. Ek neem aan die Nico is nou die kamstige vee­arts?”

“Ja, en die selnommer is syne as die kabels weer gesteel is en jy nie op die landlyn kan deurkom nie. Snaaks dat hy sy persoonlike selnommer kan gee, maar nie sy nie.” Magda snuif minagtend.

“Wat verwag jy met ’n naam soos Kylie Kruger? Alliterasiename gee my al klaar ’n pyn op ’n plek waar die son nie skyn nie.” Deziré vou die papier dat die hoekies presies ooreenstem voordat sy dit plat stryk en in haar hempsak steek.

“Ekskuus, juffrou Deziré de Villiers.” Magda draai om en loer weer by die venster uit.

“En dit, my liewe vriendin . . .” sy staan op en skuif haar stoel versigtig terug tot teen die lessenaar, “. . . is hoekom ek dit amptelik na Kriek laat verander het.”

“Ek wou sê ek herken die stem. Goeiedag, Deziré. Magda het my vertel van die groot transaksie waar­mee sy besig is. Ek het gewonder of jy sal kom oë wys.” Die groot man staan effe gebuk in die deur.

“Vir seker, oom Bertie. En dankie vir die wenk. As julle nie so baie werk na my kant toe gestuur het nie, weet ek nie waar ek sou brood kry om te eet nie.”

“Dit raak ál hoe moeiliker, Deziré.” Hy vee ’n slag oor sy voorkop. “Ek is eerlik met jou as ek sê ek weet nie hoe lank ons dit nog sal kan doen nie. Kliënte wil eerder minder betaal as om ook nog bestuuropleiding as ’n addisionele uitgawe aan te gaan en dit dan saam met die voertuig oor sewe jaar af te be­taal. Vandag se manne is mos slim en dink hulle kán bestuur.”

“Ek verstaan, Oom.” Haar oë kyk af na haar stewels en in haar gedagtes tel sy die teëls op die vloer, maar sy kom nie verder as vier nie. Vier teëls in ’n ry van muur tot muur.

“Hoekom los jy nie die opleiding en kom werk hierso by ons nie? Met jou mooi gesiggie sal jy drie keer meer voete hierheen lok en met jou kennis van voertuie sal jy dubbeld soveel as Magda verkoop.” Die ou man knipoog vir Magda. ’n Glimlag speel om sy mond.

“Dankie, oom Bertie. Dit sal dalk net vir ’n week werk en dan sal ek van my kop af wees. Vier mure en ek sal nie deug nie.” Deziré draai na haar vrien­din en glimlag: “Boonop wil ek nie al Magda se be­sigheid steel nie.”

Met Magda en oom Bertie se gelag wat al sagter word terwyl sy wegstap, begin Deziré se gedagtes weer na haar besigheid draai. Sy moet net een­voudig dié kontrak sluit. Dit sal nie haar besigheid heeltemal red nie, maar as sy haar kaarte reg speel sal sy die wolf darem vir ’n paar maande van die deur af kan weghou; dit sal haar genoeg tyd gee om uit te brei. Sy klim in haar viertrekstasiewa en loer na haarself in die truspieëltjie: “Jy gaan dit maak, Dezzie. Alles gaan uitwerk.” Savage Garden se “Animal song” begin oor die radio pols. Sy draai die volume harder en kyk in die blindekol voor sy in die verkeer in vleg. Haar kop begin ritmies op maat van die musiek skud. Alles gaan uitwerk.


“Ek is hier om mevrou Kruger te sien. Ons het ’n afspraak,” sê Deziré vir die rooikop wat agter die toonbank sit. Dit lyk skaars of sy klaar met die skool kan wees en Deziré voel jammer vir haar wat heeldag in dié vertrek moet werk. Die ingangsportaal van Ibhino Lodge is versier met tradisionele Afrika-motiewe wat vervleg is in ’n moderne styl en die dekor word van die mure tot op die bekleedsel van die meubels herhaal. Opgestopte trofeë pryk teen die hoë mure en strek tot teen die grasdak. Sy dink aan die arme olifant en kameelperd en leeu wat eens kommervry en trots in die veld geloop het en toe die knie moes buig voor die jagter, net om as ’n versiering teen ’n muur gemonteer te word.

“Wie kan ek vir juffrou Kruger sê is hier om haar te sien?” vra die ontvangsdame met soveel klem op die juffroutitel dat Deziré dadelik die ondertone aanvoel. Kylie Kruger is ongetroud en baie gesteld op haar status.

“Deziré Kriek, van die Veld en Vlei Bestuurakademie. Júffrou Deziré Kriek.” Sy glimlag vermakerig oor die klem wat sy op háár titel lê. Deziré draai weg en bekyk die portaal opnuut.

“U kan maar deurstap,” ruk die ontvangsdame se stem haar terug tot die werklikheid.

Sy kry ’n koue rilling teen haar rug af toe sy verby die opgestopte luiperdkop stap. Dit voel kompleet of die dier na haar kyk. Asof hy háár verwyt. Sy gaan staan voor die soliede kiaathoutdeur, trek haar asem diep in, klop drie keer hard aan die deur en wag nie vir ’n antwoord voor sy die deur oopstoot nie. ’n Blonde vrou sit op die imbuialessenaar se blad en voor haar staan ’n man met sy rug na die deur ge­draai. Die vrou ruk haar hand van die man se bors af weg en haar voorkop trek op ’n plooi toe sy in Deziré se rigting kyk.

“Wag jy nie vir ’n antwoord as jy klaar geklop het nie?” Die blonde vrou skuif van die tafelblad af en sy trek haar romp reg terwyl sy om die lessenaar loop. Sy gaan sit agter die lessenaar en lê diep terug in die swart leerstoel.

“Ekskuus.” Deziré kyk vinnig oor haar skouer. “Die ontvangsdame het gesê ek kan inkom. Maar as julle eers wil klaarmaak, sal ek by haar gaan hoor of daarso nie dalk vir julle ’n kamer in die lodge beskikbaar is nie.” Deziré beduie met haar hand in die rigting van die ontvangsdame.

“As jy nie die beste in die bedryf was nie, het ek jou en jou sarkasme van Ibhino af weggejaag.” Die blonde vrou se kneukels word wit soos sy vuiste maak.

“Ja, wel. Gelukkig kán ek my voertuig bestuur, so die kans dat jy my sal vang, is skraal,” antwoord Deziré en stap die kantoor dieper binne. Sy weet sy het dié kontrak broodnodig, maar sy het nog nooit met haar laat mors nie en sy gaan ook nie nou be­gin nie. “Ek neem aan jy is juffrou Kylie Kruger?” Deziré beklemtoon weer die titel. Sy knik haar kop in Kylie se rigting voor sy na die man draai en haar hand instinktief uitsteek: “Aangenaam. Ek is Deziré Kriek. U is meneer . . .?”

“Spies. Nico Spies. Noem my sommer net Nico. Veearts hier op Ibhino,” kom dit in sy rasperstem toe hy na haar draai en haar hand vat.

Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar die ongesproke woord sterf op haar tong. Sy skewe glimlag is opreg en sy blou oë hou haar kykers gevange. Sy hand vou om hare en sy voel hoe die spiere in haar bene styf skiet om op te maak vir die sponsknieë wat dreig om haar op die naaste stoel te laat sit. “Dis reg so, Vlerkie.” Sy draai na Kylie, maar hou steeds sy hand vas. Sy besef dat sy hom pas Vlerkie genoem het en draai weer na hom: “Spies. Ek bedoel Spies, Nico.”

“Mag ek my hand terugkry?” Weer met sy dodelike glimlag. Sekuur gemik om haar binnegoed te laat jellie word.

“Ja. Vat hom. Hy’s joune,” sy trek die stoel uit en gaan sit. Verdomp. Hoekom het sy nie iets ordent­lik aangetrek nie? ’n Rok of ’n formele broekpak met hoëhakskoene. Die man moet dink sy kom af die plaas met haar kakieklere en stewels. Wat is fout met haar? Sy het tog duidelik gesien daar’s iets meer as net ’n werksverhouding tussen dié twee toe sy die kantoor se deur oopgestoot het. Sy trek weer haar longe vol lug. Asem stadig uit. Fokus. Sy haal twee voorleggings uit haar rugsak en gee een oor die tafel vir Kylie aan. “Ek het ongelukkig nie nóg ’n doku­ment saamgebring nie, maar jy kan myne kry as ek klaar is met my voorlegging, Nico.”

Sy voel Nico se oë op haar en kyk nie na hom toe hy praat nie. “O nee, ek is nie deel hiervan nie. Julle moet my verskoon.”

“Nee, Nico.” Kylie se stem laat Deziré vinnig op­kyk na hom. “As jy nie haastig is nie, wil ek hê jy moet insit in die vergadering. Jy en jou personeel sal ook moet gaan vir die gevorderde bestuuropleiding. My pa en die raad het uitdruklik gesê almal wat met die nuwe bakkies gaan ry, moet dit doen anders gaan hulle nie die transaksie afteken nie.”

“Goed, ek sal dan insit.” Nico trek die stoel langs Deziré uit. “Ons kan eers môre begin om die renosters uit die boma na die groter kamp te skuif . . . So, vandag het ek baie tyd.”

Sy skuif haar stoel verder weg van syne af voor sy begin met haar voorlegging. Sy haak telkemale vas en moet deur die voorlegging op haar skoot blaai om weer die draad op te tel. “Samevattend en om mee af te sluit,” hoor sy haar eie stem, al maak die woorde nie vir haar sin nie. “Ek stel voor julle kom vir opleiding in my voertuie op my opleidingsterrein en wanneer julle die nuwe voertuie kry, kan julle vir ’n opknappingskursus kom net om julle vertroud te maak met die spesifieke model wat julle bestel het. Die pryse is in die gebinde dokument. Hier is vir jou ene,” sê sy en hou die dokument na Nico uit. Sy vermy sy oë; té bang om weer ’n gek van haarself te maak. “Verskoon asseblief net die aantekeninge wat ek met die hand ingeskryf het.”

“Hoe gou kan jy ons inpas?” Kylie blaai lusteloos deur die voorlegging. Haar oë gly net vinnig oor elke bladsy. “Jy is duur, maar so is die bakkies wat ons koop. Ek hoop net jy is regtig so goed soos wat daai Magda-vrou by die handelaar sê jy is.” Kylie gooi die dokument eenkant op die lessenaar.

“Ons kan Saterdag begin. Vier bestuurders per dag, elke dag, tot almal deur die kursus is. Ek weet nog nie hoeveel mense julle wil oplei nie?”

“Ons sal teen die naweek finale getalle hê,” sê Ky­lie en draai na Nico. “Ek, jy, Daantjie en Andries kan Saterdag gaan en dan kan ons van volgende week af die spanleiers begin stuur.”

“Stop die bus, Kylie.” Nico staan op en hou sy hande voor hom uit. “Ek kan nie sommer net die naweek op ’n bestuurkursus gaan nie. Ek gaan vir Divan haal. As ek hom nie elke naweek gaan haal nie, gaan sy ma die bietjie wat ek hom sien ook nog van my af wegvat. En terloops, ek kán ’n viertrek ry. Vat iemand anders saam met jou.”

“Jy het die memo gesien wat my pa uitgestuur het.” Kylie staan ook op. “Niemand vat aan een van die nuwe bakkies as hulle nie die kursus gedoen het nie. Ek en jy inkluis. Dié transaksie moet deur voor ek aan die einde van die maand die finansiële jaar kan afsluit.” Kylie skud haar kop heftig ter­wyl sy praat. “Dink jy ek wil in die stof en modder rondploeter met ’n simpel bakkie? Die lewe is groter as jou probleme, Nico Spies. Maak ’n plan.”

Deziré kan die spanning met ’n stok voel. Sy wil nie al een wees wat sit nie en staan ook op voor sy praat. “Ek praat dalk uit my beurt uit, en ek is nie eint­lik ingerig om kinders te ontvang by die opleiding nie, maar hoe oud is jou kind?”

“Hy word in September ses.” Nico se stem is sag toe hy na Deziré draai.

“Ek gaan nie verantwoordelikheid vir hom aan­vaar nie, maar as j’y na hom gaan kyk kan jy hom saambring. Dalk kan hy die modder en stof waardeer.” Deziré kon die versoeking nie weerstaan om die laaste sin sarkasties by te voeg nie.

“Jy’s reg, jy praat uit jou beurt. Die vergadering is verby. Ek dink jy moet liewer gaan.”

“Ekskuus?” Deziré sit haar rugsak op die stoel neer en wonder of sy om die lessenaar moet stap en of sy sommer bo-oor moet duik om die blonde poppie aan haar strot te gryp.

“Ek’s jammer, Dezzie.” Nico vat haar aan die skouers en draai haar na hom toe. Sy gesig byna teen hare. “Ek vra regtig om verskoning vir dit wat gebeur. Sal jy ons net ’n oomblik verskoon en vir ’n wyle buite in die portaal wag?”

Deziré voel heeltemal ontwapen deur die blou oë voor haar en sy hande wat op haar skouers brand. “Ek sal wag,” sê sy, tel haar rugsak aan een van die skouerbande op en swaai dit op haar rug. By die deur vat sy die deurknop vas en trek die deur agter haar toe. Met haar rug teen die deur gestut, kyk sy op. Dit voel of sy nie asem kry nie. Wat presies het daar binne gebeur? Met watse tipe mense het sy hier te make? Het Kylie dalk op haar eie al hierdie diere van kant gemaak om hulle gesigte hierso op te plak? ’n Waarskuwing aan enigiemand wat met haar swaarde kruis – moenie met Kylie Kruger suk­kel nie. Kyk wat gaan met jou gebeur. Die portaal versmoor haar. Sy sal buite in die tuin gaan wag tot iemand met haar kom praat om die finale reëlings te tref. Die ontvangsdame groet haar toe sy verbystap. Deziré gaan staan en kyk na die dame wat met haar hande vroetel. “Jy het elke woord gehoor, nè?”

“Ongelukkig, ja. Ek wou nie afluister nie, maar die deur wás oop.”

“Is sy altyd so?” Deziré beduie met haar kop na die toe deur.

“Soms erger,” glimlag die rooikop. Asof sy die haan hoor kraai, vervaag die glimlag op die haar gesig en raak sy druk besig met iets op die rekenaarskerm.

“Ek sal nog so ’n halfuur hier buite in die kafeteria sit.” Dit voel vir Deziré of die kind haar nie hoor nie. “Net vir ingeval sy nog iets met my wil bespreek.”

Die ontvangsdame knik en maak ’n onaardse geluid wat dalk ja kan beteken. Deziré loer na die opgestopte renoster en met die uitstap wonder sy of die horing van veselglas gemaak is en of die renoster darem in sy dood toegelaat is om sy trots te behou.


By die kafeteria gaan sit sy teen die muur wat die verste van die kantoorkompleks af is sodat sy betyds kan sien as die rooikop haar dalk sou terugroep. Dit voel vir haar asof die reëlings nog in die lug hang; sy sal graag net die vergadering met ’n behoorlike samevatting wou afsluit sodat sy kan wegspring met die voorbereidings vir die opleiding. Sy bestel ’n vrugtesap en skakel haar foon weer aan. Geen boodskappe nie. Sy blaai deur die foon se toepassings, maar die sein is swak en die stadige reaksies van die foon frustreer haar. Met mening druk sy die foon terug in die rugsak. ’n Reisbrosjure val uit een van die kantsakkies en sy tel dit op. Sy herken die advertensie van Divvie se konsessie in Botswana op die voorblad en begin daardeur blaai. Divvie sou weet hoe om dié moeilike kliënt te hanteer. Sy hoor Divvie se stem in haar gedagtes: “Dezzie, moenie jou aan hulle steur nie. Vat net hulle geld en groet hulle weer.” Sy mis hom. En vir Katryn. Maar sy mag nie. Hulle sit in die buiteland en sy moet self sien kom klaar. Die skaduwee wat oor die brosjure val, laat haar opkyk. “Nico. Ek het jou nie sien aankom nie.”

“Jammer as ek jou skrikgemaak het.” Nico beduie na die stoel oorkant haar: “Mag ek?”

“Ja, asseblief. Kan ek vir jou iets bestel?” Haar oë soek na die kelner.

“Nee, dankie. Nie vir my nie. Ek is amper op pad. Ek sal toesien dat die getekende kontrak môre na jou deurgestuur word en dan kan ons die oorspronklike die naweek by jou oplaai.”

“Ek sal die padaanwysings vir jou stuur met ’n lys van goed wat julle moet saambring. Wat is jou e-posadres?”

“Hierso is my nommer,” sê Nico en haal ’n be­sigheidskaartjie uit sy sak uit. Hy hou dit na haar uit. “Dit is my persoonlike nommer. Jy kan my enige tyd bel. Whatsapp ook sommer vir my die lys dan het ek dit op skrif.”

Haar hand vou om die kaartjie en haar vingers raak aan syne. Sy trek liggies daaraan, maar hy laat dit nie los nie. Weereens daardie gevoel in haar bin­negoed as hy só na haar kyk. Word groot, Deziré.

Jy’s nie ’n bakvissie nie, spreek sy haarself aan. Dié man is Kylie se slaai.

“Dezzie, dankie dat jy ’n plan kon maak met Di­van. Ek waardeer dit opreg.” Nico laat los die kaartjie en sonder om daarna te kyk gooi sy dit los in haar rugsak. Sy kan sweer die man lê by haar aan.

“Jou seun is enige tyd welkom. En Nico . . .” sy laat die sin in die lug hang terwyl sy opstaan.

“Ja?”

“Moenie by my probeer aanlê nie. Jy gaan verlief raak en ek gaan verveeld raak.” Sy druk ’n geldnoot tussen die piering en die glas in.

“Dezzie, ek dink jy verstaan my verkeerd . . .” Hy skuif ongemaklik op die stoel rond.

“Ek is ouer as drie en nie onder ’n kalkoen uitge­broei nie. Julle mans is almal dieselfde en soek net een ding.” Sy stoot die stoel netjies onder die tafel in. “Net ’n laaste dingetjie voor ons mekaar weer Saterdag sien: My vriende noem my Dezzie. Jy kan my Deziré noem.” Sy kyk stip voor haar uit terwyl sy wegstap en voel hoe ’n paar blou oë op haar rug brand.