Skip to main content

Uittreksel | Sien jou in my drome

Een

Met haar foon in haar hand haak Mina die jogamat en gooi haar sak oor haar skouer en stap haastig uit die gim.

Sonder om eers in die rigting van die hysbak te kyk begin sy die trappe afdraf na die parkeerarea van die gebou. Sy haat ’n hysbak, veral een gepak met swetende mense wat pas by die gim was.

Sy is laat. Dinsdae en Donderdae het sy be­newens die klasse wat sy as biokinetikus by die gim aanbied, saans ook ’n aanlyn klas wat sy van haar woonstel af doen. Gewoonlik het sy heeltemal genoeg tyd ná haar laaste klas by die gim om betyds te wees, maar hierdie Dinsdag is net van vroegdag af ánders. Uit ritme. Of dalk is háár ritme uit. Wat ook al, sy is soos een wat op iets vreesliks wag om te gebeur.

Haar foon lui toe sy die derde vloer se trappe be­gin afdraf. Dis Emily, een van haar drie goeie vriendinne. Emily en sy, Nicola en San-Marie is reeds van graad een af vriende. Hulle is saam na dieselfde hoërskool vir meisies hier in die Paarl, saam Stellenbosch toe. Een vir een het hulle weer terugge­keer na hulle tuisdorp en deesdae woon en werk hulle weer in die dieselfde mooi Bolandse dorp tus­sen die berge waar hulle grootgeword het.

Haar pelle woon gewoonlik een van haar klasse in die week by, maar deesdae is almal se programme so vol dat hulle vir mekaar tyd moet maak. Emily het onlangs haar eie werwingsagentskap begin en werk hard om die besigheid op die been te bring. Sy is supergeorganiseerd en het lysies vir alles onder die son.

“Hallo, hallo,” groet Emily. “Sê vir my ons kan iewers kuier, asseblief? Dit voel vir my asof ons vier mekaar maande laas gesien het.”

Mina lag. “Ons het ’n week gelede saam by Nico­la gekuier en julle het almal Vrydagmiddag een van my klasse bygewoon.”

“Was dit verlede week? Voel vir my soos weke gelede. Wat van hierdie Saterdag?”

“Dit kan werk. Volgende Saterdag is ek weer ’n strooimeisie.”

“Ek onthou jy’t gesê. Watter niggie trou nou weer?”

“Julia.”

“En? Hoe lyk die rokke?”

Mina lag. Sy het heelparty niggies en word elke keer gevra om strooimeisie te wees. Die soms eien­aardige strooimeisierokke wat sy al moes dra, sorg vir groot pret tussen haar en haar vriendinne. Bruide kan met baie vreemde idees vorendag kom.

“Baie mooi, ’n sagte bloospienk hierdie keer. Maar ai, ek het gehoop ek is nou al te oud om ’n strooi­meisie te wees.”

“Jy’s ses en twintig. Jy kan nog vir jare ’n strooi­meisie wees! Tensy jy natuurlik afsien van jou plan om nooit te trou nie en self die bruid is.”

“Nee wat, trou is nie vir my nie, jy weet dit al van lankal af. As jy my vra, is dit ouma Wilhelmina wat elke keer inmeng en my arme niggies dwing om my te vra om een van die strooimeisies te wees. Sy reken seker al die troues gaan my ook lus maak om man te vat. En op elke liewe troue is daar gewoonlik een of ander ‘baie gawe jong man’ aan wie sy my wil voorstel. Of anders konfronteer sy my voor die familie en vra of ek nie te kieskeurig is en daarom nog sonder ’n man sit nie. Asof ’n man die antwoord op alle probleme is.”

Emily lag. “Ek love jou ouma Wilhelmina. ’n Mens weet altyd presies waar jy met haar staan. Wel, jy het twee opsies: Sê vir jou ouma jy’s nie van plan om ooit te trou nie, of neem ’n date saam troue toe, een wat bereid is om saam te speel en te maak of hy smoorverlief is op jou. Iewers, êrens, is daar hopelik nog ’n gawe man,” eindig sy met ’n sug.

Mina klik haar tong. “Philip-flippen-Roos is ’n idioot en jy is baie beter daaraan toe sonder hom. Hoekom ’n bekwame en intelligente vrou soos jy in elk geval ’n man wil hê, gaan my verstand te bowe. Dis al daai love stories wat jy lees.”

“Wel,” sug Emily, “ek glo nog steeds onwrikbaar in die liefde, in soul mates, in happily ever afters.”

Terwyl sy haar oë rol, begin Mina die laaste stel trappe afhardloop.

“Daar is nie so ’n ding soos ’n soul mate nie. Se­riously, Em, vergeet van happy endings, dit gebeur net in boeke. Maar ek hou van jou idee om ’n kam­madate na Julia se troue te neem. Ten minste sal dit vir ouma Wilhelmina vir een aand tevrede hou. Ag, maar wie om te vra?”

“Ons kan Saterdag koppe bymekaarsit,” sê Emily. “Ek bespreek vir ons plek by Val de Vie. En oe, ek het ook ’n idee dis weer markdag by hulle; ek is mal daaroor. Ek bel gou vir San-Marie en Nicola. Vir die eerste keer in ’n lang tyd kan ek weer naweke afvat. Ek laat weet jou,” groet Emily.

Net toe Mina ’n voet op die laaste trappie wil sit, kyk sy op, vas in ’n paar goue oë, die kleur van goeie whiskey. Vir ’n paar oomblikke hou die man haar oë gevange, maar sy registreer ook alles van hom. Groot. Gespierd. Sexy. Blond. Befoeterd. Hartseer.

’n Vreemde lamheid sak af tot in haar bene. Sy gee ’n tree vorentoe, mis die trap en begin val. Die man se arms skiet uit en hy vang haar net voordat sy voor sy voete neerslaan.

“Dis ’n teken, Louw,” sê ’n manstem aan hulle regterkant.

“Presies die soort girl waarna jy soek – sy glo ook nie in soul mates en happy endings nie, het jy ge­hoor?” terg ’n ander manstem aan hulle linkerkant. “En soos jy, soek sy ’n . . . wat het sy dit nou weer genoem?”

“Kammadate,” lag ’n derde man agter Mina. “Ek sou sê julle twee is soul mates.”

Mina staan doodstil, oorbewus van die krag in die paar groot hande wat haar vashou, van die spe­serye-en leergeur wat om die man hang, sy stop­pelbaard, sy mond sentimeters van hare af. As sy net effens vorentoe buk, kan hulle lippe ontmoet . . .

“Vra haar, Louw,” roep een van die ander mans weer.

“Dit kan al jou probleme oplos,” voeg die ander een by.

Groot en Sexy draai sy kop, die oomblik word verbreek. Met ’n diep asemteug gee Mina ’n tree ag­teruit en trek haar mat en sak stewig terug op haar skouer. Wat op aarde het in haar gevaar? “Jy’s in my pad.”

“Nie so haastig nie,” keer een van die ander mans. “Ons het ’n voorstel . . .”

“Een wat jou ook kan help,” roep die ander een terwyl sy vinnig wegstap.

“Ek stel nie belang in enige voorstelle nie, dankie,” antwoord sy en rek haar treë. Gelukkig is haar motor naby geparkeer.

Maar die manne vat nie sommer nee vir ’n ant­woord nie. “Jy verstaan nie, jy en Louw kan mekaar help,” roep die derde stem agter haar aan. “Jy soek ’n date, hy ook!”

Mina ignoreer hulle en draf die laaste ent na haar motor toe. Simpel mansmense! Eers toe haar een voet al in die motor is, kyk sy terug oor haar skouer. Die drie wat gepraat het, staar nog in haar rigting, maar Groot en Sexy klim reeds die trappe twee-twee op na bo. ’n Swart gimbroek span styf om ’n paar baie netjiese, gespierde boude. Sy waai haarself met haar hand. Sjoe, dis darem nou baie warm. Dit lyk asof hulle al vier op pad gim toe is.

Terwyl sy nog na sy rug staar, kyk hy om. Weer voel sy dit aan – die swaar kombers van hartseer wat om hom gevou is.

Selfs oor dié afstand ontmoet hulle oë weer. Die­selfde lam gevoel van oomblikke gelede sak af in haar bene en sy klim vinnig in die motor en skakel dit aan. Haar hande wat om die stuurwiel vou, is be­werig. Wat de flip? Normaalweg kan sy net mense wat naby aan haar is se emosies aanvoel, maak nie saak waar hulle is nie, maar sy en dié vent ken me­kaar glad nie – hoe vreeslik vreemd.

Hy lyk bekend. Miskien is dit hoekom sy so rea­geer. Waar sou sy hom gesien het? Haar gedagtes flits heen en weer. In ’n koerant of op televisie? As sy dit nie mis het nie, is hy een of ander finansiële ghoeroe.

Sy steur haar nooit aan bekende glansmense nie, so hoekom reageer sy so op hom? Miskien is haar bloedsuiker net laag. Daar was vandag nie tyd vir middagete nie. Sy moet tog onthou om môre vir haar iets in te sit wat sy tussen klasse kan eet.

’n Paar amber oë skuif weer voor haar in. Seri­ously, sal sy nou sit en droom oor ’n man se flippen oë? Troues en troukoeke en trourokke is nie dinge waaraan iemand met haar “probleem” kan dink nie. Reeds op sestien het sy dit besef. Haar ritme is definitief vandag uit balans.

Vandat sy kan onthou, voel sy – by gebrek aan ’n beter woord – mense en soms selfs diere se pyn, siektes en emosies aan. Sy het ook vroeg geleer dis eerder nie iets waaroor sy moet praat nie. Mense kyk haar skeef aan.

Haar ma het gelag en haar ’n stywe druk gegee. “Telepaties tot die mag drie – een van die baie be­sonderse eienskappe wat jy by jou ouma Wilhelmi­na gekry het,” het sy beduie. Maar sy wat Mina is, het nog nooit gedink dis besonders om ander se pyn en emosies aan te voel nie. Die meeste van die tyd is dit flippen moeilik om te verwerk. Dis ook een van die redes hoekom sy nie meer ’n troeteldier aanhou nie. Dis al erg genoeg om gereeld haar ma, haar twee sussies en haar ouma se hartseer en pyn aan te voel, sy sien net eenvoudig nie kans om nog mense naby haar toe te laat nie.

Haar hart is uit haar lyf geruk toe haar pa dood is. Sy is die een wat by hom aangedring het om dokter toe te gaan, sy het net geweet daar is groot fout. Dalk is sy hierdie keer verkeerd, het sy gehoop. Toe nou nie. Kanker, was die diagnose. Omdat dit vroeg ont­dek is, kon hulle ’n jaar tyd koop voor hy uiteindelik dood is.

Só seer wil sy nooit weer kry nie, so, sy pas haar hart baie mooi op. Dis nie asof sy nooit uitgaan nie, maar sy het ’n streng twee-date-reël, iets wat geluk­kig ook die meeste mans pas, het sy gou agtergekom.

Met ’n laaste kyk oor haar skouer trek sy weg. Die manne is nie meer daar nie en hopelik sien sy die man nie gou weer nie. Die Paarl is gelukkig mos heerlik groot.


“Ek sê nog jy moes daai girl gevra het,” sê Etienne Woensdagoggend net ná hulle vroegoggendverga­dering.

“Waar gaan jy nog ’n vroumens raakloop wat hardop erken sy glo nié in soul mates en happy endings nie? Ek sê jou, dit was ’n teken,” voeg Ryno by.

Jacques knik. “As jy alleen by Barend Saunders se verjaardagpartytjie opdaag, kan jy maar weet ons gaan nié sy besigheid kry nie en jy weet ons het dit nodig. Ja, dit gaan goed met DFHM Capital, maar ’n kliënt soos Saunders kry ’n mens nie elke dag nie. En hy het óns genader. Dis besigheid op ’n skinkbord, maar jy moet jou kaarte reg speel.”

Vies gluur Louw na sy drie vriende. “As medeaandeelhouers in ons batebestuursmaatskappy be­hoort julle teen dié tyd te weet ek hou nie van mense wat lieg nie. Dis een van die basiese beginsels waar­op ons besigheid doen. En hoekom moet ék met ’n girl opdaag, het een van julle nie iemand wat julle kan vra nie?”

“Saunders het na jou uitgereik, nie na een van ons nie,” sê Etienne met ’n lag. Hy geniet duidelik die situasie terdeë.

Ryno leun terug in sy stoel. “Hierdie saak is vir my ’n kalf-in-die-put-situasie, en ’n wit leuen kan nie enige skade doen nie. Saunders is die een wat die belaglike vereiste stel dat hy nie sy geld kan toevertrou aan iemand wat nog nie getroud is of ten minste ’n vaste meisie het nie. Wees net van die begin af eerlik met die vroumens sodat daar nie enige verwagtinge is nie.”

“Jy hoef die girl nooit weer ná die een aand te sien nie,” sê Jacques. “Jy kan haar net voorstel as jou vriendin, iemand in wie jy belangstel. Ek het so ’n idee jy sal nie lieg as jy sê die girl van gister het jou oog gevang nie. As ek dit nie mis het nie, was daar ’n oomblik tussen julle wat ’n mens met ’n stok kon aanvoel. Ek is beslis geen kenner wanneer dit by verhoudings kom nie, soos julle weet . . .”

“Jy hou net van báie girls,” lag Etienne.

Jacques haal sy skouers op. “Wat kan ek sê? Die lewe is kort. Hoekom jou vasmaak aan een vroumens as daar so baie is? Is ek reg oor die ‘oomblik’ tussen jou en die wildvreemde brunet, of het ek heeltemal my aanvoeling verloor?”

Louw draai weg en gaan staan voor die venster van die gebou wat hulle drie jaar gelede kon koop. Dit was suiwer hierdie uitsig op die majestueuse Du Toitsberge wat hulle al vier oortuig het dis waar hulle verder hul besigheid wil bedryf.

Dis juis die frieken oomblik gister tussen hom en die brunet waarna Jacques verwys wat hom ’n sla­pelose nag besorg het. Beelde van haar mosgroen oë, haar sagte mond, die lyne van haar skouers, die parmantige puntjies wat teen haar stywe toppie beur . . .

Bliksem, hy is sommer weer kortasem. Vir een onbesonne oomblik wou hy haar hand vat en haar huis toe neem. So asof dit die natuurlikste ding op aarde sou wees. Hy vryf oor sy gesig. Flippenhel, kyk waar hol sy gedagtes. Hy ken die girl van g’n Adam af nie en hy sal haar waarskynlik nooit weer sien nie. Die Paarl is groot en hy is dikwels uithuisig.

Vinnig draai hy terug. “Moenie laf wees nie. Ek weet niks van die vroumens af nie. Ek glo ons kan Saunders beïndruk soos ons gewoonlik kliënte beïn­druk – met goeie voorbereiding en ’n sinvolle voor­legging.” Hy haal sy skouers op. “En as ons nie die besigheid kry nie, wel, dan is dit ook nie die ergste nie. Dit gaan eintlik goed met ons.”

“Jy’s reg, maar sy belegging sal net die inspuiting wees wat ons nou nodig het,” sê Jacques.

Louw sug. “Ons moet hom tog kan oorreed met feite, met data, met bewyse van die groei wat ons op ons kliënte se beleggings kry. Ons het mos juis ge­praat om nog personeel aan te stel wat kan help met admin. Etienne, hoe ver het jy gekom om ’n nuwe kantoorbestuurder aan te stel?”

Etienne skud sy kop. “Ek is nie tevrede met die lys van kandidate wat die werwingsagentskap aangestuur het nie. Die twee mense wat ingekom het vir onderhoude is net glad nie op standaard nie.”

“Wie het jy gebruik?” vra Ryno.

“Le Roux en Du Toit, die mense wat ons nog al­tyd gebruik het, maar ek het uit verskeie oorde van ’n nuwe maatskappy gehoor wat skynbaar elke keer die regte kandidaat in die hande kry. Ek het nog nie met hulle kontak gemaak nie. My voorstel is ons wag en kyk wat Saunders doen voor ons verder oor nuwe aanstellings besluit.”

“Kom nou, ouens, dis nog nie eens naweek nie en julle praat al van wat volgende week gebeur. Onthou ons motto?” vra Jacques terwyl almal op­staan.

“Balans!” lag Ryno. “Ons kry dit darem meestal reg. As ek dit nie mis het nie, het ons ’n polo-game Saterdag, so dis darem nie asof ons net werk nie.”

“Ja, dit begin elfuur, dink ek,” sê Etienne terwyl hy en Ryno en Jacques uit die konferensielokaal stap.

Louw kyk hulle agterna. Sy vriende, sy broers – al is hulle nie bloedbroers nie – en sy mededirekteure. Hulle het saam in ’n kinderhuis beland, is saam geboelie omdat hulle opperste nerds is, baie meer geïnteresseerd in Wiskunde en rekenaars as enigiets anders, en saam het hulle gedroom om eendag hulle eie maatskappy te hê.

Reeds van hoërskool af het hulle begin om naweke en vakansies te werk. Enige iets wat hulle hand gevind het om te doen. Elke sent is gespaar sodat hulle verder kon gaan swot. Dit was moeilike jare van lang dae, min slaap, soms selfs op leë mae, maar nie een van hulle het omgegee of ook eens daaraan gedink om op te skop nie, want hulle oë was heeltyd op hulle uiteindelike doel – hulle gaan hul eie maatskappy begin. Nadat hulle graad gevang het, het al vier van hulle vir vier jaar vir ander batebe­stuursmaatskappye gewerk. En uiteindelik het hulle genoeg gespaar en die nodige kennis in die bedryf opgedoen sodat hulle hul droom kon bewaarheid.

Daardie eerste dag in sy beknopte woonstel met tweedehandse rekenaars op lendelam tafels was net die begin. Hulle drome was groter as hulle vrese, en nou, vyf jaar later, is hulle ’n maatskappy om van kennis te neem. Deesdae woon hulle al vier op Val de Vie, ’n spoglandgoed net buite die Paarl, en dis lankal nie meer nodig om te wonder waar hulle volgende maaltyd vandaan kom nie. In hulle harte sal hulle egter seker altyd die vier kinderhuisseuns bly wat hul sente ’n honderd keer moes omdraai.

Omdat hulle weet wat swaarkry is, het hulle sodra hulle kon, studiebeurse geskep vir studente wat nie die nodige fondse het om verder te studeer nie. Sy vriende en medeaandeelhouers is manne saam met wie hy oorlog toe sal gaan; hy vertrou hulle ten volle. Maar wat hulle nou van hom verwag . . . hy weet darem nie.

Vroumense verstaan hy nie. Die feit dat sy ma hom by die kinderhuis gaan aflaai en weggery het sonder om weer terug te kyk het seker baie daar­mee te doen. ’n Paar sessies by ’n sielkundige lank gelede het dit duidelik gemaak. Hy wat Louw is, ervaar heel waarskynlik ’n gevoel van verwerping, het die sielkundige verduidelik nadat hy sy storie gehoor het. Hy verstaan dus hoekom hy wegskram van verhoudings, maar dit werk vir hom. Om weer iemand vir wie hy lief geraak het van hom te sien wegstap, is nie iets wat hy weer wil deurmaak nie. En tot dusver was dit nie ’n probleem nie.

Hy het lank gelede reeds besluit trou is nie vir hom nie. Die bietjie wat hy sien van langtermynver­houdings en huwelike, het hom laat besef dis ’n uit­puttende besigheid. Emosies en gevoelens is messy, so hy bly so ver moontlik daarvan weg.

In die laaste paar jaar het hy geleidelik agtergekom die feit dat hy geld het, ’n mooi motor ry en op Val die Vie bly, al is waaroor die paar vroumense wat hy wel af en toe probeer date, wil praat. Daarom is hy deesdae nóg versigtiger en waag dit selde om iemand uit te neem.

Al was daar dan ’n “oomblik” tussen hom en die donkerkop van gister, is daar nie ’n manier dat hy ’n wildvreemde vroumens sal vra of sy saam met hom sal voorgee hulle is in ’n verhouding nie.

Iemand klop aan die deur van die konferensiekamer en Louw draai om. Dis Stefan, een van die geok­trooieerde rekenmeesters wat hulle verlede jaar aan­gestel het.

Louw stap nader. “Dagsê, Stefan. Waarmee help ek?”

“Dis oor volgende Saterdag . . .” begin hy, half ver­leë.

“O ja, jy trou mos.”

“Ja, dis reg en jy . . . jy het nog nie op jou uitnodiging reageer nie. My aanstaande skoonma . . .”

Louw lag en klop hom op die skouer. “Jy hoef niks verder te sê nie. Ek het al genoeg van skoonma’s ge­hoor om te weet ’n man doen maar wat hulle sê.” Vir nog ’n oomblik huiwer hy. Hy bly gewoonlik so ver moontlik weg van troues, maar Stefan is ’n gewaar­deerde lid van hulle span. “Ek sal daar wees, baie dankie. Jammer ek het nog nie geantwoord nie.”

Verlig groet Stefan en stap uit. Louw kyk nog een keer na die berge voor hy ook uitstap en die deur agter hom toetrek. Daar is baie werk; hy het beslis nie tyd om oor ’n lang, slap girl met dié mooiste bene wat hy al gesien het, te staan en droom nie.

Magtig, kyk waarheen hardloop sy gedagtes al weer. Brom-brom stap hy na sy kantoor toe.