Skip to main content

Uittreksel | Sien jy my nou?

Proloog

Monica se hart begin onbedaarlik klop toe sy die een stem wat sy enige plek sal herken, hoor. Sy haal ’n slag diep asem en probeer haar hart tot kalmte maan terwyl sy haar voete moet keer om haar na buite te dra. Die glimlag wat aan haar mondhoeke pluk, dreig om onnatuurlike proporsies te bereik en sy haal weer ’n keer kalmerend asem voor sy uitstap.

“Jy dink verniet jy gaan wen,” kom Johan se diep stem tartend en toe sy hom sien, bollemakiesie haar hart soos dit geruime tyd al doen wanneer hy in die omtrek is.

“O? En jy dink jy gaan wen?” hoor sy Willem korswil.

“Nee,” laat hoor hy met ’n grinnik wat kuiltjies in sy wange trek. Sy oë glinster prettig en hy knipoog vir haar toe hy by Willem verby kyk en haar in die deur raaksien. “Hallo, meisiekind.”

Haar hart fladder. Ai, is daar ’n aantrekliker man as hierdie bruinoog-hunk?

“En wie gaan nogal wen?” wil haar broer vermakerig weet nog voor sy Johan se groet kan beantwoord.

“Yvonne, natuurlik.”

Willem sak met ’n verontwaardigde grom in een van die rottangstoele op die stoep neer. “Natuurlik.”

“Hallo, Johan,” kry sy haar groet asemrig uit en sy hoop die hitte in haar wange verklap nie ’n blos nie.

“Kriekie.”

Sy kyk na haar broer en sien hoe hy met ’n frons van haar na Johan kyk.

“Middag, Willem. Wil julle iets hê om te drink?”

“Ek sal nou vir ons bier kom kry. Is Pa-hulle al terug?”

’n Donker wolk dreig om oor haar gemoed te skuif en daar is ’n krakie in haar stem toe sy negatief antwoord. Hy kyk weg, maar nie voor sy die leed in sy oë raaksien nie. “Ek het solank met aandete begin.”

“Dankie, Kriek.” Hy kyk na Johan. “Waar is Yvonne? Het sy al daardie nuwe monster van haar gekry?” praat hy verder asof hulle lewens nie opnuut op sy kop gedraai is met die kanker wat hul ma weer in ’n wurggreep vasgevat het nie.

“Sy gaan haal hom môre. Vandaar die wedren Saterdag.”

Willem se mond trek ontevrede. “Sy gaan seker weer die pad met ons vee.”

Johan lag sag. “Daar is net een vrou wat op ’n motorfiets kan sit soos daai girl.”

Haar hart struikel effens. Daar is soveel aanbidding in Johan se woorde en gesig, en sy het gedink hy en Yvonne is net vriende.

“Ja-nee.”

“Sal jy my nog leer?” vra sy versigtig en toe die mans opkyk, besef sy dat hulle al vergeet het dat sy in die deur staan. Sy onderdruk die prik, wat bietjie te skerp deur haar hart gaan, met moeite. Is dit so maklik om van haar teenwoordigheid te vergeet?

“Jy sal eers by Pa moet verbykom,” sê Willem en die frons is terug tussen sy donker wenkbroue.

Sy lig haar ken opstandig. “Jy was sewentien toe jy begin ry het.”

“Ja-a.” Hy knik stadig, maar kyk van haar na Johan en terug en wat sy in sy oë sien, vertel haar dat hy weet hoekom sy eintlik belangstel en dat haar vraag in werklikheid aan Johan gerig was.

Sy sluk en kyk vinnig na Johan, maar hy sit en bestudeer sy hande. “Ek sal vir Pa vra. Verskoon my.” Sy draai weg, swaai dan terug. “O, ja. Pa het gesê jy moet die gras sny, asseblief.”

Terug in die kombuis sit sy haar hand op haar hart.

Sy byt haar lip en wonder of Johan al iets agtergekom het. Sien hy haar al as ’n jong vrou raak of is sy steeds vir hom net sy vriend se sussie? Hy is altyd so vriendelik en betrek haar dikwels in die geselskap, maar is dit net omdat hy haar so lank al ken, of omdat hy nie wil hê sy moet uitgesluit voel nie?

Willem kom haal twee biere uit die yskas en kort voor lank hoor sy die grassnyer.

Monica is besig om ’n groenslaai te maak toe Johan in die deur verskyn. Haar asem raak onmiddellik dun in haar keel. Hy is breedgeskouerd, en met sy donker kuif wat oor sy voorkop tot amper in sy oë val, is hy onweerstaanbaar aantreklik. En sy oë. Dieselfde kleur as die brandewyn in haar pa se kabinet. Oë wat byna dieselfde reaksie as ’n slukkie van daai vloeistof in haar ontlok.

Hy maak keelskoon. “Het jy ’n pleister?”

Sy word uit haar mymering geruk en sien dat hy met een hand om die ander duim gevou staan. Sy loop vinnig nader. “Laat ek sien.”

Hy maak sy hand oop en bloed begin onmiddellik by die sny teen die basis van sy duim uit pols. Sy skrik en vou haar hand onmiddellik daaroor. “Kom wasbak toe. Wat het jy gemaak?”

“Ek het my teen een van die heining se pale gesny. Ek is seker dit lyk erger as wat dit is. Dit wil net nie ophou bloei nie en só kan ek nie vir Willem help nie.”

Sy spoel sy hand af om te sien hoe ernstig dit is, maar sy het klaarblyklik groter geskrik as wat nodig was. “Druk toe. Ek gaan haal gou die eerstehulpkissie.”

“Ek het net ’n pleister nodig,” maak hy kapsie toe sy met die ontsmettingsmiddel te voorskyn kom.

“Jy weet nie watse vuiligheid alles op daai paal was nie. As ek dit nie mooi skoonmaak nie, kan dit ontsteek.”

“Jy klink al klaar soos ’n verpleegster.”

Sy glimlag sameswerend. “Hou dan op stry en laat ek my werk doen.”

Hy is stil terwyl sy die wond skoonmaak en uiteindelik met ’n pleister toeplak. Spontaan lig sy sy hand en druk ’n soen teen sy pols. “So, ja.

“Monica.”

Sy kyk op en die ongemak op sy gesig laat haar besef dat hy dit nie as ’n speelse gebaar gelees het nie.

Hy maak keelskoon. “Dankie, maar . . .”

“Dis ’n plesier,” sê sy vinnig.

Sy adamsappel spring op en af toe hy sluk. Hy glimlag, maar sy kan sien dis nie opreg nie. “Jy is ’n oulike meisie, maar . . . maar moenie jou hart op my sit nie, Kriekie.”

Sy voel hoe die bloed haar gesig stadig verlaat. “Jy weet,” fluister sy.

Hy raak aan haar wang. “Ek voel geëerd en as jy dalk . . .”

Sy retireer. “Jy weet.”

“Jy moet verstaan. Jy is soos ’n kleinsussie vir my.”

Sy snak na asem, of dalk was dit ’n snik, want haar oë brand skielik en voor sy ’n groter gek van haarself maak deur voor hom in trane uit te bars, hardloop sy by die kombuis uit.

’n Kleinsussie. Hy sien haar as sy kleinsussie? Sy val snikkend op haar bed neer. Hy kon nie wreder woorde gekies het nie.

Ná ’n rukkie sit sy regop en droog haar trane gedetermineerd af. Nou maar goed, dan is sy net sy sussie en haar hart sal nooit weer vinniger klop as sy hom sien nie.

Die belaglikheid van haar voorneme tref haar egter vinnig toe sy hom ’n paar weke later weer sien. Die hart laat hom nie voorskryf nie, besef sy hartseer, maar sy lig haar ken vasberade. Dit gaan haar nie keer om van hierdie onwelkome verliefdheid ontslae te raak nie. Johan Meintjies kan gaan doppies blaas.


Een

“Ek wil nie vandag huis toe gaan nie.” Carin snork-lag en Monica kyk om, haar wenkbroue opgetrek. “Vir wat lag jy?”

Haar vriendin kyk op van die verslag wat sy besig is om te skryf en haar oë glinster plesierig. “Ek dink jy het te geheg geraak aan daai meisiekind wat jy nou net gevang het.”

Monica glimlag terwyl sy aan die helderblou ogies onder ’n bos donker hare dink. “Sy is pragtig, maar dis nie hoekom nie.”

Carin sit die pen neer en haar glimlag vervaag. “Jy mis jou ma.”

Sy knik en sluk aan die knop in haar keel. Ten spyte daarvan dat sy weet en aanvaar dat die dood iets is wat natuurlik kom, was dit nie maklik om haar ma daaraan af te staan nie.

“Dit was ’n lang tyd wat jy haar versorg het. Om nou skielik huis toe te gaan en sy is nie meer daar nie, kan nie maklik wees nie.”

Monica glimlag moedig. “Die wete dat sy nou in die engelekoor sing, maak dit beter.”

Carin staan op en kom druk haar. “Dit gaan tyd vat om daaraan gewoond te word. Niemand verwag van jou om haar dood vinnig te verwerk nie.”

Monica skud haar kop teen haar vriendin se skouer.

“Daar is niks om te verwerk nie. Ek het lank terug al gereed gemaak om haar te groet. Ek mis haar maar net.” Sy tree uit Carin se druk en glimlag. “Dankie. Die drukkie het gehelp.”

“Het jy lus om te gaan fliek vanaand?”

“Ek dog jy en Ruan het planne?”

“Ek en hy kan môreaand ook The Big Bang Theory binge-watch. As jy my nodig het, dan is ek daar vir jou.”

“Ag, ek weet nie. Dalk verloor ek myself in die Irma Venter-boek wat ek laas week gekoop het.”

Carin kam haar hand deur haar kort, swart hare terwyl sy weer gaan sit. “As jy van plan verander, laat weet gerus. Of as jy môreaand wil gaan.”

Monica knik ingedagte. “Dalk is môreaand ’n goeie idee.”

“Cool, dan reël ek dit so met Ruan. Ons kan sommer voor die tyd iets by die mall eet ook. Dalk pizza?”

“Dit sal lekker wees.” Sy begin sommer uitsien na die volgende aand en dis met ’n ligter gemoed dat sy die hospitaal saam met Carin verlaat.

“Sien jou môre.”

“Lekker aand,” groet sy en kyk hoe Carin haar kêrel tegemoetloop en haar uitrek om hom om die nek te val. Sy glimlag, maar wonder wanneer sy eendag iemand gaan ontmoet wat haar voete so onder haar gaan uitslaan soos die blondekopreus duidelik met Carin gedoen het. Sy sug liggies en loop in die teenoorgestelde rigting. Dit gaan voorwaar ’n wonderwerk verg om so ’n liefde te vind.

Sy kyk op haar polshorlosie toe sy haar ouerhuis se tuinhekke tien minute later oopstoot. Haar asem jaag en sy voel hoe die sweet oor haar lyf uitslaan. Sy het te vinnig geloop, maar sy hou van hoe die bloed nou deur haar are pomp. Miskien as sy elke dag so vinnig huis toe stap, skud sy uiteindelik die paar ekstra kilo’s van haar lyf af. Sy snuif terwyl sy die voordeur oopsluit. Dit help nie sy oefen meer, maar eet nie minder soetighede nie.

In die kombuis skink sy vir haar ’n glas koue water en dra dit saam kamer toe, maar sy steek eers in die gang langs haar ouers se slaapkamerdeur vas. Die bed is netjies oorgetrek, die bedkassies leeg. Die enigste items wat nog lewe aan die vertrek gee, is die verskeidenheid foto’s op die spieëltafel.

Sy loop stadig in en gaan sit op die rand van die bed. Sy dink aan die kere wat sy en Willem as kinders by hul ouers in die bed kom kruip het Sondagoggende. Hoe onskuldig was hulle in daardie jare. Toe het hulle nog niks van die lewe en sy aanslae geweet nie. Sy kyk na die spieëltafel. Met al daardie foto’s om haar het sy geleer grimeer. Geleer hoe ’n jong meisie haar moet gedra. Daar het sy al haar drome en geheime met haar ma gedeel. Sy sluk teen die skielike branderigheid in haar keel. Tot haar ma siek geword het. Toe is daardie jongmeisiedrome met kommer vervang.

“Monica.”

Sy kyk op en glimlag toe sy vir Willem in die deur sien staan. “Middag, Willem.”

Hy kom in en gaan sit langs haar. “Is jy oukei?”

Sy knik. “Ek wandel sommer net op ou paaie.”

Hy sit sy arm om haar skouers.

“Ek mis hulle,” fluister sy.

“Ek weet. Ek ook.”

“Die afgelope paar jaar was nie baie vriendelik nie.”

Hy knik.

“Eers Pa en toe Ma. Ma was ons te wagte, maar Pa . . .”

Hy druk haar skouers. “Ek weet.”

Sy kyk na hom. Sy hare en oë is donker soos hul pa s’n. Sy het hul pa se oogkleur, maar andersins lyk sy meer soos hulle ma. Willem het ingetoë geraak terwyl sy in die Kaap studeer het, besef sy skielik. En in die laaste jaar stroef. Sy het dit nie opgelet terwyl sy hulle ma in haar laaste dae versorg het nie. Sy het gewoond geraak daaraan dat hy nie maklik praat oor hul ouers se dood nie. Die ongeluk wat hul pa se lewe geëis het en die kanker wat maar net nie sy houvas op hul ma wou laat gaan nie, is vir hom baie moeiliker om te verwerk as vir haar. Sy het natuurlik geleer dat hierdie dinge deel is van die lewe. Sy hou nie daarvan nie, maar dit is hoe dit is. Daar is sekere dinge waaroor jy as mens maar net nie beheer het nie.

Sy sluk en kyk weg. “Ek dink dis tyd dat ons die kaste leegmaak.”

Hy vryf haar skouer en knik weer net.

Monica staan op. “Hoe was jou dag?”

“Maar die gewone. Joune?”

Sy stap voor hom uit. “Ons het ses nuwe babatjies verwelkom.” Sy glimlag doelbewus. “Die laaste enetjie is die mooiste ou engeltjie. Sy’t so ’n donker bos hare en helderblou oë en ’n paar sterk longe. Seker die sterkste wat ek nog gehoor het.”

Hy lag sag. “Ek verbeel my ek het daardie woorde al gehoor.”

Sy glimlag. “Dis seker moontlik. Ek gaan net gou iets anders aantrek, dan begin ek met aandete. Ek is rasend honger.”

Hy knik en sy loop na haar kamer toe. Sy maak haar lang blonde hare los uit die vlegsel wat agter haar kop vasgesteek is en verklee in ’n kortbroek en T-hemp. Buite dreun die wolke wat swaar en donker begin saampak het, en sy sien uit na die moontlikheid van ’n sterk bui reën. Hier in die Noordoostelike deel van Windhoek kry hulle dikwels eerste reën. Hierna sal Januarie hopelik afkoel. Desember was snikheet.

Miskien is dit ook eerder pannekoekweer as die gewone spaghetti en maalvleis wat sy beplan het, besluit sy terwyl sy kombuis toe loop.

“Hallo, Monica.”

Sy ruk om van waar sy besig is om die bestanddele vir die pannekoek bymekaar te kry. “Johan. Hallo.” Sy kyk haastig weg toe haar hart tot amper in haar keel spring en probeer dit afsluk. “Ek het nie geweet jy is hier nie.” Is dit haar stem? Sy maak keelskoon en ontvang die vreemde, skewe drukkie wat hy haar gee met ’n stywe glimlag. “Sorrie, my hande is vol,” mompel sy.

“Dis oukei. Hoe gaan dit?”

“Goed, dankie. Jy?”

“Voor die wind, soos altyd.”

Sy knik en begin die bestanddele afmeet. “Wat maak jy hier?”

“Ons werk aan Willem se motorfiets.” Sy knik. “Bly jy vir ete?”

“Dit sal lekker wees. Wat maak jy?”

“Maalvleisgevulde-pannekoek en ’n paar soetes ook.”

“H’m, dit klink lekker. Ek hoop daai soet pannekoeke is dié met die suurlemoenstroop?”

Sy glimlag. “Net soos my ma dit gemaak het, ja.”

“Jy ken die pad na ’n man se hart, Monica.”

Haar hand ruk en die helfte van die meel stort oor die rand van die bak. Sy kyk om, maar hy is besig om twee biere uit die yskas te haal. Sy vee dit vinnig op.

“Ek is bly jy dink ek sal darem eendag vir ’n man kan sorg.”

“Dalk moet jy vir dié wat jou so uitneem begin kos maak. Miskien kry een van hulle jou dan tot voor die altaar.”

Sy lig ’n wenkbrou en tuit haar lippe moedswillig. Hy’t haar in die afgelope twee maande skaars ’n handjievol kere gesien, maar hy dink hy kan haar betig? “Ek kan van taktiek verander, maar hy sal my eers moet oortuig dat ek hom wíl voer,” laat sy koketterig hoor.

Sy sien hoe hy sy asem diep intrek en weer stadig uitblaas. “Dit sal hy moet, ja.”

“Gesels julle oor jou nuwe kêrel?” vra Leané wat skielik saam met Willem in die deur verskyn het.

Haar moed sak tot in haar skoene. As daar een persoon is wat haar leuens soos soetkoek opeet en altyd vir meer besonderhede pols, is dit Willem se meisie.

“Nuwe kêrel?” wil Willem fronsend weet. “Is jy dan al weer klaar met . . . wat is sy naam?”

“Johnny,” help Leané hom. “Jip. Hulle is al klaar ou nuus.”

Sy sug innerlik en begin haar hande aan die vadoek wat oor haar skouer hang, afvee. Hier gaan ons al weer. “Ons het nie lekker gejel nie.”

“En daar is klaar ’n nuwe man in jou lewe?”

Sy glimlag braaf. “Ek is jonk en enkellopend, en as ek eendag wil trou moet ek seker aanhou soek tot ek die regte een kry.”

Willem laat val ’n swetswoord. “Wanneer gaan jy ’n slag lank genoeg met een uitgaan dat ons die vent kan ontmoet?”

Haar skouers trek styf. “Ek het nie geweet ek moet jou toestemming kry om te date nie.”

“Wel, miskien moet ek begin kyk wie die ouens is wat jou so uitneem. My magtag, Monica, jy het elke maand ’n nuwe ou op sleeptou.”

Sy gooi die vadoek op die toonbank neer. “Ek is drie-en-twintig, Willem. Jy gaan nie vir my begin preek of my vrye keuse dikteer nie. Terloops, ek gaan môreaand uit. So, jy moet maar vir jouself kos maak. Tensy Leané hier gaan wees of jy na haar toe gaan, dan kan sy vir jou sorg. Gaan nou aan hieroor en julle kan maar vir julle self sorg vanaand.” Haar asem jaag en sy kyk onverskrokke terug in sy onstuimige bruin kykers.

“Ek verstaan jou nie meer nie, Monica.”

“Dis eenvoudig. Wil jy hê ek moet vanaand kos maak of nie?”

“Ons gee net om vir . . .”

“Jy bly hier uit,” val sy Johan skerp in die rede, haar vinger in die lug. “Ek is nie jou suster nie en wat in my liefdeslewe aangaan, het absoluut niks met jou te doen nie.” Sy kyk terug na Willem. “Ek sal date wie ek wil, wanneer ek wil en so lank soos ek wil. Ek was tot nou nice om te sê wanneer ek met iemand uitgaan, wel, nie meer nie. Nou sal jy net hoor wanneer dit dalk ernstig raak.”

“Monica.”

“Nee. Ek gaan my nie aan jou of enigiemand anders verduidelik nie.”

Die spiere in Willem se kake speel soos hy moeite ondervind om homself in te hou, maar sy het nou net mooi genoeg van hierdie toneelspel gehad. Sy is klaar daarmee. Sy lig haar ken en draai met stywe skouers terug na die beslag wat sy besig was om aan te maak. Sy gooi die laaste bestanddele by en begin dit hardhandig klop.

Monica is uiters bewus van die ander drie mense in die vertrek, tot hulle eindelik bes gee en haar in vrede laat. ’n Vrede wat glad nie kalm is nie – sy moet herhaalde kere diep asemhaal om haar emosies onder beheer te hou. Haar liefdeslewe is een groot toneelspel en teen hierdie tyd is sy wraggies die meester van kulkunstenaars. Nie eens Willem weet, of vermoed blykbaar, dat die sogenaamde kêrels waarmee sy vorendag kom, nie werklik bestaan nie. Al hierdie geheimhouding en leuens ter wille van Johan. Johan en haar simpel hart wat net nooit na rede wil luister nie. Om Willem so ontsteld te sien raak, is nie lekker nie, maar wat anders kon sy doen?

Sy sit die beslag eenkant neer en sien dat die hele toonbank vol spatsels is. Sy sug en begin dit skoonvee. Die web van misleiding waarin sy haarself gewerp het sedert die dag wat sy gehoor het hoe Johan werklik oor haar voel, het net al hoe taaier geraak, al sien sy hom net wanneer hy onverwags hier opdaag. Hoe klim sy uit hierdie web wat sy vir haarself gespin het? Ses jaar gelede toe hy “dankie, maar nee dankie” gesê het, het sy nie gedink haar hart gaan so moedswillig aan hom bly vasklou nie. Dis nie moeilik om te verstaan hoekom nie. Johan is een van die mooiste, egste mense wat sy ken. Sy lewenslus is aansteeklik, sy omgee vir minderbevoorregtes en diere roerend en sy opregtheid seldsaam. Daardie dag was sy woorde vir haar die grootste verleentheid en het sy gedoen wat sy moes om te oorleef. Om egter met iemand uit te gaan terwyl sy geen emosionele band met hom het nie, was ná die eerste probeerslag buite die kwessie. Dus het sy begin voorgee dat sy geen tekort aan belangstellendes het nie en het sy openlik flankeer as daar enige hubare ouens in die geselskap was. As iemand vandag moet agtergekom hoe sy oor Johan voel . . . Sy snork. Niemand sal dit glo nie en met goeie rede. Die alter ego wat sy geskep het, is egter ver verwyder van die realiteit. Dit alles net om haar eie hart te beskerm.

Sy is besig om die maalvleis gaar te maak toe Leané inkom.

“Kan ek met iets help?”

“Nee, ek kom reg, dankie.”

“Monica.”

“As jy oor my keuse in mans wil praat, moet jy eerder loop.”

Leané staan onseker in die deur rond, begin toe water in die opwasbak tap. “Ek sal solank hierdie skottelgoed was.”

“Dankie.”

“Ek verstaan Yvonne en Kelvin kom die einde van die week van Europa af terug,” gesels Leané. “Hulle gaan swaar kry ná die koue daarso.”

Monica snuif. “Ek weet nie vir wat hulle in die winter soontoe is nie.”

“Dit was onder andere om die Kersmark in Strasbourg by te woon. Ek sal self nie omgee om eendag van daardie Kersmarkte te sien nie.”

“H’m.” Buite dreun die weer oorverdowend en stuit die gesprek. Sy bak die pannekoek en toe sy die twee bakke met gevulde en gestroopte pannekoeke op die tafel neersit, skep sy vir haarself uit. “Jy kan die mans laat weet dat hulle kan kom eet.”

“Eet jy nie saam nie?”

“Nee. Ek sien nie kans vir hulle geselskap nie.”

“Ai, Monica. Hulle gee net om.”

“Ek weet, maar ek wil nie vanaand in hulle suur gesigte vaskyk nie. En glo my, Willem kan maar lekker dikbek raak as dinge nie uitwerk soos hy dit wil hê nie.”

Leané glimlag. “Ek weet.”


Monica is pootuit. Haar nagskof het ondraaglik lank gevoel. Sy val op die bed neer en raak aan die slaap voor sy haar klere vir haar nagklere kan verruil.

Dit is laat in die dag toe sy wakker word en haar grommende maag is die eerste ding waarvan sy bewus word. Sy trek haar verkreukelde uniform uit en trek ’n kortbroek en T-hemp aan. Sy gaan eers iets soek om aan te peusel voor sy stort.

“Haai. Ek het gedink jy sal seker enige oomblik wakker word,” groet Willem haar en skink vir haar ’n beker koffie.

“Hoe was jou skof?”

“Besig.” Sy kam haar hare wat los oor haar skouers hang agteroor.

Hy sit ’n bord stroganoff voor haar neer.

“H’m, dit lyk heerlik,” sê sy honger en val weg aan die gereg. Sy is nog nie ordentlik wakker nie, maar die koffie en ete is so net wat sy nodig het.

“Yvonne-hulle is terug,” vertel Willem terwyl hy oorkant haar gaan sit.

“O? Het jy met hulle gepraat?” vra sy voor sy nog ’n hap vat.

Hy knik. “Hulle is verloof.”

“Wat?” vra sy verras en is onmiddellik wawyd wakker.

Hy glimlag skeef. “Hy’t haar uiteindelik gevra.”

Monica sluk en krap die kos in haar bord rond. Wat sou Johan van dié brokkie inligting dink? Nou is Yvonne vir altyd vir hom verlore. Nie dat hy ooit probeer het om haar vir homself te wen nie. Sy kon daardie som nog nie gemaak kry nie. Hy is mos die man en kan die jagwerk doen. Hoekom het hy nooit Yvonne se hart probeer wen nie?

“Hulle trou in Oktober,” onderbreek Willem haar gedagtes. “Alhoewel Kelvin dit Maart wou maak.”

“Sjoe, eers laat hy almal wonder en nou jaag hy die troue aan.”

“Tien maande is aanjaag?”

Sy trek haar skouer op. “Maart sou wees, maar nee, Oktober is seker nie.”

Hy lag sag. “Die liefde laat hom nie keer nie.”

“Dit kan jy weer sê,” brom sy en steek vererg na die kos op haar bord.

“Hoe weet jy?” wil Willem verbaas weet.

“Dit maak nie saak nie,” sê sy ontwykend en staan op. “Dankie vir die kos. Dit was lekker, maar nou het ek ’n stort nodig.”

“Het jy klaar geëet?”

Sy het haar eetlus verloor, dink sy in haar enigheid, maar knik net en sit die bord by die wasbak neer. “Ek sal hierdie inpak vir later.”

In die badkamer wonder sy deurentyd wat Johan oor die verlowing moet dink en voel. Hy is al baie jare lank lief vir Yvonne, ’n vermoede wat per toeval bevestig is toe sy Willem hom eendag hoor vra het wanneer hy dan ’n slag ’n meisie kry. Johan het hom herinner dat sy hart reeds deur ’n vrou beset word en Willem wou weet hoekom hy dan nie iets omtrent sy gevoelens jeens Yvonne doen nie. Die antwoord ken sy steeds nie, maar sy wonder dikwels daaroor. Wat sou hy gesê het as hulle gesprek nie op daardie oomblik deur haar ma se aankoms onderbreek is nie? Sy sug en kyk na haar spieëlbeeld. “En nou gaan sy trou.”

Sy byt haar lip. Daar moet ’n baie goeie rede wees hoekom hy Yvonne nooit vir homself probeer wen het nie. Sy dink aan haar eie hopelose liefde en hoe sy agter ’n skerm van onbetrokkenheid moet skuil. Sover sy weet, is Yvonne nie bewus van sy gevoelens nie, so dis nie asof sy hom afgejak het nie. Inteendeel, hy en Yvonne het ’n kameraadskap wat menige paartjies jaloers sal maak. Hulle kuier gereeld saam en werk dikwels saam by die kinderhuis. Hulle is so nou betrokke by mekaar dat sy nie weet hoekom Yvonne nooit sterker gevoelens as vriendskap vir hom ontwikkel het nie.