Skip to main content

Uittreksel | Silwerspoor van die maan

Een

Zara klap die boek toe wat sy besig was om te lees en druk dit onder haar kopkussing in. Sy gaan staan voor die venster en staar na die seemeeue wat hoog buite in die blou lug sweef. So lewenslustig en vry. Hulle lyk of hulle aan die maan kan raak wat soos ’n skewe bal teen die horison hang.

Met ’n sug draai sy om en stap kombuis toe om water te kook. Tee maak en konfyttertjies bedien, ge­borduurde lappies op skinkborde uitstal vir gaste . . . so ’n vaal vooruitsig vir die dag.

Sy wens sy kan iemand wees soos Mélusine, ’n half-meermin wat in die Middeleeue in Avalon groot­geword het, of Persephone, die godin van lente, of die beeldskone, tragiese Lorelei, of Guinevere van koning Arthur, of Juliet van Shakespeare, al sterf sy op die ou einde. Of Jeanne d’Arc of Helena van Troje. Mitiese karakters of historiese figure, dis om ’t ewe, hulle was almal heldinne in haar oë omdat hulle nie net blindelings aanvaar het wat vir hulle gekies word nie. Hulle het opgestaan vir hulself en hul eie geluk gekies. Sy wens haar lewe was so opwindend soos dié van die legendariese vroue waaroor sy al gelees het. ’n Lewe vol avontuur, romanse, ongewone uitdagings, selfs die tragedies wat hulle getref het, was vol betowering . . .

Sy skink ’n rukkie later kookwater oor die tee­blare wat sy in ’n potjie geskep het, sit die fyn porseleindekseltjie weer op, trek ’n teemussie oor die potjie en laat die blare vir ’n rukkie trek soos haar ma haar geleer het. Sy pak die teepot en -siffie by ’n melkpotjie, suikerpotjie en drie koppies en pierings op een van haar geborduurde lappies in ’n skinkbord.

Dis ’n baie fyn porseleinteestelletjie wat van Sjina af kom, baie waardevol, mooi opgepas, lyk nog splin­ternuut. Haar ma het net vir uitgesoekte gaste tee hierin bedien. Vir haar is dit kosbaar omdat dit haar ma s’n was. Sy stap met die skinkbord sitkamer toe.

Gewoonlik gaan besoek haar pa, dominee Ger­hardus Greyvenstein, die gemeentelede hier aan die Kaap de Goede Hoop by hulle huise. Hy is nie net ’n man met ’n statige en goedversorgde voorkoms nie, maar ook altyd getrou op sy pos om elke Sondagoggend in die kerk die blye boodskap te verkondig. Selfs ná die afsterwe van sy vrou bly hy steeds nougeset sy amp as dominee uitvoer. Hy gee regtig om vir mense. Sy hart en hande is altyd oop om hulle te help en te versorg, van Bybelse raad te bedien en om te bemoedig en te bid. Die hele gemeenskap het hoë agting vir hom.

Vandag kom ’n offisier haar pa egter hier by die huis besoek. Haar pa het gevra dat sy ook teenwoor­dig sal wees. Sy sal haar beste voetjie voorsit, soos haar pa van haar verwag. Sy hoop net nie hy voer iets in die mou nie. Soos om weer vir haar ’n man te soek. Maar hy kan seker nog onthou hoe sy vorige poging om haar aan ’n man af te gee liederlik misluk het.

Haar ken is egter klaar verbete uitgestoot toe sy die sitkamer binnestap.

Al twee manne staan op en draai na haar toe, hulle besoeker ’n hele kop langer as haar pa wat self lank is. Die baadjie van sy gladgeparste uniform met die blink knope span styf oor sy bors.

“Zara, laat ek jou voorstel aan Hendrick Van­loveren.”

Haar ken wip nog ’n fraksie hoër toe haar kop na hulle besoeker draai en sy hom openlik takseer.

“Goeiedag, meneer Vanloveren.”

“Noem my gerus Hendrick,” sê hy in ’n rasper­stem wat haar ore dadelik irriteer.

Toe hy die skinkbord by haar kom vat, skiet ’n rilling teen haar ruggraat af. Want in sy oë lees sy iets wat haar brein nie dadelik kan beskryf nie.

“Hendrick, dis Zara, my dogter. My alfa en omega.”

Zara kyk vraend vir haar pa.

Waarom klink hy nou so vreemd, amper melo­dramaties?

“Zara,” haar pa beduie met ’n vinnige beweging van sy kop in die rigting van die skinkbord wat Hen­drick op die teetafeltjie neergesit het. Sy gaan sit op die naaste stoel, lig die teepot en skink drie koppies tee, met melk en suiker in elkeen sonder om ’n drup­pel te mors.

Voortreflikheid en gasvryheid is waardes wat sy van kleins af geleer het belangrik is.

Maar sy kyk nie vir Hendrick toe sy sy koppie vir hom aangee nie en sy glimlag nie vir hom nie. Sy beloer hom net onderlangs terwyl hy sy grow­we hand om die koppie vou in plaas van aan die oor lig. Sy lippe krul te dik na haar smaak om die rand van die koppie toe hy slurperig aan die tee begin drink. Die harde, diep lyne oor sy voorkop en baardstoppels op sy ken en kake ontgaan haar nie. Sy is sommer vies dat sy hierdie fyn porselein­teestel aan so ’n onafgeronde, onverfynde karakter blootstel.

“Ek het hoë agting vir die deugsame vrou van Spreuke 31, dominee,” sê hy en gryp so onverwags haar blik met syne vas dat haar hart ’n ruk gee. “Vroom, vlytig, kuis, edel van inbors.”

Sy gesig vertrek in ’n glimlag wat vir haar meer na ’n grimas lyk en sy staar hom steeds sonder ’n sweem van ’n glimlag aan.

As domineesdogter is sy seker veronderstel om oor al dié hoedanighede te beskik wat daar in Spreuke staan.

“Die vrou is eerstens geskape om haar man te dien, te respekteer en te gehoorsaam, en tweedens om vir hom kinders te baar, ’n nageslag te verseker wat sy naam verder kan dra,” teem Hendrick voort.

Sy lig vinnig die teekoppie om die skewe, smalende kinkel wat haar mondhoek maak te verberg.

“As sy boonop jonk en mooi is, is ’n man waarlik geseënd, of hoe, dominee?”

“Baie waar, baie waar,” stem haar pa plegtig saam en strek sy nek, maar hy vermy Zara se blik ten alle koste.

Zara besef meteens presies wat aangaan.

Die man is desperaat op soek na ’n “deugsame en onderdanige” vrou. En die manier waarop hy te werk gaan om dit te kry, is in haar oë voorspelbaar én vervelig. En het haar pa sowaar gedink sy sal haar hierdie keer so gedienstig en gedwee soos ’n skaaplammetjie na die slagpale laat lei?

Haar oë is twee nougetrekte skrefies waardeur sy Hendrick Vanloveren al intenser en kritieser bekyk.

Sy songebrande gesig en hande, die baadjie met blink knope wat skeef oor sy bors span, sy verrin­neweerde stewels, sy hele voorkoms lyk kompleet soos die landkaart vol lyne en roetes in haar pa se studeerkamer. Maar so sonder enige vooruitsigte, vervelig plat en tweedimensioneel.

Nêrens is daar ’n hoekie wat sy wil ontdek of ’n punt waar sy langer wil vertoef nie. In sy waterige blou oë wil sy nooit verdrink nie. Sy glanslose geel hare golf nie naastenby so mooi soos goue koringare in die wind nie. Selfs die klowe en kranse daar buite teen die hange van Tafelberg wat sy al byna uit haar kop kan skilder, is aantrekliker en geheimsinniger as hy.

“Ek het selfs nog meer deugde waarop jy trots sal wees,” sê sy soet soos suiker nadat sy ’n sluk­kie tee gedrink het, “én ondeugde wat jou tot in jou fondamente sal skok,” voeg sy moedswillig by. Haar breë glimlag oortref die vieserige grinnik op sy ge­sig ver.

“Maar níks aan jou is imposant nie. Niks aan jou boei my nie.”

“Zara . . .” Haar pa kreun ongelukkig.

Maar sy wag net vir ’n oomblik dat haar woorde by Hendrick Vanloveren kan insink, toe skok sy hom verder. “Jy kan maar gaan.”

Haar pa snak na asem en gryp na sy hart, maar sy hou haar blik stip op Hendrick.

“Ons hoef nie langer mekaar se tyd te mors nie.”

Sy sit haar koppie sag maar ferm op die piering neer en loer net vinnig vir haar pa. Hy haal darem nog asem. Maar sy het hom nog nooit met sulke pieringoë na haar sien staar nie.

Hendrick se koppie land hard op die teetafel en hy spring op. Sy neusvleuels tril hewig en onvanpas komieklik, en sy gaan onbeheersd aan die giggel.

“Ek wag by Die Albatros, Gerhardus. Jy weet wat is ons ooreenkoms.”

“Hendrick, wag . . .” Haar pa trek aan die hempskraag teen sy nek asof hy nie genoeg asem kry nie.

So, daar is iets duisters aan die gang tussen haar pa en hierdie man wat al meer na ’n seerot as ’n offisier lyk.

Sy kan nie gou genoeg ook opspring om hom by die deur te gaan uitsien nie. Hy marsjeer reeds met driftige treë vooruit en sy drafstap agterna.

“Totsiens, vir altyd, meneer Vanloveren,” sê sy toe sy die deur eerste bereik en dit vir hom oopmaak.

Hy steek op die drumpel vas, kyk haar op en af met daardie blik wat haar netnou al op haar senu­wees gemaak het.

“Ons sal mekaar weer sien. Vir ’n astrante bak­vissie is ek nie te vinde nie, maar ’n vurige merrie laat my bloed bruis.”

Haar hart gaan omtrent soos ’n wilde merrie op galop. Sy klap die deur agter hom toe en swaai om om haar pa te gaan konfronteer.